About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1993
>>
[1993] ZASCA 96
|
|
S v Swarts (28/90) [1993] ZASCA 96 (2 June 1993)
SAAKNOMMER: 28/90
J VD M
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(
APPèLAFDELING
)
In die saak tussen:
S M C SWARTS
APPELLANT
en
DIE
STAAT
RESPONDENT
CORAM
: VIVIER, F H GROSSKOPF, ARR et
VAN COLLER, Wnd AR
VERHOORDATUM
: 25 MEI
1993
LEWERINGSDATUM
: 2 JUNIE 1993
UITSPRAAK
VAN COLLER, Wnd AR:
Die appellant is op 19 Mei 1989 in die
Witwatersrandse Plaaslike Afdeling skuldig bevind aan
2
moord (aanklag 2) en ook aan poging tot moord (aanklag 3). Hy is op 23
Mei 1989 gevonnis tot vyf jaar gevangenisstraf op aanklag 2
en tot vier jaar
gevangenisstraf op aanklag 3. Verlof tot appèl is deur hierdie Hof
verleen teen beide die skuldigbevinding
en die vonnis op albei
aanklagte.
Die appellant het as beskuldigde 1 saam met drie ander
mans, beskuldigdes 2, 3 en 4, tereggestaan. Benewens bogenoemde aanklagte was
die beskuldigdes van 'n verdere aanklag van moord (aanklag 1) aangekla asook van
aanklagte wat in verband gestaan het met die onwettige
besit van 'n vuurwapen en
ammunisie, synde aanklagte 4 en 5. Die appellant is onskuldig bevind op
aanklagte 1, 4 en 5. Die ander
drie beskuldigdes is ook skuldig bevind op
aanklag 2 en aanklag 3. Slegs beskuldigde 4 is skuldig bevind op aanklag 1, en
beskuldigdes
3 en 4 is skuldig bevind op aanklagte 4 en 5. Beskuldigdes 2, 3 en
4 is almal gevonnis tot
3
termyne van gevangenisstraf op die onderskeie aanklagte. Volgens die
klagstaat sou die beskuldigdes, wat aanklag 1 betref, vir ene
Johnny Robert
Prince opsetlik en wederregtelik gedood het, en wat aanklag 2 betref, vir ene
Kasper Hurst ("die oorledene"). Wat aanklag
3 betref was die klaer ene Rodney
Furst.
Die gebeure wat aanleiding gegee het tot die aanklagte teen
die beskuldigdes het plaasgevind gedurende die middag van Sondag 24 April
1988
te Reigerpark, 'n woongebied van Boksburg. Gedurende dié middag is Johnny
Prince in 'n straat doodgeskiet. Kort daarna
en nie ver daarvandaan nie is die
oorledene ook doodgeskiet. Later die middag en in 'n ander straat, is daar
vanuit 'n motor verskeie
skote op Rodney Furst geskiet en is hy in die nek
getref.
Verskeie getuies het namens die Staat getuig. Hulle was nie almal
gelyktydig teenwoordig op die verskillende tonele waar die gebeure
plaasgevind
het
4
nie en sonder om na die onderskeie getuies se getuienis in besonderhede
te verwys, kan die Staat se saak soos volg opgesom word. Die
oorledene wat onder
die invloed van drank was, het in Roosstraat gestap. 'n Honda motorvoertuig, wat
die eiendom was van die appellant,
het naby die oorledene stilgehou. Die vier
beskuldigdes het uitgeklim, die oorledene omsingel en hom ernstig aangerand deur
hom met
die vuis te slaan en te skop. Twee vroue wat as gevolg van 'n boodskap
na die tóneel gegaan het, het met hul aankoms aldaar
gesien hoe die vier
beskuldigdes wegstap van die oorledene wat op die sypaadjie gelê het. Die
oorledene was bewusteloos en
die twee vroue wou hom na 'n huis sleep-dra. Terwyl
die vroue gepoog het om die oorledene weg te neem, het Prince aangehardloop
gekom.
Hy het die beskuldigdes gewaar, omgedraai en teruggehardloop in die
rigting waarvandaan hy gekom het. Op hierdie stadium het die
vier beskuldigdes
by die Hondá gestaan.
5
Beskuldigde 4 het Prince agternagesit. Prince het gestruikel en geval.
Beskuldigde 4 het 'n vuurwapen te voorskyn gehaal en vanaf
'n kort afstand vier
skote op Prince gevuur. Hy is in die rug getref en is feitlik onmiddellik
gedood. Beskuldigde 4 het teruggestap
na die ander drie beskuldigdes wat nog
steeds by die motor gestaan het. Beskuldigde 3 het na hom gestap en aan hom
gesê: "Gee
my die 'gun'. Laat ons die hond doodmaak soos ons die ander een
doodgemaak het." Hy het die vuurwapen uit die hand van beskuldigde
4 geneem. As
gevolg van 'n dreigement deur beskuldigde 3 het die twee vroue die oorledene
gelos. Beskuldigde 3 het tot by die oorledene
gegaan, gebuk en hom twee keer in
die kakebeen geskiet. Sy nek is ook deurboor en dit het sy dood veroorsaak. Dit
blyk uit die mediese
getuienis dat die oorledene 'n derde skietwond in sy linker
bo-arm gehad het. Daar kan egter nie uit die getuienis bepaal word op
watter
stadium hy die wond
6
opgedoen het nie. Dit blyk verder uit die mediese getuienis dat daar baie
skaafwonde aan die gesig, voorkop en een wang van die oorledene
was. Daar was
ook kneusings van die ooglede, die neusbrug en die regter wang. Die oorledene se
gesig was geswel en die beserings
kon veroorsaak gewees het deur vuishoue, stomp
voorwerpe en ook skoene. Die oorledene het nie breinbeserings opgedoen nie en
die
beserings aan die gesig sou, volgens die mediese getuienis, nie die
oorledene se dood veroorsaak het nie. Dit kon wel konkussie en
bewussynsverlies
tot gevolg gehad het. Nadat die oorledene geskiet is, het die vier beskuldigdes
in die Honda geklim en die toneel
verlaat. Wat aanklag 3 betref het die Staat
gesteun op die getuienis van Rodney Furst. Hy het getuig dat hy gedurende die
middag
van 24 April 1988 en komende van sy werk, in Clarence Septemberstraat in
Reigerpark gestap het. Hy het 'n Honda motor van voor sien
aankom. Die
7
Honda het by hom verbygery. Beskuldigde 3 het die Honda bestuur en
beskuldigde 4 het links voor langs hom gesit. Beskuldigde 2 Jhet
links agter
gesit en die appellant regs agter. Hy het gehoor hoe remme aangeslaan word en
gesien dat die Honda agteruit beweeg. Hy
moes uit die pad spring om te voorkom
dat hy gestamp word. Die voor- en agterdeure aan die linkerkant het oopgegaan.
Beskuldigde
4 het met sy linkervoet op die grond getrap en 'n voorwerp wat soos
'n vuurwapen gelyk het by sy sy uitgehaal, moontlik van onder
sy lyfband.
Beskuldigde 2 was ook besig om uit die Honda te klim. Furst het getuig dat hy
omgedraai en begin hardloop het. Hy het
skote gehoor en koeëls het by hom
verbygegaan. Hy het na die oorkantse sypaadjie gehardloop. Die beskuldigdes het
hom met die
Honda agtervolg en hy het gesien dat beskuldigde 4 by die venster
uitgehang het. Daar het weer twee skote geklap, iets het hom getref
en hy het
gevoel dat dit warm is agter sy nek. Hy het
8
neergeslaan en gesien dat die Honda wegbeweeg. Hy het daarin geslaag om
by 'n perseel in te gaan waar mense hom gehelp het en hy is
na die hospitaal
geneem. Dit blyk verder uit die getuienis dat Furst inderdaad in die nek gewond
is.
Die getuienis openbaar dat daar onmin bestaan het tussen die
beskuldigdes en die twee oorledenes. Gedurende Februarie 1988 het die
twee
oorledenes saam met ander lede van 'n bende waaraan hulle behoort het die
appellant ernstig aangerand. Dit het tot gevolg gehad
dat hy ongeveer vyf weke
in die hospitaal moes deurbring. Daar was ook voorheen onenigheid tussen Furst
en beskuldigde 4.
Die appellant het getuig dat hy die aand van 23
April 1988 by 'n partytjie in Reigerpark was waar hy baie gedrink het. Later die
nag
is hy na Pretoria. Omdat hy sterk onder die invloed van drank was, het
beskuldigde 3 sy motor, 'n Honda, bestuur. Beskuldigde
9
4 het saamgegaan maar beskuldigde 2 is by die partytjie agtergelaat. In
Pretoria het hy weer gedrink en teen 14h00 het hulle besluit
om terug te keer na
Boksburg. Op pad het hy aan die slaap geraak en wakker geword toe hy harde
stemme gehoor het. Hy was toe alleen
in die Honda. Hy het beskuldigdes 2, 3 en 4
in die omgewing van die oorledene gesien staan. Die appellant kon nie verklaar
hoe beskuldigde
2 op die toneel gekom het nie. Hy het uitgeklim en nader gestap
omdat hy wou gesien het wat aangaan. Net toe het hy gesien hoe Prince
om 'n hoek
aangehardloop kom met 'n wapen in sy hand. Beskuldigde 4 het 'n vuurwapen
tevoorskyn gehaal, hy het skote gehoor en besluit
om in die Honda skuiling te
soek. Volgens die appellant was hy baie dronk maar sover hy kan onthou het
beskuldigde 3 die vuurwapen
by beskuldigde 4 geneem. Dit is moontlik dat die
oorledene daar geskiet is maar hy was onder die invloed van drank en kon nie
presies
alles mooi onthou nie. Die ander
10
drie beskuldigdes en ene Hancock het toe ook in
die Honda geklim. Beskuldigde 3 het weer bestuur. In Clarence Septemberstraat
het
die Honda gerem en teruggestoot. Nadat daar weer vorentoe beweeg is, het hy
twee skote gehoor. In kruisondervraging het hy getuig
dat hy vermoed het dat
beskuldigde 2 besig was om te skiet. Hy het wel vir Furst sien loop maar hom nie
sien val nie. Die appellant
het getuig dat hy besluit het om saam met die ander
beskuldigdes te vlug en hulle het na Vosloorus gery. Hy is ongeveer drie weke
later gearresteer. Die appellant het ook getuig dat toe beskuldigde 4 die
vuurwapen tevoorskyn bring dit die eerste keer was dat
hy dit gesien
het.
Aangesien beskuldigdes 2, 3 en 4 se getuienis ook relevant is, is dit
nodig om kortliks en in breë trekke daarna te verwys. Beskuldigde
2 het
getuig dat hy ook by die partytjie in Reigerpark was. Hy het egter nie
saamgegaan na Pretoria nie. Die
11
volgende dag, 24 April, het die ander
beskuldigdes hom by sy huis kom haal. Hulle het by die oorledene in die straat
stilgehou. Beskuldigde
3 en die oorledene het mekaar met vuiste begin slaan. Hy
het beskuldigde 3 te hulp gesnel en die oorledene ook met die vuis geslaan.
Die
oorledene het geval en bly lê en hy het toe teruggestap na die Honda. Hy
het skote gehoor en beskuldigde 4 sien staan by
'n persoon wat op die sypaadjie
voor hom gelê het. Daarna het hulle al vier in die Honda geklim en gery.
Hy en beskuldigde
4 is by hul huise, wat langs mekaar is, afgelaai. Hulle is
later weer opgelaai en is saam met die ander beskuldigdes na Vosloorus.
Volgens
beskuldigde 2 se getuienis was hy nie in die Honda tydens die skietery op Furst
nie.
Beskuldigde 3 het getuig dat hy wel die Honda bestuur het en saam was na
Pretoria soos wat deur die appellant getuig is. Nadat hulle
van
Pretoria
12
teruggekeer het, het hulle beskuldigde 2 opgelaai
en gery na die huis van 'n familielid van beskuldigde 4. Beskuldigde 4 het
uitgeklim
en kort daarna en terwyl hy in die motor gesit het, het hy mense hoor
skreeu. Hy het Prince met 'n wapen in die hand sien hardloop,
skote gehoor en
gesien hoe Prince val. Daarna het beskuldigde 4 in die Honda geklim maar hy het
op geen stadium vir beskuldigde 4
met 'n vuurwapen gesien nie. Beskuldigde 3 het
ontken dat hy die oorledene aangerand of geskiet het en hy het getuig dat hy ook
nie
weet wie hom geskiet het nie. Beskuldigde 3 het ook ontken dat hulle die dag
in Clarence Septemberstraat gery het.
Beskuldigde 4 het erken dat hy
die middag van 24 April 1988 op die toneel was waar die oorledene gedood is.
Volgens sy getuienis het
beskuldigde 3, nadat daar stilgehou is, na die
oorledene gestap. Hulle het 'n woordewisseling gehad en mekaar met die vuis
begin
slaan. Dit het gelyk of die oorledene die
13
oorhand oor beskuldigde 3 kry. Beskuldigde 2 en die appellant het
beskuldigde 3 te hulp gesnel en die oorledene met die vuiste geslaan.
In die
bakleiery het die oorledene sy ewewig verloor en geval. Hy het die ander
beskuldigdes gemaan om die oorledene uit te los want
dit het gelyk of hy dronk
was. Hulle het teruggestap na die Honda en net toe hy wou inklim, het hy Prince
gesien staan. Prince het
'n vuurwapen in sy hand gehad en gedreig om hom te
skiet. Hy het sy vuurwapen, 'n .38 rewolwer wat gelaai was met ses patrone, uit
sy broeksak gehaal en op Prince begin skiet. Prince het agteruit beweeg, geval
en stilgelê op sy sy. Hy het teruggestap na
die motor. Sy rewolwer was
leeggeskiet en hy het begin om dit te herlaai. Nadat hy reeds drie patrone
ingesit het, het beskuldigde
3 die vuurwapen uit sy hand geneem. Beskuldigde 4
het getuig dat hy nie gesien het hoe die oorledene geskiet is nie aangesien hy
in die motor gaan sit het. Die
14
appellant en beskuldigde 2 was reeds in die motor
en na 'n rukkie het beskuldigde 3 ook ingeklim. Hy en beskuldigde 2 is by hul
huise
afgelaai. Na ongeveer vyf minute het die appellant en beskuldigde 3 weer
teruggekom en daarna is hulle al vier na Vosloorus. Volgens
beskuldigde 4 se
getuienis was hy nie in die Honda toe daar op Furst geskiet is
nie.
Die verhoorhof het die getuienis van die staatsgetuies aanvaar
en dié van die appellant en die ander drie beskuldigdes, in
soverre dit
met dié van die staatsgetuies gebots het, as vals verwerp. Dit is bevind
dat die oorledene deur al vier die beskuldigdes
omsingel en aangerand is met die
vuis en dat hy ook geskop is. Dit is ook bevind dat beskuldigde 4 vir Prince
geskiet het en dat
Prince nie gewapen was nie. Daar is ook bevind dat
beskuldigde 3 die oorledene geskiet het. Wat die aanval op Furst betref, is
bevind
dat beskuldigde 4 die persoon is wat op hom geskiet het.
15
Dit is by die verhoor deur die Staat aangevoer dat die
beskuldigdes die betrokke middag in die motor in Reigerpark rondgery het met
die
gemeenskaplike oogmerk om met vyande af te reken. Die verhoorhof het egter
bevind dat die getuienis onvoldoende was om 'n voorafbeplande
moordekspedisie te
bewys en dat dit dus nie as grondslag kan dien vir 'n skuldigbevinding van al
vier die beskuldigdes op dié
eerste drie aanklagte nie. Dit is egter
bevind dat die beskuldigdes ten minste tydens die aanval op Prince bewus geword
het van die
feit dat beskuldigde 4 in besit van 'n vuurwapen was. Die
kernbevinding aangaande die appellant en die ander drie beskuldigdes ,se
aandadigheid aan die moord op die oorledene (aanklag 2) word soos volg in die
verhoorregter se uitspraak uiteengesit:
"Ons bevïnd verder dat, indien die beskuldigdes nie voor die
aanranding op Kasper Hurst 'n gesamentlike oogmerk gehad het om
hulle slagoffer
te dood nie, daardie gesamentlike oogmerk ontstaan
16
het net nadat nommer 3 sy voorneme om 'n 'hond'
te skiet verkondig het en die wapen van nommer 4 verkry het. Toe dit vir die
beskuldigdes
duidelik geword het dat een lid van hulle groep Kasper wou skiet,
het hulle hulself met daardie oogmerk vereenselwig. Met die gesamentlike
oogmerk
om nog slagoffers te vind en met hulle af te reken op 'n wyse soortgelyk aan
dié wat hulle toegepas het op Hurst en
Prince, het hulle hulle rit deur
die strate hervat."
Aangaande aanklag 3, het die verhoorhof bevind dat al vier die
beskuldigdes met 'n gemeenskaplike opset om te dood aan die aanval
op Rodney
Furst deelgeneem het en sodoende die misdaad van poging tot moord gepleeg
het.
Mnr Brandt, wat namens die appellant opgetree het, het aangevoer dat sy
getuienis verkeerdelik as vals verwerp is en in die alternatief
aangevoer dat
die appellant se skuld op die aanvaarde staatsgetuienis in elk geval nie bo 'n
redelike twyfel bewys is nie. Ek is
nie van voornemens om volledig met
17
mnr Brandt se argumente aangaande die verwerping
van die appellant se getuienis deur die hof
a quo
te handel nie. Die
verhoorhof het bevind dat die getuienis van elkeen van die beskuldigdes so
onwaarskynlik, so ooglopend leuenagtig
en ontoereikend was om bewese gebeure te
verklaar dat dit as vals verwerp moes word. Dit is nie aangetoon dat die
verhoorhof in enige
wesenlike opsig misgetas het nie en ek is nie oortuig dat
hierdie bevinding foutief is nie. Daar is egter meriete in mnr Brandt se
alternatiewe argument.
Soos blyk uit die aangehaalde gedeelte van
die hof
a cruo
se uitspraak is bevind dat die gesamentlike oogmerk om die
oorledene dood te maak ontstaan het nadat beskuldigde 3 sy voorneme om
dit te
doen bekend gemaak het en die vuurwapen van beskuldigde 4 verkry het. Dit is
verder bevind dat toe dit vir die beskuldigdes
duidelik geword het dat een lid
van hulle groep die oorledene wou skiet hulle hulself met daardie
18
oogmerk vereenselwig het. Dit is duidelik uit die
getuienis dat voor daardie stadium daar nie 'n gesamentlike oogmerk bestaan het
om die oorledene of Prince te dood nie. Die oorledene is ernstig aangerand en
daarna het die appellant en die ander beskuldigdes
teruggestap na die motor. Dit
kan nie as enigste redelike afleiding bevind word dat die appellant voor of
tydens die aanranding op
die oorledene die opset gehad het om hom te dood nie.
Dit kan ook nie bevind word dat die appellant na die aanranding verdere optrede
teen die oorledene beoog of voorsien het nie. Dit is nie bewys dat die appellant
geweet het dat beskuldigde 4 gewapen was en dat
hy hom op enige wyse met
beskuldigde 4 se optrede teen Prince geassosieer het nie. Die appellant is dan
ook tereg onskuldig bevind
op aanklag 1. Op grond waarvan deur die hof
a
quo
bevind is dat die ander beskuldigdes hulle vereenselwig het met
beskuldigde 3 se oogmerk om die oorledene te skiet en wat presies
daarmee
19
bedoel is, is nie duidelik nie. Die woorde wat beskuldigde 3 geuiter het
kan tog sekerlik nie die appellant toegereken word waar hy
net op die toneel
teenwoordig was nie. Beskuldigde 3 het waarskynlik na aanleiding van beskuldigde
4 se optrede teen Prince, wat
skielik op die toneel verskyn het, onverwags en
binne 'n kort tydsbestek opgetree. Dit moes weliswaar tot die appellant
deurgedring
het wat beskuldigde 3 van voorneme was om te doen maar daar was geen
handeling aan sy kant wat aantoon dat hy hom aktief met die
optrede van
beskuldigde 3 geassosieer het nie. In hierdie verband is wat in
S v Khumalo
en Andere
1991(4) SA 310 (A) op 351E-F gesê is toepaslik:
"Om 'n beskuldigde aan moord skuldig te bevind ingevolge die beginsels
van gesamentlike opset ('common purpose') moet daar dus nie
alleen bewys word
dat die beskuldigde die opset gehad het om te dood nie, maar ook dat hy hom
aktief geassosieer het met die dade
van die persoon of persone wat
20
inderdaad die oorledene se dood veroorsaak
het."
Sien ook
S v Mqedezi and Others
1989(1) SA 687 (A) op 705I tot
706C. Die feit dat die appellant saam met die persone wat Prince en die
oorledene geskiet het in dieselfde
motor vertrek het vul na my mening nie die
leemte in die Staat se saak aan nie. Dit is tereg nie aangevoer dat hierdie
optrede aantoon
dat die appellant hom aktief met die doodmaak van Prince
geassosieer het nie. Slegs beskuldigde 4 was daarvoor verantwoordelik en
dit
behoef geen betoog dat die feit dat die appellant saam met beskuldigde 4 in die
motor waarmee hulle na die toneel gekom het,
vertrek het, hom nie mede-aandadig
aan die dood van Prince kan maak nie. Eweneens is wat die dood van die oorledene
betref, die feite
sodanig dat die vertrek in die motor saam met beskuldigde 3
ook nie die appellant aandadig aan die dood van die oorledene kan maak
nie.
Anders gestel, waar die appellant hom nie
21
voor, of ten tye van die doodskiet van die oorledene
aktief geassosieer het met beskuldigde 3 se optrede nie, bring sy optrede na
die
tyd nie sodanige assosiasie mee nie. Afhangende van die feite kan optrede na 'n
moord gepleeg is wel deel van die bewysmateriaal
uitmaak om die bestaan van 'n
gemeenskaplike opset te bewys. Die feite in die onderhawige saak is egter
sodanig dat die optrede van
die appellant nadat die oorledene geskiet is
geensins die bestaan van 'n aktiewe assosiasie en dus ook 'n gemeenskaplike
opset met
beskuldigde 3 bewys nie.
Die appèl teen die skuldigbevinding op aanklag 2 moet derhalwe
gehandhaaf word. Die appellant kan na my mening ook nie op hierdie
aanklag
skuldig bevind word aan aanranding met die opset om ernstig te beseer nie, wat
ingevolge die bepalings van art 258 van Wet
51 van 1977 'n geoorloofde uitspraak
kan wees. Dit was nie die Staat se saak dat die oorledene aangerand en
22
op die wyse gedoód is nie. Volgens die
klagstaat en die nadere besonderhede wat verstrek is, was die Staat se saak dat
die
beskuldigdes skuldig is aan moord deurdat hulle die oorledene doodgeskiet
het. Dit was dan ook die saak wat die Staat met die getuienis
gepoog het om te
bewys. Die aanranding was wel ter sake om 'n gemeenskaplike oogmerk te bewys,
maar die saak wat die appellant moes
ontmoet, was een van moord. Die aanranding
was 'n aparte en losstaande insident wat nie deel uitgemaak het van die doodmaak
van die
oorledene nie. Hoewel die aanranding en die moord nie ver van mekaar
verwyderd was beide wat tyd en plek betref nie, kan art 258
van Wet 51 van 1977
na my mening nie aangewend word om die appellant wat van moord aangekla was, in
die onderhawige omstandighede
aan aanranding met die opset om ernstig te beseer
skuldig te bevind nie. Vergelyk
R v Montsoa
1952(3) SA 511 (T).
Wat aanklag 3 betref is dit duidelik uit die
23
getuienis dat Rodney Furst bloot toevallig raakgeloop is.
Die getuienis regverdig nie 'n bevinding dat die appellant en die ander
drie
beskuldigdes na hul vertrek van die toneel waar die oorledene geskiet is op soek
was na Furst of na enige ander lede van die
bende waaraan die oorledene behoort
het nie. Die appellant het wel geweet dat een of meer van die ander beskuldigdes
gewapen was
en toe daar by Furst stilgehou is, moes dit vir hom duidelik gewees
het dat 'n aanval op Furst kon plaasyind. Furst was egter nie
'n bendelid nie en
volgens sy getuienis het hy ál 'n paar keer saam met die appellant
gedrink. Hy het ook getuig dat daar
geen rede was vir die appellant om hom dood
te maak en dat die appellant, afgesien daarvan dat hy in die motor was, niks te
doene
gehad het met die skietery nie. Die appellant se teenwoordigheid in die
motor toe daar op Furst geskiet is, is in hierdie omstandighede
ook nie bewys
daarvan dat hy hom aktief met beskuldigde 4 se
24
optrede teen Furst geassosieer het nie. Die appèl
teen die skuldigbevinding op aanklag 3 moet derhalwe ook gehandhaaf
word.
Die appèl slaag en die appellant se skuldigbevinding en
vonnis op elkeen van aanklagte 2 en 3 word tersyde gestel.
A P VAN COLLER WAARNEMENDE APPèLREGTER
VIVIER, AR )
STEM SAAM F H GROSSKOPF, AR )