About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1993
>>
[1993] ZASCA 91
|
|
S v May and Others (594/92) [1993] ZASCA 91 (2 June 1993)
Saak nr 594/92 E du Plooy
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN
SUID-AFRIKA
(
APPèLAFDELING
)
In die saak tussen:
MESHACK MAY
1ste Appellant
PETRUS
NKGWADI
2de Appellant
HENDRIK LEEUW
3de
Appellant
DANIëL MAGODA
4de Appellant
en
DIE STAAT
Respondent
Coram:
HOEXTER, SMALBERGER et F H GROSSKOPF
ARR
Verhoordatum:
Leweringsdatum:
15 Mei 1993 2 Junie 1993.
2
UITSPRAAK
F H GROSSKOPF AR:
Die vier
appellante is in die Oranje-Vrystaatse Provinsiale Afdeling deur Hattingh R en
twee assessore skuldig bevind aan roof met
verswarende omstandighede en aan
moord. Die oorledene was mnr R J Fourie, 'n 74 jarige boer van die plaas
Stormberg in die Verkeerdevlei-distrik.
Die klaagster in die roofklag was mev A
C May, 'n bejaarde dame wat toe reeds vir etlike jare saam met die oorledene op
die plaas
gebly het.
Appellante 1 en 3 is elk 15 jaar gevangenisstraf op die
roofklag opgelê, terwyl appellante 2 en 4 respektiewelik tot 11 jaar
en 9
jaar gevangenisstraf gevonnis is, waarvan 5 jaar saamloop met hulle onderskeie
vonnisse op die moordklag. Wat die moordklag
betref, is appellante 1 en 3 elk
die doodvonnis opgelê, terwyl appellante 2 en 4 onderskeidelik tot 20
3 jaar en 18 jaar gevangenisstraf gevonnis is.
Die appèl is slegs
teen die skuldigbevinding van al vier die appellante op die moordklag , en teen
die doodvonnisse wat appellante
1 en 3 in hierdie verband opgelê is. Die
appellante se advokaat het te kenne gegee dat die identifikasie van die vier
appellante
as die persone wat by die aanval op die oorledene en die
daaropvolgende roof betrokke was, nie meer in geskil is nie. Aangesien daar
geen
appèl teen die skuldigbevinding van die vier appellante op die roofklag
is nie, kan hulle betrokkenheid by die gebeure
in elk geval nie meer betwis word
nie.
Die oorledene is omstreeks 17:30 op Woensdag 12 Februarie 1992 by 'n
veiligheidshek ongeveer 2 km van die woonhuis op sy plaas Stormberg
deur een van
die vier appellante met 'n vuurwapen doodgeskiet. Dit blyk nie uit die getuienis
watter een van die vier die skoot afgetrek
het nie, maar dit staan vas dat al
vier teenwoordig was toe die oorledene geskiet is. Mev May
4 het getuig dat
sy en die porledene die betrokke Woensdagoggend per motor na Bloemfontein toe is
om inkopies te doen. By hulle terugkeer
die middag het hulle gevind dat die
veiligheidshek, wat die oggend nog oopgestaan het, intussen toegemaak was. Die
oorledene was
dus verplig om by die hek stil te hou. Hy het uitgeklim en die hek
oopgemaak. Toe hy omdraai en na die motor begin terugloop, het
mev May 'n skoot
gehoor wat uit die bosse langs die pad gevuur is. Die oorledene het vinniger
begin loop en sy het die indruk gekry
dat die eerste skoot mis was. Toe die
oorledene 'n paar treë van die motor af was, het sy 'n tweede skoot uit
dieselfde rigting
gehoor. Sy het gesien dat die oorledene in die bors getref is.
Daar was bloed op sy hemp en hy het inmekaargesak. Na die tweede skoot
het sy
nog verskeie verdere skote gehoor. Hierdie verdere skote was blykbaar almal mis
want die staatspatoloog wat die regsgeneeskundige
lykskouing gehou het, het
slegs een koeëlwond gevind wat van voor na agter deur die
oorledene
5
se borskas gedring het.
Mev May het uit die motor gespring
om die oorledene te hulp te snel, maar toe sy opkyk, sien sy vier mans, almal
met balaklawe musse
op, wat agter die bosse staan. Hulle het haar daar oorrompel
en agter in die motor ingedruk. Nadat hulle die oorledene aan die kant
van die
pad neergelê het, is hulle al vier saam met mev May daar weg in die motor.
Hulle het in die veld ingery en by 'n klomp
bosse stilgehou. Daar het hulle mev
May uit die motor gehaal, haar hande en voete vasgebind en haar in die veld
tussen die bosse
agtergelaat. Ongeveer 15 minute later was hulle egter weer
terug en het hulle haar opgelaai en na die woonhuis geneem. Daar het hulle
'n
groot bos sleutels uitgehaal, die agterdeur van die huis oopgesluit en die huis
binnegegaan. Tot op daardie stadium het nie een
van hulle met haar gepraat nie,
maar toe hulle in die huis kom, het een van hulle vir haar gevra waar die geld
is. Toe sy antwoord
dat sy nie weet nie, het hy haar met die
6 plat hand deur
die gesig geslaan. Nadat hulle die huis deursoek en geplunder het,,het dieselfde
persoon weer vir mev May gevra waar
die geld is. Hy het op daardie stadium 'n
vuurwapen in sy hand gehad en gedreig om haar dood te skiet as sy nie sê
waar die
geld gebêre is nie. Daardie persoon het later 'n derde maal vir
haar gevra waar die geld is, en haar toe weer in die gesig
geklap toe sy
sê dat sy nie weet nie. Teen omstreeks 19:30 die aand is hulle daar weg in
die oorledene se motor met 'n groot
hoeveelheid goed wat hulle gesteel het. Daar
is getuienis dat hulle later daardie Woensdagaand met die gesteelde goed in
Botshabelo
opgedaag het. Al vier die appellante is twee dae later in Botshabelo
gearresteer. Verskeie van die gesteelde artikels is toe in hulle
besit gevind of
deur hulle uitgewys.
Appellant 1 se broer het getuig dat hy 'n
huurmotoreienaar is en dat hy al vier die appellante op Maandag 10 Februarie
1992 op hulle
versoek na Verkeerdevlei vervoer het. Dit is gemene saak dat
7
appellant 2 en appellant 3 op 'n vroeëre stadium op die oorledene se plaas
Stormberg in die Verkeerdevlei-distrik gewoon het.
Appellant 2 het by sy vader
gebly terwyl sy vader op die plaas gewerk het. Appellant 3 het nie slegs daar
gewoon nie, maar ook self
daar gewerk. Mens kan dus aflei dat hulle twee die
plaas en die omstandighede daar goed geken het. Die polisie het verder verskeie
tekens in die omgewing van die veiligheidshek gevind wat daarop gedui het dat
die appellante vir 'n geruime tyd voor die aanval op
die oorledene in daardie
omgewing vertoef het. Hierdie getuienis is nie betwis nie. Nie een van die
appellante het trouens tydens
die verhoor op die meriete of ter strafversagting
getuig nie. Waar die staat myns insiens 'n sterk
prima facie
saak op die
moordklag uitgemaak het, regverdig hulle versuim om te getuig 'n nadelige
afleiding teen hulle. (
R v Ismail
1952(1) SA 204(A) op 209G-210C;
S v
Masia
1962(2) SA 541(A) op 546D-H;
S v Khoza
1982(3) SA 1019(A) op
1043D-E.)
8
In die lig van die voorgaande is ek van oordeel dat die
omstandigheidsgetuienis die volgende afleidings met betrekking tot die moord
regverdig. Die appellante het klaarblyklik die aanval op die oorledene beplan.
Hulle het geweet dat die oorledene en mev May die
plaas die Woensdagoggend
verlaat het en hulle het besluit om die twee bejaarde mense by die
veiligheidshek in 'n hinderlaag te lok.
Deur die veiligheidshek toe te maak, het
hulle die oorledene verplig om by die hek stil te hou en uit sy motor te klim.
Buite die
motor was die oorledene 'n doodmaklike teiken. Hulle het klaarblyklik
gedink dat daar geld êrens in die huis versteek is, en
hoewel hulle die
sleutel van die huis gehad het, het hulle nie geweet waar om die geld te vind
nie. Hulle het moontlik reeds vroeër
die Woensdag al vir geld in die huis
gesoek, maar sonder sukses. As hulle egter die oorledene buite aksie kon stel,
sou mev May as
'n bejaarde dame geen weerstand kon bied nie, en kon hulle haar
forseer om hulle te wys waar die geld versteek is.
9
Dit was trouens al wat hulle later inderdaad van mev May
verlang het, nl dat sy hulle wys waar die geld is. Dit is denkbaar dat die
appellante die oorledene ook om ander redes uit die weg sou wou ruim, bv omdat
hulle bang was dat hy appellante 2 en 3 ondanks hulle
bedekte gesigte sou
herken, of omdat hulle die motor wou hê om met die gesteelde goed te
ontsnap. As hulle bloot wou steel,
was daar egter niks wat hulle verhoed het om
die huis oop te sluit en na hartelus te steel terwyl die oorledene en mev May
van die
plaas af weg was nie. Maar wat hulle motief ook al mag gewees het, is
die afleiding myns insiens onvermydelik dat die hinderlaag
voorberei is met die
uitsluitlike doel om 'n aanval op veral die oorledene te loods.
Die
appellante se advokaat het betoog dat die bogemelde omstandighede nog nie
regtens die afleiding regverdig dat hulle beplan het
om die oorledene dood te
maak nie. Die afspraak kon net sowel gewees het dat hulle die oorledene bloot
sou oorrompel. Die advokaat
10
het betoog dat dit blote spekulasie sou wees om te bevind dat daardie
drie appellante wat nie in besit van die vuurwapen was nie,
geweet het dat die
vierde een wel 'n vuurwapen in sy besit gehad het, of dat hy beoog het om dit te
gebruik. In die omstandighede,
so is betoog, kon die ander drie dus nooit die
moontlikheid van die oorledene se dood voorsien het nie, en kan daar dus geen
sprake
van enige opset om te dood wees nie. Dit is verder betoog dat daar ook
geen getuienis is dat die drie appellante wat nie geskiet
het nie, hulle ooit
met die skietery vereenselwig het nie. Aangesien dit onbekend is watter een van
die vier appellante die vuurwapen
hanteer het, moet al vier die appellante
volgens hierdie argument die voordeel van die twyfel kry.
Ek kan nie met hierdie betoog saamstem nie. As die ooreenkoms slegs was om
die oorledene te oorrompel, is dit onbegryplik waarom die
drie appellante wat na
bewering nie van die vuurwapen geweet het nie, nie onmiddellik uit die bosse
gespring het om die oorledene
11 te oorrompel toe hy uit die motor geklim het
nie. Dit is moontlik dat hulle bang was om dit te doen, aangesien hulle nie
geweet
het of die oorledene dalk gewapen was of nie. Maar op watter ander wyse
het die beweerde drie ongewapende appellante gedink sou hulle
die oorledene
sonder gevaar vir hulle self daar by die veiligheidshek kon oorrompel? Die feit
dat nie een die oorledene probeer oorrompel
het nie, toon myns insiens dat dit
afgespreek was dat hulle hom eers vanuit hulle skuilplek buite aksie sou stel,
en op daardie afstand
kon dit alleen met behulp van 'n vuurwapen gedoen gewees
het. Na my oordeel is die enigste redelike afleiding dat al vier die appellante
geweet het dat een van hulle 'n vuurwapen het, en dat dit gebruik sou word. Die
gekoördineerde wyse waarop al vier die appellante
inderdaad opgetree het,
dui myns insiens onteenseglik op fyn beplanning en streng dissipline by die
uitvoering van hulle plan. Dergelike
optrede was slegs moontlik indien al vier
die appellante hulle met die plan en die uitvoering daarvan
12
vereenselwig het. Dit is verder insiggewend dat die vier vir
die eerste keer uit hulle skuilplek te voorskyn gekom het nadat die oorledene
dodelik in die bors getref was, en dit vir almal duidelik moes gewees het dat hy
sterwend was. Selfs nadat hy deur die tweede skoot
getref was, is daar nog
verskeie verdere skote op hom afgevuur. Dit was eers nadat hy hulpeloos op die
grond inmekaargesak het dat
die vier appellante dit gewaag het om met bedekte
gesigte uit die bosse te kom. Toe was dit natuurlik maklik vir die vier mans om
die weerlose en verskrikte mev May te oorrompel en om haar te dreig sodat sy die
vermeende wegsteekplek van die geld vir hulle kon
wys.
Die feit dat die
oorledene op 'n lewensge-"vaarlike liggaamsdeel_ geskiet is, en dat die
appellant met die vuurwapen aanhou skiet
het selfs nadat die oorledene reeds in
die bors getref was, is 'n duidelike aanduiding dat hulle hom nie slegs deur
verwonding buite
aksie wou stel nie, maar inderdaad wou doodskiet. En die feit
dat die ander drie appellante nie dadelik uitgestorm
13
het toe die oorledene eenmaal getref is nie, toon dat ook
hulle geweet het dat dit die gemeenskaplike bedoeling was om die oorledene
te
dood en nie slegs te verwond nie.
Die omstandigheidsgetuienis regverdig na my
oordeel die afleiding, as enigste redelike afleiding, dat al vier die appellante
vooraf
behoorlik daarvan bewus was dat een van hulle in besit van 'n vuurwapen
was, en dat hulle beoog het dat hy die oorledene met daardie
vuurwapen daar en
dan om die lewe sou bring. In die omstandighede kan daar geen twyfel wees dat al
vier die appellante die gemeenskaplike
oogmerk gehad het om die oorledene te
dood nie. Hulle het trouens vooraf saamgesweer om hom dood te maak. Na my mening
kan die vier
appellante hulle gelukkig ag dat die hof a quo beslis het dat hulle
nie die direkte opset om te dood gehad het nie, maar slegs opset
by
moontlikheidsbewussyn. Daar kan na my oordeel in ieder geval geen twyfel wees
dat hulle tereg aan moord skuldig bevind is nie.
Die appèl teen die
skuldigbevinding op die moordklag moet
14 gevolglik afgewys
word.
Vervolgens moet die appèl van appellante 1 en 3 teen die
opgelegde doodvonnisse behandel word. Die strafverswarende faktore
is voor die
hand liggend. Dit is andermaal 'n geval waar 'n bejaarde boer in die uitvoering
van 'n beplande rooftog, en vir persoonlike
materiële gewin, op sy plaas
vermoor is. Hierdie hof het reeds in verskeie soortgelyke sake beslis dat die
gemeenskapsbelang
swaar weeg wanneer bejaardes onder dergelike omstandighede op
afgeleë plase om die lewe gebring word. Dit is beklemtoon dat
die
vergeldings- en afskrikkingselemente by straftoemeting in sulke gevalle sterk na
vore tree.
(S v Khundulu and Another
1991(1) SASV 470(A) op 479h-i;
S
v Makie
1991(2) SASV 139(A) op 143h-i;
S v Sesinq
1991(2) SASV 361(A)
op 365g-h;
S v Shabalala and Others
1991(2) SASV 478(A) op 483c-e;
S v
Nqobeni en 'n Ander
1992(1) SASV 628(A) op 631f-g;
S v Tloeme
1992(3)
SA 568(A) op 5771.) Dit was bowendien 'n sinnelose moord aangesien die
appellante die hele
15
Woensdag tyd gehad het om die huis leeg te steel terwyl die oorledene
en mev May in Bloemfontein was. Die appellante het dit egter
anders beplan.
Hulle het die oorledene met voorbedagte rade in 'n hinderlaag gelok en hom toe
vanuit hulle skuilplek koelbloedig
doodgeskiet nog voordat hy eers die
geleentheid gehad het om enige weerstand te bied.
Die appellante se advokaat
het betoog dat dit ten gunste van elke individuele appellant aanvaar moet word
dat dit nie hy was wat die
skote afgevuur het nie, maar in die lig van al die
omstandighede maak dit myns insiens nie veel verskil wie die skote afgevuur het
nie. Die advokaat het verder ter strafversagting aangevoer dat die hof a
quo
hie bevind het dat enigeen van die appellante die direkte opset om te
dood gehad het nie. Die hof
a quo
het inderdaad beslis dat daar slegs
opset by moontlikheidsbewussyn was. Vir doeleindes van vonnis moet daardie
bevinding deur hierdie
hof as korrek aanvaar word. 'n Bevinding van
dolus
eventualis
mag wel in
16
sekere gevalle 'n relevante oorweging by die oplegging
van
vonnis wees. Dit hang egter af van hoe sterk die
moontlikheid van
doodsintreding was wat die betrokke
dader voorsien het. In
S v Sithebe
1992(1) SASV 347(A)
het Nienaber AR soos volg opgemerk op 355d-f:
"That leaves one with essentially two factors in his favour. Firstly, that it
has not been shown that the appellant was the one who
fired the shot that killed
the deceased and secondly, that his own state of mind was one of
dolus
eventualis
. Neither factor, by itself, hecessarily precludes the imposition
of the death sentence. As always in matters of this sort it remains
a question
of degree. In this case it cannot be said that the appellant must haye realised,
when he and his confederates confronted
the two elderly ladies in a residential
area, that there was a significant degree of risk that someone might be killed.
When a bank
or a supermarket is robbed, the robbers can anticipate
counter-measures and resistance which could readily lead to bloodshed. This
was
not such a case."
In
S v Ngobeni supra
op
632c-e, het Smalberger AR verwys
na die "moontlikheidsgraad van
doodsveroorsaking" in dergelike gevalle. In die onderhawige saak behoort die
afwesigheid van direkte
opset na my mening egter geen
17
gewig te dra nie aangesien die moontlikheid van
dood wat
die appellante inderdaad voorsien het so sterk was dat
hulle
opset nouliks van direkte opset te onderskei is.
In
S v Francis
, 'n ongerapporteerde beslissing van
hierdie hof wat
op 18 Mei 1993 gelewer is, het
Smalberger AR opgemerk"that the appellant
foresaw the
death of one or both of the victims as a strong probability - one almost
bordering on a certainty."
In die lig van daardie bevinding het die hof tot die
volgende gevolgtrekking gekom:
"Because of the appellant's high degree of foresight the absence of
dolus
directus
cannot constitute a mitigating
factor."
Na my oordeel geld dieselfde oorwegings in
die
onderhawige saak waar die dood van die oorledene ten
minste as 'n baie
sterk waarskynlikheid voorsien is. Die
bevinding van die hof
a quo
dat
die appellante nie die
direkte opset om te dood gehad het nie, kan gevolglik
nie
as 'n strafversagtende faktor in hierdie saak oorweeg
word nie.
18
Die gebrek aan eenvormigheid van straf in die geval van die
moordklag laat egter die vraag ontstaan of hierdie hof nie met die opgelegde
doodvonnisse behoort in te meng nie, en wel vanweë die wesenlike verskil
wat daar tussen die doodvonnisse van appellante 1 en
3 enersyds, en die
gevangenisstraf van appellante 2 en 4 andersyds bestaan. (
S v Dombeni
1991(2) SASV 241(A) op 245a-c.) Die onderskeid in straf wat die hof
a quo
in hierdie verband tussen die twee groepe appellantê gemaak het, was
uitsluitlik op die aan- of afwesigheid van vorige veroordelings
gebaseer. Dit
blyk dat appellante 2 en 4 eerste oortreders was terwyl appellante 1 en 3 wel
sekere vorige veroordelings gehad het,
maar nie weens enige geweldsmisdade nie.
Appellant 1 het twee vorige veroordelings waarvan die hof
a quo
kennis
geneem het, nl een vir huisbraak en diefstal, en een vir diefstal. Appellant 3
het drie vorige veroordelings, nl vir
19
diefstal (gepleeg in 1974), vir vervalsing en uitgifte, en vir diefstal
van 'n motorvoertuig. Nóg appellant 1 nóg appellant
3 kan myns
insiens as geharde misdadigers beskou word. Die feit dat appellante 1 en 3 wel
sekere ontoepaslike vorige veroordelings
het, terwyl appellante 2 en 4 eerste
oortreders is, verklaar na my oordeel egter nie die treffende wanverhouding
tussén hulle
vonnisse nie. Daar is immers 'n onbrugbare kloof tussen 'n
doodvonnis enersyds en 'n vonnis van gevangenisstraf andersyds.
Waar
verskillende mededaders in gelyke mate aan dieselfde misdaad deelgeneem het,
soos ook in die onderhawige saak bevind is, streef
ons howe sover moontlik na
eenvormigheid van straf, tensy die persoonlike omstandighede van die
verskillende mededaders so uiteenlopend
van aard is dat dit ongelykheid van
straf regverdig.
(S v Giannoulis
1975(4) SA 867(A) op 873E-H;
S v
Marx
1989(1) SA 222(A) op 225B-226B;
S v Goldman
1990(1) SASV 1(A) op
3e;
S v Dombeni supra
op 245c; S
20
v Moukangwe
, 'n beslissing van hierdie hof gelewer op
26
Mei 1993 en tans ongerapporteer, op 10 e v.) Dit is in
eersgenoemde
twee sake beslis dat die hof van appèl nie
'n onbelemmerde diskresie het om met ongelyke vonnisse in
te meng nie. Daar was egter geen sprake van die
doodvonnis in daardie twee
sake nie. In die geval van
die doodvonnis het hierdie hof nou in ieder geval
'n
onbelemmerde diskresie kragtens die bepalings van die
gewysigde art 322
van die Strafproseswet 51 van 1977. In
die
Marx
-saak
supra
op
226 A-B het hierdie hof per
Smalberger AR soos volg beslis:
"Waar die ligter vonnis egter as onredelik of duidelik onvanpas aangemerk kan
word, en die swaarder vonnis in al die omstandighede
'n gepaste een is, sou
ingryping met, en versagting van, laasgenoemde vonnis nie geoorloofd wees nie,
desondanks die wanbalans wat
die vonnisse betref. Geregtigheid vereis dat
gepaste strawwe opgelê moet
word."
Die beginsel dat vonnisse van
gelyke mededaders
vir sover moontlik eenvormig moet wees, vereis dus nie
dat daar met 'n gepaste en billike vonnis van een
21
mededader ingemeng moet word slegs omdat die ander mededader,
wat 'n gelyke rol by die pleging van die misdaad gespeel het, 'n veel
ligter
vonnis opgelê is wat duidelik ontoepaslik is nie.
In die onderhawige
geval is die doodvonnis na my oordeel die enigste gepaste vonnis vir appellante
1 en 3. Waar appellante 2 en 4
in gelyke mate aan dieselfde moord deelgeneem
het, was die doodvonnis na my mening ook in hulle geval die enigste gepaste
vonnis,
nieteenstaande die feit dat hulle geen vorige veroordelings het nie. Na
my oordeel was die vonnisse van gevangenisstraf wat appellante
2 en 4
opgelê is, dus nie die gepaste vonnisse nie. Hierdie hof is egter nie
bevoeg om in te meng met appellante 2 en 4 se
vonnisse nie. Waar hierdie hof
eenmaal bevind dat die doodvonnis die
enigste
gepaste straf vir
appellante 1 en 3 is - en dit is 'n bevinding wat nie ligtelik gemaak word nie -
volg dit dat enige ander vonnis
inderdaad nie die gepaste vonnis vir hulle is
nie. In die omstandighede sou enige inmenging met die
22
vonnisse van appellante 1 en 3 myns insiens nie geregverdig
wees nie. Dit sou trouens in stryd wees met die basiese beginsel dat
geregtigheid
die oplegging van gepaste strawwe vereis. Gelykberegtiging beteken
immers nie dat misplaaste toegeeflikheid teenoor een mededader
ook die ander
mededader moet bevoordeêl waar sy vonnis in alle opsigte 'n billike en
gepaste vonnis is nie. In al die omstandighede
van hierdie saak is daar na my
mening ook geen billikheidsoorwegings wat vereis dat daar met die doodvonnisse
van appellante 1 en
3 ingemeng word nie.
In
Dombeni
se saak, supra,
het hierdie hof, met verwysing na die beginsel van eenvormigheid van straf, die
doodvonnisse van die appellant tersyde
gestel en vervang met dieselfde vonnisse
van gevangenisstraf as wat die verhoorhof sy medebeskuldigde vir dieselfde
moorde opgelê
het. In daardie geval het die appellant egter 'n baie meer
ondergeskikte rol as sy medebeskuldigde by die pleging van die moorde
gespeel,
en het die hof op appèl
23
om gegronde redes tot die beslissing gekom dat die
doodvonnisse nie die enigste gepaste vonnisse vir daardie appellant was nie. In
die onderhawige saak is ek egter van oordeel, soos reeds gemeld, dat die
doodvonnis inderdaad die enigste gepaste vonnis vir sowel
appellant 1 as
appellant 3 is, en vereis die strewe na eenvormigheid van straf nie dat daar met
daardie vonnisse ingemeng word nie.
Dit volg dus dat die appèl van
appellante 1 en 3 teen die opgelegde doodvonnisse afgewys moet word.
Die
appèl van appellante 1, 2, 3 en 4 teen hulle skuldigbevinding aan moord,
en die appèl van appellante 1 en 3 teen
die doodvonnisse wat hulle
opgelê is, word gevolglik afgewys.
F H GROSSKOPF AR
HOEXTER AR)
SMALBERGER AR) Stem saam