About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1991
>>
[1991] ZASCA 172
|
|
S v Bapela (557/90) [1991] ZASCA 172 (28 November 1991)
557/90
/mb
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(
APPeLAFDELING
)
In die saak tussen:
JACOB MATLAKALA BAPELA
APPELLANT
en
DIE STAAT
RESPONDENT
CORAM
: SMALBERGER AR, NICHOLAS et KRIEGLER WndARR
VERHOORDATUM
: 25 NOVEMBER 1991
LEWERINGSDATUM
: 28 NOVEMBER
1991
UITSPRAAK
KRIEGLER WndAR
/
1.
KRIEGLER WndAR
:
Appellant kom met verlof van hierdie hof in
hoër beroep teen sy skuldigbevinding aan moord in die Transvaaise
Provinsiale Afdeling.
Hy het in Junie 1988 tereggestaan op vier aanklagte wat
voortgespruit het uit gebeure wat op 9 Januarie 1987 te Kameelrivier "A"
in die
distrik Mdutjana, Kwandebele, afgespeel het.
Aanklag 1 het dit appellant ten laste gelê dat hy op die betrokke tyd
en plek vir Simon Mahlangu ("die oorledene") wederregtelik
en opsetlik gedood
het; luidens aanklagte 2 en 3 sou hy toe die oorledene se winkel en sy
Datsun-bakkie aan die brand gesteek het.
Aanklag 4 het behels dat hy op
dieselfde tyd en plek vir Anna Mahlangu ("die klaagster") aangerand het.
Appellant het op al die aanklagte
onskuldig gepleit en sy swygreg uitgeoefen. Hy
is mettertyd skuldig bevind aan die moordklag maar onskuldig aan die oorblywende
drie
aanklagte en 7 jaar gevangenisstraf opgelê.
2/...
2.
Die Staatsaak was dat appellant en 'n skare andere op Vrydagaand 9 Januarie
1987 vir oorledene gestenlg het. Ter bewys daarvan is
daar eerstens gesteun op
die getuienis van die dlstriksgeneesheer wat vier dae later 'n nadoodse
ondersoek op die lyk van die oorledene
uitgevoer het. Daar was 'n ingedrewe
skedelfraktuur links posterior by die skedelkruin, met sub-arachnoidale
bloeding, en twee frakture
van die onderkaak. Daar was ook verskeie kneusings
aan die gesig en ses oppervlakkige steekwonde aan die rug. Na die mening van die
geneesheer was die hoofbeserings veroorsaak deur stomp geweld toegedien met 'n
voorwerp soos 'n klip of 'n kierie. Die frakture moes
deur minstens twee
afsonderlike houe veroorsaak gewees het.
Vervolgens het die Staat gesteun op mededelings wat appellant by twee
geleenthede voor die verhoor gemaak het. Die eerste was 'n verklaring
wat
appellant op 22 Januarie 1987 voor 'n magistraat te
3/...
3.
Mdutjana afgelê het. Tydens die roetine
ondervraging wat die formele aflegging van die verklaring voorafgegaan het, het
die
magistraat onder andere die volgende vraag aan appellant gestel: "Please
tell me how it has occurred that you are here to make a
statement before me?"
Daarop het appellant geantwoord: "I came here to make a statement because I want
to reveal the truth pertaining
to the killing of somebody." Appellant is ook
gevra hoekom hy 'n verklaring wil aflê en die antwoord was : "I want the
truth
to be known". Die verklaring wat appellant daarop maak lui so:
"On the 9th day of January 1987 at Kameelrivier A were some riots which were
caused by a movement called 'comrades'. Simon Jabujabu
Mahlangu was the leader
of the 'comrades'. He went about collecting money from house to house at
Kameelrivier A intending to throw
a braai for the people of the village. After
he had collected the said money, he did not do as he promised. He instead used
it for
his own benefits. He bought a car for himself, opened businesses like
bar
4/...
4.
lounge or beer hall, a tuckshop and others. The residents started demanding
their moneys back as he did not do like he promised.
He did not want to give
their money back. He instead produced a firearm and threatened to shoot them. I
together with the other comrades
picked up stones and started throwing them at
him. Our intention was not to kill him. We wanted to disarm him of the firearm
he was
having so that we could speak to him without our fearing that he had a
firearm. After he was hit with stones, some still throwing
stones at him he fell
to the ground and that was the end of him. He died on the spot. That is
all."
Die dag ná die aflegging van voormelde verklarlng is
appellant in die plaaslike magistraatshof aangesê om te pleit op
die
eerste drie van die vier aanklagte waarop hy mettertyd tereggestaan het. Hy
pleit skuldig aan aanklag 1 en word toe ingevolge
die bepalings van art 112(1
)(b) van Wet 51 van 1977 ondervra. Die oorkonde lui so:
"Q. Did you kill Simon Mahlangu on 09 January 1987.
A. Yes.
5/...
5. Q. How did you kill him?
A. We were a group and we threw stones at him.
Q. How many were you in the
group?
A. Between 70 and 80 people.
A plea of not guilty is entered
"
Ten aansien van die brandstigtingsaanklag, aanklag 2, sê
appellant: "I was among the group that set the shop alight. I did not
personally
set it alight."
Die Staat het ook die getuienis aangebied van die oorledene se moeder, Anna
Mahlangu. Sy was oor die algemeen 'n onbevredigende getuie
- tot so 'n mate dat
die Staatsadvokaat haar polisieverklaring aan die verdediging beskikbaar gestel
het. Volgens haar het sy die
betrokke aand teen sononder gehoor hoe klippe val
op die dakke van die oorledene se huis en biersaal. Sy hardloop toe soontoe. Toe
sy naderkom, hoor sy die oorledene skree: "Ma, help, hulle maak my dood." Op
6/...
6. die toneel aangekom sien sy die oorledene anderkant 'n
heining lê. Sy wou nadergaan om hom met haar eie liggaam te beskerm
maar
appellant (wat voor die getuie grootgeword het) gooi haar op die linkerbors met
'n 10 liter verfblik. Sy gaan staan toe oorkant
die straat van waar sy sien hoe
"hulle vir die oorledene aanrand". Wie "hulle" is, word sy nie gevra nie, ook
nie hoeveel hulle was
of op welke wyse oorledene aangerand is nie. Sy beskryf
dat die groep, na hulle die oorledene "geslaan" het, na sy biersaal beweeg
het.
Weereens word sy nie gevra om spesifiek te wees oor die aard van die slaan
nie.
Sy sê sy probeer toe vrugteloos om die oorledene orent te help en gaan
soek tevergeefs hulp by 'n buurman. Daarop kom twee persone
van die biersaal se
rigting af en sleep die oorledene aan sy bene soontoe. Op daardie stadium het
die oorledene nog asemgehaal. Die
getuie word egter nie gevra om enigsins uit te
wei
7/...
7. oor enige beserings wat die oorledene op
daardie
stadium getoon het nie, ook nie of sy hom hoegenaamd ondersoek het
nie. Dit is egter duidelik uit haar getuienis dat hy tydens haar
waarneming
bewusteloos moes gewees het. Haar weergawe van die aanranding op haarself deur
appellant was so deurspek van weersprekings
dat die Staat aan die einde van die
verhoor nie betoog gelewer het ten gunste van 'n skuldigbevinding aan die
tersaaklike aanklag
nie.
Die enigste ander getuie oor die gebeure van die noodlottige aand was
appellant self. Volgens hom het hy die betrokke dag in Pretoria
gewerk en eers
ongeveer 18h30 die bus na sy huis by Kameelrivier gehaal. Daar het hy ongeveer
21h00 aangekom. Terwyl hy huistoe stap,
sien hy 'n skare van 200 plus by die
oorledene se biersaal. Van hulle was besig om klippe te gooi. Die omgewing was
geheel onbelig
en dit was bowendien donkermaan. Hy het nie voldoende
8/...
8. belanggestel in die klipgooiery om nader te gaan nie.
Aan geweld teenoor die oorledene of enige van sy besittings het hy gladnie
deelgeneem nie. Hy het nóg die oorledene nog die se moeder díe
betrokke aand gesien.
Onder kruisondervraging het hy - voorspelbaar aangaande sy vorige verklarings
kleigetrap. Hy ontken dat hy hoegenaamd 'n verklaring
aan 'n magistraat gemaak
het en meen dat die betrokke magistraat en die hoftolk deel van 'n korrupte
sameswering teen hom is. Hy
gee ook te kenne dat die oorkonde van die
pleitverrigtinge 'n konkoksie is. Ofskoon hy erken dat die voorsittende
magistraat wel
die opgetekende vrae aan hom gestel het, hou hy vol dat hy
onskuldig gepleit en verklaar het dat hy niks van die moord weet nie.
Hy voeg by
dat hy aan die hof gesê het dat hy ten tyde van die gebeure nog nie by die
huis was nie. Hy kon natuurlik nie verduidelik
nie hoekom die voorsittende
9/...
9. beampte hom dan gevra het "How did you kill him?" Ook
kon hy nie verduidelik nie hoekom die vraag dan aan hom gestel is "How many
were
you in the group?"
Die verwysing na "comrades" in sy buitegeregtelike
verklaring is ook onversoenbaar met sy getuienis dat hy al gehoor het van
"comrades"
maar nog nooit een gesien het nie. Hy bevestig egter onder eed dat
die oorledene wel geld van die gemeenskap gekollekteer en dit
toe vir sy eie
doeleindes aangewend het. Voorts bevestig hy dat sodanige verduistering deur die
oorledene onmin in die gemeenskap
veroorsaak het. In teenstelling met die
beskrywing in sy verklaring van die konfrontasie wat daarop gevolg het, plaas hy
dit op 'n
ander tyd, datum en plek. Voorts wil hy dit hê dat dit nie 'n
skare "comrades" was wat die oorledene gekonfronteer het nie
maar wel die ouer
gemeenskap.
Die verhoorhof baseer sy skuldigbevinding van
10/...
10. appellant aan die moordklag in groot mate op die
pleitverrigtinge en die verklaring aan die magistraat. Daar word ook bevind dat
mev Mahlangu se origens onbevredigende getuienis tot dié mate gestaaf
word deur appellant se eie vorige verklarings dat hy
homself op die moordtoneel
plaas. Vervolgens lei die hof uit die getuienis in sy geheel af dat die skare 'n
moorddadige aanval op
die oorledene geloods het, dat appellant hom daarmee
vereenselwig het en die nodige moordopset by moontlikheidsbewussyn gehad het.
Appellant se prestasie in die getuiebank word nie pertinent behandel nie maar sy
voorgegewe alibi word verwerp.
Gemelde gedagtetrant is in hierdie hof namens appellant bevraagteken. Die
draad van die betoog loop so. Daar is geen sprake van 'n
voorafspraak om die
oorledene te dood nie en gevolglik moet daar voldoen
word aan die vyfstuks vereistes soos gestel in S v
Mgedezi and Others
1989 (1) SA 687
(A) op 705 I - 706
11/...
11.
B. Die eerste vereiste is teenwoordigheid op die toneel ten tyde van die
geweldpleging. Luidens die betoog is daaraan nie voldoen
nie, aangesien
oorledene se moeder vir appellant op die toneel plaas van die aanvanklike, dog
nie - fatale, aanranding op die oorledene.
Volgens haar is die mense toe later
met die oorledene weg na die biersaal waar hy gedood is. In teenstelling daarmee
meld appellant
in sy verklaring slegs een steniging as gevolg waarvan die
oorledene daar en dan gesterf het. Dit volg dus redelikerwys dat appellant,
as
leek, hom kon vergis het oor die doodsintrede by die aanranding waar hy
teenwoordig was en dat hy inderwaarheid niê ten
tyde van die noodlottige
aanranding aanwesig was nie. Die moeder meld dan ook geen ernstige beserings aan
die oorledene op die stadium
toe sy hom probeer ophelp het ná appellant
se deelname aan die eerste aanranding nie. Sy ingedrewe skedel en die meswonde
op die rug noem sy
12/...
12. eers in samehang met haar aankoms by die lyk in die
biersaal. Daaruit volg dit ook, aldus die betoog, dat appellant se ontkenning
(in sy verklaring aan die magistraat) van 'n opset om te dood by die aanval
waaraan hy deelgeneem het, redelik moontlik waar kan
wees. Voorts word aangevoer
dat daar nie van die beserings aan die lyk by wyse van noodwendige afleiding
gekonkludeer kan word dat
dit 'n moorddadige aanval was nie. Die skedelfrakture
kon selfs deur 'n enkele persoon toegedien gewees het en 'n mens sou ernstiger
wonde verwag het as die skare met moorddadige opset 'n aanval op die oorledene
geloods het. Dit verleen dan volgens die betoog steun
aan die mededeling in
appellant se verklaring dat die bedoeling met die klippe gooi was om te ontwapen
en nie om te dood nie. Bowendien
blyk dit uit appellant se verklaring dat slegs
'n gedeelte van die skare voortgegaan het met klipgooiery ná die
oorledene
geval het. Daarvan kan
13/...
13.
dan afgelei word dat appellant hom op daardie stadium gedistansieer het van
verdere geweld teenoor die oorledene. Voorts en in ieder
geval is daar nie h
gemeenskapiike opset om te moor, in teenstelling met 'n opset om aan te rand,
bewys nie, en ook nie dat appellant
volhard het in sy optrede teenoor die
oorledene ongeag die moontlik noodlottige gevolge wat hy voorsien het. Die
uiteindelike siotsom
van die betoog is dan dat appellant bloot aan aanranding
met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind moes gewees het.
Ek meen egter nie dat die betoog kan opgaan nie. Die fundamentele
uitgangspunt daarvan is trouens ongegrond. Daar word naamlik uitgegaan
van die
verondersteiling dat die oorledene by twee afsonderlike geleenthede aangerand
sou gewees het, die een voor mev Mahlangu op
die toneel buite die biersaal
opgedaag het en die ander later binne die biersaal. Daar bestaan
14/...
14.
myns insiens egter geen redelike moontlikheid dat
dit
die geval kan wees nie , en wel om verskeie redes. Ten
eerste verbind
appellant hom ondubbelsinnig deur sy
vorige verklarings as 'n deelnemer aan
'n fatale
steniging van die oorledene. Die antwoorde aan die
magistraat voor hy die
formele verklaring aflê, getuig
van persoonlike kennis van die doodveroorsaking terwyl
die verklaring as sodanig die nodige besonderhede
invul. Hy beskryf waar, wanneer, waarom, op welke wyse
en deur welke groep die ooriedene gedood is. Hy maak
homself ondubbelsinnig deelgenoot aan die steniging.
Die daaropvolgende dag pleit hy skuldig daaraan dat hy
die oorledene vermoor het. Op 'n vraag of hy_ die
oorledene gedood het, antwoord hy bevestigend. Daar is
geen suggestie dat hy nie aan die dodelike geweld
deelgeneem het nie, Hy vertel tewens dat hy met 'n groep
van tussen 70 en 80 mense die oorledene gestenig het.
Hy beken. ook dat hy deel was van die groep wat die
oorledene se winkel aan die brand gesteek het.
15/...
15.
Ten tweede en daarby aansluitend
berus die
betoog namens appellant op die valse premisse dat mev
Mahlangu
se getuienis ruimte laat vir die redelike
moontlikheid dat die oorledene eers
by die vermeende
tweede fase dodelik verwond is. Daar is geen
getuienis
oor die snelheid waarmee die dood sou ingetree het nie
die
doodsoorsaak was bloeding op die brein en nie 'n
onmiddellik fatale
gebeurtenis nie. Mev Mahlangu se
beskrywing van 'n algeheel vergruisde skedel
word
regstreeks weerspreek deur die distriksgeneesheer, wat
getuig van 'n
enkele fraktuur van die agterkop en 'n
dubbele breuk van die kakebeen. Die
beangste
waarnemings wat mev Mahlangu in die skemer buite die
biersaal
gemaak het, kan dus nie dien as basis vir
enige hipotese dat die oorledene
daarna weer - en
dodelik - verwond is nie. Al wat werklik uit haar
origens
gebrekkige getuienis blyk, is dat die oorledene
nog asemgehaal het toe sy hom
laas buite die biersaal
16/...
16.
gesien het. Of sy daarin gelyk het, val te betwyfel
-
maar al word dit as korrek aanvaar, staan dit vas dat die oorledene op
daardie stadium reeds deur 'n steniging dermate beseer is dat
hy bewusteloos bly
lê het. Die afleiding is onafwendbaar dat hy toe reeds die dodelike
hoofbesering aan sy agterkop opgedoen
het. En as daar enige sweem van twyfel
daaroor is, word dit opgeklaar deur appellant se beskrywing van die gebeure wat
hy in sy vorige
verklarings gemaak het. Hy beskryf immers hoe hy meegedoen het
aan die steniging waardeur die oorledene, oenskynlik dodelik, neergevel
is en
roerloos bly lê het.
In die derde instansie moet in berekening gebring word dat appellant dit
goedgevind het om h valse alibi aan te bied en 'n kennelik
verwerplike
verduideliking te verstrek vir sy daarmee teenstrydige verklarings kort
ná die gebeure. Die suggestie dat die
een magistraat, bygestaan deur die
tolk, die aflegging
17/...
17. van 'n verklaring fabriseer terwyl die ander die
oorkonde van die pleitverrigtinge vervals, is werklik belaglik.
Die
afwesigheid van enige aanvaarbare getuienis van die kant van appellant ter
verduideliking van sy voorheen erkende rol by die doodslag,
gekoppel met sy
leuenagtige ontkenning dat hy hoegenaamd sodanige mededelings gemaak het, is
verdoemend. Die dryfveer vir die steniging
was so intens dat die stenigers ook
die oorledene se winkel en sy bakkie vernietig het. Weliswaar kan die opset van
naamlose andere
in die gewelddadige skare nie vir appellant toegewyt word nie.
Dit gaan immers oor sy optrede en geestestoestand. Nietemin getuig
dit van die
aard en gees van die optrede waaraan appellant bewustelik en aktief deelgeneem
het. In die afwesigheid van 'n aanvaarbare
verduideliking getuig sodanige
optrede van 'n opset by iedereen van die deelnemers daaraan om
18/...
18.
die slagoffer te dood. En 'n verduideliking deur appellant was daar nie.
Inteendeel, daar was 'n valse relaas. Die leuenagtige ontkenning
regverdig die
sinistere afleiding dat appellant nie sy deelname kon regverdig of sy rol kon
verklaar nie.
Bygevolg is daar geen feitebasis vir die moontlikhede wat namens appellant as
redelik aangebied is nie. Dit is nie vir 'n hof beskore
om oor ongegronde
moontlikhede te spekuleer nie. Sonder enige getuienis tot die teendeel is die
afleiding onafwendbaar dat appellant
en sy mede-"comrades" die oorledene
gestenig het met die gemeenskaplike opset om hom om die lewe te bring. Ewe
onafwendbaar is dat
hy en hulle sodanige opset volvoer het. Steniging is immers
reeds uit die oertyd 'n bekende vorm van gemeenskaplike teregstelling
van
diegene wat ernstig bots met gemeenskapsnorme. Dit is ook hier te lande maar al
te bekend. Appellant se verklaring aan die magistraat
dat die oorledene
19/...
19. openbare bydraes vir eie gewin aangewend en toe
uitdagend geweier het om die saak met die gemeenskap se segslui te bespreek,
verstrek
die dryfveer vir die steniging. Dat daar tot steniging oorgegaan is
bloot om die oorledene te ontwapen, verdien nie ernstige oorweging
nie. Waar die
appellant dan in die loop van sy verklaring aan die magistraat te kenne gee dat
hy en die ander stenigers nie die opset
gehad het om te dood nie, kan dit met
stelligheid verwerp word as 'n benoude poging tot minimisering van die erns van
hul vergryp.
Op die minste was dit vir iedere steniger, in die besonder vir die
appellant, duidelik dat so 'n steniging dodelike gevolge kon hê.
Ongeag
sodanige wete en ongeërg oor die moontlike doodsintrede het appellant
meegedoen. Dit volg dat hy òf 'n regstreekse
opset om te dood gehad het
of, op die beste vir hom, opset by moontlikheidsbewussyn. Vir die poging tot
ontwapening, distansiëring,
mindere opset
20/...
20. of vergissing waarvoor betoog is, kan daar op die
aangebode getuienis geen basis gevind word nie. Dis blote spekulatiewe
moontlikhede.
Die appellant is tereg skuldig bevind.
Bygevolg word die appèl van die hand gewys.
J C KRIEGLER
WndAPPèLREGTER
SMALBERGER AR
NICHOLAS WndAR Stem saam