S v Makwanyane and Another (233/92) [2000] ZASCA 23 (4 May 2000)

88 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Sentencing — Constitutionality of life imprisonment — Appellants convicted of multiple murders and sentenced to death, later challenged the constitutionality of the death penalty — Constitutional Court found death penalty unconstitutional, leading to reconsideration of sentences — Appellants argued that life imprisonment also infringes constitutional rights to dignity and freedom of movement — Court held that life imprisonment does not violate the right to life and is constitutionally permissible, with provisions for parole and early release mitigating concerns regarding dignity and freedom.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
2000
>>
[2000] ZASCA 23
|

|

S v Makwanyane and Another (233/92) [2000] ZASCA 23 (4 May 2000)

DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL
van
SUID-AFRIKA
Saaknommer: 233/92
In
die saak tussen
T
MAKWANYANE
Eerste
Appellant
M
MCHUNU
Tweede Appellant
TEEN
DIE
STAAT
RESPONDENT
Coram:
EM
Grosskopf, FH Grosskopf en Nienaber ARR
Verhoordatum: 2 Mei 2000
Datum gelewer: 4 Mei 2000
UITSPRAAK
EM Grosskopf AR
[1] Die
twee appellante is in die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling skuldig
bevind op vier klagtes van moord, een van poging tot
moord en een van
poging tot roof met verswarende omstandighede. Op elk van die klagtes
van moord is die appellante ter dood veroordeel.
Ten opsigte van die
klag van poging tot moord is hulle elk tot twaalf jaar
gevangenisstraf gevonnis, en ten opsigte van die poging
tot roof, tot
tien jaar gevangenisstraf. Die verhoorhof het gelas dat vyf jaar van
die gevangenisstraf ten opsigte van die poging
tot roof moet saamloop
met die gevangenisstraf op die aanklag van poging tot moord. In effek
was daar dus sewentien jaar gevangenisstraf
op elke appellant opgelê.
[2] Die
appellante het na die Appèlafdeling appèl aangeteken
teen hul skuldigbevindinge en vonnisse. Op 27 Mei 1994
is die appèlle
teen al die skuldigbevindinge en teen die vonnisse op die klagtes van
poging tot moord en poging tot roof
van die hand gewys. Aangesien
daar destyds twyfel bestaan het oor die grondwetlikheid van die
doodvonnis, is die appèlle
teen die doodvonnisse uitgestel ten
einde die Konstitusionele Hof in staat te stel om oor hierdie
grondwetlike kwessie uitsluitsel
te gee. Die Appèlafdeling se
uitspraak is
gerapporteer:
S
v Makwanyane en 'n Ander
[1994] ZASCA 76
;
1994 (3) SA 868
(A); 1994 (2) SASV 158 (A). Ek sal na hierdie
uitspraak verwys as
Makwanyane1
.
[3] Daarna
het die appellante se appèl voor die Konstitusionele Hof
gedien.
Uitspraak
is op 6 Junie 1995 gelewer: sien
S
v Makwanyane and Another
[1995] ZACC 3
;
1995 (3) SA 391
(CC) (
Makwanyane2
),
ook op ander plekke gerapporteer. Die hof se bevel verskyn in par
151 van die uitspraak. Kortliks kom dit daarop neer dat die

doodvonnis as ongrondwetlik bevind is, en dat die vonnis dus nie op
die appellante voltrek mog word nie.
[4] Kragtens
art 1(10) van Wet 105 van 1997 (soos vervang deur art 25(b) van Wet
34 van 1998) dien die appellante se appèlle
nou weer voor ons
sodat gepaste vonnisse ter vervanging van die doodvonnisse opgelê
kan word.
[5] Die
feite van die saak word volledig in
Makwanyane1
uiteengesit en ek hoef hulle nie hier te herhaal nie. Ons slotsom
destyds was dat "die moorde wat deur die appellante of
hul
makkers gepleeg is, waarvoor hulle almal regtens aanspreeklik is, so
'n vergryp teen die norme van 'n ordelike gemeenskap
is dat hulle
die swaarste vonnis regverdig waarvoor ons regstelsel voorsiening
maak" (873B). Indien ons steeds hierdie mening
huldig, sou die
gepaste straf lewenslange gevangenisstraf wees (sien
S
v Siluale en Ander
1999
(2) SASV 102 (SCA)).
[6] Namens
die appellante word egter nou betoog dat 'n vonnis van lewenslange
gevangenisstraf ook, soos die doodstraf, ongrondwetlik
is. Dit is
effens ironies. In
Makwanyane2
het die afskrikkende waarde van die doodvonnis vanselfsprekend
heelwat aandag gekry. In hierdie verband het Chaskalson P een
van
die vrae wat ontstaan soos volg gestel (par 123):
"In the debate as to the
deterrent effect of the death sentence, the issue is sometimes dealt
with as if the choice to be
made is between the death sentence and
the murder going unpunished. That is of course not so. The choice to
be made is between
putting the criminal to death and subjecting the
criminal to the severe punishment of a long term of imprisonment
which, in an
appropriate case, could be a sentence of life
imprisonment. Both are deterrents, and the question is whether the
possibility
of being sentenced to death, rather than being sentenced
to life imprisonment, has a marginally greater deterrent effect, and
whether the Constitution sanctions the limitation of rights affected
thereby."
[7] Ook
wat betref voorkoming het die moontlikheid van 'n vonnis van
lewenslange gevangenisstraf 'n rol gespeel in Chaskalson
P se
beredenering. Aldus sê hy (par 128):
"Prevention is another
object of punishment. The death sentence ensures that the criminal
will never again commit murders,
but it is not the only way of doing
so, and life imprisonment also serves this purpose."
By
sy uiteindelike slotsom sê Chaskalson P (par 145):
"In the balancing process
the principal factors that have to be weighed are, on the one hand,
the destruction of life and
dignity that is a consequence of the
implementation of the death sentence, the elements of arbitrariness
and the possibility
of error in the enforcement of capital
punishment, and the existence of a severe alternative punishment
(life imprisonment) and,
on the other, the claim that the death
sentence is a greater deterrent to murder, and will more effectively
prevent its commission
than would a sentence of life imprisonment,
and that there is a public demand for retributive justice to be
imposed on murderers,
which only the death sentence can meet."
[8] In
hierdie opwegingsproses het Chaskalson P bevind dat die faktore wat
teen die regverdigbaarheid van die doodvonnis tel,
swaarder weeg as
die faktore in die guns van die vonnis. Dit is duidelik dat hy
wesentlik beïnvloed was deur die beskikbaarkeid
van lewenslange
gevangenisstraf as 'n moontlike alternatiewe straf. Sien ook
Ackermann R (par 170-1), Kentridge R (par 203) en
Madala R (par
239). Geen lid van die hof het hierdie standpunt verwerp nie.
[9] Die
ironie van die appellante se huidige standpunt lê vir my
daarin dat hulle in die Konstitusionele Hof die doodvonnis

vrygespring het ten dele omdat lede van daardie hof beskou het dat
die vonnis van lewenslange gevangenisstraf beskikbaar is vir
die
afskrikking en voorkoming van misdaad. Nou veg die appellante
hierdie grondslag van hul destydse sukses aan. Hoe dit ook
al sy,
daar is nie voor ons betoog dat die appellante nie geregtig is om
nou hierdie houding in te neem nie. Al wat ek dus kan
sê is
dat die bogemelde passasies uit die uitsprake in
Makwanyane2
heelwat steun aan die Staat se betoog in die onderhawige appèl
besorg.
[10] Namens
die appellante is betoog dat lewenslange gevangenisstraf inbreuk
maak op die volgende grondwetlike regte, nl die
reg op vryheid van
beweging (art 21 van die Grondwet, 108 van 1996), die reg op
menswaardigheid (art 10) en die reg op lewe (art
11). Die reg op
lewe is myns insiens nie hier ter sake nie. Daar is niks voor ons
geplaas ten effekte dat die appellante se lewensverwagtinge
benadeel
sou word deur lewenslange gevangesetting nie.
[11] Wat
die regte op menswaardigheid en vryheid van beweging betref is die
situasie egter anders. Uiteraard maak enige vonnis
van
gevangenesetting inbreuk op 'n persoon se waardigheid en vryheid van
beweging. Die vraag is dan of dit ooreenkomstig art
36 van die
Grondwet geoorloof is. Die artikel bepaal onder meer soos volg:
"Die regte in die Handves
van Regte kan slegs kragtens 'n algemeen geldende regsvoorskrif
beperk word in die mate waarin
die beperking redelik en
regverdigbaar is in 'n oop en demokratiese samelewing gebaseer op
menswaardigheid, gelykheid en vryheid
..."
[12] Die
uitwerking van konstitusionele regte op die grondwetlikheid van
lewenslange gevangenisstraf is al heelwat gedebatteer.
Onder meer is
dit oorweeg in twee hofuitsprake, nl 'n uitspraak van die Duitse
grondwetlike hof gelewer in 1977 en gerapporteer
in BVerfGE 45, 187
en een van die hoogste Namibiese hof in
S
v Tcoeib
1996 (1) SASV 390 (NmS). Hoewel hierdie buitelandse regstelsels tot
'n mate verskil van ons s'n is die grondbeginsels vergelykbaar,
en
die laasgenoemde saak is trouens in Suid-Afrika gevolg in
S
v de Kock
1997
(2) SASV 171 (T). Die appellante het swaar gesteun op hierdie
uitsprake. In
Tcoeib
se saak stel Mahomed H R sy uitgangspunt soos volg (398 a - c):
"... an order deliberately
incarcerating a citizen for the rest of his or her natural life
severely impacts upon much of
what is central to the enjoyment of
life itself in any civilized community and can therefore only be
upheld if it is demonstrably
justified. In my view, it cannot be
justified if it effectively amounts to a sentence which locks the
gates of the prison irreversibly
for the offender without any
prospect whatever of any lawful escape from that condition for the
rest of his or her natural life
and regardless of any circumstances
which might subsequently arise".
Verder
sê hy (op bl 399i tot 400a):
"It must, I think, be
conceded that if the release of the prisoner depends entirely on the
capricious exercise of the discretion
of the prison or executive
authorities leaving them free to consider such a possibility at a
time which they please or not at
all and to decide what they please
when they do, the hope which might yet flicker in the mind and the
heart of the prisoner is
much too faint and much too unpredictable
to retain for the prisoner a sufficient residue of dignity which is
left uninvaded".
'n
Soortgelyke gevolgtrekking is in die bogemelde Duitse beslissing
bereik (sien bl 187 para 3).
[13] Albei
partye het voor ons aanvaar dat dieselfde uitgangspunt hier geld.
Dit is nogtans denkbaar dat 'n omvattende ondersoek
na omstandighede
hier te lande 'n strenger benadering sou regverdig as dié wat
as gepas beskou is in Duitsland of Namibië.
So 'n ondersoek het
egter nie plaasgevind nie en ek sal dus veronderstel dat die
beginsels uiteengesit deur Mahomed H R ook in
Suid-Afrika geld. Ek
moet gevolglik nagaan watter voorsiening regtens gemaak word vir die
uiteindelike bevryding van persone
wat tot lewenslange
gevangenisstraf gevonnis word. Dit word bevat in opeenvolgende Wette
op Korrektiewe Dienste (8 van 1959 en
111 van 1998). Laasgenoemde
Wet bepaal dat 'n gevonnisde gevangene in beginsel aangehou word vir
die duur van sy vonnis (art
73 (1)) Hierdie beginsel is egter
onderhewig aan bepalings met betrekking tot korrektiewe toesig,
dagparool, parool en vroeë
vrylating in Hoofstuk VII van die
Wet. Kragtens art 78 het die hof die bevoegdheid om parool of
dagparool toe te staan of voorwaardes
van korrektiewe toesig voor te
skryf. Die beginsels wat deur die hof toegepas moet word, word nie
duidelik uitgespel nie maar
blyk tog uit die aard van die
bevoegdheid en die inligting wat voor die hof geplaas moet word. Die
ondersoek wat uiteindelik
tot 'n besluit deur die hof lei, begin by
'n Gevallebestuurskomitee kragtens art 42 van die Wet. Hierdie
komitee moet aandag
gee aan faktore soos die kriminele geskiedenis
van die gevangene, die aard en erns van die misdaad waarvoor hy
gevonnis is, die
waarskynlikheid van sy terugval in misdaad, die
risiko wat dit inhou vir die gemeenskap en die wyse waarop hierdie
risiko verminder
kan word. Die hof moet klaarblyklik hierdie en
soortgelyke faktore opweeg om te besluit of lewenslange
gevangenisstraf getemper
mag word ooreenkomstig art 78. Uiteraard is
dit 'n regterlike bevoegdheid wat nie willekeurig uitgeoefen mag
word nie. Art 73(6)(b)(iv)
bepaal dat 'n persoon wat tot
lewenslange gevangenis veroordeel is, nie op parool vrygelaat mag
word totdat hy 25 jaar van sy
vonnis uitgedien het nie, of die
ouderdom van 65 bereik het nadat hy minstens vyftien jaar van sy
vonnis uitgedien het nie. Hierdie
bepaling word weer getemper deur
art 82(1) wat aan die President die oorheersende bevoegdheid verleen
om 'n gevangene wat tot
lewenslange gevangenisstraf gevonnis is,
onder korrektiewe toesig of parool te plaas onderhewig aan sodanige
voorwaardes as wat
die hof mag aanbeveel, of om 'n deel van die
vonnis vry te skeld. En dan, ten slotte, behou die President
kragtens art 82(2)
sy bevoegdheid om oortreders te begenadig.
[14] Die
Wet van 1998 bevat dus uitvoerige bepalings wat aan 'n persoon wat
tot lewenslange gevangenisstraf veroordeel is, die
moontlikheid bied
om voor die einde van sy natuurlike lewe sy vryheid geheel of ten
dele te herwin. Dit is waar, soos deur die
appellante se advokaat
betoog, dat so 'n persoon nie vooraf sal weet presies hoelank hy in
die gevangenis sal deurbring nie,
maar dieselfde geld vir enige
persoon wat tot gevangenisstraf veroordeel word. Die werklike termyn
word bepaal onder meer deur
die beoordeling van ander persone oor
die mate waarin die gevangene in die gevangenis gerehabiliteer is,
en dit kan uiteraard
nie vooraf voorspel word nie.
[15] Na
my mening voldoen die Wet van 1998 aan enige vereistes wat daar mag
wees om die vonnis van lewenslange gevangenisstraf
in ooreenstemming
met die Grondwet te bring. Die enigste probleem is dat die Wet,
hoewel behoorlik aangeneem en gepromulgeer,
nog nie ten volle in
werking is nie. Die rede, neem ek aan, is dat die nodige
administratiewe strukture nog nie geskep is nie.
Ek meen nie dat,
bloot omdat daar 'n vertraging met die inwerkingstelling van die Wet
is, die appellante 'n mindere straf moet
kry as wat die
omstandighede van die saak myns insiens vereis nie.
[16]
Die appellante is op 28 April 1992 gevonnis. Selfs al sou
lewenslange gevangenisstraf van daardie datum bereken word,
sou daar
normaalweg nog heelparty jare moet verloop voordat hulle vir parool
in aanmerking kom. Niks is voor ons geplaas om aan
te dui dat daar
buitengewone omstandighede is wat 'n vroeëre vrylating sou
regverdig nie. Die Wet is nie om dowe neute op
die Wetorde geplaas
nie en ‘n mens kan dat Hoofstuk VII van die 1998 Wet
binnekort in werking gestel sal word. Indien
hierdie
veronderstelling later blyk verkeerd te wees en die appellante
benadeel word deur die afwesigheid van sodanige bepalings,
kan hulle
'n bevoegde hof nader om hul voortgesette gevangenisstraf aan te
veg, of om die owerhede te verplig om gepaste voorsiening
vir parool
te maak. Om enige probleme in hierdie opsig te vermy, behoort die
owerhede Hoofstuk 7 van Wet III van 1998 onverwyld
in werking te
stel. Natuurlik, selfs al sou die bepalings nou reeds gegeld het,
sou daar steeds die moontlikheid bestaan het
dat hulle te enige tyd
gewysig kon word. Dan ook sou die appellante se enigste middel
gewees het om weer die hof te nader.
[17] Selfs
in die afwesigheid van die 1998 Wet het die President bevoegdhede om
parool toe te staan, afslag te verleen, of gevangenes
vry te laat
(art 66 van die 1959 Wet). Aangesien die Wet van 1998 reeds
gepromulgeer is, meen ek nie dat dit nodig is om te oorweeg
of die
bepalings van die 1959 Wet nie in elk geval voldoende sou gewees het
om die grondwetlikheid van lewenslange gevangenisstraf
te verseker
nie. Daar moet in gedagte gehou word dat die Konstitusionele Hof se
goedkeurende kommentaar oor die vonnis van lewenslange

gevangenisstraf gelewer is in die lig van die 1959 Wet in sy
destydse vorm. Klaarblyklik het die betrokke regters beskou dat

daardie wet genoegsame beskerming aan 'n gevonnisde persoon verleen
het. Ons hoef nie te oorweeg of wysigings wat sedertdien
aangebring
is, enige verskil maak nie.
[18] Weens
die voorgaande meen ek dat 'n vonnis van lewenslange gevangenisstraf
onderhewig aan die bepalings van Wet 111 van
1998 nie teenstrydig
met die Grondwet is nie. Ek is steeds van oordeel dat die appellante
die swaarste straf verdien waarvoor
die reg voorsiening maak.
[19] Gevolglik word die
volgende bevel uitgereik:
Die doodvonnisse op klagtes 2,
3, 4 en 5 word tersyde gestel en vervang met vonnisse van
lewenslange gevangenisstraf. Die vier
vonnisse van lewenslange
gevangenisstraf en die vonnisse op klagtes 7 en 8 sal ooreenkomstig
art 32(2) wan Wet 8 van 1959 almal
saamloop. Die aanvang van die
vonnisse van lewenslange gevangenisstraf sal teruggedateer word na
28 April 1992.
EM
GROSSKOPF
APPèLREGTER
Stem
saam:
FH
GROSSKOPF AR
NIENABER
AR