S v Bezuidenhout (76/90) [1990] ZASCA 121 (28 September 1990)

Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Murder — Appeal against death sentence — Appellant convicted of two counts of murder and one count of assault with intent to cause grievous bodily harm — Appellant attacked victims with a knife, resulting in their deaths — Court found no mitigating circumstances present — Appellant's prior criminal record and mental state assessed — Appeal dismissed, death sentences upheld.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1990
>>
[1990] ZASCA 121
|

|

S v Bezuidenhout (76/90) [1990] ZASCA 121 (28 September 1990)

Saaknommer 76/90
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPeLAFDELING)
In die saak tussen:
PAUL BEZUIDENHOUT
Appellant
en
DIE STAAT
Respondent
CORAM:
HOEXTER, AR ; NICHOLAS et GOLDSTONE, Wnd ARR
VERHOOR:
17 September 1990
GELEWER:
28 September 1990
UITSPRAAK
HOEXTER, AR
2
HOEXTER, AR
Dit is'n strafappèl teen vonnis alleen. In die
Noord-Kaapse Provinsiale Afdeling van die Hooggeregshof is die appellant deur
'n
hof bestaande uit regter ERASMUS en twee assessore aan o a twee aanklagte van
moord skuldig bevind. Daar die verhoorhof bevind
het. dat geen versagtende
omstandighede aanwesig was nie, is die appellant op beide skuldigbevindinge ter
dood veroordeel. Met verlof
van die verhoorregter is die onderhawige
appèl teen die bevinding m b t die afwesigheid van versagtende
omstandighede en die
daarop volgende twee doodvonisse
gerig.
Dit blyk dat
op 1 September 1988 en te Bakensfontein, Strydenburg, in die distrik Hopetown,
die appellant agtereenvolgens Martha Doorse,
'n 54-jarige vrou, en Estelle
Dwango, 'n dogtertjie van twee jaar en tien
3
maande met 'n vlymskerp Okapi-mes ("die mes") dood gesteek het. Na sy twee
slagoffers sal voortaan onderskeidelik as "die vrou" en
"die kind" verwys word.
By dieselfde geleentheid het die appellant 'n 5-jarige dogter ("Rebecca") met
die mes aangeval. Rebecca is
'n lewensgevaarlike snywond regs van haar borsbeen
toegedien. Ten opsigte van sy aanval op Rebecca is die appellant aan aanranding
met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind en 'n vonnis van ses maande
gevangenisstraf opgelê.
By die verhoor kon die presiese ouderdom van
die appellant nie vasgestel word nie. Aan die hand van die aangevoerde getuienis
het
die verhoorhof tereg bevind dat ten tyde van die pleging van die drie
misdade die appellant ten minste 20 jaar maar heel waarskynlik
reeds 22 jaar oud
was.
Ten spyte van sy betreklike jeugdigheid het die appellant ses vorige
veroordelings op sy kerfstok. Sy
4
loopbaan as misdadiger strek oor 'n tydperk van vyf jaar. In Junie 1983 is hy
aan aanranding met die opset om ernstig te beseer, skuldig
bevind. Daar het hy
'n mes gebruik, en 'n
vonnis van vier houe met 'n ligte rottang is hom
opgelê. In November 1983 is die appellant 'n vonnis van ses maande
gevangenisstraf
weens veediefstal opgelê, welke vonnis in die geheel
voorwaardelik opgeskort is. In Mei 1984 is die appellant weens diefstal
van 'n
fiets 'n vonnis van sewe houe met 'n ligte rottang opgelê. In September
1984 is die appellant andermaal aan veediefstal
skuldig bevind. Hiervoor is hy
tot nege maande gevangenisstraf gevonnis en terselfdertyd is die voormelde
opgeskorte vonnis van ses
maande gevangenisstraf in werking gestel. In April
1986 is die appellaht weer eens aan aanranding met die opset om ernstig te
beseer
(waarby 'n klip gebruik is) skuldig bevind. Vonnis van vier maande
gevangenisstraf, in die geheel opgeskort, is hom opgelê.
In Junie 1988 is
die
5
appellant weens diefstal van klerasie 'n boetestraf van R90, by wanbetaling
waarvan sestig dae gevangenisstraf, opgelê.
Geregtelike lykskouings op
die vrou en die kind uitgevoer, het die volgende aan die lig gebring. Die vrou
het twee steekwonde in die
nek opgedoen waarvan een die linker
sleutelbeenslagaar gepenetreer het. As gevolg hiervan het die vrou doodgebloei.
In die geval
van die kind was die oorsaak van dood steekwonde wat onderskeidelik
die hart, die lewer en die regter long binnegedring het. Die
aard en omvang van
die kind se beserings het aangedui dat sy die slagoffer van 'n verwoede en
meedoelose aanranding was. Daar was
ongeveer dertig steekwonde voor aan die
borskas waarvan vier die borsholte gepenetreer het. Op haar rug was dertien
oppervlakkige
steekwonde.
Aan die hand van sekere getuienis wat in limine by die verhoor deur die
appellant se advokaat aangevoer is,
6
het die verhoorregter die verrigtinge onderbreek en gelas
dat ingevolge
art 79 van die Strafproseswet, 51 van 1977, 'n
ondersoek na die
geestesgesteldheid van die appellant
ingestel moet word. Vanaf 24 April tot 2 Junie 1989 en by
die Oranje
Hospitaal te Bloemfontein is die nodige
psigiatriese ondersoek na die
geestestoestand van die
appellant uitgevoer. Na afloop daarvan, en by
hervatting
van die verhoor, is 'n gesamentlike verslag van
twee
geregistreerde psigiaters voorgelê. Hul bevindings oor
die
appellant se geestesvermoens lui soos volg:-
"4.1 Hy beskik oor die vermoë om hofverrigtinge dermate te begryp dat hy
sy verdediging na behore kan voer. 4.2 Volgens beskikbare
gegewens was sy
vermoë ten tyde van die beweerde misdrywe om die ongeoorloofdheid van sy
handelinge te besef of om ooreenkomstig
'n besef van die ongeoorloofdheid van sy
handelinge op te tree nie deur geestesongesteldheid of -gebrek beïnvloed
nie."
Verder vermeldingswaardig is dat luidens die verslag daar
7
gedurende sy waarnemingstydperk geen afwykende gedrag by
die appellant
opgemerk is nie; dat sy denkproses, spraak
en emosionele reaksies (ook wat
betref sy doen en late ten
tyde van die beweerde misdrywe) binne normale
perke is; en
dat die appellant oor 'n gemiddelde intelligensie beskik.
Uit die aangevoerde getuienis blyk verder dat op
2
September 1988 die appellant 'n bekentenis voor die
landdros van Britstown
afgelê het. Die tersaaklike
gedeelte van die bekentenis lees soos
volg:-
"Dit was die oggend voor 12 uur. Ek het vir Martha Doorse 'n vuurhoutjie gevra.
Sy het niks gesê nie, sy het 'n klip gevat
en my op my regterskouer raak
gegooi. Ek haal toe my knipmes uit my linkerkantse broeksak. Ek het die mes
oopgemaak, toe steek ek
haar voor die bors. Ek het haar net een keer gesteek,
toe loop val sy. Toe steek ek haar nog 'n hou voor die bors, toe lê sy
daar. Toe gaan ek na die kleintjie, na Rebecca Doorse toe. Sy het om die huis
gehardloop. Toe sy by die deur uit hardloop toe steek
ek haar ook een hou voor
die bors. Toe ek haar klaar gesteek het, het sy langs die bos gaan sit. Toe kom
sy na my toe, toe wil sy
saam met my loop. Sy het 'n mes wat in 'n glas water
gestaan het, gevat, toe gaan steek sy vir die
8
kleintjie, Estelle Dwango wat by 'n bos gelê en slaap het. Sy het vir
Estelle 'n hele paar keer gesteek. Toe kom 'n man op
my
afgehardloop
Toe hardloop ek weg Ek was
nugter
gewees tydens die voorval. Martha Doorse was ook nugter. Ek kan nie verstaan
hoekom sy my met die klip gegooi het nie. Ek het haar
net gesteek omdat sy my
met 'n klip gegooi het. Ek het ook vir Rebecca Doorse gesteek omdat sy
gehardloop het om my met 'n klip te
gooi. Toe kon sy nie verder die klip optel
nie. Dit is al."
Die dogter Rebecca is besonder
klein vir haar
ouderdom. Ten tyde van die verhoor is sy aan die
hof
vertoon. Sy was toe reeds ses jaar oud, maar in sy
uitspraak noem die
verhoorhof dat Rebecca eerder die
voorkoms van 'n vier-jarige kind gehad het.
Rebecca was
glad nie daartoe in staat om by die verhoor getuienis af
te
lê nie. Nadat hy 'n vergeefse poging aangewend het om met
Rebecca
'n onderhoud te voer, het die aanklaer besluit om
haar nie as staatsgetuie op
te roep nie.
Bygevolg was die enigste ooggetuie wat oor die aanval op die drie slagoffers by
die verhoor getuig het die
9
appellant self. In hooftrekke het sy getuienis op die
volgende neergekom.
Op die betrokke dag het hy 'n
halfbottel suurwyn verorber. Daarna is hy dorp
toe. Te
Strydenburg het hy 'n bottel brandewyn gekoop en toe in
die
rigting van die toneel van die misdaad gestap. Onderweg
het hy die
bottel brandewyn uitgedrink en 'n zol dagga gerol
en opgesteek. Toe die zol
doodgaan, het hy die vrou, die
kind en Rebecca by twee huisies in die veld
aangetref.
Die appellant se relaas van wat daar plaasgevind het, word
in
die uitspraak van die hof a quo bondig maar korrek in
die volgende woorde
opgesom:-
"Hy ken die 'antie' sê hy. Hy sê hy het haar gegroet, maar sy het
nie terug gegroet nie. Hy het haar om 'n vuurhoutj
ie gevra toe raak sy
opstandig en gooi hom met klippe, sonder om 'n woord te sê. Later sê
hy weer, sy het gesê
sy gee nie vuurhoutjies vir rondlopers nie. Sy het
hom toe met 'n baksteen teen die skouer gegooi. Dit was seer. Dit het gemaak dat
hy teen haar optree. Hy sien toe 'n mes op die tafel lê. Hy het verby haar
gestap, die mes gevat en haar gesteek. Die kleintjies
het probeer klippe optel.
Die kleintjie het 'n klip opgetel en wou
10
hom daarmee gooi, toe steek hy haar een hou met
die mes. Die heel kleintjie
het hy ook een hou
met. die mes gesteek. Almal wou hom met klippe
aanrand.
Hy het eerste vir Martha voor die bors
gesteek, toe steek hy die kind wat
oorleef het en
laastens die heel kleintjie. Hy het almal net
een maal voor
in die bors gesteek. Rebecca het
toe vir die heel kleintjie wat onder die bos
gelê
het, gesteek waar sy op haar maag gelê het "
In sy getuienis het die appellant beweer dat hy
ten
tyde van sy aanval op die drie slagoffers dermate onder
die invloed van sterk
drank en dagga verkeer het dat sy
verstand heeltemal beneweld was. In sy
bekentenis aan die
landdros, aldus die appellant, het hy weens
senuweeagtigheid verkeerdelik daarvan melding gemaak dat hy
sy mes uit sy
broeksak gehaal het. Voorts het die
appellant getuig dat hy ook ten onregte
in sy bekentenis .
genoem het dat hy ten tyde van die gebeure nugter was.
Hy
het beweer dat die polisie hom aangesê het om so voor die
landdros te praat. Uit hoofde van die appellant se
laasgenoede bewering het die verhoorhof 'n byverhoor
11
onderneem. Die byverhoor het op 'n bevinding uitgeloop dat die bekentenis
toelaatbaar is.
Betreffende die toestand van die appellant sowel onmiddellik
na sy aanval op die drie slagoffers as gedurende die res van die betrokke
dag,
was daar by monde van vérskillende staatsgetuies oorgenoeg getuienis wat
onmiskenbaar op die gevolgtrekking dui dat die
appellant ten tyde van die
gebeure normaal voorgekom het; en dat hy goed geweet het wat hy doen. Hierdie
getuienis word in die loop
van 'n omvattende uitspraak van die hof a quo
aangestip en deeglik ontleed. Die verhoorhof het dusdanige getuienis as
betroubaar
en geloofwaardig aanvaar.
Die appellant, daarenteen, het in die
getuiebank 'n uiters swak figuur geslaan. By nalees van die oorkonde in hierdie
saak staan dit
soos 'n paal bo water dat die appellant 'n deurtrapte leuenaar
is. Ek wil met eerbied saamstem met die volgende evaluering van die
appellant
as
12
getuie wat in die verhoof se uitspraak voorkom:-
"....... die getuienis van die beskuldigde
wemel van leuens en onwaarskynlikhede en teenstrydighede. Nadat hy onder
kruisverhoor deurgeloop het, het feitlik nie 'n enkele van
sy relase staande
gebly nie. Soms het hy bloot leuens vertel, ander tye het hy onwaarskynlikhede
verkondig, en verder het hy op die
feitlike aspekte hom telkens
weerspreek."
Die verhoorhof het die appellant se
verweer dat hy onder
die invloed van sterk drank en/of dagga gehandel het,
tereg
verwerp. Daar kan ook geen fout gevind word nie met die
verhoorhof
se verdere bevindinge (1) dat al die wonde wat
die vrou en die kind opgedoen
het inderdaad deur die
appellant toegedien is; (2) dat die appellant
se
geestestoestand ten tyde van die gebeure sodanig was dat hy
daartoe in
staat was om 'n opset te vorm; (3) dat die
appellant die volle gevolge van sy
handelinge besef het;
en (4) dat hy 'n direkte opset gekoester het om sowel
die
vrou as die kind om die lewe te bring. By beredenering
van die
appellant se appèl is die korrektheid van bostaande
13
bevindinge geensins in twyfel getrek nie.
Sedert die appellant se verhoor
in die hof benede en die daarop volgende verlof tot appél wat aan hom
verleen is, is die regsposisie
m b t die oplegging van die doodvonnis deur die
Strafwysigingswet, 107 van 1990, ingrypend verander. Wet 107 van 1990 het die
verpligte
doodstraf afgeskaf. Die uitwerking van Wet 107 van 1990 word uitvoerig
bespreek in drie onlangse beslissings van hierdie hof : Obed
Masina and Two
Others v The State, op 13 September 1990 gelewer; Abel Senonohi v Die Staat, op
17 September 1990 gelewer en John
Memfu Nkwanyana and Two Others v The State, op
18 September 1990 gelewer.
Kragtens art 277 van die Strafproseswet, 51 van
1977, soos deur Wet 107 van 1990 gewysig, is die grondslag waarop 'n verhoorhof
tans
oor die moontlike oplegging van die doodstraf besin en besluit ten opsigte
van alle halsmisdade dieselfde. Word 'n beskuldigde nou
aan moord
14
skuldig bevind, bepaal art 277, soos gewysig, dat die hof 'n
bevinding oor
die aan- of afwesigheid van strafverfsagtende
of -verswarende faktore moet
uitbring; en slegs indien die
voorsittende regter, met inagneming van daardie
bevinding,
oortuig is dat die doodvonnis die gepaste vonnis is, word
die
doodvonnis opgelê. Voorts bepaal art 20 van Wet 107
van 1990 dat 'n
appèl soos die onderhawige voortgesit en
afgehandel moet word asof art
277 van die Strafproseswet te
alle tersaaklike tye aldus gewysig was. Die
posisie wat
tans geld is in die uitspraak in die Senonohi-saak (supra)
soos volg deur E M GROSSKOPF, AR (op bl 15) toegelig:-
"By 'n appèl teen 'n doodvonnis oefen die Appèlhof dus nou 'n
onafhanklike diskresie uit. Hy moet self oordeel of,
met inagneming van die
strafversagtende en -verswarende faktore wat uit die oorkonde blyk, die
doodvonnis 'die gepaste vonnis' ingevolge
die nuwe artikel 277(2)(b) is. Deur
die invoeging van art 322(2A) het die Wetgewer dus afgewyk van die beginsel wat
tot dusver in
appèlle teen vonnis gegeld het, naamlik dat die hof van
appèl slegs kan ingryp as die verhoorhof nie sy diskresie behoorlik
uitgeoefen het nie. Tans kan hierdie hof 'n doodvonnis
ter
15
syde stel waar die verhoorhof se diskresie-uitoefening onbesproke is, en bloot
op grond daarvan dat hierdie hof 'n ander mening huldig
oor die gepastheid van
die doodvonnis."
Hieruit volg dat in die onderhawige
appèl dit vir hierdie hof onnodig is om oor die korrektheid al dan nie
van die verhoorhof
se bevinding i v m die afwesigheid van versagtende
omstandighede te beslis. Oor die vraag of die doodvonnis 'n gepaste straf vir
die appellant sou wees, moet hierdie hof sy eie diskresie laat geld.
Art 20(3) van Wet 107 van 1990 verleen egter aan hierdie hof die verdere
bevoegdheid om die vonnis tersyde te stel en die saak na
die verhoorhof terug
te, verwys met die opdrag om met 'n aangeleentheid, met inbegrip van die aanhoor
van getuienis, te handel op
die wyse wat hierdie hof goed ag. In die onderhawige
appèl was die advokaat namens die appellant en die advokaat namens die
Staat dit eens dat vir doeleindes van vonnisoplegging ingevolge Wet 107 van 1990
geen verdere getuienis rakende die
16
aanwesigheid van strafversagtende of -verswarende faktore beskikbaar was nie;
en dat terugverwysing na die verhoorhof met die oog
op die aanvoer van
aanvullende getuienis geen doel sou dien nie. Die gepastheid van die doodvonnis
moet bygevolg aan die hand van
die getuienis in die oorkonde vervat, beoordeel
word.
Dit is oorbekend dat strafoplegging 'n funksie is wat hom nie tot
maklike formulering leen nie. In die reeds vermelde drietal beslissings
wat
onlangs deur hierdie hof gelewer is, word egter etlike rigsnoere uitgestippel.
So byvoorbeeld het FRIEDMAN, WnAR in die Masina-saak
(supra) te bl 9 - 10 daarop
gewys dat "
strafversagtende
faktore" soos
bedoel by art 277(2) (a) van die Strafproseswet, soos gewysig, 'n ruimer begrip
as "versagtende omstandighede" daarstel.
Met verwysing na die nuwe
statutêre voorskrif dat 'n hof daarvan oortuig moet wees dat die doodstraf
"die gepaste straf" is,
het hierdie
17
hof in die Senonohi-saak (supra) op bl 19 as algemene
riglyn aangestip:-
"...dat die afskaffing van die verpligte doodstraf vir moord 'n aanduiding is
dat die wetgewer beoog het dat die doodstraf voortaan
net in gevalle van
uitsonderlike erns opgelê sou word." En m b t die begripsinhoud van "die
gepaste straf" het
NESTADT, AR hom in die Nkwanyana-saak (supra) op
bl 30 - 32 soos volg uitgelaat:-
"In deciding whether the death sentence is 'the proper sentence' (an expression
which the Legislature has understandably not defined),
mitigating and
aggravating factors are not the determining consideration. The section merely
provides that 'due regard' be had to
them Inherent in the expression therefore is
a recognition that other matters may be relevant if not decisive. The absence of
mitigating factors (or, as before, extenuating circumstances)
will not mean that
the death sentence must or should be passed. Conversely the presence of
mitigating factors will not mean that
the death sentence must or should not be
passed. And when both mitigating and aggravating factors are present, their
respective force
or significance will have to be weighed in order to determine
whether the death sentence is a proper one. In doing this I agree with
the
18
view of E M GROSSKOPF, JA in Senonohi vs S, supra (at pp 18 - 19) that regard
will be had to the main purposes of punishment, namely,
deterrent, preventive,
reformative and retributive. This means that in deciding whether the death
sentence is the proper one, consideration
will be given to whether these objects
cannot properly be achieved by a sentence other than the death sentence
(generally a lengthy
period of imprisonment). If they can then the death
sentence will not be passed. This is because 'the proper sentence' (unlike 'a
proper sentence') must be interpreted to mean 'the only proper sentence'. It
follows that the imposition of the death sentence will
be confined to
exceptionally serious cases where (in the words of NICHOLAS, AJA in S v J
1989(1) SA 669(A) at 682 D, albeit in a
difference context) 'it is imperatively
called for.'"
Teen die agtergrond van bostaande
beginsels keer ek na die
feite van die onderhawige geval terug.
Na
skuldigbevinding het die appellant by sy verhoor ter
strafversagting
getuig. Daaruit blyk dat die appellant
van kleins af swaargekry het en vele
ontberings verduur
het. Hy het die voordeel van slegs voor-primêre
skoolopleiding gehad en hy is totaal ongeletterd. Sy eie
vader het hy
nooit geken nie; en volgens die appellant het
19
hy as jong seun toegekyk toe sy stiefpa sy moeder met 'n mes
dóodgesteek het. Die appellant is hoofsaaklik deur sy ouer broer
grootgemaak. Behalwe vir loswerkies wat hulle op plase verrig het, het die twee
broers 'n armoedige swerwersbestaan gevoer en dikwels
hongersnood ervaar.
Die
appellant se appèl is deur mev Fouche, wat pro deo opgetree het,
beredeneer. Verder dien gemeld te worá dat mnr
Erasmus, wat die
respondent se saak behartig het, die moeite gedoen het om by wyse van
aanvullende betoogpunte die nuwe regsposisie
deur Wet 107 van 1990 geskep, toe
te lig. Teenoor albei advokate wil hierdie hof sy dank betuig.
Op grond van
die appellant se betreklike jeugdigheid asook sy lae beskawingspeil en
maatskaplike agterstand, het mev Fouche aangevoer
dat langdurige gevangesetting
eerder as die doodstraf die gepaste vonnis sou wees. Dat die appellant se
jeugdigheid en swak
20
maatskaplike agtergrond as sterk versagtende faktore aangemerk moet word,
behoef m i geen argument nie. Voorts het die appellant se
advokaat in bedenking
gegee dat die hervormende uitwerking van gevangenisstraf nie uit die oog verloor
moet word nie.
Na my oordeel, egter, dui sowel sy vorige veroordelings as die
gruwelike aard en omvang van . sy misdrywe in die onderhawige geval
eerder op
die gevolgtrekking dat die appellant se kanse op hervorming as gevolg van
lang-termyn gevangenisstraf uiters skraal is.
Die appellant is reeds by twee
geleenthede aan aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind, en
weens dusdanige aanrandings
tot lyfstraf gevonhis. Ofskoon sy orige
veroordelings nie weens geweldsmisdade is nie, dien nietemin opgemerk te word
dat die appellant
ook nie deur daadwerklike gevangenisstraf afgeskrik is om weer
tot misdadigheid oor te gaan nie. 'n Meer insiggewende
21
aanduiding van die appellant se inbors vind mens egter in die aakligheid van
die lafhartige gruweldade wat hy in die onderhawige geval
gepleeg het. Sy
algehele verdorwenheid word veral bewys deur sy sinnelose en verwoede aanval op
'n weerlose kleuter onder die ouderdom
van drie jaar. Meer nog : in plaas
daarvan om oor hierdie afgryslike wandaad enige berou te betoon, het die
appellant by sy verhoor
deurentyd volhard met 'n belaglike en deursigtige poging
om die skuld vir 42 van die kind se 43 steekwonde op die tingerige en onskuldige
Rebecca te plaas. In die lig van hierdie oorwegings kom dit my voor dat indien
hy nie vir die onderhawige twee moorde met sy lewe
boet nie, daar 'n beduidende
gevaar bestaan dat die appellant andermaal (het sy binne hetsy buite die
gevangenis) tot doodslag van
'n medemens sal oorgaan.
Bostaande oorwegings
staan dan ook in noue verband met die gemeenskapsbelang as 'n faktor by
22
straftoemeting. 'n Hof trag om die gemeenskapsbelang te beskerm deur 'n
herhaling van die veroordeelde se misdadige vergrype te voorkom.
Dit spreek
vanself dat waar (soos in die onderhawige geval) dit oor 'n misdaad gaan wat vir
die gemeenskap inherent verderflik is,
die belange van die maatskappy meer gewig
sal dra as by die geval waar die gemeenskapsbelange minder direk en nadelig
getref word.
Na my beskouing word in die onderhawige geval die
strafversagtende faktore deur laasgenoemde strafverswarende faktore verreweg
oortref.
Met inagneming daarvan, en na angsvallige oorweging van al die
omliggende omstandighede van die geval, meen ek dat die twee moorde
wat die
appellant gepleeg het beslis albei as gevalle van uitsonderlike erns aangemerk
moet word. Na my oordeel is die doodstraf
t o v elkeen van die twee
skuldigbevindinge aan moord die gepaste straf.
23
Die appèl word afgewys.
G G HOEXTER, AR