About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1993
>>
[1993] ZASCA 99
|
|
S v Mahakoe (653/1992) [1993] ZASCA 99 (24 August 1993)
LL
Saak No 653/1992
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPéLAFDELING
Insake die appél van:
GABRIEL MAHAKOE
Appellant
teen
DIE STAAT
Respondent
CORAM
: VAN HEERDEN, VIVIER en KUMLEBEN ARR
VERHOORDATUM
: 16
AUGUSTUS 1993
LEWERINGSDATUM
: 24 AUGUSTUS 1993
UITSPRAAK
VAN HEERDEN AR
:
2
Wyle mnr en mev Engelbrecht (hierna onder-skeidelik die eerste en tweede
oorledene genoem) was op die plaas Grootstry naby Verkeerdevlei
woonagtig. Op
Sondagoggend, 22 Desember 1991, het hulle per motor vanaf die plaas vertrek en
in die rigting van Kimberley gereis.
Volgens 'n voorafgaande afspraak het hulle
hul skoonseun en sy familie naastenby halfpad tussen Dealesville en Boshoff
ontmoet. Hierna
het hulle na die plaas teruggekeer. By hulle in die motor ("die
Cressida") was toe hul dogter, wyle mev Smit ("die derde oorledene"),
en hul
klein-dogters, Michelle en Liselle Smit. Na wyle Michelle Smit word voortaan as
die vierde oorledene verwys.
Kort voor 12 nm die Sondag het die vyftal die
plaashuis bereik. In die bak van die Cressida was drie tasse klere en 'n aantal
toegedraaide
Kers-geskenke. Van die insittendes het een tas en moontlik ook die
geskenke, of sommige daarvan, die
3
huis ingeneem. Liselle het by die Cressida agter-gebly en die laaste twee
tasse uit die bak gehaal. Sy hoor toe iemand in die huis
vra: "Was hier dan 'n
inbreker?" Sy hardloop die huis binne waarop al vyf na die hoofslaapkamer gaan.
Kort hierna sien sy ' n swart
man die kamer binnekom. Ek keer later terug na die
daaropvolgende gebeure. Op hierdie stadium meld ek slegs dat die man binne 'n
kort tydsbestek die vier oorledenes met 'n geweer doodgeskiet en Lizelle met die
kolf daarvan teen haar kop geslaan het. As gevolg
daarvan het sy haar bewussyn
verloor.
Die appellant het vanaf einde November of begin Desember 1991 vir 'n
tydperk van ongeveer drie weke in diens van die eerste oorledene
op die plaas
gewerk. Die Maandag voor die noodlottige Sondag is die appellant saam met die
eerste oorledene van die plaas weg. Aan
die senior plaaswerker het hy gesê
dat hy sy messelgereedskap in Excelsior sou gaan
4 haal. Eersgenoemde het hom egter nie weer gesien nie.
Omstreeks 18.40 op
dieselfde Sondag het kaptein Van der Westhuizen die Cressida in 'n
nywer-heidsgebied van Bloemfontein opgespoor.
Die registrasieplate daarvan was
binne die voertuig. Hoewel die masjien geluier het, was daar niemand in die
Cressida nie. Die appellant
is egter naby die voertuig aangetref. Van der
Westhuizen het hom gevra wie se voertuig die Cressida was, waarop hy gesê
het
dat 'n blanke man by name Dawie dit aan hom gegee het om herstelwerk daaraan
te verrig.
Speurder adjudant-offisier Pietersen het later by die Cressida
opgedaag. Toe hy die appellant meedeel dat die voertuig op Grootstry
gesteel
was, het die appellant ontken dat hy daarby betrokke was, en herhaal dat hy die
Cressida by Dawie gekry het.
In die bak van die Cressida het Pietersen
5 drie reistasse en 'n aantal toegedraaide Kersgeskenke gevind. Dit ly geen
twyfel nie dat die tasse, hul inhoud en die geskenke na
die moorde van Grootstry
verwyder was. Die appellant het egter aan Pietersen gesê dat die een tas
en die inhoud daarvan sy
eiendom was. Wat die ander voorwerpe in die bak betref,
was die appellant se houding dat navraag by Dawie gedoen moes
word.
Voortspruitend uit bostaande het die appel-lant in die
Oranje-Vrystaatse Provinsiale Afdeling tereggestaan op vier aanklagte van moord
en op verdere aanklagte van poging tot moord (ten opsigte van die aanranding op
Liselle) en roof. By die aanvang van die verhoor
voor Kotze R en assessore was
die appellant bygestaan deur 'n
pro deo
advokaat wat aan die hof
verduidelik het dat die appellant weier om deur 'n ander regter as 'n swart een
verhoor te word. Nadat Kotze
R tereg beslis het dat die verhoor
6 voor hom en sy assessore moes voortgaan, het die appellant geweier om te
pleit; om van die dienste van die
pro deo
advokaat gebruik te maak, en om
enigsins aan die verrigtinge deel te neem. Die gevolge was dat 'n pleit van
onskuldig aangeteken
is en dat geen vrae aan enige van die Staatsgetuies gestel
is nie. Nodeloos om te sê, is ook geen getuienis deur of ten behoewe
van
die appellant gelei nie.
Die appellant is op aanklagte 1 tot 4 en 5 skuldig
bevind aan moord op die vier oorledenes en poging tot moord op Liselle. Op die
sesde aanklag is hy skuldig bevind aan diefstal van die Cressida, 'n radio (wat
aan die eerste of tweede oorledene behoort het),
'n reistas, 'n flitslig en 'n
aantal kledingstukke. Die enigste getuienis wat hierna ter versagting gelei is,
was dié van
'n kliniese siel-kundige, prof Mokhuane. Die appellant is
egter op
7 elk van die vier moordklagtes die doodvonnis opgelê.
Die
onderhawige appèl is gerig teen die skuldigbevindings op die eerste vyf
aanklagte asook teen die doodvonnise. Ten einde
die betoë betref-fende die
skuldigbevindings te begryp, moet eers verwys word na die ondervraging van die
beskuldigde toe hy
op 27 Desember 1991 in die landdroshof vir die distrik van
Brandfort verskyn het; skuldig gepleit het op dieselfde aanklagte as dié
waarop hy later verhoor is, en deur die landdros ingevolge art 121 van die
Strafproseswet (51 van 1977) ondervra is. Tydens die ondervraging
het hy
ondubbelsinniglik erken dat hy die betrokke Sondag die huis op Groot-stry
ingegaan en later op vyf persone in 'n kamer in
die huis geskiet het. Hy het ook
gesê dat hy die skote gevuur het uit 'n vuurwapen wat hy in die huis
gevind het, en dat hy
'n vroulike persoon met die kolf daarvan teen haar kop
geslaan het omdat hy.
8 gemeen het dat sy nie dood was nie. Ten slotte het hy erken dat hy die
Cressida vanaf Grootstry na Bloemfontein bestuur het.
Die appellant het sy
optrede op 'n ietwat makabere wyse gemotiveer. Hy het gesê dat hy
"apartheid" doodgemaak het en bygevoeg:
"Ek wou die hand afgekap het maar het
net daarin geslaag om die vingerpunte af te kap". Hy het ook gesê: "Ek het
begin skiet,
het gesê ek skiet nie vir jou nie, ek skiet die naam hond,
bobbejaan, dit is soos ons [klaarblyklik swartes] genoem word".
In eerste
instansie is betoog dat die oorkonde van die ondervraging, wat by die verhoor
ingehandig is, nie 'n gebrek aan wederregtelikheids-bewussyn
uitsluit nie.
Hierdie betoog is sonder pit. Wat sy motivering ook al mag gewees het, blyk dit
duidelik dat die appellant onder andere
die oor-ledenes opsetlik geskiet,het-
ook in die sin dat hy
9 geweet het dat dit regtens ongeoorloof was om sulks te doen. In elk geval
is die vraag nie of die onder-vraging in sigself die skuld
van die appellant
bewys nie, maar wel of dit blyk uit die getuienis (insluit-ende bogenoemde
oorkonde) wat voor die verhoorhof geplaas
is. En indien gelet word op die
getuienis van Liselle, wat later vermeld word, en die appellant se optrede na sy
geweldpleging, ly
dit geen twyfel nie dat hy deurgaans opsetlik opgetree
het.
Die appellant se advokaat het ook betoog dat die verhoorhof teveel gewig
aan die oorkonde van die art 121 ondervraging geheg het,
en nie ag geslaan het
nie op verskille tussen die appellant se ant-woorde en getuienis wat by die
verhoor gelei is. Aansluitend hierby
is aangevoer dat die appellant se besit van
die Cressida nie noodwendig aantoon dat hy die geweldenaar was nie. Ook hierdie
betoog
is — — sonder pit. Die appellant was nie net in besit van
10 die Cressida nie, maar ook van artikels wat deur die aanvaller vanaf
Grootstry verwyder was, en wat die appellant valslik teenoor
Pietersen as sy
eiendom bestempel het. Wat die aangevoerde verskille betref, hoef ek slegs te
sê dat selfs indien die ingehandigde
oorkonde buite rekening gelaat word,
die getuienis onteenseglik aantoon dat die appellant die geweldenaar was.
Ek
kom dan by die doodvonnise. In eerste instansie is betoog dat vanweë die
bepalings van art 112(1)(b) van die Strafproseswet
die verhoorregter nie by
magte was om bedoelde vonnisse op te lê nie. Die subartikel kom egter nie
ter sprake nie vir die eenvoudige
rede dat die verhoorregter 'n pleit van
onskuldig aangeteken het. Bowendien moet by her-haling beklemtoon word dat selfs
indien die
appellant se pleit in die landdroshof en die daaropvolgende
ondervraging weggedink word, sy skuld ten opsigte van
11
die moordaanklagte afdoende in die verhoorhof bewys is.
In tweede
instansie is aangevoer dat die doodvonnise nie die enigste gepaste vonnisse was
nie. Die verhoorhof het bevind, en die appellant
se advokaat het tereg toegegee,
dat daar wel erge verswarende omstandighede was. In eerste instansie val die
kollig op die omstandighede
waaronder en die wyse waarop die appellant opgetree
het. Die eerste en tweede oorledenes was onderskeidelik 71 en 68 jaar oud.
Daarteenoor
was die vierde oorledene en Liselle jong tienderjariges -
eersgenoemde was inderdaad slegs elf. Die derde oorledene, hoewel nog in
die
fleur van haar lewe, was ook 'n vroulike persoon. Toe die gewapende appellant
die slaapkamer binnekom, was die vyftal weerloos
teenoor hom. Wat toe gebeur
het, blyk uit die volgende opsomming van Liselle se getuienis.
12 Net nadat
sy die appellant sien, klap 'n skoot. Die eerste oorledene val daarop tussen die
bed en 'n hangkas neer. Sy gryp die
vierde oorledene en klim saam met haar in 'n
hangkas. Die kasdeur kan nie dig toe trek nie en die vierde oorledene raak
histeries.
Sy hoor haar ma (die derde oorledene) om genade smeek. Daar klap
verdere skote. Haar ma sê dat die appellant die motorsleutels
en enigiets
in die huis kan neem; "ons" sal niks doen nie. Sy reaksie is dat sy haar handsak
moet los. Haar ma smeek dat hy nie moet
skiet nie, en sê dat sy klein
kindertjies het. Die appellant maak die kasdeur oop en beveel haar ma om voor
haar en haar sustertjie
te staan. Sy doen dit waarna hy met die geweer peuter.
'n Skoot klap en haar ma val vorentoe. Sy en haar suster huil histeries en
smeek
dat die appellant hulle nie moet skiet nie. Hy peuter egter weer met die
geweeren nog 'n skoot klap. Sy en haar suster-
13 tjie val vorentoe en net daarna verloor sy haar bewussyn.
Dit is duidelik dat die laaste of tweede laaste skoot die derde oorledene
getref het en dat Liselle haar bewussyn verloor het omdat
die appellant haar met
die geweerkolf teen haar kop geslaan het. Op daardie stadium het hy nie meer
ammunisie vir die geweer gehad
nie.
Volgens mediese getuienis het die
appellant hom ook aan andersoortige geweldsuitoefening skuldig gemaak. Die
tweede oorledene het
naamlik 'n lewer-ruptuur ondervind. Dit was die gevolg van
die toediening van 'n groot mate van stpmpgeweld oor haar buik. En in
die geval
van die derde oorledene is 'n redelik diep drukking by wyse van wurgaksie op
haar nekstrukture toegepas.
Bostaande spreek so duidelik vir sigself dat
enige uitligting van die wreedaardige en gevoel-
14 lose optrede van die appellant totaal oorbodig is.
Die verhoorhof het slegs die volgende drie versagtende omstandighede bevind:
dat die appellant emosioneel onvolwasse is, soos veral
geblyk het uit sy optrede
tydens die verhoor; dat hy 'n moeilike en ongelukkige jeug gehad het waartydens
'n wrok teen bevoorregte
blankes kon ontkiem het, en dat die inname van alkohol
moontlik 'n rol gespeel het by die neem van die besluit om sy slagoffers uit
te
wis.
Wat laasgenoemde omstandigheid betref, is daar na die slagting leë
bierblikkies in die plaas-huis gevind. Dit is waarskynlik
dat die appellant die
inhoud daarvan gedrink het alvorens die vyftal op die plaas opgedaag het. Daar
is egter niks wat daarop dui
dat hierdie inname van alkohol die appel-lant
enigsins beïnvloed het nie. Ek kan dus nie as 'n redelike moontlikheid
aanvaar
dat dit 'n rol by die geweldsorgie gespeel het nie.
15
In die verhoorhof, en ook weer in hierdie
hof, is betoog dat verdere versagting aanwesig was
omdat die appellant die moorde met 'n sogenaamde
politieke motief gepleeg het. Na my mening is hier-
die betoog tereg deur die verhoorhof verwerp.
Op grond van wat die appellant in die
landdroshof gesê het, en wat hy aan haar oorgedra
het, het prof Mokhuane in eerste instansie getuig dat
die appellant deur die jare 'n intense wrok teen die
stelsel van apartheid, en teen blankes as verpersoon-
liking daarvan, ontwikkel het. Haar konklusie was
dus dat die appellant
"killed as a result of his
intense dislike of apartheid". In haar verslag, wat
by die verhoor
ingehandig is, kom egter ook die
volgende inkongruente passasie voor:
"[Die appellant] did not intend to kill the Engelbrechts but was merely
defending himself against a possible threat - death. The
taking out of the guns
by Mrs
Engelbrecht [klaarblyklik moet dit
die
derde oorledene wees] from her
bag
16 confirmed our client's suspicions." Toe sy getuig het, is prof Mokhuane
uitge-vra oor hierdie passasie. Dit het geblyk dat sy die
appellant verwys het
na Liselle se getuienis aan-gaande haar ma se handsak, en dat die appellant toe
vir die professor gesê
het dat hy geskiet het omdat hy gemeen het dat daar
'n vuurwapen in die handsak was. In die lig hiervan was haar uiteindelike
kon-klusie
dat die moorde gepleeg is weens 'n kombinasie van die appellant se
wrok teen apartheid en sy vrees vir sy eie lewe.
Die verhoorhof het tereg
daarop gewys dat die beweerde vreesmotief 'n verdigsel was omdat die appellant
reeds voor die handsak-voorval
die eerste en tweede oorledenes geskiet het. Die
gewaande motief kan ook nie 'n verklaring bied vir die skiet van die derde
oorledene
toe sy, sonder haar handsak, voor die kas gestaan het nie, en ook nie
vir die
17 daaropvolgende geweldstoediening op die twee jong dogters nie.
Afgesien van die feit dat prof Mokhuane se getuienis oor die appellant se
mededelings aan haar op hoorsê berus, plaas bogenoemde
versinsel in
sig-self 'n groot vraagteken agter die beweerde wrok-motief. Hierdie vraagteken
neem 'n yslike dimensie aan wanneer
op 'n aantal ander faktore gelet word.
Wat vasstaan, is dat die appellant nie die betrokke Sondag die plaashuis
binnegegaan het om sy gewaande wrok te bevredig nie. Eerstens
was hy nie gewapen
nie en kon hy nie weet dat hy in die huis die eerste oorledene se geweer sou
vind nie. Tweedens kon hy ook nie
weet of die eerste en tweede oorledene nog
dieselfde dag na die plaas sou terugkeer nie.
Die verhoorhof het tereg klem
gelê op die
appellant se vorige veroordelings ten einde te
bepaal
wat die appellant se ware beweegredes was. Sy
18 misdaadloopbaan
strek terug tot sover as 1964 toe hy nog slegs veertien jaar oud was en aan
diefstal van horlosies skuldig bevind
is. Hierna is hy van tyd tot tyd aan 'n
reeks oneerlikheidsmisdade skuldig bevind. Ek meld slegs dat in 1970, 1972, 1982
(ten opsigte
van twee klagtes) en weer in 1988 huisbraak by die misdrywe
betrokke was. En op twee geleent-hede, een tydens 'n inbraak, het hy
'n
vuurwapen gesteel. Deur die jare heen het hy dan ook op sewe geleenthede
tydperke van tronkstraf uitgedien.
In die lig van die appellant se
misdaads-geskiedenis, en van wat reeds voorheen gesê is, is die enigste
redelike afleiding dat
hy die huis met slegs een doel binnegegaan het, nl om te
steel. Toe die vyftal by die huis opdaag, het hy 'n keuse gehad; hy kon
poog om
te ontvlug sonder die buit wat hy reeds bymekaar gemaak het, of hy kon hulle
kon-fronteer. En indien hy laasgenoemde sou
doen, sou hy
19 ten minste die
eerste en tweede oorledenes - aan wie hy bekend was - moes uitwis. Ek stem dus
saam met die verhoorhof dat toe die
appellant tot geweld oorgegaan het, sy
vernaamste motief die uitwissing van moontlike getuies was. Dit mag wees dat die
appellant
'n wrok teen blankes gekoester het en dat sy haat dit vir hom makliker
gemaak het om die uitwissingsbesluit te neem, maar in die
lig van sy
oorheersende motief kan dit nie as 'n noemenswaardige versagtende faktor beskou
word nie.
Selfs sonder inagneming van getuienis oor die skrikwekkende toename
in aanvalle op veral bejaardes in Bloemfontein en sy omstreke,
gaan ek gevolglik
akkoord met die siening van die verhoor-regter dat die doodvonnise die enigste
gepaste vonnisse is. Ek sê
dit omdat die verswarende faktore die enkele
versagtende omstandighede so totaal oor-skadu dat die strafdoeleindes -van
afskrikking
en
20 vergelding luidkeels om erkenning roep. Die appèl
word afgewys.
H J O VAN HEERDEN AR
VIVIER AR
STEM SAAM
KUMLEBEN AR