Minister Van Veiligheid En Sekuriteit en 'n ander v Geldenhuys (373/2002) [2003] ZASCA 90; [2003] 4 All SA 330 (SCA) (22 September 2003)

82 Reportability

Brief Summary

Delict — Police liability — Assault and failure to summon medical assistance — Plaintiff, Geldenhuys, sustained severe brain injuries while in police custody after being arrested for public drunkenness — Evidence suggested possible police assault or negligence in failing to provide timely medical care — Court found police liable for damages due to negligence in not ensuring Geldenhuys received medical attention sooner, resulting in permanent injury — Appeal by police against liability dismissed.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
2003
>>
[2003] ZASCA 90
|

|

Minister Van Veiligheid En Sekuriteit en 'n ander v Geldenhuys (373/2002) [2003] ZASCA 90; [2003] 4 All SA 330 (SCA); 2004 (1) SA 515 (SCA) (22 September 2003)

DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL
VAN SUID-AFRIKA
RAPPORTEERBAAR
Saaknommer
:  373/2002
In
die saak tussen :
DIE
MINISTER VAN VEILIGHEID
EN SEKURITEIT

EERSTE APPELLANT
DIE
NASIONALE KOMMISSARIS
VAN DIE SUID-AFRIKAANSE
POLISIEDIENS
TWEEDE APPELLANT
en
JOHN CHRISTOPHER GELDENHUYS
RESPONDENT
CORAM :           HARMS,
BRAND, CLOETE ARR, SOUTHWOOD en MLAMBO WND
ARR
DATUM :
5 SEPTEMBER 2003
GELEWER :        22 SEPTEMBER
2003
Deliktuele aanspreeklikheid van polisie op grond van
aanranding – alternatiewelik, versuim om mediese hulp te ontbied –
oorweging
van wederregtelikheid, nalatigheid en oorsaaklikheid –
kwantifiserig van skadevergoeding – beoordeling van deskundige en
leke
getuienis
_____________________________________________________
UITSPRAAK
­­­­­­­­_____________________________________________________
BRAND AR
/
BRAND AR
:
[1]     Op Saterdag, 26 Desember 1998 was sersant
John Stover ('Stover') verbonde aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens
te Gordonsbaai. Om ongeveer elfuur die aand en terwyl hy met
patrolliediens was, het hy gereageer op 'n klagte dat 'n dronk man
besig
was om 'n oorlas van homself te maak. Op die toneel het die
klaer homself as Du Toit voorgestel en die persoon wat die beweerde
oorsaak
van die ergenis was aan Stover uitgewys. Laasgenoemde, wat
later geblyk het die respondent, mnr John Geldenhuys ('Geldenhuys')
te
wees, het in die pad naby die voertuig wat hy, volgens Du Toit,
pas vantevore nog bestuur het, gelê. Du Toit se klagte was
juis
dat Geldenhuys sy voertuig bestuur het terwyl hy onder die invloed
van drank was en daarna met Du Toit skoor gesoek het. By
nadere
ondersoek het Stover vasgestel dat Geldenhuys sterk na drank ruik en
dat hy bewusteloos was. Stover het egter geen uitwendige
beserings
aan hom opgemerk nie.
[2]     Hierop het Stover besluit om Geldenhuys
op 'n aanklag van 'dronkenskap in die openbaar' te arresteer.
Hy het
hom met behulp van 'n omstander in die vangwa gelaai en na die
Gordonsbaai polisiestasie geneem waar hy in die selle geplaas
is. Dit
was toe so kwart voor twaalf die aand. Om kwart oor een die volgende
middag, dit is Sondag 27 Desember 1998, het Geldenhuys
se vriendin,
me van den Heever, met wie hy indertyd saamgewoon het, hom in die
polisiesel aangetref. Kort vantevore het 'n ambulans
wat deur die
polisie ontbied is, ook daar opgedaag. Die ambulansman was mnr Lee
Brett ('Brett'). Sy beskrywing van die toestand waarin
Geldenhuys
aangetref is, is grotendeels deur me van den Heever beaam. Volgens
Brett het Geldenhuys op die sementvloer van die sel
in sy eie
ontlasting, urine en braaksel gelê. Hy was diep bewusteloos, sy
broek was om sy enkels en hy was feitlik nakend.
Hy het 'n blou oog
gehad en 'n swelling op sy voorkop. Brett het vermoed dat
Geldenhuys breinbeserings opgedoen het en hy het
hom na die hospitaal
gehaas.
[3]     Later dieselfde agtermiddag nog is
Geldenhuys deur 'n neurochirurg, dr Wessels, geopereer. Die doel van
die operasie was om die bloeding wat tussen die brein en die
breinvlies ontstaan het te dreineer en sodoende die swelling van en
drukking op die brein te verlig, welke toestand Geldenhuys se lewe
bedreig het. Tydens die operasie het dr Wessels waargeneem dat
Geldenhuys 'n kraak in sy skedel opgedoen het en dat die
breinbloeding deur laserasies of skeure (onder meer aan beide
frontale lobbe)
van sy brein veroorsaak is.
[4]     Die operasie het Geldenhuys se lewe
gered. Dit kon egter nie die breinskade wat reeds ingetree het,
herstel
nie. Hierdie skade is van permanente aard. Dit het Geldenhuys
onder meer fisies en verstandelik ongeskik gelaat om sy vorige beroep
as motorverkoopsman – en vir alle praktiese doeleindes, enige ander
beroep – sinvol te beoefen.
[5]     Hieruit voortspruitend het Geldenhuys 'n
aksie teen die appellante, synde die Minister van Veiligheid
en
Sekuriteit en die Nasionale Kommissaris van die Suid-Afrikaanse
Polisiediens, na wie ek kollektief as 'die polisie' sal verwys,
in
die Kaapse Provinsiale Afdeling ingestel vir die skade wat hy as
gevolg van sy breinbeserings gely het. Aan die einde van die
verhoor
het die Hof
a quo
(Davis R) vir Geldenhuys gedeeltelik gelyk
gegee. Teen hierdie beslissing is daar 'n appèl deur die
polisie, sowel as 'n teenappèl
deur Geldenhuys, aangeteken.
Die uitspraak van Davis R is intussen gerapporteer:
Geldenhuys v
The Minister of Safety and Security and Another
2002 (4) SA 719
(C).
[6]     Geldenhuys het geen herinnering oor hoe
hy beseer is nie. Weens die gevolge van sy breinbeserings was
hy in
elk geval nie in staat om te getuig nie. Daar was ook geen direkte
getuienis oor die wyse waarop hy sy beserings opgedoen het
nie. Al
wat sy vriendin, me van den Heever, kon sê was dat hy rondom
halftien die aand van Saterdag 26 Desember 1998 hul woonplek
op sy
eie verlaat het om 'n plek, bekend as die Sports Café, waar
onder meer drank bedien is, te besoek en dat sy hom eers
weer die
Sondagmiddag in sy bewustelose toestand in die polisieselle aangetref
het. Nietemin is namens Geldenhuys aangevoer dat die
omringende
getuienis een van twee alternatiewe gronde vir sy eis teen die
polisie bewys. Eerstens op die basis dat sy beserings die
gevolg was
van 'n aanranding op hom deur een of meer polisiebeampte terwyl hy in
aanhouding was of op grond van 'n nalatige versuim
van die
polisiebeamptes deurdat hulle nie op 'n vroeër stadium mediese
hulp vir hom ingeroep het nie.
[7]     Drie van die polisiebeamptes wat by die
Gordonsbaai polisiestasie aan diens was gedurende die tydperk
van
Geldenhuys se aanhouding is namens die polisie as getuies geroep.
Inspekteur Hester de Bruyn ('De Bruyn') was saam met Stover
by die
polisiestasie aan diens toe Geldenhuys die nag in die selle opgeneem
is. Sersant Nicolaas Cronje ('Cronje') het om halfsewe
die volgende
oggend by hulle oorgeneem en was aan diens toe Geldenhuys die middag
met die ambulans na die hospitaal vertrek het.
Al drie het ontken dat
hulle vir Geldenhuys aangerand het of dat hy in hulle teenwoordigheid
aangerand is. Hierdie getuienis, wat
in hoof aangebied is, is nie in
geskil geplaas nie. (Vgl
President of the Republic of South Africa
and Others v South African Rugby Football Union and Others
2000
(1) SA 1
(CC) par [58] – [63]. Terselfdertyd was dit hulle
getuienis dat Geldenhuys alleen in 'n sel aangehou is; dat die
sleutel van die
seldeur deurentyd in een van hulle se besit was en
dat niemand behalwe hulle drie oor die hele tydperk van Geldenhuys se
aanhouding
toegang tot hom gehad het nie. Die afleiding wat die
polisie die Hof vra om hieruit te maak, is dat Geldenhuys sy
beserings voor
arrestasie moes opgedoen het. Aangaande Geldenhuys se
toestand tydens sy aanhouding het Stover getuig dat toe hy van die
toneel van
arrestasie by die polisiestasie aangekom het, Geldenhuys
nie alleen kon stap nie. Gevolglik het hy die hulp van twee ander
polisiebeamptes,
Laver en Kruger, ingeroep om hom in die sel te
plaas. Stover het nie self gehoor dat Geldenhuys enigiets sê
nie. Die ander
twee polisiebeamptes – wat nie getuig het nie –
het Stover egter meegedeel dat hy op onduidelike wyse gemompel het
dat sy van
'Geldenhuys' of 'Gildenhuys' was. Hulle kon geen verdere
besonderhede uit hom kry nie. Daarom is hy, volgens die polisiestasie
se
voorvalleboek, in die selle opgeneem as 'Koos' Geldenhuys terwyl
sy voornaam eintlik 'John' is.
[8]     Terwyl De Bruyn saam met Stover aan diens
was, was sy in bevel van die aanklagkantoor. Aangesien Geldenhuys
direk na die sel geneem is, het De Bruyn hom nie op daardie stadium
gesien nie. Stover het egter aan haar gerapporteer dat Geldenhuys
weens dronkenskap gearresteer is, asook dat hy 'vry van beserings'
is. Sy het gevolglik 'n inskrywing te dien effekte in die stasie
se
voorvalleboek gemaak. Die inligting dat Geldenhuys dronk was, het
gestrook met 'n verdere mededeling wat sy van Du Toit ontvang
het wat
min of meer dieselfde tyd 'n klagte by haar in die aanklagkantoor kom
lê het. Du Toit het haar ook vertel dat Geldenhuys
met hom
skoor sou gesoek het en dat die twee van hulle in 'n bakleiery
betrokke was waartydens Geldenhuys omgestamp is en geval het.
[9] As deel van haar pligte het De Bruyn daarna uurliks, op die uur,
besoek afgelê by die twee selle waarin aangehoudenes was.
Geldenhuys was alleen in die een sel terwyl daar twee mans in die
ander was. Tydens elkeen van haar besoeke aan Geldenhuys se sel
het
dit gelyk of hy lê en slaap. Sy het egter nie by een van die
twee selle ingegaan nie, maar vanuit die voorportaal, wat
toegang tot
die selle verleen het, deur die traliedeure van die selle na
Geldenhuys en die twee aangehoudenes in die ander sel gekyk.
Om
veiligheidsredes wou sy as vrou nie alleen by die selle waar mans
aangehou word, ingaan nie. Ten einde die aangehoudenes nie onnodig
in
hul slaap te steur nie, het sy nie die ligte in die selle aangeskakel
nie maar haar waarnemings gedoen in die lig wat vanuit die
voorportaal by die selle ingeskyn het.
[10]     In die voorvalleboek is daar, op
Sondagoggend 27 Desember, teenoor die tyd 05:30, in De Bruyn se
handskrif,
'n inskrywing gemaak waarvolgens Geldenhuys vrygelaat sou
gewees het tesame met 'n nota dat hy 'vry van beserings' sou wees.
Onmiddellik
daarna is daar egter 'n verdere inskrywing teenoor 05:40,
weer eens in De Bruyn se handskrif, wat aandui dat die vorige
inskrywing
teenoor 05:30 'gekanselleer' is omdat 'die prisonier
steeds onder invloed' was. De Bruyn se verduideliking vir hierdie
twee inskrywings
was dat sy rondom halfses vir Stover na die selle
gestuur het om vir Geldenhuys vry te laat. Dit was ooreenskomstig die
algemene
gebruik om persone wat weens dronkenskap deur die nag
aangehou is, vry te laat wanneer die nagskof van diens gaan. Sy het
solank,
wat sy op daardie stadium verwag het die toepaslike
inskrywing sou wees, in die voorvalleboek gemaak. Stover het egter
teruggekom
van die selle en haar meegedeel dat Geldenhuys nie gereed
was vir vrylating nie, omdat hy steeds onder die invloed van drank
was.
Hierop het sy die verdere inskrywing wat die vorige inskrywing
kanselleer, gemaak.
[11]   Stover beaam dat hy om halfses gestuur is om vir
Geldenhuys vry te laat. In die sel het hy gepoog om vir Geldenhuys
te
laat opstaan, maar hy was 'ontsettend onvas op sy voete'. Dit, sê
Stover, het hom tot die slotsom laat kom dat Geldenhuys
nog dermate
onder invloed van drank was dat hy nie vrygelaat kon word nie. Hy het
Geldenhuys toe weer laat lê en hom met 'n
kombers toegemaak. By
hierdie geleentheid het Stover ook, volgens hom, vir die eerste keer
waargeneem dat Geldenhuys 'n blou oog
het. Hy het nie ooreenkomstig
staande orders 'n aantekening van hierdie besering in die
voorvalleboek laat maak nie omdat hy ondertussen
van De Bruyn verneem
het dat Geldenhuys vroeër die aand in 'n bakleiery met Du Toit
betrokke was wat dan die blou oog sou kon
verduidelik. Voorts het hy
hoegenaamd nie die blou oog as 'n aanduiding van enige inwendige
beserings beskou nie.
[12] Om sesuur het Stover en De Bruyn gesamentlik Geldenhuys se sel
besoek kort voordat hulle van diens sou gaan. Volgens Stover
het hy
by die sel ingegaan terwyl De Bruyn nog in die voorportaal was. Hy
het opgemerk dat, hoewel Geldenhuys tydens sy vorige besoek
om
halfses nog sy broek aangehad het, hy intussen van sy broek ontslae
geraak het. Gevolglik het Stover voorgestel dat De Bruyn buite
bly.
Daarop het Stover vir Geldenhuys weer met 'n kombers toegemaak en die
sel verlaat.
[13] Toe De Bruyn en Stover om halfsewe op Sondag 27 Desember 1998
van diens gegaan het, het Cronje by hulle oorgeneem. Soos De Bruyn
het Cronje ook uurliks, op die uur, selbesoek gedoen. Tydens sy
eerste besoek om agtuur het Geldenhuys op sy maag gelê en
slaap.
Cronje het hom probeer wakker skud, maar sonder sukses.
Volgens Cronje het hy aanvaar die man is nog onder die invloed van
drank,
omdat hy geweet het dat hy die vorige nag weens dronkenskap
gearresteer is. Daarna, sê Cronje, het hy by elkeen van sy
uurlikse
besoeke waargeneem dat Geldenhuys nog lê en slaap.
Tydens sy sesde besoek om eenuur die middag het Cronje weer eens
onsuksesvol
gepoog om vir Geldenhuys wakker te kry. Hierdie keer het
hy egter vir die eerste keer die man herken as John Geldenhuys met
wie hy
dikwels vantevore te doen gekry het. Hy het ook waargeneem dat
hy 'n swelling aan sy voorkop het, dat sy oog blou is en dat sy gesig
'n ongesonde persblou kleur het. Dit het hom laat besluit om die
oproep na die ambulansdiens te maak waarop Brett gereageer het.
[14] Volgens Cronje het hy by elkeen van sy besoeke vanaf agtuur die
oggend tot eenuur die middag vir Geldenhuys op 'n sementbank
in die
sel aangetref. Na sy skatting is die bank ongeveer 'n meter hoog.
Daarteenoor was Stover se getuienis dat hy aanvanklik vir
Geldenhuys
op die selvloer, waar Brett hom later aangetref het, laat lê
het, juis omdat hy bang was dat hy van die selbank
sou afrol. Oor hoe
Geldenhuys in die toestand waarin hy toe was op en van die bankie sou
gekom het, wou Cronje geen mening waag nie.
Nie een van die betrokke
polisiebeamptes het op enige stadium die ontlasting, urine en
braaksel waarin Brett vir Geldenhuys aangetref
het, in die sel
waargeneem nie.
[15] Davis R was nie beïndruk met die polisiegetuienis nie. Dit
blyk onder meer uit die volgende gedeelte van sy uitspraak (op
726G):
'When the police evidence is so examined, clear
credibility findings are justified against both inspectors De Bruyn
and Cronje. Further,
the evidence of Sergeant Stover was less than
satisfactory. None of the police witnesses came across confidently or
honestly.'
Ter
motivering van hierdie ongunstige geloofwaardigheids-bevindings
verwys die geleerde Verhoorregter onder meer na die versuim van
die
betrokke polisiebeamptes om staande orders na te kom en na die
onbeholpe manier waarop hulle die voorvalleboek en ander amptelike
dokumente voltooi het. Voorts vind hy dele van hulle getuienis
onwaarskynlik. So, byvoorbeeld, vind hy Stover se getuienis dat
Geldenhuys
teen halfses die Sondagoggend hoegenaamd sou kon opstaan –
hetsy onvas op sy voete, soos wat Stover getuig het, of nie – hoogs
onwaarskynlik. Nog minder waarskynlik vind hy Cronje se getuienis wat
daarop neerkom dat Geldenhuys na halfsewe die oggend op 'n
meter hoë
sementbankie moes geklim het en toe weer op sy eie daar moes afgeklim
het voordat Brett hom weer op die selvloer aangetref
het. Die
geleerde Verhoorregter het klaarblyklik nie al die polisiegetuienis
verwerp nie, maar maak geen pertinente bevinding oor
wat hy aanvaar
het en wat nie.
Soos aanstons sal blyk, lewer hierdie leemte
veral probleme op by die beoordeling van die deskundige getuienis.
Die eenvoudige waarheid
bly dat waar 'n deskundige se mening
grotendeels gefundeer is op feitewaarnemings deur ander, die gewig
wat daardie mening verdien,
ongeag die bekwaamheid van die deskundige
op sy vakgebied, afhang van die betroubaarheid van die
feitewaarnemings waarop dit rus.
As die betroubaarheid van die
feitebasis onseker is, kan daar nouliks enige gewig aan die
deskundige mening geheg word.
[16] Ten spyte van sy geloofwaardigheidsbevindings teen die
polisiegetuies, was Davis R nietemin van oordeel dat Geldenhuys nie
met
sy eis kan slaag op die basis dat dit
'n
polisiebeampte was wat hom aangerand het nie.
Die rede vir
hierdie bevinding blyk uit die volgende gedeelte van sy uitspraak
(725D-G):
'
No evidence was led to justify a finding, on a balance
of probabilities that the plaintiff was assaulted by the police. Mr
Heunis
, who appeared on behalf of plaintiff, submitted that
all the police officers who testified on behalf of defendant gave
evidence in
an unsatisfactory manner. Of these witnesses he contended
that the best was Sergeant Stover who testified that, when he
arrested
plaintiff, the latter was fully clothed, the clothing was in
a good state of repair and there was no visible injury. On this
basis,
Mr
Heunis
submitted, on the probabilities, that the
injuries sustained by the plaintiff to his knees, feet and the
tearing of his clothes must
have occurred after arrest. That is,
however, the high water mark of plaintiff's case, that the assault
was carried out by one or
other members of the police force. There is
no other evidence which could justify such a conclusion. None of the
evidence which was
led by plaintiff supported such a finding nor was
any of the evidence which was led by defendant even indicative of
such a conclusion.
In my view, plaintiff failed to discharge the
onus
insofar as the claim of assault by employees of defendant is
concerned.'
[17] In hierdie hof is egter namens Geldenhuys betoog dat die
getuienis waarna Davis R in die aangehaalde gedeelte verwys,
inderwaarheid
nie die 'high-water mark' van sy saak in hierdie
verband was, soos wat die Verhoorregter bevind het, nie. Die
hoogtepunt van sy saak,
so is namens Geldenhuys betoog, is inderdaad
te vinde in die getuienis van die gemelde dr Wessels. In hierdie
verband is veral gesteun
op die mening van dr Wessels dat Geldenhuys,
onmiddellik nadat hy sy breinbeserings opgedoen het, waarskynlik in
'n diep koma sou
verval het en daarna nie weer voor die operasie sy
bewussyn sou herwin nie. Hiervolgens sou Geldenhuys dus nie na die
impak teen
sy kop wat sy breinbeserings tot gevolg gehad het die
handelinge kon uitvoer wat deur die polisiegetuies aan hom toegedig
is nie.
So, byvoorbeeld, sê dr Wessels, sou hy verbaas wees
indien Geldenhuys, nadat hy sy breinbeserings opgedoen het, sy naam
sou
kon gemompel het. Wat nog minder waarskynlik is, sê hy, is
dat Geldenhuys gedurende die loop van die nag, selfs met die hulp
van
andere, sou kon opgestaan het of dat hy die volgende oggend op 'n
sementbankie, wat een meter hoog is, sou kon geklim het. In
hierdie
lig, so is namens Geldenhuys betoog, moet aanvaar word dat die impak
wat sy breinbeserings veroorsaak het, moes plaasgevind
het nadat hy
hierdie handelinge wat aan hom toegeskryf word, uitgevoer het.
Hieruit, so is voorts betoog, is die gevolgtrekking onafwendbaar
dat
Geldenhuys aangerand is nadat hy gearresteer is en terwyl hy in
aanhouding was. Inaggenome die feit dat Geldenhuys tydens sy
aanhouding slegs deur
polisiebeamptes bereik kon
word, moes dit noodwendig 'n polisiebeampte gewees het wat hom
aangerand het.
[18] Teenoor die getuienis van dr Wessels, wat die basis vorm van
Geldenhuys se voorafgaande argument, is daar egter die getuienis
van
dr Badenhorst, 'n neuroloog, wat namens die polisie as deskundige
getuie geroep is. Na dr Badenhorst se mening is 'n ander moontlike
verloop van gebeure die volgende: Geldenhuys kon aanvanklik sy
bewussyn verloor het; dit dan later weer herwin het waarna sy
toestand
gaandeweg weer sou versleg het. Ter stawing van hierdie
mening verduidelik dr Badenhorst dat die impak teen Geldenhuys se kop
en
die gevolglike breinbeserings as 't ware twee meganismes in
werking gestel het wat sy bewussyn sou beïnvloed. Eerstens was
daar
die primêre beserings van die brein, en veral die skeure
in die frontale lobbe daarvan, wat terselfdertyd 'n konkusiewe effek
kon hê. Van hierdie bewusteloosheid sou Geldenhuys later weer
kon herstel. Hoe lank hierdie herstelperiode kon wees, kan nie
met
enige mate van presiesheid aangedui word nie. Die tweede meganisme
wat deur die breinbeserings in werking gestel is, was sekondêr
tot die primêre, naamlik die breinbloeding as gevolg van die
skeure wat 'n drukking op die brein veroorsaak het en uiteindelik
deur chirurgie verlig moes word. Die bloeding op die brein, sê
dr Badenhorst, sou nie onmiddellike bewussynsverlies tot gevolg

nie. Dit sou eers intree wanneer die drukking op die brein wat, as
gevolg daarvan ontstaan het, die kritieke punt bereik.
Die
bewussynsverlies wat deur hierdie tweede meganisme veroorsaak is,
sou, volgens dr Badenhorst, bly voortbestaan totdat die drukking
op
die brein onder operasie verwyder is. Volgens hierdie konstruksie van
die moontlike verloop van gebeure sou minstens sommige van
die
handelinge wat deur die polisie aan Geldenhuys toegedig is, kon
plaasvind nadat hy sy breinbeserings opgedoen het. Hierdeur word
die
voorafgaande argument namens Geldenhuys dus van sy hele basis
ontneem.
[19] Nou is dit so dat Davis R met verwysing na 'n ander aspek van
die saak, naamlik dié van oorsaaklikheid, dr Wessels se
deskundige mening bo dié van dr Badenhorst verkies het. Ek kom
aanstons daarby terug. Vir die huidige is daar egter myns insiens
goeie rede waarom dr Badenhorst se mening nie minder gewig dra as dié
van dr Wessels nie. Dr Wessels het naamlik glad nie
in hoof oor
hierdie aspek getuig nie. Sy getuienis in dié verband is eers
deur vrae van die geleerde Verhoorregter, na afhandeling
van
kruisverhoor, ontlok en hy is klaarblyklik daardeur ietwat onkant
betrap. Die mening is ook nie in die opsomming van sy deskundige
getuienis of dié van dr Badenhorst wat ingevolge hofreël
36(9) geliasseer is, geopper nie. Gevolglik het dr Wessels nooit
enige geleentheid gehad om op dr Badenhorst se motivering vir sý
mening tot die teendeel te reageer nie. Nog minder het hy
geleentheid
gehad om dr Badenhorst se motivering behoorlik te oorweeg.
Daarteenoor het dr Badenhorst, wat heel aan die einde van
die verhoor
getuig het, heelwat tyd gehad om dr Wessels se mening en die
oorwegings wat dit ten grondslag lê, te oorweeg. Hy
het dan ook
in hoof daaroor getuig en is deeglik in kruisverhoor daaroor
ondervra.
[20] 'n Selfs groter probleem met die aanvaarding van die argument
onder bespreking is egter dat dit die maatstaf van dr Wessels
se
veronderstellings oor wat Geldenhuys in sy beseerde toestand sou kon
en nie sou kon doen nie, toepas op beweerde observasies deur
polisiegetuienis waaroor daar geen sekerheid bestaan of dit aanvaar
moet word of nie. Moet Stover se getuienis, byvoorbeeld, aanvaar
word
wanneer hy sê dat Geldenhuys na arrestasie sy naam kon mompel
of dat hy teen halfses die Sondagoggend kon staan? Kan Cronje
werklik, in die lig van alle ander getuienis, ernstig opgeneem word
wanneer hy beweer dat Geldenhuys nog gedurende die loop van die
Sondagoggend op 'n meter hoë sementbankie kon klim? Soos reeds
gesê, dui die Verhoorhof nie pertinent aan welke van die
polisie se waarnemings hy aanvaar het nie. Tog wil dit voorkom asof
die Hof juis daardie waarnemings waarop dr Wessels se mening
vir
doeleindes van die onderhawige argument gebaseer is, as hoogs
onwaarskynlik aangemerk het. Dit spreek eintlik vanself dat 'n
argument waarvan die feitebasis op sulke losse skroewe staan, nie
onderskryf kan word nie.
[21] Benewens die voorafgaande argument gebaseer op die deskundige
mening van dr Wessels, is Geldenhuys se saak dat hy deur die polisie
aangerand is hoofsaaklik daarop gebou dat sekere aspekte van hulle
getuienis deur die Verhoorhof as onbevredigend aangemerk is. Dit,
so
is betoog, regverdig die afleiding dat die polisie iets probeer
wegsteek wat lei tot die verdere afleiding dat dit wat hulle probeer
wegsteek, waarskynlik 'n aanranding uit eie geledere is. By
beoordeling van hierdie betoog moet in gedagte gehou word dat die
onderhawige
nie 'n geval is waar die aangehoudene volgens bewese
feite sy aanhouding vry van enige beserings begin het en dit toe in
'n beseerde
toestand
afgesluit
het nie. In so 'n
geval sou die afleiding, by gebreke aan 'n aanvaarbare verduideliking
vir sy beserings deur die polisie wat hom
aangehou het, geregverdig
wees, dat een van hulle waarskynlik die aanrander was. In die
onderhawige geval kan egter nie op grond
van die mediese getuienis
bevind word dat Geldenhuys sy breinbeserings na arrestasie opgedoen
het nie. Stover het wel getuig dat
hy geen uitwendige beserings by
Geldenhuys waargeneem het toe hy hom in die vangwa gelaai het nie.
Die twee mediese deskundiges was
dit egter met mekaar eens dat die
uitwendige tekens van Geldenhuys se beserings, synde 'n blou oog en
'n knop op sy voorkop, sigself
eers op 'n heelwat later stadium kon
manifesteer. In die omstandighede is Stover se waarneming, van geen
beserings by arrestasie
nie, dus neutraal in dié sin dat dit
geen bydrae lewer tot die kernvraag of Geldenhuys sy breinbeserings
voor of na arrestasie
opgedoen het nie. In hierdie lig kan blote
onbevredigende aspekte in die polisie se getuienis nie op sigself as
substituut vir enige
positiewe aanduiding dat een van hulle die
aanrander was, aanvaar word nie.
[22] Alles inaggenome het die Hof
a quo
dus myns insiens tereg
bevind dat Geldenhuys nie met die eerste grond van sy eis, wat op 'n
beweerde aanranding deur die polisie
self berus, kan slaag nie.
[23] Dit bring my dan by die alternatiewe been van Geldenhuys se saak
wat rus op 'n beweerde versuim aan die kant van die betrokke
polisiebeamptes om op 'n vroeër stadium mediese hulp vir hom in
te roep. Soos wat die Verhoorhof tereg aandui (727C e v)
kom
daar by die oorweging van hierdie basis, vir doeleindes van die
onderhawige, drie vereistes vir deliktuele aanspreeklikheid ter
sprake. Dit is: (a) onregmatigheid, (b) nalatigheid en (c)
oorsaaklikheid.
[24] Wat betref onregmatigheid moet in gedagte gehou word dat wat die
polisie onder hierdie hoof ten laste gelê word, neerkom
op 'n
late of versuim. Anders as by veroorsaking van fisiese skade deur 'n
positiewe dadigheid, waar onregmatigheid
prima facie
veronderstel word, is die uitgangspunt dat 'n late of versuim slegs
onregmatig is indien dit in stryd met 'n regsplig tot positiewe
optrede is. Onderliggend aan die uitgangspunt is die gedagte dat
niemand sy broer se hoeder is nie. Of so 'n regsplig tot positiewe
optrede bestaan, is afhanklik van 'n waardeoordeel (sien byvoorbeeld
Sea Harvest Corporation (Pty) Ltd and Another v Duncan Dock Cold
Storage (Pty) Ltd
2000 (1) SA 827
(SCA) par [19];
BOE Bank Ltd
v Ries
2002 (2) SA 39
(SCA) par [13]).
Hierdie waardeoordeel moet uiteraard nou, in die nuwe
konstitusionele bedeling, uitgeoefen word met inagneming van die
norme en waardes
wat in die Grondwet van die Republiek van
Suid-Afrika 108 van 1996 ('die Grondwet') onderskryf word. (Sien
byvoorbeeld
Carmichele v Minister of Safety and Security and
Another (Centre for Applied Legal Studies Intervening)
[2001] ZACC 22
;
2001 (4)
SA 938
(CC) par [43];
Olitzki Property Holdings v State Tender
Board and Another
2001 (3) SA 1247
(SCA) par [12]; M
inister of
Safety and Security v Van Duivenboden
2002 (6) SA 431
(SCA) par
[17];
Van Eeden v Minister of Safety and Security (Women's Legal
Centre Trust, as Amicus Curiae)
2003 (1) SA 389
(SCA) par [12];
Premier of the Province of the Western Cape v Fair Cape Property
Developers (Pty) Ltd
[2003] 2 All SA 465
(SCA) par [33]).
[25] In bepaalde omstandighede kan die vraag na die bestaan van 'n
regsplig om positief op te tree, erg problematies wees. In 'n
saak
soos die onderhawige lê die antwoord op hierdie vraag egter
voor die hand. Dit is so omdat hierdie Hof reeds meer as 25
jaar
gelede – in
Minister of Police v Skosana
1977 (1) SA 31
(A)
40A-C – in 'n saak, soortgelyk aan die onderhawige, beslis het dat
die polisie, net soos die gevangenisdiens, regtens verplig
is om toe
te sien dat aangehoudenes in hulle sorg sodanige mediese behandeling
ontvang as wat redelikerwys nodig mag wees. Hierdie
uitgangspunt is
slegs maar 'n variasie op die tema wat blyk uit die volgende antwoord
wat Innes AR reeds in 1912 gegee het op 'n
kontensie deur die
gevangenisowerheid dat 'n aangehoudene slegs sodanige regte het as
wat by regulasie aan hom verleen word:
'[T]he directly opposite view is surely the correct one.
They were entitled to all their personal rights and personal dignity
not
temporarily taken away by law, or necessarily inconsistent with
the circumstances in which they had been placed.'
(In
Whittaker v Roos and Bateman; Morant v Roos and Bateman
1912 AD 92
te 122-123. Sien, byvoorbeeld, ook
Goldberg and Others
v Minister of Prisons and Others
1979 (1) SA 14
(A) 39C-F en
Mandela v Minister of Prisons
1983 (1) SA 938
(A) 957D-G.) Die
uitdruklike konstitusionele waarborg in a 35(2)(e) van die Grondwet
waarvolgens elke aangehoudene 'op toereikende
mediese behandeling'
geregtig is, het dus nie 'n bestaande gemeenregtelike beginsel
verander nie, maar dit verskans en onderstreep.
In hierdie lig is
die Hof
a quo
se standpunt (728E-729D) dat die nuwe
grondwetlike bedeling 'n radikale verandering gebring het in dit wat
regtens van die polisie
in hul optrede teenoor aangehoudenes verwag
word, oordrewe.
[26] Daar moet natuurlik onderskei word tussen die algemene plig om
mediese behandeling aan 'n aangehoudene te verskaf en die besondere
plig om, in die lig van die heersende omstandighede en kennis, aan 'n
besondere aangehoudene op die betrokke stadium bepaalde behandeling
te verskaf. In die onderhawige geval was daar ongetwyfeld 'n regsplig
op die polisie om mediese hulp vir Geldenhuys in te roep indien
enigeen van hulle besef het of redelikerwys moes besef het dat hy
sodanige hulp benodig het.
[27] Dit lei tot die vraag of een of meer van die polisiebeamptes wat
tydens Geldenhuys se aanhouding aan diens was, nalatig was
in sy of
haar versuim om die voorgenoemde regsplig teenoor Geldenhuys na te
kom. Die Hof
a quo
was van oordeel dat so 'n bevinding
geregverdig is. Sy redes vir hierdie bevinding word in die volgende
aanhaling saamgevat (730B-E):
'In summary, the police on duty were required in terms
of police standing orders to perform hourly cell visits. At the most
there
were only three prisoners in the cells on that night. To expect
that a proper cell visit should have been conducted in such
circumstances
was hardly unreasonable; indeed a proper cell visit
must constitute part of the purpose of such mandated cell visits. On
the basis
of evidence given by the three police officers, only one of
two conclusions can be drawn, namely they ignored plaintiff's
condition
or did not bother even to examine him significantly after
knowing that he had been involved in a physical altercation. The
unsatisfactory
nature of the evidence given by all three officers is
indicative of an unreasonable failure to observe that plaintiff was
severely
injured. The duty imposed on such officers pursuant to their
cell visits was not to diagnose the condition of plaintiff but to
summon
proper attention for a person in their custody who was in
distress. For these reasons I find that the conduct of defendant's
employees
was negligent.'
Wat dus
hoofsaaklik die polisie verkwalik is, is hulle versuim om Geldenhuys
tydens die uurlikse besoeke fisies te ondersoek. Met
die uitgangspunt
dat dit juis een van die doelstellings van die voorgeskrewe
selbesoeke moet wees om die welstand van die aangehoudenes
te
verseker, is ek dit eens. Daar is ook in beginsel nie fout te vind
met die verdere standpunt dat dit nie 'n onredelike las op
die
polisie sou plaas om Geldenhuys – wat maar een van drie
aangehoudenes was – fisies te ondersoek nie. Of die polisie egter,
sonder die voordeel van 'n nawete, moes besef het dat so 'n ondersoek
nodig is, is 'n vraag wat aan die hand van al die bewese feite
en
omstandighede uitgemaak moet word.
[28] Uit die aangehaalde gedeeltes blyk dat die Verhoorregter ook
beïnvloed is deur wat hy beskou het as onbevredigende aspekte
in
die polisie se getuienis in die algemeen. Hieruit, so het hy
geredeneer, is die afleiding geregverdig dat die polisie iets het
om
weg te steek en dat dit wat hulle probeer wegsteek, minstens 'n
onredelike versuim aan hulle kant was (vgl ook die
dicta
op
726J-727A). Sonder enige basis vir 'n bevinding dat die polisie
versuim het om redelik op te tree, kan onbevredigende aspekte
in hul
getuienis, op sigself, egter nie 'n bevinding van nalatigheid
regverdig nie.
[29] 'n Toepaslike vertrekpunt in die ondersoek na die redelikheid
van die polisie se optrede is die bewese feite rondom die tydstip
van
Geldenhuys se arrestasie. Volgens Stover se onbetwiste getuienis is
hy meegedeel dat Geldenhuys se optrede pas vantevore soos
dié
van 'n dronk man was. By nadere ondersoek het hy vasgestel dat
Geldenhuys inderdaad sterk na drank ruik, maar geen uitwendige
beserings vertoon nie. Gevolglik het Stover, volgens sy getuienis,
die feit dat Geldenhuys nie by sy volle bewussyn was nie aan
dronkenskap
toegeskryf. Die feit dat 'n mens nou weet dat Geldenhuys
se toestand waarskynlik die gevolg van breinbeserings was en nie
dronkenskap
nie, kan Stover nouliks verwyt word. Benewens die
algemene waarheid dat 'n terugblik meestal volkome insig bied, is
daar die getuienis
van dr Badenhorst dat selfs opgeleide mediese
personeel dikwels die simptome van breinbeserings met dronkenskap
verwar. In hierdie
omstandighede kan dit nie gesê word dat
Stover nalatig was deur Geldenhuys sonder meer in 'n sel te plaas
nie.
[30] Hierna verskuif die ondersoek na die uurlikse selinspeksies deur
inspekteur De Bruyn gedurende die loop van die nag. As gevolg
van
Stover en Du Toit se medelings aan haar, het sy ook onder die indruk
verkeer dat Geldenhuys onder die invloed van drank was.
Voorts het
Stover ook aan haar oorgedra dat hy geen beserings by Geldenhuys
waargeneem het nie. Hoewel sy later die nag by Du Toit
gehoor het dat
hy vir Geldenhuys gestamp het, het sy, op die veronderstelling dat
Geldenhuys geen beserings getoon het nie, nie werklik
rede gehad om
hierdie stamp met Geldenhuys se toestand, wat sy toe reeds aan
dronkenskap toegeskryf het, in verband te bring nie.
Voordat sy
verkwalik kon word vir haar versuim om Geldenhuys self fisies te
ondersoek of te laat ondersoek, moet vasstaan dat sy
rede gehad het
om te vermoed dat die oorsaak van sy toestand iets anders as
dronkenskap kon wees. Die getuienis dui egter nie op
die bestaan van
so 'n rede nie. Haar getuienis dat sy geglo het dat Geldenhuys besig
was om sy roes uit te slaap, kan dus nie as
vals verwerp word of as
onredelik aangemerk word nie. In hierdie lig kan sy ook nie verkwalik
word vir haar besluit om hom eerder
te laat voortslaap as om hom
wakker te maak deur die lig aan te sit of hom te skud ten einde hom
behoorlik te laat ondersoek nie.
As hy werklik dronk was, soos wat sy
redelikerwys vermoed het, kon sodanige ondersoek nouliks van enige
nut wees. In elk geval is
daar geen getuienis dat 'n uitwendige
ondersoek van Geldenhuys op daardie stadium tot die gevolgtrekking
sou lei dat hy mediese behandeling
benodig nie.
[31] Die Hof
a quo
het Stover en De Bruyn pertinent kwalik
geneem (te 727A-B) vir hul versuim om mediese hulp te ontbied toe
Geldenhuys tydens hulle
besoeke van halfses en sesuur die Sondagmôre
steeds nie wou wakker word nie. Hierdie kritiek veronderstel egter
kennis aan
die kant van 'n redelike polisiebeampte dat 'n persoon in
beginsel nie na 'n tydperk van sewe uur nog só dronk kan wees
dat
hy nie wakker gemaak kan word nie. Myns insiens is daar geen
basis vir so 'n veronderstelling nie.
[32] Min of meer dieselfde oorwegings as die voorgaande geld ten
opsigte van Cronje wat om halfsewe aan diens gekom het. Ook hy het
volgens sy verduideliking by elkeen van sy besoeke aanvaar dat
Geldenhuys nog onder die invloed van drank was. Klaarblyklik sou 'n
redelike polisiebeampte op een of ander stadium besef dat Geldenhuys
se toestand nie meer aan dronkenskap toegeskryf kan word nie.
Wanneer
daardie besef tot die redelike polisieman sou deurdring, is egter nie
op die getuienis bepaalbaar nie. Dit kon net sowel
teen eenuur die
Sondagmiddag gewees het toe Cronje inderdaad mediese hulp ontbied
het. In hierdie lig regverdig die onbevredigende
aspekte in die
polisie se getuienis waarna die Verhoorhof verwys, op sigself, nie
die bevinding dat hulle nalatig was omdat hulle
versuim het om op 'n
vroeër stadium mediese hulp vir Geldenhuys te ontbied nie.
[33] Die bevinding dat een van die essensiële elemente vir
deliktuele aanspreeklikheid ontbreek, bring reeds mee dat Geldenhuys
se eis ook nie op hierdie alternatiewe basis kon slaag nie.
Volledigheidshalwe oorweeg ek egter ook die verdere vereiste, naamlik
dié van oorsaaklikheid, veral omdat hierdie vereiste blykbaar
in die Verhoorhof problematies was. Waaroor dit hier gaan is
'n
ondersoek na die bestaan van 'n
feitelike
kousale
verband tussen die polisie se versuim en Geldenhuys se skade. (Oor
die verskil tussen feitelike kousaliteit en juridiese
kousaliteit,
sien byvoorbeeld
Siman & Co (Pty) Ltd v Barclays National Bank
Ltd
1984 (2) SA 888
(A) 914F-H.) Die mees algemeen aanvaarde
maatstaf vir die bepaling van feitelike oorsaaklikheid is die
sine
qua non
toets. Die werking van hierdie toets blyk byvoorbeeld uit
Minister of Police v Skosana supra
waar die vraag was of die
dood van die eiseres se eggenoot oorsaaklik verbind kon word met die
polisie se versuim om hom op 'n vroeër
stadium van mediese hulp
te voorsien. Hieroor laat Corbett AR hom soos volg uit (35D-F):
'Now the prime cause of the death of the deceased was
the occurrence (whatever it may have been) in which he sustained the
injury
to his bowel which in turn resulted in peritonitis. The
negligent delay in furnishing the deceased with medical aid and
treatment,
for which [the two policemen] were responsible, can only
be regarded as having caused or materially contributed to his death
if the
deceased would have survived but for the delay. This is the
crucial question and it necessarily involves a hypothetical inquiry
into
what would have happened had the delay not occurred. Generally,
the
onus
is on the respondent to establish this proposition on
a balance of probabilities ... '
(Sien byvoorbeeld ook,
Siman & Co (Pty) Ltd v Barclays
National Bank Ltd supra
915A-F.)
[34] Vir doeleindes van die onderhawige is die vraag derhalwe of
Geldenhuys daarin geslaag het om op 'n oorwig van waarskynlikheid
te
bewys dat indien die polisie vroeër mediese hulp sou ingeroep
het, sy verstandelike en fisiese ongeskiktheid, voortspruitend
uit sy
breinskade, nie sou ontstaan het nie. Hierdie vraag moet grotendeels
aan die hand van die mediese getuienis beoordeel word.
Wat hierdie
beoordeling ietwat kompliseer, is dat daar 'n mate van verskil tussen
die mediese getuies, dr Wessels en dr Badenhorst,
bestaan. Voordat ek
met hierdie verskil handel, verwys ek egter eers na wat gemene saak
tussen hulle is. In die eerste plek is hulle
dit met mekaar eens dat
Geldenhuys se permanente ongeskiktheid, wat die basis vir sy eis om
skadevergoeding is, direk verbind kan
word met die primêre
breinbeserings, synde hoofsaaklik die skeure in die frontale lobbe
van sy brein. Voorts stem hulle ook
saam dat hierdie primêre
beserings veroorsaak is deur die aanvanklike impak teen Geldenhuys se
kop – hoe dít ook al
mag gebeur het – waarvoor die
polisie, op die bewese feite, nie verantwoordelik is nie. Verder was
Dr Wessels en dr Badenhorst
dit ook eens dat die primêre
breinbeserings en gevolglik ook die ongeskiktheid wat daardeur
veroorsaak is, onmiddellik na die
aanvanklike impak onomkeerbaar en
permanent van aard was. Geen latere operasie kon daaraan enige
verskil maak nie. Dit is ook gemene
saak dat, benewens hierdie
primêre beserings die impak ook 'n sekondêre effek, te
wete breinbloeding, gehad het; dat,
aangesien die brein in 'n geslote
ruimte is, hierdie breinbloeding met verloop van tyd die bloedtoevoer
en gevolglik die suurstoftoevoer
na die res van die brein begin afsny
het; dat die breinbloeding bygevolg met verloop van tyd Geldenhuys se
lewe bedreig het; en dat
die operasie om die breinbloeding te
verwyder derhalwe noodsaaklik was. Tot sover dit wat gemene saak is.
[35] Oor die pertinente vraag of Geldenhuys se uiteindelike
verstandelike en fisiese ongeskiktheid vermy kon word deur die
operasie
vroeër te doen, is daar egter 'n mate van verskil. Dr
Wessels antwoord hierdie vraag soos volg:
'As gevolg van drukking [in die skedel] neem die
bloedtoevoer na die res van die brein af. Nou kom daar 'n punt
wanneer die veranderinge
[wat in die brein plaasvind] onomkeerbaar is
en ... hoe vroeër jy hom kan behandel voordat daardie
onomkeerbaarheid plaasvind,
hoe beter is die prognose ...'
en:
'ek is seker dat as ons die man kon geopereer het op die
stadium voor hy begin braak het van sy verhoogde intra-kraniale druk,
kon
sy prognose sekerlik anders gewees het.'
[36] Hierteenoor antwoord dr Badenhorst die vraag, of 'n operasie op
'n vroeër stadium enige verskil aan Geldenhuys se permanente
ongeskiktheid sou maak, soos volg:
'[E]k dink nie juis nie of tot uiters beperkte mate …
'
Sy
motivering vir hierdie antwoord blyk uit die volgende:
'Dit is nie
moontlik om met honderd persent sekerheid te sê dat die
sekondêre meganisme, die bloeding, geen rol gespeel
het nie,
maar … dit was nie 'n betekenisvolle faktor nie [omdat] die
kliniese gevolge [veroorsaak is] deur bifrontale skade wat
die gevolg
is van 'n impak besering en daarom dink ek nie dit is betekenisvol
nie.'
Uit dr
Badenhorst se verdere getuienis is dit duidelik dat die 'kliniese
gevolge' waarna hy verwys juis die basis van Geldenhuys se
eis vir
skadevergoeding is.
[37] In hierdie geskil het Davis R die mening van dr Wessels verkies.
Sy redes vir hierdie keuse blyk uit die volgende aanhaling
(732F-J):
'In my view, Dr Wessels gave his evidence
dispassionately and performed his role as an expert in attempting to
guide the Court on
matters of neurological injury. He made no
concession to either party in his attempt clinically to provide
answers to the Court.
By contrast Dr Badenhorst seemed at times to
forget his prime function as an expert and on occasion appeared to be
more of an advocate
for defendant's case. On a number of occasions
when pressed to reconcile his evidence in favour of defendant with
adverse certain
facts which were common cause, he would pause for a
relatively considerable length of time and then provide some
speculative answer
to save his own opinion and promote defendant's
case. Rarely did he make any concession, even when it was patently
called for in
the circumstances. I should add that the long pauses in
his testimony were not designed so much to collect his thoughts but
rather
were indicative of an often herculean attempt to find an anwer
in support of defendant rather than concede the clear difficulty with
the approach he had initially adopted.'
[38] Vir soverre hierdie ongunstige evaluasie van dr Badenhorst op
die inhoud van sy getuienis soos gereflekteer in die oorkonde
gefundeer is, kan ek ongelukkig nie met die geleerde Verhoorregter
saamstem nie. Sonder om in fyn besonderhede in te gaan, regverdig
nóg
die Hof se voorbeelde uit dr Badenhorst se getuienis (732J-733H) nóg
'n bestudering van sy getuienis as geheel,
die krasse oordeel wat die
geleerde Verhoorregter oor hierdie deskundige getuie uitgespreek het.
So het die Verhoorhof dit, byvoorbeeld,
as 'ontwykend' aangemerk dat
die deskundige nie tussen 'moontlikhede' en 'waarskynlikhede' wou
onderskei nie. Hierdie kritiek verloor
egter uit die oog dat
'waarskynlikheid' eerder 'n juridiese as 'n natuurwetenskaplike
maatstaf is (sien byvoorbeeld
Michael and Another v Linksfield
Park Clinic (Pty) Ltd and Another
2001 (3) SA 1188
(SCA)
1202E-H). Die geldigheid van die Verhoorhof se evaluering van dr
Badenhorst se houding en optrede – oftewel 'demeanour' –
in die
getuiebank kan uiteraard nie op appèl beoordeel word nie.
'Demeanour' van 'n getuie bly egter steeds 'n riskante maatstaf
by
die evaluering van getuienis. In ieder geval kan dit nooit 'n
substituut vir evaluering van die inhoud en – veral in die geval
van 'n deskundige – die inherente logika van sy of haar getuienis
wees nie (vgl
Body Corporate of Dumbarton Oaks v Faiga
[1998] ZASCA 101
;
1999
(1) SA 975
(SCA) 979B-I). By die toepassing van laasgenoemde maatstaf
is daar myns insiens geen werklike rede om die mening van dr Wessels
bo
dié van dr Badenhorst te aanvaar nie.
[39] In elk geval – en miskien meer belangrik – het Geldenhuys
selfs op die basis van dr Wessels se getuienis nie die vereiste
kousale verband tussen enige versuim aan die kant van die polisie en
sy skade bewys nie. Die eerste struikelblok in sy weg is dat
dr
Wessels met dr Badenhorst saamstem dat sy permanente ongeskiktheid
hoofsaaklik, indien dan nie uitsluitlik nie, deur sy primêre
breinbeserings veroorsaak is waarvoor die polisie nie verantwoordelik
gehou kan word nie. Tweedens dui dr Wessels se formulering
van sy
mening, te wete dat, indien die operasie vroeër gedoen is,
Geldenhuys se 'prognose sekerlik anders kon gewees het', eerder
op
dit wat moontlik is as op 'n vervulling van die vereiste van
waarskynlikheid. Derdens koppel dr Wessels sy afsnypunt, waarby die
breinskade veroorsaak deur bloeding nog omkeerbaar sou wees, aan die
moment waarop Geldenhuys begin braak het. Hierdie moment is
egter nie
op die getuienis bepaalbaar nie. In die totaliteit van die saak skep
die onbepaalbaarheid van hierdie tydstip 'n verdere
onoorkomelike
struikelblok vir Geldenhuys se saak. Gestel, byvoorbeeld, dat bevind
sou kon word (wat nie bevind is nie) dat Cronje
nalatig was in sy
versuim om reeds vroeg die Sondagoggend, in stede van eers die
Sondagmiddag, mediese hulp in te roep. Sodanige
versuim sou kousaal
onsaaklik wees indien Geldenhuys op daardie stadium reeds begin braak
het. In dié omstandighede sou Geldenhuys
se breinskade,
volgens dr Wessels, immers reeds onomkeerbaar wees en sy gevolglike
ongeskiktheid reeds permanent. Nie een van die
polisiegetuies het
egter waargeneem wanneer Geldenhuys begin braak het nie. Dit kan dus
wees lank voordat Cronje aan diens gekom
het.
[40] Uit die uitspraak van die Verhoorhof blyk dit dat die Hof,
hoewel miskien onbewustelik, self probleme ondervind het met sy eie
bevinding dat oorsaaklikheid inderdaad bewys is. Dit blyk nie soseer
onder die rubriek 'causation' (730 e v) nie, maar wel uit 'n
gedeelte
onder die opskrif 'damages' (734 e v). Nadat die Hof reeds
kousaliteit bevind het en ook reeds die omvang van Geldenhuys
se
skade bepaal het, laat hy hom soos volg uit (736I-737F):
'That however does not end the enquiry. The question
arises as to the causal link between such damages and the conduct of
defendant.
Once more the Court is in an area of speculation in that
no medical expert would have been able to testify, with any measure
of exactitude,
as to the scale of an improved prognosis for a person
such as plaintiff, had the operation taken place timeously rather
than some
hours after languishing in a police cell.
In my view, the evidence indicates that, had there been
a better prognosis, it would have led to only a limited improvement
in the
present capacity of plaintiff. It is clear from the totality
of evidence presented to the Court, that the essential injury was
sustained
to the frontal lobes ... Once these injuries had been
sustained, no operation would have been able to repair such injury.
The improved
prognosis depended on the extent to which an earlier
operation of the kind performed by Dr Wessels would have improved
plaintiff's
present condition.
Had such an operation been undertaken earlier, such
that plaintiff would have made an improved recovery, it is likely
that plaintiff
would have been able to undertake some employment,
albeit at a markedly reduced rate of remuneration to that which he
could have
commanded prior to the injuries.
...
The question can then be asked as to what that would
entail in rands and cents. On the basis of a reasonable estimate, it
is possible
that plaintiff may have been able to earn R8 000 a
month, that is approximately 20% of previous capacity [wat hy vroeër
reeds op R40 000 per maand bepaal het]. ...
On the basis of this estimate, 20% of all the injury
and damage sustained in terms of incidents which took place on 26 and
27 December
1998 was caused by the negligent conduct of defendant.'
[41] Die hof se verklaarde uitgangspunt dat die 'causal link between
such damages and the conduct of defendant' by wyse van spekulasie
bepaal moet word waar geen mediese getuienis sodanige verband kan
aantoon nie, is fundamenteel verkeerd. Met die daaropvolgende lukrake
bespiegeling, sonder enige feitebasis, dat twintig persent van
Geldenhuys se toekomstige skade aan die polisie toegeskryf kan word,
het die Verhoorregter sy bevoegdheid oorskry. By
kwantifisering
van die bedrag van toekomstige skade is eksakte berekeninge dikwels
onmoontlik en bespiegeling gevolglik onafwendbaar. Die
kousale
verband
tussen sodanige skade en die verweerder se optrede of
versuim moet egter op oorwig van waarskynlikheid bewys word. Hierdie
onderskeid
blyk duidelik uit die uitspraak van die Engelse Court of
Appeal in
Allied Maples Group Ltd v Simmons & Simmons (A Firm)
[1995] 1 WLR 1602
(CA). In die loop van sy uitspraak sê
Stuart-Smith LJ (1069H):
'it is necessary to consider as a matter of law what is
necessary to establish as a matter of causation and where causation
ends and
quantification of damage begins'.
Wat betref 'causation', gaan hy dan soos volg voort (1610A-B):
'The court has to determine on the balance of
probability, whether the defendant's act, for example the careless
driving, caused the
plaintiff's loss consisting of his broken leg.
Once established on balance of probability, that fact is taken as
true and the plaintiff
recovers his damage in full. There is no
discount because the judge considers that the balance is only just
tipped in favour of the
plaintiff: and the plaintiff gets nothing if
he fails to establish that it is more likely than not that the
accident resulted in
the injury.'
Wat betref 'quantification' sê hy (1610B-C):
'Questions of
quantification
of the plaintiff's
loss, however, may depend upon future uncertain events ... . It is
trite law that these questions
are not decided on a balance of
probability but rather on the court's assessment,
often expressed
in percentage terms, of the risk eventuating ...'
(Kursifisering in die oorspronklike.) Dat hierdie onderskeid ook vir
ons reg geldig is, blyk uit
De Klerk v Absa Bank Ltd and Others
2003 (4) SA 314
(SCA) par [28] waar hierdie Hof met instemming na die
aangehaalde gedeelte uit die uitspraak van Stuart-Smith LJ verwys.
Die denkfout
wat die Verhoorhof, met respek, begaan het, was om
hierdie onderskeid uit die oog te verloor en gevolglik die ondersoek
na die bestaan
van 'n kousale verband te benader asof dit oor die
kwantifisering van skade gaan.
[42] Wat oorbly is enkele opmerkings aangaande die Verhoorhof se
benadering tot die kwantifisering van skadevergoeding. Ek vind dit
nodig ten einde enige moontlike indruk, dat hierdie Hof die
Verhoorhof se benadering onderskryf, uit die weg te ruim. Ek doen dit
kortliks omdat hierdie opmerkings geen effek meer op die uitslag van
die saak kan hê nie. Ek handel eerstens met die wyse waarop
Geldenhuys se verlies aan toekomstige verdienvermoë bepaal is.
Die Hof
a quo
het bevind dat Geldenhuys, voor sy besering, 'n
maandelikse verdienste van R40 000 gehad het. Hierdie bevinding
is gemaak sonder
enige direkte of indirekte getuienis oor wat
Geldenhuys se verdienste werklik was. Van 'n man met Geldenhuys se
beweerde aansienlike
inkomste, sou redelikerwys verwag kon word dat
hy oor dokumente soos, byvoorbeeld, bankstate, balansstate of
belastingopgawes sou
beskik of kon verkry. Nietemin is nie een
sodanige dokument voor die Hof geplaas nie. Daar was ook geen
verduideliking vir hierdie
versuim nie. Die uitsluitlike basis vir
die bevinding aangaande Geldenhuys se verdienste was die weergawe van
Geldenhuys se gewese
eggenote, tot die effek dat sy onderskeie
maandelikse uitgawes, by benadering en afgerond tot duisende,
ongeveer R30 000 in
totaal bedra het. Hieruit lei die Verhoorhof
dan af dat, om uitgawes van R30 000 aan te gaan, Geldenhuys 'n
verdienste van R40 000
per maand moes gehad het. Wat die Hof
blykbaar buite rekening gelaat het, was die getuienis dat Geldenhuys
sedert 1992 'n ongerehabiliteerde
insolvent was; dat hy gewerk het
vir 'n beslote korporasie waarvan sy gewese eggenote die enigste lid
was; dat hierdie beslote koporasie
in insolvente omstandighede
besigheid gedoen het en deur die Ontvanger van Inkomste ondersoek is
weens beweerde wanbetaling van BTW;
en dat die beslote koporasie in
elk geval reeds voor Geldenhuys se besering gelikwideer is, omdat dit
nie in staat was om sy skulde
te betaal nie. Dat 'n berekening van
verlies aan verdienste op hierdie wyse, om die minste te sê,
geheel en al onverdedigbaar
is, spreek eintlik van self. Wat die
geleerde Verhoorregter blykbaar in gedagte gehad het, was dat
Geldenhuys se verlies aan verdienvermoë
bereken moet word op die
basis van wat hy in die toekoms
kon
verdien indien hy
nie beseer was nie. Dit is nie korrek nie. Die vraag is nie wat
Geldenhuys
kon
verdien nie, maar wat hy waarskynlik
sou
verdien. Indien 'n professionele persoon wat voorheen vir eie
rekening gepraktiseer het, byvoorbeeld, sou besluit om vir 'n salaris
te gaan werk en dan beseer word, kan sy verlies aan verdienste tog
slegs bereken word op die basis van sy verbeurde salaris en nie
op
die basis van wat hy kon verdien indien hy sou aangehou het om te
praktiseer nie. (Sien, byvoorbeeld, ook
Griffiths v Mutual &
Federal Insurance Co Ltd
[1993] ZASCA 121
;
1994 (1) SA 535
(A) 545-546.) Hierdie
uiteensetting het natuurlik nie betrekking op 'n geval waar die
beseerde persoon nog nie voor sy besering enige
verdienste gehad het
nie. In so 'n geval moet sy verdienvermoë bereken word
ooreenkomstig die benadering wat, byvoorbeeld,
in
Southern
Insurance Association Ltd v Bailey NO
1984 (1) SA 98
(A) toegepas
is.
[43] Nadat die Verhoorhof op hierdie lukrake wyse Geldenhuys se
vorige inkomste op R40 000 per maand bepaal het, gaan hy voort
om weer eens sonder enige feitebasis die 'reasonable estimate'
(737E-F) te maak dat, indien dit nie vir die polisie se nalatige
versuim
was nie, Geldenhuys ten spyte van sy breinskade wat toe reeds
ingetree het, R8 000 per maand kon verdien. Aangesien R8 000
gelyk is aan 20% van R40 000, gaan die Verhoorhof voort (737I-J)
om die bewese bedrag van Geldenhuys se toekomstige mediese
koste met
80% te verminder. Vir mediese koste wat in die verlede aangegaan is,
so bevind die Hof (737H-I), is die polisie geensins
aanspreeklik nie,
omdat hierdie koste grotendeels verband hou met die breinskade wat
reeds voor die polisie se versuim ingetree het.
Daarteenoor word die
polisie vir die volle bedrag van algemene skade aanspreeklik gehou
omdat dit 'directly due to the negligent
conduct of the defendants'
employees' sou wees (737L-J). 'n Blote formulering van hierdie
benadering dui met respek daarop dat dit
op geen rasionele basis
verdedig kan word nie.
[44] (a) Die appèl slaag met koste, insluitende die koste van
twee advokate.
(b) Die bevele van die Hof
a quo
word ter syde gestel en
vervang met die volgende:
'Eiser se vorderings word van die hand gewys met koste, insluitende
die koste van twee advokate, in soverre verweerders van die
dienste
van twee advokate gebruik gemaak het.'
.......................
F D J BRAND
APPÈLREGTER
Stem
saam
:
HARMS
AR
CLOETE
AR
SOUTHWOOD
WND AR
MLAMBO
WND AR