About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1991
>>
[1991] ZASCA 33
|
|
S v Collett (199/90) [1991] ZASCA 33; 1991 (2) SA 854 (AD); [1991] 4 All SA 524 (AD) (26 March 1991)
Saak nr 199/90 /MC
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFR
IKA
(APPèLAFDELING)
In die saak tussen
ETHEL ANNE COLLETT
Appellant
- en -
DIE
STAAT
Respondent
CORAM:
CORBETT HR et HOEXTER, VIVIER,
EKSTEEN, NIENABER ARR.
VERHOOR:
7 Maart 1991.
GELEWER:
26 Maart 1991.
UITSPRAAK
VIVIER AR.
2/...
VIVIER AR:
Die appellant en 'n medebeskuldigde ("beskuldigde 1") is in die Landdroshof
in Johannesburg aangekla van 'n oortreding van art 2(a),
alternatiewelik art
2(b), van die Wet op die Misbruik van Afhanklikheidsvormende Stowwe en
Rehabilitasiesentrums 41 van 1971 ("die
Wet"). Die appellant is skuldig bevind
op die alternatiewe aanklag (besit van dagga) en gevonnis tot 'n boete van Rl
000 of ses maande
gevangenisstraf wat in die geheel vir 'n tydperk van vyf jaar
op die gebruiklike voorwaardes opgeskort is. Beskuldigde 1 is op beide
aanklagte
onskuldig bevind. Die appellant se appèl na die Witwatersrandse Plaaslike
Afdeling het nie geslaag nie. Verlof om
teen die skuldigbevinding te appelleer
is deur die Hof a
quo
3/...
3.
geweier, maar is daarna aan die appellant toegestaan na 'n
versoekskrif aan die Hoofregter.
Die f eite van die saak is ongewoon. Die
appellant het om ongeveer halftwaalf op 'n Saterdagoggend afgekom op 'n
plastieksak vol dagga
onder in 'n klerekas in 'n huis wat aan haar behoort en
waarin sy en haar vriend, beskuldigde 1, saamgewoon het. Sy het die sak
oopgemaak
en gesien dat dit dagga bevat. Die appellant se weergawe was dat sy
tot op daardie stadium onbewus was van die dagga en dat sy nie
geweet het aan
wie dit behoort nie, maar dat sy vermoed het dat dit aan van die bouers behoort
wat toe besig was met restourasiewerk
aan die huis, onder andere ook aan die
klerekas waarin die dagga gevind is. Die bouers het vrye toegang tot die huis
gehad en van
hulle toerusting en boumateriaal het oral in die huis
4/...
4.
rondgelê. Die appellant het getuig dat sy vir
beskuldigde 1 om ongeveer drie-uur daardie middag by
die huis terug verwag
het, en omdat hy die bouers in
diens geneem het, het sy besluit om die dagga
aan hom
te gee wanneer hy tuiskom sodat hy kon vasstel aan wie
die dagga
behoort en die nodige stappe kon neem om
daarvan ontslae te raak. Sy het
gevolglik die sak met
dagga tussen hulle klere in die hangkas versteek
omdat
sy bang was dat iemand die sak sou sien waar dit oop
en bloot onder in die klerekas gelê het. Haar
getuienis was dat sy vir geen oomblik gedink het dat
dit verkeerd is om die dagga te bêre en dit later aan
beskuldigde 1 te oorhandig nie. Beskuldigde 1 het
nie voor halftwee die nag by die huis gekom nie en was
toe sterk onder die invloed van drank. Die volgende
dag (Sondag) het hy halfeen die middag opgestaan en
5/...
5.
dadelik weer begin drink. Hy was die res van die dag onder die
invloed van drank. Daardie aand het hy begin om glase en ander breekware
in die
kombuis stukkend te gooi totdat sy die polisie ontbied het. Toe die polisie daar
kom was beskuldigde 1, soos konstabel Visser
dit gestel het, hewig onder die
invloed van drank. Terwyl Visser besig was om met beskuldigde 1 buite op die
stoep te praat, het
die appellant 'n ander polisieman na die slaapkamer geneem
en die sak met dagga aan hom oorhandig met die woorde dat dit beskuldigde
1 se
dagga is. Haar verduideliking vir hierdie optrede was dat sy wou gehad het dat
die polisie beskuldigde 1 moes arresteer omdat
sy vir hom bang was. Beskuldigde
1 is hierna- gearresteer en na die aanklagkantoor geneem waar hy aangehou is.
Later die aand het
die polisie teruggekeer en die appellant
6/...
6.
versoek om 'n verklaring te maak waarin sy bevestig dat dit
beskuldigde 1 se dagga was. Sy het geweier om enige verklaring hoegenaamd
te
maak en het toe die houding ingeneem dat sy nie weet wie se dagga dit is nie.
Die polisie het haar gevolglik arresteer en aangekla.
Die Landdros het die
appellant se weergawe as redelik moontiik waar aanvaar. Die vraag of sy art 2(b)
van die Wet oortree het, moet
gevolglik beantwoord word op die basis dat sy nie
vooraf van die dagga bewus was nie, dat sy die dagga gehou het met die opset om
dit by die eerste die beste geleentheid aan beskuidigde 1 as die
verantwoordelike persoon te oorhandig en dat sy in geen stadium
gedink het dat
dit verkeerd is om die dagga met die oog daarop te hou nie. Na my mening dui die
enkele feit dat die
7/...
7.
appellant die dagga aan die polisie oorhandig het, juis daarop
dat sy nie gedink het dat haar voorafgaande optrede verkeerd was nie.
Mnr
Vermeulen, namens die appellant, het betoog dat selfs in die veronderstelling
dat die appellant se "besit" van die dagga binne
die verbodsbepaling in art 2(b)
van die Wet val, sy nogtans nie wederregtelik gehandel het nie. Met 'n beroep op
Snyman,
Strafreg
, 2de uitgawe op bl 97 ev, het hy betoog dat die tydelike
"besit" van 'n artikel in stryd met 'n verbodsbepaling nie wederregtelik
is
indien die artikel "besit" word met die uitsluitlike doel om dit aan 'n
verantwoordelike persoon of die polisie te oorhandig nie,
omdat sodanige "besit"
dan nie teen die regsoortuiging van die gemeenskap sou indruis nie.
Snyman
, in die gedeelte waarna verwys word, beskou 'n
8/...
8.
handeling as wederregtelik as dit in stryd is met die regsopvattinge
van die gemeenskap. Die algemeen aanvaarde opvatting van ons
reg is dat 'n doen
of late wat strydig is met 'n strafnorm,
prima facie
wederregtelik is,
maar dat wederregtelikheid uitgesluit kan word as gevolg van besondere
omstandighede wat 'n regverdigingsgrond daarstel
en wat gevolglik die doen of
late veroorloof. (De Wet en Swanepoel,
Strafreg
, 4de uitgawe op 69;
Burchell en Hunt,
Criminal Law and
Procedure, Vol 1, 2de uitgawe op 330;
LAWSA Vol 6 para 37). Volgens
Snyman
, egter, is 'n doen of late, selfs al
is dit strydig met 'n regsnorm, en selfs in die afwesigheid van 'n bekende
regverdigingsgrond,
steeds nie wederregtelik nie, solank die regsopvattinge van
die gemeenskap dit nie afkeur nie. Sien die kritiek van Prof Burchell
op hierdie
beskouing in
1982 SALJ 466
9/...
9.
op 468-469. Volgens die aanvaarde wederregtelikheids= begrip in ons reg is
daar in die volgende drie sake beslis dat 'n verbode besitshandeling
met die
uitsluitlike doel om die betrokke artikel aan die polisie te oorhandig, steeds
wederregtelik was. Sien
R v Snyman
1959(1) SA 800(T) op 802 A-B;
S v
Nondyala
1971(1) SA 18 (OKA) op 19 E-G en
S v Brick
1973(2) SA 571(A)
op 580 G - 581 B. Daarteenoor is
S v Nqobo
1965(2) SA 728 (N) op 733 D-E
en
S v R
1971(3) SA 798(T) op 804 C-D beslis op die basis dat die verbode
besitshandelinge nie bewys is nie. In
S v Potwane
1983(1) SA 868(A) op
870 F-G is die vrae of die Staat die verbode besitshandeling en die
wederregtelikheid daarvan bewys het, oopgelaat
(op bl 870 F-G) en is die
appellant se skuldigbevinding tersyde gestel omdat hy nie die vereiste
wederregtelikheidsbewussyn gehad
het nie.
10/...
10.
In die
Brick
-saak is die appellant aan
besit van pornografiese materiaal in stryd met art 2(1) van Wet 37 van 1967
skuldig bevind, nadat hy die
verbode materiaal deur die pos ontvang en 24 uur
later nog nie daarvan ontslae geraak het nie. Die meerderheid van hierdie Hof
het
aanvaar dat sy bedoeling was om die verbode materiaal òf aan die
polisie te oorhandig òf te vernietig. Die appellant
se skuldigbevinding
is nogtans deur die meerderheid bekragtig op die basis dat by 'n behoorlike
uitleg van die verbodsbepaling, die
tydelike besit van die verbode materiaal met
die bedoeling om dit aan die polisie te oorhandig, nie aanspreeklikheid uitsluit
nie,
- maar hoogstens as 'n strafversagtende omstandigheid kan dien (op 581 A).
In die meerderheidsuitspraak wys OGILVIE THOMPSON HR op
580 D-E daarop dat
hierdie uitleg van die verbods=
11/...
11.
bepaling moontlik gevalle kan tref "which, from
a moral point of view, merit neither prosecution nor punishment . ..". Ook in
die
minderheidsuitspraak van JANSEN AR word dit beklemtoon (op 581 G-582 B) dat
die meerderheid se wye uitleg van die betrokke verbodsbepaling
tot onbillike
gevolge kan lei sodat die besitter van ongevraagde pornografiese materiaal,
nadat hy van die aard daarvan bewus geword
het, feitlik niks daarmee kan doen
sonder om die verbodsbepaling te oortree nie. In sy kommentaar op hierdie
uitspraak skryf A J
Middleton in
1974 THRHR 183
op 186 dat die appellant hom op
die regverdigingsgrond van noodtoestand sou kon beroep het. Omdat hy egter so
lank versuim het om
van die verbode materiaal ontslae te raak, was sy optrede
vir doeleindes van die verweer van noodtoestand nie redelik nie en sou
hy hom
derhalwe
12/...
12.
nie met sukses op die verweer kon beroep het nie. Hy wys
daarop dat die essensie van noodtoestand daarin bestaan dat 'n beskuldigde
een
regsnorm skend om 'n
ander, meer belangrike regsnorm, wat in die
omstandighede bedreig word, te. beskerm. Deur daadwerklike en in die
omstandighede redelike
beheer oor die verbode materiaal uit te oef en met die
oog daarop om dit so gou moontlik te vernietig of aan die polisie te oorhandig,
verhoed die beskuldigde 'n groter dreigende maatskaplike euwel, naamlik die
gebruik of verdere verspreiding van die betrokke stof
vir ongeoorloofde
doeleindes.
In die huidige saak sou die appellant haar, na my mening, ook denkbaar op die
regverdigingsgrond van noodtoestand kon beroep het indien
sy nie so lank getalm
het nie maar die dagga dadelik vernietig of aan
13/...
13.
die polisie oorhandig het. Dit, meen ek, is ook wat die gemeenskap van haar
sou verwag het. Daar is egter geen aanduiding in haar
getuienis dat sy enige van
hierdie stappe oorweeg het nie. Selfs indien die wederregtelikheid al dan nie
van die appellant se besitshandeling
dus bepaal moes word aan die hand van die
gemeenskapsoortuiging, soos deur mnr Vermeulen betoog, sou ek steeds geneig
gewees het
om haar optrede as wederregtelik te bestempel. Weens redes wat volg,
vind ek dit egter nie nodig om te beslis of die appellant se
besitshandeling
wederregtelik was of nie. Gevolglik is dit ook nie nodig om uitsluitsel te gee
oor die breë wederregtelikheidsbegrip
waarvoor mnr Vermeulen betoog het
nie. Die feite van hierdie saak bied, na my mening, geen regverdiging vir die
standpunt dat die
aanwending van die maatstaf van die
14/...
14.
regsoortuiging van die gemeenskap nodig is om
alle gevalle wat uit 'n morele oogpunt nie vervolgings- of strafwaardig is, van
aanspreeklikheid
te onthef nie.
Selfs indien aanvaar word dat die appellant
die dagga "besit" het binne die verbodsbepaling en dat daardie besit
wederregtelik was,
is ek van oordeel dat dit in die huidige saak, soos in
Potwane
se saak, wel by die appellant ontbreek het aan 'n ander vereiste
vir aanspreeklikheid naamlik wederregtelikheidsbewussyn. Dat skuld
'n vereiste
is vir 'n oortreding van art 2 (b) van die Wet, is duidelik (
S v Ngwenya
1979(2) SA 96 (A) op 100 A-C). Mnr Van Staden, namens die Staat, het verder
toegegee dat dolus alleen as skuldvereiste deur die Staat
bewys moet word.
Gevolglik moet die Staat ook bewys dat die appellant se besitshandeling met die
nodige wederregtelikheidsbewussyn
gepaard
15/...
15.
gegaan het. (
S v De Blom
1977(3) SA
513(A) op 532 E-
H,
S v Potwane
,
supra
, op 871 A-D en
S v
Hlomza
1987(1) SA 25(A) op 32 F). Die Landdros het aanvaar
dat die
appellant nie geweet het dat haar besitshandeling, dws beide die besitneming van
die dagga met die doel om dit aan beskuldigde
1 te oorhandig en haar besit
daarvan totdat dit aldus oorhandig kon word, wederregtelik was nie. Die feit dat
sy geweet het dat die
besit van dagga in die algemeen verbode is, is in hierdie
verband nie ter sake nie. Die vraag is of sy gedink het dat sý die
dagga
besit binne die verbodsbepaling. Die Landdros het aanvaar dat sy nie so gedink
het nie. Die appellant het derhalwe nie met
die vereiste dolus gehandel nie.
Die appel slaag gevolglik. Die skuldigbe= vinding en vonnis word tersyde
gestel.
W. VIVIER AR.
CORBETT HR)
HOEXTER AR)
EKSTEEN AR) Stem saam.
NIENABER AR)