Provinsie van die Vrystaat v Williams NO (554/97) [2000] ZASCA 18; 2000 (3) SA 65 (SCA) ; [2000] 2 All SA 172 (A) (29 March 2000)

82 Reportability

Brief Summary

Tort — Delictual liability — Amendment of particulars of claim — Effect of amendment on statutory notice requirements — Plaintiff, as curator ad litem, instituted action against provincial administration for alleged negligent medical treatment following a motor vehicle accident — Initial notice given within statutory period, but particulars of claim amended after the expiration of the two-year limitation period — Whether the amendment constituted a new cause of action requiring compliance with notice provisions of the Act — Court held that the amendment did not introduce a new cause of action and did not affect the validity of the initial notice.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
2000
>>
[2000] ZASCA 18
|

|

Provinsie van die Vrystaat v Williams NO (554/97) [2000] ZASCA 18; 2000 (3) SA 65 (SCA) ; [2000] 2 All SA 172 (A) (29 March 2000)

RAPPORTEERBAAR
IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL
VAN SUID-AFRIKA
SAAKNOMMER 554 / 97
In die appèl van
DIE PROVINSIE VAN DIE VRYSTAAT
Appellant
(voorheen die Provinsie van die
Oranje-Vrystaat)
EN
A WILLIAMS N.O. Respondent
Regbank
Grosskopf, Harms, Olivier, Schutz en Scott
ARR
Verhoordatum
16 Maart 2000
Uitspraak
29 Maart 2000
Samevatting
Gevolge van wysiging van besonderhede van
vordering op voldoening aan vereistes van
Wet op Beperking van Regsgedinge 94
van 1970
.
UITSPRAAK
OLIVIER AR
OLIVIER AR
[1]
Hierdie is ’n appèl teen die uitspraak van Malherbe R,
in die
onderhawige geding, gelewer in die Oranje-Vrystaatse Provinsiale Afdeling
op
29 Mei 1997. Die nodige verlof om na hierdie Hof te
appelleer is deur die hof
a quo
verleen. Die uitspraak van die hof
a quo
is as
Williams NO v Lesotho
National Insurance Co
(Pty) Ltd en ’n Ander
1997 (4) SA 722
(O)
gerapporteer.
[2]
Die twee kernvrae kan soos volg toegelig word : ’n eiser stel
aksie in
teen ’n provinsiale administrasie uit hoofde van ’n onregmatige daad
na
bewering gepleeg deur werknemers van laasgenoemde. Hy gee
kennis
ingevolge die bepalings van art 2 (1) (a) van die Wet op Beperking
van
Regsgedinge 94 van
1970 (“die Wet”). Veel later, na die
verstryking van die
tweejarige vervaltermyn voorgeskryf deur art 2 (1) (c) van die Wet, wysig hy
sy besonderhede van vordering taamlik ingrypend. Wat is die
effek van die
wysiging op die bepalings van art 2 (1) (a) van die Wet? Wat
is die effek op
art 2 (1) (c) van die Wet?
[3]
Die feite is kortliks die volgende : Op 5 Maart 1989 is Marius van
Vuuren, ’n jongman van 23 jaar, (hierna genoem “die
pasiënt”) in ’n
motorvoertuigbotsing beseer,
onder omstandighede wat ’n derdeparty-
versekeraar (die eerste verweerder
a quo
) aan aanspreeklikheid sou
blootstel.
Die beserings opgedoen in die botsing het hoofsaaklik uit ernstige frakture,
skok en bloedverlies bestaan.
[4]
Op 6 Maart 1989 is die pasiënt in die Universitas Hospitaal,
Bloemfontein, opgeneem en deur die personeel, wat in diens van die
Provinsie van die Oranje-Vrystaat (die tweede verweerder
a quo
) was,
behandel. In die loop van hierdie behandeling (wat ’n sjirurgiese
ingreep om
sekere frakture te reduseer, ingesluit het) het
’n hartstilstand plaasgevind.
Weens die gevolglike suurstofnood het
die pasiënt ernstige breinskade
opgedoen. Die gevolge hiervan was
onder andere dat hy daarna nie in staat
was om sy eie sake te behartig
nie.
[5]
In November 1990 is Advokaat Williams (“die
eiser”
)
, ’n lid van die
Bloemfonteinse Balie,
as
kurator-ad-litem
aangestel vir die pasiënt met die oog op die
instel van ’n aksie om skadevergoeding.
[6]
Die eiser was begerig om namens die pasiënt aksie teen beide
die
verweerders in te stel. Dit is gemene saak dat die eiser
teenoor die eerste verweerder behoorlik voldoen het aan al die bepalings
van die
toentertyd geldende Wet op Verpligte Motorvoertuigversekering 56 van 1972. Die
eiser se vordering teen die eerste verweerder
is nie in hierdie appèl ter
sprake nie.
[7]
Wat die tweede verweerder betref, is twee voorskrifte van die Wet
tans
ter sake . Die eerste relevante bepaling is art 2 (1) (a), wat bepaal dat
“ ...
geen regsgeding ten opsigte van ’n
skuld
teen ’n
administrasie
...” ingestel
word nie, tensy die skuldeiser, binne negentig dae vanaf die dag waarop die
skuld opeisbaar geword het, ’n skriftelike kennisgewing
aan die
skuldenaar beteken het
“ ... waarin die feite waaruit die
skuld
onstaan het en
dié besonderhede van sodanige
skuld
waarvan die skuldeiser kennis dra,
uiteengesit
word.”
(My beklemtoning.)
Die tweede relevante bepaling is art 2 (1) (c), wat bepaal dat geen
sodanige regsgeding teen ’n administrasie ingestel word
nie na verloop van ’n tydperk van vier-en-twintig maande vanaf
die dag
waarop die skuld opeisbaar geword het.
Gerieflikheidshalwe noem ek die twee vereistes onderskeidelik die
kennisgewingsvereiste en die verjaringsbepaling (ten opsigte van
laasgenoemde sien
Meintjies NO v Administrasieraad van
Sentraal-Transvaal
1980 (1) SA 283
(T) op 293 A - H).
[8]
Die kennisgewing, soos vereis deur art 2 (1) (a) van die Wet, is deur
die
eiser se prokureur op 10 Junie 1991 gegee en lui soos volg
:
“(b) Om ongeveer 04:20 op 6 Maart 1989 het die pasiënt te die
Noodgevalle Afdeling, Universitas Hospitaal arriveer, waarna
hy na die
operasieteater geneem is vir reduksie van die frakture wat hy opgedoen
het.
(c) Haemaccel en bloed is toegedien om vloeistoftekort as gevolg van
bloedverlies te bekamp, terwyl die pasiënt se bloeddruk
en
urien-uitskeiding gemonitor was.
(d) Tydens chirurgie en/of latere radiologiese ondersoek is van ’n
sentralelyn-kateter gebruik gemaak om die pasiënt se
sentrale veneuse druk
(SVD) te meet, welke druklesing 18mm Hg. geregistreer
het.
(e) Hierdie lesing is verkry deurdat die kateter foutiewelik in die regter
ventrikel van die hart geplaas is.
(f) Die foutiewelik hoë lesing het aanleiding gegee tot die konklusie dat
die pasiënt geen vloeistoftekort ondervind het
nie, en ten einde
uitskeiding van urien aan te moedig, is ’n massiewe dosis van ’n
kragtige diuretikum bekend as
Lasix
toegedien wat die gevolg gehad het
dat ’n reeds ernstige hipovolumiese pasiënt letterlik liters urien
uitgeskei het.
(g) Hierdie verdere en foutiewe ontwatering van die pasiënt het gelei tot
kardiale-arres en gevolglik tot
breinskade.”
[9]
Die eiser het op 21 Oktober 1992 aksie teen beide
verweerders
aanhangig gemaak. Die besonderhede van vordering
lê die volgende bewerings die tweede verweerder ten laste :
12
“Op of ongeveer die 6de dag van Maart 1989, direk na sy betrokkenheid in
die motorbotsing voormeld, is die pasiënt na
die Noodgevalle-afdeling,
Universitas Hospitaal, BLOEMFONTEIN, ORANJE VRYSTAAT, gebring en welke hospitaal
onder beheer en toesig
van tweede verweerder is, waar sekere chirurgiese
prosedures op hom uitgevoer en sekere mediese behandeling aan hom toegedien
is.
13
Tydens mediese ondersoek is van ’n sentrale lyn-kateter gebruik gemaak om
die pasiënt se sentrale veneuse druk (SVD) te
meet, welke druklesing 18 ml
Hg geregistreer het; en welke druklesing aanduidend was van die feit dat die
pasiënt ’n
voldoende liggaamsvoginhoud gehad het.
14
Hierdie lesing is verkry deurdat die kateter op nalatige wyse deur die betrokke
mediese beampte, ene dr HATTINGH, foutiewelik in
die regter ventrikel van die
hart geplaas is, eerder as in die korrekte hartkamer vir die neem van
’n
akkurate sentrale veneuse druklesing.
15
As gevolg van die nalate voormeld, en die resulterende foutiewe hoë lesing
is deur die betrokke mediese beampte tot die foutiewe
konklusie gekom dat die
pasiënt geen liggaamsvogtekort ondervind het nie en ten einde uitskeiding
van urine aan te moedig, is
’n groot dosis van ’n kragtige
de-uritikum bekend as
Lasix
toegedien wat die gevolg gehad het dat
’n reeds ernstige hipovolumiese pasiënt liters urine uitgeskei het en
wat hipokalomie
tot gevolg gehad het.
16
As ’n direkte gevolg van die gebeure uiteengesit in die paragrawe hierbo,
het die pasiënt ’n kardiale arres ervaar
en as gevolg van gemelde
kardiale arres het die pasiënt breinskade opgedoen weens
’n
versteuring van die suurstoftoevoer na die betrokke orgaan.
17
Iedere en elke amptenaar wat betrokke was by die uitvoer van die nalatige
handeling hierbo na verwys, was in diens van tweede verweerder
en het toe en
daar gehandel binne die omvang en bestek van hulle diensverhouding met tweede
verweerder en is tweede verweerder derhalwe
aanspreeklik vir die pasiënt se
skade hierinlater uiteengesit.
18
As ’n direkte gevolg van die breinskade wat die pasiënt soos
hierintevore uiteengesit opgedoen het, is die pasiënt
se fisiese
gesteldheid dié van ’n persoon in ’n toestand tussen
paraplegie en quadruplegie en is hy nie in staat
om tans of enige tyd in die
toekoms homself te versorg of enige winsgewende werk of arbeid te verrig nie en
het die pasiënt
skade gely soos volg:
18.1
Verlies aan lewensgenietinge
: R700
000,00
18.2
Toekomstige verlies aan verdienste
: R572
868,00.”
[10]
Op ’n veel later stadium, nl 8 Desember 1995, toe die saak ryp
was vir
verhoor en meer as vier-en-twintig maande nadat die
pasiënt beseer is en ook meer as vier-en-twintig maande nadat die eiser
as
kurator-ad-litem
aangestel is
,
gee eiser kennis van sy voorneme
om paragrawe 13 en 14 van sy besonderhede van vordering, soos hierbo aangehaal,
deur te haal en
met nuwe paragrawe 13 en 14, wat soos volg lui, te vervang :
13
“Dr J PENHALL wat verantwoordelik was vir die pasiënt tydens
laasgenoemde se opname by die voormelde hospitaal, en/of
dr HATTINGH, wat die
narkotiseur was tydens die operasie na opname op die pasiënt uitgevoer,
en/of mediese amptenare, die identiteit
van welke assistente en/of amptenare
tans aan eiser onbekend is, maar wat almal in diens van die tweede verweerder
was, was in een
of meer van die volgende opsigte nalatig gewees:
13.1 Daar was nagelaat om die pasiënt behoorlik en vollediglik te ondersoek
vóór die aangaan van die operasie,
as gevolg waarvan die omvang
van die totale beserings nie besef is nie en ook nie dienooreenkomstig behandel
is nie; en/of
13.2 onvoldoende resussitasie en behandeling vóór die aanvang van
die operasie, veral met betrekking tot
:
(a) nalate om die omvang van die massiewe bloedverlies van die pasiënt te
bepaal of vas te stel; en
(b) nalate om
genoegsame bloed vóór die operasie toe te dien; en/of
13.3 onbehoorlike / foutiewe operasie / prosedure / behandeling, veral met
betrekking tot :
(a) die verkeerde toediening van
Effortil
voortspruitende uit ’n
gebrek om te besef dat die oorsaak van hipertensie van die pasiënt die
gevolg van die uitputting
van die bloedsomloop was en wat met vloeistowwe
behandel moes word,
(b) die toediening
van
Lasix
toe die pasiënt primêr aan bloedverlies gely
het;
13.4 vóór die toediening van
Lasix
is ’n foutiewe
sentrale veneuse druk (SVD) gemeet deurdat die kateter foutiewelik in die regter
ventrikel geplaas of beland
het. Die kateter moes in die atrium geplaas gewees
het en sorg moes gedra word dat die kateter nie verskuif nie, sodat ’n
korrekte lesing te alle tye verkry kon word; en
13.5 die foutiewe SVD lesing wat verkry is, het foutiewelik gelei tot die groot
dosis
Lasix
wat toegedien is en welke toediening die gevolg gehad het dat
die reeds ernstige hipovolemiese pasiënt liters urine uitgeskei
het wat
hipokalomie tot gevolg gehad het.
14
As ’n direkte gevolg van die gebeure uiteengesit in die paragrawe hierbo,
het die pasiënt ’n kardiale arres ervaar
en as gevolg van gemelde
kardiale arres het die pasiënt breinskade opgedoen weens ’n
versteuring van die suurstoftoevoer
na die betrokke
orgaan.”
[11]
Die tweede verweerder het daarna kennis gegee van sy voorneme om
die aansoek om wysiging teen te staan, en wel op die volgende gronde:
“1 Die voorgestelde wysiging, in die besonder dan paragrawe 13,13.1,13.2
en 13.3, maar selfs paragraaf 13.4, konstateer effektiewelik
’n nuwe
skuldoorsaak ten opsigte waarvan daar, eerstens, nie voldoen is aan die
bepalings van
Wet 94 van 1970
nie, maar welke in elk geval reeds verjaar
het deurdat die beweerde skuldoorsaak meer as drie (3) jaar voor die
kennisgewing van
wysiging ontstaan het.
2 Die voorgestelde wysiging sal, indien toegestaan, plaasvind meer dan drie jaar
na uitreiking van dagvaarding en bykans sewe (7)
jaar na die tersaaklike
voorval, met die gevolg dat dit ’n wesenlike benadeling, wat nie bloot
deur ’n kostebevel reggestel
kan word nie, vir die tweede verweerder
inhou.”
[12]
Ek moet hier verpoos om op te merk dat daar op hierdie stadium
’n
wanopvatting ontstaan het wat by herhaling in die
uitsprake van Van Coppenhagen R en Malherbe R in die hof
a quo
asook in
die betoë van die appellant se advokaat in hierdie hof voorgekom het. Dit
is dat die verjaringstermyn in die onderhawige
saak drie jaar is. Daar is
blykbaar van die veronderstelling uitgegaan dat die verjaringsbepalings van die
Verjaringswet 68 van
1969 op die onderhawige eis van toepassing is. Dit is nie
so nie. Die tans tersake wet bevat sy eie termyn van vier-en-twintig
maande en
die Verjaringswet kom tans alleen op indirekte wyse ter sprake en wel by wyse
van analogie, soos hieronder aangetoon sal
word. (Wat die analogie tussen die
twee statute in die algemeen betref, sien
Meintjies NO v Administrasieraad
van Sentraal-Transvaal
,
supra
, op 290
in fine
tot 294 D;
en die gelykluidende bepalings in
De Klerk en ’n Ander v Groter
Kroonstad Plaaslike Oorgangsraad
1999 (2) SA 870
(O) op 873 A -
875 H.)
[13]
Die bestrede aansoek om wysiging is deur Van Coppenhagen R
aangehoor en toegestaan en wel op die basis dat die wysiging nie ’n nuwe
skuldoorsaak daarstel nie en dat die kwessie van verjaring nie
ter sprake kom
nie. Klaarblyklik het die geleerde regter die bepalings van
die Verjaringswet
in gedagte gehad.
[14]
Die eiser het hierna sy besonderhede van vordering
dienooreenkomstig
gewysig. Daarna opper die tweede verweerder
’n spesiale pleit, soos volg :

A
SPESIALE PLEIT
:
1
Die wysigings van die eiser se besonderhede van vordering soos vervat in
paragraaf 13 (in die besonder sub-paragrawe 13.1, 13.2,
13.3 (a) ) daarvan, is
aangebring gedurende of omtrent Februarie 1997.
2
Die beweerde nalatige optrede/versuime waarvan die tweede verweerder verwyt word
by wyse van middellike aanspreeklikheid in gemelde
wysigings, slaan op en behels
optredes/versuime anders dan beweerde nalatige optredes/versuime soos gepleit in
die eiser se besonderhede
van vordering wat die dagvaarding vergesel het en,
boonop, optredes/versuime deur ander werknemers van die tweede
verweerder.
3
Die optredes/versuime waarvan die tweede verweerder verwyt word deur of by wyse
van die gemelde wysigings, het na bewering plaasgevind
op of omtrent
6 Maart
1989.
4
4.1 Die gemelde wysigings maak voorsiening vir en bevat dus besonderhede waarvan
die eiser aan die tweede verweerder ingevolge en
uit hoofde van die bepalings
van die Wet op Beperking van Regsgedinge (Wet 94 van 1970) kennis moes gegee
het, welke die eiser versuim
het om te
doen.
4.2 Eiser het in elk geval versuim om, ten
opsigte van voornoemde wysigings, ’n regsgeding teen die tweede verweerder
aanhangig
te maak soos bedoel en voorsien in voornoemde Wet.
5
Voorts en in elk geval het ’n tydperk van meer as drie jaar verloop sedert
die beweerde skuldoorsaak soos voorsien in die wysigings
wat die eiser
aangebring het en die datum waarop die wysigings aangebring is en het eiser se
vordering soos op die beweerde skuldoorsake
waarvoor in die wysigings
voorsiening gemaak word, verjaar uit hoofde van die bepalings van die
Verjaringswet, Wet 68 van 1969.
6
In die vooropstelling is eiser se vordering insoverre dit gebaseer is op enige
skuldoorsake gebaseer op of ingevoer deur die wysigings
van die eiser se
besonderhede van vordering uit hoofde van die bepalings van Wet 94 van 1970
regtens onontvanklik.
Alternatiewelik
het die eiser se vordering
soos vervat in of ingevoer deur die wysigings van die besonderhede van vordering
verjaar uit hoofde van
die bepalings van Wet 68 van 1969.
DERHALWE SMEEK TWEEDE VERWEERDER
dat eiser se vordering
gebaseer op enige skuldoorsaak gebaseer op of waarvoor voorsiening gemaak word
in die wysigings van die besonderhede
van vordering met koste, afgewys
word
.”
[15]
Die beregting van die spesiale pleit het voor Malherbe R
plaasgevind.
Hy het dié pleit om twee, alternatiewe redes, van die hand gewys, te
wete:
1 Die uitspraak deur Van Coppenhagen R waardeur die eiser se aansoek om
wysiging van sy besonderhede toegestaan is, is finaal van
aard wat die
verjaringsaspek betref en dieselfde vraag kan nie weer deur ’n hof van
gelyke jurisdiksie bereg word nie; en
2 in elk geval behels die gewysigde eis nie ’n nuwe skuld nie en het
eiser se aksie dus nie verjaar nie. Ook het Malherbe
R bevind dat die eiser
se brief gedateer 10 Junie 1991 (hierbo aangehaal), selfs in die lig van die
gemelde wysiging, wesenlike voldoening
aan die voorskrifte van art 2 (1) (a) van
Wet
94 van 1970 daargestel het.
[16]
Die spesiale pleit opper, verkeerdelik, in par 5 daarvan, die
verweer van
verjaring onder die Verjaringswet. Soos aangetoon,
kan dit nie opgaan nie en verg nie verdere oorweging nie. Dit opper wel, in
paragrawe 4.1 en 4.2, die aspekte van die effek van die wysiging op die
kennisgewingsvereiste en op die verjaringsbepaling.
[17]
Res iudicata
Uit die stukke wat voor hierdie Hof geplaas is, blyk dat Van Coppenhagen R slegs
gevra was, verkeerdelik soos aangetoon, om die
aansoek om wysiging van die hand
te wys op die basis dat die gewysigde eis reeds “verjaar” het. In
sy uitspraak behandel
hy dan ook slegs die sogenaamde verjaringsaspek.
[18]
Toe die spesiale pleit voor Malherbe R gedien het en die
verjaringsaspek as substantiewe verweer geopper is, het die respondent
(eiser) se advokaat aangevoer dat dié aspek
res iudicata
is en nie
weer
bereg kan word nie. Malherbe R het hom gelyk gegee (op 731 C - H).
[19]
Die beslissings waarop Malherbe R gesteun het om tot gemelde
gevolgtrekkings te kom, nl
Webber Wentzel v Batstone and
Another
1994 (4) SA 334
(T)
en
Steyn v Delport
1973
(1) SA 822
(T)
dui egter juis op die teenoorgestelde. Hoe dit ook al
sy, dit is nie nodig om hierdie aangeleentheid te beslis nie. Ek sal ten
gunste van die tweede verweerder aanvaar dat die beginsel van
res
iudicata
nie hier van toepassing is nie.
[20] Die kennisgewingsvereiste
Dit bring my dan by die spesiale pleit gebaseer op die kennisgewingsvereiste van
art 2 (1) (a) van die Wet, soos geopper in par 4.1
van die spesiale pleit.
Ek het reeds dié paragraaf hierbo aangehaal. Die kern van die pleit op
hierdie punt is dat die
wysigings besonderhede bevat waarvan eiser aan tweede
verweerder kennis moes gegee het, maar versuim het om te doen. Hierdie pleit
is op ’n wanopvatting gebaseer. Art 2 (1) (a) vereis nie dat die
kennisgewing met die eiser se besonderhede van vordering,
hetsy voor of
ná enige wysiging, moet ooreenstem nie. Al wat dit vereis is dat die
eiser kennis moet gee van die geding
en in welke kennisgewing “ ...
die feite waaruit die skuld ontstaan het en
dié besonderhede van
sodanige skuld waarvan die skuldeiser
kennis dra
...

vermeld moet word. (My beklemtoning.)
[21]
In die onderhawige geval het die eiser aanvanklik kennis gegee van
die
geding en die feite waaruit dit ontstaan het. Hy het ook
besonderhede van die “skuld” verskaf. As die eiser se besonderhede
van vordering nie later gewysig was nie, sou daar geen klagte teen dié
kennisgewing ingebring kon word nie. Inderdaad was
daar aanvanklik erken dat
voldoen is aan die kennisgewingsvereiste soos blyk uit die uitspraak van
Malherbe R (op 730 A - D). ’n
Geldige beswaar wat die tweede verweerder
na die wysiging kon ge-opper het, was dat die kennisgewing gebrekkig was omdat
die eiser
nie besonderhede, waarvan hy kennis gedra het, daarin openbaar het nie
(sien art 2 (1) (a) ). Die bedoelde kennis van die eiser
moet uit die aard van
die saak getoets word op die oomblik waarop die kennisgewing gegee is. Die
tweede verweerder moes dus gepleit
het dat die eiser, toe die kennisgewing gegee
is, reeds kennis gedra het van die besonderhede soos in die gewysigde
besonderhede
van vordering geopenbaar en dat hy dit verswyg het (sien ook
Administrateur, Kaap v Burger
[1993] ZASCA 44
;
1993 (3) SA 414
(A) op 422 D - E).
Die tweede verweerder het dit egter nie gepleit nie. Sy pleit dat die
voorgeskrewe kennisgewing nie gegee is
nie, slaan die bal mis en moes om daardie
rede van die hand gewys gewees het.
[22]
Die basis waarop Malherbe R hierdie spesiale pleit van die hand
gewys
het, nl dat die eis voor en na die wysiging dieselfde is,
was dus ook verkeerd, hoewel die resultaat toevallig korrek was.
[23] Die verjaringsbepaling
Die verjaringsbepaling ingevolge die Wet kom vervolgens ter sprake.
Die kern van die ter sake voorskrifte van art 2 van die Wet is
dat geen regsgeding ten opsigte van ’n skuld teen ’n administrasie
ingestel word nie na verloop van vier-en-twintig maande vanaf die dag waarop die
skuld opeisbaar geword het.
Die kernvraag is dus of die skuld in gewysigde vorm, nog dieselfde
skuld is as die een waarop eiser oorspronklik gesteun het toe hy
sy eis ingestel het. Dit is gemene saak dat die eis oorspronklik
betyds
aanhangig gemaak was.
Dieselfde vraag het al talle kere voor die howe sy kop uitgesteek in
verband met die bepalings van art 15 (1) van die
Verjaringswet
wat bepaal dat verjaring gestuit word “
... deur
die betekening aan die skuldenaar van ’n prosesstuk waarin die skuldeiser
betaling van die
skuld
vorder
.” (My beklemtoning.)
Net soos in art 15 (1) van die Verjaringswet gebruik art 2 (1) van die
Wet deurgaans die woord
skuld
. Die twee wetsbepalinge
is dus in
hierdie opsig in wese ooreenstemmend. Nie een gebruik die terme
skuldoorsaak
of
aksiegrond
nie.
[24]
Oor die jare was daar, met betrekking tot verjaring en vervaltermyne
en
in die konteks van die effek van ’n latere wysiging van
die eiser se pleitstukke, ’n hele aantal uitsprake. Soos egter
beklemtoon is in
Sentrachem Ltd v Prinsloo
1997 (2) SA 1(A)
op 15
C, praat die Verjaringswet soos ook die onderhawige Wet, nie van
s
kuldoorsaak
of
aksiegrond
nie, maar slegs van die vordering van
’n
skuld
. Die korrekte benadering blyk ook uit
Standard
Bank of South Africa Ltd v Oneanate Investments (Pty) Ltd (in liquidation)
[1997] ZASCA 94
;
1998 (1) SA 811
(A) op 826 A - 827 D en
Drennan Maud and Partners
v Pennnington Town Board
[1998] ZASCA 29
;
1998 (3) SA 200
(A) op 212 E - 212 JI).
Beslissings wat hierdie kriterium oor die hoof gesien het, moet met
omsigtigheid benader word. In die
besonder kan die tweede verweerder se beroep
op die uitspraak in
Minister of Safety and Security v Molutsi and
Another
1996 (4) SA 72
(A) nie gehandhaaf word nie. Afgesien
van feite-verskille tussen die huidige geskil en die een daar ter sprake, het
dit daar gegaan
om die toepassing van art 32 (1) van die
Polisiewet 7 van
1958, wat juis nié die woord “skuld” gebruik nie, maar die
woord “eisoorsaak” (“cause
of action”), wat enger is as
skuld
. Dieselfde geld wat die beslissing in
Kettledas NO v
Minister of Law and Order
1998 (2) SA 76
(SOK)
betref.
[25]
In
Sentrachem Ltd v Prinsloo
supra
,
het
hierdie Hof (per Eksteen
AR) die volgende beslis (op 15
in
fine
) :
“Die eintlike toets is om te bepaal of die eiser nog steeds dieselfde, of
wesenlik dieselfde skuld probeer afdwing. Die
skuld of vorderingsreg moet
minstens uit die oorspronklike dagvaarding kenbaar wees, sodat ’n
daaropvolgende wysiging eintlik
sou neerkom op die opklaring van ’n
gebrekkige of onvolkome pleitstuk waarin die vorderingsreg, waarop daar
deurgaans gesteun
is, uiteengesit word ... So ’n wysiging sal uiteraard
nie ’n ander vorderingsreg naas die oorspronklike kan inbring nie,
of
’n vorderingsreg wat in die oorspronklike dagvaarding prematuur of
voorbarig was, te red nie, of om ’n nuwe party
tot die geding te voeg nie
...”
[26]
Indien hierdie toets op die feite toegepas word, blyk dit dat die
eiser
deurgaans dieselfde
skuld
gevorder het.
Die
kern van die
oorspronklike besonderhede van vordering was dat die
pasiënt, weens sekere voorafgaande handelinge van werknemers van die tweede
verweerder ’n hartstilstand ervaar het en gevolglik ’n versteuring
van die suurstoftoevoer na die brein ondervind het,
as gevolg waarvan hy
breinskade opgedoen het. Dit is nog steeds die eiser se saak, met ander woorde
die basis van die “skuld”
wat hy probeer vorder. Die appellant se
argument is dat volgens die oorspronklike besonderhede van vordering die
verwytbare handelinge
tweede verweerder ten laste gelê dié van dr
Hattingh en sy assistente
tydens en na die operasie
was. Na die
wysiging is eiser se saak dat die deliksplegers ook ene dr Penhall en sy
assistente was en dat hulle nalatig was
voor die operasie
. Hierdie
argument is feitelik onjuis, aangesien die bewerings teen dr Hattingh en die
ander amptenare in diens van die tweede verweerder,
steeds behou word, asook die
bewerings met betrekking tot die finale kousale verloop van die breinbeserings.
Die besonderhede wat
die skuld, dws die vordering, daarstel is weliswaar
gewysig, maar die “skuld” (debt) is nog dieselfde as wat
oorspronklik
aangevoer is (vgl ook die feite en die bevinding van hierdie Hof in
Administrateur, Kaap v Burger
,
supra
, op 423 E - 424
A).
Tweede verweerder
se spesiale pleit, wat hierdie aspek betref, kan
slegs opgaan indien mens ’n beperkte betekenis aan die
begrip “skuld” gee, deur dit bv te vereng tot die besonderhede
van
die eiser se feitelike bewerings. Die begrip “skuld”
het,
in die konteks van die Wet (net soos in die Verjaringswet), ’n wye
betekenis. So gesien meen ek dat die eiser steeds
dieselfde skuld vorder.
[27]
Ook hierdie spesiale pleit was, tereg, van die hand
gewys.
[28]
Bygevolg word die appèl van die hand
gewys met koste.
_______________
PJJ OLIVIER AR
STEM SAAM:
Grosskopf AR
Harms AR
Schutz
AR
Scott AR