About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1992
>>
[1992] ZASCA 125
|
|
S v Nkosi, S v Khumalo (596/91, 637/91) [1992] ZASCA 125 (1 September 1992)
/MC
1
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(APPèAFDELING)
Saak Nr 596/91 Tussen:
VUSI NKOSI
Appellant
- en -
DIE
STAAT
Respondent
Saak Nr 637/91 Tussen:
FEHLEKANPLA KHUMALO
Appellant
- en -
DIE
STAAT
Respondent
CORAM:
HEFER, VIVIER ARR et HOWIE Wn AR
VERHOOR:
17 Augustus 1992
GELEWER:
1 September 1992
UITSPRAAK
2
VIVIER AR:
Vusi Nkosi, die appellant in saak no 596/91,
en Fehlekandla Khumalo, die appellant in saak no
637/91, na wie ek as
beskuldigdes 1 en 2 onderskeidelik
sal verwys, is in dieselfde verhoor in die Rondgaande
Plaaslike Afdeling
op Springs skuldig bevind aan roof
met verswarende omstandighede (aanklag 1)
en moord
(aanklag 2). Twee ander persone, na wie ek as
beskuldigdes 3 en 4
onderskeidelik sal verwys, is op
beide aanklagte onskuldig bevind. Op die
eerste
aanklag is beskuldigde 1 tot twaalf jaar en beskuldigde
2 tot
vyftien jaar gevangenisstraf gevonnis. Ten
opsigte van die aanklag van moord
het die Verhoorhof
bevind dat daar geen versagtende omstandighede is
nie
en ingevolge die destyds geldende reg is beskuldigdes 1
en 2 elkeen
die doodvonnis opgelê. Met verlof van
hierdie Hof appelleer beskuldigde
1 teen sy
skuldigbevinding en vonnis op beide aanklagte.
3
Beskuldigde 2 se aansoeke na die Verhoorregter en na hierdie Hof vir verlof
om te appelleer is beide afgewys. Sedertdien het die Strafregwysigingswet
107
van 1990 ("die nuwe Wet") in werking getree sodat die geval van beskuldigde 2
ingevolge art 19(8) van die nuwe Wet deur die Paneel
heroorweeg moes word. Die
Paneel het bevind dat die doodvonnis na sy oordeel waarskynlik opgelê sou
gewees het indien art 277
van Wet 51 van 1977, ("die Wet") soos deur art 4 van
die nuwe Wet vervang, ten tyde van die vonnisoplegging in werking was. Gevolglik
dien beskuldigde 2 se saak ingevolge art 19(12) van die nuwe Wet voor hierdie
Hof wat die saak op dieselfde wyse moet oorweeg asof
dit h appèl deur
beskuldigde 2 teen sy vonnis is en art 277 van die Wet, soos vervang deur art 4
van die nuwe Wet, in werking
was ten tyde van vonnisoplegging deur die
Verhoorhof. Die appèlle van beskuldigdes 1 en 2 is saam verhoor.
4
Die tersaaklike feite wat nie langer in geskil is nie, is kortliks die
volgende. Om ongeveer halftien die aand van 24 Februarie 1989
het die oorledene,
'n taxi-eienaar, in sy kombi gesit op die hoek van Xaba- en Mamkelistrate,
Wattville. Sy vriendin, Naomi Mabasa,
was saam met hom. Die oorledene het agter
die stuurwiel gesit en Mabasa links voor langs hom. 'n Groep persone het die
kombi van
agter genader, een van hulle het die bestuurder se deur oopgeruk en
die oorledene beveel om uit te klim. Die oorledene het uitgeklim
en is tromp-op
en reg van voor in die bors met 'n vuurwapen geskiet. Hy het kort daarna op die
toneel gesterf. Mabasa is ook aangesê
om uit die voertuig te klim. Sy het
uitgeklim en weggehardloop. Die aanvallers het in die oorledene se kombi
weggery. Die kombi is
kort daarna, aan die begin van Maart 1989, deur
beskuldigde 2 en ene Majola
5
aan 'n taxi-eienaar in Umtata, Petrus Vilakazi, gegee wat dit as 'n huurmotor
gebruik het ingevolge 'n reëling met eersgenoemde
twee, totdat die polisie
op 7 April 1989 daarop beslag gelê het. Volgens die reëling het
beskuldigde 2 en Majola voertuie
aan Vilakazi verskaf wat dit van vals
dokumentasie en registrasienommers voorsien en as taxi's teen vergoeding aan
beskuldigde 2
en Majola gebruik het. Die betrokke kombi was die derde voertuig
wat Vilakazi van die ander twee ontvang het. Vilakazi het by die
verhoor getuig
dat hy by vyf verskillende geleenthede betalings aan beskuldigde 2 gemaak het.
By 'n ander geleentheid het beskuldigde
1 en Majola na hom in Umtata gekom om
betaling te ontvang van geld wat hy ingevolge gemelde reëling verskuldig
was en hy het
toe R2 500 aan hulle gegee. Vilakazi het getuig dat hy die "Pat"
is van wie beskuldigde 1 praat in 'n verklaring aan 'n landdros,
waarna ek
later
6
sal verwys.
Beskuldigde 2 is op 30 Maart 1989 gearresteer. Die volgende
dag het hy die polisie na beskuldigde 3 geneem wat ook gearresteer is.
Dieselfde
dag het die polisie twee luidsprekers wat uit die oorledene se kombi verwyder
is, in beskuldigde 3 se woonstel gevind.
As gevolg van inligting deur
beskuldigde 3 verskaf, is beskuldigde 1 op 29 April 1989 by sy huis in Soweto
gearresteer. Op 30 April
1989 het beskuldigde 1 drie punte in Xabastraat,
Wattville aan luitenant Oosthuizen uigewys: eerstens waar hy sê die
oorledene
se voertuig gestaan het; tweedens waar hy sê die oorledene langs
sy voertuig geval het en derdens waar hy sê hy self
links agter die
voertuig op die sypaadjie gestaan het. Die punte is ongeveer 600 meter ten suide
van die plek waar die oorledene
volgens twee ooggetuies, Mabasa en Van Wyk,
7
doodgeskiet en van sy voertuig beroof is.
Op 2 Mei 1989 het beskuldigde 1
'n verklaring voor 'n landdros gemaak waarin hy erken dat hy en vier ander,
naamlik beskuldigdes 2
en 3, Majola en ene Khobesi een aand in Februarie 1989 na
Wattville gegaan het met die doel om 'n voertuig daar te steel. In Wattville
het
hulle 'n voertuig met twee insittendes langs 'n pad sien staan. Al vyf van hulle
het na die voertuig gegaan: beskuldigde 2 en
Khobesi het na die regterkant
gegaan en hyself en die ander twee na die linkerkant. Beskuldigde 2 en Khobesi
het die bestuurder se
deur oopgemaak en laasgenoemde het uitgeklim. 'n Skoot uit
'n vuurwapen het geklap en die bestuurder het geval. Die tweede insittende
van
die voertuig het uitgeklim en weggehardloop. Beskuldigde 1 en sy maats het in
die voertuig geklim en weggery. Toe hulle die voertuig
genader het, was hyself
met 'n
8
sambok gewapen en beskuldigde 3 met 'n knopkierie. Hy kan nie meer onthou wat
Majola by hom gehad het nie. Beskuldigde 1 het voorts
in sy verklaring aan die
landdros gesê dat beskuldigde 3 daarna die voertuig se luidsprekers
uitgehaal het en Khobesi die radio.
Beskuldigde 2 en Majola het die gesteelde
voertuig in die Transkei gaan verkwansel. Na 'n ruk is hyself en Majola na die
Transkei
waar hulle R1 000 as 'n gedeeltelike betaling vir die voertuig van ene
Pat ontvang het. Pat het later nog geld vir die voertuig aan
hom en Majola
gegee. Die geld is onder die vyf van hulle verdeel.
Beskuldigde 2 het op 1 April 1989 die polisie na die toneel van die misdaad
op die hoek van Mamkeli-en Xabastrate in Wattville geneem
waar hy, volgens
kaptein Roux, aan hom gesê het dat dit die plek is waar hy die bestuurder
van 'n wit kombi-taxi met 'n vuurwapen
9
in die bors geskiet het.
Beskuldigde 1 het nie by die verhoor voor sy
skuldigbevinding getuig nie. Beskuldigde 2 se getuienis was dat hy reeds in
November
1988 die betrokke voertuig van ene Oupa Ximba vir sewe sakke dagga
gekoop het en dat dit onder sy beheer gebly het totdat hy dit
in die begin van
Maart 1989 aan Petrus Vilakazi in Umtata oorhandig het soos deur laasgenoemde
getuig. Beskuldigde 2 het voorts ontken
dat hy teenwoordig was toe die misdade
gepleeg is of dat hy die bekentenis aan Roux gemaak het waaroor laasgenoemde
getuig het. Die
Verhoorhof het beskuldigde 2 se getuienis in toto verwerp en
bevind dat hy een van die rowers was, dat hy die persoon is wat die
noodlottige
skoot gevuur het en dat hy dit met die direkte opset om te dood gedoen het. Die
Verhoorhof het verder bevind dat hy vantevore
betrokke was in 'n aantal
transaksies
10
ingevolge waarvan kombi's aan Petrus Vilakazi gelewer is.
Die ooggetuies
Mabasa en Van Wyk kon geeneen van die aanvallers uitken nie. Die
skuldigbevinding van beskuldigde 1 berus gevolglik,
wat beide aanklagte betref,
hoofsaaklik op sy verklaring aan die landdros. Namens beskuldigde 1 is voor ons
betoog dat daar 'n redelike
moontlikheid bestaan dat hy in sy verklaring van 'n
ander voorval praat as dié waaroor die huidige saak gaan, sodat nie
gesê
kan word dat daar voldoen is aan enige van die twee vereistes van art
209 van die Wet nie. Daar is sekerlik verskille tussen die
voorval wat
beskuldigde 1 in sy verklaring beskryf en dié wat die twee ooggetuies
Mabasa en Nel beskryf. So plaas beskuldigde
1 die toneel van die misdaad
ongeveer 600 meter vanaf die plek waar die misdaad volgens die twee ooggetuies
plaasgevind het. Verder
het daar
11
volgens beskuldigde 1 vyf persone deelgeneem aan die roof, terwyl daar
volgens Mabasa 3 rowers en volgens Van Wyk 4 rowers was. Mabasa
het slegs 'n
vuurwapen gesien en Van Wyk 'n 80 cm lange ysterstaaf terwyl daar, volgens
beskuldigde 1, 'n sambok en 'n knopkierie,
afgesien van enige vuurwapen, op die
toneel was. Daar is verder verskille tussen die weergawes onderling van Mabasa
en Van Wyk, waarvan
die belangrikste is dat volgens Mabasa sy by die bestuurder
se deur uitgeklim het terwyl sy, volgens Van Wyk, by die passasiersdeur
uitgeruk
en in die gesig geklap is. Die Verhoorhof het Mabasa as 'n meer betroubare
getuie as Van Wyk beskryf en het haar getuienis
aanvaar waar dit met Van Wyk se
getuienis verskil.
Soos die Verhoorhof, beskou ek nie enige van die bogemelde verskille as van
voldoende belang om die gevolgtrekking te vermy dat beskuldigde
1 en die
twee
12
ooggetuies na een en dieselfde voorval verwys nie. Beskuldigde 1 se
verklaring en die ooggetuienis handel beide met die rooftog van
'n voertuig en
die moord op die bestuurder daarvan in dieselfde omgewing in Wattville in
Februarie 1989. Volgens beide het daar twee
persone in die voertuig gesit en het
twee van die rowers na die bestuurder se kant gegaan en is die bestuurder
doodgeskiet nadat
hy uitgeklim het. Volgens beide het die passasier uitgeklim en
gevlug en het al die aanvallers in die voertuig weggery. Daar is 'n
aantal ander
aspekte wat onteenseglik aantoon dat beskuldigde 1 in sy verklaring na die roof
van die oorledene se voertuig verwys.
Soos ek reeds daarop gewys het, het
beskuldigde 1 in sy verklaring gesê dat beskuldigde 3 die gesteelde
voertuig se luidsprekers
en Khobesi die radio uitgehaal het. Volgens die
onbetwiste getuienis het die luidsprekers wat die
13
polisie op 31 Maart 1989 by beskuldigde 3 gevind het, uit die oorledene se
voertuig gekom. Soos ook reeds aangetoon, het beskuldigde
1 in sy verklaring
gesê dat die voertuig wat hulle gesteel het, deur beskuldigde 2 en Majola
in Transkei aan ene Pat verkwansel
is wat hom daarvoor betaal het. Pat is
niemand anders as Petrus Vilakazi nie, en dit was die oorledene se voertuig wat
beskuldigde
2 en Majola na hom gebring het en waarvoor hy later o a vir
beskuldigde 1 betaal het. Daar is gevolglik geen redelike moontlikheid
dat
beskuldigde 1 in sy verklaring van h ander voorval praat as die waaroor die
huidige saak gaan nie.
Wat die roofaanklag betref, is namens beskuldigde 1 betoog dat hy nie 'n
gemeenskaplike opset met die ander gevorm het om te roof
nie. Sy optrede,
volgens sy eie erkenning in sy verklaring, bewys die teendeel. Hy was gewapen
met 'n sambok en hy het
14
gesien dat beskuldigde 3 met 'n knopkierie gewapen was toe hulle saam met die
ander drie na die oorledene se voertuig, waarin twee
persone gesit het, gegaan
het. Nadat die oorledene doodgeskiet is en die ander insittende gevlug het, het
hy saam met die ander in
die geroofde voertuig weggery en hy het gedeel in die
opbrengs daarvan. Sy optrede is slegs vir een afleiding vatbaar, naamlik dat
hy
die opset gehad het om te roof en h volle deelnemer aan die rooftog was. Sy
getuienis tot die teendeel toe hy na sy skuldigbevinding
oor die kwessie van
versagting getuig het, is tereg deur die Verhoorhof as leuenagtig verwerp. Hy is
tereg op die aanklag van roof
skuldig bevind.
Beskuldigde 1 se skuldigbevinding aan moord berus hoofsaaklik_op 'n enkele
sin in sy verklaring aan die landdros. Nadat hy van die
sambok en knopkierie
15
gepraat het, het hy die volgende gesê: "Khumalo (beskuldigde 2) het nie
sy vuurwapen gebruik nie". Daaruit het die Verhoorhof,
in die afwesigheid van 'n
verduideliking deur beskuldigde 1, afgelei dat hy van die begin af geweet het
dat beskuldigde 2 'n vuurwapen
by hom het. Soos die Verhoorhof egter self in sy
uitspraak daarop wys, is die betrokke sin vatbaar vir meer as een vertolking, en
ek meen nie dat beskuldigde
1 se versuim om te getuig, in die
omstandighede,
gebruik kan word om die afleiding te regverdig wat
die
Verhoorhof wel gemaak het nie. Die Verhoorhof sê
verder dat
beskuldigde 1 geweet het dat Khobesi ook 'n
vuurwapen by hom het en dat dit
Khobesi was wat die
noodlottige skoot gevuur het. Dit is daarom
dat
beskuldigde 1 in sy verklaring gesê het dat beskuldigde
2 nie sy vuurwapen. gebruik het nie. Beskuldigde 1 sê
egter
nêrens in sy verklaring dat Khobesi h vuurwapen
16
gehad het nie en die Verhoorhof het, soos ek reeds gesê het, bevind dat
beskuldigde 2 die noodlottige skoot gevuur het. Daar
is gevolglik onvoldoende
getuienis om te bewys dat beskuldigde 1 vooraf geweet het dat een van sy makkers
met 'n vuurwapen gewapen
was, en gevolglik kan dit nie gesê word dat
beskuldigde 1 voorsien het dat die oorledene gedood kon word in die rooftog nie.
Sy appèl teen die skuldigbevinding en vonnis op die aanklag van moord
moet gevolglik gehandhaaf word.
Wat betref beskuldigde 1 se appèl teen
die vonnis van twaalf jaar gevangenisstraf wat hom weens die roof opgelê
is, kom
die bevinding van die Verhoorhof dat beskuldigde 1 vooraf bewus was
daarvan dat beskuldigde 2 met 'n vuurwapen gewapen was, na my
mening op 'n
wanvoorligting neer. Die optrede van beskuldigde 1 en sy makkers om twee
niksvermoedende en
17
onskuldige mense met geweld te oorval en van hul voertuig te beroof, moet in
'n baie ernstige lig beskou word, en indien opnuut oor
'n gepaste vonnis besluit
word, sou ek nie 'n ligter vonnis as een van twaalf jaar gevangenisstraf
oplê nie. Beskuldigde 1
se appèl teen sy vonnis op die roofaanklag
kan gevolglik nie slaag nie.
Ek kom nou by beskuldigde 2 se appèl teen
die doodvonnis op die moordaanklag. Die beginsels wat van toepassing is en die
korrekte
benadering wat gevolg moet word by 'n appèl teen die doodvonnis
ingevolge die nuwe wetgewing, is al herhaaldelik in onlangse
beslissings van
hierdie Hof uiteengesit en hoef nie herhaal te word nie. Beskuldigde 2 se
persoonlike omstandighede is die volgende:
hy was 28 jaar oud en was in diens by
beskuldigde 3 as 'n taxi-bestuurder ten tyde van die pleging van die misdade. Hy
het geen
18
formele skoolopleiding gehad nie. Hy is nie wettig getroud nie maar hy het 'n
meisie by wie hy ses kinders het wat hy onderhou. Hy
het twee vorige
veroordelings: een vir aanranding in 1980 waarvoor hy 'n opgeskorte vonnis gekry
het en een vir motordiefstal in
1986 waarvoor hy vier jaar gevangenisstraf
opgelê is. Hy is na twee jaar op parool vrygelaat en die huidige misdade
is 'n jaar
later gepleeg.
Daar is, na my mening, geen
strafversagtende
faktore wat in die guns van
beskuldigde 2 in aanmerking geneem kan word nie. Hy het nie die Verhoorhof in sy
vertroue geneem en gesê
waarom hy die oorledene doodgeskiet het nie. Aan
die ander kant is die strafverswarende faktore duidelik. Beskuldigde 2 was die
betrokke
aand lid van 'n roofbende wat daarop uit was om 'n voertuig te roof.
Die misdaad was deeglik beplan en uitgevoer. Die lede van die
bende was
19
gewapen met o a 'n sambok, 'n knopkierie en beskuldigde 2 met 'n vuurwapen.
Die oorledene het dadelik uit die voertuig geklim en dit
duidelik gemaak dat hy
geen weerstand bied nie. Vanwee die oormag van die aanvallers was enige verdere
geweld ten einde hulle doel
te bereik totaal onnodig. Beskuldigde 2 het egter
die oorledene op 'n koelbloedige en gevoellose wyse, met die direkte opset om te
dood, reg van voor en op 'n kort afstand doodgeskiet. En hy het dit gedoen slegs
vir sy eie geldelike gewin.
Die uiteindelike vraag is dan of dit gesê
kan word dat, met inagneming van die bestaan, al dan nie, van strafversagtende
en
strafverswarende omstandighede, die doodvonnis die enigste gepaste vonnis vir
die moord is. By die oorweging van hierdie vraag moet
die hoofdoelstellings van
straftoemeting naamlik voorkoming, afskrikking, vergelding en hervorming
20
oorweeg word. Na my mening is 'n misdaad soos die huidige, waar 'n onskuldige
en niksvermoedende persoon deur 'n bende oorval en op
brutale, koelbloedige en
sinnelose wyse doodgeskiet word, iets wat vir die gemeenskap inherent verderflik
is. Beskuldigde 2 se optrede
openbaar 'n totale gehardheid en onverskilligheid
teenoor menslike lewe. Onder hierdie omstandighede moet die oogmerke van
afskrikking
en vergelding voorrang kry bo die ander doelstellings van
straftoemeting. Na my mening moet hierdie as 'n uiterste geval beskou word
waar
die doodvonnis die enigste gepaste vonnis is.
Gevolglik word die volgende bevel gemaak:
1. Die appèl van beskuldigde 1 teen sy skuldigbe=
vinding en vonnis op
aanklag 1 (die roofaanklag)
word afgewys.-
2. Die appèl
van beskuldigde 1 teen sy skuldigbe =
21
vinding en vonnis op aanklag 2 (die moordaanklag) slaag en die
skuldigbevinding en vonnis word tersyde gestel. 3. Die appèl
van
beskuldigde 2 teen die doodvonnis op aanklag 2 word afgewys en die doodvonnis
word bekragtig.
W VIVIER AR.
HEFER AR )
HOWIE Wn AR ) Stem saam.