Mateis v Plaaslike Munisipaliteit Ngwathe en andere (254/02) [2003] ZASCA 9 (7 March 2003)

62 Reportability
Municipal Law

Brief Summary

Municipal Law — Municipal liability — Interpretation of 'State' in State Liability Act — Appellant sought to prevent execution against municipality's assets, arguing municipality falls under 'State' as per State Liability Act 20 of 1957 — Court held that municipality is not included in the definition of 'State' for purposes of the Act, thus its assets are subject to execution — Appeal dismissed with costs.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
2003
>>
[2003] ZASCA 9
|

|

Mateis v Plaaslike Munisipaliteit Ngwathe en andere (254/02) [2003] ZASCA 9; 2003 (4) SA 361 (SCA) (7 March 2003)

REPUBLIEK VAN
SUID-AFRIKA
DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL
VAN SUID-AFRIKA
RAPPORTEERBAAR
Saaknommer : 254 / 2002
In die appèl van
JAPPIE ZONGEZILE MATEIS
Appellant
en
DIE PLAASLIKE MUNISIPALITEIT NGWATHE Eerste
Respondent
VRYSTAAT MUNISIPALE PENSIOENFONDS Tweede Respondent
H J SAAYMAN NO
Derde Respondent
Regbank
: OLIVIER, STREICHER,
FARLAM, CONRADIE ARR
en JONES Wnde AR
Verhoordatum
: 24 FEBRUARIE 2003
Datum van Uitspraak
: 7 MAART 2003
SAMEVATTING
'n Munisipaliteit val nie onder die begrip 'Staat' in
die Wet op Staatsaanspreeklikheid 20 van 1957 nie, en sy bates en
eiendom is
vatbaar vir beslaglegging en eksekusie- verkoping.
_____________________________________________________
U I T S P R A A K
_____________________________________________________
P J J OLIVIER AR
[1]
Die oënskynlik eenvoudige vraag in
hierdie appèl is of 'n munisipaliteit inbegrepe is by die
woord 'Staat' in artikels
1 en 3 van die Wet op
Staatsaanspreeklikheid 20 van 1957 ('die Wet').
[2]
Die tweede respondent ('die pensioenfonds')
het op 18 Julie 2001 vonnis verkry teen die eerste respondent ('die
munisipaliteit')
vir betaling van R4 267 920,96 plus rente en koste.
'n Lasbrief vir vir beslaglegging en eksekusie is uitgereik en 'n
eksekusieverkoping
van letterlik al die munisipaliteit se roerende
bates was bestem om op 26 September 2001 plaas te vind. Die
applikant, 'n inwoner
van Parys (welke dorp geleë is binne die
jurisdiksiegebied van die munisipaliteit), waar hy ook vaste eiendom
besit, het egter
tussenbeide getree. Hy het in die Vrystaatse
Provinsiale Afdeling aansoek gedoen dat die gemelde
eksekusieverkoping afgelas en
die lasbrief vir uitwinning tersyde
gestel moet word. Sy argument was dat geen sodanige
eksekusieverkoping mag plaasvind nie
gesien die bepalings van art 3
van die Wet. Hy het op 20 September 2001 'n voorlopige bevel te
dien effekte bekom, hangende die
finale beregting van die aansoek.
[3]
Op die keerdag van die voorlopige bevel het
Knoetze Wnde R teen die appellant beslis en die voorlopige bevel,
met koste, opgehef.
Die appèl dien voor ons uit hoofde van
verlof deur hierdie Hof toegestaan.
Slegs die pensioenfonds opponeer die appèl.
Die muni-sipaliteit en die derde respondent, die betrokke balju,
berus in
die uitspraak van hierdie Hof.
[4]
Die appellant het in sy stawende beëdigde
verklaring nie verduidelik op welke basis vonnis teen die
munisipaliteit verkry is
nie. In die tweede respondent se
opponerende verklaring het die deponent, Mnr Fourie, die hoof
uitvoerende beampte van die tweede
respondent, verduidelik hoe die
verskuldigheid ontstaan het. Volgens hom het die munisipaliteit
pensioenbydraes van sy werknemers
se maandelikse salarisse afgetrek,
maar versuim om dit aan die tweede respondent oor te betaal. Dat
die munisipaliteit verplig
was om sodanige aftrekkings, tesame met
sy eie bydrae, aan die tweede respondent oor te betaal, blyk uit die
bepalings van art
13 A van die Wet op Pensioenfondse, 24 van 1956.
'n Versuim om dié oorbetalings te maak, stel 'n misdryf daar
wat strafbaar
is met 'n boete van hoogstens R2 000,00 (art 37 (a) en
(i) van laasgemelde wet).
Volgens Mnr Fourie het die
munisipaliteit die genoemde bydraes vir 'ander doeleindes'
aangewend. Daar word nie gesê wat
die 'ander doeleindes' is
nie, maar vir huidige doeleindes is dit nie relevant nie. Die punt
is dat die appellant nie hierdie
bewerings weerlê het nie.
Dit moet dus vir doeleindes hiervan as waar en korrek aanvaar
word (
Plascon-Evans Paints Ltd v Van Riebeeck Paints
(Pty)
Ltd
[1984] ZASCA 51
;
1984 (3) SA 623
(A) op 634 H - I).
[5]
Die appellant het sy aanval op die
beslaglegging van die munisipaliteit se bates beperk tot 'n beroep
op art 3 van die Wet en aangevoer
dat 'n munisipaliteit inbegrepe is
by die woord 'Staat' daarin.
Artikels 1, 2 en 3 van die Wet lui soos volg:
'
1. Eise teen die Staat in enige bevoegde hof beregbaar
. -
Enige eis teen die Staat wat, indien daardie eis teen 'n persoon
ontstaan het, 'n grond van aksie in 'n bevoegde hof sou uitmaak,
is
deur daardie hof beregbaar, hetsy die eis ontstaan uit 'n kontrak
wat wettiglik namens die Staat aangegaan is of uit 'n onregmatige
daad wat deur 'n dienaar van die Staat handelende in sy hoedanigheid
en binne die omvang van sy bevoegdheid as so 'n dienaar, verrig
is.
2 Regsgeding moet teen die Minister van betrokke departement
aanhangig gemaak word. -
(1) In 'n aksie of ander regsgeding uit hoofde van die bepalings van
artikel
een
ingestel, kan die Minister van die betrokke
departement as nominale verweerder of respondent gesiteer word.
(2) By die toepassing van subartikel (1) word "Minister",
waar toepaslik, uitgelê as sou dit verwys na 'n lid van
die
Uitvoerende Raad van 'n provinsie.
3 Voldoening aan vonnis.
- Geen lasbrief tot
tenuitvoerlegging of beslaglegging of soortgelyke prosesstuk kan in
so 'n aksie of regsgeding teen die verweerder
of respondent of teen
eiendom van die Staat uitgereik word nie, maar die bedrag, as daar
is, wat vereis mag word om aan 'n uitspraak
of bevel wat in so 'n
aksie of regsgeding teen die nominale verweerder of respondent
gedoen of uitgereik is, te voldoen, kan uit
die Nasionale
Inkomstefonds of 'n Provinsiale Inkomstefonds, na gelang van die
geval, betaal word.'
[6]
Die onderhawige geval kan benader word deur
die vraag te vra of die aksie teen die munisipaliteit wat op die
vonnis en beslaglegging
uitgeloop het, bedoelende een wat
voortspruit uit die versuim van die munisipaliteit se amptenare om
die pensioengelde oor te betaal,
'so 'n aksie of regsgeding' teen
die Staat was.
Dus: is die munisipaliteit se
amptenare, vir die doeleindes van die Wet, dienare van die Staat?
Mens kan ook die saak op 'n ander basis benader: is die
eiendom van die munisipaliteit waarop beslag gelê is, 'eiendom
van
die Staat' soos bedoel in art 3 van die Wet?
Van welke hoek die geval ookal benader word, bring dit
mens uiteindelik uit by dieselfde vraag : Is 'n munisipaliteit vir
die
doeleindes van die Wet sinoniem met die Staat.
[7]
Die begrip 'Staat' is 'n amorfe
juridies-politiese begrip. Dit dra in wetgewing geen vaste,
algemene betekenis nie. Selfs ons
Grondwet definieer nie dié
term nie. Dit hang dus af van elke besondere stuk wetgewing waarin
die woord 'Staat' voorkom,
wat die betekenis daarvan is. Dit moet
bepaal word deur die normale proses van uitleg (sien
Greater
Johannesburg Transitional Council v Eskom
2000 (1) SA 866
(SCA)
op 875 par [14] tot 876 par [15]).
[8]
Die wegspringplek is klaarblyklik die woorde
en bepalings van die betrokke wetsartikel in die konteks van die wet
in geheel.
Art 2 bepaal wie gedagvaar moet word in geval van 'n
eis teen die Staat: óf die Minister van die betrokke
staatsdepartement
óf 'n lid van die Provinsiale Uitvoerende
Raad as nominale verweerders. Geen melding van 'n munisipaliteit
word gemaak
nie. Art 3 bepaal dan dat
in
so 'n aksie
geen lasbrief teen die genoemde verweerders of beslaglegging op
eiendom van die Staat uitgevoer mag word nie. Maar art 3 gaan
voort: die betrokke vonnis na gelang van die geval, kan voldoen
word uit die Nasionale Inkomstefonds of 'n Provinsiale
Inkomstefonds.
[9]
Wat hieruit duidelik is, is dat die
staatsaanspreeklikheid waarmee die Wet handel, die aanspreeklikheid
van die sentrale of provinsiale
regering is. Die aanspreeklikheid
van munisipaliteite, wat immers ook 'n regeringsvorm is, word nie
genoem nie nóg wat
die skuldoorsake betref, nóg as
moontlike verweerder, nóg as moontlike betalende party en
word derhalwe by noodwendige
implikasie uitgesluit. Die Wet maak
ook nie voorsiening, in teenstelling met die sentrale of provinsiale
regering, uit welke
bron 'n munisipaliteit se aanspreeklikheid
voldoen moet word nie - nog 'n duidelike aanduiding dat die
wetgewer nooit in die
Wet die voldoening van 'n munisipaliteit se
skulde in gedagte gehad het nie. Die wesenlike bepalings van Wet
dui derhalwe onteenseglik
daarop dat dit nooit die wetgewer se
bedoeling was om die aanspreeklikheid van munisipaliteite teenoor
derdes as staatsaanspreeklikheid
aan te merk, of om 'n
munisipaliteit, vir doeleindes van gemelde wet, onder die woord
'Staat' in te sluit nie. Inteendeel, die
implikasie van
uitsluiting is onweerlegbaar.
[10]
Die appellant het betoog dat, in die lig
van die grondwetlike bepalings met betrekking to
menseregtebeskerming, art 3 uitgelê
moet word om ook 'n
munisipaliteit in te sluit. In die lig van die duidelike
bewoording van die Wet sou so 'n uitleg neerkom
op wetswysiging en
nie van wetsuitleg nie. 'n Hof het nie sodanige bevoegdheid in 'n
geval waar die grondwetlikheid van die betrokke
statutêre
bepaling nie in geskil is nie, ook nie waar die uitleg van die wet
onder oënskou geen ruimte vir twyfel laat
nie.
[11]
Die appèl
word gevolglik van die hand gewys met koste. Die Griffier van
hierdie Hof word versoek om die appèlrekord
en hierdie
uitspraak na die Direkteur van Openbare Vervolging te verwys na
aanleiding van die opmerkings in paragraaf 4 hiervan
gemaak.
P J J OLIVIER AR
SAMESTEMMEND:
STREICHER AR
FARLAM AR
CONRADIE AR
JONES Wnde AR