About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1993
>>
[1993] ZASCA 113
|
|
S v Levey (473/92) [1993] ZASCA 113 (6 September 1993)
Saaknommer : 473/92 N v H
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
ALEXANDER CHARLES LEVEY
Appellant
en
DIE STAAT
Respondent
SMALBERGER, AR :-
Saaknommer : 473/92 N v H
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(APPéLAFDELING)
In die saak tussen:
ALEXANDER CHARLES LEVEY
Appellant
en
DIE STAAT
Respondent
CORAM
: SMALBERGER, VIVIER,
et GOLDSTONE, ARR
VERHOORDATUM
: 31 AUGUSTUS 1993
LEWERINGSDATUM
: 6 SEPTEMBER 1993
UITSPRAAK
SMALBERGER, AR:-
Die appellant, tesame met vier mede-beskuldigdes, het in die Streekhof
(sittende te Koffiefontein) op vyf aanklagte van diefstal tereggestaan.
Hy het
op twee van die aanklagte skuldig gepleit; die ander drie is teen hom
teruggetrek. (Dit
2
is nie nodig om oor die gebeure rakende sy mede-beskuldigdes uit te wei nie.)
In 'n skriftelike verklaring deur hom geteken wat kragtens
art 112 van Wet 51
van 1977 ingehandig is, het die appellant erken (1) dat hy in Oktober 1989 'n
rol elektriese hoogspanningskabel
ter waarde van R3 949-92 van die Koffiefontein
se Munisipaliteit gesteel het, en (2) dat hy (blykbaar in November 1989)
onderdele
met 'n vervangingswaarde van R50 820-00 vanuit 35 pompe op die perseel
van die De Beers-myn te Koffiefontein gesteel het. Hy het
ook erken dat hy die
gesteelde goedere aan 'n skroothandelaar in Welkom verkoop het. (Die goedere,
terloops, is nooit weer teruggekry
nie.) Na skuldigbevinding is die twee
aanklagte vir die doeleindes van vonnis saamgevat en is die appellant tot drie
jaar gevangenisstraf
gevonnis waarvan een jaar voorwaardelik opgeskort is. Die
appellant se appèl
teen sy vonnis na die Oranje-Vrystaatse
Provinsiale
3
Afdeling is (luidens 'n meerderheidsbeslissing) van die hand gewys. Hy is
egter verlof verleen om na hierdie Hof te appelleer.
Die appellant is 'n
eerste oortreder. Hy was 32 jaar oud toe hy die misdade gepleeg het. Hy is
getroud en het drie jong kinders. Ten
tyde van sy verhoor was hy as 'n
boorvoorman werksaam met 'n netto salaris van R2 100-00 per maand. Die
verhoorlanddros het in sy
guns aanvaar dat omdat hy skuldig gepleit het en oop
kaarte met die hof gespeel het, hy 'n mate van berou vir sy wandade getoon het.
By die bepaling van 'n gepaste vonnis sou die appellant se persoonlike
omstandighede dus sterk in sy guns getel het.
Dit is egter nie al waarop
gelet moet word nie. Daar moet ook behoorlik op die misdaad en die belange van
die gemeenskap ag geslaan
word. Die appellant het hom skuldig gemaak aan twee
diefstalle. Hulle is nie op die ingewing van die oomblik gepleeg nie
4
maar is deur beplanning voorafgegaan. Hulle het ook oor 'n tydperk geskied,
en daar was ruim geleentheid vir die appellant om oor
sy optrede te besin.
Vanweë die appellant se toedoen is daar van sy werknemers by die misdade
betrek. Die waarde van die gesteelde
goedere was aansienlik. Daar is geen
suggestie dat die appellant vanweë nood of enige tekort beweeg is om die
misdade te pleeg
nie - sy motief was klaarblyklik selfverryking. Wat die tweede
aanklag betref, het die appellant toegang tot die mynperseel gehad
omdat hy
besig was om 'n subkontrak daar uit te voer. Hy het die geleentheid wat hom in
die verband gebied is, misbruik en sodoende
die vertroue wat in hom gestel is,
geskend. Optrede soos dié waaraan die appellant hom skuldig gemaak het,
bring noodwendig
die misnoeë van die gemeenskap mee.
Ofskoon ons howe poog om sover moontlik 'n eerste oortreder uit die
gevangenis te hou, kan 'n
5
eerste oortreder nie sonder meer op 'n vonnis van nie-gevangesetting
aanspraak maak nie. In gepaste gevalle is gevangenisstraf selfs
vir eerste
oortreders die aangewese straf. Alles hang van die feite en omstandighede van
die bepaalde geval af. Waar 'n verhoorhof
gevangenisstraf as gepaste straf
beskou, kan hierdie Hof nie na willekeur daaarmee inmeng nie. Dit is geykte reg
dat hierdie Hof
'n begrensde bevoegdheid het om met die uitoefening van 'n
verhoorhof se diskresie met betrekking tot vonnis in te meng. Inmenging
kan
alleenlik geskied in die geval van 'n wesenlike mistasting of 'n
onreëlmatigheid, of waar die opgelegde vonnis ontstellend
of skokkend
onvanpas is.
Die verhoorlanddros se uitspraak toon 'n ewewigtige beskouing
van die tersaaklike oorwegings by vonnisbepaling. Hy het deeglik aandag
gegee
aan moontlike alternatiewe tot gevangesetting. Daar is voor die verhoorlanddros,
sowel as op appèl, betoog ten
6
gunste van 'n opgeskorte vonnis met terugbetaling van die waarde van die
gesteelde goedere as een van die
opskortingsvoorwaard.es
. Die
verhoorlanddros het tereg daarop gewys dat, teen die bedrag van R600-00 per
maand wat die appellant beweer hy in staat is om
te betaal, hy nie naasteby die
waarde van die goedere sou kon terugbetaal oor die maksimum opskortingstydperk
van vyf jaar nie. Daar
is ook veel te sê vir sy houding dat so 'n straf,
wat min meer sal bereik as die gedeeltelike teruggawe van wat gesteel is
(altans
in waarde), ontoereikend sou wees. Die uiteindelike gevolgtrekking waartoe die
verhoorlanddros geraak het, was dat indien
hy in die onderhawige geval 'n
opgeskorte vonnis of 'n boete sou oplê dit die appellant se persoonlike
belange sou oorbeklemtoon.
Daar steek niks in die betoog dat die verhoorlanddros misgetas het deurdat hy
nie die appellant se straf geïndividualiseer het
nie.
7
Daar was trouens geen mistasting deur hom wat inmenging met die opgelegde
vonnis sou regverdig nie. Om te kan slaag in sy appèl
moet die appellant
ons dus tevrede stel dat sy vonnis skokkend onvanpas is. Gesien die aard, omvang
en omstandighede van die diefstalle
kan nouliks gesê word dat
gevangesetting nie gepas is nie, en is die opgelegde tydperk geensins skokkend
nie. Die appèl
word afgewys.
J W SMALBERGER APPèLREGTER
VIVIER, AR ) GOLDSTONE, AR ) concur