About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1990
>>
[1990] ZASCA 97
|
|
S v De Vree (407/89) [1990] ZASCA 97 (20 September 1990)
Saaknommer 407/89
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPeLAFDELING
In die saak tussen:
RUSSELL DE VREE
Appellant
en
DIE STAAT
Respondent
CORMAM:
HOEXTER, SMALBERGER et EKSTEEN, ARR
VERHOOR:
6
September 1990
GELEWER:
20 September 1990
UITSPRAAK
HOEXTER, AR
2
HOEXTER, JA
Dit is 'n strafappèl. In die streekhof vir die
Kaapse Afdeling het vyf manspersone ("die beskuldigdes") gesamentlik op 'n
aanklag
van die diefstal van 'n motorvoertuig tereggestaan. Die beskuldigdes het
onskuldig gepleit. Die appellant, wat beskuldigde nr 4 by
die verhoor was, is
deur sy eie prokureur verteenwoordig, terwyl 'n tweede prokureur die saak van
beskuldigdes nrs 1, 2, 3 en 5 behartig
het. Na afloop van die staatsaak, het
agtereenvolgens, maar met uitsondering van beskuldigde nr 3 elkeen van die
beskuldigdes self
getuig. Beskuldigdes nrs 3 en 5 is ontslaan. Die streekhof het
beskuldigdes nrs 1 en 2 asook die appellant skuldig bevind. Die appellant,
'n
26-jarige eerste oortreder, is 'n vonnis van vyf jaar gevangenisstraf
opgelê. Hiervan is twee jaar
3
voorwaardelik opgeskort. Teen sowel sy skuldigbevinding as sy vonnis het die
appellant sonder welslae na die Kaap die Goeie Hoop Provinsiale
Afdeling
appèl aangeteken. Die hof a quo het die appellant se aansoek om verder na
die appèlafdeling te appelleer,
afgewys. Met verlof van hierdie hof kom
die appellant in hoër beroep.
Die feite van die saak is betreklik
eenvoudig. Beskuldigde nr 1 is 'n werktuigkundige wat in Guguletu woon en wat
aldaar op sy eie
perseel ("die werf") motors herstel het. Beskuldigdes nrs 1 en
5 is broers. By tye het beskuldigde nr 5 beskuldigde nr 1 as handlanger
bygestaan. Die appellant is die eienaar van 'n geel Ford Cortina stasiewa ("die
geel Ford"). Oorspronklik, en tot en met 8 April
1988, was die geel Ford met 'n
outomatiese ratkas toegerus. Die geel Ford se outomatiese ratkas het onklaar
geraak. Etlike maande
voor 8 April 1988 het die appellant die geel Ford na die
werf geneem en die nodige herstelwerk
4
aan sy outomatiese ratkas aan beskuldigde nr 1 toevertrou. Soos later sal
blyk is die aard en omvang van die appellant se opdrag aan
beskuldigde nr 1 'n
belangrike twispunt in die saak.
Die klaer in die saak is die eienaar van 'n
wit Ford Cortina stasiewa ("die wit Ford"). In teenstelling met die geel Ford
het die
wit Ford 'n hand-ratkas gehad. Gedurende die voormiddag van Vrydag 8
April 1988 het die klaer die wit Ford by die parkeerterrein
van die Kaapstadse
stasie vir 'n uur of wat onbewaak gelaat. Gedurende daardie tydperk het iemand
die wit Ford gesteel.
In die vroeë aandure van 8 April 1988 het die wit
Ford by die werf aangekom. Watter persoon of persone die wit Ford daar
aangebring
het, is ook in geskil. Dit is egter gemene saak dat beskuldigde nr 1
daarna die volgende handelinge verrig het: (a) hy het die outomatiese
ratkas van
die geel Ford deur die hand-ratkas van die wit Ford
5
vervang; en (b) hy het die wit Ford se verkoeler, enjinblad en agterlig na
die geel Ford oorgeplaas en daarop monteer.
Van wesenlike belang by
beoordeling van die saak teen die appellant is die strekking van die
pleitverduidelikings wat by aanvang van
die verhoor namens die verskillende
beskuldigdes aangedui is en wat daarna deur elkeen van die beskuldigdes
onderskeidelik beaam
is. Dit geld -veral die pleitverduideliking van beskuldigde
nr 5. Al vyf beskuldigdes het enige betrokkenheid by die diefstal van
die wit
Ford ontken. Volgens beskuldigde nr 1 het die appellant die wit Ford op 8 April
na die werf gebring. Volgens beskuldigdes
nrs 2 en 5 het beskuldigde nr 1 hulle
gevra om te help om die wit Ford die werf binne te stoot. Beskuldigde nr 3 het
ontken dat hy
gehelp het om die wit Ford die werf binne te stoot. Die
pleitverduideliking van die appellant was dat hy gedurende
6
Februarie 1988 die geel Ford vir herstelwerk na die werf van beskuldigde nr 1
geneem het. Later het die polisie op die geel Ford beslag
gelê, en daarna
is hy van diefstal van die wit Ford aangekla.
Die eerste staatsgetuie was die
klaer. Hy het o a getuig dat toe hy op die betrokke dag die wit Ford by die
stasie geparkeer het hy
beskuldigde nr 2 in die onmiddellike omgewing van die
wit Ford waargeneem het. 'n
Paar weke na die diefstal het die klaer op
versoek van die polisie na 'n sekere perseel in die Skiereiland gegaan waar hy
die wit
Ford uitgeken het. Hy het toe bemerk dat die Ford geen nommerplaat meer
gehad het nie; en dat verskeie onderdele en toebehore daaruit
verwyder was.
Langs die wit Ford het die geel Ford gestaan. By nadere ondersoek het hy
vasgestel dat die wit Ford se verkoeler, enjinblad
en agterlig op die geel Ford
gemonteer is.
Die enigste ander staatsgetuie was die
7
ondersoekbeampte in die saak, speurder-konstabel Abrahams van die SAP se
Kaapse Voertuigdiefstaltak. Op 29 April 1988 het hy by die
werf besoek
afgelê. 'n Stuk of agt voertuie het voor op die werf rondgestaan. Abrahams
het hom aan beskuldigde nr 1 voorgestel
en na die enjinnommers en bakwerknommers
van gemelde voertuie ondersoek ingestel. Aan beskuldigde nr 1 het Abrahams
gesê dat
hy hom later weer sou sien. Ongeveer een uur later het Abrahams
na die werf teruggekeer. Met sy terugkoms was beskuldige nr 1 soek
en slegs
beskuldigde nr 5 was teenwoordig. Agter op die werf het Abrahams die wit Ford
aangetref. Hy het die wit Ford se registrasienommer
en enjinnommer nagegaan en
daarna d m v die radiobeheereenheid vasgestel dat die wit Ford 'n gesteelde
voertuig is. Abrahams moes
vir drie dae na beskuldigde nr 1 soek voordat hy hom
weer by die werf aangetref het. Volgens Abrahams het hy beskuldigde nr 1 gevra
waarom hy gesteelde voertuie agter op die werf
8
aanhou. Hierop sou beskuldigde nr 1 gesê het dat hy
Abrahams sal wys
wie die wit Ford daar aangebring het.
Twee huise verder van beskuldigde nr 1
se huis af het hulle
toe beskuldigde nr 2 gaan haal. Beskuldigde nr 2,
aldus
Abrahams, het op sy beurt gesê dat hulle na nuwe Kruispad
moet
gaan -
"....en vir beskuldigde 3 moet gaan haal, want hulle twee was
bymekaar."
Abrahams het soontoe gegaan en
beskuldigde nr 3 daar in
hegtenis geneem. Volgens Abrahams het beskuldigde nr
1
beweer dat die appellant "ook by" was toe die wit Ford na
die werf
gebring is. Voorts het Abrahams getuig dat nadat
hy beskuldigdes nrs 1, 2, 3
en die apellant ondervra het -
"...het hulle gesê dat beskuldigde 1 se broer,
beskuldigde 5 ook gehelp het die voertuig die werf
instoot."
Abrahams het verder getuig dat die geel
Ford ook op die
werf gestaan het; en dat hy op sowel die wit as die geel
Ford beslag gelê het. Hieraan het Abrahams toegevoeg -
9
"Hulle was besig om die gesteelde voertuig te stroop. Hy het 'n gedeelte daarvan
afgehaal en op beskuldigde 4 se motor opgebou."
In hooftrekke was dit die staatsaak.
Beskuldigde nr
1 het getuig dat toe die appellant die geel
Ford na die werf gebring het die
appellant se opdrag aan
hom soos volg was:-
" hy sal die ratkas bring, ek moet vir hom
die ratkas insit"
en dat die appellant 'n maand
later die wit Ford gebring
het. M b t die kwessie van presies hoe die wit
Ford by die
werf aangekom het, was beskuldigde nr 1 reeds in
sy
hoofgetuienis uiters ontwykend. Nadat die streeklanddros
in hierdie verband beskuldigde nr 1 tereggewys het, moes
beskuldigde nr 1
uiteindelik toegee dat hy in der waarheid
nie self gesien het dat die
appellant die wit Ford na die
werf aangery het nie. Beskuldigde nr 1 het
egter volhard
met sy bewering dat die appellant gedurende die aand van
8
April 1988 ook op die werf by was. Volgens beskuldigde
10
nr 1 het die wit Ford by die werf in sand vasgesit; en terwyl beskuldigdes
nrs 2 en 5 dit die werf binne gestoot het, aldus beskuldigde
nr 1, het die
appellant agter die stuurwiel van die wit Ford gesit. Beskuldigde nr 1 het
voorts getuig dat die appellant aan hom
vertel het dat die wit ,Ford sy (die
appellant) se motor is, en dat beskuldigde nr 1 die geel Ford se ratkas deur die
wit Ford se
ratkas moet vervang. Vir hierdie werk, so het beskuldigde nr 1
getuig, was die ooreengekome vergoeding R150.
In die loop van
kruisondervraging deur die aanklaer het beskuldigde nr 1 aanvanklik nadruklik
getuig dat hy slegs die ratkas van die
wit Ford na die geel Ford oorgeplaas het.
Later het die getuie toegegee dat hy daarbenewens ook 'n lugfilter en die
agterlig van
die wit Ford op die geel Ford gemonteer het; maar hy het ontken dat
hy die verkoeler en die enjinblad van die wit Ford na die geel
Ford oorgeplaas
het. In hierdie verband het
11
beskuldigde op die moontlikheid gesinspeel dat beskuldigde nr 5 dit kon
gedoen het.
Beskuldigde nr 2 het ontken dat hy op 8 April 1988 hoegenaamd in
Kaapstad was. Voorts het hy getuig dat gedurende die aand van 8 April
1988
beskuldigde nr 1 hom geroep het; dat hy gehelp het om die wit Ford by die werf
in te stoot; en dat beskuldigde nr 5 mettertyd
ook by hul aangesluit het om die
wit Ford te stoot. Volgens beskuldigde nr 2 het die appellant in daardie stadium
binne in die wit
Ford gesit. Beskuldigde nr 2 was egter nie bereid om te
sê dat die appellant die wit Ford daar aangery het nie.
In sy getuienis
het die appellant die volgende relaas gegee. In Februarie 1988 het hy die geel
Ford na beskuldigde nr 1 geneem om
sy automatiese ratkas te laat herstel. Sy
opdrag aan beskuldigde nr 1 het slegs herstel van die ratkas behels. Geen
onderdele van
die geel Ford
12
moes vervang word nie. Daarna het die appellant 'n paar keer by beskuldigde
nr 1 gaan verneem hoe die werk vorder, maar beskuldigde
nr 1 het altyd 'n
ekskuus gemaak - die voertuig is nog nie gereed nie. Teen Maart 1988 het
beskuldigde nr 1 die geel Ford se ratkas
op 'n manier herstel "maar dit was nog
nie honderd persent nie." Op Saterdag 9 April het die appellant andermaal by die
werf aangedoen
en toe het hy gesien dat beskuldigde nr 1 met die geel Ford
rondry. Beskuldigde nr 1 het aan die appellant gesê sy kar is nou
reg.
Daaraan het hy toegevoeg dat hy die geel Ford se ratkas deur 'n hand-ratkas, wat
beskuldigde nr 1 "ontvang" het, vervang het.
Beskuldigde nr 1 het egter nie
aangedui waarvandaan die hand-ratkas gekom het nie. Volgens die appellant het hy
vrede gehad met die
vervanging van die geel Ford se automatiese ratkas deur 'n
hand-ratkas. Vir sy werk aan die geel Ford het beskuldigde nr 1 betaling
van
R350 verlang, wat die
13
appellant nie kon bybring nie. Hierop was beskuldigde nr. 1 se reaksie, aldus
die appellant, dat tot tyd en wyl die appellant R350
kon bybring beskuldigde nr
1 die geel Ford sou behou en gebruik. Die appellant is bygevolg met leë
hande daar weg. 'n Week of
wat daarna het die polisie, vergesel van beskuldigde
nr 1, by die appellant aangekom. Die polisie het die appellant meegedeel dat
beskuldigde nr 1 beweer dat die appellant motor-diefstal gepleeg het. Hierdie
áantyging het die appellant ontken. Teenoor
die polisie het die appellant
verduidelik dat hy die geel Ford vir herstelwerk na beskuldigde nr 1 geneem het.
Daarop het die polisie
vir beskuldigde nr 1 gekonfronteer en hom gevra wie dan
"die kar" gesteel het. Volgens die appellant het het beskuldigde nr 1 toe
gesê dat hy vir die polisie sal wys wie die kar gesteel het, "en op
daardie manier gaan ons vir beskuldigde 2 optel." Die appellant
het in sy
14
getuienis ontken dat hy op 8 April 1988 ooit by die werf was. Hy kon
laasgenoemde datum goed onthou, so het die appellant verklaar,
omdat dit sy
verjaardag is. Volgens die appellant is beskuldigde nr 5 aan hom as die broer
van beskuldigde nr 1 bekend; maar beskuldigdes
nrs 2 en 3 het hy hoegenaamd nie
geken nie. M b t die wit Ford se verkoeler, enjinblad en agterlig wat op die
geel Ford gemonteer
is, het die appellant getuig dat hy hierdie veranderinge nie
opgemerk het nie. Die appellant het getuig dat hy die wit Ford vir die
eerste
keer weer gesien het toe die polisie dit aan hom getoon het. Met die oog op die
verhoorhof se evaluering van die getuienis
van die appellant en beskuldigde nr
5, waarna later in hierdie uitspraak verwys sal word, is dit dienstig om hier te
let op die volgende
stelling aangaande beskuldigde nr 5 wat laasgenoemde se
prokureur in kruisondervraging aan die appellant gemaak het:-
15
"U het gehoor beskuldigde 2 het gesê dat op daardie Vrydag hy het u gesien
dat u het gesit
agter die stuurwiel van die wit Ford Cortina?
Nee, dit is nie waar nie.
En ook beskuldigde 5 sal so getuig dat toe hy geroep was, hy het gesien dat u
sit agter die
stuurwiel van daardie wit Ford Cortina? ---Nee,
dit is nie waar nie."
Ten slotte moet na die hooftrekke van beskuldigde
nr
5 se getuienis gekyk word. Volgens hom het hy
beskuldigde nr 1 bygestaan toe
die outomatiese ratkas by
die geel Ford uitgehaal is. Hy was egter nie
teenwoordig
toe die ander onderdele soos die enjinblad van die wit Ford
op
die geel Ford gemonteer is nie. Voorts het beskuldigde
nr 5 aan die
verhoorhof vertel dat hy nie weet hoe die wit
Ford by die werf aangekom het
nie. Terwyl.hy binnenshuis
beeldradio gekyk het, het beskuldigde nr 1 hom
gevra om te
help stoot aan die wit Ford. Aan hierdie versoek het
hy
voldoen. Beskuldigdes 1, 2 en die appellant het algar
gehelp om die wit
Ford te stoot. In kruisondervraging
16
deur die appellant se prokureur is beskuldigde nr 5 gevra
wie agter die
wit Ford se stuurwiel gesit het toe dit
gestoot is. Hierop was beskuldigde nr
5 se antwoord:-
"Beskuldigde 1 het die venster afgedraai en van buite-af sy hand deurgesteek en
die stuurwiel hanteer."
In antwoord op vrae deur die hof gestel, het
dit
verder uit beskuldigde 5 se getuienis geblyk dat
die
voertuig waaraan gestoot is glad nie die wit Ford was nie,
maar wel 'n
ander voertuig wat die ingang tot die werf
versper het. Die wit Ford, aldus
beskuldigde nr 5:-
"...kon vanself ry, dit was nie nodig om dit te stoot nie."
In kruisondérvraging deur die aanklaer het beskuldigde nr 5
getuig
dat hy nie gesien het dat enigiemand met die wit
Ford ry nie.
Dit dan wat betref die aangevoerde getuienis.
By
beoordeling van die geloofwaardigheid en betroubaarheid
van getuienis namens
die verdediging afgelê, het die
17
verhoorhof daarop gewys dat beskuldigde nr 1 die verwyt van
tallose
weersprekings in sy getuienis dra. Die
streeklanddros het beskuldigde nr 1
heel tereg as 'n
"patetiese getuie" afgemaak. Omtrent beskuldigde nr 2
het
die verhoorhof hom soos volg uitgelaat:-
"Beskuldigde 2 ontken dat hy vir die speurder gesê het beskuldigde 3 is
betrokke. Maar volgens die ondersoekbeampte was hy
die enigste een wat daardie
inligting aan hom gegee het. Nie een van die ander beskuldigdes het beskuldigde
3 betrek in hierdie saak
nie. Dus vertel hy 'n leuen vir die Hof hieroor.
Eweneens het beskuldigde 2 my nie beïndruk as 'n getuie nie."
M b t beskuldigde nr 5 en die appellant het
die
verhoorhof in die loop van sy uitspraak die
volgénde gesê:
"Beskuldigde 5 het my werklik beïndruk as 'n
getuie. Ek is beïndruk met beskuldigde 5 se eerlikheid en opregtheid in
hierdie saak. As ek beskuldigde 5 en beskuldigde 4 se
getuienis teen mekaar
opweeg, dan staan beskuldigde 5 se getuienis as persoon, vir my kop en skouers
bo dié van beskuldigde
4. Dit is baie duidelik dat beskuldigde 5 nie
probeer het om die Hof te mislei nie. Hy het nie ingeval by die
weergawes
18
wat beskuldigdes 1 en 2 gegee het nie en beskuldigde 1 is sy eie broer. Hy het
inderdaad getuienis gegee wat beskuldigde 1 nog verder
in
die moeilikheid dompel Ek aanvaar
beskuldigde 5 se getuienis as die waarheid.
Nadat die Hof dit gedoen het, dan vind ek baie probleme met beskuldigde 4 se
weergawe. Tot en met die stadium beskuldigde 4, wat
beskuldigde 5 getuig het,
was jou skuld of onskuld in die weegskaal gewees. Nadat beskuldigde 5 egter
getuig het, het die hele legkaart
vir my inmekaar geval en was dit vir my
duidelik wat plaasgevind het."
Voorts het die
verhoorhof in sy uitspraak die volgende
punte van kritiek teen die appellant se relaas ingebring:-
"Volgens u weergawe is daar niks fout met hierdie outomatiese kar se ratkas, dit
kan oënskynlik herstel word. Nogtans is u bereid
en aanvaar u dat die
outomatiese ratkas in totaal vervang word
met 'n handratmodel Blykbaar was u ratkas toe
nou so gewees dat dit nie herstel kon word nie, soos wat beskuldigde 1 inderdaad
getuig het. En om 'n ander ratkas te koop, sou vir
u 'n groot klomp geld gekos
het. Dan sou dit veel makliker wees om een te steel, dit sal jou verniet
kos."
Wat die waarskynlikhede betref, het die
streeklanddros
19
aangedui dat die oorplasing van die wit Ford se verkoeler,
enjinblad en
agterlig na die geel Ford 'n aspek van die saak
is wat teen die appellant moet inwerk. In hierdie verband
het die
verhoorhof gesê:-
"Dit was nie nodig dat daardie goedere op u voertuig gesit word nie, volgens u
eie weergawe nie. Hoekom sal beskuldigde 1 uit eie
beweging daardie goedere op u
voertuig nou sit? Hy is 'n
persoon wat agterplaas-werktuigkundige werk doen. Daardie goedere kan hy weer in
'n ander voertuig gesit het en met wins verkoop
het."
Wat betref die aanspreeklikheid van die
appellant het die —
verhoorhof tot die volgende slotsom geraak:-
"Beskuldigde 5 het ek alreeds gesê het my beïndruk as 'n getuie en ek
aanvaar sy getuienis. Beskuldigde 5 self sê
beskuldigde was die vorige
aand daar gewees toe die wit gesteelde Ford Cortina daar was. So beskuldigde 5
se getuienis word dan inderdaad
ondersteun deur beskuldigde 1 oor beskuldigde 4
se teenwoordigheid aldaar. Beskuldigde 4 word bevoordeel dat parte in sy
voertuig
geplaas word en die Hof bevind op die getuienis dat beskuldigdes 2 en 4
die voertuig by Kaapstad-stasie gesteel
het."
20
Om verskeie redes vind ek dit moeilik om met die beskouing van die verhoorhof
saam te stem dat beskuldigde nr 5 as getuie "kop en
skouers" bo die appellant
uitgetroon het. In die eerste plek dien opgemerk te word dat die verhoorhof in
sy uitspraak nêrens
aandui dat die appellant in die getuiebank enigsins 'n
swak figuur geslaan het nie. By nalees van die appellant se getuienis wil
dit my
voorkom asof die appellant in die loop van sy getuienis deurentyd voet by stuk
gehou het. Die streeklanddros konstateer juis
dat selfs na aanhoor van sy
getuienis die kwessie van die appellant se skuld geen uitgemaakte saak was nie.
Behalwe vir die verhoorhof
se beoordeling van die waarskynlikhede, waarby ek
aanstons sal kom, was die verhoorhof se geloof in beskuldigde nr 5 se deug as
getuie
die vernaamste faktor in die saak wat vir die streeklanddros lotsbepalend
teen die appellant ingewerk het. Wat egter onmiddellik
opval is dat die
verhoorhof
21
die getuienis van beskuldigde nr 5 bra onkrities benader het. Wat die
appellant se verdediging betref was 'n
kardinale geskilpunt in die saak of
hy op die aand van 8 April 1988 by die werf teenwoordig was. By sowel
pleitverduideliking namens
beskuldigde nr 5 as kruisondervraging van die
appellant deur beskuldigde nr 5 se prokureur is heel ondubbelsinnig in die
vooruitsig
gestel wat beskuldigde nr 5 hieromtrent sou getuig. Omtrent die rol
wat die appellant op 8 April by die werf vertolk het, het die
uiteindelike
getuienis van beskuldigde nr 5 egter wesenlik afgewyk van gemelde voorbeduidenis
daarvan soos by monde van beskuldigde
nr 5 se prokureur aangestip. Te oordeel
aan sy uitspraak het die verhoorhof hierdie ooglopende ongerymdheid in
beskuldigde nr 5 se
relaas oor die hoof gesien. Verder meer was beskuldigde nr 5
'n medebeskuldigde wat op sy eie storie gehelp het om
22
die wit Ford - die gesteelde voorwerp in die saak - op die werf binne te kry.
In hierdie situasie was dit vir die verhoorhof nodig
om by beoordeling van die
oorredingskrag van beskuldigde nr 5 se getuienis die veiligheidsreël m b t
die getuienis van medepligtiges
deeglik voor oë te hou. Die uitspraak van
die verhoorhof bevat egter geen aanduiding dat hy uit hoofde hiervan die
getuienis
van beskuldigde nr 5 met die nodige omsigtigheid benader het
nie.
Die verhoorhof het dit as 'n onwaarskynlikheid teen die relaas van die
appellant aangemerk dat beskuldigde nr 1 benewens die wit Ford
se ratkas verder
en uit eie inisiatief ander onderdele van die wit Ford by die geel Ford ingebou
het, terwyl hy dit andersins teen
'n wins aan 'n
derde van die hand sou kon
gesit het. Hierdie redenasie vind ek nie oortuigend nie. In die eerste plek
moet
23
daar gelet word op die feit dat beskuldigde nr 1 in sy getuienis nie
aangevoer het dat hy die ekstra onderdele in opdrag van die appellant
van die
wit Ford na die geel Ford oorgeplaas het nie. Beskuldigde nr 1 wou trouens
aanvanklik nie eers toegee dat hy self al die
ekstra onderdele oorgeplaas het
nie. Tweedens kan daar nie sonder meer aanvaar word dat beskuldigde nr 1 nie
van.plan was om vanweë
die ekstra onderdele sy prys vir die herstelwerk te
verhoog nie. Terwyl beskuldigde nr 1 beweer het dat die prys vir die werk slegs
R150 sou wees, het die appellant getuig dat beskuldigde nr 1 op 9 April 1988
betaling van R350 verlang het.
Die hof a quo het tereg aanvaar dat die
verhoorhof m b t die gehalte en bewyswaarde van die getuienis van beskuldigde nr
5 misgetas
het. Bygevolg het die hof benede van die standpunt uitgegaan dat,
sonder inagneming van beskuldigde nr 5 se getuienis, die ondersoek
24
beperk moet word na wat hy genoem het -
"...the rest of the evidence, the undisputed evidence, to see whether the
magistrate was correct in convicting as he did."
Die
hof a quo het tot die gevolgtrekking geraak dat die
onbetwiste feite
alleenstaande die skuldigbevinding van die
appellant veroorloof. Die
redenasie van die hof a quo
blyk uit die volgende passasies in die uitspraak
van regter
LATEGAN waarmee regter ROSE-INNES saamgestem het:-
"It is not disputed that the car was stolen. It is not disputed . , . and in
fact it was part of .... the appellant's explanation
that parts of the stolen
vehicle were built into his car, without his giving any mandate to number 1 to
do so.
Not only was this so, what is more ....the appellant said in explaining this,
that he never queried accused number 1 as to why he
added a number of parts into
his car, which was merely brought there for purposes of repair of the
gearbox.
Number l's evidence on the other hand affords no corroboration for this story.
And in so far as Mr Taylor tried to have us infer
from number l's evidence that
number 1 did the swopping of
the
25
parts on to number 4's car without number 4 asking him to do so, it suffices
only to point out that number l's own evidence is that
number 4 brought the
stolen car to him and left it to him to put those parts in which he found
necessary.
Therefore .... the appellant's explanation on prima 'facie damning facts of
possession of the stolen objects, must be judged in sole
context of it being
uncorroborated by any other evidence."
Hierby
aansluitend het die hof a quo beslis dat die
appellant se -
"....possession of the stolen objects was not satisfactorily explained and
therefore only one conclusion can then be drawn from these
facts, viz. that he
knowingly played a part in the theft of this vehicle. If not the whole vehicle,
then at least parts of the vehicle."
Ek kan nie
saamstem met die beskouing dat die onbetwiste feite bo redelike twyfel op die
skuld van die appellant dui nie. Na my beskeie
oordeel het die hof a quo hom m b
t die f eite van die saak in verskeie en wesenlike opsigte wanvoorgelig.
In die passasies uit sy uitspraak
hierbo
26
aangehaal, verkwalik LATEGAN, R die appellant o a omdat hy geen navraag gerig
het aan beskuldigde nr 1 m b t die ekstra onderdele
(die verkoeler, enjinblad en
agterlig) wat beskuldigde nr 1 sonder opdrag van die appellant op die geel Ford
gemonteer het. Hierdie
teregwysing verloor die appellant se onbetwiste getuienis
uit die oog. In kruis-ondervraging deur die aanklaer is die vraag aan die
appellant gestel of hy agtergekom het dat gemelde onderdele aldus oorgeplaas is.
Met die appellant se ontkennende antwoord het niemand
in geding getree nie. Sy
antwoord op die gestelde vraag is m i ook nie onwaarskynlik nie. Nadat hy die
geel Ford aan beskuldigde
nr 1 vir herstelwerk aan die ratkas toevertrou het,
het die appellant daarna nie weer daadwerklike besit van die geel Ford verkry
nie. Op 9 April 1988 het beskuldigde 1 geweier om die geel Ford sonder betaling
van R350 aan die appellant te lewer. Weliswaar dat
twee van die gewraakte
onderdele (die
27
verkoeler en die enjinblad) lywige masjiendele is. Maar
hul sou onsigbaar
gebly het vir iemand wat die motorkap nie
opgeslaan het nie. Daar is geen
getuienis dat die
appellant op die betrokke tydstip onder die geel Ford
se
motorkap geloer het nie.
Voorts dien gemeld te word dat die suggestie van
die
hof a quo as sou beskuldigde nr 1 getuig het dat die
appellant die wit Ford
na hom gebring het "and left it to
him to put those parts in which he found
necessary" op 'n
misvatting van beskuldigde nr 1 se getuienis berus.
Ek
haal aan uit die aanklaer se kruisondervraging van
beskuldigde nr
1:-
"Beskuldigde 4 bring sy motor na jou toe om 'n ratkas te vervang, maar jy sit
nou sommer allerhande ander onderdele van die wit Cortina
oor op die geel kar, hoekom?----Dit staan so:
Soos ek nou die ratkas oorgeplaas het, het ek besef dat daar nog ander plekke
wat nie reg is in die ander motor nie, so toe maak
ek nou reg om met dié
dat ek vir hom in kennis gaan stel as ek die hele werk verrig het ...."
28
Ten slotte moet daarop gewys word dat in die onderhawige geval die appellant
nie geroepe was om sy besit van gesteelde voorwerpe (hetsy
die wit Ford hetsy
daardie onderdele wat van die wit Ford na die geel Ford oorgeplaas is)
redelikerwys te verklaar nie. Volgens die
aangevoerde getuienis is die appellant
nog in besit van die wit Ford nog in besit van die geel Ford met die
oorgeplaasde onderdele
gekry nie.
Ofskoon die getuienis 'n mate van agterdog
teen die appellant wek, het die verhoofhof m i verkeerdelik bevind dat die skuld
van die
appellant bo redelike twyfel bewys is. Dit verbaas geensins dat, na
afloop van die getuienis by die verhoor, die aanklaer verkies
het om nie op 'n
skuldigbevinding van die appellant aan te dring nie; en dat hy daarmee volstaan
het om die beslissing in die hande
van die verhoorhof te laat.
29
Die appèl slaag. Die skuldigbevinding van die appellant asook die
opgelegde vonnis word tersyde gestel.
G G HOEXTER, AR