About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Cape Town Labour Court, Cape Town
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Cape Town Labour Court, Cape Town
>>
2014
>>
[2014] ZALCCT 51
|
|
Cloete v R P Logistics (C 439/2013) [2014] ZALCCT 51 (21 October 2014)
REPUBLIEK
VAN SUID-AFRIKA
Nie
rapporteerbaar nie
DIE ARBEIDSHOF VAN SUID-AFRIKA, KAAPSTAD
UITSPRAAK
Saaknommer:
C 439/2013
In die
geskil tussen:
HENDRIK
CLOETE
.........................................................................................................
APPLIKANT
en
R P
LOGISTICS
.............................................................................................................
RESPONDENT
Verhoor
:
9 Oktober 2014
Uitspraak:
21 Oktober 2014
Opsomming:
Ontslag vir operasionele vereistes. Bedryfsvereistes vir ontslag.
Billike proses gevolg. Ontslag billik.
UITSPRAAK
STEENKAMP
R
Inleiding
[1]
Die applikant, Mnr Hendrik Cloete, is
ontslaan deur die respondent, R P Logistics (RPL) weens
bedryfsvereistes. Hy beweer die ontslag
was onbillik.
Kondonasie
[2]
Ter aanvang van die verhoor moes die hof
beslis oor ‘n aansoek om kondonasie vir die laat liassering van
die applikant se
saakverwysing. Dit was sowat ses maande laat. Die
hof het dit oorweeg aan die hand van die bekende uitspraak in
Melane
v Santam Insurance Co Ltd
1962 (4) SA
531
(A) en kondonasie toegestaan. Ek som kortliks die redes op wat
die hof
ex tempore
verskaf
het.
Tydperk
[3]
Soos ek genoem het, was die verwysing sowat
ses maande laat. Me
Abdol
het betoog dat dit nie buitensporig is nie. Ek verskil. Dit is
inderdaad buitensporig, maar die hof moes dit opweeg teen die redes
daarvoor en die vooruitsigte op sukses soos dit op daardie stadium
geblyk het.
Redes
[4]
Die hoofrede waarom Cloete die saak so laat
verwys het, is dat hy onder die indruk was dat RPL aan hom ‘n
ander pos sou aanbied.
Dit blyk uit sy eedsverklaring ter
ondersteuning van sy aansoek om kondonasie. (Die eedsverklaring is in
Engels opgestel. In sy
mondelinge getuienis het Cloete beweer dat hy
nie Engels verstaan nie en dat hy bloot die eedsverklaring onderteken
het sonder
om dit te verstaan. Me
Abdol
kon dit nie verduidelik nie).
[5]
RPL het nie ‘n opponerende
eedsverklaring geliasseer nie, alhoewel Cloete se weergawe in die
pleit onder verdenking geplaas
word. Aan die hand van die onbetwiste
stelling van Mnr Cloete onder eed op daardie stadium moes die hof sy
verduideliking aanvaar.
Hy is nie ‘n geleerde man nie en het
slegs tot graad 7 (die destydse standerd 5) op skool gevorder. Die
hof het aanvaar dat
hy wel redelik onder die indruk was dat RPL vir
hom ‘n ander pos oorweeg het en dat ‘n verwysing na
hierdie Hof in
daardie omstandighede ‘n stokkkie daarvoor sou
kon steek. Dit was ‘n redelike verduideliking.
Vooruitsigte op sukses
[6]
Op Cloete se onbetwiste weergawe in sy
eedsverklaring op daardie stadium het hy wel redelike vooruitsigte op
sukses getoon. Op daardie
weergawe was daar hoegenaamd geen
konsultasie met hom voor sy ontslag nie.
Beslissing oor kondonasie
[7]
Op ‘n konspektus van al hierdie
faktore het die Hof kondonasie toegestaan, tesame met ‘n bevel
dat die koste van die
aansoek die koste in die hoofgeskil sou volg.
Die feite
[8]
Die feite is merendeels gemeensaak. Dit
blyk uit die pleitstukke, die voorverhoornotule en die getuienis van
Mnr Jaco Wiese, die
finansiële direkteur, en Me Mmatshepo
Masinamele namens RPL; en dié
van
die applikant, Mnr Cloete.
[9]
Cloete het vir meer as vier jaar vir RPL as
werktuigkundige gewerk, vanaf 2 April 2008 tot met sy ontslag in
Augustus 2012.
[10]
Gedurende 2012 het RPL ernstige finansiële
probleme ondervind. Die maatskappy het ‘n verlies van sowat R25
miljoen gely.
Die bates het die laste oorskry en RPL was so te sê
insolvent. Geld moes by die moedermaatskappy
geleen word om dit as ‘n lopende onderneming aan die gang te
hou.
[11]
RPL het drasties koste besnoei. Die
maatskappy is in die vervoerbedryf. Sy vloot voertuie is van 68 na 40
verminder. Dit het op
sy beurt die besnoeiing van poste in die
werkswinkel genoodsaak. Op die ou end is 28 mense ontslaan weens
bedryfsvereistes, waarvan
vier in die werkswinkel gewerk het saam met
Cloete. Daardie vier het almal langer vir RPL gewerk as Cloete.
Niemand anders het
die billikheid van hul ontslag aangeveg nie.
[12]
Op 6 Julie 2012 het RPL se Direkteur van
Menslike Hulpbronne, Mnr L S Hollander, die werknemers in die Paarl
toegespreek. (RPL het
ook takke in Johannesburg en Durban gehad.
Daardie depots is gesluit weens die finansiële verknorsing). Hy
het die maatskappy
se finansiële posisie uiteengesit en
verduidelik dat dit tot moontlike afleggings (m.a.w. ontslag weens
bedryfsvereistes)
kon lei. Hy het beide Afrikaans en Engels gepraat.
Aan die einde van die vergadering het hy ‘n brief wat opgestel
is aan
die hand van die vereistes van art 189(3) van die Wet op
Arbeidsverhoudinge (Wet 66 van 1995) aan elke werker oorhandig.
Sommige
van die werkers was vakbondlede, ander nie. Cloete was nie ‘n
vakbondlid nie. Hy het ontvangs van die brief erken, maar beswaar
gemaak dat dit net in Engels opgestel is. Volgens hom het Hollander
onderneem om aan hom ‘n brief in Afrikaans te gee maar
dit
nooit gedoen nie. Hollander het nie getuig nie, maar hierdie weergawe
is nie aan enige van RPL se getuies (Wiese – wat
by dieselfde
vergadering was – of Masinamela) gestel nie.
[13]
Konsultasies is met werkers gehou op twee
verdere geleenthede, nl 13 en 25 Julie. Masinamela het van
Johannesburg na Kaapstad en
Paarl gereis om die vergaderings by te
woon. Die vakbond het sy lede verteenwoordig. Volgens Masinamela is
nie-vakbondlede die
geleentheid gegun om ook voorstelle te maak of
verdere gesprekke te hê
met haar of
Hollander. Almal van hulle het op die ou end hul afdanking en
vergoedingspakette aanvaar. Cloete betwis dit dat hy die
geleentheid
gegee is om met RPL te konsulteer. Volgens hom het hy vir Masinamela
by geleentheid op die perseel gesien, maar niemand
het aangedui dat
hy sy moontlike afdanking met haar kon bespreek nie. Dit is egter nie
aan haar gestel onder kruisondervraging
nie.
[14]
Op 26 Julie 2012 rig Cloete die volgende
brief aan RPL:
“
Deur
middel van hierdie geskrewe stuk wil ek Hendrik Cloete u vra om RP-6
CS 37545 aan my te verkoop vir bedrag van R16 000.
Ek wil ook
nou op my oudag iets probeer. Baie dankie by voorbaat.
Groete,
H Cloete.”
[15]
Cloete het verduidelik dat die aanbod was
om ‘n bakkie te koop wat enjinprobleme ondervind het en net op
die perseel gestaan
het. Hy wou dit herstel en dan gebruik om vir
homself ‘n inkomste te verseker. In kruisondervraging het hy
egter ontken dat
dit was as gevolg van die konsultasieproses die
vorige dag. Hy het sover gegaan as om te beweer hy het nie besef hy
sou ontslaan
word totdat hy die ontslagbrief gekry het op 21 Augustus
2012 nie.
[16]
Op 21 Augustus het Jaco Wiese aan Cloete sy
kennisgewing van ontslag gegee. Die brief verwys na die vorige brief
van 6 Julie 2012
“and subsequent consultations”. Dit wys
daarop dat RPL nie ‘n ander geskikte pos vir hom kon vind nie
en bepaal
31 Augustus as as sy laaste werksdag. Hy is vier weke se
lone uitbetaal vir uitdienstrede ooreenkomstig a 41 van die Wet op
Basiese
Diensvoorwaardes, asook sy opgehoopte verlof.
[17]
Op 17 Oktober 2012 het Cloete ‘n
geskil na die KVBA verwys. Bemiddeling was onsuksesvol. Die partye
was dit egter eens dat
RPL aan Cloete ‘n aanbod gemaak het om
‘n alternatiewe pos te aanvaar, naamlik dié
van
“tyre fitter”. Volgens RPL se getuies, wat beide
teenwoordig was, het Cloete dit van die hand gewys weens ‘n
rugbesering. Cloete het in sy getuienis bevestig dat hy ‘n
rugbesering het, maar het ontken dat hy die aanbod bloot van die
hand
gewys het. Volgens hom het hy kans gesien om die werk te doen mits hy
opleiding kon ontvang.
[18]
Cloete het ook voorgestel dat RPL hom in
diens moes neem as ‘n vragmotorbestuurder. Dis gemeensaak dat
hy oor ‘n Kode
14-swaarvoertuiglisensie beskik. Hy het egter
erken dat hy nie lang afstande kon bestuur nie weens sy rugbesering.
Wiese het versuidelik
dat hulle hom slegs ‘n pos as
langafstandbestuurder (Kaapstad-Johannesburg) kon aanbied, en dat
daar geen voltydse poste
vir kort afstande bestaan nie. Cloete het
wel van tyd tot tyd “pre-load” vragte gaan haal, bv van
Distell op Stellenbosch
tot op die Paarl, vanwaar dit dan na
Johannesburg vervoer is.
Evaluering
[19]
Die Hof moet uitsluitsel gee oor die vraag
of daar inderdaad bedryfsvereistes was wat ontslag genoodsaak het; en
indien wel, of
die proses billik was.
Bedryfsvereistes
[20]
Daar is geen geskil omtrent die
bedryfsvereistes (en dus die kommersiële rede vir ontslag) nie.
Die finansiële direkteur,
Mnr Wiese, se getuienis is geensins in
twyfel getrek nie. Die maatskappy het reuseverliese gely. Dit was so
te sê
insolvent. Daar was goeie redes
om te besnoei, en al die ander werkers wat afgedank is, het dit so
aanvaar.
Billike proses?
[21]
Wat die proses betref, is dit gemeensaak
dat RPL aan al die werkers – met inbegrip van Cloete – op
6 Julie 2012 skriftelike
kennis gegee het van hul moontlike ontslag
en hulle genooi het om te konsulteer. Die vraag is dan of ‘n
sinvolle konsultasieproses
plaasgevind het; en indien nie, of Cloete
die geleentheid gegee is om voorstelle te maak om sy ontslag te
verhoed en of dit ernstig
opgeneem is. Die billikheid van die
seleksieproses kom ook onder die loep.
[22]
Die kennisgewing wat Hollander op 6 Julie
aan die werkers – met inbegrip van Cloete – gegee het,
voldoen aan die vereistes
van a 189(3) van die Wet. Cloete bekla hom
daarop dat dit nie in Afrikaans opgestel is nie; maar hy het in
kruisondervraging erken
dat Hollander die inhoud daarvan in Afrikaans
verduidelik het. Die weergawe dat Hollander onderneem het om die
brief in Afrikaans
te vertaal en aan Cloete te gee, het vir die
eerste keer in Cloete se getuienis na vore gekom. Dit is nie aan
enige van die maatskappy
se getuies gestel deur Cloete se advokaat
nie. Dit verskyn nêrens in die pleitstukke nie. En in elk geval
het dit Cloete
vrygestaan om weer vir Hollander of Wiese te nader om
dit in Afrikaans aan hom te gee. Alhoewel hy net tot in Standerd 5
(nou graad
7) op skool gevorder het, is hy wel ter tale. Dit blyk ook
uit sy brief i.v.m. die bakkie se aankoop dat hy wel deeglik
geletterd
is.
[23]
Wat die daaropvolgende konsultasieproses
betref, is dit so dat RPL nie spesifiek vir Cloete genader het om met
hom op sy eie te
konsulteer nie. Me Masinamela het verduidelik dat sy
gefokus het op konsultasies met die vakbond; maar terselfdertyd het
sy nie-vakbondlede
daarop attent gemaak dat sy (sowel as Hollander en
Wiese) beskikbaar was vir verdere voorstelle en konsultasies. Ander
individue
– bv Braam Groenewald en Werner Victor – het
van daardie geleentheid gebruik gemaak. Cloete het nie, ten spyte
daarvan
dat hy bewus was van Masinamela se besoeke aan die Paarl.
[24]
Die konsultasieproses is nie ‘n
eenrigtingstraat nie. Die werknemer wat nie van die geleentheid
gebruik maak om voorstelle
te maak om sy ontslag te verhoed of uit te
stel nie, kan hom nie bekla dat die werkgewer nie ‘n billike
proses gevolg het
nie. In hierdie geval kan dit dalk gesê
word dat die werkgewer meer besliste pogings kon
aangewend het om Mnr Cloete in te roep vir verdere konsultasies; aan
die ander
kant was hy wel deeglik bewus van Me Masinamela se besoeke
en kon hy te eniger tyd met haar, Wiese of Hollander verdere
gesprekke
gevoer het. Dit blyk uit die getuienis dat die werkgewer
wel die prosedurele vereistes in art 189 van die Wet nagekom het.
[25]
Alhoewel Mnr Cloete ‘n enigsins
naïewe getuie was wat oor die algemeen nie die indruk geskep het
dat hy die Hof probeer
mislei nie, is daar tog een aspek waar sy
geloofwaardigheid nie heeltemal bo verdenking is nie. Hy het getuig
dat hy bloot die
bakkie van RPL wou koop “om ‘n geldjie
te maak op sy oudag” omdat hy dit op die perseel sien staan
het. Dit doen
egter vreemd aan dat hy dié
aanbod
maak ‘n dag nadat Me Masinamela die Paarl besoek het om te
konsulteer; maar hy skram weg daarvan dat hy enigsins bewus
was
daarvan dat hy op die rand van ontslag staan, en dat hy voorleggings
moes maak om dit af te weer. Die waarskynlikhede dui daarop
dat hy
juis as gevolg van sy hangende ontslag “op sy oudag iets wou
probeer” met die bakkie.
[26]
Wat die alternatiewe tot ontslag betref,
blyk dit dat RPL wel vir Cloete ‘n alternatief aangebied het in
die pos van “tyre
fitter”. Hy is die een wat geweier het
weens sy rugprobleme. Sy verduideliking dat hy wel die werk sou kon
doen mits hy opgelei
kon word, strook nie met die bewese feite nie.
RPL se weergawe dat hy dit nie kon doen nie weens sy rugbesering,
strook wel daarmee.
Dit strook ook met Cloete se erkenning dat hy nie
lang skofte kon bestuur nie weens sy rugbesering, en dat hy dus ook
nie ‘n
pos as langafstand-vragmotorbestuurder kon aanvaar nie.
[27]
In die lig van hierdie feite blyk dit dat
RPL wel billik opgetree het. Daar was geldige bedryfsvereistes vir
die besnoeiing van
poste, met inbegrip van dié van Cloete. RPL
het vir al die werkers behoorlik kennis gegee van die moontlike
ontslag weens
bedryfsvereistes kragtens art 189(3) van die Wet. Daar
was pogings om te konsulteer. Ten minste twee alternatiewe poste vir
Cloete
is ernstig oorweeg, maar hy was nie geskik daarvoor nie weens
sy rugbesering. Die seleksiekriteria is nie onder verdenking geplaas
nie. Die ontslag was onvermydelik.
Gevolgtrekking
[28]
Die ontslag was weens geldige
bedryfsvereistes en dus vir ‘n billike rede. Dit was ook
prosedureel billik.
[29]
Wat koste betref, neem ek in ag dat Mnr
Cloete nie ‘n vermoënde man is nie en dat hy dit op sy
oudag moeilik sal vind
om ander werk te kry. Hy is nie hoogs opgelei
nie en beskik nie oor skaars vaardighede nie. Hy was nie roekeloos
deur die aansoek
te bring nie; ten spyte daarvan dat hy
regsverteenwoordiging gehad het, is dit moontlik dat hy die
billikheid van die rede vir
sy ontslag en die proses nie deurentyd
gevolg het nie. ‘n Kostebevel sou myns insiens nie billik wees
teenoor hom nie.
Bevel
[30]
Die verwysing word van die hand gewys
sonder enige kostebevel.
_______________________
A J Steenkamp
Regter van die Arbeidshof
VERSKYNINGS
APPLIKANT:
Me Shaheeda Abdol
In opdrag van TNK prokureurs.
RESPONDENT:
Chris Roodt
In opdrag van A M Spies prokureurs.