About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1991
>>
[1991] ZASCA 54
|
|
S v Petzer and Another (712/89) [1991] ZASCA 54; [1992] 1 All SA 99 (A) (21 May 1991)
Saak Nr 712/89 /MC
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPLèFDELING)
In die saak tussen:
HENRY ANTONIE PETZER
Eerste Appellant
en
JOHANNES JACOBUS
CORNELIUS PETZER
Tweede Appelant
- en -
DIE
STAAT
Respondent
CORAM:
HOEXTER, VIVIER ARR et KRIEGLER Wnd AR.
VERHOOR:
13 Mei
1991.
GELEWER:
21 Mei 1991.
UITSPRAAK
VIVIER AR.
2/...
2.
VIVIER JA:
Die twee appellante is in die Landdroshof op Kriel
skuldig bevind aan aanranding met die opset om ernstig te beseer en is elkeen
gevonnis
tot 'n boete van R200 of twee maande gevangenisstraf plus 'n verdere
vier maande gevangenisstraf wat vir drie jaar opgeskort is.
Die appellante het
na die Transvaalse Provinsiale Afdeling teen hul skuldigbevindings geappelleer
maar die appèl is van die
hand gewys en elkeen se vonnis is verswaar tot
drie jaar gevangenisstraf waarvan die helfte vir drie jaar opgeskort is. Met die
nodige
verlof appelleer die eerste appellant na hierdie Hof teen sy
skuldigbevinding en vonnis en die tweede appellant teen sy vonnis alleen.
Die
staatsaak teen die twee appellante by hulle verhoor in die Landdroshof kan as
volg saamgevat
3/...
3.
word. Op Vrydagaand 27 Mei 1988 was die twee appellante, wat broers is, by 'n
partytjie aan huis van ene Ockert Barnard, waar laasgenoemde
se broer, Jacobus
Barnard, ene Bornman, sowel as die klaer ook teenwoordig was. Daar is kwaai
gedrink op die partytjie, wat reeds
om ongeveer ses-uur die middag begin het.
Kort voor drie-uur die nag, nadat die eerste appellant reeds huis toe was, het
daar 'n
bakleiery ontstaan tussen die tweede appellant en die klaer, in die loop
waarvan laasgenoemde die tweede appellant met 'n besemstok
geslaan en self 'n
vuishou op die oog gekry het. Jacobus Barnard en Bornman het die klaer vir
behandeling na die dokter geneem en
hom daarna by sy huis gaan aflaai. Voordat
die klaer egter sy voordeur kon bereik, het die twee appellante in 'n motor daar
opgedaag.
Die tweede appellant het
4/...
4.
hom teruggeroep en toe die klaer by die voorhekkie van sy perseel kom, het
die tweede appellant hom by die hekkie uitgeruk en hom
met die vuis bygedam. Die
klaer is platgeslaan maar het daarin geslaag om weer orent te kom deur aan die
draadheining vas te hou.
Hy het half oor die draad beland. Die eerste appellant
het hom egter van die draad weggeruk sodat die tweede appellant hom verder
met
die vuis kon bykom. Volgens Bornman het die tweede appellant toe die klaer
"geslaan en geslaan en aangehou slaan". Bornman het
die eerste appellant gevra
om sy broer te keer maar sy antwoord, volgens Bornman, was: "Nee, los hom dat hy
hom dood donder". Die
klaer het sy bewussyn verloor en stil op die grond
gelê, waarop die tweede appellant die tuinslang gaan haal en hom
natgespuit
het. Volgens Jacobus Barnard het die eerste appellant die klaer
se
5/...
5.
kop opgelig sodat die tweede appellant hom kon natspuit. Nadat die eerste
appellant vir oulaas aan die klaer gesê het: "Ons
donder jou dood" en die
tweede appellant hom op sy gesig getrap het, het die twee appellante
vertrek.
Die klaer het as gevolg van die aanranding twee frakture van die
kakebeen opgedoen wat deur 'n operasie
met 'n plaat geheg is. Hy het ook 'n
operasie vir 'n ernstige wangbesering ondergaan, maar ek sal hierdie besering
buite rekening
laat vanweë die moontlikheid dat dit vroeër die aand
opgedoen is. Daarbenewens het hy 'n sny aan die pinkie van sy regterhand
opgedoen toe hy weggeruk is van die draadheining. Die sny het drie of vier
hegsteke vereis. Die appellant se hele kunsgebit is gebreek.
6/...
6.
Die eerste appellant het by die verhoor getuig dat hy reeds die partytjie om
ongeveer agt-uur die aand verlaat het voordat die moeilikheid
tussen die klaer
en die tweede appellant begin het. Om kwart-voor-drie die nag het die tweede
appellant hom by sy huis gebel en gevra
dat hy hom moet kom haal omdat die ander
gaste hom gepak het. Toe hy by Ockert Barnard se huis kom, het hy die tweede
appellant vol
bloed aangetref. Die tweede appellant het aan hom gesê dat
die klaer hom met 'n besemstok geslaan het. Hy het die tweede appellant
aangesê om in sy motor te klim en huis toe te ry, waarop laasgenoemde hom
meegedeel het dat die klaer sy motorsleutels het.
Hy en die tweede appellant het
gevolglik na die klaer se huis gery om die motorsleutels te kry. Toe hulle daar
aankom, het die tweede
appellant uitgeklim en met
7/...
7.
die klaer by die voorhekkie gaan praat. Die klaer het eerste na die tweede
appellant geslaan maar hy het mis geslaan, sy balans verloor
en geval. Die
tweede appellant het die klaer opgetel en vir hom gesê om te stop, Die
klaer het egter weer na die tweede appellant
geslaan en hom hierdie keer raak
geslaan. Die tweede appellant het daarna "in selfverdediging" na die klaer
geslaan. Die eerste appellant
het toe vir die eerste keer uit sy motor geklim en
vir sy broer gesê om op te hou met die bakleiery en om in sy motor te gaan
sit. Op hierdie stadium het die klaer op die grond gelê. Die eerste
appellant het die bloed van die klaer se gesig afgewas
en hom gehelp om by sy
voordeur te kom. Hy het die deurklokkie gelui en toe 'n lig in die huis aangaan,
het hy omgedraai en weggery.
Hy het geensins die klaer aangerand nie. Vanaf die
klaer
8/...
8.
se huis is hulle na Ockert Barnard se huis waar hy die tweede
appellant afgelaai het om na sy motorsleutels te soek terwyl hy self
die tweede
appellant se spaarsleutels gaan haal het.
Die tweede appellant se getuienis
was dat, nadat hy op die partytjie in 'n bakleiery met die klaer betrokke geraak
het, hy die eerste
appellant gebel en hom gevra het om hom te kom help omdat hy
aangeval word. Toe die eerste appellant daar kom, het hy aan hom gesê
dat
die klaer sy motorsleutels het. Daarom, en ook omdat hy wou weet waarom die
klaer vroeër die aand na hom met 'n besemstok
geslaan het, het hy en die
eerste appellant in laasgenoemde se motor na die klaer se huis gery. Daar het hy
die klaer na die hek
geroep en vir hom gevra waarom hy hom met die besemstok
geslaan het. Die klaer het geantwoord deur hom met
9/...
9.
die vuis te slaan en hy het in noodweer teruggeslaan. Die eerste appellant
het hom toe aangesê om in die motor te klim, waarna
die eerste appellant
die klaer met die tuinslang natgespuit en opgetel en na sy huis gehelp
het.
Die Landdros het die twee appellante se weergawe dat hulle na die klaer
se huis gegaan het om die motorsleutels te kry, verwerp. Die
Landdros het bevind
dat hulle na die klaer se huis is met die gemeenskaplike oogmerk dat die tweede
appellant hom kon aanrand. Die
Landdros het die getuienis van die staatsgetuies
Jacobus Barnard, Bornman en die klaer se vrou, wat die aanranding uit die huis
gesien
het, aanvaar en die getuienis van die twee appellante verwerp. Die
Landdros het bevind dat die eerste appellant die klaer van die
draad weggetrek
het sodat
10/...
10.
die tweede appellant hom verder kon aanrand en dat hy die tweede appellant
aangehits en hom ten volle met die optrede van die tweede
appellant versoen
het.
By die verhoor van die appèl voor hierdie Hof het die twee
appellante aansoek gedoen dat die Hof ingevolge art 22 van die Wet
op die
Hooggeregshof 59 van 1959 sekere verdere getuienis toelaat. Vir redes wat later
volg,is die aansoek afgewys.
Mnr de Vos, namens die twee appellante, het
betoog dat die Landdros fouteer het deur die getuienis van Jacobus Barnard,
Bornman en
die klaer se vrou oor die aanranding te aanvaar en dié van die
twee appellante te verwerp. In hierdie verband het mnr de Vos
eerstens betoog
dat die waarskynlikhede daarop dui dat die twee appellante die betrokke nag na
die klaer se huis gegaan het om die
tweede appellant se
11/...
11.
motorsleutels te kry en nie om hom aan te rand nie. Die appellante se eie
getuienis dui op die teendeel. Die tweede appellant het
aanvanklik in sy
getuienis gesê dat hy na die klaer se huis gegaan het om hom te vra waarom
hy hom vroeër die aand met
'n besemstok geslaan het en dat sy eerste woorde
aan die klaer voor laasgenoemde se huis was om te verneem waarom die klaer hom
vroeër
die aand geslaan het. Indien hy slegs na sy sleutels gesoek het, sou
mens verwag dat hy dadelik daaroor navraag sou gedoen het toe
hy by die klaer
kom. Geeneen van die appellante het egter getuig dat hulle enige navraag oor
sleutels aan die klaer gerig het nie.
In kruisondervraging deur die aanklaer het
tweede appellant sy vorige getuienis verander en toe ontken dat hy hoegenaamd
oor die
vroeëre bakleiery met die klaer wou praat. Hierdie ontkenning
is
12/...
12.
onaanvaarbaar in die lig van sy uitdruklike voorafgaande getuienis. Die
eerste appellant se getuienis toon ook dat hulle nie sleutels
by die klaer wou
gaan vra nie. Indien hy wel sleutels by die klaer gaan soek het, sou hy nie
daarna, sonder om die klaer daaromtrent
te gevra het, sy broer by Ockert Barnard
se huis afgelaai het om na die sleutels te soek, of self die spaarsleutels by
die tweede
appellant se huis gaan haal het nie. Die Landdros het, na my mening,
tereg bevind dat die appellante se weergawe dat hulle motorsleutels
by die klaer
wou gaan haal, 'n versinsel is.
Mnr de Vos het voorts betoog dat daar
wesenlike weersprekings is tussen die getuienis van die klaer se vrou, aan die
een kant, en
dié van Jacobus Barnard en Bornman, aan die ander kant, en
dat daar gevolglik nie op hulle getuienis bo redelike twyfel
13/...
13.
bevind kan word dat die eerste appellant enigsins deelgeneem het aan die
aanranding nie. Die weersprekings waarop gesteun word, handel
almal met wat elke
appellant presies sou gedoen of gesê het, of met die presiese verloop van
die gebeure. So het die klaer
se vrou getuig dat die tweede appellant die klaer
weggetrek het van die draad terwyl Jacobus Barnard en Bornman getuig het dat dit
die eerste appellant was. Die aanranding het vlak voor Jacobus Barnard en
Bornman plaasgevind - volgens eersgenoemde twee meter van
hom af - en reg onder
'n straatlig. Die klaer se vrou, daarenteen, het ongeveer tien meter daarvandaan
in haar sitkamer van agter
'n gaasdeur die gebeure dopgehou. Verder was haar
uitsig gedeeltelik deur 'n boom versper. Eersgenoemde twee getuies het gevolglik
'n beter geleentheid gehad vir 'n betroubare waarneming. Hulle
14/...
14.
staaf mekaar in elke wesenlike opsig. Die Landdros het hul getuienis as
geloofwaardig aanvaar en daar is onvoldoende rede om met hierdie
bevinding in te
meng. Ek vind dit nie nodig om afsonderlik met elke opsig waarin hulle getuienis
van mekaar verskil, te handel nie.
Die verskille is nie wesenlik nie en is van
die soort wat verwag kan word. Dit doen, na my mening, geen afbreuk aan hul
geloofwaardigheid
nie. Daar is verder geen grond vir die betoog dat hulle
waarnemingsvermoë in enige opsig aangetas was deur drank wat hulle vroeer
die aand by die partytjie gedrink het nie.
Wat die eerste appellant se weergawe betref, is ek nie verbaas dat die
Landdros dit verwerp het nie. Sy getuienis dat hy die indruk
gevorm het dat
tweede appellant slegs in noodweer handel, is 'n opsigtelike
15/...
15.
leuen. Dieselfde geld vir sy getuienis dat die klaer op die grond beland het
omdat hy mis geslaan en sy balans verloor het. Sy getuienis
dat die tweede
appellant die klaer gevra het om op te hou om na hom te slaan; dat hy in die
motor bly sit het terwyl die ander twee
"besig was om te baklei", sowel as sy
getuienis oor hoe hy die klaer agterna gehelp het om by sy voordeur te kom, is
so onwaarskynlik
dat dit met reg as leuenagtig verwerp is. Na my mening het die
Landdros tereg bevind dat die eerste appellant self deelgeneem het
aan die
aanranding op die klaer en hom verder met die laakbare optrede van die tweede
appellant vereenselwig het. Hy is gevolglik
tereg skuldig bevind.
Ek kom nou
by die appèl teen die vonnisse. Die advokate was dit eens dat die
vervangende vonnis
16/...
16.
wat deur die Hof a
quo
opgelê is, ongeldig is omdat dit die
Verhoorhof se jurisdiksie van 12 maande gevangenisstraf oorskry. Sien
S v
Louw
1990(3) SA 116(A) op 126 B. Daar is namens die appellante betoog dat
verpligte gevangenisstraf onvanpas is omdat die aanranding op
die klaer niks
meer as 'n voortsetting was van die bakleiery wat reeds op die partytjie begin
het nie en dat daar gevolglik 'n groot
mate van provokasie aanwesig was. Daar is
verder daarop gewys dat beide appellante geen vorige veroordelings het nie,
goeie werk
het, families het om te onderhou en sterk onder die invloed van drank
was.
Die gebeure by die klaer se huis toon, na my mening, onteenseglik dat
die twee appellante daarop uit was om nie net verder te baklei
nie, maar om
wraak te neem vir wat by die partytjie gebeur het. Die klaer
17/...
17.
het geen weerstand van enige aard gebied nie, óf omdat hy toe reeds
genoeg gehad het, òf, meer waarskynlik, omdat hy
swaar onder die invloed
van drank was. Hy is platgeslaan en toe hy weer orent kom en hulpeloos teen die
draad gehang het, is hy weggetrek
sodat die aanranding voortgesit kon word. Die
tweede appellant het daarna nie opgehou slaan voordat die klaer bewusteloos en
ernstig
beseer op die grond neergesak het nie. Daarna is die klaer nog in sy
gesig getrap. Dit is koelbloedige, genadelose en barbaarse optfede
van heeltemal
'n ander aard as dié tussen twee persone wat by 'n partytjie handgemeen
raak. Die optrede van die twee appellante
was vooraf beplan en daar was genoeg
tyd vir besinning. Alhoewel dit in die guns van die eerste appellant tel dat hy
nie self na
die klaer geslaan of geskop het nie, het hy voortdurend die
18/...
18.
tweede appellant aangehits. Die eerste appellant het ook nie die provokasie
van die vroeere bakleiery ervaar nie en het waarskynlik
minder gedrink as die
ander. Soos ek reeds daarop gewys het, was sy getuienis dat hy reeds om ongeveer
agt-uur die aand die partytjie
verlaat het. Gevolglik behoort, na my mening,
dieselfde vonnis vir beide appellante opgelê te word. Met behoorlike
inagneming
van al die versagtende faktore waarna ons verwys is, is ek van mening
dat die aanranding op die klaer in so 'n ernstige lig beskou
moet word dat reg
slegs sal geskied indien verpligte gevangenisstraf vir beide appellante
opgelê word. 'n Gepaste vonnis is,
na my mening, een van 12 maande
gevangenisstraf waarvan 6 maande gevangenisstraf opgeskort word.
Ek kom ten slotte by die redes waarom
19/...
19.
die aansoek om verdere getuienis by wyse van beëdigde verklarings voor
hierdie Hof te plaas, geweier is.
Die verdere getuienis was dié van
Ockert Barnard, by wie se huis die partytjie die betrokke aand gehou is, die
klaer en 'n
maatskaplike werkster, mej E M J van der Merwe. Laasgenoemde se twee
beëdigde verklarings het slegs betrekking op vonnis.
Die beginsels
waarvolgens aansoeke om verdere getuienis te lei, deur hierdie Hof oorweeg word,
is welbekend. Sien
Staatspresident en 'n Ander v Lefuo
1990(2) SA 679(A)
op 691C-692D en
S v Louw
,
supra
, op 123F-124G. Die uitgangspunt is
dat verlof om verdere getuienis te lei, slegs in uitsonderlike gevalle
toegestaan word. Gewoonlik
moet aan sekere basiese vereistes voldoen word
voordat verlof verleen word. Wat die beoogde getuienis van Ockert Barnard
betref,
20/...
20.
bevredig die aansoek nie die eerste van hierdie vereistes nie.
Daar is naamlik geen redelik aanvaarbare verduideliking waarom sy getuienis,
wat
beskikbaar was, nie aangebied is nie. Die blote feit dat eerste appellant sy
eie verdediging waargeneem het, is onvoldoende. Volgens
alle aanduidings was hy
deeglik bewus van sy reg om stawende getuienis te lei, afgesien daarvan dat hy
deur die Landdros uitdruklik
daaromtrent ingelig is. Die nuwe getuienis van die
klaer het te doen met die aanvaarding van 'n bedrag ter skikking van 'n eis vir
skadevergoeding wat die klaer teen die twee appellante ingestel het en is
klaarblyklik bekom ten einde omstandighede ter verligting
van vonnis te skep wat
nie tydens die verhoor bestaan het nie. Die skikking is aangegaan nadat die
appèl in die Hof a
quo
afgehandel is. Die
21/...
21.
nuwe getuienis van die maatskaplike werkster spruit uit 'n
ondersoek na die tweede appellant se vermoë om sy minderjarige kinders
te
versorg, wat sy gedoen het met die oog op 'n egskeidingsaksie tussen hom en sy
eggenote. Hierdie ondersoek is gedoen nadat die
appèl in die Hof a
quo
afgehandel is. In
S v Marx
1989(1) SA 222(A) wys SMALBERGER
AR, op bl 226 B-C, daarop dat vonnis bepaal word na aanleiding van feite en
omstandighede wat ten
tyde van vonnisoplegging bekend ' is, en dat feite wat
daarna bekend word, slegs in uitsonderlike omstandighede op appèl in
aanmerking geneem kan word. Ek beskou nie die omstandighede waaronder die nuwe
getuienis van die klaer en die maatskaplike werkster
aangebied word, as enigsins
uitsonderlik nie. Wat die klaer se nuwe getuienis betref, lyk dit my na 'n
poging om deur die betaling
van
22/...
22.
vergoeding die skyn van berou te verwek. By die verhoor was daar geen teken
te bespeur van so 'n gesindheid nie. Wat betref die maatskaplike
werkster se
getuienis, is daar niks nuuts in wat nie ten tyde van die verhoor vasgestel kon
gewees het nie. Weens hierdie redes is
die aansoek afgewys.
Die volgende bevel word gemaak:-
1. Die eerste appellant se appel teen sy skuldigbevinding word afgewys.
2. Die eerste en tweede appellante se appèl teen hul vonnisse wat deur
die Transvaalse Provinsiale Afdeling opgelê is,
slaag. Die vonnisse wat
deur daardie Hof opgelê is, word tersyde gestel en met die volgende
vonnisse vervang :-
Elke appellant word gevonnis tot twaalf maande gevangenisstraf waarvan ses
maande gevangenisstraf vir drie jaar opgeskort wprd op
voorwaarde dat hy nie
weer skuldig bevind word nie aan aanranding
met
23/...
23.
die opset om ernstig te beseer wat gedurênde die tydperk
van opskorting gepleeg word.
"
W. VIVIER AR.
HOEXTER AR)
KRIEGLER Wn AR) Stem saam.