S v Gtanso (512/91) [1992] ZASCA 88 (27 May 1992)

73 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Murder — Sentencing — Appellant convicted of murder and robbery — Death sentence imposed for murder — Appeal against sentence — Consideration of mitigating and aggravating factors — Appellant participated in a planned attack on elderly victims, resulting in death of one and robbery — Evidence of intent to kill assessed — Court found presence of dolus eventualis, but questioned direct intent — Death sentence deemed appropriate in light of the brutal nature of the crime and lack of mitigating circumstances.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1992
>>
[1992] ZASCA 88
|

|

S v Gtanso (512/91) [1992] ZASCA 88 (27 May 1992)

Saak no 512/91
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)
In die
saak tussen
N P GTANSO
Appellant
en
DIE STAAT
Respondent
CORAM
: E M GROSSKOPF, KUMLEBEN, ARR et HARMS, Wnd
AR
VERHOOR
: 19 Mei 1992
GELEWER
: 27 Mei 1992
UITSPRAAK
2
E M GROSSKOPF, AR
Die appellant is saam met twee ander beskuldigdes in die Oranje-Vrystaatse
Provinsiale Afdeling aangekla van moord en roof met verswarende
omstandighede.
Na 'n verhoor voor VAN COPPENHAGEN R en assessore is die appellant en die
destydse tweede beskuldigde skuldig bevind
aan albei aanklagte. Die derde
beskuldigde is vrygespreek. Die tweede beskuldigde, wat ten tyde van
vonnisoplegging sewentien jaar
oud was, is gevonnis tot langtermyn
gevangenisstraf. Wat die appellant betref het die hof bevind dat daar geen
versagtende omstandighede
was ten opsigte van die moord nie, en is hy ter dood
veroordeel. Op die roofklag is twaalf jaar gevangenisstraf opgelê.
Die appél dien nou voor ons kragtens art. 19 van die
Strafregwysigingswet, no. 107 van 1990. Ons moet dus oorweeg of, met
inagneming
van die strafversagtende en -verswarende faktore wat aanwesig is, die doodvonnis
op die moordklag die gepaste vonnis is
in die lig van die
3
wetswysigings teweeggebring deur die gemelde
Strafregwysigingswet. Die beginsels wat geld by appèlle van hierdie
aard is oorbekend en ek hoef hulle nie hier te herhaal
nie.
Die feite is kortliks soos volg. Die tagtigjarige mnr. G.P. Fritz en sy vrou
het op die plaas Bossieslaagte, Oranjeville, gewoon.
Op Saterdagmiddag 20
Augustus 1988 was die egpaar in die sitkamer van hul woning besig om televisie
te kyk. As gevolg van die honde
se geblaf het mnr. Fritz (na wie ek hierna as
die oorledene sal verwys) na buite gegaan waar hy die appellant en die tweede
beskuldigde
aangetref het. Hulle het voorgegee dat hulle werk soek. Die
oorledene het gesê dat hy nie werk vir hulle het nie, en hulle
na 'n
buurman, ene mnr. Davel, verwys. Hulle het vertrek, maar na 'n ruk teruggekeer,
en vir die oorledene vertel dat hulle verdwaal
het. Toe hy omdraai om hulle die
pad te wys het hulle hom agter sy kop met 'n voorwerp geslaan. Hy het op die
grond geval waarop
die twee aanvallers hom met 'n lyfband
4
verwurg het en 'n plastieksak om sy kop vasgebind het. Hy het weens asemnood
gesterf.
Die appellant het die huis binnegegaan en mev. Fritz aangeval. Hy
het haar na die slaapkamer gesleep en 'n beursie met geld daarin
gesteel. Die
tweede beskuldigde was ook van tyd tot tyd aanwesig. Daarna het hulle mev. Fritz
na 'n studeerkamer geneem wat 'n deel
van 'n buitegebou was. Daar het hulle haar
gedwing om die brandkluis oop te sluit. Hulle het egter niks daaruit geneem nie.
Sy het
bewusteloos geword. Die twee rowers het die plaas verlaat met 'n Isuzu
bakkie wat aan die oorledene behoort het. Mev. Fritz is later
deur 'n werknemer
gevind. Haar beserings was nie ernstig nie.
Die belangrikste getuienis teen die appellant en sy mede-beskuldigde was
bekentenisse wat deur hulle gemaak is. Albei van hulle het
getuienis
afgelê wat afgewyk het van hul bekentenisse en in 'n meerdere of mindere
mate verontskuldigend was. Die verhoorhof
het bevind dat hulle
5
nie betroubare getuies was nie, en hierdie bevinding is
tereg
nie voor ons aangeveg nie.
Om die appellant se aandeel in die moord en rooftog
te bepaal, is ons dus in 'n groot mate afhanklik van sy eie
verklaring:
die tweede beskuldigde se bekentenis is
natuurlik nie toelaatbaar teen die
appellant nie (sien art.
219 van die Strafproseswet, no. 51 van 1977) en die tweede
beskuldigde se
getuienis is oor die algemeen nie aanvaar nie.
Die appellant se bekentenis, insoverre dit ter sake tot die
moordklag is, lui soos volg (Serame was die tweede
beskuldigde en Funani die derde beskuldigde wat vrygespreek
is):
"Hierdie ding het ek en ene Funani bespreek. Dit was in die week gewees. Op die
twintigste van verlede maand, dit was 'n Saterdag
gewees, het ek en die ander
twee manne vertrek, ons het in die rigting van Oranjeville geloop na daardie
blanke toe.
Toe ons daar aangekom het, het die man,
Funani, by die pad gestaan om karre dop te hou. Hy sê toe vir ons 2, ons
moet ingaan,
ons 2 het toe ingegaan by daardie blanke se huis. Toe ons daar kom
het ek vir hierdie blanke gevra of hy nie werkshande wil hê
nie. Hy
sê toe vir my nee hy wil nie hê maar 'n
6
ander blanke wat belangstel is Hans Davel. Ek het geskrik en in plaas daarvan om
hom te slaan het ek en die ander man weggegaan van
hom af.
Toe ons by Funani kom het ek vir hom gesê man, ek is bang, toe sê
Funani, nee man daar is niks daaraan nie, slaan julle
die blanke man dat ons
daardie geld vat. Ons het weer eens Funani daar agter gelaat en teruggekeer na
die blanke se huis toe. Funani
het daardie ander man wat saam met my was, sy
naam is Serame, 'n vuurwapen gegee. Toe ons by die huis kom het die brakkies vir
ons
geblaf. Die witman het uitgekom en gevra wat is dit nou weer! Ons sê
toe vir hom die pad wat jy ons beduie het kan ons nie
kry nie, beduie ons beter
asseblief. Ons het toe aan die linkerkant van die huis omgeloop en hy het saam
met ons geloop om ons te
gaan wys. Hy het voor geloop, ek was agter hom gewees
en Serame was agter my gewees. Serame het vir my die vuurwapen gegee. Ek het
hom
met die vuurwapen agter die kop geslaan en hy het neergeval. Ek en Serame het
hom aangerand. Serame het aan een kant van hom
gestaan en ek aan die ander kant.
Serame het toe sy lyfband losgemaak en hom daarmee om sy nek vasgemaak en hom
gewurg totdat hy
gesterwe het.
Van daar af het ek
binne die huis ingehardloop om te gaan kyk waar die geld is."
Die verklaring gaan dan voort om die aanranding
op
mev. Fritz en die verdere verloop van sake te
beskryf.
Dit is teen die agtergrond van die feite wat hierbo
7
uiteengesit is wat die aan- of afwesigheid van strafverswarende of
-versagtende faktore bepaal moet word. Die eerste strafverswarende
faktor
lê voor die hand. Die appellant het die voortou geneem om saam met ander
te beplan om hierdie twee ou mense aan te val
en te beroof. Die appellant se
skoonouers het op die plaas van die oorledene gewoon en gewerk, en die appellant
het klaarblyklik
geweet dat hy en sy trawante geen wesentlike weerstand kon
verwag nie. Moord deur verwurging is 'n pynlike en betreklik uitgerekte
daad.
Hierdie soort misdade teen weerlose ou mense word altyd as ernstig beskou. Die
graad van die appellant se blaamwaardigheid
sal egter afhang ook van ander
aspekte van die vergryp, en veral, in die onderhawige saak, van die opsetsvorm
waarmee die appellant
aan die moord deelgeneem het en van sy presiese aandeel
daarin.
Dit is eerstens duidelik, meen ek, dat die appellant waarskynlik nie vooraf
beplan het om die oorledene te dood nie. Hierdie is nie
'n geval waar die
aanranders
8
maklik deur hul slagoffers uitgeken sou word nie. Die appellant se onbetwiste
getuienis was dat hy nie die twee ou mense vantevore
gesien het nie. Die
aanvallers was blykbaar ook ongewapen. Daar is wel verwysings in die getuienis
na 'n vuurwapen wat in die boosdoeners
se besit was, maar daar is ook
aanduidings dat dit net 'n speelding was. Hoe dit ook al sy, geen skoot is ooit
afgeskiet nie, en
daar is dus minstens 'n redelike twyfel of die vuurwapen
werksaam was. Geen ander wapen is gebruik nie. Die oorledene is verwurg
met sy
eie gordel en met 'n plastieksak. Dit is nie duidelik waar die plastieksak
vandaan gekom het nie. Daar was getuienis dat die
appellant vroeër 'n
plastieksak by hom gehad het waarin daar klere was. Moontlik was dit dieselfde
plastieksak wat by die verwurging
van die oorledene gebruik is, maar dit sou
vergesog wees om te vermoed dat die appellant die sak vir hierdie doel
saamgeneem het.
Elke aanduiding is dat die boosdoeners artikels gebruik het wat
toevallig op die toneel beskikbaar was. By die vasbind van mev. Fritz
het hulle
dan
9
ook 'n stuk telefoondraad, wat hulle afgeruk het, en die oorledene se trui
gebruik.
Die volgende vraag is dan watter afleidings gemaak kan word van die
aard van die aanranding op die oorledene. Die staatsgetuienis
hieromtrent is
soos volg. Die eerste persoon wat die oorledene gesien het ná die
moordenaars se vertrek, was die oorledene
se werknemer Paulus Dlamini. Hy het
die oorledene op die grond sien lê. Daar was 'n Checkers plastieksak oor
sy kop en 'n lyfband
om sy nek. Dlamini het die plastieksak van die oorledene se
gesig weggeskeur. Die oorledene was reeds dood.
By die nadoodse ondersoek het
dit geblyk dat die plastieksak om die nek vasgebind was met 'n baie stewige
skuifknoop. Prof. Olivier,
wat die lykskouing waargeneem het, het bevestig dat
die res van die sak, wat toe reeds geskeur was en relatief dun was, oor die
gesigdeel
van die liggaam kon gewees het. Bo-oor die plastieksak om die nek was
die oorledene se gordel. Albei hierdie ligature het
10
onderliggende beserings aan die nekstruktuur veroorsaak. Prof. Olivier se
opinie was dat die dood te wyte was aan 'n hart/long versaking
as gevolg van
primêre asemnood veroorsaak deur ligature om die nek en moontlike
versmoring met 'n plastieksak oor die kop.
Daar was geen getuienis oor wie
die plastieksak om die oorledene se nek gebind het nie, en die verhoorhof het
geen bevinding hieromtrent
gemaak nie. Wat die lyfband betref het die verhoorhof
bevind dat dit die tweede beskuldigde was wat die oorledene se lyfband afgehaal
het en dit om die oorledene se nek gesit het. Die hof het geen bevinding gemaak
oor wie dit was wat die oorledene daarmee gewurg
het nie. Waar ons nou aangewese
is op die appellant se bekentenis moet ons aanvaar dat dit die tweede
beskuldigde was, soos die appellant
in sy bekentenis sê. Daar bestaan dus
'n redelike moontlikheid dat dit die tweede beskuldigde was wat albei die
ligature om
die oorledene se nek geplaas het en hom verwurg het. Dat sodanige
optrede die appellant
11
se goedkeuring geniet het, spreek vanself, maar as hy nie self die ligature
styfgetrek het nie, sou hy nie noodwendig besef het hoeveel
geweld gebruik is
nie.
By 'n beoordeling van getuienis het die verhoorhof bevind "dat die
beskuldigdes minstens besef het dat deur die aanwending van die
lyfband om die
oorledene se nek sy dood veroorsaak kan word, maar dat hulle ongeag hierdie
besef voortgegaan het om hom te verwurg
totdat die dood ingetree het." Hierdie
was 'n bevinding dat daar minstens opset by moontlikheidsbewussyn (
dolus
eventualis
) aanwesig was, en in ander dele van sy uitspraak (en veral die
uitspraak oor versagtende omstandighede) het die hof bevestig dat
die
skuldigbevindinge berus op hierdie skuldvorm. Die verhoorhof het egter ook
verwys na getuienis deur die tweede beskuldigde dat
die appellant voor die
noodlottige aanranding op die oorledene gesê het dat hy die oorledene gaan
doodmaak omdat die oorledene
nie wou sê waar die geld is nie. Indien
hierdie getuienis aanvaar word, sou dit aantoon dat die
12
appellant die direkte opset gehad het om te dood, en dit sou moeilik te rym
wees met die hof se bevinding dat daar moontlik slegs
dolus eventualis
hier aanwesig was. Daarbenewens het die verhoorhof geen redes verstrek waaroor
hierdie stukkie getuienis deur die tweede beskuldigde
aanvaar is hoewel sy
getuienis oor die algemeen as onbetroubaar beskou is nie. In hierdie verband is
dit belangrik dat die tweede
beskuldigde deurgaans valslik probeer het om
homself so ver moontlik te verontskuldig en die blaam op die appellant te plaas.
Waar
hy dus hier sake teen die appellant aandik, lyk sy getuienis baie verdag.
Alles in ag genome meen ek nie dat die tweede beskuldigde
se getuienis oor wat
die appellant voor die moord sou gesê het, bo redelike twyfel aanvaar kan
word nie.
Die verhoorhof het nie pertinent oorweeg of die plasing van die plastieksak
om die oorledene se kop aanduidend was van 'n direkte
opset om te dood nie. Die
rede hiervoor was miskien dat daar nie bewys was dat die sak so
13
dig was dat dit in die posisie waarin dit was die lugtoevoer sou afgesny het
nie, en dat dit in elk geval so dun was dat dit betreklik
maklik weggeskeur kon
word, soos Dlamini inderdaad gedoen het. Indien dit nie die boosdoeners se opset
was om die oorledene te vermoor
nie, wonder 'n mens tog waarom hulle juis die
sak oor die oorledene se kop gesit het. Waar ons hier te doen het met 'n
struweling
waarin, soos reeds gemeld, die aanvallers gebruik gemaak het van
artikels wat toevallig byderhand was, moet 'n mens miskien egter
nie te veel
analitiese denke aan hulle toeskryf nie. In elk geval, waar hierdie aspek nie
behandel is by die verhoor nie meen ek
dat dit gevaarlik sou wees om nou op
appél afleidings te maak wat teenstrydig is met die verhoorhof se
bevindinge.
Weens die voorgaande meen ek dat ons nie behoort af te wyk van die hof
a
quo
se bevinding dat daar 'n redelike moontlikheid is dat slegs
dolus
eventualis
hier aanwesig was nie. Die posisie is dus na my mening dat die
verswarende faktore wat ontstaan uit die aard van die aanval op die
14
oorledene nie verder vererger word deur die bestaan van direkte opset aan die
kant van die appellant om hom te dood nie.
Dit bring my dan by
strafversagtende faktore. Soos ek reeds aangedui het, meen ek dat daar 'n
redelike moontlikheid is dat die moord
nie vooraf beplan was nie, maar dat dit
feitlik spontaan gepleeg is met
dolus eventualis
toe die oorledene
oorrompel en buite aksie geplaas is. Hierdie faktore is strafversagtend in die
sin dat die misdaad ernstiger sou
gewees het as die feite anders was. Dan is
daar die appellant se persoonlike omstandighede - hy was ten tyde van die
misdaad 26 jaar
oud, het gewerk en het geen vorige veroordelings hoegenaamd
gehad nie. 'n Skoon rekord dra gewoonlik heelwat gewig as 'n versagtende
faktor.
Dit is 'n aanduiding dat die betrokke persoon nie 'n misdadige geaardheid het
nie, en waarskynlik rehabiliteerbaar is.
Ten slotte moet ek die strafverswarende en -versagtende faktore teen mekaar
opweeg en besluit of die
15
doodvonnis die gepaste vonnis is. Soos reeds gemeld, is hierdie 'n ernstige
saak, maar na my mening is die misdaad nie van sulke uitsonderlike
erns dat dit
die hoogste tol regverdig nie. Ek meen dat 'n lang termyn gevangenisstraf genoeg
sou wees om die samelewing se verstaanbare
behoefte aan vergelding en
afskrikking te bevredig, terwyl dit terselfdertyd die moontlikheid van
rehabilitasie vir die appellant
sal oophou.
Die appêl slaag. Die doodvonnis word tersyde gestel en vervang met
twintig (20) jaar gevangenisstraf wat sal saamloop met die
gevangenisstraf
opgelê op die roofklag.
E M GROSSKOPF
KUMLEBEN, AR
HARMS, Wnd AR Stem saam