About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
2000
>>
[2000] ZASCA 185
|
|
S v Swart (247/99) [2000] ZASCA 185; 2000 (2) SACR 566 (SCA) (29 September 2000)
SAAKNR:
247/99
In
die saak tussen:
DIE
STAAT
Appellant
v
HERMAN
DOUGLAS SWART
Respondent
Coram: NIENABER, MARAIS JJA en MPATI Wnd AR
Verhoor: 26 SEPTEMBER 2000
Gelewer: 29 SEPTEMBER 2000
Vonnis -Verskerping daarvan op appèl -
Oplegging van globale vonnis - neem van twee of meer klagtes vir
vonnisdoeleindes
onwenslike praktyk, maar blote verontagsaming van
praktyksreël nie noodwendig 'n mistasting nie.
U I T S P R A A K
MPATI
Wnd AR/
MPATI
Wnd AR:
[1] Hierdie
is 'n appèl deur die Staat teen die vonnisse wat die
verhoorhof (Van Reenen R) die respondent in die Kaap die
Goeie Hoop
Provinsiale Afdeling opgelê het. Die respondent is deur die
verhoorhof skuldig bevind op ses aanklagte, tw twee
aanklagte van
verkragting (klagtes 1 en 2), menseroof (aanklag 3), onsedelike
aanranding (aanklag 4), roof (aanklag 5) en diefstal
(aanklag 6).
Die skuldigbevindings het gevolg op die respondent se pleit van
skuldig op al die klagtes. Klagtes 1, 2 en 4 is
saamgeneem vir
doeleindes van vonnis en die respondent is gevonnis tot agt jaar
gevangenisstraf; op aanklag 3 is hy gevonnis tot
vier jaar
gevangenisstraf; aanklag 5 en 6 is ook saamgeneem vir
vonnisdoeleindes en is hy gevonnis tot vier jaar gevangenisstraf.
'n
Bevel is gemaak dat die helfte van die vonnis op klagte 3 en die
helfte van die vonnis op klagtes 5 en 6 saamloop met die vonnis
van
agt jaar opgelê ten opsigte van klagtes 1, 2 en 4. Die
effektiewe vonnis is dus 12 jaar gevangenisstraf.
[2] 'n
Aansoek deur die Staat om verlof om teen al die opgelegde vonnisse te
appelleer is deur die verhoorhof afgewys. Met verlof
van hierdie Hof
kom die Staat nou in hoër beroep.
[3] Die
aanslag teen die opgelegde vonnis is gebaseer op grond daarvan dat
die verhoorhof in sekere opsigte misgetas het asook
dat die vonnisse
skokkend onvanpas is in die sin dat dit totaal onvoldoende is.
[4] Die
feite van die saak is grotendeels gemeensaak. Gedurende die
pleitverrigtinge het die respondent se regsverteenwoordiger
'n
skriftelike verklaring ingehandig ingevolge art 112(2) van die
Strafproseswet, 51 van 1977. Die volgende is onder andere vervat
in
genoemde verklaring:
"Ter uitbreiding van my pleitverduideliking verwys
ek na die Staat se opsomming van wesenlike feite ingevolge Art
144(3)(a)
van Wet 51van 1977, erken [ek] die korrektheid daarvan en
versoek hierdie Agbare Hof om dit as ingelyf te beskou by my
Pleitverduideliking."
[5] Die
onbetwiste feite is dan die volgende. Gedurende die middag van 6 Mei
1997 het die respondent die klaagster gebel en gesê
dat hy sy
vrou die volgende dag, op haar verjaarsdag, wou verras deur 'n
naelverlenging vir haar te laat doen. Toe die klaagster
te kenne gee
dat sy nie weg van haar huis werk nie het hy valslik aan haar
verduidelik dat hy sy hand beseer het en dat hy nie
kon bestuur nie.
Hy het met die klaagster gereël dat sy die volgende oggend by sy
woonstel moes aandoen om die naelverlenging
te doen. Die klaagster
het, soos gereël, om 09:40 op 7 Mei 1997 by die respondent se
woonstel aangekom. Die respondent het
haar by die deur ontmoet. Sy
het opgemerk dat sy linkerhand verbind was en dat hy dit styf teen sy
lyf gehou het. Hy het die
voorste hek oopgesluit en haar in die
woonstel ingeneem, met die verduideliking dat sy vrou nog op daardie
stadium in die bad was.
Nadat hy haar gevra het of sy iets te drinke
wou hê, het hy in die rigting van die badkamer gegaan en die
volgende woorde
geuiter:
"Liefie, jy moet gou maak, die mense is al hier."
Die klaagster was op daardie stadium
in die sitkamer.
Die
volgende oomblik het die respondent die sitkamer binnegegaan met 'n
sweep en 'n mes en aan die klaagster gesê:
"Nou doen jy wat ek sê."
Hy
het nader beweeg en toe hy by haar was het sy, in 'n geskokte
toestand, 'n gaspistool wat sy by haar suster geleen het uit haar
baadjie se sak probeer haal. Die respondent het haar hand gegryp en
dit agter haar rug gedraai. Hy het haar op 'n slaapbank neergegooi
en onsedelike taal teenoor haar en die vroulike geslag in die
algemeen gebruik. Hy het vir haar geskree dat sy nie na hom moes
kyk
nie en nadat hy haar polshorlosie afgehaal het het hy haar hande
agter haar rug vasgemaak met die verband wat om sy hand was.
Daarna
het die respondent die sleutels van die klaagster se motor uit haar
baadjie se sak uitgehaal en toe ongeveer 'n bedrag
van R60,00 uit
haar beursie geneem, asook haar tjekboek en kitskontantkaart. Die
beursie was in die klaagster se handsak. Op
sy aandrang het sy hom
die onttrekkingskode vir die kitskontantkaart gegee. Later het hy
haar van die slaapbank opgetrek en haar
na die hoofslaapkamer geneem
waar hy haar op die bed neergegooi het. Hy het toe die verband
losgeknoop, dit met die mes in twee
gesny en haar polse daarmee aan
weerskante van die bed vasgemaak. Die respondent het uit die
slaapkamer gegaan en weer teruggekom
met 'n nylon tou wat hy op so 'n
manier aan haar nek, polse en die pote van die bed gebind het dat sou
sy haar hande beweeg, die
tou om haar nek styf sou trek. Hy het aan
haar verduidelik dat as sy sou spartel die tou stywer om haar nek sou
trek met die gevolg
dat haar keel sou opswel en dit haar sou laat
versmoor. Hy het toe 'n handdoek oor die klaagster se gesig gegooi
waarna hy in
die woonstel rond beweeg het. Op 'n stadium en nog
voordat hy haar met die nylon tou vasgebind het, het hy haar rok
opgelig en
daaronder ingeloer.
[6] Nadat
hy twee oproepe gemaak het, het die respondent se broer by die
woonstel opgedaag. Die klaagster kon die respondent en
sy broer by
die voordeur hoor praat maar kon nie uitmaak waaroor hulle gepraat
het nie vanweë 'n radio wat langs haar op die
bedtafel hard
gespeel het. Sy wou nie om hulp skree nie want sy was nie seker of
die respondent se broer haar sou hoor nie en
sy wou die respondent
ook nie ontstel nie.
[7] Volgens
Gehardus Cowley Swart, die respondent se broer, wou die respondent
nie hê dat hy moes sien wat binne die woonstel
aangegaan het
nie. Na sy broer se vertrek het die respondent langs die bed gaan
staan en sy broek se ritssluiter afgetrek. Hy
het die klaagster
beveel om haar gesig na hom te draai. Hy het toe op die bed geklim
en vir haar geskree dat sy haar mond moet
oopmaak. Hy het sy stywe
geslagsdeel in haar mond gesit en daarmee in- en uitbewegings
gemaak. Daarna het hy opgestaan en haar
borste bo-oor haar klere
betas. Hy het toe haar rok opgetel en haar vrouedele gestreel en toe
haar damesbroekie afgetrek en met
haar volle geslagsomgang gehad.
Toe hy klaar was het hy haar damesbroekie opgetrek en haar rok weer
afgetrek. Terwyl hy langs
die bed staan het hy gesê:
"Nou is ek 'n verkragter ook, ek weet nie hoekom ek
dit gedoen het nie."
Daarna
het hy met haar gesels oor sy vrou en kinders en haar 'n foto van
hulle gewys.
[8] Op
'n stadium het die klaagster gevra of sy die toilet kon gebruik. Die
respondent, wat nou kalmer voorgekom het as voorheen,
het haar
gewaarsku dat sy haarself moes gedra. Hy het haar losgemaak maar het
haar linkerhand en linkerbeen aan mekaar vasgebind,
sodat sy nie
regop kon staan nie. Toe sy uit die toilet kom het hy haar
visenteer. Die klaagster het gevra of sy vir 'n rukkie
op die bed
kon sit omdat haar hande opgeswel was en daar letsels aan haar polse
was. Die respondent het haar twee of drie keer
'n slukkie van sy
bier aangebied. Blykbaar het hy deurentyd bier gedrink. Terwyl hy
op die bed gesit het, het hy sy planne aan
die klaagster ontbloot.
Hy wou haar motor gebruik om weg te kom van die polisie, maar hy wou
sy kinders ten minste nog eenkeer
sien, waarna hy na Suidwes
(Namibië) sou gaan. Hy het ook vir haar 'n geleentheid
aangebied om haar suster te bel sodat haar
twee kinders by die skool
gehaal kon word. Die klaagster het nie van hierdie geleentheid
gebruik gemaak nie.
[9] Vroegmiddag
het die respondent weereens die klaagster vir haar
kitskontantkaart-nommer gevra. Daarna het hy gesê dat
hy haar
weer gaan vasbind want hy wou binnekort ry. Hy het haar presies op
dieselfde manier as voorheen vasgebind maar op haar
versoek het hy
nie die tou om haar nek styf getrek nie. Terwyl hy die klaagster
vasgebind het, het hy die hoop uitgespreek dat
indien sy daarin sou
slaag om los te kom dit nie voor vyfuur sou gebeur nie, sodat hy
genoeg tyd sou hê om weg te kom. Hy
het toe sy broer gebel en
hom uitgenooi om vyfuur die middag 'n drankie by hom te kom geniet.
Hy het ook aan hom verduidelik waar
hy die woonstel se sleutels sou
vind, sou die respondent nie tuis wees nie. Aan die klaagster het hy
gesê dat sy broer haar
daar sou vind en haar sou losmaak. Hy
het haar horlosie op so 'n manier langs die bed geplaas dat sy die
tydsverloop kon dophou.
Hy het die klaagster se sleutels gaan haal
en haar gevra om te verduidelik wat die funksie van elkeen daarvan
was. Daarna het
hy uit die woonstel gegaan, blykbaar om bier en
sigarette te gaan koop. Hy het later weer teruggekom en gesê:
"Nou gaan ons eers weer 'n bietjie vry."
Hy
het haar gevra wat sy daarvan sê en toe sy vra of dit regtig
nodig was, sê hy "ja" en verder dat sy nie
'n keuse
daaromtrent gehad het nie. Hy het langs haar op die bed gaan lê
en weer haar borste betas. Hy het toe sy broek
en onderbroek
uitgetrek en met sy geslagsdeel teen haar geslagsdele gedruk en
geskuur. Hy het haar toe weer verkrag. Volgens
die klaagster het
die tweede verkragting veel langer geduur as die eerste een. Die
respondent het opgehou sonder om orgasme te
bereik en haar broekie
aangetrek en haar rok afgetrek. Hy is toe daar weg om geld te gaan
trek en toe hy terugkom, sê hy
dat sy darem die waarheid
gepraat het, dws dat sy hom die korrekte onttrekkingskode vir haar
kitskontantkaart gegee het. Die
respondent het toe die woonstel
verlaat. Sy het later losgekom en alarm gemaak.
[10] Klagte
3 behels die ontneming van die klaagster se vryheid van beweging
deurdat die respondent haar in sy woning aangehou
en vasgebind het.
Klagte 4 spruit uit die feit dat hy die klaagster se borste betas en
sy geslagsdeel in haar mond gedruk het;
klagtes 5 en 6,
onderskeidelik, deurdat hy haar met 'n mes en 'n sweep gedreig het
met die opset om haar motorvoertuig, bankkaarte
en ander besittings
sonder haar toestemming te neem en deurdat hy die bedrag van R500
sonder toestemming uit haar bankrekening
getrek het.
[11] Die
respondent het getuienis ter versagting afgelê. Die volgende
blyk daaruit. Hy is die jongste van ses kinders.
Sy vader is
oorlede toe hy nog net drie jaar oud was. Sy moeder was toe die
enigste broodwinner in die familie. Op 15 jarige
ouderdom het hy
begin werk. Hy het net tot standard vyf gevorder op skool. Ten tye
van die verhoor was hy 34 jaar oud. In 1984
het hy met sy vrou in
die huwelik getree. Twee minderjarige kinders is daaruit gebore, 'n
seun en dogter - hulle ouderdomme ten
tye van die verhoor was 14 en
11 jaar.
[12] Op
'n stadium het hy en sy familie van Kaapstad na Mosselbaai verhuis
waar hy 'n suksesvolle besigheid begin het. Sy vrou
het as
verpleegster by 'n hospitaal in Mosselbaai gewerk waar sy tot matrone
gevorder het. Die huweliksverhouding het begin skeeftrek
toe dit tot
die respondent se kennis gekom het dat sy vrou 'n lesbiese verhouding
met 'n ander verpleegster aangeknoop het. Die
gevolg was dat sy hom
en die minderjarige kinders by verskeie geleenthede verlaat het. By
een van hierdie geleenthede het hy 'n
onverwagte besoek afgelê
aan 'n vakansiehuis te Stilbaai waar sy vrou en haar lesbiese
vriendin en nog twee ander verpleegsters
hul bevind het. Daar het hy
sy vrou en haar vriendin nakend in 'n bed aangetref nadat hy deur 'n
venster toegang tot die woonstel
verkry het. Hy het hulle gedwing om
onnatuurlike seksuele dade te verrig omdat hy wou sien hoe vrouens
wat in 'n lesbiese verhouding
betrokke is, vry. Hy het hulle ook
elkeen 'n hou gegee met 'n knuppel. Sy vrou is daardie aand weer
saam met hom terug huis toe.
[13] Die gebeurtenisse te Stilbaai
het tot gevolg gehad dat die respondent aangekla en skuldig bevind is
op 14 Januarie 1997 aan
huisbraak met die opset om aan te rand,
waarvoor hy gewaarsku en ontslaan is;
crimen
injuria
, waarvoor
hy gevonnis is tot 'n boete van R300 of 100 dae gevangenisstraf en
aanranding met die opset om ernstig te beseer waarvoor
hy beboet is
tot R300 of 100 dae gevangenisstraf. Sy vrou het hom weer verlaat en
as gevolg van sy onstabiele huweliksverhouding
het hy besluit om na
Kaapstad terug te keer. Hy het sy besigheid verkoop en met sy
kinders weer na Kaapstad verhuis, waar hy in
sy moeder se woonstel
ingetrek het waar die misdade later gepleeg is. Sy broer het hom 'n
pos aangebied en hy het by sy paneelkloppersbesigheid
gewerk. In
April 1997 het sy vrou weer by hom in Kaapstad gaan aansluit.
Ongeveer 'n week voor die pleging van die misdade het
sy, terwyl
hulle saam in die stad was en hy 'n kantoor besoek het, met hul
voertuig wat voorheen in sy besit was, verdwyn. Die
kinders was
saam met haar. Hy het orals gesoek maar kon hulle nêrens vind
nie. Toe hy later by sy huis kom, was hulle
nie tuis nie. Eers die
Saterdag voor die voorval het hy 'n vae idee gekry dat hulle na sy
vrou se moeder in De Rust kon gegaan
het.
[14] Hierdie
optrede van sy vrou het die respondent geweldig ontstel. Hy was
besorg oor sy kinders - hulle was nou weer uit die
skool. Maandag, 6
Mei 1997, het hy nie gaan werk nie en in sy woonstel gesit en drink
en dagga rook. Dit is toe dat hy "gedink"
het dat hy 'n
voertuig in die hande moes kry "om te gaan kyk waar die kinders
is". Hy het toe die plan beraam om die
klaagster te bel nadat
hy haar advertensie in 'n koerant gesien het, wat hy toe ook op
Dinsdag, 7 Mei 1997, gedoen het. Vooraf
het hy op 6 Mei 1997 'n
sekere Wilhelmina Goosen gebel om kastig velprodukte ter waarde van
R500 te koop wat sy as 'n verjaarsdaggeskenk
vir sy vrou by sy
woonstel moes aflewer. Goosen het velsorgprodukte van haar huis
verkoop. Sy het die uitnodiging geweier.
[15] Behalwe vir die drie vorige
veroordelings wat hierbo vermeld is, het die respondent nog verdere
vorige veroordelings. In
1984 is hy skuldig bevind aan besit van 'n
gevaarlike wapen ('n duikmes) waarvoor hy gewaarsku en ontslaan is.
Op 27 Mei 1985
is hy skuldig bevind aan onsedelike aanranding toe hy
'n jong skoolmeisie wat hy in sy motor opgelaai het, betas en daarna
weggejaag
het. Hy is beboet tot R400 of ses maande gevangenisstraf.
Op 18 November 1985 is hy skuldig bevind aan
crimen
injuria
waarvoor hy
tot R80 boete of 80 dae gevangenisstraf gevonnis is, wat in die
geheel op sekere voorwaardes opgeskort is. Die respondent
en ander
persone het blykbaar meisies in 'n skoolkoshuis dopgehou terwyl hulle
verklee het. Op 1 Augustus 1986 is hy gewaarsku
en ontslaan na 'n
skuldigbevinding op 'n klagte van verskaffing van valse inligting om
'n vuurwapenlisensie te verkry. Hy is weer
op 24 Julie 1989 aan
crimen injuria
skuldig bevind,
maar is gewaarsku en ontslaan. Die besonderhede van hierdie
oortreding blyk nie bekend te wees nie. Op 19 November
1991 is die
respondent skuldig bevind aan onsedelike aanranding toe hy 'n 16
jarige dogter betas het en haar vir hom laat betas
het. 'n Vonnis
van R2500 of een jaar gevangenisstraf is hom opgelê, plus 'n
verdere 18 maande gevangenisstraf, opgeskort
vir vyf jaar op sekere
voorwaardes.
[16] In 'n geval soos die
onderhawige is die benadering van 'n hof van appèl in die
uitspraak van hierdie Hof in
S
v Shapiro
1994 (1)
SASV 112 (A) op 119j-120c soos volg uitgelê:
"It may well be that this Court
would have imposed on the accused a heavier sentence than that
imposed by the trial Judge.
But even if that be assumed to be the
fact, that would not in itself justify interference with the
sentence. The principle is
clear: it is encapsulated in the
statement by
Holmes
JA
in
S
v Rabie
1975 (4) SA
855
(A) at 857D-F:
'1. In every appeal against sentence, whether imposed by
a magistrate or a judge, the Court hearing the appeal -
(a) should be guided by the principle that punishment is
'pre-eminently a matter for the discretion of the trial Court': and
(b) should be careful not to erode such discretion:
hence the further principle that the sentence should only be altered
if the
discretion has not been 'judicially and properly exercised'.
2. The test under (b) is whether the sentence is
vitiated by irregularity or misdirection or is disturbingly
inappropriate.' "
Sien ook
S
v Sadler
2000 (1)
SASV 331 (HHA) op 334 para 6.
[17] Daar
is namens die Staat betoog dat die verhoorhof misgetas het deur die
respondent se persoonlike omstandighede oor te beklemtoon
en te min
gewig te heg aan sy lang lys vorige veroordelings. Daar is verder
aangevoer dat die verhoorhof oormatige gewig geheg
het aan die
versagtende faktore in die saak. Dit is op hierdie stadium nie nodig
om 'n mening uit te spreek oor die Staat se submissies
ten opsigte
van die beweerde oorbeklemtoning van die respondent se persoonlike
omstandighede nie en ook nie oor die aspek van die
vorige
veroordelings nie. Ten opsigte van die versagtende omstandighede het
die verhoorhof hom soos volg uitgelaat:
"Aan die anderkant het die beskuldigde se
ontsteltenis oor sy vrou se optrede, die invloed van drank en
dagga-inname asook
sy angstigheid om sy kinders weer te sien 'n mate
van 'n temperende effek."
Na
my mening was die verhoorhof volkome geregtig om hierdie feite in die
guns van die respondent te oorweeg. Ek kan nêrens
vind dat
daar enigsins oormatige gewig daaraan geheg is nie.
[18] Me
Heunis, namens die Staat, het verder aangevoer dat die verhoorhof
fouteer en misgetas het deur nie voldoende gewig aan
die erns van die
misdrywe te heg nie, asook die feit dat genoemde misdrywe algemeen
voorkom in sy jurisdiksie gebied. Me Heunis
het ook betoog dat die
verhoorhof fouteer het deur klagtes 1, 2 en 4 saam te neem vir
doeleindes van vonnis. Die misdrywe is afsonderlik
en op
verskillende tye gepleeg, so is betoog. In die alternatief het me
Heunis aangevoer dat die vonnis wat die verhoorhof ten
opsigte van
klagtes 1, 2 en 4 opgelê het ontstellend onvanpas is.
[19] In
S
v Immelman
1978 (3)
SA 726
(A) op 728E-729D het hierdie Hof, met verwysing na die vroeër
uitspraak van
S v
Young
1977 (1) SA
602
(A), weereens die mening uitgespreek dat die praktyk waarvolgens
howe van eerste instansie meervoudige oortredings saamneem vir
vonnisdoeleindes onwenslik is en net in uitsonderlike gevalle
toegepas moet word. Die redes is volledig uiteengesit in genoemde
uitspraak en ek ag dit nie nodig om dit te herhaal nie. Maar in
S
v Keulder
1994 (1)
SASV 91 (A) het hierdie Hof hom soos volg uitgelaat:
"Die blote verontagsaming van
hierdie praktyksreël kan klaarblyklik nie 'n mistasting uitmaak
wat sondermeer ingryping
teen die opgelegde vonnis regverdig nie. 'n
Mistasting in hierdie verband beteken 'n fout in die bepaling of die
toepassing van
die feite met die oog op die beoordeling van 'n
gepaste vonnis, 'n fout van so 'n aard of omvang dat dit daarop dui
dat die vonnisoplegger
sy diskresie op 'n onredelike of onbehoorlike
wyse uitgeoefen het (
S
v Pillay
1977 (4)
SA 531
(A) op 535D-G)." (Op 102b-c)
[20] In die huidige geval sou dit na
my mening verkieslik gewees het vir die verhoorhof om afsonderlike
vonnisse ten opsigte van
die verkragtingsoortredings op te lê.
Maar soos wat in
S
v Keulder, supra,
gesê is, kom die blote versuim om dit te doen nie sondermeer op
'n mistasting neer nie. Me Heunis het ook nie haar betoog
in hierdie
verband sterk aangevoer nie.
[21] Wat die advokaat wel sterk
aangevoer het, is die alternatiewe submissie dat die vonnis deur die
verhoorhof opgelê ten
opsigte van klagtes 1, 2 en 4 ontstellend
onvanpas is. In
S v
Sadler
2000 (1)
SASV 331 (A) kom die volgende voor op 334 para 8-335 para 10:
"The traditional formulation of the approach to
appeals against sentence on the ground of excessive severity or
excessive lenience
where there has been no misdirection on the part
of the court which imposed the sentence is easy enough to state. It
is less easy
to apply. Account must be taken of the admonition that
the imposition of sentence is the prerogative of the trial court and
that
the exercise of its discretion in that regard is not to be
interfered with merely because an appellate Court would have imposed
a heavier or lighter sentence. At the same time it has to be
recognised that the admonition cannot be taken too literally and
requires substantial qualifications. If it were taken too literally,
it would deprive an appeal against sentence of much of a
social
utility it is intended to have. So it is said that where there
exists a 'striking' or 'startling' or 'disturbing' disparity
between
the trial court's sentence and that which the appellate Court would
have imposed, interference is justified. In such situations
the
trial court's discretion is regarded (fictionally, some might
cynically say) as having been unreasonably exercised.
...
[I]t is important to emphasize that
for interference to be justified, it is not enough to conclude that
one's own choice of penalty
would have been
an
appropriate
penalty. Something more is required; one must conclude that one's
own choice of penalty is
the
appropriate penalty
and that the penalty chosen by the trial court is not. Sentencing
appropriately is one of the more difficult
tasks which faces courts
and it is not surprising that honest differences of opinion will
frequently exist. However, the hierarchical
structure of our courts
is such that where such differences exist it is the view of the
appellate Court which must prevail."
[22] In
S
v Chapman
1997 (2)
SASV 3 (HHA) te 5b is verkragting soos volg beskryf:
"Rape is a very serious offence constituting as it
does a humiliating, degrading and brutal invasion of the privacy,
dignity
and person of a victim."
[23] In
die loop van sy uitspraak het die verhoorhof die opmerking gemaak dat
die respondent die verkragting nie op die ingewing
van die oomblik
gepleeg het nie. Daar was van die respondent se kant geen betoog dat
hierdie bevinding nie korrek was nie. Verder
het die verhoorhof die
volgende opmerking gemaak:
"Wat die verkragtings ... weersinwekkend maak, is
die lengte van die tyd waartydens die klaagster aan trauma en
vernedering
blootgestel was en dat sy vir 'n tweede keer verkrag
was."
Die
nagevolge van die misdade op die klaagster, in besonder die seksuele
misdade, is geen verrassing nie. Sy het vir ongeveer 'n
maand en 'n
half aan angsaanvalle gely en vir die eerste maand angswekkende
drome gehad. Sy het vir twee tot drie maande behandeling
ontvang by
'n kliniese sielkundige. Daardie behandeling moes gestaak word omdat
sy dit nie meer kon bekostig nie. Sy het verwerping
deur haar man
ervaar en het hulle weer seksueel aktief geraak nadat hulle albei vir
'n tyd lank behandeling ontvang het by die
kliniese sielkundige.
[24] Die verkragtings was na my
mening hoofsaaklik gerig op 'n selfsugtige bevrediging van die
respondent se seksuele drange.
Gesien vanuit die klaagster se kant,
was dit 'n onwelkome en kru skending van haar liggaamsintegriteit en
'n growwe krenking van
haar waardigheid. Hierdie Hof het hom in
S
v Chapman
,
supra
,
voorts soos volg uitgelaat op 5c-e:
"Women in this country are entitled to the
protection of [their rights to dignity, to privacy and the integrity
of their person].
They have a legitimate claim to walk peacefully on
the streets, to enjoy their shopping and their entertainment, to go
and come
from work, and to enjoy the peace and tranquillity of their
homes without the fear, the apprehension and the insecurity which
constantly
diminishes the quality and enjoyment of their lives ...
The courts are under a duty to send a clear message to
the accused, to other potential rapists and to the community: We are
determined
to protect the equality, dignity and freedom of all women,
and we shall show no mercy to those who seek to invade those rights."
Ek is van oordeel dat die vonnis deur
die verhoorhof opgelê ten opsigte van klagtes 1, 2 en 4
ontstellend onvanpas is en dat
"there is such a glaring
inadequacy in the sentence that it can be said to be an improper
sentence which does not meet the
exigencies of the crime[s]".
(
S v Mofokeng
1962 (2) SA 385
(A) op 389D.)
[25] Die
Staat se enigste aanslag teen die vonnisse opgelê ten opsigte
van klagtes 3, 5 en 6 is dat 'n effektiewe tronkstraf
van twee jaar
ten opsigte van elk van die twee vonnisse ontstellend onvanpas is.
Ek meen dat me Heunis nie betoog het dat die
vonnisse van vier jaar
elk deur die verhoorhof opgelê nie vanpas was nie. Of die
Staat hier gelyk gegee moet word, sal afhang
van die kumulatiewe
effek van daardie vonnisse enaan die vonnisse wat opgelê word
ten opsigte van klagtes 1, 2 en 4.
[26] Om
terug te keer na klagtes 1, 2 en 4. Die vonnis deur die verhoorhof
opgelê ten opsigte van hierdie klagtes moet
vervang word met
'n vonnis wat ek as toepaslik beskou. Om hierdie doel te bereik,
meen ek dat dit gerade sal wees om 'n afsonderlike
vonnis op te lê
ten minste vir die tweede verkragting. Die klaagster het getuig dat
nadat die respondent sy geslagsdeel
in haar mond gedruk het en in- en
uitbewegings gemaak het, het hy haar borste betas, daarna haar rok
opgetel en haar vrouedele
gestreel. Hy het toe haar damesbroekie
uitgetrek en haar penetreer. Myns insiens is die onsedelike
aanranding en die eerste verkragting
so nou met mekaar verbonde dat
'n hof geregtig sou wees om die twee saam te neem vir doeleindes van
vonnis.
[27] Alhoewel
die klaagster onseker is van tye, blyk dit nogtans dat daar 'n
tydsverloop van ongeveer vier uur tussen die twee
verkragtings was.
Gedurende daardie tyd het die respondent op 'n stadium die huis
verlaat om bier en sigarette te gaan koop.
Hy het ook intussen met
die klaagster gesels en die indruk geskep dat sy nie weer verkrag sou
word nie. Om haar weer te verkrag,
was geheel en al onvergeeflik.
Dit kon net wees dat die respondent die magsposisie waarin hy was
geniet het. Na my oordeel behoort
hy swaarder gestraf te word vir
die tweede verkragting.
[28] Die
appèl word gevolglik gehandhaaf. Die volgende bevel word
gemaak:
1. Die vonnis ten opsigte van klagtes 1, 2 en 4 word ter
syde gestel en met die volgende vervang:
(a) Op klagtes 1 en 4 word die beskuldigde gevonnis tot
sewe jaar gevangenisstraf;
(b) Op klagte 2 word hy gevonnis tot sewe jaar
gevangenisstraf;
(c) Daar word beveel dat twee jaar van die vonnis op
klagte 2 saamloop met die vonnis op klagtes 1 en 4.
2. Die vonnisse, wat die verhoorhof ten opsigte van
klagtes 3 en 5 en 6 opgelê het, bly onveranderd, maar die
helfte daarvan
sal saamloop met die vonnis op klagtes 1 en 4.
Die
effektiewe vonnis is dus sestien jaar gevangenisstraf.
__________________
L MPATI
Wnd APPèLREGTER
STEM SAAM:
NIENABER
AR
MARAIS AR