Eskom v Rollomatic Engineering (Edms) Bpk (435/90) [1992] ZASCA 36; 1992 (2) SA 725 (AD); [1992] 2 All SA 64 (A) (26 March 1992)

58 Reportability
Land and Property Law

Brief Summary

Property — Ownership — Delivery — Respondent claimed ownership of a structure on land owned by a third party and sought delivery from the appellant, who had removed his equipment from the site — The court found that the structure did not form part of the land and was considered movable property — The appellant's argument of fictitious delivery (traditio longa manu) was rejected as the respondent lacked control over the structure and had not established ownership — Appeal upheld, and the respondent's claim dismissed with costs.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1992
>>
[1992] ZASCA 36
|

|

Eskom v Rollomatic Engineering (Edms) Bpk (435/90) [1992] ZASCA 36; 1992 (2) SA 725 (AD); [1992] 2 All SA 64 (A) (26 March 1992)

1
Saak nr 435/90 /MC
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPeLAFDELING)
Tussen:
ESKOM
Appellant
- en -
ROLLOMATIC ENGINEERING (EDMS)
BPK
Respondent
CORAM:
BOTHA, HEFER, VIVIER, VAN DEN
HEEVER ARR et HOWIE Wn AR.
VERHOOR:
16 Maart 1992.
GELEWER:
26 Maart 1992.
UITSPRAAK
VIVIER AR.
2
VIVIER AR
Die respondent, na wie ek as die eiser sal verwys, het 'n
rei vindicatio
teen die appellant, na wie ek as die verweerder sal
verwys, in die Transvaalse Provinsiale Afdeling ingestel. Die eiser se saak was
dat hy eienaar is, en dat die verweerder in besit is van 'n struktuur, bestaande
uit "substasiestaalwerk en fondasies" op h stuk
grond tans bekend as gedeelte 21
van die plaas Zwartkloof nr 707 in die distrik van Warmbad. Die eiser het
gevolglik lewering van
die struktuur, alternatiewelik betaling van die
markwaarde daarvan, geëis. h Alternatiewe eis vir betaling van die bedrag
van
R51 778-00 gebaseer op h beweerde mondelinge ooreenkoms om daardie bedrag te
betaal, is nie by die verhoor mee voortgegaan nie. Die
eiser se eis vir lewering
van die struktuur is met koste gehandhaaf deur SPOELSTRA R wat daarna aan
die
3
verweerder verlof verleen het om na hierdie Hof te appelleer. Sedertdien het
die eiser ingevolge Reël 41(2) van die Eenvormige
Hofreëls afstand
gedoen van daardie gedeelte van die bevel wat die verweerder gelas om die
"fondasies" van die struktuur te
lewer.
Die geskil tussen die partye het as
volg ontstaan. Gedurende ongeveer 1970 het Goldfields van Suid-Afrika Bpk
("Goldfields") begin
met die konstruksie van 'n myn vir die ontginning van
fluoriet op die plaas Zwartkloof nr 707 ("Zwartkloof"). Daar is vooraf met
die
verweerder ooreengekom dat laasgenoemde elektrisiteit aan die myn sou verskaf
deur middel van 'n oorhoofse toevoerlyn vanaf sy
distribusiestasie op Warmbad na
'n substasie wat by die myn opgerig sou word. Die skriftelike ooreenkoms
ingevolge waarvan verweerder
onderneem het om elektrisiteit aan die myn te
verskaf, was nie by die
4
verhoor beskikbaar nie, maar uit die ander dokumentasie blyk dit dat die
verbruiker Zwartkloof Fluorspar Bpk ("Zwartkloof Fluorspar"),
een van die
maatskappye in die Goldfields groep van maatskappye, sou wees. Zwartkloof
Fluorspar sou verantwoordelik wees om op eie
koste sekere dele van die substasie
op te rig volgens spesifikasies wat deur verweerder voorsien sou
word.
Zwartkloof Fluorspar het behoorlik volgens
die oprigtingspesifikasies onder andere sekere
staaltorings wat deel gevorm het van die substasie,
opgerig. Nadat die staaltorings opgerig is, het die
verweerder sy eie toerusting vir die geleiding van
elektrisiteit daaraan geheg en op 15 Oktober 1971 is
begin met die voorsiening van elektrisiteit aan
Zwartkloof Fluorspar wat die enigste verbruiker van
elektrisiteit vanaf die substasie was.
Die staaltorings staan elk op 'n betonvoetstuk
5
van twee kubieke meter wat in die grond gesink is.
Elke
staaltoring is aan sy voetstuk met 'n staalplaat en
boute geheg. Die
verskillende eenhede waaruit die
torings opgebou is, is vooraf vervaardig en
op die
toneel in posisie geplaas en aan mekaar vasgebout.
Dit blyk uit die
getuienis dat die aanvanklike bedoeling was dat produksie vir 'n onbepaalde tyd
sou duur, sodat dit aanvaar moet
word dat die substasie vir 'n onbepaalde tyd
opgerig is. Die ertsliggaam het egter spoedig nie aan die verwagtinge voldoen
nie sodat
die mynbedrywighede gestaak en die toevoer van elektrisiteit vroeg in
1976 beëindig is. Die ooreenkoms ingevolge waarvan elektrisiteit
voorsien
is, is beëindig met effek vanaf 31 Maart 1976. Die verweerder het sy
oorhoofse toevoerlyn vanaf die Warmbad-distribusiestasie
daar gelaat maar sy
toerusting vanaf die substasie verwyder
6
en sy oprigtings- en aftakelingskoste van Zwartkloof Fluorspar verhaal.
Laasgenoemde het die res van die substasie gelaat soos dit
was. Dit beteken dat
onder andere die gebou, die staaltorings, die gruisbedekking oor die hele
terrein en die veiligheidsomheining
daar gebly het.
Volgens mnr Joubert, die
eiser se besturende direkteur, was dit die posisie toe hy 'n paar jaar later, op
13 Junie 1979, in sy persoonlike
hoedanigheid 'n skriftelike huurkontrak met
Zwartkloof Fluorspar gesluit het ingevolge waarvan hy Zwartkloof vir
weidingsdoeleindes
gehuur het. In die huurkontrak word Zwartkloof Fluorspar as
die eienaar van Zwartkloof beskryf. Die huurkontrak is van tyd tot tyd
verleng
en is steeds van krag. Uitdruklik uitgesluit van die huurooreenkoms was "alle
geboue en strukture". Dit is duidelik dat die
partye daarmee die hele
omheinde
7
terrein van die substasie bedoel het. Soos Joubert dit in sy getuienis gestel
het: "die diere eet nie gruis nie".
Gedurende 1981 is die staalgedeelte van
die torings in die vorm van afvalstaal deur Goldfields aan die eiser verkoop wat
dit op 'n
wildplaas in die omgewing wou gebruik vir die oprigting van
uitkyktorings. Die koopprys vir die 20 ton skrootstaal van die torings
was R700,
bereken teen R35 per ton. Ingevolge die ooreenkoms was die eiser verantwoordelik
om die staaltorings en hul betonfondamente
te verwyder en om die grond in sy
oorspronklike toestand te herstel. Volgens 'n brief van Goldfields aan die eiser
gedateer 24 Augustus
1981, waarin die voorafgaande mondelinge koopooreenkoms in
skrif beliggaam is, sou lewering geskied nadat die eiser reëlings
daarvoor
met een van Goldfields se amptenare
8
getref het. Geen sodanige reëlings is ooit getref nie.
Teen 1984 het
die verweerder besluit om die substasie weer in gebruik te neem ten einde h
aantal ander verbruikers in die omgewing
van elektrisiteit te voorsien. Vir
hierdie doel het die verweerder 'n gedeelte van Zwartkloof, wat ongeveer 0,3 ha
groot is en waarop
die oorspronklike substasie gestaan het, van 'n ander
maatskappy in die Goldfields groep, Zwartkloof Mining Bpk, vir die bedrag van
R600 gekoop. Op 29 Januarie 1986 is die onderverdeelde gedeelte, nou bekend as
gedeelte 21 van die plaas Zwartkloof nr 707, in die
verweerder se naam
geregistreer. Die verweerder het die staaltorings wat nog net so daar gestaan
het, weer in gebruik geneem as 'n
integrale deel van 'n nuwe, vergrote substasie
vir die verskaffing van elektrisiteit. Toe die eiser gedurende Mei 1987 sy
9
werksmense stuur om die torings af te takel en die afvalstaal te verwyder,
het hulle die substasie in volle swang gevind en moes onverrigtersake
terugkeer.
SPOELSTRA R het bevind dat die struktuur nie deel van die grond
gevorm het nie en dat dit dus as roerend beskou moet word. Hy het
verder bevind
dat fiktiewe lewering in die vorm van
traditio longa manu
geskied het
deurdat die struktuur in die eiser, as huurder, se besit gelaat is deur die
verkoper. Op hierdie wyse het die eiser gevolglik
eienaar van die struktuur, of
altans die staalgedeelte daarvan, geword.
Ek vind dit nie nodig om in die huidige saak te beslis of die struktuur as
roerend of onroerend beskou moet word nie. Selfs op die
veronderstelling dat dit
roerend is, kan ek nie met die Verhoor= regter saamstem dat lewering wel
plaasgevind het nie. Op die tydstip
toe die eiser die staal gekoop het, was
Zwartkloof Fluorspar die eienaar van Zwartkloof en het
10
volle besit van alle geboue en strukture daarop gehad. Soos ek reeds gemeld
het, was die hele omheinde terrein van die substasie,
met alle geboue en
strukture daarop, uitgesluit van die huurkontrak wat Zwartkloof Fluorspar met
Joubert in sy persoonlike hoedanigheid
gesluit het. Joubert het dus geen beheer
daaroor gehad nie en die eiser nog minder. Die eiser het in elk geval geen
beheer oor die
verhuurde grond gehad nie. Klousule 18 van die huurkontrak het 'n
verbod bevat teen onderverhuring of enige sessie van die huurder
se regte sonder
die skriftelike toestemming van die verhuurder en daar was geen sprake van enige
sodanige toestemming ten gunste
van die eiser nie. Die Verhoorregter het
gevolglik misgetas toe hy die eiser as die huurder van die grond beskryf
het.
Volgens Joubert het hy namens die eiser lewering van die staal geneem. Sy eie
getuienis ondersteun egter nie hierdie aanspraak nie.
Daar is
n
geen getuienis dat lewering plaasgevind het soos uitdruklik in die
koopooreenkoms bepaal nie. Die vraag ontstaan dan of daar moontlik
fiktiewe
lewering in die vorm van
traditio longa manu
was, soos namens die eiser
voor ons betoog.
Nog Joubert in sy persoonlike hoedanigheid nog die eiser het
enige beheer oor die struktuur gehad. Inderdaad het geeneen enige reg
gehad om
sonder vooraf reëlings met die verkoper (wat nooit getref is nie) die
terrein waarop die struktuur gestaan het, te
betree nie. Uit Joubert se eie
getuienis is dit duidelik dat die eiser nie voor Mei 1987 belang gestel het om
beheer te verkry nie.
Hy het getuig dat toe die eiser die staal in 1981 gekoop
het, hy nog nie gereed was om die uitkyktorings op te rig nie. Dit het eers
in
Mei 1987 gebeur. Intussen het dit die eiser gepas dat die struktuur op die
terrein onder die beheer van
12
Goldfields of een van sy filiale gelaat word. Volgens Joubert het hy selde op
Zwartkloof gekom, so een maal in drie jaar, en was hy
tot Mei 1987 onbewus
daarvan dat die substasie vergroot en weer in gebruik geneem is of dat die
verweerder die terrein van die substasie
van Zwartkloof Mining Bpk gekoop het.
Hieruit blyk duidelik dat daar geen sprake daarvan was dat eiser in beheer van
die terrein
of van die stuktuur was nie. Ten minste een van die vereistes vir
lewering met die lang hand is gevolglik nie nagekom nie, naamlik
dat die
ontvanger ná uitwysing in staat moet wees om fisieke beheer oor die saak
te voer. In
Groenewald v Van der Merwe
1917 AD 233
het INNES HR hierdie
vereiste vir lewering met die lang hand as volg gestel op 239 :-
"But physical prehension is not essential if the subject-matter is placed in
presence of the would-be possessor in such circumstances
that he and he alone
can deal with it at
13
pleasure. In that way the physical element is sufficiently supplied; and if
the mind of the transferee contemplates and desires so
to deal with it, the
transfer of possession, -that is the delivery - is in law complete. (See
Digest
41,2,1,21:
Voet
41,1,34.
Savigny
Book 2, sub-secs
15-17.
Pothier
, Vol 2, par, 314). When this deposit of the subject-matter
in the presence and at the disposition of the new possessor takes the
place of
physical prehension, the delivery is said to be made
longa manu
, and it
constitutes one of the forms of fictitious as distinguished from actual
delivery." Sien ook
Botha v Maseka
1981(3) SA 191 op 195 F-H.
Die eiser het gevolglik nie bewys dat hy eienaar geword het van die staal nie
en hy was nie op 'n bevel tot lewering daarvan geregtig
nie.
Voor ons was
daar twee aansoeke deur die verweerder om kondonasie vir die nie-nakoming van
sekere reëls van hierdie Hof, wat
deur die eiser
14
teengestaan is op die enkele grond dat daar nie 'n redelike vooruitsig op
sukses op die meriete van die appèl is nie. Dit volg
dat die aansoek om
kondonasie moet slaag.
Gevolglik word die volgende bevel gemaak:
1. Die aansoeke om kondonasie word toegestaan en die verweerder word gelas om
die koste daarvan op 'n ongeopponeerde basis te betaal.
2. Die appèl slaag met koste, wat die koste van twee advokate insluit,
uitgesonderd die koste van die aansoek om kondonasie.
3. Die bevel van die Hof a
quo
word verander om te lees: "eiser se eis
word van die hand gewys met
koste".
W. VIVIER AR.
BOTHA AR)
HEFER AR)
VAN DEN HEEVER AR)
HOWIE Wnd AR) Stem saam.