About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1993
>>
[1993] ZASCA 38
|
|
S v Sylvester (665/91) [1993] ZASCA 38 (25 March 1993)
1
Saak nr 665/91 /MC
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(APPèLAFDELING)
Tussen:
RODNEY SYLVESTER
Appellant
- en -
DIE STAAT
Respondent
CORAM:
VIVIER, NIENABER ARR et
KRIEGLER Wnd AR.
VERHOOR:
22 Maart 1993
GELEWER:
25 Maart 1993
UITSPRAAK
VIVIER AR/
2
VIVIER AR:
Die appellant is in die Streekhof op Oos-
Londen op 'n aanklag van
verkragting skuldig bevind en
gevonnis tot sewe jaar gevangenisstraf waarvan
twee
jaar voorwaardelik vir vier jaar opgeskort is. Sy appèl na die
Oos-Kaapse Afdeling het misluk en met die nodige verlof appelleer
hy na hierdie
Hof teen beide sy skuldigbevinding en vonnis.
Wat die skuldigbevinding betref, is die vraag vir beslissing of die Staat
bewys het dat gemeenskap, wat deur die appellant erken word,
sonder toestemming
van die klaagster, die 27-jarige Norma Mtamzana Nkuli, geskied het.. Die
klaagster het getuig dat sy om ongeveer
halfelf Saterdagaand 28 Julie 1990 in
Buffalostraat in Oos-Londen by 'n bushalte vir 'n taxi gewag het. Sy het tot
tienuur die aand
by die Orange Grove hotel in Greenfields gewerk en was op pad
huis toe. Die appellant het in sy motor by haar stilgehou
3
en sy het links agter ingeklim. Hy het 'n U-draai
gemaak en versnel, 'n
rooi verkeerslig verontagsaam en
reguit na 'n begraafplaas gery. Hy het
uitgeklim en
haar deur oopgemaak. Hy het haar gevloek, deur die
gesig geklap en haar twee keer met die vuis op die
kakebeen geslaan. Hierna het hy 'n kapmes te voorskyn
gebring en na haar kop gekap. Sy het met haar
linkerhand gekeer en die mes het haar vingers gesny.
Hy het haar verder op die linkerbobeen en linkerkuit
met die mes gekap. Die houe het haar broek geskeur en
'n snywond aan haar linkerbobeen veroorsaak wat gebloei
het. Omdat sy vir haar lewe gevrees het, het sy hom
toegelaat om al haar klere uit te trek waarna hy haar
herhaaldelik verkrag het tot die volgende oggend toe.
Vroeg daardie oggend kon hy nie sy motor aan die gang
kry nie en hulle is saam te voet daar weg. Terwyl hy
iemand gaan soek het om hom met sy motor te help, het
sy reguit na die polisie gegaan. Volgens konstabel
4
Umchengu van die Fleetstraatse polisiestasie op Oos-Londen het die klaagster
om halfag die betrokke oggend 'n klag van verkragting
daar ingedien. Sy het
"gelyk soos een wat geskrik het", haar oog was geswel, haar hand bebloed met
snymerke daaraan en haar langbroek
geskeur. Die klaagster het hom na die
begraafplaas geneem waar die appellant se motor nog gestaan het met die kapmes,
waarvan die
klaagster gepraat het, daarin. Die appellant is later dieselfde
oggend gearresteer. Die distriksgeneesheer, dr Melmed, het die klaagster
die
Sondagoggend ondersoek en sny- en kneuswonde aan haar linkerdy, -arm en -vingers
gevind.
Die appellant se verweer, soos reeds aangedui, was dat gemeenskap met die
klaagster se toestemming geskied het. Sy weergawe van die
gebeure was dat nadat
hy die klaagster opgelaai het, hy dadelik toenadering gesoek het. Sy het gunstig
gereageer en hy het na 'n
afgeleë plek by die begraafplaas gery waar
5
hulle een keer, met haar toestemming, gemeenskap gehad het. Daarna wou sy
R20-00 betaling hê maar hy het geweier en aangebied
om haar huis toe te
neem. Hy kon egter nie sy motor aan die gang kry nie en het toe sy kapmes vir
haar gegee sodat sy haarself kon
verdedig terwyl hy gaan hulp soek. Hy het van
plan verander en op die agterste sitplek gaan slaap. Die volgende oggend is
hulle saam
daar weg. Sy het weer geld gevra en hy het haar.R2-00 gegee om by die
huis te kom. Die appellant het ontken dat hy die klaagster
hoegenaamd aangerand
het: volgens hom het sy haar vingers waarskynlik gesny toe sy die kapmes by hom
geneem het. Hy het egter nooit
bloed aan haar hand gesien nie. Namens die
appellant het ene mev Fisher van die Orange Grove hotel getuig dat die klaagster
nie by
die hotel gewerk het soos deur haar getuig nie.
Die Streeklanddros het die klaagster se
6
weergawe aanvaar en diê van die appellant verwerp as nie redelik
moontlik waar nie. Die Hof a quo het bevind dat ten spyte van
sekere
onbevredigende aspekte in die Streeklanddros se uitspraak, haar beserings
onverenigbaar is met die weergawe van die appellant
sodat sy weeergawe nie
redelik moontlik waar kan wees nie.
Die onbevredigende aspekte in die
Verhoorhof se uitspraak waarna die Hof a quo verwys en waarop namens die
appellant in hierdie Hof
gesteun is, is die volgende. Dit was die appellant se
saak dat die klaagster 'n straatvrou is wat 'n klag teen hom gelê het
omdat hy haar nie wou betaal nie. Sy het hierdie aantyging heftig ontken. Die
Streeklanddros sê in sy uitspraak dat die klaagster
hom beïndruk het
as 'n welopgevoede en ordentlike vrou en dat hierdie indruk versterk word deur
dr Melmed se ondersoek van haar
geslagsdele. Ek dink nie dat dr Melmed se
getuienis
7
hierdie afleiding regverdig nie. Die Streeklanddros
sê verder dat,
indien die klaagster betaling wou hê
soos deur die appellant getuig, mens sou verwag dat sy
van die begin af
daarop sou aangedring het. Dit is
blote bespiegeling maar dit raak nie die Streeklanddros
se ander redes vir die verwerping van die appellant se
getuienis nie. Dit was vol teenstrydighede en
onwaarskynlikhede. Daarby het hy aanvanklik
teenoor die polisie ontken dat hy enige kennis dra van
die kapmes, wat nie te versoen is met sy getuienis dat
hy die kapmes aan die klaagster oorhandig het om
haarself mee te verdedig nie. Ek vind sy
verduideliking vir die beserings aan die klaagster se
vingers onwaarskynlik. Dit is ook onwaarskynlik dat
sy oor R18-00 'n klag van verkragting by die polisie sou
indien.
'n Verdere aspek van die Streeklanddros se uitspraak wat deur die Hof a quo
en weer in hierdie Hof
8
namens die appellant gekritiseer is, is dat hy onvoldoende gewig aan mev
Fisher se getuienis sou geheg het. Ek stem nie saam nie.
Die Streeklanddros het
mev Fisher se getuienis dat die klaagster nie die betrokke aand by die Orange
Grove hotel gewerk het nie,
aanvaar en sê dat dit daarop dui dat sy
"oneerlik met die Hof was" maar dat dit nie as wesenlik beskou kan word nie. Ek
moet
daarop wys dat die klaagster reeds die Sondagoggend aan dr Melmed genoem
het dat sy by die Orange Grove hotel werk. Verder is haar
getuienis dat sy met h
huurmotor by die bushalte in Buffalostraat aangekom het, nooit betwis nie. Maar
selfs indien aanvaar word
dat sy nie die aand by die Orange Grove hotel gewerk
het nie, beteken dit nog glad nie dat sy 'n prostituut is, soos betoog nie.
Dit
is niks meer nie as 'n faktor by die beoordeling van die betroubaarheid van die
klaagster se getuienis, soos die Streeklanddros
dit tereg beskou het.
9
Na my mening is daar in die huidige saak voldoende stawing vir die klaagster
se getuienis op die wesenlike geskilspunt tussen die
Staat en die appellant
naamlik of gemeenskap met of sonder haar toestemming plaasgevind het. Daar is
eerstens haar beserings wat
deur die mediese ondersoek gestaaf is en wat die
appellant, in wie se teenwoordigheid die beserings opgedoen is, nie kon
verduidelik
nie. Daar is verder die toestand- waarin die appellant by konstabel
Umchengu aangekom het: sy was verskrik, bebloed en het gekla
dat sy beseer was.
Ek vind die appellant se beserings en die toestand waarin Umchengu haar
aangetref het, onbestaanbaar met die appellant
se verweer van toestemming.
Daarby moet die appellant se vals verduideliking vir die wapen en sy leuenagtige
getuenis nie uit die
oog verloor word nie. Die Hof a quo het die feit dat sy nie
in die loop van die nag ontsnap het nie, as 'n onwaarskynlikheid in haar
getuienis beskou.
10
Ek stem nie saam nie. Volgens die getuienis was dit 'n afgeleë, verlate
en vir die klaagster onbekende plek en dit is verstaanbaar
dat sy nie probeer
ontvlug het nie. Die appellant is tereg skuldig bevind.
Dit laat die
appèl teen die vonnis. Daar is nie namens die appellant op enige
wanvoorligting gesteun nie maar slegs dat die
vonnis buitensporig swaar is. Die
appellant is dertig jaar oud en het 'n vaste betrekking as 'n
vurkkraan-bestuurder. Hy moet vir
huidige doeleindes as 'n eerste oortreder
beskou word. Die klaagster is nie ernstig beseer nie. Aan die ander kant moet
dit in 'n
ernstige lig beskou word dat sy ontvoer is, die hele nag in 'n
afgeleë, verlate plek gevange gehou en onderwerp is aan 'n langdurige
aanval wat met aansienlike geweld en dreigemente met 'n gevaarlike wapen gepaard
gegaan het. In al die omstandighede kan ek nie sê
dat die vonnis
buitensporig
11
swaar is nie.
Die appèl word afgewys.
W.
VIVIER AR.
NIENABER AR)
KRIEGLER Wnd AR) Stem saam.