About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
2000
>>
[2000] ZASCA 7
|
|
Martin Harris & Seuns Ovs (Edms) Bpk v Qwa Qwa Regeringsdiens, Qwa Qwa Regeringsdiens v Martin Harris & Seuns Ovs (Edms) Bpk (674/92, 676/92) [2000] ZASCA 7; 2000 (3) SA 339 (SCA); [2000] 2 All SA 72 (A) (23 March 2000)
IN DIE HOOGSTE HOF VAN
APPèL
VAN SUID-AFRIKA
Saaknommer: 1) 674/92
2) 676/92
In die saak
tussen:
1) MARTIN HARRIS & SEUNS OVS (EDMS)
BPK Appellant
en
DIE QWA
QWA REGERINGSDIENS Respondent
2) DIE QWA QWA REGERINGSDIENS Appellant
en
MARTIN HARRIS & SEUNS OVS (EDMS) BPK
Respondent
CORAM : HEFER, NIENABER, HARMS, MARAIS, ARR, MPATI, Wnd AR
VERHOOR : 3 MAART 2000
GELEWER : 23 MAART 2000
UITSPRAAK
(Boukontrak - skadevergoeding - beweerde vertragings deur argitek en
ingenieur -
mora creditoris
- verjaring.)
/NIENABER AR
NIENABER AR
:
[1] Die appellant (die eiser) is ‘n
bouaannemer en konstruksiemaatskappy. Sy tender vir die oprigting van ‘n
nuwe hospitaal
te Phuthaditjhaba, in die voormalige selfregerende gebied van Qwa
Qwa, is gedurende 1977 - 1978 deur die respondent (die verweerder)
aanvaar.
Die skriftelike kontrak is in ‘n aantal dokumente beliggaam, waarvan die
algemene kontraksvoorwaardes (AKV) en die
hoeveelheidslys (HL) vir huidige
doeleindes die belangrikste is. Die kontraksprys, onderworpe aan latere
aanpassings en skommelinge,
was R8 955 500. ‘n Tydperk van ses jaar is
vir die voltooiing van die werk toegelaat (klousule 8 van die voorwoord tot die
HL). Die voltooide projek, toegelate verlengings van tyd van 41 maande
inaggenome, is uiteindelik in Junie 1987 deur die appellant
aan die respondent
oorhandig. Maar daar was, soos maar al te dikwels die geval is, onenigheid en
haakplekke. Baie daarvan het algaande
weggeval of is opgelos. Enkeles egter
nie. En dit lei uiteindelik tot ‘n aksie wat die appellant as eiser in die
Oranje Vrystaatse
Provinsiale Afdeling teen die respondent as verweerder instel.
[2] Meerdere eisoorsake is in die aksie geopper. Eise 1 en 2 was
eise vir die
betaling van skadevergoeding weens beweerde kontrakbreuk aan die kant van die
verweerder. Eis 3 was vir die betaling
vir sekere karweiwerk wat die eiser
kragtens die ooreenkoms gedoen het. Al drie eise word deur die verweerder
teëgestaan, enersyds
op meriete, andersyds as sou hulle verjaar het. Die
partye versoek die hof by ooreenkoms om sekere aspekte van eise 1 en 2 by
voorbaat
en op grond slegs van die beweringe vervat in die pleitstukke, die
nadere besonderhede vir verhoordoeleindes en die partye se antwoorde
soos in die
voorverhoor-notule beliggaam, te besleg, meer in die besonder, “of die
Eiser in die stukke voor die hof ‘n
skuldoorsaak uitgemaak het vir die
regshulp aangevra in eise 1 en 2". Die hof (Van Coppenhagen R) stem daartoe in.
Die bevinding
van die verhoorhof is dat eise 1 en 2, soos gepleit, regtens nie
deug nie. Die volgende bevel word gemaak:
“1. Die punte
in limine
, nl. dat Eiser ten aansien van eise 1 en 2
nie ‘n skuldoorsaak uitgemaak het nie, slaag in die mate hierbo
uiteengesit.
2. Eiser betaal verweerder se koste, insluitende die koste van twee advokate, en
wel asof die punte
in limine
beslis is op eksepsie, d.i. tot op die
stadium wat dagvaarding uitgereik is.
3. Eiser word verlof verleen om binne 20 dae vanaf datum van hierdie uitspraak
sy besonderhede van vordering en ander pleitstukke
te
wysig.”
[3] Die eiser besluit teen
‘n wysiging van sy pleitstukke en doen eerder aansoek om verlof om teen
die bevele van die verhoorhof
na hierdie hof te appelleer. Sodanige verlof word
deur die hof
a quo
verleen.
[4] Op daardie stadium doen die verweerder
op sy beurt aansoek dat sy spesiale pleit van verjaring teen die derde eis op
dieselfde
grondslag vooraf deur die hof bereg word. Ook dié aansoek word
deur die verhoorhof toegestaan, les bes met ewe min sukses,
want die hof verwerp
die verweerder se betoog in +n aparte uitspraak en maak die volgende bevel:
“1. Verweerder se spesiale verweer van verjaring t.o.v. eis 3, die
sogenaamde karwei-eis, word afgewys, met koste, met uitsluiting
van die koste
van argumentering van die onderhawige aansoek.
2. Dit word gelas dat die karwei-eis beslis moet word deur die aanbied van
verdere getuienis.
3. Elke party betaal sy eie koste veroorsaak deur die
aansoek.”
Netsoos in die ander geval word ook hier verlof verleen om na
hierdie hof te appelleer.
[5] Die resultaat is dat daar, voortspruitend uit
een en dieselfde geding, tans twee afsonderlike appèlle, elk met sy eie
saaknommer
en betoogshoofde, maar met net ‘n enkele oorkonde, voor hierdie
hof dien. Gerieflikheidshalwe word albei appèlle deur
die advokate
gesamentlik maar agtereenvolgens behandel. Ek beoog om dieselfde te doen. Na
die appellant in die eerste appèl
en die respondent in die tweede verwys
ek voortaan slegs as die eiser en na sy teenparty as die verweerder.
[6] Dat
‘n geding wat sy oorspong in ‘n ooreenkoms het wat in 1978 aangegaan
en in 1987 afgehandel is, waarin dagvaarding
in Januarie 1990 uitgereik en
uitspraak op ‘n punt in
limine
in Augustus 1992 gelewer is, eers in
2000 voor hierdie hof beland, is ‘n betreurenswaardige toedrag van sake.
By wie die blaam
presies lê, kan nie sommerso uitgepluis word nie. En wat
ookal in dié appèl gebeur, nog is het einde niet.
Inmiddels is
die eiser gelikwideer en bestaan die verweerder ook nie meer as sodanig nie.
Vir huidige doeleindes maak geeneen van
die partye egter ‘n punt van die
ander se gebrek aan status nie.
[7] Die eerste pertinente vraag is of
eise 1 en 2, soos gepleit, regtens gegrond is. Eis 1 word in paragraaf 35.1
van die besonderhede
vir vordering beskryf as:
“verlies as gevolg van vertraging van die kontrak, en daarmee
gepaardgaande addisionele uitgawes ten aansien van oorhoofse
koste en verwante
vorderinge.”
Eis 2 word weer in paragraaf 35.2 beskryf
as:
“verliese gely as gevolg van die onderbreking van die konstruksieprogram
en daarmee gepaardgaande ontwrigting en daaruit voortspruitende
verlies aan
produksie en wins.”
Albei is eise vir skadevergoeding
weens kontrakbreuk wat op ‘n reeks voorafgaande bewerings in die
besonderhede van vordering
berus waarin die eiser die blaam vir vertragings met
die afhandeling van die werk op die verweerder “of sy agente” plaas.
Die “agente” was na bewering Springfontein Boerdery (Edms) Beperk,
‘n vorige kontrakteur wat ‘n hoeveelheid
massa uitgrawingswerk moes
voltooi voordat die terrein op 2 Januarie 1978 aan die eiser oorhandig is, asook
die ingenieur en die
argitek wat deur die verweerder aangestel is om oor die
werk toesig te hou.
[8] Die verweerder se aanval op die eiser se besonderhede
van vordering was volgens die verhoorhof drieledig van aard, naamlik:
“(a) Dat die uitdruklike en stilswyende terme van die ooreenkoms waarop
Eiser steun in stryd en onbestaanbaar is met die uitdruklike
bepalings en terme
en bedinge tot die teendeel in die skriftelike ooreenkoms tussen die partye,
en
(b) selfs indien bevind sou kon word dat die
beweerde stilswyende terme en bedinge by die skriftelike kontrak as deel van die
ooreenkoms
tussen die partye ingelees kan word, het Eiser [verweerder] nie
strydig met die kontrak opgetree nie, omdat die gewraakte optrede
van verweerder
soos uiteengesit in die dagvaarding deur die ooreenkoms tussen die partye
gemagtig word, en
(c) indien bevind sou kon word dat die stilswyende en
uitdruklike terme soos deur Eiser beweer wel bestaanbaar is met die terme en
bedinge van die skriftelike kontrak en die optrede van verweerder as
kontrakbreuk aangestip kan word, dan maak die ooreenkoms, met
uitsluiting van
enige ander regshulp voorsiening vir spesifieke regshulp en nie die regshulp
soos deur Eiser aangevra nie.”
Die hof
a quo
bevind in wese in
die guns van die verweerder op die derde van dié drie bene. In hierdie
hof is al drie gronde opnuut beredeneer.
Gevolglik word dit nodig om elk van
die beweerde dade van kontrakbreuk afsonderlik te bekyk.
[9] Die eerste
klag van kontrakbreuk is dat die verweerder, volgens paragraaf 25.1 van die
besonderhede van vordering, versuim het
om “betyds die massa uitgrawings
te voltooi, of dit in ‘n behoorlike mate te voltooi”. In die notule
van die voorverhoor-konferensie
word verder hierop uitgebrei. In paragraaf
100.1 daarvan beweer die eiser:
“Die vertraging is veroorsaak deur die terreinwerke wat deur die vorige
kontrakteur herstel moes word.”
En in paragraaf
100.2:
“Die kontrakteur wat vir die terreinwerke verantwoordelik was, was
gedurende die tydperk 1 Januarie 1978 tot Junie 1978 op
terrein, en sy
teenwoordigheid het die Eiser ontwrig.”
Dié
bewering is gegrond op sekere vroeëre bewerings in paragrawe 17 en 18 van
die besonderhede van vordering wat soos
volg lui:
“17. Dit was verder ‘n uitdruklike,
alternatiewelik
‘n
stilswyende term dat die voormelde massa uitgrawings deur die voormelde
Springfontein Boerdery (Edms) Bpk voltooi sou word
voor of op 2 Januarie 1978,
die datum waarop die terrein aan die Eiser oorhandig is.
18. Dit was verder ‘n uitdruklike,
alternatiewelik
‘n
stilswyende term van die partye se ooreenkoms dat die voormelde Springfontein
Boerdery te alle relevante tye as die Verweerder
se agent sou optree, en dat die
Verweerder verantwoordelik sou wees vir die behoorlike en tydige voltooiing van
sodanige uitgrawings.”
[10] Twee van die uitdruklike bepalings van die ooreenkoms is
hier in die besonder ter sake.
Klousule 5 van die voorwoord tot die HL
bepaal:
“5.
AFSONDERLIKE KONTRAK
: Die massa uitgrawings is onder
‘n aparte afsonderlike kontrak uitgevoer en daar sal van die Aannemer aan
wie hierdie kontrak
toegeken word, verwag word om die uitsetting en vlakke van
die vorige Kontrak na te gaan (Sien klousule 29 bladsy
8)”.
Gemelde klousule 29 van die HL bepaal
voorts:
“29.
AKKURAATHEID VAN AFMERKING IN VORIGE KONTRAK
: Die Aannemer
vir die grondwerk wat ‘n vorige kontrak behels, is onder waarborg vir die
noukeurigheid van die afmerking,
uitsetting en vlakke van die werk deur hom
uitgevoer. Die Aannemer vir
hierdie
kontrak moet die afmerking,
uitsetting van vlakke nagaan binne twee weke na opdrag om met die werk ‘n
aanvang te neem en moet
skriftelik die aandag van die Argitek op enige foute in
hierdie verband vestig, welke foute dan deur die Aannemer van die vorige
kontrak
herstel sal word.
Die Aannemer van hierdie kontrak moet die vorige Aannemer alle fasiliteite
verskaf vir die uitvoering van sulke herstelwerk. Enige
foute in die afmerking
van die werk in die vorige kontrak wat nie binne twee weke onder die Argitek se
aandag gebring is nie, soos
hierbo beskryf, sal deur die Aannemer van hierdie
kontrak op eie koste herstel moet word. (Sien ook klousule 7 van
kontrakvoorwaardes.)
Die Aannemer van hierdie kontrak moet skriftelik aan die Argitek bevestig dat
die afmerking, uitsetting en vlakke wat deur die vorige
Aannemer uitgevoer is,
korrek is
, voordat hy ‘n aanvang maak met sy werk.
Die Aannemer moet toelaat vir die voortsetting van die werk vanaf die stadium
bereik in die vorige kontrak.”
(Die onderstreping kom in die oorspronklike voor.)
[11] Die
verhoorhof bevind in die eerste plaas, in die guns van die eiser, dat die
stilswyende bepalings waarop die eiser hom in para.
17 en 18 van sy besonderhede
van vordering beroep nié met die uitdruklike bepaling van die ooreenkoms
in stryd is nie, sodat
die verweerder se beswaar in dier voege verwerp
word.
[12] Met dié gevolgtrekking kan ek met alle verskuldigde eerbied
nie saamstem nie. Die gedagtegang van die hof
a quo
, as ek dit reg het,
skyn dit te wees: die aangehaalde klousules verg dat die eiser moet nagaan of
die “afwerking, uiteensetting
en vlakke” van die werk van die vorige
kontrakteur behoorlik en noukeurig deur hom uitgevoer
is;
die klem val
op die gebruik in die klousule van die teenwoordige tyd; dit veronderstel dan,
so word geredeneer, dat sodanige werk
reeds by oorhandiging van die terrein deur
die verweerder aan die eiser voltooi
was
(al sou sekere herstelwerk deur
die vorige kontrakteur daarna denkbaar nog nodig mag wees); blyk dit nou nie
die geval te wees nie,
kom dit
ipso facto
op kontrakbreuk deur die
verweerder teenoor die eiser neer.
[13] Die optrede waarteen die eiser in
dié verband beswaar maak, impliseer egter nie dat géén
grondwerk deur
die vorige kontrakteur, Springfontein Boerdery (Edms) Bpk, gedoen
is nie, maar eerder dat hy die grondwerk wat wel deur hom gedoen
is, nie
“voltooi” het nie. Myns insiens is dit presies die situasie wat
klousules 5 en 29, hierbo aangehaal, in die
vooruitsig stel. (Die klousules
maak dit terloops ook duidelik dat die vorige kontrakteur nie, soos deur die
eiser beweer word,
die verweerder se “agent” was nie, maar wel
‘n onafhanklike aannemer.) Van voornemende tenderaars word verlang
om die
terrein vooraf te inspekteer “om hulself op hoogte te stel met terrein
omstandighede, die aard van lig-, krag- en
watertoevoer, vervoer fasiliteite,
toestand van die aangrensende geboue, ensovoorts en moet toelaat vir sulke items
in sy tenderbedrag
aangesien geen eise in hierdie verband later toegestaan sal
word nie.” (Klousule 7 van die voorwoord tot die HL waarna spesifiek
in
Klousule 29 verwys word.) Een van die faktore wat die tenderaar in ag moet neem
wanneer hy sy tender voorberei, is juis die stand
of mate van voltooiing van die
werk van die vorige kontrakteur en die ontwrigting wat dit vir die kontrakteur
mag inhou indien die
vorige kontrakteur die terrein agterna betree om sy
brouwerk te herstel of indien die tenderaar die herstelwerk self moet verrig
(vgl.
Imprefed (Pty) Ltd v National Transport Commission
1993 (3) SA 94
(A) 124I-125B). Dit sluit juis die tipe ontwrigting in waaroor die eiser hom in
dié verband bekla.
[14] Die verweerder waarborg nie die gehalte van
die afwerking of die stand van voltooiing van die werk van die vorige
kontrakteur
nie. Vir soverre die ooreenkoms uitdruklik bepaal dat verdere
herstelwerk deur die vorige kontrakteur of die eiser nodig mag wees,
beteken dit
by implikasie dat die verweerder self nie daarvoor instaan nie en dat die werk
inderdaad dalk nie voltooi sou wees nie.
Wat in vooruitsig gestel word, is dat
die vorige kontrakteur, en nie die verweerder nie, die herstelwerk in die eerste
plaas sal
moet kom doen. Om nou, soos die verhoorhof in effek te kenne gee,
‘n verpligting in die kontrak in te lees, naamlik dat die
verweerder moet
toesien dat die werk van die vorige kontrakteur inderdaad op die oomblik van
oorhandiging van die terrein reeds “voltooi”
was (en wat hom
prima facie
aan ‘n eis om skadevergoeding blootstel indien dit nie
die geval sou wees nie), is om teen die twee uitdruklike bepalings van
die
ooreenkoms wat hierbo aangehaal is, te sondig. Die vermeende stilswyende
bepaling waarop die eiser hom verlaat vir die bewering
dat die verweerder
kontrakbreuk sou gepleeg het, is met die uitdruklike bepalings van die
ooreenkoms onversoenbaar en is as sodanig
onbestaanbaar. Die kapsie wat die
verweerder teen hierdie eisoorsaak maak, is dus reeds op die eerste van die drie
bene van beswaar
hierbo vermeld, geregverdig.
[15] Die daaropvolgende reeks
bewerings van kontrakbreuk word in paragrawe 25.2 tot 25.9 van die besonderhede
van vordering uiteengesit
en berus op ‘n aantal stilswyende bedinge wat in
paragrawe 19.3 tot 5 en 20.1 en 2 daarvan omskryf word. Almal daarvan het
te
make met die een of ander versuim aan die kant van die argitek of die ingenieur.
In paragrawe 25.2 tot 7 van die besonderhede
van vordering word gekla oor
versuim om skedules, sketse, ontwerpe, tekeninge, berekeninge, opdragte en dies
meer vir ‘n verskeidenheid
van aktiwiteite wat deur die eiser verrig moes
word (soos die staalbewapening van beton, die oprigting van heipale en
betonstrukture,
die konstruksie van die verpleegsterstehuis,
stormwaterdreinering, waterretikulasie en riolering, die konstruksie van die
vloere
van die hospitaal en van installasies soos hysskagte, kombuise,
ensovoorts) “betyds of hoegenaamd” aan die eiser beskikbaar
te stel.
Paragraaf 25.8 slaan weer op versuim om “betyds of hoegenaamd toe te sien
dat planne, spesifikasies en opdragte ten
aansien van die verrigting van
siviele- en terreinwerk betyds of hoegenaamd aan die Eiser gegee word”, en
paragraaf 25.9 op
versuim om “genomineerde sub-kontrakteurs betyds, tydig
of hoegenaamd aan te stel”.
[16] Wat die stilswyende bepalings betref
waarop die eiser hom in paragrawe 19.3 tot 5 en 20.1 tot 2 verlaat, kan
geredelik aanvaar
word (soos die verweerder in sy verweerskrif dan ook toegee)
dat daar ‘n verpligting op die verweerder via sy verteenwoordigers
gerus
het om die nodige medewerking aan die eiser te verleen, by wyse van sketse,
planne, ontwerpe, tekeninge, spesifikasies, berekeninge
en dies meer, ten einde
die eiser in staat te stel om behoorlik met sy werk te kan vorder.
[17] Die
argitek en die ingenieur was die verweerder se verteenwoordigers. Die
verweerder is die skuldeiser ten opsigte van die verbintenis
om die hospitaal te
bou. Die versuim waaroor gekla word hou verband met die verweerder se optrede
qua
skuldeiser. Die vorm van kontrakbreuk is dus
mora creditoris
(
De Wet en Van Wyk
, Die Suid-Afrikaanse Kontraktereg & Handelsreg,
5de uitgawe Vol 1 181-3;
Van der Merwe et al
, Contract, General
Principles 267;
Christie
, The Law of Contract in South Africa, 3de
uitgawe 567. Vgl. ook
Ranch International Pipelines (Tvl) (Pty) Ltd v L M G
Construction (City) (Pty) Ltd
1984 (3) SA 861
(W) 877B-D; 878E-I; 881C;
en
LTA Construction Ltd v Minister of Public Works and Land Affairs
1992
(1) SA 837
(C) 848F-G (wat op ander gronde in
[1993] ZASCA 149
;
1994 (1) SA 153
(A) op
appèl gehandhaaf is).
[18]
Mora creditoris
kom te pas waar die
skuldenaar nie sonder die medewerking van die skuldeiser kan presteer nie. Vir
die bestaan van
mora creditoris
is dit nodig dat die skuldeiser deur die
skuldenaar opgeroep of aangespreek moet word om die verlangde medewerking te
verleen. (‘n
Sodanige oproep is egter nie nodig waar óf die
ooreenkoms óf die skuldeiser self ‘n tyd vir prestasie deur die
skuldenaar - en dus ‘n tyd vir medewerking deur die skuldeiser -
voorgeskryf het nie (De Villiers,
Mora Creditoris as Vorm van
Kontrakbreuk
, ongepubliseerde proefskrif (US) 153, 169)). Of die skuldenaar
die skuldeiser daarnaas formeel in
mora
moet stel alvorens hy
skadevergoeding kan vorder, dan wel of hy hom net ‘n redelike tyd en
geleentheid moet gun om sy medewerking
te verleen (ongeag of hy (a) net die
skuldenaar se aangebode prestasie, soos die betaling van ‘n geldsom, in
ontvangs moet
neem of (b) op eie inisiatief ‘n medewerkingshandeling moet
verrig, soos die beskikbaarstelling van ‘n bouterrein of
die verskaffing
van sketsplanne), is ‘n vraag wat, netsoos in die geval van
Alfred
McAlpine & Son (Pty) Ltd v Transvaal Provincial Administration
1974 (3)
SA 506
(A) 539G-H, nie hier ontstaan, en gevolglik nie hier beantwoord hoef te
word nie. (Vgl. voorts die opmerkinge van Trengove R, weliswaar
onder die
dekmantel van
mora debitoris
, in
Alfred McAlpine & Son (Pty) Ltd v
Transvaal Provincial Administration
1977 (4) SA 310
(T) 351G-H; 5 LAWSA
(first issue) 228.) Die vraag ontstaan nie omdat daar, soos in paragraaf 20
hierna blyk, geen bewering in die
pleitstukke is dat die eiser die verweerder
ooit opgeroep het om die medewerking te verleen waarsonder die eiser in die
opsigte wat
vermeld word, nie sy werk kon voortsit nie. Vir sover die werk tog
gedoen is, kan die moontlikheid nie uitgesluit word dat die argitek
en die
ingenieur uiteindelik wel opgetree het sonder dat hulle ooit daartoe aangespreek
is nie.
[19] Dat daar, soos deur die verweerder in die verweerskrif toegegee
word, ‘n verpligting op die verweerder gerus het om die
nodige
sketsplanne, ontwerpe en dies meer te verskaf, beteken nie dat die verweer
terstond in kontrakbreuk verval het deur dit óf
“hoegenaamd”
nie te lewer nie óf, volgens die verweerder se beoordeling van sake, nie
“betyds” te
lewer nie. Die “verpligting” beteken in die
eerste instansie alleen maar dat die verweerder tot medewerking opgeroep
kon
word (vgl die bespreking in die minderheidsuitspraak van Corbett Wnd
AR in die 1974 (3)
McAlpine
-saak
supra
te 535A-E, 536F, 537F
teenoor 539G). Van kontrakbreuk by wyse van
mora creditoris
kan daar
alleen sprake wees indien so ‘n oproep inderdaad plaasgevind
het.
[20] Nêrens in die besonderhede van vordering, die nadere
besonderhede of die voorverhoor-notule, beweer die eiser dat óf
die
ooreenkoms óf die eiser self ‘n dag vir prestasie bepaal het ten
opsigte van elke item van versuim waaroor die eiser
hom bekla nie. Ook is daar
geen bewering in die stukke dat die eiser in enige instansie vooraf ‘n
beroep op die verweerder
(of sy betrokke verteenwoordiger) gedoen het om, by
wyse van die verlangde sketse, ontwerpe, tekeninge en dies meer, die nodige
medewerking
aan die eiser te verleen ten einde hom in staat te stel om na wense
met die werk te vorder nie. Die saak moet dus, gedagtig aan
die beperking en
omskrywing van die geskilpunte, benader en beoordeel word op die grondslag (a)
dat die stukke aan enige sodanige
bewerings mank gaan; maar (b) dat die
verweerder via sy verteenwoordigers wel deurlopend met die verskaffing van
planne, tekeninge
en ander optredes wat vermeld is, gesloer het - wat alles
kumulatief tot ‘n vertraging aan die kant van die eiser met die
afhandeling
van die werk aanleiding gegee het. In paragraaf 35.1 van die
besonderhede van vordering word dit algemeen beskryf as ‘n
“vertraging
van die kontrak” en in paragraaf 35.2 as die
“onderbreking van die konstruksieprogram”.
[21] Dat omstandighede
van hierdie aard, indien bewese, die eiser op ‘n verlenging van tyd
ingevolge klousule 17(2) van die
AKV geregtig gemaak het, kan kwalik betwyfel
word. Klousule 17(2) bepaal soos volg:
“If the Works shall be delayed by cessation of work by any workmen,
inclement weather, or by any omissions, additions, substitutions
or variations
of the Works or of any items of work, labour or material, or by any other causes
beyond the Contractor's control, then
the Contractor shall have the right within
twenty-one days of such cause of delay arising to apply in writing to the
Employer through
the Architect to extend the date of completion mentioned in
sub-section (1) of this clause, stating the cause of delay and period
of
extension applied for.”
Vertraging van die aard wat in
die besonderhede van vordering beskryf is, val klaarblyklik binne die frase
“any other causes
beyond the contractor's control” wat ‘n
verlenging van tyd sou veroorloof (vgl.
Group Five Building Ltd v Minister
of Community Development
[1993] ZASCA 75
;
1993 (3) SA 629
(A) 652G-H).
[22] In so
‘n geval, waar ‘n verlenging van tyd wel verleen is, geld klousule
24 van die voorwoord tot die HL en klousule
30 van die HL self. Die klousules
bepaal onderskeidelik:
“24.
KONTRAKPRYSAANPASSINGSVOORSIENING
: Die kontrakbedrag sal
onderworpe wees aan aansuiwering soos bepaal in Klousule 30 Bladsy 9 van hierdie
Hoeveelheidslyste. Die
Werkgroepindekse soos publiseer vir Bloemfontein gebied
sal van toepassing wees op hierdie
kontrak.”
“30.
KONTRAKPRYSAANPASSINGSBEPALINGS
1. Ondanks andersluidende bepalings elders is skommelings in koste om watter
rede ook al, vir rekening van die kontrakteur; met
dien verstande dat die
kontrakbedrag onderworpe is aan aanpassings met die som van die bedrae bereken
ten opsigte van elke betalingsertifikaat
ooreenkomstig die voorwaardes wat
hieronder aangegee word.”
Die
aanpassings geskied met verwysing na die waarde van die werk, soos gedefinieer,
en sekere gepubliseerde indekse. Subklousule
7 bepaal dan:
“7. Die waarde van enige werk -
7.1 verrig na die datum vir die uitvoering van die kontrak
of enige
gemagtigde uitgestelde datum
, moet aangepas word volgens die indekswaarde
soos op sodanige datum op uitgestelde datum;
of
7.2 in die finale rekening weergegee, wat nie in
vorige betalingsertifikate ingesluit en aangepas is nie, moet aangepas word
volgens
die indekswaarde soos op die datum vir die voltooiing van die kontrak
of enige gemagtigde uitgestelde datum
, of die werklike voltooiingsdatum
indien dit vroeër is as die voltooiingsdatum van die kontrak of die
uitgestelde datum.”
(My beklemtoning.)
[23] Waar die enigste
bewerings in die eiser se pleitstukke die bewerings is wat in paragraaf 20
hierbo vermeld is, is klousule 17.2
van die AKV, saamgelees met klousule 30 van
die HL, die aangewese en trouens die enigste remedie wat vir die eiser
beskikbaar is.
En waar dit die geval is, is dit vir huidige doeleindes nie
nodig om ‘n mening daaroor uit te spreek of ander remedies (soos
‘n
aksie om skadevergoeding) in ‘n geval soos hierdie (waar die kontrak sy
eie stel remedies voorskryf), vir die eiser
beskikbaar sou wees indien die
ontbrekende bewerings waarna ook in paragraaf 20 hierbo verwys is, wel gemaak
sou gewees het nie (vgl
Alfred McAlpine & Son (Pty) Ltd v Transvaal
Provincial Administration
1974 (3) SA 506
(A) 542A;
LTA Construction Ltd
v Minister of Public Works and Land Affairs
1992 (1) SA 837
(C) 849A-C;
Group Five Building Ltd v Minister of Community Development
[1993] ZASCA 75
;
1993 (3) SA
629
(A) 651D-E; 653E-H).
[24] In die onderhawige geval is ‘n
verlenging van tyd wel verleen. Daar is egter geen aanduiding in die stukke of
enige, en
indien wel watter deel daarvan, wel ten opsigte van elk van die
gewraakte klagtes van versuim toegewys is nie. Dit kan dus wees
dat sodanige
vertragings óf wel óf glad nie in ag geneem is nie. Indien dit
wel in ag geneem is, het die eiser reeds
addisionele vergoeding by wyse van
‘n aanpassing van die tariewe ontvang; indien dit nie destyds in ag
geneem is nie, kan
dit nou nie meer gebeur nie aangesien die werk intussen
afgehandel en reeds aan die verweerder oorhandig is. In geeneen van die
twee
gepostuleerde gevalle is daar ruimte vir ‘n addisionele eis vir betaling
van skadevergoeding op grond van die beweerde
dade van versuim nie.
[25] Op
die bewerings vervat in paragrawe 25.2 tot 25.9 van die besonderhede van
vordering, saamgelees met die nadere besonderhede
en die voorverhoor-notule, is
geen saak dus uitgemaak dat die eiser geregtig is om, addisioneel tot enige
verlenging van tyd wat
wel aan hom toegestaan is, skadevergoeding weens
kontrakbreuk te vorder nie. Die besonderhede van vordering openbaar in
dié
verband dus geen eisoorsaak nie.
[26] Paragraaf 25.10 van die
besonderhede van vordering staan weer op ‘n ander grondslag, te wete, die
bewering dat die verweerder
kontrakbreuk gepleeg het deurdat hy,
“handelende deur sy agente” versuim het “om wysigingsopdragte,
addisionele
werk en weglatings betyds en tydig aan die Eiser te verstrek”.
Dié bewering moet saamgelees word met die bewering in
paragraaf 20.3 van
die besonderhede van vordering as sou dit ‘n uitdruklike alternatiewelik
‘n stilswyende “term
van die partye se ooreenkoms” wees dat
die argitekte “wysigings- en vervangingsopdragte betyds en met inagneming
van
die voltooiingsdatum van die nuwe hospitaal sou uitreik, ten einde die Eiser
in staat te stel om die hospitaal binne die ooreengekome
tydperk te
voltooi”.
[27] Die eiser se gevolgtrekking, dat die gemelde bewerings
hom op skadevergoeding weens kontrakbreuk geregtig maak, kan na my mening
nie
steek hou nie. Die skema waarop die eiser staatmaak, hou nie rekening met die
uitdruklike bepalings van die ooreenkoms wat vir
die uitreiking van
wysigingsopdragte voorsiening maak nie. Klousule 3.3 van die AKV bepaal:
“Without invalidating the Contract the Architect shall have the right by
means of an Order in Writing, by varying the Drawings
and Specified Bills of
Quantities to increase or decrease the quantities of any item or items. Such
variations shall be measured
and valued at rates and prices contained in the
Schedule of Quantities and added to, or deducted from the Contract amount
...”
Klousule 3.4 bepaal soos volg:
“No claim for an extra or for any addition or for any variation shall be
entertained unless such extra, addition or variation
was ordered in writing by
the Architect. No objection to the description or terms of an Order in writing
will be entertained unless
lodged in writing with the Architect within
twenty-one days of the date of the Order.”
Klousule 3.5
bepaal:
“The value of any additional item or items, or of any variation for which
there are no rates or prices in the Schedule of Quantities,
will be adjusted by
mutual agreement on the basis of the rates or prices for similar work appearing
in the Schedule of Quantities.
In the event of a price for any additional item
or items or any variation being inserted in the Order in Writing to the
Contractor,
it will be understood that he accepts same unless he lodges a
written objection to such price within twenty-one days of the date
of the
Order.”
Klousule 3.7 bepaal:
“Should the Contractor be requested by the Architect in an Order in
Writing to execute any work or to supply any labour or
materials which,
according to the Contractor's interpretation of the Contract, are not provided
for therein, or if for any reason
he considers that he is entitled to an
increase on his Contract amount, or to a claim arising outside the scope of his
Contract,
he shall forthwith give notice, in writing, to the Architect that he
shall require to be paid for the same as extra work. The Contractor
shall,
however, proceed to act upon such Order in Writing (unless or until the same be
countermanded) so that neither the execution
of the Works, nor the supply of
material or labour may be delayed by any difference or controversy upon the
interpretation of the
Contract, and it is expressly agreed that no claim shall
arise under this clause unless such notice as aforesaid shall have been
given in
writing to the Architect within twenty-one days of the date of the Order in
Writing.”
[28] Ingevolge die ooreenkoms is die
verweerder geregtig om te enige tyd ‘’n wysigingsopdrag uit te
reik. Geen verpligting
om dit hoegenaamd of op ‘n gegewe tydstip te doen,
kan in die ooreenkoms ingelees word nie; vir sover klousule 3.3 geen beperking
bevat oor wanneer die verweerder ‘n wysigingsopdrag kan uitreik nie,
beteken dit by implikasie dat hy dit te enige tyd gedurende
die loop van die
ooreenkoms kan doen (
Alfred McAlpine & Son (Pty) Ltd v Transvaal
Provincial Administration
1974 (3) SA 506
(A) 528C-D; 536D-F). En as hy
dit te enige tyd kan doen, kan dit nie kontrakbreuk wees as hy daarmee sloer
nie. Die ooreenkoms
self maak voorsiening vir addisionele vergoeding wat aan
wysigingsopdragte te wyte is. Daarbenewens is die eiser ingevolge klousule
17.2
van die AKV, wat hierbo aangehaal is, geregtig op ‘n verlenging van tyd
met ‘n daarmee gepaardgaande aanpassing
van die tariewe. Myns insiens
sluit die samehang van al hierdie artikels in die ooreenkoms ‘n eis om
skadevergoeding vir ‘n
beweerde nie-tydige uitreiking van ‘n
wysigingsopdrag uit.
[29] In die resultaat is ek dit dus met die verhoorhof
eens dat die eiser, op die bewerings in sy stukke vervat, nie ‘n
eisoorsaak
ten opsigte van eise 1 en 2 openbaar het nie. Die appèl as
sodanig moet dus misluk.
[30] Dit bring my by die appèl wat deur die
verweerder geïnisieer is, naamlik, dat die karwei-eis, eis 3, verjaar en
dus
onafdwingbaar geword het.
[31] Dat die eiser sekere karwei-werk vir die
verweerder verrig het, word nie deur die verweerder betwis nie. Wat wel betwis
word,
is die tarief waarteen die verweerder die eiser daarvoor moes vergoed.
Die bedrag waarop die eiser, volgens die verweerder se berekening
en siening,
vir die karwei-werk kontraktueel geregtig was, is reëlmatig in die
vorderingsertifikate gereflekteer en aan die
eiser oorbetaal. Wat nou in die
geding tussen die partye deur die eiser gevorder word, is die balans wat volgens
die eiser se berekening
en siening vir die karwei-werk aan hom verskuldig is.
Daardie karwei-werk is volgens die verweerder reeds in Oktober 1986 in die
geheel voltooi, meer as drie jaar voordat die eiser se dagvaarding aan hom
beteken is. Die gevolg, so beweer die verweerder, is
dat die eiser se eis om
betaling daarvoor reeds verjaar het.
[32] Die verweerder se standpunt is dat
verjaring ten opsigte van die eis om betaling vir karwei-werk begin loop het
vanaf die datum
waarop dit vir die eiser moontlik was om vir betaling van die
bedrag wat vir die voltooide stuk karwei-werk aan hom verskuldig was,
aansoek te
doen. Die eiser, daarenteen, sien die karwei-werk as ‘n integrale en
onafskeibare onderafdeling van die gehele
projek wat as sodanig eers in Junie
1987 deur die eiser aan die verweerder oorhandig is, sodat verjaring van enige
eis om uitstaande
betaling vir enige deel daarvan vroegstens eers op daardie
datum kon begin loop het. Die eiser se dagvaarding is binne ‘n
tydperk
van drie jaar daarna aan die verweerder beteken wat verjaring van die eis,
volgens daardie siening, gestuit het.
[33] Die drie jaar tydperk is van
belang vanweë artikel 11(d) van die Verjaringswet, 68 van 1969, soos
gewysig. Verjaring begin
volgens artikel 12(1) van die Wet teen ‘n
skuldeiser loop vanaf die oomblik waarop sy skuld opeisbaar word. Dit word
opeisbaar
sodra prestasie, hier betaling, deur die skuldeiser gevorder kan, en
deur die skuldenaar vereffen moet word (vgl
Deloitte Haskins & Sells
Consultants (Pty) Ltd v Bowthorpe Hellerman Deutsch (Pty) Ltd
[1990] ZASCA 136
;
1991 (1) SA
525
(A) 532G-H).
[34] Die onderhawige ooreenkoms skep sy eie meganisme
waarvolgens betaling deur die eiser gevorder kan, en deur die verweerder gemaak
moet word. Relevante bepalings is onder meer:
Klousule 3(1) van die AKV wat
soos volg bepaal:
“The Contractor shall receive payment only for the Works actually executed
and accepted.”
Klousule 3(3) van die AKV is in
paragraaf 27 hierbo reeds aangehaal.
Klousule 19(1) van die AKV bepaal:
“19. TIMES AND TERMS OF
PAYMENT
(1) Payment will be made monthly to the Contractor within fourteen days of the
receipt by the Architect of application for same.
... In the case of Contracts
amounting to R500 and over, progress payments will be made, but not more
frequently than once a month,
but a certificate will not be prepared for a sum
less than R400. For each progress payment a valuation will be made of all work
done up to that date. Payments will be made to the extent of 90 per cent of the
value of the work done and fixed in the Works, the
remaining 10 per cent being
held in hand as retention money until the same reaches 7½ per cent of the
total amount of the Contract,
which amount of 7½ per cent will be retained
pending the issue of the Completion Certificate. On issue of the Completion
Certificate
in terms of clause 17(5), one-third of the retention money will be
paid, and on the Contractor signing the final accounts of variations,
the
retention money will be reduced to 2½ per cent on the value of the work
done. Final payments will be made on the expiry
of the maintenance period of
... three calender ... months on the Architect's Certificate that the Works are
in good order.”
Klousule 59
en 60 van die HL bepaal voorts:
“59.
BETALINGSERTIFIKATE
:
Die feit dat die departement in ‘n betalingsertifikaat die bedrae aandui
ten opsigte van werk verrig onder die verskeie vaksoorte
word beskou as ‘n
guns aan die aannemer en dit moet verstaan word dat die departement geen
verantwoordelikheid sal aanvaar
indien dit later blyk dat die voorgemelde bedrae
enigsins foutief is nie.
60.
BETALINGS
:
(a) Nieteenstaande enige bepalings in klousule 19 en 20 van die
kontrakvoorwaardes, sal daar van die aannemer verwag word om die
bourekenaars
kennis te gee van wanneer hy ‘n maandelikse betaling
verlang.
(b) Wanneer aansoek gedoen
word vir betalings moet die aannemer ‘n geskrewe opgaaf indien wat die
waarde van werk verrig en
materiaal op terrein gelewer vir gebruik in die werk,
sowel as fakture van benoemde onderaannemers, fakture van K.P. items en
kwitansies
vir bedrae betaal aan plaaslike owerhede, aandui, asook aansoeke van
sy eie onderaannemers.
(c) ...
(d) ...”
[35] Volgens die verweerder verg
klousule 19(1) van die AKV, saamgelees met klousule 60 van die HL, bloot die
afhandeling deur die
eiser van ‘n bepaalde stuk werk, gevolg deur ‘n
aansoek van die eiser om betaling daarvoor, gerig aan die argitek, met
‘n
opgaaf van die waarde van die werk wat gedoen is en die materiaal waarvoor
geëis word. Betaling is gevolglik opeisbaar,
en verjaring begin telkens
loop, aldus die betoog, sodra ‘n stuk werk afgehandel is. Volgens
dié siening sou die eiser
dus elke maand, sodra hy ‘n bepaalde
segment werk voltooi het, ‘n eis kan instel, op gevaar af dat sy eis vir
daardie
maand se werk sou verjaar indien hy dit nie doen nie.
[36] Dié benadering is na my mening verkeerd. Die ooreenkoms maak
nie vir deelbare stuk-werk of vir afsonderlike segmente
van werk voorsiening
nie. Tereg wys die eiser daarop dat die verweerder se konstruksie die hele
kontraktuele sisteem van uitreiking
van sertifikate oortollig sou maak. Ook kan
die verdere betoog dat die karwei-eis op ‘n aparte instruksie gevolg het
en aldus
los van die bepalings van die ooreenkoms beoordeel moet word, nie
opgaan nie. Ek is dit gevolglik met die hof
a quo
eens dat die blote
afhandeling van ‘n bepaalde onderafdeling van die werk die eiser nie,
ongeag enige betalingsertifikaat,
op betaling daarvoor geregtig gemaak het nie.
Eers by afhandeling van die werk as geheel, sou die eiser na regte op betaling
geregtig
wees (vgl
Dalinga Beleggings (Pty) Ltd v Antina (Pty) Ltd
1979
(2) SA 56
(A) 63A-D;
Thomas Construction (Pty) Ltd (In liquidation) v
Grafton Furniture Manufacturers (Pty) Ltd
1988 (2) SA 546
(A) 563G).
Inmiddels, soos uit die
Thomas Construction
-saak blyk, is die uitreiking
van ‘n vorderingsertifikaat bloot ‘n kontraktuele meganisme of
metode om die kontrakteur
in staat te stel om die voortsetting en afhandeling
van sy werk te finansier. Die uitreiking deur die argitek van ‘n
vorderingsertifikaat
is normaalweg (maar, afhanklik van die bepalings van die
ooreenkoms, nie noodwendig nie) ‘n voorvereiste vir die kontrakteur
om
betaling voor finale afhandeling van die werk as geheel te kan ontvang.
Daarsonder sou hy geen aanspraak op betaling hê
nie en sou enige eis met
die
exceptio non adimpleti contractus
afgeweer kon word. Word ‘n
sertifikaat wel gelewer, berus die eiser se aanspraak op betaling op die
sertifikaat self, as ‘n
aparte en selfstandige eisoorsaak, wat alleen op
beperkte gronde kwesbaar is, soos wanneer die bouheer die ooreenkoms ná
lewering
van die sertifikaat maar vóór vereffening daarvan op
grond van die kontrakteur se kontrakbreuk sou kanselleer
(Thomas
Construction (Pty) Ltd (In liquidation) v Grafton Furniture Manufacturers (Pty)
Ltd supra; Shelagatha Property Investments
CC v Kellywood Homes (Pty) Ltd
1995 (3) SA 187
(A);
Ocean Diners (Pty) Ltd v Golden Hill Construction
CC
[1993] ZASCA 41
;
1993 (3) SA 331
(A) 340E-G en 344C-D m.b.t. ‘n finale
sertifikaat). Ek kan dus nie met die verweerder se betoog akkoord gaan dat die
lewering
van ‘n sertifikaat in hierdie geval (anders as in
Errico v
Lotter
1956 (4) SA 139
(N), om maar een voorbeeld te noem)
nie
‘n voorvereiste vir betaling voor afhandeling van die werk as geheel is
nie (vgl
Santam v Ethwar
[1998] ZASCA 102
;
1999 (2) SA 244
(SCA) 253F), of met sy verdere
submissie dat so ‘n sertifikaat, as dit eenmaal gelewer is, nie in
‘n latere sertifikaat
reggestel of aangepas kan word nie.
[37] Die
posisie kan dus soos volg saamgevat word:
i) waar ‘n kontrakteur wat in die eiser se skoene staan, werk gedoen het
en om die uitreiking van ‘n vorderingsertifikaat
aansoek doen, ontstaan sy
eis op betaling vir die persentasie van die waarde van die werk (retensie
uitgeslote) waarvoor die kontrak
voorsiening maak en wat deur die argitek
geoorloof word, eers by uitreiking van die sertifikaat aan hom;
ii) op die balans van die betaling wat óf nie gesertifiseer is nie
óf waaroor daar gedisputeer word, en wat nie in
‘n latere
sertifikaat geakkommodeer word nie, kan die kontrakteur na regte eers aanspraak
maak wanneer die gehele werkstuk
finaal afgehandel is. Waar ‘n
kontrakteur dus nie terstond om ‘n vorderingsertifikaat aansoek doen nie,
beteken dit
bloot dat hy nie op vervroegde betaling aandring nie.
[38] Om bogenoemde redes meen ek dat verjaring van
die eiser se eis om betaling vir ‘n gedeelte van die werk, soos vir alle
ander gedeeltes wat nie in enige sertifikaat verskyn het nie, op sy vroegste by
afhandeling van die werk as geheel, begin loop het.
En aangesien die eiser se
dagvaarding binne drie jaar vanaf die datum van finale afhandeling beteken is,
het die eiser se eis om
betaling vir die karwei-werk nie verjaar nie en moet die
verweerder se appèl wat dié deel van die uitspraak van die
hof
a quo
betref, dus van die hand gewys word.
[39] Wat koste betref, het
elke party se eie appèl misluk. Normaalweg sou dit beteken dat elke
party ten opsigte van sy eie
appèl sy teenparty se koste moet dra. In
hierdie geval het die partye, verstandig genoeg, van een en dieselfde oorkonde
gebruik
gemaak. ‘n Strikte toepassing van die reël (dat elke
appèl met koste afgewys word) sou beteken dat die eiser alleen
met die
kostes wat met die voorbereiding van die oorkonde verband hou, opgeskeep sit.
Al is dit ook so dat die eiser
dominis litis
was, is dit toeval dat sy
appèl, eerder as die verweerder s'n, eerste aangeteken en op die rol
geplaas is. Dit kon net sowel
andersom gewees het. In die besondere
omstandighede lyk dit my gevolglik gepas om te beveel dat die partye die koste
van die voorbereiding
van die oorkonde op appèl moet deel en dat elke
party sy eie, eerder as sy teenparty se koste, moet dra.
[40] Die volgende
bevel word gemaak:
1. In saaknommer 674/92 word die appellant (die eiser) se appèl van die
hand gewys.
2. In saak 676/92 word die appellant (die verweerder) se appèl van die
hand gewys.
3. In albei appèlle is elke party aanspreeklik vir een helfte van die
kostes wat verband hou met die voorbereiding van die
oorkonde op appèl;
origens dra elke party sy eie koste.
............................
P M NIENABER
APPÈLREGTER
Stem saam
:
HEFER
HARMS
MARAIS ARR
MPATI Wnd AR