S v Van Vuuren en 'n Ander (300/91) [1992] ZASCA 71 (21 May 1992)

70 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Murder — Conviction and sentence — Appellants convicted of two counts of murder, robbery with aggravating circumstances, and illegal possession of a firearm and ammunition — Death sentences imposed without finding of mitigating circumstances — Appellants' appeal against death sentences considered under the Criminal Procedure Amendment Act — Evidence established premeditated attacks on elderly victims during robbery — No mitigating factors found, death sentences upheld as appropriate punishment.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1992
>>
[1992] ZASCA 71
|

|

S v Van Vuuren en 'n Ander (300/91) [1992] ZASCA 71 (21 May 1992)

Saak no. 300/91
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
JOHANNES LODEWIKUS VAN VUUREN
Eerste Appellant
SAGARIAS GEORGE VAN GRüNING
Tweede Appellant
en
DIE STAAT
Respondent
CORAM
: E M GROSSKOPF, KUMLEBEN, ARR et VAN COLLER Wnd AR
VERHOOR
: 5 MEI 1992
GELEWER
: 21 Mei 1992
2
UITSPRAAK
E M GROSSKOPF, AR
Die twee appellante het elk in die Transvaalse Provinsiale Afdeling
tereggestaan op twee aanklagte van moord, 'n aanklag van roof
met verswarende
omstandighede, en aanklagte van onwettige besit van 'n vuurwapen en ammunisie.
Na 'n verhoor voor HUMAN WR en assessore
is hulle op alle klagtes skuldig
bevind. Geen versagtende omstandighede is bevind met betrekking tot die twee
moordklagtes nie, en
hulle is elk op albei klagtes ter dood veroordeel. Die
vonnisse met betrekking tot die ander klagtes is nie tans ter sake nie. Aansoeke
om verlof om te appelleer is deur die verhoorregter en deur hierdie hof afgewys.
Kragtens die Strafregwysigingswet, no. 107 van 1990
(die Wysigingswet), is die
appellante se gevalle weer in oënskou geneem deur die paneel wat aangestel
is om die vonnisse van
sekere ter dood
3
veroordeelde persone te heroorweeg. Die paneel het bevind dat die verhoorhof
die doodvonnisse waarskynlik sou opgelê het indien
art. 277 van die
Strafproseswet, no. 51 van 1977, soos vervang deur die Wysigingswet, ten tyde
van vonnisoplegging in werking was.
Die appél dien nou gevolglik voor ons
ingevolge art. 19(12) van die Wysigingswet.
Nie een van die appellante het getuienis afgelê nie, en die tersaaklike
feite blyk uit die staatsgetuienis en uit verklarings
en pleitverduidelikings
wat die appellante verstrek het. Die feite is soos volg. Die eerste appellant,
wat destyds 22 jaar oud was,
het in Durban gewoon. Die tweede appellant, destyds
24 jaar oud, het 'n paar nagte by die eerste appellant kom kuier. Die twee van
hulle het toe besluit om na die Transvaal te reis per motor. Die presiese rede
is nie belangrik nie - die eerste appellant sê
in 'n verklaring dat hy die
tweede appellant na sy ouerhuis wou neem maar daar is ook getuienis dat hulle
banke in Transvaal wou
gaan beroof. Hoe dit ook al sy, langs die pad het
hulle
4
op 29 Mei 1985 gekuier by mense in die distrik Perdekop in
die omgewing
van Standerton. Die eerste appellant het in
daardie omgewing grootgeword en
skoolgegaan. Hulle het eers
die middag by 'n familie Kok gekuier. Dit was
ongeveer kwart
voor vier. Daarna het hulle gegaan na die plaas van die
twee
oorledenes, mnr. en mev. Van Eeden. Mnr. Van Eeden was 71
jaar oud, en mev. Van Eeden 61. Die twee Van Eedens het
alleen op die plaas gewoon met net een jong swartman wat
gehelp het met die paar koeie wat hulle aangehou het. Mev.
Van Eeden was gedeeltelik 'n invalide. Sy het soms met
behulp van 'n driepoot-loopraam beweeg. Die eerste appellant
sê die volgende omtrent die Van Eedens in 'n verklaring:
"Ek ken die mense van my kinderdae af. Ek het voor hulle groot geword. ...
Hulle was vir my soos 'n oupa en ouma ... ."
Nadat die twee appellante 'n rukkie gekuier het,
het hulle in die motor geklim en weggery. 'n Entjie weg het
hulle egter gestop, en toe weer teruggery na die Van Eedens
se woning. Mnr. Van Eeden het uitgekom en gevra wat die
5
moeilikheid was. Die eerste appellant sê toe dat daar fout
is met die motor se petroltoevoer. Wat daarna gebeur het,
word as volg
deur die eerste appellant beskryf ("George" is
die tweede appellant):
"Die oom sê toe ons moet die kar na sy skuur naby die huis vat. Die oom
het toe sy bakkie uitgetrek en ligte op my motor se
enjin laat skyn. Die oom het
toe 'n handpomp uit sy motor gaan haal en ons het die petrolpyp afgehaal en
skoon geblaas. Toe die oom
die pomp gaan bêre het ek die petrolpyp
teruggesit. Toe hy die skuurdeur toemaak toe sien ek dat George hom met 'n
piksteel
slaan. Ek het nie mooi gesien waar die hou hom tref nie. Die oom val
toe en George slaan hom nog."
Die tweede appellant se weergawe van die aanranding
op mnr, Van Eeden verskil nie wesentlik nie. Volgens die
mediese getuienis het hierdie aanranding ernstige
hoofbeserings veroorsaak.
Terwyl die tweede appellant die aanranding op mnr.
Van Eeden gepleeg het, het die eerste appellant die huis
binnegegaan waar mev. Van Eeden was. Daar het hy 'n .22
geweer en ammunisie in die hande gekry, die geweer gelaai, en
'n aantal skote op mev. Van Eeden geskiet. Minstens vyf het
6
haar getref in haar lyf of kop. Dit het haar dood veroorsaak. Die tweede
appellant het toe ook na die huis gegaan, en die twee appellante
het 'n aantal
artikels gesteel. Op een of ander tydstip is die telefoon se koord afgesny. Die
afleiding is onweerstaanbaar dat die
tweede appellant dit gedoen het voordat hy
mev. Van Eeden geskiet het, anders sou dit geen doel gedien het nie.
Nadat die twee appellante klaargemaak het in die huis is hulle terug na die
motor. Dit het toe geblyk dat mnr. Van Eeden moontlik
nog leef. Die eerste
appellant het hom gevolglik met die .22 geweer in sy kop geskiet. Die mediese
getuienis kon nie uitsluitsel
gee of Mnr. Van Eeden nog gelewe het toe die skoot
toegedien is nie. Wat egter wel vas staan is dat die aanranding met die piksteel
en die skoot in die kop elkeen afsonderlik die dood sou kon veroorsaak het.
Inderdaad het mnr. Van Eeden aan sy wonde beswyk.
Die appellante se verdere bewegings is nie van enige belang nie. In die loop
van die polisie se gewone
7
ondersoek na die moorde op die twee oorledenes het hulle verklarings van die
appellante geneem. Die twee appellante het vertel dat
hulle die middag by die
oorledenes gekuier het, maar het gesê dat alles in orde was toe hulle
vertrek het. Die polisie het
geen rede gehad om hul bewerings in twyfel te trek
nie. Eers omtrent 'n jaar later, ná ontvangs van verdere inligting, het
die polisie weer aandag aan die twee appellante gegee, en het die verklarings
gevolg waarop die Staat se saak berus.
Dit is teen die agtergrond van die bogemelde feite dat ons nou, met
inagneming van sodanige strafversagtende of -verswarende faktore
as wat aanwesig
mag wees, moet beslis of die doodvonnis die "gepaste vonnis" in die onderhawige
geval is (art. 277(1)(2) van die
Strafproseswet, soos saamgelees met art.
19(12)(b)(ii) van die Wysigingswet).
Die strafverswarende omstandighede lê voor die hand. Van 'n morele
standpunt geoordeel is dit moeilik om aan 'n verfoeiliker
misdaad te dink.
Hierdie is eerstens 'n
8
geval waar twee bejaarde en hulpelose mense wat alleen op 'n plaas woon, deur
rowers aangeval en vermoor is. Sulke gevalle word altyd
as baie ernstig beskou,
maar hier is daar nog aanvullende verswarende faktore. Die twee appellante het
as vriende na die oorledenes
gegaan en hul gasvryheid geniet. Die eerste
appellant het voor die oorledenes grootgeword. Die moorde was beplan. In hierdie
verband
is dit onnodig om te besluit of die appellante by hul eerste aankoms al
die opset gehad het om die oorledenes te beroof en te vermoor,
aangesien daar
geen twyfel kan wees dat hulle inderdaad so 'n opset gehad het toe hulle weer na
die opstal teruggekeer het nie. Op
daardie stadium het hulle die leuen paraat
gehad waarmee hulle mnr. Van Eeden niksvermoedend en hulpverlenend binne hul
bereik gebring
het. Terwyl die tweede appellant die aanval op mnr. Van Eeden
uitgevoer het, het die eerste appellant na die huis gegaan om met mev.
Van Eeden
af te reken en, so kan afgelei word, ook seker te maak dat sy nie die telefoon
gebruik nie. Alles dui op voorafbeplanning.
9
Dat hulle die subjektiewe opset gehad het om die oorledenes te dood kan myns
insiens nie betwyfel word nie. Dit blyk uit die aard
van die beserings wat
toegedien is, en veral die feit dat, toe hulle gedink het dat mnr. Van Eeden
miskien die aanval met die piksteel
oorleef het, daar toe aan hom nog 'n verdere
geweerskoot in die kop toegedien is. En die twee appellante het natuurlik ook
besef
toe hulle die roof beplan het dat hulle nie kon bekostig om 'n moontlike
getuie lewend te laat nie. Kortom dus: die appellante (en
veral die eerste
appellant) het opsetlik en met voorbedagte rade van die twee ou mense se
vriendskap gebruik gemaak om hulle te beroof
en te vermoor.
Dit bring my dan by moontlike strafversagtende faktore. Die appellante se
advokate het in hierdie verband staatgemaak op die appellante
se persoonlike
omstandighede en dit is dus dienstig om die twee appellante apart te
behandel.
Soos reeds gemeld was die eerste appellant ten tyde
10
van die pleging van die moorde 22 jaar oud. Skolasties het hy nie verder as
standerd 7 gevorder nie, hoewel hy oor 'n gemiddelde intelligensie
beskik. Hy
het twee vorige veroordelings waarvoor hy op dieselfde dag (12 Oktober 1982)
gevonnis is, en wat vermoedelik met mekaar
verband hou, t.w. een vir tjekbedrog
waarby R189,03 betrokke was, en minagting van die hof. Hy het dus geen
geskiedenis van geweld
nie.
'n Groot volume psigiatriese getuienis is voor die hof geplaas. Voordat die
verhoor 'n aanvang geneem het, is die eerste appellant
vir observasie verwys
ingevolge art. 77 en 78 van die Strafproseswet. Die drie psigiaters wat verslag
gedoen het, het verklaar dat
hy in staat was om hofverrigtinge te volg en na
behore tot sy eie verdediging mee te werk; en dat hy ten tyde van die misdrywe
volgens
die beskikbare informasie nie deur geestesgebrek dermate versteurd was
dat hy nie die ongeoorloofdheid van sy handelinge kon besef
het of hom daarvan
kon weerhou het nie. Die psigiater wat deur die eerste appellant aangestel is,
is
11
egter oorlede voordat hy kon getuig, en 'n vierde psigiater, dr. S.D.
Stahmer, het die eerste appellant ondersoek en oor sy toestand
getuig. Die twee
oorblywende lede van die paneel wat ingevolge art. 79 van die Strafproseswet
verslag gedoen het, t.w. prof. J.A.
Plomp en dr. C. le Roux, het ook getuig. In
die getuienis het daar verskeie meningsverskille ontstaan tussen dr. Stahmer aan
die
een kant, en, aan die ander kant, die gesamentlike front van prof. Plomp en
dr. Le Roux. Dit het veral gegaan oor die vraag of die
eerste appellant aan 'n
anti-sosiale persoonlikheids-versteuring ly as gevolg waarvan hy wesentlik
verminderd toerekeningsvatbaar
was (soos bevind deur dr. Stahmer) en of hy bloot
trekke van 'n anti-sosiale persoonlikheids-versteuring het wat geen wesentlike
invloed op sy toerekeningsvatbaarheid het nie (soos bevind deur die twee ander
psigiaters). In sy uitspraak oor versagtende omstandighede
het die verhoorhof
die getuienis van dr. Stahmer verwerp en dié van prof. Plomp en dr. Le
Roux
12
aanvaar. Mnr. Pienaar, wat namens die éerste appellant opgetree het,
het betoog dat hierdie bevinding van die hof a
quo
bereik was op die
basis dat die bewyslas op die appellante gerus het om versagtende omstandighede
te bewys. Waar die regsposisie
nou verander het deurdat dit tans die plig van
die Staat is om die bestaan van strafversagtende faktore bo redelike twyfel te
negeer
(sien
S v. Nkwanyana and Others
1990(4) SA 735 (A) op bl. 743 F
tot 745 A) behoort ons op appêl (so is verder betoog) die getuienis van
dr. Stahmer te aanvaar
as juis (minstens op die basis van 'n redelike
moontlikheid), en op grond daarvan die eerste appellant se
persoonlikheidsamestelling
as strafversagtend te aanvaar.
Hierdie argument gaan myns insiens nie op nie. Die verhoorhof se kritiek op
dr. Stahmer het hoofsaaklik daarop berus dat daar geen
feitebasis vir dr.
Stahmer se menings was nie. Dr. Stahmer het gevolgtrekkings gemaak op grond van
beweerde feite waarvoor daar geen
getuienis was nie, en soms waar daar
teenstrydige getuienis was. Hierdie kritiek, wat
13
ek meen geregverdig was, geld steeds, en is heeltemal
onafhanklik van die
ligging van bewyslas. Ek meen dus dat
hierdie saak benader moet word op die
aanvaarde getuienis van
prof. Plomp en dr. Le Roux. Prof. Plomp se getuienis
in
hierdie verband is soos volg deur hom opgesom:
"... wat ek net wil uitwys is dat daar die basiese verskil is dat dr.
Stahmer, die vorige getuie, maak 'n diagnose van 'n geestesafwyking,
en ek maak
nie so 'n diagnose nie. En soos ek dit interpreteer is volgens hom daardie
geestesongesteldheid, naamlik anti-sosiale
persoonlikheidsversteuring, voldoende
om die beskuldigde se vermoe om volgens sy besef van ongeoorloofdheid te handel
nadelig te
kan beïnvloed. Maar ek sê dit is nie so nie."
Die verwerping van dr. Stahmer se bevinding van 'n anti-sosiale
persoonlikheidsversteuring bring ook mee dat sy mening oor aspekte
van hierdie
versteuring waarop hy gewys het, soos byvoorbeeld emosionele onrypheid, ook nie
aanvaar kan word nie.
Dan is daar betoog dat daar getuienis was dat die tweede appellant 'n sterker
persoonlikheid gehad het en die leidende rol gespeel
het en die eerste appellant
beïnvloed
14
het. Ek kon geen sodanige getuienis vind nie. Nie een van die psigiaters
sê dit nie. Weliswaar het die eerste appellant in sy
verskeie verklarings
toe hy uiteindelik erken het dat hy deelgeneem het aan die misdrywe beweer dat
hy onder dwang van die tweede
appellant opgetree het. Hy het egter geen
getuienis tot hierdie effek afgelê nie (daar sal onthou word dat hy glad
nie getuig
het nie) en die bewerings in die verklarings is tereg deur die hof
a cruo
as vals verwerp.
In die lig van wat ek hierbo gesê het, blyk dit dat daar net twee
faktore is wat in 'n mate as strafversagtend aangemerk kan
word - die eerste
appellant se betreklike jeug en sy betreklike skoon rekord. Sy trekke van
anti-sosiale persoonlikheidsversteuring,
meen ek, het geen betrekking op hierdie
saak nie. Daar is geen aanduiding dat hy 'n ingebore geneigdheid tot geweld het
nie. Die
impulsiwiteit en lae frustrasiedrumpel, wat dikwels by anti-sosiale
persoonlikhede voorkom, het uiteraard hier geen rol gespeel nie.
Die
15
misdade was nie gepleeg uit impulsiwiteit of as 'n reaksie op frustrasie nie.
Dit was beplande, voorbedagte misdade. En insoverre
as die eerste appellant se
trekke van persoonlikheidsversteuring moontlik daaruit kan bestaan dat hy meer
gewetenloos as die meeste
mense is, is dit nie na my mening 'n versagtende
faktor nie (sien
S v. Pieterse
1982(3) SA 678 (A) op bl. 684 B).
Dit bring my dan by die tweede appellant. Soos reeds gemeld was hy 24 jaar
oud ten tyde van die voorval. Hy ook het net standerd 7
op skool gemaak, en
volgens 'n sielkundige verslag het hy 'n totale I.K. van 77, wat grens aan
geestesvertraging. Hy het 'n slegter
kriminele rekord as die eerste appellant.
Hy het veroordelings vir huisbraak met die opset om te steel (met of sonder 'n
daadwerklike
diefstal) in 1977, 1979 en 1986 (laasgenoemde was dus ná die
moorde in die onderhawige geval). Dan is hy ook gevonnis vir
die gebruik van 'n
motorvoertuig sonder die eienaar se toestemming, diefstal, dronkbestuur, en
bestuur sonder 'n
16
bestuurderslisensie. Hoewel die tweede appellant dus 'n slegte rekord het,
het hy hom nie vantevore aan 'n geweldsmisdaad skuldig
gemaak nie.
Die tweede appellant is ook vir ondersoek ingevolge arts. 77 en 78 van die
Strafproseswet verwys. In sy geval ook het die paneel van
die psigiaters (prof.
J.A. Plomp, dr. J.P. Verster en dr. J.L. Roos) bevind dat hy in staat was om die
hofverrigtinge te volg en
sinvol tot sy eie verdediging by te dra; en dat hy ten
tye van die misdaad nie dermate deur geestesongesteldheid aangetas was dat
hy
nie die ongeoorloofdheid van sy handelinge kon besef of om ooreenkomstig 'n
besef van die ongeoorloofdheid van sy handelinge op
te tree nie. In die geval
van die tweede appellant, anders as by die eerste appellant, het die paneel
egter 'n positiewe psigiatriese
diagnose gemaak dat hy aan 'n anti-sosiale
persoonlikheidsafwyking (psigopatie) ly.
Dit is al dikwels deur ons howe beklemtoon dat psigopatie
per se
nie
'n versagtende omstandigheid is nie.
17
Sien byvoorbeeld
S. v. Mnyanda
1976(2) SA 751 (A) op bl. 766 H;
S.
v. Pieterse
,
supra
, en
S. v. Kosztur
1988(3) SA 926 (A) op bl.
938 D. Hoewel hierdie beslissings gelewer is na aanleiding van die regsposisie
wat gegeld het voor die
inwerkingtreding van die Wysigingswet, is hul
ratio
ewe seer van toepassing op die bestaan al dan nie van
strafversagtende faktore vir die doeleindes van art. 277(2)(a) van die
Strafproseswet
soos dit tans lui. Om te bepaal of psigopatie 'n strafversagtende
faktor uitmaak, sal 'n hof eerstens let op die erns en aard van
die psigopatie
wat aanwesig is, want psigopatie dra nie altyd dieselfde kenmerke nie. Dan moet
die hof ag slaan op die aard van die
misdaad en die omstandighede waarin dit
gepleeg is. Sien
Mnyanda
se saak,
supra
, op bl. 766 H tot 767
in fin
.;
Pieterse
se saak, supra,op bl. 683 H tot 685 D.
Prof. Plomp en dr. Verster het getuienis oor die tweede appellant se
persoonlikheidsamestelling gelewer. Prof. Plomp het getuig dat
'n psigopaat 'n
persoon is wat ons
18
miskien kan beskryf as gewetenloos. Hy het verder daarop uitgebrei soos
volg:
"Hy tree op in sy eie belang. Hy neem nie in ag die
belange van ander mense of hulle gevoelens nie. Hy
is ook nie bereid om sy doelstellings uit te stel
nie. Wanneeer hy iets begeer dan wil hy dit
onmiddellik hê en hy duld nie sulke uitstel nie.
Wanneer hy ook dan verplig word om 'n saak uit te
stel wat hy wil hê dan voel hy frusteerd en net
soos 'n stout kind sal hy dan kwaad word en
enigiets aanvang in daardie woede uit sy frustrasie
uit. Omdat hy nie simpatie en meegevoel of empatie
met sy medemens het nie, is hy dan geneig om ander
mense in sy eie belang te gebruik, en baie van
hierdie psigopate leer dan ook om mense te
manipuleer deur 'n oppervlakkige sjarme waarvoor
ander mense val, om hulle heuning om die mond te
smeer totdat hulle hulle het net waar hulle hulle
wil hê en dan maak hulle misbruik van die persoon
se vertroue. Psigopate kan dan hoofsaaklik soos
ons regsomskrywing in die geestesgesondheidswet
ook aanbied, in twee hoofgroepe ingedeel word, en
dit is dié wat hoofsaaklik onverantwoordelik is en
die ander wat aggressief is. Maar daar mag
natuurlik mengbeelde hiervan ook bestaan. 'n Mens
is nie òf net onverantwoordelike psigopaat òf 'n
aggressiewe psigopaat nie. Daar is mengsels van
hierdie by elkeen van die psigopate. In sommige is
die aggressiewe element miskien meer prominent, in
ander is die onverantwoordelikheids element meer
prominent."
Wat die tweede appellant betref, was prof. Plomp
19
van mening dat hy meer onverantwoordelik as aggressief was.
Wanneer dit by die feite van die onderhawige geval kom, het
prof. Plomp
gesê dat die optrede van die twee appellante
"berekende optrede" was - optrede wat getuig het van
deurdagte en logiese
denke. 'n Psigopaat het besondere
moeite om sy impulse te beheer waar daar 'n
geweldige sterk
emosionele element by is. In die afwesigheid van sodanige
element sou 'n psigopaat wel sy impulse kon beheer, maar hy
sou geneigd wees om aan hulle toe te gee as hy weet "dat sy
kanse om daarmee weg te kom beter is". Ten opsigte van die
feite van die saak sê hy dan:
"... ek weet nie van enige rede waarom hy vir die eerste oorledene, die
manlike persoon, kwaad sou wees. Die man het hulle kom koffie
bedien, hy het vir
hulle gehelp al was dit nie eers vir 'n ware fout aan die motor nie, maar hy het
hulle gehelp om die motor reg
te stel en hulle was weer reisvaardig gewees. Daar
was stof tot dankbaarheid gewees en in plaas daarvan is daar nie woede of haat
of jaloesie of sulke emosies wat hom op daardie oomblik kon beïnvloed het
nie."
Dr. Verster se getuienis het wesentlik ooreengestem
met dié van prof. Plomp. Sy slotsom was die volgende:
20
"Ek meen in die situasie hier kan 'n mens net kortliks saamvat dit is twee
volwassenes, hulle is nie so dom nie, hulle was volgens
getuienis nie onder die
invloed van alkohol of dagga of wat ook al nie, en hier is tog 'n slinksheid van
optrede gewees. So of daar
nou werklik anti-sosiale tendense, minder ernstig of
meer ernstig, hier was weet ek nie of dit veel verskil gaan maak aan wat gebeur
het nie. Dit is nie geestesversteurd of gebrekkig in die sin dat ons kan
sê hier is iemand wat toerekeningsvatbaarheid van
ingekort is
nie."
Weens die voorgaande meen ek dat, hoewel die
tweede appellant aan 'n anti-sosiale persoonlikheidsversteuring gely het, dit
nie as
'n versagtende faktor aangemerk kan word nie. Die moorde is nie gepleeg
vanweë die tweede appellant se onvermoë om sy aggressiewe
neigings te
beteuel nie. Hulle was voorbedagte en berekende moorde vir gewin. By die tweede
appellant, soos by die eerste, is die
enigste moontlike effek van sy
persoonlikheidsversteuring dat hy meer gewetenloos is as die meeste mense. Soos
reeds gemeld beskou
ek dit nie as 'n strafversagtende faktor nie.
Die enigste strafversagtende faktore by die tweede appellant was dus sy
betreklike jeug, en die feit dat hy geen
21
geskiedenis van geweld het nie. Laasgenoemde faktor dra egter minder gewig as
by die eerste appellant, want die tweede appellant het
'n heelwat swakker rekord
ten opsigte van misdade oor die algemeen.
Ten slotte moet ek die oordeel vel
of, met inagneming van die strafversagtende en -verswarende faktore, die
doodstraf die enigste
gepaste vonnis is. In hierdie verband dink ek nie 'n mens
kan onderskei tussen die twee appellante hie. Die eerste appellant se morele
blaamwaardigheid vir die moorde is tot 'n mate erger as dié van die
tweede appellant deurdat hy die twee oorledenes vantevore
geken het, maar
daarteenoor het die tweede appellant 'n slegter rekord. Hierdie is egter na my
mening betreklik ondergeskikte aspekte.
Die boosheid van albei die appellante se
dade was so snood dat die versagtende faktore onbeduidend raak. Na my mening is
hierdie
'n geval van sulke uitsonderlike erns dat dit die swaarste straf verdien
waarvoor die regspleging voorsiening maak.
22
Die appèl word afgewys en die doodvonnisse bekragtig.
E M GROSSKOPF, AR
KUMLEBEN, AR VAN COLLER, Wnd AR stem
saam