About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1993
>>
[1993] ZASCA 14
|
|
S v Schutte and Another (41/90) [1993] ZASCA 14 (4 March 1993)
SAAKNOMMER 41/90 J VD M
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(
APPéLAFDELING
)
In die saak tussen:
ANDRé MARK SCHUTTE
1ste Appellant
PIETER JACOBUS
KOEN
2de Appellant
CORNIS SERFONTEIN
3de Appellant
en
DIE STAAT
Respondent
CORAM
: VAN HEERDEN, VIVIER, AKR et
HAKMS, WnAR
VERHOORDATUM
: 22 FEBRUARIE 1993
LEWERINGSDATUM
: 4 MAART 1993
UITSPRAAK
HARMS, WnAR:
Die drie appellante was gedurende 1988 as jong konstabels verbonde aan die
onluste-eenheid van die
2
S A Polisie. Op Saterdag 19 Maart 1988 het hulle spesiale diens by die
Sandkraal-polisiestasie in die distrik George verrig. Saam
met hulle aan diens
was 'n spesiale konstabel, B J Nkampini. Sy funksie was hoofsaaklik om die
perseel te bewaak maar hy is ook vir
ander doeleindes ingespan. Na aanleiding
van sekere gebeure dié dag het die appellante in die rondgaande hof te
George voor
Fagan R en twee assessore tereggestaan. Die besonderhede van die
aanklagte, die skuldigbevindings en die vonnisse is die volgende:
1.
Aanklag 1 was 'n aanklag van
moord op wyle mnr Anton Kobe (in die getuienis Ace genoem). Nr 1 is skuldig
bevind soos aangekla en tot
12 jaar gevangenisstraf gevonnis. Nrs 2 en 3 is aan
poging tot moord skuldig bevind en sewe jaar gevangenisstraf
opgelê.
2.
Aanklag 2 was 'n aanklag van
aanranding op mev
3
Priscilla Jebese, gepleeg met die opset om ernstig te beseer. Nr 1 is hieraan
skuldig bevind en is 'n opgeskorte vonnis van ses maande
gevangenisstraf
opgelê. Nrs 2 en 3 is onskuldig bevind.
3.
Aanklag 3 was 'n soortgelyke
aanklag maar in hierdie geval was die slagoffer mev Elizabeth Qatana, die
houvrou van die oorledene,
Ace. Omdat die staat se saak op die getuienis van 'n
enkelgetuie (Elizabeth) gebaseer was, is nrs 1 en 2 onskuldig bevind. Nr 3 was
nie 'n aangeklaagde op dié aanklag nie.
4.
Aanklag 4 was ook so 'n aanklag maar mnr Kleinbooi Qatana was die
klaer. Hy was 'n oom van Elizabeth. Nr 1 is skuldig bevind soos
aangekla en is
weereens tot ses maande gevangenisstraf gevonnis wat in geheel opgeskort is. Nr
2 is aan
4
gewone aanranding skuldig bevind en is 'n opgeskorte vonnis van drie maande
opgelê. Nr 3 was ook nie by hierdie misdryf betrek
nie.
Die nodige verlof tot appél is na aanleiding van 'n petisie aan die
Hoofregter gerig, toegestaan. Aan die einde van die betoog
is die appêl
afgewys en is aangedui dat die redes vir die bevel sou volg. Vir doeleindes van
gerief word eers met die aanrandings
en dan ook in kronologiese volgorde
gehandel.
Die gebeure om aanklag 4 het eerste plaasgevind. Om ongeveer 15h30 op die
betrokke dag het Elizabeth by die polisiestasie opgedaag
en gekla dat haar oom,
Kleinbooi, haar sou aangerand het. Sy wou nie 'n formele klagte lê nie
maar net hê dat die polisie
hom moes waarsku. Dit is skynbaar 'n algemeen
voorkomende gebruik dat die polisie in gevalle van sogenaamde huismoles die
veroorsaker
streng aanspreek,
5
'n aantekening daarvan maak en die saak as afgehandel beskou. Nrs 1 en 2 is
toe met die vangwa weg om hierdie funksie te vervul. Nkampini
en Elizabeth is
saam maar toe hulle by die woning aankom, was Kleinbooi nie daar nie. Later die
middag, om ongeveer 18h00, het sy
teruggekeer met die berig dat Kleinbooi toe
tuis sou wees. Volgens die staatsaak is die vier weer na die huis toe. Elizabeth
is daar
gelaat terwyl Kleinbooi aangesê is om die drie polisiebeamptes na
die stasie te vergesel. Volgens Nkampini was dit eintlik
sy voorstel want hy wou
Kleinbooi verder waarsku. By die stasie aangekom, het nrs 1 en 2 vir Kleinbooi
in een van die vertrekke ingeneem
en het nr 2 hom oor 'n stoel laat buk. Nr 2
het hom met 'n sambok geslaan om hom 'n les te leer omdat hy sy hand teen 'n
vrou opgelig
het. Toe Kleinbooi orent gekom het, het nr 1 hom met die vuis
bygekom. Dit alles, het Nkampini getuig, het hy deur die venster waargeneem.
Kleinbooi, wat tydens die
6
gebeure redelik sterk onder die invloed van drank was, het bevestig dat hy
die betrokke aand deur twee polisiemanne aangerand is by
die polisiestasie. Sy
weergawe van die wyse van aanranding verskil in 'n mate van dié van
Nkampini. Daarbenewens het hy bygevoeg
dat hy op sy een oor met 'n geskoende
voet getrap is. Vyf dae na die gebeure is hy deur 'n distriksgeneesheer
ondersoek wat gevind
het dat Kleinbooi se linkeroordrom geperforeer was. Geen
tekens van verdere beserings was toe teenwoordig nie. Aangesien Elizabeth
nie
saam terug na die polisiestasie is nie, het sy geen getuienis ten aansien van
die aanranding op Kleinbooi gegee nie.
Nrs 1 en 2 se weergawes verskil van die staat s'n in wesenlike opsigte. Beide
het getuig dat Nkampini hulle nie tydens die tweede
besoek aan Kleinbooi
vergesel het nie. Volgens nr 1 was Kleinbooi by die tweede besoek aan die huis
astrant en het hy geweier om
saam aanklagkantoor toe te kom. Hy het
7
Kleinbooi daarom op die linkeroor geklap ten einde hom te oortuig om hom te
vergesel en ook omdat hy dronk was. Nadat hy Kleinbooi
geklap het, het hy hom
egter gelos en is hy en nr 2 terug polisiestasie toe. Tydens kruisondervraging
het dit geblyk dat hy nie Kleinbooi
gearresteer het nie, dat hy 'n arrestasie
wel oorweeg het (maar hoekom kon hy nie sê nie), dat hy Kleinbooi teen sy
sin saam
polisiestasie toe wou neem en toe sonder rede daarteen besluit het. Nr
2 het bevestig dat Kleinbooi nie polisiestasie toe geneem
is nie. Die voorval
waartydens nr 1 vir Kleinbooi geklap het, het hy nie waargeneem nie omdat hy op
daardie stadium besig was om
die huis te deursnuffel en in die kospotte rond te
krap.
Die verhoorhof het die twee appellante se weergawes verwerp en bevind dat nr
1 vir Kleinbooi etlike houe met die vuis toegedien, hom
geskop en sy
linkeroordrom met sy geskoende voet laat skeur het.
8
Dit, soos reeds gesê, was volgens die uitspraak 'n aanranding wat met
die opset om ernstig te beseer, gepleeg is. Nr 2, is beslis,
het vir Kleinbooi
etlike houe met 'n sambok op sy sitvlak toegedien en dit het op 'n gewone
aanranding neergekom. Tydens die appél
is namens nr 1 aanvaar dat hy op
beide weergawes aan 'n aanranding skuldig is en dat, in die lig van die ligte
vonnis opgelê,
dit eintlik nie relevant is om te bepaal of die aanranding
met die genoemde opset gepleeg is al dan nie. Namens nr 2 is egter volhard
dat
Nkampini se weergawe verwerp moes word en dat dit nie bewys is dat die
appellante se weergawes bo redelike twyfel vals was nie.
Dit is ten eerste betoog dat Nkampini, Kleinbooi en Elizabeth saamgesweer het
om nrs 1 en 2 by 'n aanranding op Kleinbooi te betrek
op die wyse uiteengesit.
Die motief vir die sameswering sou verband hou met die feit dat Elizabeth in 'n
saambly-
9
verhouding met die oorledene gestaan het en dat Nkampini 'n vriend van die
Qatanas en die oorledene was. Die samesweringsteorie is
deur die verhoorhof
verwerp. Aangesien Nkampini reeds die Maandag die aanranding op Kleinbooi
gerapporteer het, was daar beswaarlik
tyd vir 'n sameswering. Die trauma van Ace
se aanranding en dood sou dit nie moontlik gemaak het vir Elizabeth om aan so 'n
sameswering
deel te neem nie. Dit is ook opmerklik dat Nkampini nie oor die
aanranding op die oor getuig het nie terwyl dit eintlik die uitstaande
en die
enigste objektief bewysbare geweldsaandoening was. Dit het ook geen sin gemaak
uit die samesweerders se oogpunt om die gebeure
vanaf die huis na die
polisiestasie te verplaas nie. As hulle die gebeure by die huis sou laat afspeel
het, kon Elizabeth 'n addisionele
ooggetuie gewees het. Dit volg dus dat ek van
oordeel is dat die verhoorregter korrek was om te bevind dat daar geen sprake
van 'n
sameswering kon gewees het nie. Sodra
10
dit bevind word, verval
die basis van nrs 1 en 2 se verweer.
Heelwat gewag is ook gemaak van die feit dat daar verskille tussen die
getuienis van Nkampini en Kleinbooi was. Hierdie verskille
is ten dele deur die
verhoorhof toegeskryf aan die feit dat Kleinbooi onder die invloed van drank
was. Daarmee kan geen fout gevind
word nie. Dit is dan ook betoog dat Nkampini
se getuienis in die geheel vals was aangesien hy aanvanklik getuig het dat hy 'n
nota
van die waarskuwing aan Kleinbooi in sy sakboekie aangebring het maar toe
hy sy sakboekie te voorskyn gebring het, daar geen aanduiding
van so 'n
aantekening daarin was nie. Nkampini het spontaan daarop gesê dat hy dan
'n fout moes gemaak het en dat hy 'n aantekening
oor die waarskuwing waarskynlik
op 'n los papier geskryf het. Hierdie verduideliking is nie vergesog nie. Dit
was naamlik die getuienis
van nr 1 dat dit die gebruik is om 'n aantekening oor
sulke
11
waarskuwings te maak en dat dit van tyd tot tyd op 'n los papier aangebring
word. Ten slotte is betoog dat dit nie bo redelike twyfel
bewys is dat 'n
oordrom vanweë 'n trap met 'n geskoende voet kan bars nie en dat die
afwesigheid van verdere merke tydens die
ondersoek deur die distriksgeneesheer
aandui dat daar benewens die besering aan die oor geen ander geweldstoediening
plaasgevind
het nie. Soos ek die deskundige getuienis verstaan, kom dit daarop
neer dat 'n oordrom vanweë 'n plofaksie kan bars. Dit sal
dus afhang van
die wyse waarop op 'n oor getrap word of die oordrom sou bars. So ook sou mens
verwag dat die aard van die geweld
deur byvoorbeeld die sambokhoue sou bepaal of
daar sigbare merke vyf dae later sou wees. Dit was nie die staat se saak dat
enige
besondere mate van geweld aangewend is nie en ek kan dus nie saamstem met
die betoog dat die mediese getuienis onversoenbaar met
die staatsaak is nie. Dit
het dus gevolg dat die appél teen hierdie
12
skuldigbevinding nie
kon slaag nie. Daar was geen appél teen die vonnisse opgelê
nie.
Die staat se saak ten aansien van aanklag 2 was dat die klaagster,
Priscilla, die betrokke dag haar buurvrou met 'n gebreekte bottelnek
gesteek
het. Nrs 1 en 2 is met die polisievangwa gestuur om haar op te laai. Tydens die
oplaai het nr 1 haar 'n klap met die oop
hand op die wang gegee. Sy is toe na
die polisiestasie vervoer. Op pad soontoe is die oorledene, Ace, opgelaai. (Meer
daaroor later.)
By die stasie is sy in die voorste vertrek wat as aanklagkantoor
gedien het, gelaat. Na die aanranding op die oorledene het nr 1
die vertrek
binnegekom, haar met die vuis geslaan en haar geklap, telkens teen die
regterwang. Sy het later geval en toe het hy op
haar linkeroor getrap en sy voet
gedraai. Hy het haar ook aan die keel gegryp. (Aangesien nrs 2 en 3 se beweerde
deelname aan die
aanranding volgens die verhoorhof nie
13
bewys is nie, is dit nie nodig om die getuienis wat op hulle betrokkenheid
van toepassing is te behandel nie.) Die distriksgeneesheer
se ondersoek op 22
Maart het, afgesien van 'n aantal skaaf- en kneuswonde van ongeveer drie dae
oud, 'n vars skeur van die linkeroordrom
aangetoon. Nr 1 se weergawe van die
gebeure was dat na sy geveg met die oorledene hy vanweë uitputting op die
mat in die aanklagkantoor
gaan lê het. Priscilla, wat -en dis gemeensaak -
gedrink was, het 'n lawaai opgeskop. Hy het hom vererg en haar op die linkeroor
geklap. Sy weergawe is verwerp en die getuienis van Priscilla en Nkampini, wat
as twee eerlike en goeie getuies beskryf is, is aanvaar.
Hoewel hierdie aanklag
'n onderwerp van die appél was, is geen betoog namens nr 1 voorgelê
wat daarop sou dui dat die
verhoorhof in sy beoordeling gefouteer het nie. Beide
weergawes toon 'n aanranding asook 'n opset om ernstig liggaamlik te beseer,
veral in die lig van iets wat beswaarlik toevallig kan wees en
14
dit is die bars van twee oordromme van verskillende lede van die publiek
binne die verloop van enkele ure deur die gebruikmaking van
'n skoen deur
dieselfde polisiebeampte. Daarom is die appêl teen hierdie
skuldigbevinding van die hand gewys. Weereens was
daar geen appél teen
die vonnis nie.
Vervolgens word met die skuldigbevindings onder aanklag 1 gehandel. Die
gebeure wat tot die dood van die oorledene gelei het, was
die volgende. Nadat
nrs 1 en 2 vir Priscilla opgelaai het, het hulle op pad terug op 'n bakleiery
afgekom. Volgens Elizabeth was
sy 'n slagoffer van 'n aanranding en het die
oorledene haar aanvaller geslaan. Sy het verder gesê dat toe die vangwa
stilgehou
het, nrs 1 en 2 uitgespring en met sambokke begin slaan het. Hulle het
eers die perseel se onskuldige eienaar geslaan en toe vir
die oorledene. Die
oorledene het gesoebat en gesê dat hy nog nooit met die polisie
moeilikheid gehad het nie. Hy het
15
weggehardloop maar is deur nr 1 agternagesit. Sy het hulle gevolg. Die
oorledene is ingehaal, gevang, geskop en geslaan. Sy is ook
in die proses
raakgeslaan. Die oorledene is in die vangwa ingeboender en na die polisiestasie
geneem. Sy het kortpad soontoe gevat
en was by toe die oorledene uit die wa
geklim het. Nkampini was ook daar teenwoordig. Die oorledene het, net nadat hy
uitgeklim het,
weggehardloop. Dit was reeds na 20h00. Nr 1 het toe vir Nkampini
opdrag gegee om die oorledene agterna te sit, wat hy gedoen het.
Die oorledene
het in 'n dam ongeveer 300 meter daarvandaan ingehardloop en nr 1 en Nkampini is
agterna. Volgens Nkampini is hy met
sy uniform en al die water in en aangesien
hy vir Ace geken het, het hy hom aangesê om uit die water te kom. Ace het
egter
gesê dat hy bang was dat hy weer geslaan sou word. Nkampini het hom
aan sy broek gegryp en hom uit die dam gebring. Nr 1 het
by hulle aangesluit
en
16
vir hom gesê hy moet Ace behoorlik vashou want hy is "taai". Ten spyte
daarvan het hy dit onnodig gevind om Ace te boei want
hy het vrywillig geloop.
Nr 1 het egter een van Ace se arms gegryp, dit agter sy rug gebuig en Nkampini
se kierie gevat en die oorledene
daarmee gestoot.
Nkampini het verder getuig dat by hulle aankoms by die aanklagkantoor het nr
2 (wat met die vangwa vir Ace gaan soek het) teruggekom
en nrs 1 en 2 saam met
Ace die aanklagkantoor in is. Hy het hulle gevolg toe hulle in 'n ander vertrek
in die gebou in is en daar
het hy waargeneem hoe nrs 1, 2 en 3 die oorledene
geslaan en geskop het. Hy het die vertrek verlaat maar het gehoor dat díe
aanranding voortgegaan het. Hy was nie in staat om die aanrandingshandelinge te
individualiseer of aan spesifieke beskuldigdes vas
te knoop nie.
Alvorens met die verdere gebeure gehandel
17
word, is dit gerieflik om op hierdie stadium te oorweeg óf
Nkampini óf die drie appellant se getuienis oor die gebeure
tot dusver
uiteengesit, korrek was. Dit staan vas dat die oorsaak van dood intra-kraniale
bloeding was. Uitwendig is tussen 25 en
30 geweldsapplikasies deur skaaf-, sny-
en kneuswonde veroorsaak, gevind. Van die wonde is deur sambokhoue, vuishoue en
trapgeweld
veroorsaak. 'n Skaafwond aan die kop is met 'n roede-vormige voorwerp
toegedien en volgens die staat se getuienis was die breinbesering
van 'n tipiese
akselerasie-deselerasie-aard. So iets word gewoonlik deur 'n val veroorsaak
wanneer die kop met 'n geweldige vinnige
spoed beweeg en dan onmiddellik tot
stilstand gebring word.
Die dag na die gebeure het die appellante elk 'n verklaring voor majoor (toe
kaptein) Claassen afgelê. In sy verklaring het
nr 1 gesê dat hy en
nr 2 op die bakleiery afgekom het en dat hy die oorledene
18
agtervolg het met die doel om hom te ondervra ten einde vas te stel wat
gebeur het. Na ongeveer 800 meter het hy hom ingehaal en wou
hy hom arresteer.
'n Gestoeiery het ontstaan waartydens Ace verskeie houe na hom geslaan het. Hy
het egter daarin geslaag om Ace
vas te hou totdat nr 2 hom te hulp gesnel het en
hulle het toe vir Ace na die patrolliewa geneem. Tydens die stoeiery het Ace hom
aan sy linker bo-arm gebyt. Na ongeveer 15 sekondes kon hy daarin slaag om sy
arm uit Ace se mond los te kry. Die bytwond het geweldig
gepyn en het tot gevolg
gehad dat sy arm gedeeltelik verlam was. Ace is na die stasie geneem ten einde
hom te ondervra. Toe nr 2
die patrolliewa se agterdeur oopgemaak het, het Ace
weggehardloop en hy het hom agternagesit. Nkampini het op sy eie inisiatief ook
vir Ace agtervolg. Nadat Nkampini Ace gevang het en hulle terug by die
aanklagkantoor gekom het, het Ace geweier om die gebou binne
te gaan. Hy het
teen die trappies vasgeskop en
19
weer begin baklei. Hulle moes geweld gebruik om hom tot in die polisiestasie
te neem. Daar het Ace half histeries begin raak en herhaaldelik
probeer ontsnap.
Omdat hy baie moeg en kwaad was, het hy geweld gebruik om Ace tot bedaring te
bring. Nrs 2 en 3 het hom bygestaan
maar hy weet nie of Nkampini meegehelp het
nie. In die loop van sy getuienis tydens die verhoor is die gebeure meer
gedramatiseer
en toe het dit geblyk dat daar 'n groep mense saamgedrom het waar
die oorspronklike worsteling aan die gang was en dat Ace 'n baksteen
in sy hand
gehad het. Aangesien Ace 'n aggressor was het hy hom agtervolg. Hy het Ace
ingehaal en hom met sy arms probeer vasvat
maar Ace het hom met sy elmboë
op die maag en bors geslaan in 'n poging om los te ruk. Op 'n stadium het Ace
aan 'n hoekpaal
vasgehou en hy het aan hom getrek sodat hy sy greep los. Die
skare het groter geword. Ace het heelwat gegil en geskree en hom baie
verset. Hy
het sy linkerarm om Ace
20
se nek geplaas om te kyk of hy hom nie so onder beheer kon kry nie en toe het
Ace hom weer met sy elmboë op sy maag en bors geslaan.
Die skare het
oproerig begin word en toe het Ace hom aan die linkerarm gebyt. Sy hele arm het
lam gevoel en hy kon die arm van toe
af nie meer gebruik nie. Ace het die
oorhand oor hom gekry en hom met die vuis geslaan. Nr 2 het opgedaag om hom te
red en hy is
sy lewe aan hom te danke. Nr 2 het die oproeriges uiteen gejaag met
'n sambok en vir Ace van agter geslaan. Nadat Ace by die polisiestasie
ontsnap
het en uit die water deur Nkampini gehaal is, het Nkampini hom telkemale met 'n
knopkierie aan die agterkant van sy kop,
nek en rug geslaan. Nr 1 se arm was
steeds verlam. Toe Ace teen die trappies vasgeskop het, het nr 3 bygekom en Ace
met die vuis
geslaan. In die proses het nr 3 hom ook raakgeslaan op die pynlike
arm. Hulle het toe vir Ace in 'n vertrek wat as kombuis gebruik
is, geneem. Ace
het weer probeer ontsnap
21
maar nr 2 het hom gekeer deur hom te slaan. Al wat hy weet is dat
Nkampini, nr 2, nr 3 en hyself almal geweld moes gebruik om Ace
tot bedaring te
bring. Hy kan hom herinner dat nr 2 op 'n stadium op hom geskree het en
gesê het hy moet ophou maar dat hy
desnieteenstaande 'n ligte plank geneem
en Ace daarmee geslaan het omdat hy te moeg was om iets anders te doen. Die hou
het geen
effek op die oorledene gehad nie en nr 1 is die vertrek uit.
Nr 2 se
weergawe kan ietwat korter gestel word. Hy het ook in dramatiese terme die
opruiende skare tydens die aanvanklike poging om
Ace te "arresteer", beskryf.
Wat die gebeure in die stasie betref, het hyself vir Ace met die knie op die
bors geslaan en teruggedryf
omdat Ace gepoog het om te ontsnap. Nr 3 het vir Ace
geslaan, met die knie getref en geklap. Volgens hom het nr 1 die oorledene
geskop
terwyl hy op die grond gelê het, hom met 'n plank twee
22
of drie keer oor die kop geslaan en gepoog om op die oorledene se kop te
spring. In sy verklaring aan Claassen het hy gesê dat
toe hy die vertrek
binnegekom het, was die oorledene en nrs 1 en 3 besig om te stoei en te baklei.
Nkampini het nie deelgeneem nie.
Die oorledene het probeer om by die deur uit te
hardloop en hy het hom aan sy skouers gegryp, afgetrek en met sy regterknie op
sy
bors geslaan. Hy kon nie met sekerheid sê hoe en deur wie Ace daarna
verder aangerand was nie.
In sy verklaring aan Claassen het nr 3 gesê dat toe hy die kantoor
binnekom, Ace baie oproerig was en hy het probeer ontsnap.
Hy het gesien dat nr
1 moeg en uitgeput was en oorrompel kon word. Hy het tussenbeide getree en
geweld gebruik deur Ace te klap,
met die vuis te slaan en ook te skop. Dit was
alles nodig om 'n histeriese persoon onder bedwang te bring. In sy getuienis
tydens
die verhoor het hy sy aandeel
23
bevestig maar bygevoeg dat nr 1 meerdere plankhoue toegedien het en dat as
gevolg daarvan die oorledene se lyf geruk het. Hy het ook
nr 2 se getuienis
bevestig dat nr 1 op 'n stoel geklim het om op die oorledene se kop te spring en
dat hy gekeer is. Terwyl die oorledene
op die grond gelê het, het nr 2 op
'n stadium teruggegaan en hom herhaaldelik teen die kop geskop en op sy oor
getrap.
Dit is van belang om reeds op hierdie stadium daarop te wys dat nr 3 ongeveer
'n uur later 'n vals inskrywing oor die gebeure gemaak
het en dat later die aand
die appellante hulle dilemma bespreek en ooreengekom het om getuienis te
verberg, valse weergawes te verskaf
en so vaag as moontlik te wees. Hulle
oogmerk was om hulleself te beskerm en om die ondersoek te bemoeilik en te
belemmer. In hulle
verklarings aan Claassen wat gedurende die middag van 20
Maart afgeneem is, het hulle hulle voorneme gestand gedoen. Kort voor
24
die verhoor het daar egter 'n botsing ontstaan en het elkeen besluit om slegs
vir sy eie voordeel voort te kolf en het hulle begin
om mekaar ten dele oor en
weer te beskuldig. Maar afgesien daarvan het die verhoorhof, myns insiens tereg,
geoordeel dat al drie
swak getuies was en is hulle getuienis, vir sover dit
verontskuldigend was, in die algemeen verwerp. Die enkele onskuldigbevindings
waarna vantevore verwys is, het gevolg omdat die verhoorhof in daardie gevalle
nie op die getuienis van enkelgetuies wou staat maak
nie en nie omdat enigeen
van die appellante geglo is nie. Tydens betoog het die advokate heel korrek nie
gepoog om in enige wesenlike
opsig hierdie geloofwaardigheids-bevindings aan te
val nie, Inderdaad het die verhoorhof die staatsaak te versigtig benader en ten
onregte afleidings ten gunste van die appellante gemaak.
Ten spyte daarvan dat die verhoorhof
25
Nkampini se getuienis aanvaar het, is die bevindings oor die gebeure tydens
die aanranding in die aanklagkantoor nie in ooreenstemming
met sy getuienis nie.
Daar is wel bevind dat nr 1 vir Ace aangerand het. Veral in die lig van 'n
erkenning van nr 1 dat hy met 'n
plank geslaan het, is die hoofbeserings wat die
dood veroorsaak het aan nr 1 toegedig. Vandaar die skuldigbevinding. Dit is
bevind
dat hy opset by moontlikheidsbewussyn gehad het omdat hy, as 'n groot
fris man, die moontlikheid voorsien het dat die hou (of houe)
die oorledene se
dood kon veroorsaak het. Wat nr 2 betref, was die benadering van die verhoorhof
dat Nkampini 'n enkelgetuie was
en dat, hoewel nr 2 getuig het dat hy geweld op
die oorledene toegepas het, dit nie bo redelike twyfel bewys is dat hy nie bloot
die oorledene se ontvlugting wou keer nie. Hoewel dit nie uitdruklik so gestel
is nie, skyn dit asof dieselfde benadering ten aansien
van nr 3 se getuienis
gevolg is.
26
Die hof het dus geen strafregtelike verantwoordelikheid oor die gebeure
tot op daardie stadium aan nrs 2 en 3 toegedig nie. Ek is
tevrede dat hierdie
veronderstellings in nrs 2 en 3 se guns aan die hand van die geloofwaardige
getuienis van Nkampini, die appellante
se ongeloofwaardige getuienis en die
objektiewe feite nie geregverdig kan word nie. As in ag geneem word dat die
oorledene reeds
by die aanvanklike sogenaamde arres weggehardloop het en
verduidelik het dat hy nog nooit moeilikheid met die polisie gehad het nie,
dat
hy weer weggehardloop het en teenoor Nkampini sy vrees uitgespreek het dat hy
aangerand sou word en dat hy ongeboei en vrywillig
saam na die polisiestasie
teruggekeer het, kan slegs aanvaar word dat hy nie aggressief wou, sou of kon
wees behalwe waar dit om
sy eie selfbeskerming gegaan het nie. Die oormag was
eenvoudig te oorweldigend. Hy was nie onder arres nie en hy het geen misdryf
gepleeg nie.
27
Daar was geen poging om hom te boei nie. Daar was geen polisieselle by
hierdie polisiestasie en kon hy nie aldaar opgesluit word nie.
As hy dus wou
weghardloop, het hy goeie rede gehad. Die omvang van sy beserings is ook nie
versoenbaar met die gedagte dat slegs
een van die drie teenwoordiges daardie
beserings toegedien het nie. Dit volg dat ek van oordeel is dat die drie
appellante met 'n
gesamentlike opset vir Ace aangerand het en dat nrs 2 en 3 se
beweerde geloof dat hulle hom wou verhinder om uit 'n regmatige arres
te
ontsnap, nie waar kan wees nie.
Dit het in die loop van 'n verhoor waarvan die getuienis 27 dae en die
argument 5 dae geduur het, deel van nr 1 se saak geword dat
hy die aanranding op
die oorledene in 'n staat van sogenaamde gesonde outomatisme gepleeg het. Die
regsbasis van hierdie verweer
is in
S v Wiid
1990(1) SASV 561(A)
behandel. Die feitebasis is 'n weergawe van die gebeure wat die
7
appellant aan 'n psigiater, dr Shevel, verskaf het nadat hy getuienis in hoof
en onder kruisondervraging namens nr 2 gelewer het.
Hoewel daar 'n plig op 'n
beskuldige rus om hierdie verweer te opper, is die verweer nie tydens die
pleitverrigtinge genoem nie.
So ook nie tydens die staatsaak nie. Gedurende sy
getuienis in hoof wat sestig bladsye beslaan, het nr 1 'n volledige relaas van
die gebeure gegee, hoewel hy gesê het dat hy die daadwerklike aanranding
nie in detail kon beskryf nie omdat hy kwaad was.
Toe hy egter namens nr 2 onder
kruisverhoor geneem is, het sy getuienis al hoe vaer en vaer geword, nie net oor
die daadwerklike
aanranding nie maar ook oor die gebeure voor en na die tyd.
Alles wat aan hom gestel is, het hy as moontlikhede aanvaar. Daarna het
die hof
verdaag en het die appellant sy onderhoud met Shevel gevoer. Aan die hand
hiervan het Shevel die mening uitgespreek dat vanaf
die stadium toe nr 3 vir nr
1 per ongeluk op
29
die seer arm geslaan het tot na die aanranding het nr 1 aan "an altered level
of awareness" gely "and was behaving in an automatic
and reflex-type
manner".
Shevel het nie van enige objektiewe feite gebruik gemaak om sy
bevinding te staaf nie. Hy het ook nie ag geslaan op al die beskikbare
feite nie
en in besonder het hy nie die appellant se oorspronklike verklaring of sy
getuienis in hoof in aanmerking geneem nie. So
byvoorbeeld kon die appellant hom
slegs vertel van 'n vae geheue van 'n aanranding met 'n plank as die enigste
aanrandingshandeling
terwyl in sy getuienis die appellant heelwat besonderhede
oor die wyse van die aanranding met die plank kon gee en ook, soos hierbo
blyk,
ander gebeure kon beskryf. Relevante feite is aan die psigiater verswyg of is
verdraai. Ek sal afsluit deur na 'n enkele aspek
te verwys. Die hoeksteen van
Shevel se opinie was 'n bewering dat nr 1 se werk van so 'n aard was dat hy
onder voortdurende
30
gevaar verkeer het en dus aan 'n besonder hoë spanningsvlak onderworpe
was. Nie alleen het nr 1 nie gelykluidende getuienis voor
die hof afgelê
nie maar het, inteendeel, aangedui dat hy geen senuwee- of emosionele probleme
gehad het nie. Daarbenewens het
die hof die getuienis van luitenant-kolonel Marx
aanvaar dat die area waar nr 1 gestationeer was, sonder onrusvoorvalle was.
Aangesien
die deskundige mening nie op enige bewese feite gebaseer is nie, is
dit waardeloos en is hierdie verweer tereg deur die verhoorhof
verwerp.
Dit is verder namens nr 1 betoog dat die staat nie bo redelike twyfel bewys
het dat hy opset om te dood gehad het nie. Die bevinding
van die verhoorhof dat
opset by moontlikheidsbewussyn teenwoordig was, was volgens die submissie,
verkeerd. Ter stawing van die betoog
is daarna verwys dat die appellant woedend
was omdat hy 'n pynlike bytwond
31
opgedoen het wat deur die oorledene toegedien is en dat hy derhalwe sy
selfbeheersing verloor het en dat hy dus nie oorweging aan
die moontlike gevolge
van sy dade kon gegee het nie. Die probleem met hierdie betoog is dat dit afhang
van die geloofwaardigheid
van nr 1 se getuienis. Dat hy deur die oorledene aan
die linker bo-arm gebyt is, is so. Volgens hom het daardie wond gebloei en het
dit sy arm verlam en het hy erge pyn vir ure daarna verduur. 'n Foto van die
vars wond toon bo redelike twyfel dat hy nie die waarheid
gepraat het nie. Dit
word ook deur die mediese getuienis gestaaf. Die vel is nooit geskeur nie en
díe wond het nie gebloei
nie. Die aard van die wond was sodanig dat dit
geen fisiologiese gevolge kon gehad het nie. Dat nr 1 woedend was, staan ook vas
maar
die teenwoordigheid van woede is gewoonweg aanduidend van die
teenwoordigheid van 'n verskerpte opset. As in ag geneem word dat die
oorledene
herhaaldelik met 'n plank teen die kop geslaan
32
is totdat hy bewusteloos was en dat nr 1 selfs probeer
het om op sy kop te
spring, en indien op die aard van
die geweld gelet word wat uit die mediese
getuienis
geblyk het, is die onafwendbare gevolgtrekking dat nr 1
die
nodige opset ten aansien van die doodsveroorsaking
gehad het. Soos reeds
gesê, is geen
strafregtelike aanspreeklikheid aan nrs 2 en 3 geheg vir die gebeure in die
aanklagkantoor nie. Wat wel relevant is, is dat hulle,
in die lig van hulle eie
weergawe van die gebeure, terdeë onder die indruk was van die erns van die
aanranding op die oorledene.
Die oorledene was na die aanranding bewusteloos.
Daar was bloed aan sy mond. Volgens Nkampini het hy 'n opdrag van nr 1 ontvang
om
nrs 2 en 3 behulpsaam te wees om die bewustelose Ace in die vangwa te laai.
Hulle het hom na die vangwa gesleep en agterin gegooi.
Daarna het nrs 2 en 3 met
hom vertrek. Nr 1 kon nie ontken dat hy aan Nkampini die betrokke opdrag gegee
het nie. Nrs 2 en 3
33
het egter getuig dat hulle uit eie beweging besluit het om die oorledene te
verwyder omdat hulle bang was dat nr 1 hom weer te lyf
sou gaan en ten einde nr
1 te beskerm. Nr 2 het beweer dat Ace nog op daardie stadium by sy positiewe
was. Hierdie getuienis is deur
die verhoorhof verwerp en dit is namens nrs 2 en
3 tereg toegegee dat daardie bevinding korrek was. Hoe dit ook al sy, met nr 3
as
bestuurder en nr 2 as passassier is hulle met die vangwa na 'n eensame baai
bekend as Ballotsbaai. Dit is ongeveer sewe kilometer
vanaf Sandkraal. Daar het
hulle die oorledene langs die see afgelaai en na die polisiestasie teruggekeer.
Toe die nagskof om 21h00
aan diens gekom het, het appellante sekere feite aan
hulle kollegas oorgedra en as gevolg daarvan is die bevelvoerende offisier in
kennis gestel en 'n soektog op tou gesit. Ace is in 'n bewustelose toestand op
ronde spoelklippe meters vanaf die see met 'n kaal
bolyf en 'n nat broek
aangetref. Sy liggaam
34
was stokstyf. Hy is onmiddellik na George se hospitaal vervoer en om 2hl5 op
20 Maart deur die diensdoende geneesheer in die ongevalle-afdeling
gesien. Hy
was op daardie stadium komateus en spasties. 'n Neurochirurg is ontbied en 'n
noodoperasie is uitgevoer. 'n Akute subdurale
haematoma met 'n brein onder
geweldige druk is gediagnoseer. Verdere behandeling en resussitasie sou futiel
wees en is gestaak en
Ace is om 8h45 daardie oggend oorlede.
Die verhoorhof het nrs 2 en 3 se skuldigbevinding aan 'n poging tot moord aan
hierdie feite gekoppel en soos volg gemotiveer. Hulle
het besef dat Ace ernstig
aangerand is en ernstige beserings gehad het. Hulle het besef dat hy bewusteloos
was toe hulle hom in die
voertuig gelaai het. Hy is by Ballotsbaai afgelaai en
aan die noodlot oorgelaat. Hulle het op daardie stadium besef dat sy toestand
so
ernstig is dat daar 'n redelike moontlikheid bestaan dat
35
hy kon sterf. Ten spyte daarvan het hulle hom op 'n koel aand met 'n nat
broek en op 'n eensame plek sonder bystand gelaat maar dit
is nie bewys dat Ace
nie in ieder geval sou gesterf het nie. Nogtans is bevind dat nie bewys is dat
die drie appellant saamgespan
het om vir Ace op 'n afgeleë plek af te laai
nie.
Ek is tevrede dat die verhoorhof in hierdie laaste opsig gefouteer het.
Nkampini se getuienis dat nr 1 hom die opdrag gegee het om
die oorledene in die
vangwa te laai, is nie deur nr 1 betwis nie. Nr 1 se getuienis dat hy op daardie
stadium in so 'n waas was dat
hy nie wis wat om hom aangegaan het nie, is reeds
verwerp. Dat nrs 2 en 3 gehelp het om Ace in die voertuig te laai, word deur
hulle
erken. Dit het hulle gedoen, sê hulle, om nr 1 te beskerm. In die
lig van die bevinding hierbo dat nrs 2 en 3 'n aandeel in
die aanranding gehad
het, volg dit dat die besluit geneem is om hulle aldrie te beskerm. Toe die
besluit geneem is
36
om Ace weg te ry, het hulle geweet dat daar 'n ambulans op pad na die
polisiestasie toe is aangesien hulle vroeër die aand reeds
een bestel het
om die klaagster wat met die gebreekte bottelnek gesteek is, te haal. Toevallig
het hierdie ambulans kort nadat die
vangwa vertrek het, gearriveer. Daar is
slegs een manier waarop die appellante hulleself kon beskerm deur Ace weg te ry
en dit was
deur hom op 'n plek te plaas waar hy waarskynlik sou sterf. Nrs 2 en
3 het getuig dat hulle vir Ace na die verlate strand geneem
het om hom te straf
sodat hy oor sy wandade kon dink terwyl hy terugstap na Sandkraal en dat hulle
hom nie daar sou afgelaai het
as sy toestand nie sou verbeter het nie. Hierdie
getuienis is inherent ongeloofwaardig. Maar in ieder geval, indien dit hulle
opset
was om Ace te verwyder met die oog daarop om nr 1 of hulleself te beskerm,
of aldrie, lei dit alles tot die enkele gevolgtrekking
dat hulle gehoop het dat
Ace dit nie sou
37
oorleef om op 'n latere dag met die sak patats vorendag te kom nie. Daarom is
hy op 'n verlate strand naby die hoogwater merk op 'n
Saterdagnag in 'n
bewustelose toestand geplaas. Dit volg dat ek van oordeel is dat nrs 2 en 3 wel
die nodige opset gehad het en dat
hulle hulself moontlik gelukkig kan ag dat
hulle nie ook aan moord skuldig bevind is nie.
Dit is namens nr 1 betoog dat nrs 2 en 3 se tussenkoms deur Ace op die strand
te plaas, 'n
novus actus interveniens
daargestel het. Aangesien dit egter
reeds bevind is dat nr 1 'n party tot die wegdoen van die bewustelose Ace was,
verval hierdie
betoog natuurlik. Dit volg dat die skuldigbevindings aan aanklag
1 in orde was.
Wat nr 1 se vonnis op hierdie aanklag betref, is dit namens hom aanvaar dat,
tensy daar 'n inmenging met die skuldigbevinding sou
wees, die vonnis in orde
is. Aangesien so iets nie gebeur het nie, het
38
daardie deel van die appèl verval.
Namens nrs 2 en 3 is betoog dat die
verhoorregter by
vonnisoplegging sekere wanvoorligtings
begaan het. Die eerste is dat hy as
strafverswarende
faktor in ag geneem het dat nrs 2 en 3 "twee
betreklike
senior polisiemanne" was. Indien die betrokke sin in
isolasie
gelees word, het dit op 'n wanvoorligting
neergekom aangesien nr 2 ten tye
van die pleeg van die
misdryf slegs een en twintig jaar oud was en twee
jaar
diens in die mag gehad het terwyl nr 3 byna drie en
twintig jaar oud
was met vier jaar diens. Indien
in die uitspraak egter in geheel gelees word,
is dit
duidelik dat Fagan R besig was om 'n vergelyking te tref
tussen die
ervaring van nr 1 teenoor dié van nrs 2 en 3
aangesien nr 1 op daardie
stadium maar negentien jaar
oud was en net ses maande aktiewe polisiediens
agter die
rug gehad het. Dat dit so is, blyk daaruit dat Fagan R
op die
stadium toe hy die versagtende faktore behandel
39
het, toelating gemaak het vir die "betreklike jeugdigheid" van nrs 2 en 3 en
die feit dat hulle maar "min ondervinding as polisie
gehad het". Dit volg dus
dat Fagan R homself nie wanvoorgelig het soos betoog is nie.
Dit is verder betoog dat die verhoorregter homself wanvoorgelig het toe hy in
die konteks van vonnis bevind het dat nrs 2 en 3 die
oorledene se kans vir
oorlewing verminder het terwyl in die uitspraak van die verhoorhof op die
meriete dit bevind is dat die staat
nie bewys het dat die neem na Ballotsbaai
noodwendig tot die oorledene se dood bygedra het of sy dood verhaas het nie. Vir
doeleindes
van die argument sal ek aanvaar dat daar 'n teenstrydigheid was maar
feit is dat al die getuies dit eens was dat nrs 2 en 3 deur
hulle optrede die
oorledene se opname in 'n hospitaal vertraag het en sodoende, sy kanse op
oorlewing verminder het. Met ander woorde,
al is daar 'n
40
teenstrydigheid tussen die uitspraak op die meriete en die motivering vir
vonnis, beteken dit slegs dat daar in die eerste uitspraak
ten gunste van nrs 2
en 3 gefouteer is en dat daar 'n oorweldigende feitebasis vir die bevinding in
die konteks van vonnis bestaan
het. Dit mag wees dat die verhoorhof nrs 2 en 3
aan 'n erger misdryf as poging tot moord moes skuldig bevind het, maar daardie
vraag
dien nie tans ter oorweging nie. Dit is ook namens nr 3 betoog dat daar
nie voldoende aandag aan die feit dat nr 3 die eerlikste
van die drie appellante
was, gegee is nie. Wat naamlik gebeur het, is dat nr 3 op 'n vroeër stadium
sy betrokkenheid minder
verbloem het maar, soos die verhoorhof tereg bevind het,
was hy tot die einde ongeloofwaardig in wesenlike opsigte. Nr 3 kan nie
spesiale
behandeling verwag indien hy net 'n "bietjie eerlik" en nie heeltemal eerlik en
ten volle berouvol is nie. Dit volg dat
daar geen wanvoorligtings oor die
kwessie van vonnis was
41
nie. Dit kan ook nie met oortuiging betoog word dat die vonnisse
skokkend onvanpas was nie. Die vonnisse is opgelê na 'n ewewigtige
oorweging van alle relevante faktore. Van die vonnisse mag aan die swaar kant
wees maar dit is nie die relevante toets nie.
Die appêlle is vanweë die redes hierbo uiteengesit by die verhoor
van die appél van die hand gewys.
L T C HARMS WAARNEMENDE APPéLREGTER
VAN HEERDEN, AR
} STEM SAAM VIVIER, AR