About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1993
>>
[1993] ZASCA 123
|
|
S v Mashiane (724/91) [1993] ZASCA 123 (16 September 1993)
SAAKNOMMER 724/91
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPèLAFDELING
In die saak tussen:
ELIJAH PHILEMON MASHIANE APPELLANT
en
DIE STAAT RESPONDENT
CORAM: SMALBERGER, NIENABER ARR et HARMS WnAR
VERHOOR
: 7 SEPTEMBER 1993
GELEWER
: 16 SEPTEMBER 1993
UITSPRAAK
NIENABER AR
2
Die appellant, 'n 53-jarige plaasarbeider, het sy werkgewer, 'n 74-jarige
boer wat, so wil dit voorkom, alleen op die plaas van Oudtshoornstroom
in die
distrik Ermelo gewoon het, met ' n ysterpyp oor die kop doodgeslaan. Hy het die
oorledene se beursie uit sy broeksak verwyder
en sy lyk toe onder ' n hoop hooi
verberg. Daarna het hy nog 'n klompie ander artikels uit die oorledene se
woonhuis gesteel voordat
hy hom uit die voete gemaak het. Onder die goed wat hy
gevat het, was 'n breëband-trapfiets, die oorledene se rewolwer, sy
sleutels,
waaronder sy motorsleutels, verskeie knipmesse, horlosies, en 'n
lyfband. Enkele dae later is die appellant deur die polisie aangekeer.
Hy het
onmiddellik sy samewerking verleen alhoewel hy aanvanklik te kenne probeer gee
het dat hy die oorledene se knipmes, met die
oorledene se voorletters daarop,
gekoop het. Hy het sekere uitwysings gemaak - waar hy die oorledene met die pyp
geslaan het, waar
hy die oorledene gelos het en waar
3
hy die oorledene se rewolwer en beursie
onderskeidelik
versteek het - en toe hy kragtens artikel 119 van
die
Strafproseswet, 1977, voor 'n landdros gebring is, het hy
sy
betrokkenheid volledig erken. Nog later het hy voor
Coetzee R en twee
assessore in die Oos- en Suid-Oostelike
Rondgang Plaaslike Afdeling van die
Hooggeregshof
(Transvaalse Provinsiale Afdeling), met sitting te
Evander,
op een aanklag van moord en een aanklag van
roof met verswarende
omstandighede, skuldig gepleit. Op
die moordklag is hy ter dood veroordeel en
op die
roofklag is hy tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis. Al
wat tans,
ingevolge artikel 316A van die Strafproseswet,
1977, voor hierdie hof dien,
is 'n appèl teen die
oplegging van die doodvonnis.
Die appellant se onderskeie buite-geregtelike verduidelikings het nie in alle
opsigte met die mediese getuienis gestrook of selfs
met sy eie getuienis wat hy
ter versagting van vonnis afgelê het nie. Op sommige van
4
dié afwykings kom ek te gelegener tyd terug.
In sy
pleit-verduideliking kragtens artikel 119 van die Strafproseswet, 1977, verklaar
hy, onder meer:
"V Vertel vir die hof wat het u gedoen?
A Ek het vir die oorledene gesê kom ons gaan kyk vir die pampoene in
die tuin. Dit was omdat hy nie vir my betaal het nie. Ons
het toe na die
pampoene gaan kyk. Ek het toe hy daar buk hom met ' n stuk yster op sy nek
geslaan. Ek het hom 2 keer geslaan. Ek
het hom daar laat lê. Ek vat toe
die hooigras en gooi dit bo-op die oorledene want daar was 'n vuur wat daar
langsaan gebrand
het. Ek dink dis die wind wat gewaai het wat die vuur gewaai
het na die oorledene toe en die vuur het toe vir die oorledene gebrand.
Nadat ek
hom met die stuk yster geslaan het, het ek 'n beursie uit sy broeksak gehaal en
gekyk vir geld. Ek het toe geld gekry van
'n ander land wat nie hier kan koop
nie. Die Polisie het later beslag gelê op die geld. Ek het verskeie kere
vir hom my geld
gevra, maar hy wou dit nie vir my gee nie. Dis die rede hoekom
ek hom doodgeslaan het. Ek het my geld die Sondagoggend vir hom gevra.
Ek sien
toe hy loop met ' n vuurwapen langs sy sy, hy wil vir my skiet.
V Hoekom het u die hooigras oor die oorledene
gegooi?
A Ek wou hom verberg.
Die beeste het toe daar gekom en die hooi
geëet.
Die lyk het toe oop en bloot daar gelê.
V Was die oorledene dood gewees toe u die hooi op
hom gegooi het.
5
A Ja ek het na hom gekyk en gevind dat hy dood
is.
V Wanneer het die vuur daar gebrand?
A Eers
die volgende dag, die Maandag.
V Het u besef dat u die oorledene kon doodslaan
met die yster op die stadium
toe u hom geslaan
het?
A Ja.
V Wou u hom doodgemaak het?
A Nee, ek het nie die opset gehad om hom dood te maak nie, maar ek het hom met
die stuk pyp geslaan.
V Wat wou u dan gehad het moet gebeur met die
oorledene?
A Ek wou net hê hy moet stil lê en 'n bietjie bedaar sodat ek sy
beursie kon vat."
Die verduideliking wat hy tydens die uitwysing aan
kaptein van
Aarde van die Suid-Afrikaanse Polisie gemaak
het, is soos volg
genotuleer:
"Hy maak melding dat hy die blanke by die huis gaan roep het en hom na die
vrugteboord ongeveer 150 meter van die huis geneem het
waar hy pampoene moes
bymekaar maak. Hy wys die pampoene uit en maak melding dat hy die blanke by
dié punt geslaan het met
'n pyp en dat hy geval het. Hy sê ook
verder dat die blanke hom toe met die vuis geslaan het en hy hom weer
herhaaldelik met
die yster geslaan het totdat hy geval het. Hy wys 'n komposhoop
ongeveer 8 treë van die punt uit en maak melding dat hy die
blanke tot by
die punt gesleep het. Hy wys die spesifieke punt uit waar hy die blanke onder
die kompos begrawe het. Hy deel mee dat
hy die yster net daar gelos het. Van
hier dui die man aan dat
6
ons moet teruggaan na die blanke se huis. Hy wys die deur uit van die huis waar
hy toe ingegaan het, hy sê dat hy 'n vuurwapen,
geld, sleutels, lyfband en
'n mes en horlosie uit die huis geneem het. (Die huis is gesluit en punte kan
nie binne uitgewys word
nie.) Hy maak ook melding dat hy die voertuig se
sleutels geneem het."
In sy getuienis in hoof wat deur middel van 'n tolk
gelewer is,
verklaar die appellant:
"Kan u nou vir die hof vertel hoekom u die dade
gepleeg het waaraan u skuldig bevind is? — Dit is
as gevolg van die
haat
.
Nou wat, verduidelik 'n bietjie? — Want ek wou van
hierdie blanke persoon my geld gehad het.
Wat se geld was dit? — Die geld waarvoor ek gewerk
het vir die maand.
En hoeveel was dit? — Dit was R18.
Nou was dit nodig om hierdie dinge te doen om dit te
kry? — Nee.
Nou wat het u genoop om dit te doen? — Dit is die
haat
.
Hoekom het u nie net u geld gevra nie? — Ek
het net
gevoel my
hart
is seer omdat ek nie my geld kry nie,
want ek wou my kinders gaan onderhou.
Het u die oorledene vir die
geld gevra? -- Ja, ek
het vir hom gevra.
En wat was sy reaksie daarop? -- Hy het gesê hy sal
die geld gaan trek en hy het toe nie gaan trek nie,
ek het toe nie die geld gekry nie. Toe vra ek vir
hom nou het die baas dorp toe gegaan en hy sê ja,
maar ek het nie die geld getrek nie. Ek het gewerk
en gewerk en ek is in die tweede maand, ek vra
steeds vir hom baas, het u nog nie my geld gekry nie
en hy sê nee. Ek het toe kwaad geword en ek kry toe
7
die yster en het hom toe seergemaak.
HOF; 'n Bietjie ernstig seergemaak, né? — Ja, ek
het hom ernstig seergemaak, want hy is toe dood.
MNR VAN NIEKERK: Hoe lank het u daar gewerk? —
Twee maande.
Het u enige geld in die twee maande gekry? — Nee,
nog nooit nie.
Hoe voel u nou oor die ding wat gebeur het? — Ek
voel my
hart
is baie seer, want ek weet nie wat het
ek gedoen nie.
Is u jammer oor wat u gedoen het? — Ja, ek is baie
jammer."
In die uittreksel verskyn die woord "haat" wat deur
my
onderstreep is, twee keer. Die advokate, wat
noukeurig na die opname van die getuienis geluister het,
is dit met mekaar eens dat die tolk na regte "hart" (en
nie "haat" nie) bedoel en gesê het, 'n woord wat origens
twee keer in die aanhaling voorkom. Die fout het dus by
die oortik van die oorkonde gekom. Namens die appellant
is formeel aansoek gedoen om die oorkonde in dié opsig te
korrigeer. Die aansoek is sonder teenstand toegestaan.
Aan die hand daarvan kan dus aanvaar word dat die
appellant die oorledene toegetakel het omdat hy gegrief
gevoel het oor die loon wat die oorledene hom geskuld
8
maar nog nie betaal het nie, eerder as uit wraaksug. Op
die belang hiervan
kom ek aanstons terug.
Onder kruisverhoor getuig die appellant voorts dat
hy R18,00 per
maand ontvang het, waarmee hy nie ontevrede
was nie, maar dat sy loon reeds twee maande lank
agterstallig was. Hy het die oorledene nader geroep om
na die pampoene te kom kyk wat hy bymekaar gemaak het en
toe die oorledene buk om dit te doen, slaan hy hom twee
houe agter die nek met 'n yster wat hy op die plek
opgetel het "want hy weier met my geld".
In sy uitspraak oor vonnis maak die verhoorhof
agtereenvolgens die volgende sewe bevindinge:
"1. Ons bevind eenpariglik dat daar 'n beplanning was van die misdaad. Die
beskuldigde het die oorledene uitgelok na die pampoene
en daar by die pampoene
moes iets gebeur het wat die oorledene van aangesig tot aangesig met die
beskuldigde gebring het omdat die
beskuldigde se idee was om die oorledene te
slaan vir sy geld. Met hierdie konfrontasie is die oorledene se regtervoorarm
afgeslaan
en in teenstelling met die argument van mnr Van Niekerk kan ons nie
bevind dat dit impulsiewe optrede was nie, maar wel beplande
optrede. 2. Die
metode van die handelinge. Hier is dit in
9
besonder die brutaliteit van die daad wat aanklanking vind. Hier is duidelike
sorgvuldige beplanning om te dood en die brutale manier
wat gebruik is om die
dood te bewerkstellig, is 'n verswarende faktor.
Sien byvoorbeeld
S v Mposula
1991 (1) SACR 52
(A). 3. Want nie net het
ons bevind dat die beskuldigde dolus directus gehad het nie, die beskuldigde
gaan voort en dien die oorledene
twee geweldige houe toe op sy skedel wat tot
twee skedelfrakture lei wat al twee in sigself die dood kon veroorsaak het."
Tot dusver gaan ek in breë trekke met die siening
van die
hof a quo akkoord. Maar dan gaan hy voort:
"4. Maar dit was nie vir die beskuldigde genoeg nie, hy gaan oor tot nog 'n
verdere afskuwelike daad deur die lugweë van die
oorledene toe te bind
totdat sy tong uitsteek en laat hom in daardie toestand. Dan word dit deur die
beskuldigde vir die landdros
gesê hy het dit gedoen sodat die oorledene
kan bedaar."
Die appellant het onder kruisverhoor pertinent
ontken dat hy die
oorledene gewurg het. Die oorsaak van
dood is egter deur dr Crozier wat die regsgeneeskundige
lykskouing behartig het, bevind as:
"1. Asfiksie agv versmoring 2. Oopskedelfrakture".
Volgens dr Crozier (indertyd die assistent-
10
distriksgeneesheer te Ermelo, voorheen vir 40 jaar die distriksgeneesheer)
was daar twee skedelfrakture, een op die agterkop, een
op die voorkop, asook 'n
oopfraktuur van die regtervoorarm. Die oorledene se hele liggaam was bedek met
derdegraadse brandwonde.
Dan was daar 'n diep groef aan die voorkant van sy nek
van 3 cm breed en 3 cm diep. Sy tong het buite sy mond uitgeswel wat, volgens
dr
Crozier, daarop dui dat die lugweë deur 'n tou of 'n koord afgesluit moes
gewees het terwyl die oorledene nog gelewe het.
Die versmoring was dus ante
mortem. Volgens adjudant-offisier Oosthuizen wat dr Crozier met die lykskouing
bygestaan het, was daar
nie 'n koord of tou om die oorledene se nek nie maar net
'n hempskraag wat styf vasgeknoop was. Deur wie en op presies watter wyse
dit
aldus vasgeknoop was, blyk nie uit die getuienis nie. Op die waarskynlikhede kon
dit, sy ontkenning ten spyt, alleen maar die
appellant gewees het wat daarvoor
verantwoordelik was, maar nie, soos deur die hof a quo
11
bevind is, om die oorledene te laat bedaar nie. Dan gaan
die hof a quo voort:
"5. En dan is dit nog nie die einde nie. Die oorledene word gesleep na 'n
hooihoop waar hy onder die hooi toegegooi word terwyl daar
'n vuur net daar naby
brand. Lateraan gaan die beskuldigde weer terug om te gaan kyk na die vrugte van
sy wandaad. Maandag, 'n dag
later, vind hy dat die oorledene is gebrand en reeds
dood. Hy gaan voort met sy plundertog van die oorledene se huis. Hy neem net
waardevolle artikels wat maklik verkoopbaar is."
Toe die
oorledene se verbrande lyk 'n paar dae later
op die plaas ontdek is, was dit met gras en hooi bedek.
Net die oorledene se een voet het uitgesteek. Op sy lyk
het daar 'n motor-buiteband gelê wat skynbaar ook met die
hooi bedek was. Die verbranding van die oorledene se
liggaam of lyk kon dus nie gebeur het op die wyse wat
deur die appellant beskryf en deur die verhoorhof bevind
is nie. Ongelukkig is die appellant nie hieroor uitgevra
toe hy getuig het nie. Die getuienis oor die hele
kwessie van die verbranding van die oorledene se liggaam
of lyk is na my mening te karig en te dubbelsinnig om
12
enige gevolgtrekking te regverdig, hetsy versagtend, hetsy verswarend.
Vervolgens bevind die hof a quo:
"6. Dit is nodig om die motief
te oorweeg. Die motief word deur die beskuldigde uitgedruk in slegs een woord,
hy sê dit was
my haat."
Dié bevinding is daarop gegrond dat sowel die lede
van die hof as die transkribeerder van die getuienis die
woord "hart" as "haat" verstaan het. Hierop kom ek later
terug.
Die slotparagraaf van die verhoorhof se bevindinge
lui:
"7. 'n Mens moet in ag neem die omstandighede van die persoon wat aangerand
word. Die oorledene is weerloos. Op die beskuldigde se
weergawe buk hy om die
pampoene te tel of op te tel en wat doen die beskuldigde? Hy slaan hom met
hierdie pyp op die agterkop sodat
die oorledene se skedel gefraktureer word. Dit
is moeilik om 'n meer laf hartige aanval op 'n weerlose persoon voor te
stel."
Hiermee stem ek saam.
Die vraag is nou of die doodvonnis in die omskrewe
omstandighede die enigste gepaste vonnis is.
13
Dat daar 'n magdom verswarende omstandighede is, val nie te betwyfel nie.
Daar was beplanning. Die oorledene is na buite gelok. Hy
was bejaard en
weerloos. Te oordeel aan die gewelddadige en genadelose wyse waarop die
oorledene van kant gemaak is, kon dit alleen
maar met dolus directus geskied
het.
Daarteenoor is dit onteenseglik so dat die appellant, 'n ongeletterde en
ongekunstelde plaasarbeider, diep verontreg gevoel het. Vanuit
die staanspoor en
weer in sy getuienis ter versagting, benadruk hy die tema van die wanbetaling
van sy loon. Hy het die oorledene
herhaaldelik om sy geld gevra. Herhaaldelik is
hy afgejak. Die betrokke Sondagoggend is die oorledene dorp toe en toe hy weer
nie
met die appellant se agterstallige loon vorendag kom nie, het die appellant
sy humeur verloor, die oorledene na die pampoenland gelok
en hom met die
ysterpyp te lyf gegaan. Word die moord in daardie lig beskou, geld dit as 'n
14
beduidende versagtende omstandigheid (vgl. S v Ngobeni 1990 (2) SASV 458 (A)
464f-g; S v Dlamini 1991 (1) SASV 128 (A) 136c-d; S v
Mvuleni 1992 (2) SASV 89
(A) 94f-g).
Van die bewerings wat hier en daar in die appellant se verklarings gemaak is,
as sou die oorledene die appellant met 'n vuurwapen
gedreig of met die vuis
bygedam het, kan niks gemaak word nie. Tydens die appellant se getuienis ter
versagting is hierdie aspekte
glad nie aangeroer nie.
Die appellant het 'n reeks vorige veroordelings, meestal vir diefstal en
huisbraak, wat vanaf 1951 tot 1980 strek, maar slegs twee
daarvan het op
geweldsmisdade betrekking, 'n aanranding met die oogmerk om ernstig te beseer
waarvoor hy in 1976 ses maande gevangenisstraf
opgelê is en 'n aanranding
waarvoor hy in Oktober 1980 tot R30 of 30 dae gevangenisstraf gevonnis is. Dat
die appellant hoegenaamd
vorige veroordelings het, tel natuurlik teen hom; maar
dat hy vir meer as 10 jaar na
15
1980 'n skoon paadjie geloop het, tel weer in sy guns. Mens kan ook aanvaar
dat hy, soos hy getuig het, 'n mate van berou getoon het
vir die wandade wat hy
teenoor die oorledene gepleeg het.
Word die hele kwessie van sy vonnis op die moordklag in die lig van die
voormelde oorweginge opnuut bekyk, soos hierdie hof genoop
is om te doen, meen
ek nie dat die doodvonnis die enigste aangewese vonnis is nie. 'n Gepaste vonnis
op die moordklag, die appellant
se ouderdom in ag genome, sou na my mening 20
jaar gevangenisstraf wees.
Die volgende bevel word gemaak:
1.
Die appèl teen die
vonnis op die eerste aanklag, die moordklag, slaag.
2.
Die doodvonnis ten opsigte van gemelde aanklag word ter syde gestel
en met 'n vonnis van 20 jaar gevangenisstraf vervang, 15 jaar
waarvan tegelyk
met die vonnis op die tweede aanklag, die roofklag,
uitgedien
16
moet word.
P M Nienaber AR
Smalberger AR)
) Stem saam Harms Wn AR )