About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1991
>>
[1991] ZASCA 39
|
|
Suid-Afrikaanse Geneeskundige en Tandheelkundige Raad v Strauss en Andere (136/90) [1991] ZASCA 39; 1991 (3) SA 203 (AD); [1991] 4 All SA 554 (AD) (28 March 1991)
DIE SUID-AFRIKAANSE GENEESKUNDIGE- EN
TANDHEELKUNDIGE
RAAD
Appellant
en
HERCULES JACOBUS STRAUSS
1ste Respondent
KATHERINA JOHANNA DE
WET
2de Respondent
IGNATIUS VAN HEERDEN
3de Respondent
Saaknommer 136/90
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
DIE SUID-AFRIKAANSE GENEESKUNDIGE- EN
TANDHEELKUNDIGE RAAD
Appellant
en
HERCULES JACOBUS STRAUSS
1ste Respondent
KATHERINA JOHANNA DE WET
2de Respondent
IGNATIUS VAN HEERDEN
3de Respondent
CORAM:
HOEXTER, NESTADT, STEYN, F H GROSSKOPF, ARR et PREISS, Wnd
AR
VERHOOR:
21 Februarie 1991
GELEWER:
28 Maart 1991
UITSPRAAK
HOEXTER, AR ...
2
HOEXTER, AR,
Dit is 'n siviele appèl. Die appellant is die
Suid-Afrikaanse Geneeskundige en Tandheelkundige Raad ("die Raad"). Die
respondente
is onderskeidelik dr H J Strauss, dr K J de Wet, en dr I van Heerden
("die drie geneeshere") wat kragtens die Wet op Geneeshere,
Tandartse en
Aanvullende Gesondheidsberoepe, 56 van 1974 ("die Wet") as geneeshere
geregistreer is.
Op 27 Mei 1988 het 'n tugkomitee van die Raad ("die
tugkomitee") die drie geneeshere aan onbetaamlike gedrag skuldig bevind. Die
straf
van 'n waarskuwing is hul opgelê. In die Oranje Vrystaatse
Provinsiale Afdeling het die drie geneeshere gedurende November
1988 ingevolge
hofreël 53 teen die Raad 'n bevel aangevra waarvolgens die
tugkomitee.se
skuldigbevinding en straf hersien
en tersyde gestel word. Die aansoek, wat deur die Raad bestry is, het voor VAN
COLLER en LOMBARD,
RR gedien. Die aansoek om
3
hersiening het geslaag en die hof a quo het sowel die
skuldigbevinding as
die straf van die tugkomitee ten
opsigte van elkeen van die drie geneeshere
tersyde gestel.
Verder het die hof benede gelas dat die Raad die koste
van
die hersieningsaansoek moet dra. Met verlof van die hof a
guo kom die
Raad na hierdie afdeling in hoër beroep.
Voor 1 Junie 1987 het die drie geneeshere te
Petrusburg as algemene praktisyns in vennootskap
gepraktiseer. Onder die
venootskap se pasiënte was lede
van die Mediese Skema van die
Suid-Afrikaanse
Vervoerdienste ("Transmed"). Gedurende Augustus 1987
het
Transmed 'n brief aan die Raad gerig wat 'n klagte teen die
drie
geneeshere bevat het. Dié brief het verwys na 'n
ondersoek wat
ingestel is na die vennoptskap:-
"....se eise vir die verskaffing van voordele aan
Transmed-voordeeltrekkers."
Paragrawe 4 en 5 van
gemelde brief het soos volg gelui:-
4
"4. Die ondersoek is pas afgehandel en die Hoofadjunk-kommissaris,
Suid-Afrikaanse Polisie, Tak Vervoerpolisiëring, Johannes-burg,
het die
volgende verslag uitgereik: 4.1 'Dr 'n J Strauss en vennote,
naamlik
K J de Wet en I van Heerden, Petrusburg, is aangekla vir oortreding van artikel
22A gelees met artikel 29(k) en artikel 30(1 )(a)
van Wet 101 van 1965 deurdat
hulle wederregtelik toegelaat het dat ontvangsdames gelyste stowwe aan
kliënte verkoop of lewer
sonder dat hulle volgens Wet daartoe gemagtig
is.
4.2 Die bovermelde dokters het as volg skulderkenning
betaal:
4.2.1
H J Strauss het op 144 aan-klagtes 'n skulderkenning ten bedrae
van R432,00 be-taal.
4.2.2
K J de Wet het op
488 aan-klagtes 'n skulderkenning ten bedrae van R1 464,00
betaal.
4.2.3
I van Heerden het op 114
aanklagtes 'n skulderkenning ten bedrae van R342,00
betaal.'
5. Die saak word voorgelê vir enige aksie wat u nodig mag
vind."
Dit is gemene saak dat elkeen van die drie
5
geneeshere in die landdroshof te Petrusburg ingevolge art
57 van Wet 51
van 1977 erken het dat hy of sy skuldig is
aan die oortredings in die
betrokke dagvaardings vervat;
en ten opsigte daarvan boetes betaal het, soos
meer
volledig in para 4 van Transmed se voormelde brief aangedui
word. In
die betrokke dagvaardings is elk van die drie
geneeshere oortreding van art
22A van Wet 101 van 1965 ten
laste gelê:
"DEURDAT die beskuldigde synde 'n geneesheer op of omtrent die datum genoem
in die tweede kolom van die aanhangsel tot hierdie klagtestaat
en te of naby
Petrusburg in die distrik Petrusburg wederregtelik toegelaat het dat haar/sy
ontvangsdame en/of ander lede van haar/sy
personeel (wat nie die houer(s) van 'n
lisensie was of in diens was van die houer van 'n
lisensie soos bedoel in genoemde artikel 22A nie) gelyste stowwe aan kliente
soos genoem in die derde kolom van die aanhangsel verkoop
het."
Die tugbevoegdhede van die Raad kom in Hoofstuk
IV
(in arts 41-51) van die Wet voor. Art 41 skryf
bepalings voor vir die ondersoek deur die Raad na beskuldi-
6
gings van wangedrag. Kragtens die Wet is daar regulasies uitgevaardig
betreffende die instelling van ondersoeke ingevolge art 41.
Ingevolge reg 3(3)
het die Raad gelas dat Transmed se klagte na die Raad se geneeskundige komitee
vir voorlopige ondersoek ("die
komitee") verwys moet word. Die komitee het
besluit dat daar prima facie bewys is van onbetaamlike of skandelike gedrag aan
die kant
van die drie geneeshere; en dat 'n pndersoek na hul gedrag ingestel
moet word.
Die hoofklagte wat by die tugondersoek teen die drie geneeshere
ingebring is, is dat hulle, synde geregistreerde geneeshere, skuldig
is aan
onbetaamlike of skandelike gedrag wat, indien hul beroep in aanmerking geneem
word, onbetaamlik of skandelik is, deurdat op
of ongeveer 26 Februarie 1987 in
die landdroshof te Petrusburg hulle skuldig bevind is aan 'n aantal oortredings
van art 22A van
Wet 101 van 1965 soos gewysig. In die alternatief
7
is die -drie geneeshere daarvan aangekla dat hulle
skulderkennings betaal
het op 'n aantal aanklagtes van
oortreding van art 22A van Wet 101 van 1965.
Die
tugkomitee het die drie geneeshere skuldig bevind op die
hoofklagte en
wel aan onbetaamlike gedrag.
Namens die pro forma-aanklaer het 'n prokureur,
mnr G E van der Spuy ("die aanklaer") by die tugkomitee se
ondersoek
opgetree. Art 42(2) van die Wet lees soos
volg:-
"Aan iedereen wie se gedrag die onderwerp van 'n ondersoek kragtens art 41
uitmaak, moet die geleentheid gegun word om, òf
in eie persoon òf
deur sy regsverteenwoordiger, op die beskuldiging te antwoord en sy verdediging
aan te voer."
Ten tyde van die
verrigtinge voor die tugkomitee
het adv P C F van Rooyen die verdedlging van die drie
geneeshere aangevoer. Dieselfde advokaat het die
hersieningsaak namens die drie geneeshere en hul appèl voor
hierdie hof behartig. Namens die Raad is die appèl deur
8
mnr M C Maritz SC, bygestaan deur mnr J 'n Dreyer, beredeneer.
Die
voorsitter van die tugkomitee was die president van die Raad. Ter aanvang van
die verrigtinge het elkeen van die drie geneeshere
op die klagtes onskuldig
gepleit. In die loop van die daaropvolgende ondersoek is die getuienis van slegs
twee getuies aangevoer.
Die aanklaer het die assistent-registrateur van die Raad
as enigste getuie opgeroep. Hierdie getuie het bloot formele getuienis
afgelê
en sekere dokumente ingelewer, o a gewaarmerkte afskrifte van die
strafregtelike dagvaardings wat op Petrusburg aan die drie geneeshere
beteken is
en wat van die landdroshofstukke deel uitmaak. Laasgenoemde dokumente het
ingesluit in die geval van elkeen van die drie
geneeshere 'n erkenning, onder sy
of haar naamtekening, dat hy of sy aan die oortredings in die betrokke
dagvaarding vervat, skuldig
is; asook 'n gepaardgaande kwitansie wat die bedrag
van die betaalde boete aandui.
9
Namens die drie geneeshere het slegs dr De Wet (die tweede
respondent by
hierdie appèl) getuig.
Die uitspraak van die hof a quo is deur regter
VAN COLLER gelewer. In sy uitspraak het die belese regter
die hoofinhoud
van dr De Wet se getuienis in die volgende
woorde bondig maar juis
opgesom:-
"Sy en die ander twee applikante het in vennootskap te Petrusburg gepraktiseer
as geneeshere. Daar het 'n persoon ondersoek kom instel
na die sake van die
praktyk. Hoewel die persoon te kenne gegee het dat hy geen bedrog kon vind nie
het hy beweer dat daar wel oortredings
plaasgevind het deurdat die applikante
toegelaat het dat daar geresepteer word deur 'n
ontvangsdame. Volgens tweede applikante is probleme ondervind met 'n mediese
fonds ten aansien van die wyse waarop betaling geëis
is ten aansien van
medisyne wat verskaf is. Daar is vereis dat daar ook by die rekening 'n vorm
ingevul moes word wat die voorskrif
uiteensit. As gevolg hiervan het die
ontvangsdame die voorskrifvorm voltooi vir versending aan die mediese fonds. Op
die wyse is
daar ten onregte tot die gevolgtrekking gekom dat die ontvangsdame
medisyne verkoop het. Die werklike posisie is volgens die getuienis
van tweede
applikante aan die persoon wat kom ondersoek instel het, verduidelik maar hy het
nie gehoor gegee aan die
10
verduideliking nie. Vanweë sekere oorwegings en veral onder andere om
publisiteit te vermy, het die applikante besluit om die
skulderkennings te
betaal alhoewel die oortredings nie gepleeg is nie."
Die bepalings van art 42(2) van die Wet is
reeds
genoem. Alvorens daar na die verrigtinge by
die
tugondersoek teruggekeer word, is dit dienstig om etlike.
ander
bepalings in Hoofstuk IV van die Wet vervat, wat op
die onderhawige geval
betrekking het, onder die loep te
neem. Hier ter sprake, so meen ek, is veral
die bepalings
van arts 41, 42(1) en 45(1), (2) en (3). Art 41 lees
soos
volg:-
"41(1) Die Raad is bevoeg om 'n ondersoek in te stel na 'n klagte,
beskuldiging of bewering van onbetaamlike of skandelike gedrag
teen 'n persoon
wat kragtens hierdie Wet geregistreer is en om by skuldig- bevinding van so 'n
persoon aan sodanige gedrag, enige
van die strawwe voorgeskryf in artikel 42(1)
op te lê : Met dien verstande dat in die geval van 'n klagte, beskuldiging
of
bewering wat die onderwerp van 'n strafsaak in 'n geregshof uitmaak, of
11
waarskynlik sal uitmaak, die raad die hou van 'n ondersoek kan uitstel totdat
daardie saak afgehandel is.
(2) Die raad kan, wanneer by hom twyf el bestaan daaroor of 'n ondersoek
gehou behoort te word, in verband met die betrokke klagte,
beskuldiging of
bewering oorleg pleeg met of inligting inwin van enige persoon, met inbegrip van
die persoon teen wie die klagte
of beskuldiging ingebring of die bewering gemaak
is."
Sub-art (1) van art 42 lees soos volg:-
"42(1) ledere persoon wat kragtens hierdie Wet geregistreer is wat, na 'n
ondersoek gehou deur die raad, skuldig bevind word aan onbetaamlike
of
skandelike gedrag of gedrag wat, indien die persoon se beroep in aanmerking
geneem word, onbetaamlik of skandelik is, is strafbaar
met die een of ander van
die volgende strawwe:-
(a)
'n waarskuwing of 'n
berisping of 'n berisping en n waarskuwing; of
(b)
skorsing, vir 'n vasgestelde tydperk, in sy praktyk of die
verrigting van handelinge wat by uitstek by sy beroep tuishoort;
of
(c)
skrapping van sy naam uit die
register."
12
Sub-arts (1), (2) en (3) van art 45 lees soos volg:-
"45(1) Daar kan ingevolge die bepalings van hierdie Hoofstuk deur die raad
opgetree word teen iedere geregistreerde persoon wat, hetsy
voor of na
registrasie, deur
'n geregshof aan 'n misdryf skuldig bevind is, indien die raad van oordeel is
dat daardie misdryf onbetaamlike of skandelike gedrag
uitmaak of gedrag wat,
indien die persoon se beroep in aanmerking geneem word, onbetaamlik of skandelik
is en so 'n persoon is, by
bewys van die skuldigbevinding, strafbaar met die een
of ander van die strawwe bedoel in artikel 42 : Met dien verstande dat aan
so 'n
persoon voor strafoplegging 'n geleentheid gegun moet word om aan die raad 'n
verduideliking te verskaf ter vergoeliking van
die betrokke gedrag.
(2) Wanneer in die loop van verrigtinge voor 'n geregshof dit vir die hof
duidelik word dat daar prima facie-bewys bestaan van onbetaamlike
of skandelike
gedrag van die kant van 'n
geregistreerde persoon, of van gedrag wat, indien die persoon se beroep in
aanmerking geneem word, onbetaamlik of skandelik is, moet
die hof gelas dat 'n
afskrif van die oorkonde van die verrigtinge, of die gedeelte daarvan wat
tersaaklik is, aan die raad gestuur
moet word.
13
(3) Indien die raad die bevoegdhede aan hom verleen deur artikel 41 uitoefen,
moet hy iemand as pro forma-aanklaer aanstel om die
saak aan die raad voor te
lê : Met dien verstande dat die diensdoenende registrateur of 'n lid van
die raad nie aldus aangestel
word nie."
Nadat die aanklaer sy saak gesluit het, het die
advokaat namens die drie geneeshere 'n openingsrede gelewer
waarin hy dit
aan die raad gestel het dat hul verweer
daarop neerkom dat, in weerwil van
die skulderkennings in
die landdroshof, die drie geneeshere inderdaad nie
die
gewraakte oortredings gepleeg het nie. Die geldigheid van
die verweer
aldus aangedui, is toe deur die voorsitter van
die tugkomitee bevraagteken. Teenoor die advokaat het die
voorsitter o a
opgemerk:-
"Die raad beskik ook nie oqr die bevoegdheid om 'n
skuldigbevinding in die hof as verkeerd te aanvaar nie, dit kan ons ook nie doen
nie, maar u kan praat ten opsigte van versagting
as u wil of redes
aanvoer."
Met die oog op die regsgeldigheid van die
geopperde verweer
14
het die voorsitter vervolgens die aanklaer versoek om die
tugkomitee "op
die regspunte" toe te spreek. In die loop
van sy betoog dienaangaande het die
aanklaer o a gesê:-
"....die punt van artikel 45 sake is dat hierdie nie 'n hof van appel of 'n
hoërhof of 'n hof van hersiening of iets dergeliks
is nie wat kan inmeng
met die skuldigbevinding of wat self 'n
besluit mag neem dat die skuldigbevinding verkeerd was nie. So, indien die
getuienis gemik word om te bewys dat hulle verkeerd skuldig
bevind is, dan gaan
dit nie op voor hierdie hof nie maar wat my geleerde kollega wel mag doen is hy
mag getuienis lei ter versagting
van die aangeleentheid of hy mag getuienis lei
om te bewys dat ten spyte van die skuldigbevinding dit nie onbetaamlike of
skandelike
gedrag is nie...."
Nadat die getuienis
van dr De Wet deur die tugkomitee
aangehoor is, het die aanklaer en die
advokaat die
tugkomitee oor die meriete van die klagte toegespreek.
Ex
facie die oorkonde is dit duidelik dat die aanklaer nie op
h
skuldigbevinding aangedring het nie. Ter afsluiting van
sy betoog het die
aanklaer opgemerk:-
"Dit staan nie te betwyfel nie dat die partye skuldig bevind is aan hierdie
aanklagte soos
15
beweer in elkeen van die dagvaardings maar dit is uit die aard van die saak nie
die einde van die saak nie. U moet verder gaan en
u moet besluit of getuienis
aan u voorgelê is wat van so
'n aard is dat dit daarop neerkom dat hulle optrede nie op onbetaamlike of
skandelike gedrag neerkom nie.
By die oorweging van die aangeleentheid moet u uit die aard van die saak in
gedagte hou die getuienis wat hier voorgelê is
en net die getuienis wat
hier voorgelê is en wat dit betref het ons die verduideliking van mev De
Wet dat die skulderkennings
geteken is, dat hulle besef dat hulle skuldig bevind
is maar die omstandighede waaronder die skulderkennings geteken is en na
aanleiding
waarvan die skulderkennings gevolg is, van so 'n aard is dat daar
eintlik geen oortreding gepleeg is deur hulle nie of geen onbetaamlike
of
skandelike gedrag gepleeg is nie. Dit is basies die argument van die
anderkant.
Namens die pro forma-aanklaer wil ek u nie verder toespreek oor hierdie klag
nie, ek los dit in u diskresie."
Aan die hand van dr De Wet se onweersproke
getuienis
voor die tugkomitee het die drie geneeshere ter
ondersteuning van die
hersieningsaansoek wat hulle in die
hof a quo geloods het, aangevoer dat
hulle inderdaad nie
16
die verwyt van enige onbetaamlike optrede dra nie; en dat
die aangevoerde
getuienis geen ruimte bied vir enige
bevinding dat hulle aan die hoofklagte
skuldig is nie.
Ter bestryding van die hersieningsaansoek het die
voorsitter van die tugkomitee 'n gedronge beantwoordende
beëdigde
verklaring by die hof benede ingedien. Daarin
ontken hy dat in die loop van
die werksaamhede van die
tugkomitee enige onreëlmatigheid plaasgevind
het.
Paragrawe 4 en 5 van die beantwoordende verklaring lees
soos
volg:-
"4. Die komitee was eenparig van mening dat die oortredings van Artikel 22A van
Wet 101 van 1965, soos gewysig, ten opsigte waarvan
die huidige applikante
skulderkennings betaal het en waaraan hulle skuldig bevind is, minstens op
onbetaamlike gedrag neergekom het,
gesien in die lig ván die feit dat die
applikante al drie as geneeshere gepraktiseer het. Nakoming van die
statutêre
bepaling hou direk verband met die uitoefening van sodanige
beroep en verontagsaming daarvan kan tot ernstige gevolge
ly.
17
5. Die komitee het die getuienis wat ter vergoer liking aangebied is, oorweeg
en in aanmerking geneem. Omdat tweede applikante se
getuienis die komitee
tevrede gestel het dat sulke wanpraktyke as wat in hulle praktyk mag bestaan het
bloot van 'n tydelike aard
was en lankal uitgeskakel is, het die komitee besluit
om die straf so lig moontlik te stel."
Ek het reeds daarop gewys dat toe die aanklaer
die tugkomitee oor die meriete toegespreek het hy dit heel
pertinent
gestel het dat die blote feit van die
skuldigbevindings in die strafhof nie die einde van die
ondersoek beteken
nie; en dat dit die tugkomitee se plig
is om aan die hand van die aangevoerde getuienis te oorweeg
of die optrede
van die drie geneeshere sodanig is dat hulle
die verwyt van onbetaamlike of
skandelike gedrag dra.
Hierdie voorligting het egter nie by die tugkomitee
ingang
gevind nie. Hieromtrent het die hof benede in sy
uitspraak soos volg opgemerk:-
"Die getuienis wat deur tweede applikante gegee is, is nie in aanmerking geneem
by
18
oorweging van die vraag of die applikante skuldig is aan onbetaamlike gedrag
nie."
Dat die tugkomitee by sy ondersoek na
dié vraag die
getuienis van dr De Wet buite rekening gelaat het, en
dat
gemelde getuienis slegs ná die tugkomitee se
skuldigbevinding
van die drie geneeshere en bloot ter
strafversagting in aanmerking geneem is,
is volkome
duidelik. Hierdie feit straal sowel uit die oorkonde van
die
verrigtinge voor die tugkomitee as die strekking van
die beantwoordende
verklaring wat die voorsitter van die
Raad by die hof a quo ingedien het.
In die loop van sy betoog namens die Raad het mnr
Maritz in bedenking gegee dat die aanklaer se voorligting
aan die
tugkomitee m b t saaklikheid van dr De Wet se
getuienis rakende die Raad se beslissing oor die meriete
van die saak
ondeurdag was; en dat die wyse waarop die
tugkomitee die getuienis van dr De Wet benader en beoordeel
het inderdaad regtens suiwer en in ooreenstemming met die
19
voorskrifte van Hoofstuk IV van die Wet was.
Die strekking van die betoog wat die Raad se
advokaat aan ons voorgehou het, kan kortliks soos volg
saamgevat word.
Ofskoon dit deel van Hoofstuk IV van die
Wet uitmaak, staan sub-art 45(1)
wesenlik los van art 41.
Die bepalings van sub-art 45(1), aldus die betoog,
stel
as't ware 'n selfstandige en eiesoortige prosedure daar.
Mnr Maritz
steun in die eerste plek op die woorde -
".....en so 'n persoon is, by bewys van die skuldigbevinding, strafbaar met die
een of ander
van die strawwe " (Emfase aangebring)
wat in die
hoofdeel van sub-art 45(1) voorkom. Ten tweede
vestig hy die aandag op sekere
woorde waarmee die Wetgewer
die voorbehoudsbepaling by sub-art 45(1) ingeklee
het -
"Met dien verstande dat aan so 'n persoon voor strafoplegging 'n geleentheid
gegun moet word om aan die raad 'n verduideliking te
verskaf ter vergoeliking
van die betrokke gedrag." (Emfase aangebring)
Mnr
Maritz laat die blik vervolgens gaan op die verskil
20
tussen die woordgebruik in die voorbehoudsbepaling by subr-
art 45(1) en
die bewoording van die voorbehoudsbepaling by
sy onmiddellike statutêre voorganger wat gevind word in
sub-art
45(1) van Wet 13 van 1928 ("die vorige Wet"). Met
enkele en nie-tersaaklike
afwisselings in woordgebruik is
die strekking van die hoofdeel van art 45(1)
in die vorige
Wet dieselfde as dié van die huidige sub-art 45(1).
Die
voorbehoudsbepaling by sub-art 45(1) van die vorige Wet
("die ou voorbehoudsbepaling") verskil egter enigermate van
die huidige
voorbehoudsbepaling. Meer in besonder kom die
woorde "voor strafoplegging"
nie in die ou
voorbehoudsbepaling voor nie. Laasgenoemde lui:-
"Met die verstande dat aan so iemand geleentheid verleen moet word om aan die
raad of kommissie 'n
uitleg te gee wat sy gedrag in 'n gunstiger lig
stel." (Emfase aangebring)
Die betekenis wat aan art
45(1 ) van die vorige Wet, en in besonder die ou voorbehoudsbepaling, toegeskryf
moes word, het in Sachs
v South African Pharmacy Board
21
1947(1) 646 (T) onder die loep gekom. Dit was 'n
hersieningsaak wat voor
twee regters (MILLIN en NESER, RR)
gedien het. Die applikant was ingevolge
die vorige Wet h
geregistreerde apteker; en na afloop van 'n tugondersoek
is
hy skuldig bevind en tydelik geskors. In die loop van sy
uitspraak
verklaar regter MILLIN (op 650):-
"The effect of subsec 45(1) is that when once the Board has come to the
conclusion that the offence of which the registered person
has been convicted
constitutes improper or disgraceful conduct (in the case of any person) or
conduct which is improper or disgraceful
when regard is had to the persons'
calling, he may be dealt with in accordance with Chapter IV of the Act, i e he
may be cautioned,
suspended, or have his name erased from the register on proof
of the conviction. The Board may form its opinion without having any
evidence
before it other than evidence of the conviction and this is to be contrasted
with an enquiry under sec 41 into charges of
improper and disgraceful conduct
not arising out of any conviction in a Court of law; in this case the Board
cannot impose any sanction
until the conduct charged, if denied, has been proved
before it. The effect of the proviso is that the accused person is to have
an
opportunity of giving an explanation in extenuation of his conduct and this, in
our opinion, inclndes an
22
attempt by him to show that his conduct should not be regarded as either
disgraceful or improper. This, of course, contemplates an
enquiry into that
question if raised by the person charged." (Emfase
aangebring)
'n Gelykluidende wetsuitleg, weer eens
by monde yan regter
MILLIN, vind mens in die latere beslissing van Read v S
A
Medical and Dental Council 1949(3) SA 997 (T). Daar word
op 1016-7 o a
die volgende gesê:-
"The object of sec 45 is simply to dispense with proof of the act or acts
complained of when there has been a conviction based on
the commission of the
act or acts. All that is necessary in such a case is proof of the conviction and
an opinion formed by the Council,
after hearing the registered person in
extenuation of his conduct, that the offence constituted improper or disgraceful
conduct either
in itself or in relation to the person's professional calling."
(Emfase aangebring)
Mnr Maritz het ter oorweging
gegee dat die Wetgewer nie
gediend was nie met die vertolking van die ou
voorbehoudsbepaling in die
sake van Sachs en Read (supra),
nl dat aan die aangeklaagde voor die tugkomitee 'n
23
geleentheid verleen moet word om aan te toon dat sy doen en late nie op
onbetaamlike of skandelike gedrag neerkom nie; en dat die
Wetgewer bygevolg dit
goed geag het om deur die invoeging van die woorde "voor strafoplegging" by die
huidige voorbehoudsbepaling
te verorden dat enige verduideliking deur die
aangeklaagde slegs ná sy skuldigbevinding deur die tugkomitee toelaatbaar
is
en dat dit bloot ter strafversagting kan dien. Uit hoofde hiervan is betoog
dat die betekenis wat in die Sachs- en Read-beslissings
aan die ou
voorbehoudsbepaling toegeskryf is, as ondeugdelik en regtens ongegrond vir die
huidige voorbehoudsbepaling beskou moet
word. Die juiste gedagteinhoud van art
45(1) van die Wet, so lui die argument, is derhalwe dat die Wetgewer dit
goedgedink het om
'n aangeklaagde geneesheer sonder meer met die een of die
ander kategorie beroepsvergryp te brandmerk vir geval (1) 'n strafhof hom
aan
enige misdryf skuldig bevind het,
24
en (2) die raad of sy tugkomitee van' oordeel is dat daardie
misdryf
onbetaamlik of skandelik is. Die "verduideliking"
soos by die voorbehoudsbepaling bedoel, kan bygevolg
geen
vêrduideliking behels wat inhou dat die aangeklaagde,
objektief
beskou, nie skuldig is aan die misdryf waaraan
die strafhof hóm
skuldig bevind het nie.
Nadat hy die bewoording van art 45(1) van die Wet
krities in oënskou geneem het, het die hof a quo tot die
slotsom geraak dat dusdanige vertolking nie die werklike
bedoeling van die
Wetgewer sou weerspieel nie. In sy
uitspraak het VAN COLLER, R hom
hieromtrent soos volg
uitgelaat:-
"So 'n vertolking sou beteken dat die geregistreerde persoon in die
verhoorproses nie die geleentheid gebied word om sy saak oor
die vraag of die
misdryf skandelike of onbetaamlike gedrag uitmaak, te stel nie. Dit sou
onredelik wees en in stryd met die vermoede
dat die Wetgewer nie 'n onredelike
resultaat beoog nie. Die vertolking sou ook strydig wees met die bepalings in
Artikel 45 dat ingevolge
die bepalings van dié hoofstuk opgetree kan
word..."
25
Verder aan in die uitspraak verklaar die belese regter:-
"Na my mening moet Artikel 45 so vertolk word dat daar ná bewys van die
skuldigbevinding aan die geregistreerde persoon ooreenkomstig
die bepalings van
Artikel 42(2) die geleentheid gegee moet word om sy verdediging aan te voer.
Daarna moet oorweeg word of die persoon
hom skuldig gemaak het aan onbetaamlike
of skandelike gedrag, en indien dit bevind sou word, kom die voorbehoudsbepaling
ter sprake."
Om die kwessie van wetsuitleg wat in
die onderhawige appèl ontstaan behoorlik in perspektief te stel, is ter
aanvang twee algemene
opmerkings nie onvanpas nie. Met die oog op die argument
namens die appellant dat sub-art 45(1) van die Wet alleenstaande 'n eiesoortige
prosedure skep, is dit gemeenplasig maar nodig om te sê dat daardie
sub-artikel in die samehang van al die bepalings van Hoofstuk
IV vertolk moet
word. In Colguhoun v Brooks
14 AC 493
(HL) verklaar LORD HERSCHELL op 506:-
26
"It is beyond dispute, too, that we are entitled and indeed bound when
construing the terms of any provision found in a statute to
consider any other
parts of the Act which throw light upon the intention of the Legislature and
which may serve to show that the
particular provision ought not to be construed
as it would be if considered alone and apart from the rest of the
Act."
Daarbenewens is dit opvallend dat sub-art (3)
van art 45
self die bepalings van art 41 byhaal. Tweedens dien
opgemerk te
word dat by die interpretasie van sub-art 45(1)
die kernfeit na vore tree dat
dit hier gaan oor
dissiplinêre strafmaatreëls wat teen lede van 'n
beroep
geneem word; en wat op hul bestaande regte en voorregte
ernstige
inbreuk kan maak. Hierby is derhalwe onmiddellik
ter sprake daardie
reëls van natuurlike geregtigheid en
billikheid waarvolgens, in die
algemeen gesproke, geskille
bereg moet word. Vgl. Administrator, Transvaal,
and
Others v Zenzile and Others 1991(1) SA 21 (A) op 36 I-J.
Die erkende
reg wat 'n persoon het om sy saak te stel, word
27
in Administrateur van Suidwes-Afrika en 'n Ander v Pieters
1973(1) SA 850 (A) op 860G in die volgende woorde deur
BOTHA, AR
opgesom:-
"Dit is ....algemeen gesproke duidelik dat waar h
openbare liggaam of gesag statutêr gemagtig word om 'n beslissing te gee
wat die goed, vryhede of bestaande regte van 'n ander
nadelig kan raak, of waar
die beslissing bestaande regte kan aantas of regsgevolge vir andere mag inhou,
daardie ander persoon of
persone die reg het, tensy die teendeel uit die
magtigende bepaling blyk, om toegelaat te word om sy saak te stel voordat daar
so
'n beslissing teen hom geneem word."
In gewysdes
van hierdie hof is in die verlede die
aanwending van die stelreël audi
alteram partem soms aan
die hand van die bestaan van 'n vermoede verklaar,
terwyl by
ander geleenthede daar eerder van die standpunt uitgegaan
is dat
die betrokkene beskik oor 'n gevestigde reg om
aangehoor te word. Kyk
Attorney-General, Eastern Cape v
Blom and Others 1988(4) SA 645 (A) op
660F-662F. In
laasgenoemde beslissing (op 662F-I) het hierdie hof egter
eenparig voorkeur verleen aan die beskouing dat die
28
betrokkene inderdaad oor 'n reg om aangehoor te word, beskik.
Vir die
redes hierna bespreek, deel ek die siening van die hof a quo by sy uitleg van
sub-art 45(1). Ofskoon die bepalings van gemelde
sub-artikel na woordlui
letterlik dui op die vertolking waarvoor die appellant se advokaat hom beywer,
sou 'n letterknegtelike uitleg
ongerymdhede meebring en op 'n gevolg uitloop wat
nouliks anders as grof onbillik bestempel kan word. Die letterlike uitleg het
tot
gevolg dat die "ondersoek" na 'n
beweerde beroepsvergryp deur 'n
geneesheer dermate verskraal dat dit ontaard in 'n klug waarby die tugkomitee
bloot die funksie van
'n rubberstempel vervul. In weerwil van 'n
geneesheer se pleit van onskuldig by die tugondersoek, sonder dat hy enige
inspraak het in die verrigtinge wat die tugkomitee se uitspraak
voorafgaan, en
eenvoudig uit hoofde van die raad se voorafbepaalde prima facie beskouing
van
29
die meriete van die geval, word die geneesheer op stel en
sprong skuldig
bevind.
Na my beskeie oordeel is die betekenis wat die
hof a quo aan die sub-artikel geheg het 'n uitleg waarvoor
die woorde
redelikerwys vatbaar is. Ofskoon die
vertolking van die hof benede op 'n
minder letterlike
betekenis neerkom, bring dit mee dat die drakoniese
strengheid van die letterlike uitleg vermy word. In
Principal Tmmigration
Officer v Bhula 1931 AA 323 sê
appèlregter WESSELS op 336:-
"It has been repeatedly laid down by this Court that where a statute is clear,
the Court must give effect to the intention of the
Legislature, however harsh
its operation may be to individuals affected thereby. Where, however, two
meanings may be given to a section,
and the one meaning leads to harshness and
injustice, whilst the other does not, the Court will hold that the Legislature
rather
intended the milder than the harsher
meaning."
Die opvatting dat sub-art
45(1) 'n eiesoortige
prosedure skep wat die aangeklaagde sy fundamentele reg om
30
sy saak te stel, ontneem, is na my mening verkeerd. Wanneer daar gekyk word
of die Wetgewer by sub-art 45(1) bedoel het om 'n aangeklaagde
gemelde reg te
ontneem, kom nie alleen die woorde van die sub-artikel nie, maar al die
bepalings van Hoofstuk IV van die Wet onder
die vergrootglas. En wanneer die
bepalings van Hoofstuk IV in geheel beskou word, dan staan dit m i onmiskenbaar
vas dat ook waar
die raad hom op sub-art 45(1) beroep 'n
aangeklaagde wat op
die beskuldiging wil antwoord en wat begerig is om sy verdediging aan te voer,
'n geleentheid mioet kry om sy
of haar saak te stel. By die woorde "voor
strafoplegging" in die voorbehoudsbepaling is daar nie noodwendig inbegrepe die
gedagte
"na skuldigbevinding aan onbetaamlike of skandelike gedrag" nie. Hoe dit
ook sy, vir sover die woorde "voor strafoplegging" aanduiding
mag bevat dat die
verduideliking wat die aangeklaagde gegun moet word slegs op strafversagting en
nie op die meriete
31
van sy verdediging betrekking het nie, is daardie aanduiding na my oordeel
lynreg in stryd en onbestaanbaar met die klaarblyklike
bedoeling van die
Wetgewer.
Die reeds aangehaalde opmerkings van regter MILLIN in die Sachs- en
Read-sake (supra) ten opsigte van die betekenis van die ou voorbehoudsbepaling
deug eweseer, so meen ek, by uitleg van die huidige voorbehoudsbepaling in
sub-art 45(1) van die Wet. Die twispunt waaroor die tugkomitee
in die
onderhawige geval 'n beslissing moes gee was die vraag of die drie geneeshere
aan die beroepsvergryp van onbetaamlike of skandelike
gedrag skuldig is. Indien
die aangeklaagdes by aanvang van die verrigtinge voor die tugkomitee skuldig sou
gepleit het, of indien
hul onskuldig sou gepleit het maar geen getuienis pp die
meriete van die beskuldiging sou aangevoer het nie, sou die tugkomitee regtens
bevoeg gewees het om alleen aan die hand van die bewese skuldigbevindings van
die strafhof die drie
32
geneeshere aan onbetaamlike of skandelike gedrag skuldig te bevind, en hul
een of ander van die strawwe by art 42 bedoel, op te lê.
Dan het hulle nie
gebruik gemaak van die geleentheid om aangehoor te word nie. Die drie geneeshere
het egter onskuldig gepleit en
daarna wel getuienis op die meriete aangevoer. In
hierdie omstandighede het die Wet vereis dat die tugkomitee, met behoorlike
inagneming
van die aangevoerde getuienis, 'n eie en selfstandige diskresie moet
uitoefen om te besluit of die drie geneeshere aan die beweerde
beroepsvergryp
skuldig is of nie. Wat egter gebeur het is dat die tugkomitee homself regtens
gedwonge geag het om die getuienis namens
die drie geneeshere aangebied van
oorweging uit te sluit. Hierdie regsdwaling het tot gevolg dat die tugkomitee
versuim het om sy
aandag te bestee aan die geval wat aan sy oordeel onderwerp
is. Ek gaan derhalwe akkoord met die volgende slotsom waartoe regter
VAN COLLER
in die hof a quo geraak het -
33
"Omdat die tugkomitee die omvang van sy bevoegdhede verkeerd vertolk het, het
die tugkomitee die bevoegdheid wat aan hom opgedra
was in werklikheid nie
uitgeoefen nie en kan met die bevinding op hersiening ingemeng
word."
Om voorgaande redes kan die
appèl nie slaag nie.
In die loop van sy uitspraak in die hof benede het regter
VAN COLLER soos
volg opgemerk:-
"....daar is na my mening geen aanduidings in die Wet of in artikel 45 dat bewys
van die skuldigbevinding afdoende bewys van die
pleging van die misdryf in die
ondersoek teen die geregistreerde persoon sal wees nie. In die onderhawige
ondersoek was daar, deurdat
die skuldigbevinding bewys is, prima facie bewys van
die misdrywe soos uiteengesit in die
dagvaardings."
Met daardie sienswyse stem ek met
eerbied saam.
Ten slotte dien die volgende opgemerk te word.
In die buitegewone omstandighede van die onderhawige geval
was dit vir die
aangeklaagdes betreklik eenvoudig om die
prima facie-bewys wat die
skuldigbevindings in die strafhof
daargestel het, te weerlê. Waar 'n
voorafgaande
34
skuldigbevinding van 'n strafhof egter die kulminasie is van
'n
daadwerklike verhoor, en die strafhof se uitspraak op feite- en
geloofwaardigheidsbevindinge berus, sal die weerleggingsproses
voor 'n
tugkomitee uiteraard moeiliker wees.
Die appèl word met koste van die hand
gewys.
G G HOEXTER, AR
NESTADT, AR )
STEYN, AR )
F H GROSSKOPF, AR) stem saam
PREISS, Wnd AR )