Jayiya v Member of the Executive Council for Welfare, Eastern Cape Provincial Government and Another (264/02) [2003] ZASCA 38; [2003] 2 All SA 223 (SCA) (31 March 2003)

82 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Rape — Conviction of appellants for multiple counts of rape — Appellants, a married couple, found guilty of raping the complainants, who were minors and related to the first appellant — Appellants' defense based on denial of events and allegations of a family conspiracy — High degree of consistency in the complainants' testimonies regarding the modus operandi of the appellants — Appeal against conviction and sentence of 18 years imprisonment per appellant — Court found no merit in the appeal, upholding the convictions and sentences based on the credibility of the complainants and the lack of evidence supporting the appellants' claims.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
2003
>>
[2003] ZASCA 38
|

|

Jayiya v Member of the Executive Council for Welfare, Eastern Cape Provincial Government and Another (264/02) [2003] ZASCA 38; [2003] 2 All SA 223 (SCA); 2004 (2) SA 611 (SCA) (31 March 2003)

SAFLII Note:
Certain
personal/private details of parties or witnesses have been
redacted from this document in compliance with the law
and
SAFLII
Policy
RAPPORTEERBAAR
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(KAAP DIE GOEIE HOOP PROVINSIALE AFDELING)
SAAKNR: A26/2002
In die saak tussen:
VALERIE WOLFAARDT
Eerste
Appellant
DEREK WOLFAARDT
Tweede
Appellant
en
DIE STAAT
Respondent
UITSPRAAK GELEWER OP 26 AUGUSTUS 2003
TREURNICHT, WR:
Inleiding:
Die Appellante is in die Streekhof skuldig bevind
op drie aanklagte van verkragting en is elk op 30 Oktober 2000 tot ‘n
effektiewe
termyn van 18 jaar gevangenisstraf gevonnis. Beide se
aansoek om verlof tot appèl teen die skuldigbevindings is op
30 November
2000 aangehoor ingevolge die destyds geldende bepalings
van artikel 309B van die Strafproseswet, nr 51 van 1977, en van die
hand
gewys. ‘n Petisie ingevolge artikel 309C van die gemelde Wet
is daarna buitenstyd tot die Regter-President van hierdie Afdeling

gerig, maar die stukke daarvan het oënskynlik verlê geraak
en kon nie voor ons geplaas word nie. Gevolglik het die
Appellante
‘n aansoek om kondonasie vir die laat-voortsetting van die appèl
gebring wat nie deur die Staat teengestaan
was nie. Teen die
agtergrond daarvan dat die bepalings van artikel 309B en 309C
sedertdien ongrondwetlik verklaar is (sien
S
v Steyn
2001 (1) SA 1146
CC
),
die Staat se houding en die
prima facie
beskouing dat daar meriete in die
appèlle is, soos aanstons sal blyk, is die kondonasie-aansoek
toegestaan en die appelle
aangehoor.
Feitestel:
Die agtergrond tot die Appellante se vervolging en
skuldigbevinding blyk uit ‘n ongewone feitestel waarvan die
kernfeite hieronder
geskets word. Die Appellante is ‘n egpaar wat
gedurende 1986 getroud is. Die klaagsters op aanklagte 2 en 3 is die
susters
van die Eerste Appellant. Hulle is, onderskeidelik, 10 en 20
jaar jonger as die Eerste Appellant. Die klaagster op die eerste

aanklag is ‘n vriendin van die jonger suster van die Eerste
Appellant (die klaagster op aanklag 3). Die gebeure wat tot die

aanklagte gelei het, het oor ‘n aantal jare plaasgevind toe die
klaagster op aanklag 1 (D.K.) slegs 13 jaar oud was (sy was by
die
aanvang van die verhoor 17 jaar oud), die klaagster op aanklag 2
(René L.) ook 13 jaar oud was (sy was by die aanvang
van die
verhoor 26 jaar oud), en die klaagster op aanklag 3 (S. Langeveld),
slegs 9 jaar oud was (sy was by die aanvang van die
verhoor ook 17
jaar oud). In hulle getuienis skets die drie klaagsters elk die
verloop van die gebeure wat daartoe gelei het dat
die Tweede
Appellant geslagsgemeenskap met hulle gehad het. Daar is ‘n hoë
mate van ooreenstemming in hulle beskrywings
van die Appellante se
modus operandi
wat as volg opgesom kan word. Die Eerste Appellant sou reëlings
tref dat een van die klaagsters na die Appellante se woonplek
kom, en
soms ook daar oorslaap. Die Eerste Appellant sou dan ‘n gesprek
met een van die klaagsters voer waartydens sy haar meedeel
dat sy en
haar man ‘n probleem het om kinders te hê en dat die medici
aangedui het dat dit opgelos kan word as haar man
(die Tweede
Appellant), met die klaagster kon
“slaap”
.
Nadat die onderskeie klaagsters ingewillig het om die egpaar op
hierdie wyse van hulp te wees, het die Eerste Appellant hulle
laat
uittrek en die gemeenskaplike slaapkamer verlaat waarop die Tweede
Appellant ingekom het, homself ontklee het en dan met die
klaagsters
gemeenskap gehad het. Daarna het hy ‘n wit vloeistof van sy penis
en die privaat van die klaagsters af in ‘n potjie
gesit en aan die
Eerste Appellant oorhandig. Die onderskeie klaagsters is altyd na
die gebeure met geskenke oorlaai.
Wat die eerste aanklag betref was die klaagster (na wie ek voortaan
as D. verwys), 13 jaar oud toe die gebeure met haar ‘n aanvang

geneem het. Sy was destyds ‘n Sondagskoolleerling in die klas van
die Eerste Appellant. Gedurende 1995 het haar moeder opgemerk
dat
daar iets met haar verkeerd was en haar na ‘n dokter geneem waar
bevind is dat sy swanger was. Sy het haar moeder daarop
van die
gebeure vertel, ‘n aborsie ondergaan en die saak aan die polisie
gerapporteer. Die Tweede Appellant is geïdentifiseer
as die
oorsaak van haar swangerskap. Die saak is uiteindelik nie verhoor
nie omdat, volgens haar, ‘n persoon by die landdroshof
(waarskynlik
iemand verbonde aan die vervolgingsgesag), sou aangedui het dat daar
nie meriete in die aanklag is nie. Beide Appellante
het die weergawe
van die gebeure ontken en aangevoer dat die klaagster, wat volgens
hulle nog nooit by hulle huis was nie, eendag
daar opgedaag het, gesê
het dat sy swanger is van ‘n neef van haar, ene André, en om
hulp gevra het. Toe hulle
aandui dat daar met haar moeder gepraat
moes word, het die klaagster egter weggehardloop en geskreeu dat sy
later sou terugkom,
wat sy nooit gedoen het nie. ‘n Dag of twee
later het die polisie opgedaag en die Tweede Appellant gearresteer
weens verkragting
van die klaagster. Haar moeder beaam die gebeure
rondom die vasstelling van haar swangerskap en hoe die klaagster haar
in die
dokter se teenwoordigheid vertel het van die optrede van die
Appellante.
Wat die tweede aanklag betref, is die klaagster
(na wie ek voortaan as René sal verwys), ‘n jonger suster
van die Eerste
Appellant en getuig sy dat dieselfde
modus
operandi
wat vroeër hierin beskryf
is, ook met haar gevolg is. Sy was destyds ook 13 jaar oud en het
volgens haar ingestem om te help
omdat sy die Appellante jammer gekry
het aangesien hulle nie kinders kon hê nie. Sy het op twee
geleenthede met die Tweede
Appellant gemeenskap gehad en tydens die
tweede geleentheid op ‘n stadium vir die Tweede Appellant gesê
dat sy nie verder
met gemeenskap wou voortgaan nie. Kort voor
hierdie klaagster se 21ste verjaarsdag het sy en haar skoonsuster,
Naomi Langeveld,
die gebeure van destyds aan haar ouers openbaar
gemaak wat daarop ‘n
“familievergadering”
belê het waartydens die Appellante met die gebeure
gekonfronteer was, maar dit ontken het. Die getuie het daarna
professionele
hulp gesoek en berading ontvang tot kort voor die
aanvang van die verhoor. Dit dien ook vermelding dat die betrokke
klaagster
se skoonsuster tydens die verhoor getuig het dat sy die
betrokke klaagster se weergawe geglo het toe sy daarvan vertel is,
omdat
sy vroeër ook by ‘n geleentheid op dieselfde grondslag
deur die Eerste Appellant genader was om gemeenskap met die Tweede

Appellant te hê, maar geweier het.
Die derde aanklag het betrekking op die jongste
suster van die Eerste Appellant (na wie ek voortaan as Sabriena sal
verwys), wat
ten tye van die gebeure net 9 jaar oud was. In haar
getuienis vertel hierdie getuie van ‘n identiese
modus
operandi
wat met haar gevolg is en dat
sy destyds nie daaroor gepraat het nie omdat sy self te skuldig
gevoel het oor die gebeure. Sy het
uiteindelik wel oor die gebeure
gepraat nadat haar suster René haar ondervinding aan haar
ouers meegedeel het en terwyl
hulle twee die aand in die bed was en
haar suster haar gevra het of dieselfde nie met haar gebeur het nie.
Nadat sy dit aanvanklik
ontken het, het sy op verdere vrae van haar
suster uiteindelik vertel dat dit wel met haar gebeur het waarop René
dit toe
ook aan haar ouers gerapporteer het. Nadat die feite op
hierdie wyse bekend geword het, het daar ‘n verdere
familievergadering
plaasgevind waarop die Appellante voor ‘n
ultimatum geplaas was om vir sielkundige behandeling te gaan binne
drie weke andersins
sou die onderskeie susters die sake aan die
polisie rapporteer. Die beskuldigdes het geweier en die twee
klaagsters het toe verklarings
by die polisie afgelê. Die
polisie het, met behulp van data wat op die rekenaar gestoor was,
bewus geword het van die vroeëre
klagte wat teen die Tweede
Appellant gelê was deur D. (waarna ek reeds vroeër hierin
verwys het).
Uiteindelik is die beskuldigdes toe op al drie
aanklagte vervolg. Dit blyk uit die getuienis dat die vader van René
en S.
‘n pastoor is wat klaarblyklik sy posisie in die kerk en as
familiehoof ernstig opneem en deur die gebeure in twee geskeur was.

Enersyds wou hy deurgaans die familie die skande spaar wat hy gevrees
het sou volg as die gebeure rugbaar sou word en andersyds
het hy
besef dat hy nie werklik vir René en S. kon verhoed om die
gebeure te rapporteer nie – veral nie nadat die Appellante
die
ultimatum om vir behandeling te gaan, in die wind geslaan het nie.
Evaluasie:
Die afhandeling van die verhoor het oor meer as ‘n
jaar gestrek. Die oorkonde toon aan dat die klaagsters by tye
gedurende hul
getuienis emosioneel in die hof gereageer het op die
gebeure. Dit is onmiskenbaar duidelik uit die getuienis dat die
Eerste Appellant
se twee susters dit veral moeilik gevind het om teen
haar te getuig. Hulle wou op ‘n stadium selfs nie vrywilliglik hof
toe
kom nie. Nietemin het hulle deurgaans in hulle getuienis by
hulle weergawes van die gebeure gehou. Hulle het die verhoorhof
beïndruk
as geloofwaardige getuies. Met sodanige bevinding is
‘n hof van appèl nie geneë om ligtelik in te meng nie
(
S v Francis
1991 (1) SASV 198 (A)
). Waar ‘n
verhoor oor ‘n lang tydperk en met soveel emosies soos die
onderhawige gepaard gegaan het, is ‘n hof van appèl
selfs
meer as andersins aangewese om hom in ‘n hoë mate op die
verhoorhof se beoordeling van die egtheid en waarheid van
die
getuienis te verlaat tensy dit oortuig is dat die verhoorhof
gefouteer het in die aanvaarding daarvan.
Die Appellante se verweer was ‘n ontkenning van
die gebeure. As ‘n rede waarom die getuies hulle valslik beskuldig
van die
misdade het hulle aangevoer dat D. hulle gebruik om ‘n
swangerskap wat deur haar neef André bewerkstellig is, te
probeer
verberg en dat die susters René en S. se getuienis die
gevolg is van ‘n familiesameswering teen hulle. Dit is natuurlik

nie vir ‘n beskuldigde in ‘n strafsaak nodig om die hof te
oortuig van redes waarom ‘n getuie valse getuienis teen hulle
sou
aflê nie, maar in die onderhawige geval is daar geen
voor-die-hand-liggende rede waarom sulke getuienis gefabriseer sou

word nie en kom dit my voor dat die gronde wat die Appellante
daarvoor probeer aanvoer ‘n versinsel is.
Wat die getuienis van die Appellante aanbetref met
betrekking tot die gebeure toe D. hulle beweerdelik sou genader het
met die mededeling
van haar swangerskap, is ek van oordeel dat dit só
inherent onwaarskynlik dat dit as vergesog en vals verwerp moet word.

Wat hulle getuienis met betrekking tot die sogenaamde
familiesameswering aanbetref, is dit ewe vergesog en verwerplik en
het
mnr
Van der Berg
wat namens die Appellante voor ons opgetree het, tereg aangedui dat
hy ons nie in besonderhede daaroor wou toespreek nie. Die
voorbeelde
van insidente tussen familielede wat oor baie jare strek en wat aan
ons voorgehou is as rede waarom die hele familie
teen die Appellante
gekant sou wees, is glad nie sodanig dat dit hulle optrede sou
verklaar nie. Meer nog, die familielede het
juis die afwesigheid van
vervolgsugtigheid bewys deur die Appellante ‘n geleentheid te bied
om behandeling te ondergaan en dus
sonder enige vervolging aan die
gevolge van hulle optrede te ontkom. Die getuienis toon verder ook
aan dat daar nog steeds toegeneëntheid
by die klaagsters teenoor
die Appellante bestaan en dat hulle dit moeilik gevind het om teen
die Appellante te getuig. Daar is
na my mening dus geen rede om met
die verhoorhof se bevindings in te meng dat die optrede waaroor die
klaagsters getuig het inderdaad
teenoor hulle plaasgevind het nie en
dat die Appellante se weergawe as vals verwerp moes word nie.
Toestemming:
Selfs al word dit aanvaar dat die Appellante
opgetree het soos wat die getuienis te kenne gee, bly dit egter
steeds ‘n vraag of
hulle tereg skuldig bevind is aan verkragting.
In hierdie verband ontstaan die vraag pertinent of die instemming wat
die klaagsters
betuig het met die optrede met die Tweede Appellant
regtens toestemming tot geslagsgemeenskap is. Dit is waar die
instemming deur
‘n bedrieglike wanvoorstelling verkry is en deur op
die emosies en die toegeneëntheid van die klaagsters teenoor die
Eerste
Appellant staat te maak. Die benadering van die geleerde
Streeklanddros ten aansien van hierdie kwessie, wat direk betrekking
het op aanklagte 1 en 2, word as volg uiteengesit in sy uitspraak:
“
Wat D. betref aanklag 1 was sy duidelik die eerste keer toe
gemeenskap met haar gehou was nie te vinde daarvoor nie. Daar was
nie
toestemming nie. Sy was boonop mislei. Die tweede keer was die
toestemming gebaseer op ‘n misleiding deur nommer 2 wat aan haar

gesê het maar sy is nou nie meer ‘n “virgin” nie, dis nou
as gevolg van die eerste keer en dat sy haar maar kan help.
Die getuie D. het duidelik nie die volle implikasie verstaan van
wat aangegaan het nie. So aanvanklik was daar dus nie toestemming

nie. Terloops daar is geen, maar geen getuienis dat beskuldigde
nommer 1 toestemming van enige van die klaagsters gevra het of
gehad
het nie. Sy optrede deur eenvoudig met gemeenskap voort te gaan dui
duidelik op die beplande optrede tussen hom en sy vrou.
Wat R. L. aanklag 2 betref op die ouderdom van
13 jaar was sy ‘n kind. Dit is as gevolg van misleiding deur
beskuldigde nommer
2 wat sy haar onderwerp het aan beskuldigde nommer
1. Daardie beïnvloeding en onderwerping kan nouliks as geldige
toestemming
aangemerk word. By die tweede keer toon sy haar
onwilligheid eers nadat die seksdaad in aanvang geneem het. Dit is
na die tweede
voorval waar beskuldigde nommer 2 by haar sit en huil
en haar R50 gee. Ons het te doen met misbruik van ‘n jong kind wat
nie
die volle implikasies besef het van wat aangaan nie. Net soos by
die eerste klaagster. Dan wat Sabriena betref, die eerste voorval
het
plaasgevind toe sy nege jaar oud was. Sy kon in elk geval nie
regtens toestem nie. Die opmerklik dat nommer 2 hier uiters
subtiel
te werk gegaan het. Die getuienis voor die Hof dui duidelik daarop
dat Sabriena baie lief is vir beskuldigde nommer 2
soos die Hof reeds
tevore gesê het en dat nommer 2 baie lief is vir haar. Nommer
2 het hierdie situasie uitgebuit en haar
eie geliefde suster wat nie
eers geweet het wat omgang beteken nie seksueel laat gebruik deur
haar man.
Verder wat betref die kwessie van toestemming wil die Hof net
verwys na Snyman se werk Strafreg, die tweede uitgawe op bladsy 135.

Daar behandel die skrywer die elemente van toestemming. Een daarvan
is gemerk paragraaf (d). Dit is op bladsy 135 en dit lees
soos volg:
‘Die persoon wat die toestemming gee moet wilsvermoënd wees.
Wilsvermoënd beteken nie dieselfde as handelingsbevoeg
of
toerekeningsvatbaar nie. Dit beteken dat die persoon oor die
geestesvermoëns beskik nie net om te weet wat die aard van
die
handeling is waartoe hy toestemming nie, maar ook om die gevolge van
die handeling te kan waardeer.’
Die Hof wil met respek aanvoer dat al drie daardie kinders val onder
hierdie beskrywing. Hulle het nie geweet wat aangaan nie.
Hulle was
nie wilsvermoënd nie.
Dan oor die kwessie van wilsvermoëndheid
net op bladsy 136, die derde lyntjie wat soos volg lees:
‘Hier
is dit in elke geval ‘n feitelike vraag of die kind wilsvermoënd
is of nie. ‘n Mens moet kyk na faktore soos die
intelligensie,
lewenservaring, algemene opvoedkundige peil en maatskaplike
agtergrond van die kind.’
Kyk ‘n mens na D. byvoorbeeld se maatskaplike agtergrond, dis
tragies. Sy is nie intelligent nie. Sy het nie lewenservaring
nie.
Sy is jonk en die Hof kan nie anders an as ‘n feit te bevind dat sy
nie wilsvermoënd was nie.”
Ek
kan ongelukkig nie met hierdie sienswyse saamstem nie. Soos uit die
aangehaalde passasie blyk, het die Streeklanddros ten opsigte
van D.
bevind dat daar ‘n afwesigheid van toestemming was op die grondslag
dat sy inderdaad geslagsgemeenskap geweier het, dat
sy verder mislei
was tot toestemming en uiteindelik dat daar ‘n gebrek aan
wilsvermoë aan haar kant was. In die geval van
René
bevind hy dat daar misleiding was en dat sy ‘n gebrek aan
wilsvermoë gehad het.
Alhoewel D. se getuienis was dat sy wel ingestem
het tot die Eerste Appellant se versoek om hulle te help (deur by die
Tweede Appellant
te “slaap”), het sy ook by geleentheid gedurende
haar getuienis getuig dat sy toestemming geweier het toe sy besef wat
eintlik
gaan gebeur. Daar is egter ander gedeeltes van haar
getuienis wat ‘n ander indruk skep. Tydens kruisondervraging is
haar destydse
polisieverklaring wat sy in 1995 afgelê het, aan
haar voorgehou waaruit dit blyk dat sy toe gesê het dat sy
“ingestem
het” om die Appellante slegs een keer te help (om ‘n
kind te kry) aangesien haar neef haar tog destyds gebruik het (dit
was
‘n verwysing na die feit dat sy ook in daardie verklaring
genoem het dat haar neef haar lank tevore betas het en op haar gelê

het). In kruisondervraging het sy ‘n soortgelyke antwoord gegee
toe sy gevra was waarom sy nie vroeër die gebeure gerapporteer

het nie en geantwoord het
“...
omdat ek tog ingestem het dat ek hulle gaan help, so niemand gaan my
glo nie”
. Die presiese konteks
van hierdie stukkies getuienis was nie verder ondersoek tydens die
verhoor nie en ek meen nie dat die verhoorlanddros
in die lig daarvan
bo redelike twyfel kon bevind het dat daar as ‘n feit nie
toestemming was nie.
Regsposisie:
Dit laat ‘n verdere ondersoek na die gebrekkige
wilsvermoë en die effek van bedrog op die toestemming van die
klaagsters
na vore tree. Met betrekking tot die bevinding rakende
gebrekkige wilsvermoë steun die geleerde Streeklanddros op ‘n
aanhaling
uit die tweede uitgawe van die werk van
Snyman
: Strafreg
. Soos uit die aanhaling
self blyk, bedoel die skrywer in die gemelde passasie dat hy met
wilsvermoëndheid bedoel die bestaan
van geestesvermoëns wat
die slagoffer in staat stel om die aard van die handeling te
verstaan. Daar is geen getuienis wat
daarop dui dat die twee
klaagsters D. en René nie destyds oor die geestesvermoëns
beskik het om die aard van die beoogde
handeling te begryp nie. Dit
sou na my mening verbasend wees om in hierdie dag en tyd normale
13-jarige meisies te vind wat nie
besef het dat daar
geslagsgemeenskap beoog was nie. Wat meer is, dit was aan hulle
verduidelik dat hulle moes ontklee en in die
Appellante se slaapkamer
op Tweede Appellant wag en met hom moes “slaap”. In teendeel,
dis duidelik dat hulle hulle tot geslagsgemeenskap
bereid verklaar
het omdat hulle beïnvloed was deur die storie wat die Eerste
Appellant hulle vertel het en omdat hulle haar
en haar man wou help.
Daar kan gevolglik nie sprake wees van bewys bo redelike twyfel dat
die klaagsters D. en René nie
wilsvermoënd was nie.
Dit laat dan die vraag of die inwilliging tot
geslagsgemeenskap wat deur misleiding bewerkstellig was sodanige
toestemming was dat
dit in die weg staan van ‘n skuldigbevinding
aan verkragting.
In
R v M
1953 (4) SA 394
(A)
verskyn die
volgende passasie (
op 398A
):
“
In
our law rape is a sub-species of
vis
(D.48.5.30.9). It is essential that the victim’s resistance be
overcome by fear, force or fraud.”
Alhoewel die betrokke saak gehandel het met ‘n
skuldigbevinding aan verkragting (wat tersyde gestel was), het die
feite daarvan
glad nie gehandel met bedrog of die invloed van bedrog
op die kwessie van toestemming nie en kan die algemene trant van die
opmerking
nie as gesag daarvoor dien dat toestemming wat deur
misleiding verkry is in alle gevalle neerkom op ‘n gebrek aan
instemming
nie. Dit lyk taamlik voor-die-hand-liggend te wees dat
toestemming tot geslagsgemeenskap wat verkry is deur bedrog
byvoorbeeld
waar ‘n man valslik aan ‘n vrou voorhou dat hy haar
lief het of een of ander sportheld is, inderdaad werklike toestemming
is
en nie net skyn nie. Sommige gevalle van toestemming wat by wyse
van misleiding verkry is, sal egter inderdaad geen ware toestemming

wees nie. Só byvoorbeeld is reeds gehou dat ‘n vrou wat
instem tot geslagsgemeenskap nadat sy valslik onder die indruk

gebring is dat dit met haar man is, nie toegestem het nie. (
R
v C
1952 (4) SA 117
(O)
).
Waar instemming tot geslagsgemeenskap egter verkry was onder die
voorwendsel dat dit een of ander mediese voordeel vir haar
inhou,
word sy slegs mislei in verband met die resultaat van die
geslagsgemeenskap en nie met betrekking tot die aard van die daad
of
die identiteit van die ander persoon nie. In só ‘n geval
kan dus nie gesê dat daar nie toestemming tot geslagsgemeenskap

was nie. Dit was ook die gevolgtrekking in
R
v Wiliiams
17 PH.H 38
,
‘n geval waar toestemming verleen was op sterkte van ‘n (valse)
bewering dat geslagsgemeenskap ‘n regstelling van die klaagster
se
baarmoeder sou bewerkstellig. ‘n Soortgelyke benadering is gevolg
in
R v K
1966 (1) SA 366
(RA)
waar die valse
bewering geleë was in die wysmaak van die slagoffer dat
geslagsgemeenskap haar van onvrugbaarheid sal genees
(‘n feitestel
wat hoë ooreenstemming met die onderhawige geval toon).
Bevinding:
Ek is dus van mening dat daar inderdaad werklike
toestemming was ten spyte van die misleiding en dat die
skuldigbevindings aan verkragting
op aanklagtes 1 en 2 tersyde gestel
moet word. Aangesien die klaagsters beide ten tye van die pleging
van die dade onder die ouderdom
van 16 jaar was, het die Tweede
Appellant hom steeds skuldig gemaak aan ‘n oortreding van artikel
14(1)(a) van die Wet op Seksuele
Misdrywe, nr 23 van 1957 en was sy
optrede bewerkstellig met die hulp van die Eerste Appellant wat dus
‘n medepligtige daartoe
was. Sodanige oortreding is ‘n bevoegde
uitspraak op ‘n aanklag van verkragting (sien artikel 261(1)(e) van
Wet 51 van 1977).
Gevolglik behoort die Tweede Appellant se
skuldigbevinding vervang te word met een van ‘n oortreding van
artikel 14(1)(a) van
Wet nr 23 van 1957 en dié van die Eerste
Appellant met ‘n skuldigbevinding aan medepligtigheid daartoe.
Wat die derde aanklag betref, was S. 9 jaar oud
toe die geslagsgemeenskap met haar plaasgevind het. Aangesien ‘n
meisie onder
die ouderdom van 12 jaar onweerlegbaar vermoed word om
nie in staat te wees om toestemming tot geslagsgemeenskap te verleen
nie
(
R v Z
1960 (1) SA 739
(A) te 742
), is die
bevinding dat daar geslagsgemeenskap deur die Tweede Appellant met
haar gehou was, afdoende vir die skuldigbevindings
op aanklag 3.
Daardie skuldigbevindings behoort dus na my mening bekragtig te word.
Aangesien daar geen appèl teen die
opgelegde vonnis is nie
behoort dit gevolglik ook bekragtig te word.
Vanweë die vervanging van die skuldigbevindings op die eerste
twee aanklagte met mindere misdrywe, verg die vonnis wat ten
opsigte
daarvan opgelê was, inmenging. Ingevolge artikel 22 van Wet nr
23 van 1957 is ‘n oortreding van artikel 14(1)
daarvan strafbaar
met ‘n maksimum van 6 jaar gevangenisstraf (met of sonder ‘n
boete van R12 000 00 daarbenewens).
Na oorweging van die
Appellante se persoonlike omstandighede en die feite en die
omstandighede wat met die pleging van die misdrywe
verband gehou het
en die kumulatiewe effek van die vonnisse, meen ek dat ‘n vonnis
van drie jaar gevangenisstraf op elk van aanklagte
1 en 2 ‘n
gepaste vonnis daar sal stel. Ek is verder van mening dat sodanige
vonnisse gelyktydig uitgedien moet word met die
vonnis van 15 jaar
gevangenisstraf wat reeds opgelê is op die derde aanklag.
_____________________
N J TREURNICHT
Waarnemende Regter
______________________
Ek stem saam : MOOSA, R
Die
appèl teen die skuldigbevinding op aanklag 3 word van die hand
gewys en die skuldigbevinding en vonnis ten opsigte daarvan
word
bekragtig.
Die
skuldigbevindings en vonnisse op aanklagte 1 en 2 word tersyde gestel
en vervang met die volgende:
Ten
opsigte van die Eerste Appellant
(Valerie Wolfaardt, wat
Beskuldigde nr 2 tydens die verhoor was): Skuldig aan
medepligtigheid tot ‘n oortreding van artikel
14(1)(a) van Wet 23
van 1957 en gevonnis tot drie jaar gevangenisstraf.
Ten
opsigte van die Tweede Appellant
(Derek Wolfaardt, wat
Beskuldigde nr 1 tydens die verhoor was) : Skuldig aan ‘n
oortreding van artikel 14(1)(a) van Wet 23 van
1957 en gevonnis tot
drie jaar gevangenisstraf.
Dit
word gelas dat die vonnisse op aanklagtes 1 en 2 gelyktydig uitgedien
sal word met die vonnis van 15 jaar gevangenisstraf wat
aan elke
Appellant opgelê is op aanklag 3.
......................................
E MOOSA