About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1991
>>
[1991] ZASCA 106
|
|
S v Morapela (2/91) [1991] ZASCA 106 (17 September 1991)
Saak nommer 2/91 E du P
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
EDWIN MOEKETSI MORAPELA
Appellant
en
DIE
STAAT
Respondent
Coram:
SMALBERGER, F H GROSSKOPF ARR et HARMS Wn AR
Verhoordatum:
Leweringsdatum:
5 September 1991 17 September 1991
2
U I T S P R A A K F H GROSSKOPF AR:
Die appellant is in die
Oranje-Vrystaatse Rondgaande Afdeling deur Smuts RP en assessore op die volgende
klagtes skuldig bevind: huisbraak
met die opset om te roof en roof met
verswarende omstandighede (aanklag 1); verkragting (aanklag 2); en poging tot
moord (aanklag
3). Die appellant is die doodvonnis opgelê vir die
verkragting (aanklag 2). Op aanklag 1 is hy tot 16 jaar gevangenisstraf
gevonnis
en op aanklag 3 tot 7 jaar gevangenisstraf Die Hof
a quo
het gelas dat 5
jaar van die 7 jaar gevangenisstraf op aanklag 3 "samelopend uitgedien sal word
met enige vonnis van gevangenisstraf
wat hierna opgelê mag word deur 'n
hoër Hof weens die misdaad van verkragting wat deur beskuldigde gepleeg is
of enige
gevangenisstraf wat hy andersins beveel mag word om uit te dien deur
die Uitvoerende Gesag."
Die appellant appelleer slegs teen die doodvonnis wat hom op aanklag 2
opgelê is, en wel kragtens sy
3
outomatiese reg van appèl ingevolge die bepalings van artikel 316A(1)
van Wet 51 van 1977.
Die appellant het aanvanklik onskuldig gepleit op al die
klagtes, maar in die loop van die verhoor het hy sy pleit van onskuldig na
een
van skuldig op al drie klagtes verander. Hy het terselfdertyd sekere relevante
erkennings gemaak. Die Staat het besluit om nie
hierdie gewysigde pleite te
aanvaar nie en die staatsaak is normaalweg voortgesit en afgehandel. Die
appellant het daarna sy saak
gesluit sonder om enige getuienis op die meriete
aan te bied. Die appellant het wel na skuldigbevinding ter strafversagting
getuig.
Die misdade is almal gedurende die aand van Sondag 29 April 1990 in die
klaagster se huis te Bethulie gepleeg. Die klaagster is 'n
weduwee wat ten tye
van die gebeure 67 jaar oud was. Sy het alleen in die huis gewoon. Omstreeks
19:00 die betrokke aand, en terwyl
die klaagster besig was om in die sonkamer
agter in die huis na die televisie te kyk,
4
was die appellant besig om by die klaagster se slaapkamervenster in te breek.
Die slaapkamer was aan die teenoorgestelde kant van
die huis geleë. Die
appellant beweer dat hy geen ligte in die huis sien brand het toe hy daar
verbygeloop het nie en dat hy
gedink het daar is niemand tuis nie. Volgens hom
het hy daar ingebreek met die oog op diefstal. Nadat hy toegang tot die huis
verkry
het, het hy met die gang begin afloop. Hy het gesien dat daar wel 'n lig
in 'n vertrek brand, en toe hy nader aan dié vertrek
gekom het, moes hy
ook die televisie gehoor het. Dit het hom blykbaar nie afgeskrik dat daar
waarskynlik iemand in die huis was nie,
want hy het daardie vertrek binnegegaan.
Hy het trouens voorsorg getref deur sy mes by voorbaat uit te haal. In die
vertrek het hy
die klaagster in 'n stoel voor die televisie aangetref. Die
klaagster getuig dat sy baie groot geskrik het toe sy skielik hierdie
man met 'n
mes in sy hand voor haar sien staan het. Hy het geld van haar geeis en gedreig
dat hy haar sal doodmaak as sy nie aan
sy eis voldoen
5
nie. Die klaagster het gesê hy moet haar nie seermaak nie, sy sal hom
geld gee. Desondanks het die appellant haar met die vuis
in die gesig geslaan en
haar na die gang toe gesleep terwyl hy haar om die keel vashou. Daar het die
appellant teenoor die klaagster
te kenne gegee dat hy gemeenskap met haar wou
hê. Hy het haar op die grond neergegooi en haar klere van haar lyf
afgeskeur
toe hy nie die knope kon loskry nie. Die klaagster het met hom
geworstel en hy het haar toe verskeie steekwonde met die mes toegedien.
Hierdie
wonde het baie gebloei. Terwyl hy gesukkel het om sy broek los te kry, het die
appellant die mes langs hom neergesit. Die
klaagster het die mes toevallig
raakgevat en dit onder die mat versteek. Die appellant het die klaagster daarna
aan die keel beetgekry
en gedreig om haar dood te maak as sy sou skreeu. Sy was
heeltémal kaal op daardie stadium. Die appellant het haar toe verkrag.
Die klaagster getuig dat dit pynlik was, maar dat die appellant ondanks haar
gepleit voortgegaan het. Daarna het die appellant die
klaagster weer
6
aan haar keel beetgekry en haar na die slaapkamer gesleep waar hy haar
geldsakkie en juwele uit haar hangkas geneem het. Nadat die
appellant nog
verskeie ander items gesteel het, het hy die klaagster met bloeiende wonde in
haar eie slaapkamer toegesluit en weggegaan.
Die klaagster het lank om hulp
geroep voordat haar buurvrou dit gehoor het en haar uit die slaapkamer kom bevry
het. Die buurvrou
het gevind dat die klaagster verward was. Die klaagster is
later daardie selfde aand deur die distriksgeneesheer in sy spreekkamer
ondersoek. Volgens sy getuienis was die klaagster in 'n geskokte en bebloede
toestand toe hy haar gesien het. Daar was kneusings
en skaafplekke aan haar
gesig, wurgmerke aan haar keel en bloeding onder die vel, ook om haar oë.
Daar was 'n laserasie van
haar lip by die mondhoek. Hierdie beserings blyk
eweneens uit 'n foto wat die volgende dag van die klaagster geneem is. Haar duim
was ook verstuit. Die distriksgeneesheer het verder tien laserasies gevind
waarvan
7
die meeste een sentimeter tot een en 'n half sentimeter diep was. Dit was
klaarblyklik die steekwonde wat met die mes toegedien was.
Die
distriksgeneesheer het onder andere melding gemaak van drie steekwonde in die
boud, twee in die rug, een in die regterskouer
en een in die regterknie. Dit was
veral die steekwond tussen haar skouerblaaie en die een in haar regterskouer wat
volgens die distriksgeneesheer
potensieel gevaarlik was. Die distriksgeneesheer
het ook die klaagster se geslagsdele ondersoek. Hy sê die klaagster het
nie
tydens die ondersoek gekla dat dit pynlik is nie. Hy het ook geen vaginale
skeure of laserasies gevind nie.
Die klaagster getuig dat die steekwonde septies geraak het en lank geneem het
om te genees. Dit moet egter in gedagte gehou word dat
sy die aand na die
gebeure geweier het dat die distriksgeneesheer die laserasies toewerk. Sy wou
net huis toe gaan. 'n Mens kan aflei
dat die steekwonde nie te ernstig was nie.
Die besering by haar mondhoek het 'n blywende litteken gelaat. Die klaagster het
na die
voorval
8
sielkundige behandeling ontvang. Volgens die klaagster het die gebeure haar
ook psigies geaffekteer deurdat sy sedertdien baie bang
is. As iemand na haar
kyk, raak sy verbouereerd, bang en skaam. Met inagneming van al die
omstandighede blyk dit egter dat die klaagster,
ondanks die geweld waarmee die
verkragting gepaard gegaan het, gelukkig geen ernstige fisiese of ingrypende
psigiese nagevolge daarvan
oorgehou het nie.
Vervolgens moet oorweeg word tot watter mate die omvang van die geweld rondom
die verkragting in aanmerking geneem kan word by die
bepaling van 'n gepaste
vonnis vir die verkragting. Dit is duidelik dat die messtekery in verband met
die verkragting gestaan het.
Dit was trouens die wyse waarop die appellant die
klaagster se weerstand afgebreek het toe sy haar verset het teen sy poging om
haar
te verkrag. Aan die ander kant moet dit egter in gedagte gehou word dat die
aanklag van poging tot moord, en die appellant se skuldigbevinding
daaraan, op
dieselfde messtekery berus. By
9
die bepaling van die daaropvolgende vonnis van 7 jaar
gevangenisstraf vir
die poging tot moord moes die volle
omvang van die appellant se messtekery
noodwendig 'n
deurslaggewende rol gespeel het. Hierdie Hof het reeds
by herhaling beslis dat waar 'n persoon bv. tegelyk aan
verkragting en
moord (in hierdie geval poging tot moord)
skuldig bevind word, die Verhoorhof by vonnisoplegging
steeds teen die gevaar van 'n verdubbeling van vonnis moet
waak. (
S v Mathebula and Another
1978(2) SA 607(A) te 613D-
E;
S v Witbooi
1982(1) SA 30 (A) te 35A-G;
S v Mooi
1985(1)
SA 625(A) te 630D-G;
S v S
1987(2) SA 307(A) te 312C-F; S_v
S 1991(2) SA 93(A) te 103 H-105C). Hierdie benadering is
soos volg in die saak van
S v S
1991(2) SA 93 (A) te 105A-C
deur
Nienaber AR
geformuleer:
"'n Selfstandige regsbeginsel is dit egter nie. Die eintlike beginsel is dat
dieselfde feit of feitestel wat aan meerdere misdade
gemeenskaplik is - in die
een geval bes moontlik as 'n bestanddeel van die misdaadomskrywing, en in die
ander geval as 'n verswarende
omstandigheid by vonnis - nie meermale teen 'n
beskuldigde in ag geneem moet word
10
wanneer dit by die oplegging van vonnis op elk van die klagtes kom nie. Die
'wegdink' van die een misdaad sodra 'n vonnis vir die
ander oorweeg word, is dus
hoogstens 'n riglyn."
By die bepaling van 'n gepaste
straf vir die verkragting in die onderhawige saak het die geleerde Verhoorregter
die appellant se onverskilligheid
teenoor die moontlike intrede van die
klaagster se dood as gevolg van die messteke, buite rekening gelaat. Hy het, met
verwysing
na die beslissings hierbo aangehaal, daarop gewys dat die appellant
afsonderlik vir die poging tot moord gestraf sou word. Hy het
egter beslis dat
hy desnieteenstaande "geregtig (is) om in ag te neem dat die klaagster tien
steekwonde toegedien is wat gewissel
het in diepte van een sentimeter tot een en
'n half sentimeter terwyl beskuldigde gepoog het om haar weerstand teen sy
poging om
haar te verkrag te oorkom".
Dit sou myns insiens onrealisties wees om die verskillende misdrywe in die
onderhawige saak in aparte
11
waterdigte kompartemente te probeer indeel asof daar geen onderlinge verband
tussen die pleging van hierdie misdrywe bestaan het nie.
Geweld teenoor die
klaagster was bv. 'n deurlopende verskynsel. Die feit van die appellant se
gewelddadige optrede ten tye van die
verkragting kan na my oordeel nie
geïgnoreer word wanneer 'n gepaste vonnis vir die verkragting oorweeg word
nie. Aan die ander
kant moet dit egter in gedagte gehou word dat die toediening
van die tien messteke reeds in volle omvang in ag geneem is by die oplegging
van
vonnis vir die poging tot moord. Die Staat het immers verkies om 'n afsonderlike
aanklag van poging tot moord op grond van die
messtekery teen die appellant in
te stel. Die appellant is ook 'n stywe vonnis vir daardie misdaad opgelê.
Wanneer 'n gepaste
vonnis vir die verkragting dus oorweeg word, moet daar gewaak
word teen die gevaar dat die appellant meer as eenmaal vir dieselfde
optrede
gestraf word.
In 'n poging om te verseker dat die appellant nie
12
twee maal vir dieselfde steekwonde gestraf word nie, het die geleerde
Verhoorregter beslis dat 5 jaar van die 7 jaar gevangenisstraf
wat vir die
poging tot moord opgelê is, eventueel samelopend uitgedien moet word met
enige gevangenisstraf wat hierdie Hof
of die Uitvoerende Gesag in plaas van die
doodvonnis vir die verkragting mag oplê. Daardie bevel dat 'n deel van die
gevangenisstraf
vir die poging tot moord samelopend uitgedien moet word, was
egter voorwaardelik. Dit het na my oordeel nie verhoed dat die appellant
in die
Verhoorhof inderdaad twee keer vir dieselfde messtekery gestraf is nie. Die
effektiewe gevangenisstraf op die aanklag van
poging tot moord sal weliswaar met
5 jaar verminder word ingeval die doodvonnis wat vir die verkragting
opgelê is, met 'n termyn
van gevangenisstraf vervang word. Daar is egter
geen appèl teen die vonnis van 7 jaar gevangenisstraf wat die Verhoorhof
vir
die poging tot moord opgelê het nie, en daardie vonnis, wat op die
messtekery berus, bly dus staan. Na my oordeel moet hierdie
Hof by die
13
beoordeling van 'n gepaste vonnis vir die verkragting dus steeds waak teen
die gevaar dat die appellant meer as een keer vir dieselfde
messtekery gestraf
word. Dit bring mee dat daar by die bepaling van 'n gepaste straf vir die
verkragting in die onderhawige geval
nie soveel gewig geheg kan word aan geweld
as 'n strafverswarende faktor as wat die Verhoorhof gedoen het nie.
Daar is
verskeie ander strafverswarende faktore wat die Hof
a quo
by die
verkragting in ag geneem het. Die omstandighede waaronder die klaagster, 'n
bejaarde dame van 67 jaar, gedurende die aand
op 'n brutale wyse in haar eie
huis aangeval, verneder en verkrag is, is beslis verswarend. (
S v S
1988(1) SA 120(A) te 124D;
S v G
1989(3) SA 695(A) te 705G). Daar is ook
getuienis voorgelê dat dergelike misdrywe teen bejaardes in hulle eie
wonings aan die
toeneem is. Dit is egter nie bewys dat die appellant die huis
binnegegaan het met die oogmerk om te verkrag nie. Die getuienis dui
eerder
daarop dat die appellant op die ingewing van die
14
oomblik besluit het om die klaagster te verkrag. Dit bring
mee dat die omstandighede ietwat minder verswarend is.
Die appellant se vorige veroordelings is 'n verdere
verswarende faktor. Hy is gedurende Mei 1985 skuldig bevind
aan
verkragting waarby liggaamlike geweld 'n rol gespeel het.
Hy was toe ongeveer
19 jaar oud, en is gevonnis tot 18 maande
gevangenisstraf en 5 houe met 'n
rottang. Dit blyk dat hy na
9 maande op parool vrygelaat is. Die vonnis wat opgelê is,
dui egter
daarop dat dit nie as 'n besonder ernstige geval van
verkragting beskou was nie. Dit is ook die enigste vorige
veroordeling van die appellant waar geweld 'n element van die
misdaad
uitgemaak het. Die appellant het wel ander vorige
veroordelings; daar is twee vir huisbraak met die opset om
te steel en diefstal en 'n verdere twee vorige veroordelings
vir diefstal. Vir sy jongste vorige veroordeling was die
appellant tot 6 maande gevangenisstraf gevonnis. Vier dae
nadat hy op parool vrygelaat is, pleeg hy die onderhawige
reeks misdade. Dit toon sekerlik nie dat die appellant
15
besonder vatbaar vir rehabilitasie is nie. Aan die ander kant is dit wel so
dat die appellant nog nooit langtermyn gevangenisstraf
opgelê is nie. Die
moontlikheid van rehabilitasie onder langtermyn omstandighede kan dus nie sonder
meer uitgesluit word nie.
Die feit dat daar geen besondere strafversagtende
faktore aangestip kan word nie, terwyl daar wel verskeie strafverswarende
faktore
teen die appellant in aanmerking geneem moet word, beteken nie dat die
doodvonnis noodwendig die enigste gepaste vonnis in die omstandighede
is nie. (
S
v Nkwanyana and Others
1990(4) SA 735(A) te 745B-D;
S v
Mthembu
1991(2) SASV 144(A) te 147b). Die erns van die misdaad en
die gemeenskapsbelang moet klaarblyklik in ag geneem word, maar na my oordeel
is
hierdie nie so 'n uitsonderlik ernstige geval dat vergelding vereis dat die
doodvonnis opgelê word nie. 'n Lang termyn van
gevangenisstraf behoort na
my mening wel te voldoen aan die ander oogmerke van vonnis soos afskrikking,
voorkoming en
16
moontlike rehabilitasie. (Vergelyk
S v P
1991(1) SA 517(A) te 523D-H;
S v S
1991(2) SA 93(A) te 108B-E).
Met inagneming van al die
omstandighede is ek nie daarvan oortuig dat die doodvonnis die enigste gepaste
vonnis vir die verkragting
in die onderhawige saak is nie. Na my oordeel moet
die doodvonnis op aanklag 2 tersyde gestel word en met 'n vonnis van 20 jaar
gevangenisstraf
vervang word. Indien die kumulatiewe effek van die verskillende
vonnisse op die drie aanklagte in aanmerking geneem word, behoort
13 jaar van
die 16 jaar gevangenisstraf op aanklag 1 na my mening samelopend uitgedien te
word met die vonnis van 20 jaar gevangenisstraf
op aanklag 2. Die Verhoorhof het
reeds gelas dat 5 jaar van die 7 jaar gevangenisstraf op aanklag 3 samelopend
met die gevangenisstraf
op aanklag 2 uitgedien moet word. Die gevolg is dat die
effektiewe termyn van gevangenisstraf 25 jaar beloop.
Die volgende bevel word gemaak: 1. Die doodvonnis op aanklag 2 word tersyde
gestel en
17
vervang met 'n vonnis van 20 jaar
gevangenisstraf.
2. 13 jaar van die 16
jaar gevangenisstraf wat op
aanklag 1 opgelê is, en 5 jaar van die 7
jaar
gevangenisstraf wat op aanklag 3 opgelê is, sal
samelopend
uitgedien word met die vonnis van 20
jaar gevangenisstraf wat op aanklag 2 opgelê
is.
F H GROSSROPF AR.
SMALBERGER AR
HARMS Wn AR Stem saam