About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1990
>>
[1990] ZASCA 162
|
|
S v Ngcobo en 'n Ander (149/90) [1990] ZASCA 162 (30 November 1990)
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID AFRIKA
APPÉLAFDELING
In die saak tussen:
ELLIOT NGCOBO
Eerste Appellant
ELPHIUS NGCOBO
Tweede Appellant
en
DIE STAAT
Respondent
Coram
: JOUBERT Wn HR et STEYN, NIENABER ARR.
D
atum van verhoor
: 23 November 1990
Datum gelewer
: 30 November 1990
UITSPRAAK JOUBERT
Wn HR:
/Eerste ....
2
Eerste Appellant ("Elliot") en tweede Appellant ("Elphius") is
in die Transvaalse Provinsiale Afdeling deur HARTZENBERG R en twee
assesore aan
verskeie aanklagte skuldig bevind waarop hul onskuldig gepleit het.
Aanklag
1
het betrekking op die verkragting van die klaagster Beauty Nkele
("Beauty") die aand van Saterdag 6 Februarie 1988 te Marikana in
die distrik
Rustenburg. Elphius is onskuldig bevind terwyl Elliot wat skuldig bevind is 'n
vonnis van 10 jaar gevangenisstraf opgelê
is.
Aanklag 2
dui op die
moord van die oorledene Elias Qhude gedurende die nag van 6 Februarie 1988 te
Marikana. Beide appellante is hieraan skuldig
bevind. Elliot is die doodvonnis
opgelê terwyl Elphius tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis is. Volgens
aanklag 3
is die oorledene Ben Bogapi ("Skelm") die nag van 6 Februarie
1988 te Marikana vermoor. Albei appellante is hieraan skuldig bevind.
Hul
vonnisse is presies dieselfde as t.o.v. aanklag
/3.....
3
2.
Aanklag 4
dui op 'n poging om Stephen Moumakwe
("Stephen")
gedurende die nag van 6 Februarie 1988 te Marikana te
vermoor.
Beide appellante is hieraan skuldig bevind. Elkeen is
4 jaar
gevangenisstraf opgelê. Elliot se vonnisse van
gevangenisstraf is gelas
om saam te loop. In Elphius se
geval is gelas dat vier jaar van die vonnis op
aanklag 3 saamloop
met die vonnis op aanklag 2 terwyl die vonnis op aanklag
4
met die vonnis op aanklag 2 saamloop sodat hy tot 20 jaar
effektiewe
gevangenisstraf gevonnis is. Spesiale verlof
is in terme van art 316(8)(c) van die Strafproseswet no 51
van 1977 aan die appellante verleen om na hierdie Hof in hoër
beroep teen hul skuldigbevindings en vonnisse te kom. In
die hof
a quo
is na Elphius as Beskuldigde 1 en na Elliot
as Beskuldige 2 verwys.
Marikana is blykbaar 'n klein dorp met twee besigheidskomplekse. Dit het
straatligte. Te oordeel
/4....
4
aan die swart getuies wat vir die Staat getuig het, wil dit
voorkom asof die plaaslike swartbevolking oorwegend Tswanas is terwyl
sommiges
Xhosa magtig is. Die appellante wat neefs is, is Zoeloes. Hulle het gedurende
Januarie 1988 vir dieselfde werkgewer in Marikana
kom werk. Hulle het in die
werkswinkel van hul werksplek by die ou koöperasie-store gewoon.
Wat betref die getuienis oor die meriete van die aanklagte wat deur die Staat
aangevoer is, kan die hooftrekke daarvan soos volg gestel
word.
Volgens Beauty het sy en die 14 jarige Liza Njana ("Liza") Saterdagaand 6
Februarie 1988 omstreeks 19h20, toe hul vanaf die winkels
in Marikana in die
straat geloop het en in die omgewing van 'n skrootwerf was, bemerk dat hulle
deur twee swart mans van agter genader
word. Die een was skraal (Elliot) en die
ander een was dikkerig (Elphius).
/5.....
5
Hierdie twee mans was onbekend aan die twee meisies.
Wat
opvallend omtrent die twee mans was, was dat hul bolywe kaal
was omdat
hul hemde om hul koppe gedraai was om hul gesigte
te verberg. Die twee mans het Zoeloe met hulle gepraat.
Beauty kon Zoeloe verstaan maar nie praat nie. Die skraal
man het sy
aandag op haar toegespits om geslagsverkeer teen
vergoeding met haar te
hê. Beauty het geweier en ook beweer
dat sy besig was om te menstrueer. Intussen het Liza
daarin geslaag om weg te hardloop van die dikkerige man wat
toenadering tot haar gesoek het. Daarna het die dikkerige
man teruggekeer na Beauty waar die skraal man 'n panga (Bewysstuk
1) teen haar rug gedruk het om haar te dwing om na 'n bos
te loop. In die bos het die skraal man teen haar wil met
haar gemeenskap gehad terwyl hy sy hemp afgehaal het en dit
op haar gesig gegooi het. Nadat hy haar verkrag het, het
hy die dikkerige man nader geroep om ook met haar gemeenskap
/6....
6
te hê. Die dikkerige man het egter geweier. Die skraal
man het haar vir 'n tweede keer verkrag. Daarna het sy die twee mans
in die
maanlig sien staan met hul gesigte onbedek deur hul hemde. Sy kon sien die
skraal man het 'n skraal gesig en 'n regop neus.
Die skraal man se hemp was 'n
bruin en "fawn" "skipper" met 'n V-nek. Sy het gehoor die twee mans praat met
mekaar en sê "Vandag
maak ons die hond dood".
Sy het toe opgespring en weggehardloop. Volgens die kerk se horlosie was dit
toe 23h20.
Sondagoggend 7 Februarie 1988 het dr Smit, die distriksgeneesheer, Beauty
ondersoek. Sy was besig om te menstrueer en daarom is geen
vaginale smere van
haar geneem nie. Hy kon geen sigbare aanduidings van geslagsverkeer vasstel nie.
Daar was wel veelvuldige krap
en kneuswonde aan die voorkante en laterale kante
van haar onderbene en bobene.
/7....
7
Liza het ook getuig. In haar getuienis het sy verskeie aspekte
van Beauty se getuienis bevestig behalwe oor die gebeure in die bos
nadat sy
weggehardloop het en sodoende van die toneel verdwyn het. Sy het die panga wat
die skraal man gehad het as Bewysstuk 1 uitgeken.
Tydens kruisondervraging het
sy erken dat sy nooit die gesig van Elliot daardie aand gesien het nie. Daar was
wel minder belangrike
teenstrydighede tussen haar getuienis en Beauty s'n
waarmee die Verhoorregter wel in sy uitspraak oor die meriete rekening gehou
het.
Sondagoggend 7 Februarie 1988 was Beauty en Liza in die kantoor van
speurdersersant Maleka, die ondersoek-beampte, by die polisiestasie
om hul
verklarings af te lê. Sersant Maleka het dit egter onderbreek om na die
winkelsentrums te gaan en toe hy terugkeer,
is die twee appellante na sy kantoor
gebring waar Beauty en Liza hulle gesien het. Beauty
/8....
8
het hulle herken as die twee vreemde mans wat hulle die vorige
aand teengekom het. Elliot sou haar verkrag het. Die jammerte van hierdie
onvoorsiene voorval was dat dit die hou van 'n uitkenningsparade verydel het
waar Beauty die geleentheid sou he om haar verkragter
uit te wys.
Omstreeks
01h00 van Sondag 7 Februarie 1988 het speurderkonstabel Venter vir sersant
Maleka by sy huis wakker gemaak. Hulle is toe
na die toneel waar hulle die lyk
van Elias Qhude wie se keel afgesny was, onder die straatligte aangetref het.
Die bloed was nog
vars. Volgens konstabel Venter was die toneel omtrent 200 m
vanaf die verblyfplek van die twee appellante. Hulle is toe terug huis
toe.
Nadat die son reeds op was, het hulle omstreeks 07h30 die lyk van Skelm naby die
spoorlyn gevind. Skelm se keel was ook afgesny.
Hierdie toneel was ongeveer 500
na 600 m ver van die ander moordtoneel waar Elias Qhude se
/9.....
9
lyk gelê het.
Terwyl sersant Maleka Sondag 7 Februarie
1988 besig was om Beauty en Liza se verklarings af te neem, het hy 'n
telefoniese oproep
ontvang. Na aanleiding daarvan is hy en verskeie
polisiemanne, insluitende konstabel Venter, na die verblyfplek van die twee
appellante.
Dit was omstreeks 13h00 en die appellante was besig om wors te
braai. Die polisie het die verblyfplek deursoek. Konstabel Venter
het daarin die
panga (Bewysstuk 1) in 'n gereedskapskas gevind. Om die panga was 'n nat stuk
papier gedraai. Volgens konstabel Venter
het die appellante beweer dat hulle nie
die panga ken nie. Sersant Maleka het getuig dat die appellante aan hom
verduidelik het dat
die panga aan hul werkgewer behoort. Die appellante is na
die polisiestasie vir ondervraging in aparte vangwaens geneem. Daarna is
hulle
in aparte selle in die polisiestasie aangehou.
/10.....
10
Stephen, op wie aanklag 4 betrekking het, was Saterdagaand 6
Februarie 1988 saam met Skelm toe hulle na 23h00 in Marikana gestap het.
Die
maan het helder geskyn. Hy het gesien twee mans hardloop skelmpies agter hulle.
Een van die mans het Skelm van agter op sy rug
gekap sodat Skelm op die grond
val. Die aanrander het 'n kaal bolyf gehad en sy hemp was om sy kop gedraai. Met
die panga (Bewysstuk
1) het die aanrander oor Skelm gebuk en hom 'n paar kappe
daarmee op sy keel en gesig toegedien. Daarna het hy Skelm se sakke deursoek
en
30 sigarette gevind. Intussen het die tweede man wat dikkerig was en 'n mes
gehad het, vir Stephen daarmee van agter gesteek op
sy rug toe hy vlug en tussen
bome weggekruip het. Die tweede man het 'n "skipper" met blou en wit strepe
gedra.
Maandagoggend 8 Februarie 1988 is 'n uitkenningsparade in 'n polisiesel gehou
waar o.a. Elliot en
/11.....
11
Elphius as verdagtes teenwoordig was. Stephen is na die
uitkenningsparade geneem deur sersant Maleka wat hom aangesê het om
die
persone uit te wys wat by die voorval die vorige aand betrokke was. Sersant
Maleka was nie by die uitkenningsparade teenwoordig
nie. Stephen het vir Elphius
uitgewys asook 'n ander persoon. Stephen het aan die polisie by die
uitkenningsparade gesê dat
Elphius hom beseer en gejaag het. Dit was aan
hom gestel as sou hy aan 'n polisiebeampte gesê het dat Elphius die moord
en
die verkragting gepleeg. het (soos speurdersersant Erasmus onder wie se bevel
die uitkeningsparade gehou is, op Bewysstuk "H" notuleer
het). Hy het ontken dat
hy van verkragting melding gemaak het. Solomon Mosetle wat as tolk by die
uitkenningsparade opgetree het,
het inderdaad getuig dat hy Stephen versoek het
om die persoon uit te wys wat hom beseer het.
Op Dinsdag 9 Februarie 1988 is Stephen
/12....
12
deur dr Smit ondersoek wat aan die lig gebring het dat
Stephen 'n steekwond onder sy linkerblad in die rug asook 'n snywond bokant
sy linkerheup gehad het.
Dr Abba het op 9 Februarie 1988 nadoodse ondersoeke
op die lyke van Elias Qhude en Skelm gedoen. In beide gevalle was die slagoffers
se kele en nekare afgesny op 'n wyse wat groot ooreenstemming met mekaar getoon
het. Hierdie wonde kon met 'n wapen soos die panga
(Bewysstuk 1) toegedien
gewees het. Die toediening van die wonde het die dood onmiddellik laat
intree.
Volgens die getuie Johannes Semagotle was hy en ander aangehoudenes saam met
Elliot in 'n polisiesel. Laasgenoemde het verduidelik
dat hy twee persone
Saterdagnag gedood het deur hulle af te slag. Een van die slagoffers is langs
die spoorlyn doodgemaak. Hy het
'n groot mes gebruik. Elliot se makker het een
slagoffer op sy rug gesteek maar
/13......
13
die slagoffer het weggehardloop. Elliot het Zoeloe gepraat toe
hy hierdie relaas gegee het.
Forensiese toetse wat op die panga (Bewysstuk 1)
gedoen is om vas te stel of daar mensbloed daarop was, was negatief.
Dit in
kort was die relevante getuienis waarop die Staat gesteun het.
Die appellante se getuienis was basies dieselfde. Saterdagmiddag 6 Februarie
1988 het hulle om 17h00 by hul verblyfplek saam met James
Zoeloe en 'n jongman
begin drink. Hulle het twee bottels Smirnoff en een bottel whisky gehad. James
Zoeloe en sy vrou het agter 'n
afskorting elders in die ou koöperasie-store
geslaap terwyl die jongman 'n kamer daar gehuur het. Om 20h00 het hulle gaan
slaap
nadat hulle twee bottels drank uitgedrink het. Laat in die nag is
Elliot
/14....
14
en Elphius gewek deur stemme van mense buitekant in die
straat. Hulle het ondersoek gaan instel en die lyk van 'n swartman (Elias
Qhude)
wie se keel afgesny is, naby hul verblyfplek sien lê. Hulle het toe weer
gaan slaap nadat die polisie per motorvoertuig
by die moordtoneel opgedaag het.
Sondag het hulle nie gewerk nie.
Volgens Elliot het twee wit mans wat by die
werkswinkel slaap gedurende Sondagoggend 7 Februarie 1988 daar opgedaag om 'n
gereedskapskas
af te laai en in hul verblyfplek te stoor. Daar het hulle ook 'n
swart sak met
'n panga gelaat. Op daardie stadium was Elphius by 'n waterkraan om 'n pot te
was en het hy nie die twee wit mans gesien nie.
Terwyl Elliot en Elphius besig was om buitekant die ou kooperasie-store wors
te braai en die laaste bottel drank te drink, het die
polisie opgedaag. Volgens
Elliot was 'n vrou en 'n seun saam met die polisie en het hulle
/15......
15
hom ultgewys as die persoon wat 'nh mes gehad het. Hy het
dit ontken. Die polisie neem Elliot na hul verblyfplek terwyl Elphius
buitekant aangehou is. In hul verblyfplek het die seun die panga
uit 'n sak
getrek en dit te voorskyn gebring. Elliot beweer toe teenoor sersant Maleka dat
dit nie hul panga was nie en dat die eienaar
van die panga dit kort vantevore
daar gebring het. Elliot het ook James Zoeloe uitgewys as die persoon met wie
hulle die vorige aand
gedrink het. Elliot is na 'n vangwa geneem. Daarna is
Elphius saam met die polisie hul verblyfplek binne.
Elphius het getuig dat
die polisie hom na sy verblyfplek geneem het waar sy besittings deursoek is. Die
polisie kon niks vind nie.
Hy is alleen in 'n ander vangwa na die polisiestasie
geneem. Eers by die polisiestasie het die polisie aan hom die panga getoon en
verwittig dat dit in sy verblyfplek gevind is. Hy het hulle vertel dat hy
/16....
16
geen kennis van die panga dra nie.
Maandagoggend 8
Februarie 1988 is Elphius en Elliot na sersant Maleka se kantoor gebring waar
die blanke eienaar van die panga erken
het dat dit sy panga was. Hulle is
dieselfde oggend na die uitkenningsparade in 'n polisiesel geneem. Hulle het
getuig dat hulle
Stephen buitekant die seldeur sien staan het by 'n paar meisies
wat in die sel in gekyk het en toe met Stephen gepraat het. Volgens
Elphius het
een van die meisies na hom gewys. Nadat die uitkenningsparade gehou is, is hulle
na sersant Maleka se kantoor geneem
sodat hul vingerafdrukke geneem kon word.
Daar het hulle Beauty vir die eerste keer gesien.
Sy het teenoor sersant
Maleka verklaar dat hulle die persone was. Sy het Elliot uitgewys as haar
verkragter wat 'n mes gehad het.
Die panga is toe te voorskyn gebring en Beauty
het beweer dat Elliot in besit van die panga was. Liza
/17.....
17
het volgens Elliot gesê nee dit was nie daardie panga
nie.
James Zoeloe het verhuis en kon nie opgespoor word om vir die
verdediging te getuig nie.
Op aandrang van die Verhoorhof het mnr Sturgeon
kom getuig. Hy is die appellante se werkgewer. Hy het die panga (Bewysstuk 1)
die
Woensdag voor Saterdag 6 Februarie 1988 gekoop om dit by sy werk i.v.m.
plofstof te gebruik om boomtakke mee af te kap. Hy het dit
in sy gereedskapskas
wat ongesluit was in die werkswinkel gehou waar die appellante geslaap het. Hy
het die appellante se aandag
op sy panga gevestig en hulle opdrag gegee om dit
goed op te pas. Nadat hy Saterdag 6 Februarie 1988 klaar gewerk het, het hy die
panga in sy gereedskapskas in die werkswinkel gelaat waar hy dit eers
Sondagoggend 7 Februarie 1988 gaan haal het om by 'n vleisbraai
te gebruik. Hy
het die panga saam met sy ander gereedskap omstreeks 12h00 daardie
/18....
18
Sondag na die werkswinkel teruggeneem. Hy het tydens
kruisondervraging erken dat die panga Saterdagaand vir die appellante beskikbaar
was.' Hierdie getuienis was verdoemend teenoor die appellante wat daarop gesteun
het dat die panga Saterdagaand in die besit van
sy eienaar sou gewees
het.
Die bewyslas het op die Staat gerus om bo redelike twyfel te bewys dat
die appellante skuldig is aan die pleging van die vier misdade
waarvan hulle
aangekla is. Tereg het die Verhoorhof die totaliteit van die getuienis in ag
geneem om sy bevinding oor die meriete
te maak ofskoon dit bewus was van die
feit dat sommige van die getuienis vatbaar vir kritiek was. Wat opvallend is en
nie aan blote
toeval gewyt kan word nie is die feit dat die daders se
modus
operandi
Saterdagaand 6 Februarie 1988 dieselfde was. Hulle het as 'n span
van twee opgetree by die misdaadtonele waarop aanklagte 1, 3 en
4 betrekking
het. Hulle het kaal bolywe gehad
/19.......
19
met hul hemde om hul koppe gedraai. Hulle was Zoeloesprekend.
Een was skraal (Elliot) en een was dikkerig (Elphius). Die skrale was
in besit
van die panga (Bewysstuk 1) waartoe die appellante daardie aand volgens mnr
Sturgeon, die eienaar daarvan, vrye toegang
gehad het. Die aanval op die
slagoffers was om hulle van agter te nader (aanklagte 1, 3 en 4). Volgens die
mediese getuienis was
die slagoffers in die twee moordaanklagte (2 en 3) se kele
op presies dieselfde wyse afgesny en kon die panga (Bewysstuk 1) die wapen
gewees het wat daarvoor gebruik is. Elphius is uitgewys deur Beauty terwyl
Stephen hom op die uitkenningsparade uitgewys het. Beauty
het Elliot as haar
verkragter geëien. Die tye en maanlig was genoegsaam om sy gesig na die
twee verkragtings waar te neem vir
identifikasie van hom, soos uit haar
getuienis blyk. Elliot het 'n uiters self-inkriminerende uiteensetting van sy
pleeg van die
twee moorde (aanklagte 2 en 3) aan Johannes
/20....
20
Semagotle vrywillig verstrek. Daarbenewens is daar die
leuenagtige getuienis van die appellante wat veral die uitkenningsparade en
die
beskikbaarheid van en toeganklikheid tot die panga betref.
Na my oordeel het
die Verhoorhof geen mistasting begaan by die evaluasie van die totaliteit van
die getuienis om te bevind dat Elliot
skuldig is op aanklag 1 en dat beide
Elliot en Elphius wat as 'n span met 'n gemeenskaplike doel opgetree het,
skuldig is op aanklagte
2, 3 en 4 nie. Hulle optrede was doelgerig en beplan wat
aanklagte 2, 3 en 4 betref d.w.s. hulle het
dolus directus
gehad.
Wat die meriete betref, kom ek derhalwe tot die slotsom dat die
skuldigbevindings van die appellante moet bly staan.
Adv
. Klein het, namens die appellante,
/21......
21
na my oordeel tereg nie die opgelegde gevangenisstrawwe
aangeveg nie.
Op 27 Julie 1990 is art 322 van die Strafproseswet no 51 van
1977 gewysig om aan hierdie Hof die bevoegdheid te verleen waarkragtens
hy 'n
doodvonnis kan tersyde stel indien hy self nie die doodvonnis sou opgelê
het nie en 'n straf oplê wat na sy oordeel
gepas is. Met inagneming van al
die omstandighede van die onderhawige geval gaan dit oor 'n opweeg van die
strafverswarende en die
strafversagten.de
omstandighede om tot 'n bevinding te geraak betreffende 'n gepaste vonnis.
Elliot was 22 jaar oud toe hy die twee moorde gepleeg het.
Sy skoolopleiding is
beperk tot standerd 2. Hy het 'n vaste diensbetrekking gehad. Wat inname van
drank betref, kon Beauty niks daarvan
by hom bemerk toe hy bo-op haar was nie.
Ook sersant Maleka kon geen tekens van drankinname by hom die volgende dag
bespeur nadat
die appellante
/22.....
22
die laaste bottel drank sou gedrink het nie. Hierteenoor
is
die strafverswarende faktore dat Elliot reeds selfstandig
sy eie lewe as
volwassene gevoer het. Hy het 'n vorige
veroordeling in 1986 vir roof
opgedoen waarby 'n panga (cane
knife) gebruik is. Sy motief was roof toe hy
Skelm vermoor
het. Hy het Skelm se sakke deursoek en 30 sigarette
gevind.
Hy het geen teken van berou getoon nie. Die twee moorde is beplan deur sy
slagoffers van agter te nader, en deur sy panga
te gebruik het hy hul met
dolus directus
gedood. Sy kanse op rehabilitasie is swak en in wese hoogs
spekulatief van aard. Dit is sterk te betwyfel of hy deur
'n langtermyn gevangenisstraf afgeskrik sal word om nie weer geweldsmisdade
te pleeg nie. Wat hier veral opval, is die gruwelike aard
van die wyse waarop hy
sy twee onskuldige slagoffers dieselfde aand voorgelê en op 'n uiters
wreedaardige wyse hul kele soos
diere met 'n panga afgesny het. Hierdie
/23......
23
twee aaklige gruweldade het hy koelbloedig gepleeg vir eie
gewin. 'n Verdere aspek is die gemeenskap se belang dat vreedsame lede
van die
publiek snags ongesteurd en met veiligheid in publieke strate moet kan loop.
Na my oordeel word die strafversagtende faktore by verre deur die
strafverswarende
faktore oortref. Met
inagneming daarvan, asook van al die omstandighede van die onderhawige geval, is
ek van mening dat hierdie twee
moorde weens hul grusaamheid en walglikheid as
uitsonderlik ernstig beskou moet word. Gevolglik is ek van oordeel dat die
doodstraf
t.o.v. elkeen van die twee skuldigbevindings aan moord die gepaste
straf is.
/24....
24
Die appellante se appelle word afgewys.
C P JOUBERT Wn HR.
STEYN AR
NIENABER AR Stem saam.