About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1991
>>
[1991] ZASCA 157
|
|
S v Brink (634/89) [1991] ZASCA 157 (22 November 1991)
Saak no. 634/89
E du P
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(APPeLAFDELING)
HENDRIKA NICLASINA BRINK
Appellant
en
DIE
STAAT
Respondent
Coram
: JOUBERT, F H GROSSKOPF ARR et PREISS Wn AR
Verhoordatum
:
Leweringsdatum:
11 November 1991. 22 November 1991.
2
UITSPRAAK F H GROSSKOPF AR:
Die appellant het in die Transvaalse
Provinsiale Afdeling op 'n aanklag van moord tereggestaan. Dit is gemene saak
dat die appellant
haar eggenoot ("die oorledene") gedurende die aand van 13
Januarie 1988 by hulle woning te Sinoville, Pretoria, met 'n pistool doodgeskiet
het. Die hof
a quo
het bevind dat sy die nodige opset by
moontlikheidsbewussyn gehad het en het haar gevolglik aan moord skuldig bevind.
Die appellant
is tot 6 jaar gevangenisstraf gevonnis, waarvan 3 jaar
voorwaardelik opgeskort is. Die verhoorhof het aan die appellant verlof verleen
om na hierdie hof teen haar skuldigbevinding en vonnis te appelleer.
Die
enigste werklike geskilpunt is of die appellant, op die feite wat deur die hof
a quo
aanvaar is, aan moord dan wel aan strafbare manslag skuldig is;
d.w.s. of daar opset by moontlikheidsbewussyn was of slegs nalatigheid.
Die hof
a quo
het bevind dat dit nie bewys
3 is dat die appellant die direkte
opset om te dood gehad het nie. Die advokaat vir die staat het weliswaar betoog
dat die hof
a quo
in hierdie opsig fouteer het en dat daar inderdaad
dolus directus
was. Die advokaat het na aanleiding van die beslissing in
S v E
1979(3) SA 973(A) te 977D-F betoog dat hierdie hof geregtig is om
die appellant aan 'n meer ernstige misdaad skuldig te bevind as
waaraan sy
skuldig bevind is. Dan moet hierdie hof egter daarvan oortuig wees dat die
verhoorhof weens 'n verkeerde feitebevinding
of. 'n regsdwaling die appellant
aan 'n minder ernstige misdaad skuldig bevind het as waaraan sy, ingevolge die
akte van beskuldiging,
skuldig bevind moes gewees het. In die lig van al die
getuienis is ek egter daarvan oortuig dat die hof
a quo
in hierdie opsig
korrek was en dat daar inderdaad geen
dolus directus
was nie.
Die appellant het getuig dat sy nooit bedoel het om die oorledene raak te
skiet nie; sy wou slegs die venster langs hom stukkend skiet
om hom skrik te
maak sodat 'hy haar nie weer daardie aand sou slaan nie. Volgens die
appellant
4
het sy na die linker boonste hoek van die venster skuins bo
die oorledene
gemik en toe die skoot afgetrek. Die skoot
het egter nie die venster nie,
maar die oorledene getref.
Die hof
a quo
het hierdie weergawe van die
appellant as
redelik moontlik waar aanvaar, maar nogtans beslis dat al
die
bewese feite die afleiding van
dolus eventualis
regverdig.
Die
kernvraag is of hierdie afleiding die enigste redelike
afleiding is wat van
al die getuienis gemaak kan word, nl dat
die appellant die moontlikheid
voorsien het dat sy die
oorledene kon doodskiet, maar dat sy onverskillig
teenoor die
intrede van hierdie gevolg gestaan het.
Die beginsels rakende
dolus eventualis
is soos
volg deur
Holmes AR
in
S v P
1972(3) SA 412 (A) te 416 B-G
saamgevat:
"On the issue whether there was intent to kill in the form of
dolus
eventualis
, the following principles are relevant -
(i) The test for such
dolus
is whether the appellant subjectively
foresaw the possibility of death resulting from his assault on the deceased, but
persisted
therein, reckless whether such possibility became fact. See
S. v
Malinga and Others
,
5
1963 (1 ) S.A. 692 (A.D.) at p. 694F-H;
S. v. De Bruyn en h Ander,
1
968 (4) S.A. 498(A.D.)at
p. 510F. (ii) 'Subjective foresight, like any
other
factual issue, may be proved by
inference. To constitute
proof beyond
reasonable doubt the inference must be
the only one which can
reasonably be
drawn. It cannot be so drawn if there is
a reasonable
possibility that
subjectively the accused did not foresee,
even if he
ought reasonably to have done
so, and even if he probably did do
so.';
S. v. Sigwahla
,
1967 (4) S.A. 566
(A.D.)
at p. 570E.
(iii)
'One must eschew any tendency towards
legalistic armchair reasoning,
leading
facilely to the superficial conclusion that
the accused 'must have
foreseen' the
possibility of death';
S. v. De Bruyn en 'n Ander
,
supra
at p. 507D.
The better
approach is to think one's way
through all the facts, before seeking to
draw
any relevant inference.
(iv) In seeking to ascertain what was going
on in
the mind of the accused, the old maxim that a
person is presumed to
intend the natural and
probable consequences of his act, is no
longer
regarded as a reliable criterion of
subjective intention. The presumption
was
questioned in
De Bruyn's
case,
supra
at p.
507E; and see
Hoffmann on
Evidence
, 2nd ed.,
p. 374. The presumption came to us
from
England where, as a matter of interest, it
has recently been
abolished "
6
(Vgl ook
S v Nqubane
1985(3) SA 677 (A) te 685 D-F;
S
v
Beukes en 'n Ander
1988(1) SA 511 (A) te 522 B-F).
In
S v
Du Preez
, 1972(4) SA 584 (A) het
Ogilvie Thompson HR
soos volg op
588H-589A opgemerk:
"For the purpose of the present appeal, it suffices to emphasise that the
enquiry is not what the appellant ought to have foreseen,
but what he did
foresee; that the subjective foresight of resultant death which constitutes
dolus eventualis
must be established by the State beyond resonable doubt;
and that although, like any other factual issue, such subjective foresight
may
be proved by inference, the inference must be the only one reasonabiy to be
drawn from the facts of the particular case (
S. v. Dlodio
, 1966(2) S.A.
401 (A.D.) at p. 405, and
R. v. Du Plessis
,
1944 A.D. 314
at p.
318).''
In
Du Preez
se saak het die
appellant, 'n redelik ervare skut,
verskeie skote met 'n pistool in die
rigting van die oorledene
en sy maat geskiet terwyl hulle op 'n afstand van meer as 6
meter van hom
geloop of gehardloop het. Die hof het aanvaar
dat die appellant op hulle
geskiet het met die doel om hulie
af te skrik. Die appellant het aanvanklik voor die ooriedene
en sy maat op die grond geskiet, maar toe besluit dat dit
veiiiger sou wees om oor hulle koppe te skiet. Hy het
7
ongeveer 60 tot 90 cm bo hulle koppe gemik en verdere skote afgevuur. Een van
hierdie skote het die oorledene in die kop getref en
sy dood veroorsaak.
Alhoewel die feite in
Du Preez
se saak klaarblyklik van die in die
onderhawige saak verskil, is dit tog insiggewend dat die hof in daardie saak
bevind het dat die
feite nie h afleiding van
dolus eventualis
geregverdig
het nie, en dat die appellant in daardie saak slegs aan strafbare manslag
skuldig was. In die finale instansie moet dit
natuurlik aan die hand van die
feite van elke besondere saak beoordeel word of die skut wat iemand doodskiet
wanneer hy hom slegs
wou skrikmaak, die opset by moontlikheidsbewussyn gehad
het, dan wel of die dood aan sy nalatigheid te wyte was.
Die noodlottige
gebeure van 13 Januarie 1988 in die onderhawige saak moet gesien word teen die
agtergrond van die partye se ongelukkige
huwelikslewe, wat deur die verhoorhof
as stormagtig beskryf is. Die partye het ongetwyfeld ernstige huweliksprobleme
ondervind. Die
appellant, 'n onderwyseres, is in 1981 met die oorledene getroud.
In 1982
8
is daar 'n seun uit die huwelik gebore. Die partye is in 1983 geskei. Die
appellant en die oorledene het daarna op 8 Desember 1984
vir 'n tweede maal met
mekaar in die huwelik getree, maar reeds tydens hulle wittebroodsreis in Europa
het daar probleme ontstaan.
Volgens die appellant het die oorledene haar sonder
rede aangerand deur haar by een geleentheid met 'n lyfband te slaan en by 'n
ander geleentheid hard teen die kop te klap. Die huwelik is ondanks probleme
voortgesit en 'n jaar later is daar 'n dogter uit die
huwelik gebore. Volgens
die appellant se weergawe, wat deur ander getuienis gestaaf word, is hulle
huwelikslewe gekenmerk deur die
oorledene se gereelde oormatige gebruik van
sterk drank en sy veelvuldige aanrandings op haar. Die hof
a quo
het die
appellant se weergawe in hierdie verband aanvaar. Die appellant het ook om
gegronde redes geglo dat die oorledene by geleentheid
ontrou teenoor haar was.
Sy het die oorledene in April 1986 verlaat nadat hy haar weereens aangerand het.
Sy het h egskeidingsgeding
teen hom aanhangig gemaak, maar
9
hulle is in Julie 1986 weer met mekaar versoen. Volgens die appellant het die
oorledene daarna steeds voortgegaan om te veel te drink
en haar aan te rand. Sy
het by geleentheid die hulp van die polisie ingeroep en selfs klagtes van
aanranding teen die oorledene gelê,
maar dit dan later weer
teruggetrek.
Die oorledene het op 'n stadium 'n pistool vir selfverdediging
vir die appellant gekoop, maar sy het geen voorligting in verband met
die
gebruik daarvan ontvang nie. Dit is dieselfde pistool waarmee sy hom later
doodgeskiet het. Die pistool is 'n baie kompakte .38
"special" met twee kort
lope, die een bo die ander, waarmee mens slegs twee skote kan skiet sonder om te
herlaai. Die appellant het
getuig dat die oorledene haar gedurende die middel
van 1987 weer een aand aangerand het. In die loop van die aanranding het die
appellant
die pistool op 'n kas sien lê en dit gegryp, waarop die
oorledene na die slaapkamer gevlug het en die deur toegemaak het. Die
appellant
het hom gewaarsku dat sy hom
10
sal skiet as hy uitkom. Volgens haar weergawe wou sy die oorledene afskrik en
het sy na die onderkant van die deur gemik en 'n skoot
vanuit die gang geskiet
wat deur die onderkant van die deur is. Hierdie skoot het die gewenste
uitwerking gehad, want volgens die
appellant het die oorledene so groot geskrik
dat hy haar vir omtrent twee maande daarna nie weer aangerand het nie. Na
verloop van
tyd het die oorledene egter weer in sy ou wee verval en die
appellant by geleentheid aangerand.
Op Oujaarsaand van 1987 het die oorledene
die appellant met rede daarvan beskuldig dat sy h verhouding met haar haarkapper
aangeknoop
het. Die oorledene het haar toe weer aangerand. Die appellant se
moeder het blykbaar die gerugte omtrent haar verhouding met die
haarkapper
versprei en dit het daartoe aanleiding gegee dat daar onmin tussen die appellant
en haar moeder ontstaan het. Gedurende
die aand van Dinsdag 12 Januarie 1988 het
die appellant na haar suster se huis gery om die saak met haar moeder te gaan
uitpraat.
Die
11
appellant het eers ongeveer 03:00 die Woensdagoggend tuis gekom en beswaarlik
enige slaap gehad voordat sy moes gaan werk. Dit is
myns insiens van belang om
in gedagte te hou dat die appellant baie moeg moes gewees het toe die oorledene
omstreeks 22:00 daardie
Woensdagaand onder die invloed van drank en in 'n
aggressiewe bui by die huis opgedaag het. Die oorledene sou vroeg die volgende
more na Botswana vertrek en die appellant het by die kinders gaan slaap sodat hy
haar nie wakker sou maak wanneer hy opstaan nie.
Kort nadat hy die Woensdagaand
tuis gekom het, het die oorledene haar aan die arm uit die bed geruk en na die
gang getrek. Hy het
sy vinger onder haar neus geswaai en haar beveel om sy
paspoort te soek "of daar gaan groot moeilikheid wees". Volgens die appellant
kon sy in die oorledene se oë sien dat hy haar daardie aand weer gaan
slaan. Sy was baie moeg en volgens haar het sy totaal
irrasioneel opgetree. Sy
het die paspoort in die slaapkamer gaan soek, die oorledene se aktetas daar
gesien en dit oopgemaak om daarin
te kyk. Sy het die pistool
12
bo in die aktetas sien lê en dit gevat. Die oorledene was op daardie
stadium in sy studeerkamer buite die huis. Die appellant
het met die pistool na
die studeerkamer geloop en dit buite die studeerkamerdeur oorgehaal met die doel
om die oorledene weer skrik
te maak soos 'n paar maande tevore toe sy die skoot
deur die slaapkamerdeur geskiet het. Sy het in die deur van die studeerkamer
bly
staan en die oorledene voor die oop kluis aan die ander kant van die kamer sien
staan. Hy was besig by die kluis en sy lyf was
half agter die oop kluisdeur. Dit
het nie geblyk dat hy van die appellant se teenwoordigheid bewus was nie. Agter
die oorledene was
daar 'n groot venster. Die appellant en die oorledene moes
ongeveer 4 meter van mekaar gewees het. Die appellant sê dat sy
die
venster wou stukkend skiet om die oorledene skrik te maak sodat hy haar nie weer
daardie aand sou slaan nie. Sy het na die linker
boonste hoek van die venster
gemik. Dit is gemene saak dat as die koeël die rigting gevolg het waarin sy
gemik het, dit links
bo die oorledene, maar weliswaar
13
binne 'n meter van hom af, verby sou gegaan het. Volgens die
appellant het
sy nie gedink daar bestaan enige moontlikheid
dat sy die oorledene sou
raakskiet nie. Op haar weergawe het
sy dus nie die moontlikheid voorsien dat
sy die oorledene kon
dood of beseer nie. Toe sy die skoot aftrek, het sy
egter nie
die ruit nie, maar die oorledene getref.
Dit blyk uit die lykskouingsverslag van die
staatspataloog dat die oorledene h skietwond regs voor by die
borskas
opgedoen het wat deur sy regterlong en sy werwelkolom
gestrek het. Die
bevinding van die staatspatoloog, wat as
korrek erken is, lui verder soos
volg:
"Indien die oorledene regop gestaan het toe die skoot toegedien was, sou die
rigting van die skoot feitlik horisontaal gewees het
en na agter en na
links."
Die getuienis van die appellant dat sowel sy
as die oorledene
gestaan het toe sy die skoot afgeskiet het, en dat die
oorledene inderdaad gestaan het in die posisie soos deur haar
beweer, strook met die bevindings van die staatspatoloog.
Daar is terloops geen getuienis wat daarop dui dat die
appellant daardie aand meer as een skoot in die studeerkamer
14
afgevuur het nie. Inteendeel, kaptein Wolmarans, 'n deskundige op die gebied
van vuurwapens en ballistiek, het getuig dat die pistool
alleen twee patrone
neem en dat slegs die patroon in die onderste van die twee lope afgevuur
was.
Dit is die appellant se getuienis dat die oorledene geval het waar hy
gestaan het. Volgens haar het hy probeer om weer orent te kom,
maar het hy
teruggeval. Daar het bloed by sy mond uitgekom en sy oë was glasig gewees.
Die appellant sê sy het gedink
hy is dood. Sy het besef sy het hom
doodgeskiet en dit het deur haar gedagtes geflits dat haar kinders van haar
weggeneem gaan word.
Sy beweer dat sy die pistool in die oorledene se hand
gedruk het. Die pistool is die volgende dag in sy bebloede hand gevind, maar
daar was geen bloed aan die pistool nie, wat daarop dui dat die pistool moontlik
op 'n later stadium in die oorledene se hand geplaas
is. Sy getuig dat sy
geweldig geskok was en baie gehuil het. Hoewel sy dit nie kan onthou nie,
aanvaar sy dat sy daardie nag h brief
geskryf het waarin sy voorgee dat die
15
oorledene selfmoord gepleeg het en waaruit blyk dat sy self ook selfmoord
beoog het. Sy het trouens die volgende more volhard met
die bewering dat die
oorledene selfmoord gepleeg het. Later die dag het sy egter toegegee dat sy die
oorledene geskiet het, en het
sy ook 'n verklaring voor 'n landdros afgelê
waarin sy dit erken het.
Die appellant se get uienis dat haar vroeere afskrikskoot deur die
slaapkamerdeur wel die oorledene
tydelik van aanrandings op haar weerhou het, is deur die hof
a guo
aanvaar. Die hof
a quo
het verder as redelik moontlik
waar aanvaar dat sy op 13 Januarie 1988 weereens die oogmerk
gehad het om die oorledene deur middel van 'n pistoolskoot af
te skirk. Haar weergawe dat sy die linker boonste hoek van
die venster
skuins agter die oorledene wou stukkend skiet om
hom skrik te maak, is
eweneens deur die hof
a quo
as redelik
moontlik waar aanvaar. Die
appellant se verdere getuienis
dat sy nie die moontlikheid voorsien het dat
sy die oorledene
kon raakskiet nie, is egter nie deur die hof
a quo
aanvaar
16
nie. Daar is bevind dat sy wel daardie moontlikheid voorsien het. Die hof a
quo het in hierdie verband op vyf "objektiewe faktore
en feite" gesteun wat soos
volg saamgevat kan word:
1. Die appellant het binne die beperkte ruimte van die studeerkamer op kort
afstand 'n skoot afgevuur wat minder as 'n meter van
die oorledene verby sou
gegaan het as dit die beoogde baan gevolg het.
2. Die appellant het geen voorligting in die gebruik van vuurwapens ontvang nie
en sy was gevaarlik onkundig omtrent die gebruik
daarvan.
3. 'n Vuurwapen is 'n uiters gevaarlike wapen wat baie oordeelkundig en
versigtig hanteer moet word.
4. Volgens die getuienis van kaptein Wolmarans, die gemelde deskundige op die
gebied van vuurwapens en ballistiek, skiet 'n handwapen
met 'n korter loop
minder akkuraat as een met 'n langer
loop.
5.
Dit is die getuienis van kaptein Wolmarans
dat
17
veral 'n onervare skut die neiging het om sy oë toe
te
knyp en sy kop weg te draai as hy 'n skoot
afvuur, wat dan die rigting waarin
die skoot
afgevuur word, kan
beïnvloed.
"Opsommend", het die
geleerde verhoorregter bevind,
"kom voormelde daarop neer dat die beskuldigde wat gevaarlik onkundig is omtrent
die gebruik van 'n vuurwapen, 'n dodelik gevaarlike
wapen op kort afstand en
gevaarlik na aan oorledene afvuur, waaruit die noodwendige en enigste afleiding
gemaak moet word, naamlik
dat beskuldigde, subjektief beoordeel, voorsien het
dat sy in die gegewe feitekompleks oorledene sou tref en dood en sy haar daarmee
versoen het toe sy die sneller van die vuurwapen getrek het."
Na my mening kan daar geen nadelige
afleiding teen
die appellant gemaak word omdat sy die skoot op kort afstand
afgevuur het
nie. Die feit dat die appellant op kort afstand
na die venster geskiet het,
het myns insiens veel minder
gevaar vir die oorledene ingehou as wanneer sy
dieselfde
skoot op langer afstand sou afgevuur het. As sy nog nader
aan
die oorledene gestaan het toe sy die skoot afgevuur het,
sou sy hom waarskynlik heeltemal misgeskiet het. Dit blyk
18
wel dat die appellant onder die omstandighede te naby aan die oorledene
probeer verby skiet het. Na my mening was haar optrede gevolglik
nalatig, veral
in die lig van die feit dat sy 'n onervare skut was wat nooit enige voorligting
of onderrig in die hantering van vuurwapens
ontvang het nie. Dit volg egter nie
dat die appellant ook subjektief voorsien het dat sy die oorledene moontlik kon
tref nie. Haar
enigste ondervinding met 'n vuurwapen was die een skoot wat sy
voorheen met dieselfde pistool deur die slaapkamerdeur geskiet het,
en daardie
skoot het die slaapkamerdeur getref aan die onderkant waar sy gemik het. Volgens
die appellant se subjektiewe ervaring
het die pistool dus geskiet waar sy gemik
het.
Dit blyk nie uit die getuienis dat die appellant enigsins daarvan bewus
was dat 'n handwapen met 'n kort loop minder akkuraat as een
met 'n lang loop
skiet nie. Dit is sekerlik nie algemene kennis nie, en na my mening kan hierdie
deskundige getuienis van Wolmarans
nie in aanmerking geneem
19
word by die bepaling van wat die appellant inderdaad subjektief voorsien het
nie. Dieselfde geld vir kaptein Wolmarans se getuienis
dat 'n onervare skut
geneig is om sy oe toe te knyp en sy kop weg te draai wanneer hy h skoot aftrek,
en dat dit die koers van die
skoot kan beïnvloed. Ook wat hierdie aspek
betref, is daar geen getuienis dat die appellant van so h gevaar bewus was nie.
Myns
insiens is dit ook nie iets wat elke leek sal weet nie. Die deskundige
getuienis van Wolmarans is egter in h ander opsig van belang.
Dit dien as
moontlike verduideliking waarom die skoot wat die appellant op 13 Januarie 1988
afgevuur het, nie getref het waar sy
gemik het nie.
Die bevinding van die hof
a guo
dat die appellant inderdaad subjektief
die gevolge van haar optrede voorsien het, vind volgens die hof
a quo
ook
steun in haar gedrag ná die voorval. Na my oordeel regverdig haar optrede
ná die gebeure nie so 'n nadelige afleiding
nie - beslis nie as enigste
redelike afleiding nie. Die hof
a quo
het bevind dat
20
as die appellant die oorledene bloot wou skrikmaak, en hom toe per ongeluk
raakgeskiet het, dit verwag kon word dat sy hom te hulp
sou gesnel het en ook
hulp sou ontbied het. Volgens die appellant se getuienis het sy egter geglo dat
die oorledene reeds dood was.
Onder daardie omstandighede was daar dus niks wat
sy of enigiemand anders verder vir die oorlede kon gedoen het nie. Haar
getuienis
dat die oorledene gesterf het kort nadat hy geskiet is, is ook nie
noodwendig in stryd met die mediese getuienis nie. Volgens die
getuienis van dr
Saayman is dit wel moontlik dat die oorledene binne 'n minuut of twee na die
skoot kon gesterf het. Daarbenewens
is daar geen getuienis op grond waarvan dit
bevind kan word dat die appellant nie eerlikwaar geglo het dat die oorledene
dood was
nie.
Die feit dat die appellant aanvanklik voorgegee het dat die
oorledene selfmoord gepleeg het, regverdig wel verskeie moontlike afleidings,
onder andere die afleiding wat die hof
a quo
gemaak het dat sy inderdaad
die moontlikheid
21
van die oorledene se dood voorsien het. Na my oordeel is dit egter nie die
enigste redelike afleiding wat daar in die omstandighede
gemaak kan word nie.
Dit is eweseer verenigbaar met die appellant se weergawe dat sy die oorledene
per ongeluk doodgeskiet het. Haar
irrasionele optrede na die skoot is myns
insiens verklaarbaar in die lig van al die omstandighede. Daardie optrede is ook
bestaanbaar
met haar weergawe van 'n ongeluk. Op haar weergawe moes die dood van
die oorledene as 'n groot skok vir haar gekom het, en dit is
verstaanbaar dat sy
paniekerig opgetree het. Sy het onmiddellik besef dat die oorledene se dood
ernstige probleme vir haar kan meebring,
selfs al was dit 'n ongeluk, maar as
leek het sy nie geweet wat die gevolge presies sou wees nie. Soos dit later
geblyk het, het
die hof
a quo
haar inderdaad aan moord skuldig bevind. Sy
het gevrees dat haar kinders van haar weggeneem sal word en sy wou dit ten alle
koste
verhoed. Sy was moeg en uitgeput as gevolg van 'n gebrek aan slaap die
vorige nag en sy het klaarblyklik nie helder
22
gedink nie. Dit blyk byvoorbeeld uit haar ondeurdagte optrede toe sy die skyn
van selfmoord in die studeerkamer probeer skep het.
Sy het die pistool in 'n
heeltemal onnatuurlike posisie in die oorledene se hand geplaas, en op 'n
stadium toe die bloed in sy hand
reeds so droog was dat dit vir enigeen duidelik
moes gewees het dat hy nie selfmoord met daardie pistool kon gepleeg het nie.
Daarna
het sy die deur van die studeerkamer van buite gesluit, wat glad nie
inpas by 'n beweerde selfmoord binne die studeerkamer nie. Die
onsamehangende
brief wat die appellant gedurende die nag geskryf het, toon trouens dat sy
daardie nag self oorweeg het om selfmoord
te pleeg. Na my oordeel is die
appellant se onbesonne optrede nadat sy die oorledene geskiet het nie noodwendig
strydig met haar
weergawe dat sy die oorledene per ongeluk doodgeskiet het
nie.
In die lig van al die getuienis het die staat myns insiens nie bo redelike
twyfel bewys dat die appellant die nodige opset by moontlikheidsbewussyn
gehad
het nie. Die
23
afleiding van
dolus eventualis
wat die hof
a quo
gemaak het, is
na my oordeel nie die enigste redelike afleiding van al die bewese feite nie.
Die hof
a quo
het derhalwe fouteer om te bevind dat die staat
dolus
eventualis
bewys het. Na my oordeel moes die verhoorhof bevind het dat die
appellant die oorledene nalatiglik gedood het. Die skuldigbevinding
aan moord
moet gevolglik tersyde gestel word en vervang word met een van strafbare
mansiag.
Waar die appellant nou nie meer aan moord nie, maar aan die minder
ernstige misdryf van strafbare manslag skuldig is, moet haar vonnis
ook in
heroorweging geneem word. Die hof
a quo
het aanvaar dat die appellant nie
weer 'n soortgelyke misdaad sai pleeg nie en dat gevangenisstraf nie nodig is
vir die rehabilitasie
van die appeilant nie. Die hof
a quo
het egter
bevind dat die erns van die misdaad, die belange van die gemeenskap en die
oogmerk van afskrikking van andere wel vereis
dat sy 'n termyn van
gevangenisstraf moet uitdien. Waar die appellant nou nie langer aan moord
skuldig
24
is nie, het daardie oorwegings egter veel van hulle krag verloor. Indien al
die relevante faktore en die oogmerke by strafoplegging
in ag geneem word, is ek
van oordeel dat 'n termyn van effektiewe gevangenisstraf nie die gepaste vonnis
sal wees nie. Die persoonlike
omstandighede van die appellant speel uit die aard
van die saak ook 'n rol in dié verband. Sy was 35 jaar oud toe sy die
misdryf
gepleeg het. Sy het geen vorige veroordelings gehad nie. Die
appéllant is 'n opgeleide onderwyseres wat net voor die dood
van die
oorledene 'n meriete toekenning ontvang het. Sy is die moeder van twee jong
kindertjies wat van haar afhanklik is. Die hof
a quo
het ook bevind dat
die appellant opregte berou het. Sy het sedert die gebeure klaarblyklik self
heelwat lyding deurgemaak.
Getuienis wat die appellant voor oplegging van vonnis aan die hof
a
quo
voorgelê het, het aangetoon dat dit noodsaaklik is dat die
appellant psigoterapeutiese behandeling ondergaan. Dit blyk dat
die appellant
direk na
25
die gebeure in Januarie 1988 vir drie weke lank behandeling vir angsneurose
in 'n kliniek in Pretoria ontvang het. Sy is later in
1988 as gevolg van
depressie in 'n ander kliniek in Pretoria opgeneem en behandel. Dr Fourie, 'n
kliniese sielkundige en mede-professor
in sielkunde aan UNISA, het getuig dat
die appellant 'n sterk neiging tot sogenaamde reaktiewe gedrag openbaar. Dit is
gedrag wat
volgens dr Fourie volg op die inisierende aksie van 'n ander persoon;
gedrag wat uit die reaktiewe aard daarvan selfs konfronterend
en aggressief kan
wees, maar wat ook tot depressie kan lei. Dr Fourie het getuig dat dit
noodsaaklik is dat die appellant deskundige
behandeling vir haar reaktiewe
gedrag ontvang. Dit sal volgens hom ook verhoed dat die appellant moontlik in
die toekoms weer in
'n soortgelyke situasie beland as waarin sy haar tydens haar
huwelik met die oorledene bevind het. Ons is meegedeel dat die appellant,
hangende die appèl, wel 'n program van psigoterapie onder leiding van dr
Fourie gevolg het, maar dat dit halfpad onderbreek
is en nog nie voltooi is nie.
Intussen het die appellant as gevolg van
26
werksomstandighede na Jacobsdal verhuis waar sy tans onderwys gee. Na my
mening moet die appellant verdere psigoterapeutiese behandeling
ontvang, en in
die besondere omstandighede van hierdie saak behoort die behandeling en die
behoorlike voltooiing daarvan as opskortingsvoorwaardes
gestel te word. Die
appellant se advokaat het ons meegedeel dat mev M M Cronje, 'n kliniese
sielkundige van Kimberley, bereid is
om toe te sien tot die psigoterapeutiese
behandeling van die appellant.
Die appellant se appèl teen haar skuldigbevinding en vonnis word
gevolglik toegestaan. Die skuldigbevinding en vonnis van die
hof
a quo
word tersyde gestel en met die volgende vervang:
1. Die beskuldigde word skuldig bevind aan strafbare manslag.
2. Die beskuldigde word gevonnis tot drie (3) jaar gevangenisstraf wat in die
geheel opgeskort word vir 'n "tydperk van vyf (5) jaar
op die volgende
voorwaardes:
(a) dat die beskuldigde nie skuldig
bevind word
aan 'n misdaad, gepleeg gedurende die tydperk van opskorting, waarvan geweld
teen 'n ander persoon 'n element is en waarvoor gevangenisstraf
sonder die keuse
van 'n boete opgelê word nie; en
27
(b) (i) dat die beskuldigde haar binne een
maand na
lewering van hierdie uitspraak
by mev M M Cronje, kliniese sielkundige
van
Kimberley, vir psigoterapeutiese
behandeling aanmeld; en
(ii) dat die
beskuldigde haar aan die
behandeling wat deur mev Cronje
voorgeskryf mag
word, onderwerp; en
(iii) dat die beskuldigde tot bevrediging van
mev
Cronje volhou met die behandeling vir
'n tydperk van minstens een jaar, of
vir
sodanige langer tydperk as wat mev Cronje
mag voorskryf.
3. Mev
Cronje word gelas om driemaandelikse
vorderingsverslae met betrekking tot
die
beskuldigde se psigoterapeutiese behandeling aan
die Griffier van die
Hooggeregshof (Transvaalse
Provinsiale Afdeling), Paleis van
Justisie,
Pretoria, voor te lê, en om die Griffier
onmiddellik in
kennis te stel indien die
beskuldigde sou versuim om te voldoen aan
enigeen
van die voorwaardes gestel in paragraaf 2(b).
F H GROSSKOPF AR.
JOUBERT AR
PREISS Wn AR Stem saam