About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
2000
>>
[2000] ZASCA 42
|
|
Le Roux v Standard General Versekerings-Maatskappy Bpk (440/98) [2000] ZASCA 42; 2000 (4) SA 1035 (SCA) (21 September 2000)
Saaknommer 440/98
RAPPORTEERBAAR
IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL VAN
SUID-AFRIKA
In die saak tussen:
H M KRIGE LE
ROUX APPELLANT
en
STANDARD GENERAL
VERSEKERINGS-
MAATSKAPPPY BPK RESPONDENT
CORAM : HEFER WnAHR, NIENABER, SCOTT,
PLEWMAN ARR
et
MELUNSKY WnAR
VERHOOR: 15 SEPTEMBER
2000
GELEWER: 21 SEPTEMBER 2000
Uitleg van art
156 van die Insolvensiewet 24 van 1936 - eiser verkry nie beter reg onder
artikel as wat die versekerde self geniet
het nie - versekeraar kan op sy
kontraktuele regte kragtens polis staatmaak.
U I T S P R A A K
SCOTT AR
/.....
SCOTT AR
:
[1] Die appellant het in die Witwatersrand Plaaslike Afdeling teen die
respondent aksie ingestel ooreenkomstig artikel 156 van die
Insolvensiewet 24
van 1936 (“die Wet”) saamgelees met artikel 339 van die
Maatskappywet 61 van 1973. Die enigste geskilpunt
in hierdie appèl
gaan oor die uitleg van artikel 156 van die Wet.
[2] Op 6 Oktober 1988 by
die perseel van Phoenix Cranes (Edms) Bpk (“Phoenix”) te Boksburg
het die appellant beserings
opgedoen toe ’n hyskraan op sy been geval
het. Hy het teen Phoenix aksie ingestel en op 28 Augustus 1990 is verstekvonnis
in ’n bedrag van R188 800,00 plus koste teen Phoenix toegestaan.
Op 18
September 1990 is Phoenix voorlopig gelikwideer op grond daarvan dat hy nie sy
skulde kon vereffen nie en op 30 Oktober 1990
is ’n finale likwidasiebevel
toegestaan.
[3] Te alle relevante tye en kragtens ’n korttermyn polis
het die respondent (die verweerder in die Hof
a quo
) Phoenix teen
risiko’s van dié aard verseker wat tot die appellant se aksie teen
Phoenix gelei het. Klousule 6 (a)
(iv) van die polis bepaal:
“On the happening of any event which may result in a claim under this
policy the insured [Phoenix] shall, at their own expense
...
(iv) give the company [respondent] such proofs, information and sworn
declaration as the company may require and forward to the company
immediately
any notice of claim or any communication, writ, summons or legal process issued
or commenced against the insured in
connection with the event giving rise to the
claim”.
Ingevolge klousule 7(ii) van die
polis is aan die respondent die reg verleen:
“[to] take over and conduct in the name of the insured the defence or
settlement of any claim and prosecute in the name of
the insured for their own
benefit any claim for indemnity or damages or otherwise and shall have full
discretion in the conduct of
any proceedings and in settlement of any
claim....”
Daar is deur die partye aanvaar dat Phoenix
nie die dagvaarding aan die respondent oorhandig het nie en dat die dagvaarding
vir die
eerste keer gedurende Mei 1991 tot die respondent se kennis gebring is
deur die appellant se prokureurs, d w s lank nadat verstekvonnis
reeds teen
Phoenix verkry en Phoenix finaal gelikwideer is. Dit volg dat die respondent nie
die geleentheid gegun is om sy regte
ingevolge klousule 7(ii) (hierbo aangehaal)
uit te oefen nie. Klousule 10 van die polis bepaal voorts:
“The conditions of this policy and sections thereof shall apply
individually to each of the risks insured and not collectively
to them so that
any breach shall render voidable the section only in respect of the risk to
which the breach applies.”
[4] Na aanleiding van
Phoenix se likwidasie het die appellant gedurende Junie 1991 aksie teen die
respondent ingestel. Soos
reeds aangedui, is die aksie op artikel 156 van
die Wet gegrond. Die artikel lees soos volg.
“Wanneer iemand (hieronder die versekeraar genoem) verplig is om iemand
anders (hieronder die versekerde genoem) skadeloos
te stel weens een of ander
aanspreeklikheid wat die versekerde teenoor ’n derde party opgeloop het,
dan is laasbedoelde by
sekwestrasie van die boedel van die versekerde geregtig
om van die versekeraar in te vorder die bedrag van die aanspreeklikheid van
die
versekerde teenoor die derde party, dog nie meer as die maksimumbedrag waarvoor
die versekeraar homself tot skadeloosstelling
van die versekerde verbind
het..”
(Dit blyk uit artikel 339 van die Maatskappywet
dat die bepalings van artikel 156 van toepassing is by die likwidasie van
’n
maatskappy wat nie sy skulde kon betaal nie. Kyk
Supermarket
Leaseback (Elsburg) (Pty) Ltd v Santam Insurance Ltd
1991(1) SA 410 (A) op
411 I.)
[5] Die respondent beweer in sy pleit dat hy, vanweë die
versuim aan die kant van Phoenix om die appellant se dagvaarding vir
skadevergoeding aan die respondent te besorg, die keuse uitgeoefen het, soos
hy geregtig was om te doen, om die betrokke gedeelte
van die polis as vernietig
te beskou en dat hy derhalwe nie teenoor Phoenix en gevolglik, vanweë
artikel 156 van die Wet, ook
nie teenoor die appellant aanspreeklik is nie.
Eksepsie teen die pleit is deur die appellant geopper op grond daarvan dat dit
aan beweringe mank gaan wat nodig was om ’n verweer te staaf. Met die
eksepsie is egter nie volhard nie. In plaas daarvan
het die partye ’n
ooreenkoms aangaande die feite soos hierbo uiteengesit bereik en is drie vrae
geformuleer vir die hof om
ooreenkomstig Reël 33 (4) te beslis. Dit is
onnodig om die vrae aan te haal. Hulle kan in een vraag saamgevat word, te
wete, is die appellant se nietigverklaring van die betrokke gedeelte van die
polis ’n regsgeldige verweer teen die appellant
se eis gegrond op artikel
156 van die Wet? Goldstein R het beslis dat dit wel die geval is. Hierdie
appèl geskied met
die verlof van die Hof
a
quo
.
[6]
Artikel 156 van die Wet verleen aan ’n eiser die
reg om in bepaalde omstandighede
’
n bedrag direk van ’n
versekeraar te vorder wat deur die versekerde aan die eiser verskuldig is. Soos
uit die artikel blyk,
ontstaan die reg by die sekwestrasie van die boedel van
die versekerde. By ontstentenis van so ’n wetsbepaling sou ’n
eiser
in daardie omstandighede verplig gewees het om sy eis teen die versekerde se
insolvente boedel in te dien en sou sy verhaalsreg
beperk gewees het tot enige
dividend wat die kurator aan konkurrente skuldeisers moes betaal. Die kurator
sou op sy beurt verplig
gewees het om ten gunste van al die skuldeisers die
versekerde se reg op vrywaring uit hoofde van die tersaaklike polis teen die
versekeraar af te dwing. Die gevolg van art 156 is dus om die eiser aansienlik
te bevoordeel deurdat ander skuldeisers nie in die
opbrengs van die polis kan
deel nie (kyk
Woodley v Guardian Assurance Co of SA Ltd
1976(1) SA 758
(W) op 759 E - G;
Supermarket Haasenback (Pty) Ltd v Santam Insurance
Ltd
1989 (2) SA 790
(W) op 793 C - G;
Przybylak v Santam Insurance
Ltd
1992 (1) SA 588
(K) op 601 J - 602 A).
[7] Namens die appellant is
betoog dat ’n eiser nog verder deur die artikel bevoordeel word deurdat in
’n geval soos
die huidige die appellant se reg teen die respondent
kragtens die artikel nie deur nietigverklaring van die polis vernietig word
nie. Die rede daarvoor, so is betoog, is dat by sekwestrasie van die
versekerde se boedel die eiser ’n gevestigde reg teen
die versekeraar
verkry wat nie daarna deur nietigverklaring van die polis deur die versekeraar
weens die versekerde se kontrakbreuk
aangetas kan word nie. Hierdie betoog gaan
m i nie op nie. Om te kan slaag in ’n aksie ingevolge artikel 156 moet
’n
eiser aanspreeklikheid aan die kant van die versekeraar teenoor die
versekerde bewys. Dit blyk uit die woorde, “wanneer iemand
(hieronder die
versekeraar genoem) verplig is om iemand anders (hieronder die versekerde
genoem) skadeloos te stel ...”.
Daar is egter niks in die artikel om
aan te dui dat daardie aanspreeklikheid slegs tydens die toestaan van die
sekwestrasiebevel
moet bestaan of dat die versekeraar nie daarna op sy
kontraktuele regte kragtens die polis staat kan maak nie. Indien die appellant
se vertolking van die artikel korrek is, sou dit beteken dat ’n eiser
onder die artikel ’n beter reg teen die versekeraar
verkry as wat die
versekerde self geniet het. Dit sou ook beteken dat die versekeraar verhoed
word om op sy kontraktuele regte
te steun indien dit blyk dat die versekerde
kontrakbreuk gepleeg het. So ’n vertolking is onhoudbaar en kon nooit die
bedoeling
van die wetgewer gewees het nie.
[8] Die appèl kan dus nie
slaag nie. Dit word met koste van die hand gewys.
D G
SCOTT
Stem
saam:
HEFER WnAHR
NIENABER AR
PLEWMAN AR
MELUNSKY WnAR