S v Khuzwayo (70/89) [1990] ZASCA 29 (29 March 1990)

82 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Murder — Appellant's conviction based on witness testimony and confession — Appellant denied responsibility for the deceased's death — Witnesses' reliability questioned by trial court — Appellant's confession deemed admissible after finding it was made voluntarily — Legal questions regarding the admissibility of cross-examination on the confession's content and the weight given to the appellant's claims of coercion — Court upheld conviction, finding no grounds for appeal.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1990
>>
[1990] ZASCA 29
|

|

S v Khuzwayo (70/89) [1990] ZASCA 29 (29 March 1990)

70/89 /mb
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
WILLIAM MLANDENI
KHUZWAYO
Appellant
en
DIE STAAT
Respondent
CORAM
: CORBETT HR, E M GROSSKOPF, NESTADT,
VIVIER et KUMLEBEN ARR
VERHOORDATUM
: 12 MAART 1990
LEWERINGSDATUM
: 29 MAART 1990
UITSPRAAK
KUMLEBEN AR
/...
KUMLEBEN AR
Die appellant het in die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling, o.m., op 'n
aanklag van moord tereggestaan en is daaraan skuldig bevind.
Die hof (Gordon
WnR) het, na bewys van versagtende omstandighede, 'n vonnis van 10 jaar
gevangenisstraf opgelê. Verlof om teen
die skuldigbevinding te appelleer,
is geweier. Sodanige verlof is egter toegestaan deur hierdie hof, wat twee
spesifieke vrae, waarna
later verwys sal word, ter oorweging geopper het.
Die appellant se verweer was dat hy geensins vir die dood van die oorledene,
ene Newman Moyo, verantwoordelik was of by die aanval
op hom aanwesig was nie.
Hy was dus nie in staat om die Staat se relaas van die voorval te weerspreek of
aan
2/...
2.
te veg nie. Die getuienis in hierdie verband is kortliks soos
volg.
Die oorledene was 'n arbeider en het op die plaas van sy werkgewer gewoon.
Twee ooggetuies, Raphael Ncube en Vivian Ndebele, het verduidelik
hoe die
oorledene omgekom het. Hulle het die kamer langs syne bewoon. Omstreeks 9 nm op
10"Maart 1987 het twee persone, 'n Swart
man en 'n jong Swart vrou,
Stella
Madousela (ook bekend as Thembi), by die kamer van die
oorledene aangekom. Die man het aan sy deur geklop. By
"navraag van die oorledene het Thembi gesê dat dit sy was en dat haar
swaer by was. Die oorledene het die deur oopgemaak en
op die drumpel daarvan
gaan staan. Die man vra toe vir hom of hy die persoon is wat die kinders pla.
Die oorledene se antwoord was
onhoorbaar. Die man het die oorledene geskop en 'n
vuurwapen, 'n pistool of 'n rewolwer, te voorskyn gebring, waarmee hy
3/...
3. die oorledene gedreig het. Nadat hy die vuurwapen in sy
baadjiesak gesteek het, het hy dit weer uitgehaal, dit op die oorledene
gerig en
twee skote afgevuur. Dié het die borskas en hart van die oorledene
deurdring en sy dood veroorsaak. Daarna het sy
aanvaller en Thembi
weggehardloop.
Hierdie twee getuies het beweer dat hulle die appellant" die aand kon uitken
en dat dit hy was wat die oorledene om die lewe gebring
het. Die hof het egter
bevind dat hul getuienis in dié verband onbetroubaar en onaanvaarbaar
was. Hierdie gevolgtrekking is
deur mnr Van Rooyen, wat voor ons namens die
respondent opgetree het, aanvaar.
Die enigste ander getuienis deur die Staat aangevoer wat die appellant met
die misdaad verbind, was 'n bekentenis wat hy voor 'n vrederegter
afgelê
het.
4/...
4. Die toelaatbaarheid daarvan is bestry omdat na bewering die
appellant daartoe gedwing is. Dit het 'n tussentydse verhoor (h verhoor
binne 'n
verhoor) tot gevolg gehad. Aan die einde daarvan is bevind, bo redelike twyfel,
dat die appellant vrywilliglik opgetree
het en dat die bekentenis bygevolg
toelaatbaar was. (Die redes vir hierdie bevinding is in die hoofuitspraak
vervat.) Dit is gemene
saak dat die appellant slegs deur die toelating van
hierdie bekentenis geïmpliseer is.
Die materiële gedeelte van die bekentenis, wat voorgee om die appellant
se relaas van die gebeure aan te teken (hierna "die verklaring"
genoem), soos
vertolk uit Zoeloe, lui soos volg:
"Die voorval waaroor ek wil praat het plaasgevind op 87.03.10, ek weet nie hoe
laat nie maar dit was alreeds donker gewees. Dit was
die eerste keer wat ek op
die plek was, dit is plotte naby
5/...
5.
Muldersdrift.
By genoemde plek het oorledene, ek weet nie wat sy naam is nie, 'n
liefdesverhouding met my vrymeisie (girlfriend) naamlik NONHLANHLA
gehad,sy het
dit nie goedgekeur nie, hy het haar egter baie gepla. Oorledene se vrymeisie was
ene Thembi wat ook van die verhouding
bewus was en ongelukkig was daaroor.
Die betrokke aand het Thembi na my gekom en my ontmoet by 'n vier-rigting
stop te Bryanston, Johannesburg. Sy het vir my gesê
dat sy my sou gaan wys
waar oorledene bly wie ons soveel las gegee het. Thembi het my ook reeds voor
hierdie dag gewaarsku dat oorledene
'n vuurwapen besit en gedreig het om ons te
skiet. Ek het derhalwe van 'n swartman Ngambeni Dladla 'n groot pistool met
patrone in
die magasyn geleen, wanneer ek dit terugbring moes ek hom R100,00
gee. Hy het gesê . dat die vuurwapen reg is om te skiet,
ek het dit nie
oopgemaak nie. Hy is van Soweto te Dube hostel. Ek het die vuurwapen saamgeneem
om self te verdedig en ook om hom
skrik te maak indien hy 'n vuurwapen het.
Thembi het my die pad aangetoon en ons het met my kar gery ek het
bestuur.
Thembi het by porledene se huis aangeklop, oorledene het die deur oopgemaak
en uitgekom. Ek het my vuurwapen op hom gerig sodat hy
kon sien dat ek ook 'n
vuurwapen het. Dit was egter donker gewees en ek kon nie sien of hy gewapen was
nie. Ons het niks met mekaar
gepraat nie. Ek het bang
6/...
(
6.
geword dat hy my sou skiet en het toe begin vuur, ek het 'n paar skote geskiet,
ek weet nie hoeveel nie. Ek weet nie of ek hom getref
het nie, ek het geskrik en
weggehardloop in my voertuig gespring en weggejaag. Thembi het my gevolg en ook
in die voertuig geklim
en saam met my weggejaag.
Ek wou nie oorledene doodgeskiet het nie, ek wou hom net skrik gemaak het. Ek
het later verneem dat ek oorledene doodgeskiet het.
Ek het die vuurwapen dieselfde nag aan Dladla terug besorg en hom ook R100,00
gegee.
Ek is nou klaar en wil niks verder sê nie, my hart is baie seer en ek voel
jammer oor wat ek gedoen het. Dit is al.
Die verklaring is aan my teruggelees deur middel van die tolk, dit is korrek en
ek wil niks byvoeg nie."
Die twee vrae, wat deur hierdie hof te
berde gebring is en waarna ek verwys het, lui soos volg:
"(1) Is dit toelaatbaar om op die stadium wanneer die vraag of 'n bekentenis
vrywilliglik gemaak is, ter sprake is, kruisverhoor
te rig op die materiële
inhoud van die bekentenis?
(2) Indien wel, het die verhoorhof nie te veel gewig geheg aan die valsheid
(soos bevind is)
7/...
7.
van die applikant se bewering dat hy voórgesê is ten aansien van
bedoelde inhoud nie?"
Indien een, of albei, van
hierdie vrae ten gunste van die appellant beantwoord word, ontstaan die verdere
vraag of sodanige onreëlmatigheid
of mistasting van so 'n aard is dat die
appellant op grond daarvan vrygespreek behoort te word.
Dit is dienlik, alvorens die vrae oorweeg
word, om na die getuienis in die
tussentydse verhoor te
verwys.
Die verklaring is op 1 April 1987 voor Luit Steyn gemaak. Ten tyde van die
onderhoud was die appellant ten volle geklee en Steyn het
geen sigbare tekens
van beserings aan hom opgemerk nie. Volgens die getuie was die appellant op sy
gemak: hy het spontaan vrae beantwoord
en sy relaas van die voorval vertel.
8/...
8. By die aanvang van die onderhoud het Steyn die gebruiklike inleidende vrae
aan hom gestel luidens 'n vorm wat vir daardie doel
opgestel is. Die appellant
se antwoorde is op hierdie vorm aangeteken. Hulle lui soos volg:
"1. Begryp u die waarskuwing wat nou deur my aan u gegee is? Antwoord: Ja
2. Is u deur enigiemand aangerand of gedreig om
hierdie verklaring te
maak?
Antwoord: Nee, daar is niemand wat my aangerand of gedreig het nie.
3. Het u beserings van enige aard aan u? Antwoord: Nee, ek het geen beserings
nie.
(Opmerkings deur vrederegter of daar enige sigbare
beserings aan verklaarder is)
Geen sigbare beserings is waarneembaar nie.
4. Het enige persoon enige beloftes aan u gemaak
of u op enige wyse
aangemoedig om hierdie
verklaring af te lê?
Antwoord: Nee, ek wil graag hierdie saak agter die rug kry.
5. Verwag u enige voordele indien u 'n verklaring
maak?
9/...
9.
Antwoord: Nee, ek wil net hê dat die hof my kant van die saak sien.
6. (1) Is u in hegtenis geneem? Antwoord: Ja.
(2) Wanneer is u
gearresteer?
Antwoord: Ek is Maandag 87.03.30 gearresteer en is nou 3 dae in
hegtenis.
7. (1) Het u vantevore 'n verklaring in
verband
met hierdie voorval aan enige persoon
gemaak?
Antwoord: Nee, die ondersoekbeampte het
my net i.v.m. saak ondervra.
(2) Indien wel, aan wie, wanneer en onder
watter
omstandighede?
Antwoord: -N.V.T.
(3) Waarom verlang u om die verklaring te
herhaal?
Antwoord: N.V.T.
8. Indien u nog begerig is om 'n verklaring af te
lê kan u nou
voortgaan:
Die voorsittende beampte luit Steyn en die tolk S/Sers Mithani het albei hulle
aanstellingsertifikate aan my getoon en ek weet dus
met wie ek praat.
Vraag deur luitenant Steyn: Hoekom wil jy 'n
verklaring voor my aflê, u kan ook voor 'n landdros praat, is u bewus
daarvan? Antwoord: Ek is bewus daarvan maar ek verkies
om dit voor 'n offisier
in S A Polisie te doen."
10/...
10. Steyn, wat geen belang by
die ondersoek van die saak gehad het nie, het getuig dat hy hierdie antwoorde
-inderdaad alles wat die
appellant aan hom oorgedra het - sorgvuldig en korrek
neergeskryf het, behalwe vir die wysiging van 'n datum in die verklaring (waarna
ek later sal verwys) . Die tolk is ook as getuie geroep. Hy het bevestig dat hy
hom behoorlik van sy taak gekwyt het.
In sy hoofgetuienis het Steyn - soos te verwagte was - nie na die verklaring
self verwys nie. Hy hetslegs die inleidende gedeelte
en die woorde wat
na
die verklaring self aangeteken is, in die hof uitgelees. Onder
kruisondervraging, egter, het die appellant se advokaat, mnr Erasmus,
wat by die
verhoor sowel as voor ons namens hom opgetree het, die inhoud van die verklaring
te berde gebring.
11/...
11.
In die verklaring het die datum 87-03-30 oorspronklik
voorgekom. Die syfer 30 is doodgetrek en vervang met 10. Hierdie wysiging is
deur die getuie, en oënskynlik ook deur die appellant, geparafeer. Steyn
het verduidelik dat hy verkeerdelik die "30" geskryf
het en dat die appellant,
toe die verklaring aan hom oorgelees is, hom op die fout attent gemaak het. Die
wysiging is deur hom en
die appellant geparafeer. Dit is aan die getuie gestel
dat, volgens die appellant, so iets nooit gebeur het nie en dat die appellant
slegs
een datum aan hom in antwoord op een van die inleidende
vrae verstrek het,
naamlik 30 Maart, synde die datum van arrestasie. (Kyk paragraaf 6(2) van die
vrae en antwoorde hierbo aangehaal.)
Die stelling is deur sy advokaat soos volg
gemaak:
"Edele dan voorts dat ten aansien van die verklaring self luitenant, die datum
wat daar voorkom wat verander is, die beskuldigde
se instruksies aan my is dat
aangesien hy nie self
12/...
12.
kennis dra van hierdie geval nie, die datum is wel aan hom gegee deur sersant
Mnguni?"
en later:
"... my instruksies is dat die datum 10 Maart is
wel deur Mnguni aan die beskuldigde voorgesê, maar die beskuldigde het
nie
die datum herhaal voor die luitenant geheel en al
nie."
Dit is ook aan die getuie gestel dat die tweede paraaf
teenoor die gewysigde datum nie dié van die appellant was nie, wat die
getuie beslis ontken het. Gedurende. kruisondervraging is daarna aan Steyn
gekonstateer dat speurder-sersant Mnguni, nadat die appellant
aangerand en
daardeur oorreed is om 'n verklaring te maak, die feite aangaande die misdryf,
soos in die verklaring vervat, aan hom
voorgesê het, met die uitsondering
van een paragraaf, d.w.s., die appellant ontken dat hy die besonderhede in die
tweede paragraaf
van die verklaring aan Steyn vertel het.
13/...
13. Volgens Mnguni het hy die appellant by sy werksplek omstreeks
12 uur op 30 Maart 1987 gearresteer. Hy het hom reguit na die aanklagkantoor
van
die polisiestasie te Krugersdorp geneem en hom as 'n aangehoudene ingeskryf.
Daarvandaan is hy direk selle toe waar hy opgesluit
is. Daardie dag het Mnguni
geen verdere kontak met hom gehad nie. Die volgende dag, 31 Maart 1987, het hy
'n onderhoud met hom gehad.
Die appellant was bereid om 'nbekentenis af te
lê. Mnguni het gepoog om 'n landdros by die landdroshof in Krugersdorp vir
hierdie
doel in die hande te kry maar daar was nie een beskikbaar nie. Die
volgende oggend vroeg het hy weer sonder welslae probeer. Hy besluit
toe om die
appellant na Steyn by Westonaria te neem. Mnguni ontken dat hy, of iemand in sy
teenwoordigheid, vir die appellant op
30 Maart of ooit enigsins aangerand het;
dat hy enige sodanige opdrag aan andere gegee het; dat die appellant
onvrywilliglik die
14/...
14. bekentenis gemaak het; of dat hy hom enige gedeelte daarvan
voorgesê het.
Speurder-konstabel Mkhawane was by toe die appellant gearresteer is en na die
polisiestasie te Krugersdorp geneem is. Met hul aankoms
daar, aldus sy
getuienis, net hy gesien dat Mnguni die appellant in die aanklagkantoor inneem
en daarna het hy die appellant nie
weer daardie dag gewaar nie. Hy ontken dat hy
die appellant op 30 Maart 1987 aangerand het of
dat hy saam met die appellant in 'n kantoor by die
Krugersdorp-polisiestasie was voordat hy na die selle geneem was.
Sers de Bruyn, 'n aanklagkantoorbevelvoerder by die
Krugersdorp-polisiestasie, het gereeld die selle besoek om vas te stel of die
aangehoudenes enige klagtes het. Die appellant het nie oor enige
15/...
15. aanranding of beserings gekla nie.
Die appellant getuig dat hy wel aangerand is. Sy getuienis in die tussentydse
verhoor verskil in menige opsigte van dié van
die staatsgetuies. Dit is
slegs nodig om na die belangrikste verskille te verwys. Hy ontken dat met hul
aankoms by die Krugersdorp
polisiestasie hy reguit na die aanklagkantoor is en
daarna in die selle opgesluit is. Hy beweer dat Mnguni en Mkhawane hom direk
na
'n sekere kantoor geneem het. Mnguni het die kamer verlaat en 'n onbekende
persoon het ingekom en by Mkhawane aangesluit. Die
twee persone het hom
geblinddoek en hom ernstig aangerand totdat hy (valslik) erken het dat hy 'n
persoon doodgemaak het. Hulle het
hom geskop en geslaan en hom, deur die gebruik
van 'n elektriese apparaat, skokke toegedien. Na sy erkenning het die twee
persone
hom gelos en die kamer verlaat. Mnguni het teruggekeer en hom
voorgesê
16/...
16. wat hy by wyse van 'n bekentenis moes vertel. Eers na hierdie
onderhoud, aldus sy getuienis, is hy na die aanklagkantoor en selle
geneem. Toe
hy op 1 April 1987 saam met Mnguni na Westonaria gery het om sy bekentenis af te
lê, is hy opnuut voorgesê
wat die inhoud daarvan moes wees.
Wat die getuienis van Steyn betref, ontken die appellant dat hy die antwoorde
in paragrawe 2, 3 en 4 verstrek het; en is hy onseker
of die
antwoord op
vraag 5 syne is. Nieteenstaande die
vroeëre stelling van sy advokaat,
erken hy tydens kruisondervraging dat hy in sy verklaring wel die datum
1987-03-10 (die datum
waarop die voorval plaasgevind het) gegee het. Hy het ook
- strydig met wat aan die staatsgetuies gestel is - beweer dat verdere
gedeeltes
van sy verklaring, behalwe die tweede paragraaf daarvan, nie deur hom gesê
is nie. Op 'n vraag waarom
17/...
17. hy nie, toe sy verklaring aan hom oorgelees is, teen hierdie
gedeeltes beswaar gemaak het nie, was sy antwoord gewees: "daardie
tolk het nie
mooi aan my verduidelik nie, want ek het dit nie gehoor nie."
Volledigheidshalwe moet net vermeld word dat, na sluiting van die Staat se
saak op die meriete, die appellant weer die getuiebank
betree en ontken het dat
hy die betrokke aand die oorledene besoek of doodgemaak het.
Om na die eerste van die twee genoemde vrae terug te keer, is dit, met
betrekking tot die bewese feite van hierdie saak, te wyd gestel.
Soos reeds
aangedui, blyk dit uit die notule van die saak (wat in die gewone loop van sake
nie deel van die petisie om verlof om
te appelleer sou uitmaak nie) dat die
appellant
deur sy advokaat die vraag of hy voorgesê is
18/...
18. te berde gebring het, en dat kruisondervraging aangaande die
verklaring, waartoe hierdie bewering aanleiding gegee het, tot die
bewys van die
teendeel beperk was. Die pertinente vraag is dan juis die volgende: Waar 'n
beskuldigde tydens die tussentydse verhoor,
ter ondersteuning van sy stelling
dat hy 'n gedwonge bekentenis afgelê het, beweer dat die inhoud van die
verklaring aan hom
voorgesê is, is kruisverhoor - oor die inhoud daarvan
toelaatbaar om dié bewering aan te veg?
Hierdie hof het reeds op hierdie vraag uitsluitsel gegee. In
S v
Lebone
1965(2) S.A. 837 (A), waar dieselfde vraag in ooreenstemmende
omstandighede opgeduik het, is soos volg op bll 841H - 842B gesê:
"Die geskilpunt in die onderhawige saak was of voldoen is aan die bepalings
van art. 244(1) van die Strafkode en of die appellant
die bekentenis vrywillig
en sonder onbehoorlike beïnvloeding afgelê het. Vir doeleindes van
daardie ondersoek
19/...
19.
is die waarhêid van die inhoud van die verklaring in die algemeen gesproke
irrelevant en geen verhoorhof sal toelaat dat 'n
aanklaer probeer om te bewys
dat die inhoud waar is nie, 'n bewyslas wat hy juis probeer kwyt deur die
bekentenis toegelaat te kry.
Kruisverhoor van 'n beskuldigde deur die
Staatsaanklaer oor die waarheid van die inhoud van die bekentenis is derhalwe,in
die algemeen
gesproke, nie tersaaklik nie en sal nie toegelaat word nie. Anders
is die geval egter wanneer die beskuldigde self beweer dat die
inhoud van sy
bekentenis vals is en deur die Polisie ingegee is en hierdie feit gebruik word
as deel van sy saak dat hy deur die
Polisie gedwing is om 'n verklaring te maak.
In so 'n geval moet die aanklaer die reg hê om die beskuldigde onder
kruisverhoor
te neem oor die inhoud van die bekentenis om aan te toon dat die
beskuldigde self die bron van die inhoud is en nie die Polisie nie,
soos deur
die beskuldigde beweer. Die kruisverhoor word dan gedoen met die doel om die
geloofwaardigheid van die beskuldigde aan
te tas, 'n relevante onderwerp, en nie
om te bewys dat die inhoud waar is nie."
Die feit dat 'n
beskuldigde nie die werklike outeur van die verklaring is nie, is 'n faktor wat,
op die waarskynlikhede, beskuldigde
se bewering van onvrywilligheid sou steun.
(Die teenoorgestelde geld
20/...
20. natuurlik nie en vandaar die feit dat die aanklaer nie uit eie
beweging hierdie vraag in geskil mag plaas nie.) Billikheidsoorwegings
regverdig
dus hierdie uitsondering op die algemene reël (wat in die aangehaalde
passasie bevestig word). Enersyds, om 'n beskuldigde
se bewering dat die
verklaring aan hom voorgesê is sonder meer te aanvaar, sal vanselfsprekend
die Staat se saak benadeel.
Andersyds, indien die bewering buite rekening gelaat
word (omdat dit nie deur kruisondervraging beproef is nie), mag die beskuldigde
daardeur benadeel word. Waar beweer word dat 'n bekentenis deur die polisie
voorgesê is, sal daar gewoonweg. die meegaande
stelling wees, uitdruklik
of inbegrepe, dat die bekentenis in sy geheel of gedeeltelik onwaar is (soos dit
ook in die
Lebone
saak die geval was). In so 'n geval kom die waarheid
van die verklaring in geskil as 'n ondergeskikte aspek wat betrekking het op
die
vraag of hy voorgesê is, en
21/...
21. gevolglik mag 'n beskuldigde daaroor ondervra word. (In die
uitsonderlike geval waar die beskuldigde sy outeurskap ontken, dog
die waarheid
van die bekentenis erken, sou enige kruisondervraging ex
hypothesi
tot
die vraag of hy voorgesê is, beperk word.)
In 'n latere beslissing van hierdie hof,
S v Talane
1986 (3) S.A.
196(A)
, het dieselfde vraag ontstaan. Tydens die tussentydse verhoor het die
polisie-offisier wat die betekentenis afgeneem het,
getuienis afgelê.
Nadat hy getuig het oor die
preliminêre vrae wat aan die beskuldigde
gestel is, het hy die materiele inhoud van die betekenis geidentifiseer,
uitgelees
en by die hof ingehandig. Die hof het bevind dat dit 'n
onreëlmatigheid daarstel maar dat dit geen benadeling van die beskuldigde
tot gevolg gehad het nie omrede dat, voordat oor die toelaatbaarheid van die
bekentenis 'besluit is, die
22/...
22.
beskuldigde beweer het dat sy verklaring vals was en dat hy gedwing
was om dit wat aan hom voorgesê is aan die polisie-offisier
te vertel.
Kruisondervraging oor die inhoud van die bekentenis het daarop gevolg. Die reeds
aangehaalde passasie uit
S v Lebone
is met goedkeuring aangehaal, waarna
op bladsy 206 C - D gesê is:
"Die Staatsaanklaer was heeltemal geregverdig om die inhoud van die verklaring
te gebruik om die appellant se geloofwaardigheid ten
opsigte van die maak van
die verklaring aan te val ...."
Hoewel die onderhawige vraag nie
onder bespreking was nie, is in twee verdere beslissings van hierdie hof verwys
na die uitsondering
op die algemene reël, soos in die
Lebone
saak
erken, met, onderskeidelik, goedkeuring en sonder bevraagtekening:
S v
Gaba
1985 (4) S.A. 734
(A) 748J - 749F en
S v De Vries
1989(1) S.A.
228 (A) 230 'n - I.
23/...
23. Mnr Erasmus moes dus aantoon dat hierdie hof se beslissing in
die
Lebone
- en
Talane
- sake duidelik verkeerd is. (
Harris and
Others v Minister of the Interior and Another
1952(2) S.A. 428 (A) 452 F -
454 A;
Catholic Bishops Publishing Co v State President and Another
1990(1) S.A. 849(A) 866 H). In 'n poging om hom van hierdie gedugte taak te
kwyt, het hy aan die hand gedoen dat die beslissing in
S v De Vries
(supra) van
die twee genoemde beslissings afgewyk het en hulle by
implikasie omvergewerp het. Hierdie betoóg het nie
enige pit nie.
Die
De Vries
-uitspraak op bladsye 233 H
en 234 B lui soos volg:
"It is ... essential that the issue of
voluntariness should be kept clearly distinct from
the issue of guilt Where therefore the
question of admissibility of a confession is clearly raised, an accused person
has the right to have that question tried as a separate
and distinct issue. At
such trial, the accused can go into the witness-box on the issue of
voluntariness without being exposed to
general cross-examination on the issue of
his guilt. (See
R v Dunga
1934 AD
24/...
24.
223 at 226.) The prosecution may not, as part of its case on the main issue,
lead evidence regarding the testimony given by the defendant
at the trial within
the trial. See
Wonq Kam-ming's
case
supra
at 257-8. Similarly, in
a case where the trier of admissibility is also the trier of guilt (eg a
magistrate or a Judge sitting without
assessors), evidence given by an accused
person in the trial within the trial must be disregarded when the issue of guilt
comes to
be considered."
Die grondslag van die algemene
reël, wat deur altwee
van die genoemde appèlhofbeslissings
(
Lebone
en
Talane
)
bevestig is, word in hierdie saak (
De
Vries
) verder
toegelig sonder om die uitsondering daarop in twyfel
te
trek. Inteendeel, soos reeds daarop gewys, is daar
sonder afwykende kritiek daarna verwys.
In die verloop van sy betoog het mnr Erasmus na 'n Geheime Raad beslissing
verwys:
Wong Kam-ming v. The Queen
[1980] A.C. 247.
Die
meerderheidsbe-slissing daarin, aldus sy betoog, wys daarop dat die uitsondering
verkeerdelik deur ons regspraak erken
25/...
25. word. Die feite wat op hierdie vraag betrekking het, is soos
volg in die meerderheidsuitspraak opgesom:
"Defending counsel having intimated to the court that he challenged the
admissibility of this statement on the ground that it was
not voluntary,
béfore the Crown opened its case the judge (in the absence of the jury)
proceeded to deal with the issue of
admissibility on the voir dire. After two
police witnesses had testified to its making, the defendant gave evidence that
he was never
cautioned, that he was questioned at length while
in custody, that he was grabbed by the shirt and shaken, that an inducement was
offered that if he confessed his 'sworn brother'
would not be arrested, and that
he had been forced to copy out and sign a statement drafted by the police. Under
cross-examination
he was asked a series of questions based cm the detailed
contents of the statement, and directed at establishing its truth. At this
stage
it is sufficient to say that, at the conclusion of the voir dire, the trial
judge excluded the statement." (bll 253 'n en 254
B).
(Die
verdere verloop van die verhoor wat tot sekere
26/...
26.
ander onreëlmatighede aanleiding gegee het, is nie vir
die huidige bespreking ter sake nie.) Met verwysing na die aangehaalde
feite is
die vraag ter beantwoording soos volg gestel: "During the cross-examination of a
defendant in the
voir dire
as to the admissibility of his challenged
statement, may questions be put as to its truth?" Hierdie vraag is voorts in die
uitspraak
bespreek teen die agtergrond van die bestaande regsposisie soos dit in
die Court of Criminal Appeal beslissing,
R v Hammond
28 Cr. App. R84
weergegee word.
In dié saak het 'n beskuldigde die toelaatbaarheid van 'n bekentenis
op grond van dwang bestry en die hof het bevind dat die
aanklaer geregtig was om
die beskuldigde gedurende die tussentydse verhoor oor die waarheid van sy
bekentenis uit te vra, hoewel
hy nie aangevoer het dat die inhoud daarvan aan
hom voorgesê is nie. By die aanvang van die
27/...
27.
kruisverhoor het die aanklaer die volgende twee vrae aan hom
gestel: "Your case is that the statement was not made voluntarily?" en
"Is it
true?". Hy het altwee vrae bevestigend beantwoord. Aangaande die tweede vraag
wat deur die aanklaer gestel is, het die hof
op bladsy 87 beslis:
"In our view it clearly was not inadmissible. It was a perfectly natural
question to put, and was relevant to the issue whether the
story which
the appellant was then telling of being attacked
and ill-used by the police was true or false. It was put by the Lord Chief
Justice in the early part of the argument of counsel for
the appellant,
that it surely must be admissible because it went
to the credit of the person who was giving evidence. If a man says, 'I was
forced to tell the story, I was made to say this, that
and the other', it must
be relevant to know whether he was made to tell the truth or whether he was made
to say a number of things
which were untrue. In other words, in our view, the
contents of the statement which he admittedly made and signed were relevant to
the question of how he came to make and sign that statement, and, therefore, the
questions which were put were properly put."
Met verwysing na
hierdie stelling, en in antwoord op
28/...
28.
die gestelde vraag wat in die
Wong Kam-ming
beslissing
beantwoord moes word, lui die meerderheidsuitspraak op bladsy 257 B - D soos
volg:
"it is right to point out that counsel for the Crown did not seek to submit that
the prosecution could in
every
case properly cross-examine the defendant
during the voir dire regarding the truth of his challenged statement. Indeed, he
went so
far as to concede that in many cases it would be wrong to do anything of
the sort. But he was unable to formulate an acceptable test
of its propriety,
and their Lordships have been driven to
the conclusion that none exists. In other words
in their Lordships' view,
Rex v Hammond
[1941] 3 All E.R. 318
was wrongly
decided, and any decisions in Hong Kong which purported to follow it should be
treated as overruled. The answer to question
1 is therefore
'No,'...."
Insoverre die gevolgtrekking in die aangehaalde
passasie nie enige uitsondering op die algemene reël erken of toelaat nie,
is
dit wel in stryd met die twee beslissings van hierdie hof (
Lebone
en
Talane
). Daarteenoor het Lord . Hailsham in sy minderheidsuitspraak op
bladsy 262 F - 'n gesê:
29/...
29.
" I can conceive of many cases in which it is of the essence of the defence case
on the voir dire that the confession, whose voluntary
character is in issue, is
in whole or part untrue, and, it may be, contrary to admitted fact. If the
defence can succeed in establishing
this or even raising a serious question
about it either as the result of cross-examining the prosecution witnesses, or
by evidence
led by the defence itself, serious doubt can be raised as to the
voluntary nature of the confession. How can it be said, counsel
for the defence
might wish to argue, that the defendant can have provided so much inaccurate
information to his own detriment, unless
he was forced to do so by some improper
means? If the defence can be allowed to make the point, which seems to me to be
a valid one,
it must be open to the prosecution to cross-examine upon it when it
is the turn of the defence witnesses to be scrutinised."
Hierdie
opvatting strook met cms regspraak ten opsigte van die onderhawige vraag en, om
redes reeds genoem, verdien dit na my mening
voorkeur.
Wat die tweede vraag betref, het mnr Erasmus nie voor ons aan die hand gedoen
dat die appellant wel voorgesê is nie. Hy het
egter die beslissing om
die
30/...
30. bekentenis toe te laat aangeveg deur te betoog dat die hof te
veel
gewig aan hierdie valse bewering geheg het en ook dat die geleerde
regter in sekere opsigte, by die oorweging van die getuienis aangaande
die
toelating van die bekentenis, misgetas het.
Na deeglike oorweging van die betrokke getuienis het die geleerde regter in
sy uitspraak opsommend gesê:
"Under all these circumstances I came to the
conclusion that the accused's version of the
assaults was false and should be rejected. Apart from the points in his own
evidence in which he created a poor impression, I found
the police witnesses
credible, acceptable and I have no hesitation in accepting their evidence as
being true and correct. I agree
entirely with the contentions by counsel for the
state that the probability of the accused going through all this detail and
learning
this detail from a policeman is to be rejected.
In these circumstances I have no hesitation in rejecting the accused's version
as false and finding that the state has proved beyond
31/...
31.
reasonable doubt that the statement was made freely and
voluntarily."
Die bewering dat die inhoud van die
verklaring aan
die appellant voorgesê was, is heel
duidelik as vals bewys. Om hierdie
stelling in die
getuiebank te probeer handhaaf was 'n onbegonne taak.
Die
appellant se powere poging om hom hiervan te kwyt
was vir sy
geloofwaardigheid
ten opsigte van hierdie
stelling
verdoemend.
In die uitspraak word breedvoerig
na die appellant se onbevredigende
antwoorde in dié
verband verwys. Die verwerping daarvan was een van
die
faktore - blykbaar 'n belangrike een - wat die hof laat
besluit het dat
die appellant se getuienis oor die
beweerde aanranding vals was.
Daar was egter ook ander oorwegings wat tot daardie slotsom bygedra het en
wat die gevolgtrekking staaf dat die bekentenis vrywilliglik
afgelê was.
Om
32/...
32.
slegs na die vernaamste te verwys:
(i) Die appellant se getuienis word in wesentlike opsigte deur elke
staatsgetuie weerspreek. Die hof het om grondige redes bevind
dat elkeen
geloofwaardig en betroubaar was. (ii) Soos reeds vermeld, tydens die besoeke
aan
die selle het die appellant nie enige klagtes gehad
nie.
(iii) Na aflegging van sy
verklaring, het die appellant dieselfde middag voor 'n landdros by die
landdroshof in Krugersdorp verskyn.
Hy het geswyg oor enige aanranding of
beserings. Sy verduideliking daarvoor was vir die hof a
quo
onaanvaarbaar: "Toe ek gepoog het om te praat daar in die hof daardie
dag het ek nie kans gekry nie, ek is nie kans gegee nie. Ek
is toe gesê om
net af te gaan,"
(iv) Antwoorde deur 'n béskuldigde op die gebruiklike vrae wat die
aflegging van 'n bekentenis voorafgaan, moet met omsigtigheid
beoordeel word.
Soos in
S v Hoosain
1987(3) S.A. 1 (A) 10 F - 'n gese
is:
"Whenever undue influence in
truth
prompts the making of a statement, it is to be expected that false answers
to the relevant prefatory questions will be given. (Cf
S v Mbonane
1979(3) SA 182 (T). at 187H - 188B.) For this reason
the mere fact
that
such answers contradict an accused's evidence in Court in a 'trial-
33/...
33.
within-a-trial' should not necessarily be held against him. Howeyer, this is
not to say that the answers themselves are not relevant
and ought not to be
closely examined in deciding whether they are true or false. Those given by the
appellant have been quoted earlier
in this judgment. Had they been intended to
be apparently spontaneous."
Hierdie aanmerking is ewe toepaslik waar dwang in der waarheid aanwesig is.
Dit in ag genome, is die appellant se antwoorde op vrae
3 en 4 hierbo nietemin
nie dié wat 'n mens sou verwag van iemand wat aangerand en daarna gemaan
is om hierdie feit nie te
openbaar nie. Die opmerking in die laaste sin van die
aanhaling uit die
Hoosain
saak is ook - en miskien veral - van toepassing
op die woorde wat aan die einde van sy verklaring voorkom: "Ek is nou klaar en
wil
niks verder sê nie, my hart is baie seer en ek voel jammer oor wat ek
gedoen het. Dit is al."
Twee van die mistastings wat die hof, aldus
34/..
34.
die appellant se betoog, begaan het, is gegrond op wat in die
volgende uittreksel uit die uitspraak gesê is:
"To continue" (met die bespreking van die inhoud van die verklaring)":-
'By genoemde plek het oorledene - ek weet nie wat sy naam is nie - 'n
liefdesverhouding met my vrymeisie, naamlik Nonshlashla gehad.
Sy het dit nie
goedgekeur nie en het egter baie gekla. Oorledene se vrymeisie was ene Thembi
wat ook van die verhouding bewus was
en ongelukkig was daaroor'.
I pause here to say that, according to the statement that the accused made, all
this trouble started because of one or other of these
women. The accused
admitted in this court that he had, what he called, a girlfriend or 'vrymeisie'
by the name of Nonshlanshla. Her
real name or the name by which she is known is
Beauty. He claims that he does not know where she lives - Beauty Madonsella -
although
he has a child with her. He is not certain when.the child was born but
it was sometime either in December or January. He says that
because of the birth
of this child, according to their custom, he must not see this woman for some
months. I do not even propose
commenting on this. Correctly so, this was not
gone into; it is not relevant, save to say that I would be
35/...
35.
surprised if a husband has to move out of the house if his wife has a child.
The other girl is Stella Madonsella. Stella is the girl that I have already
referred to as Thembi, and she is the sister of Beauty.
Thus when they arrived
on the scene and she was asked: 'Who is there?', she replied: 'I am here with my
brother-in-law'. In other
words, Thembi is saying that she was there with a
person who is the recognised husband of her sister. Bearing in mind that the
accused
is supposed to know nothing about the whole incident, he obviously had
difficulty in explaining how this came to be recorded. On
occasion he said that
this was not part of the story that he was instructed to tell, and was not told
to him by Mnguni, the investigating
officer." This was the crux of the case,
that the trouble started because of an alleged association between the deceased
and one
or other or both of these women. He was driven to saying that this was
something that was told by the investigating officer to Detective-Sergeant
Mithani while he was present, when this name was mentioned as
Nonshlanshla."
Mnr Erasmus het eerstens betoog dat die hof
verkeerdelik bevind het dat die appellant se getuienis vals was in soverre hy
beweer het
dat hy, weens die geboorte van die kind, sy "vrymeisie" vir 'n
geruime tyd
36.
voor die voorval nie besoek het nie. Maar die hof het hierdie
getuienis, en die bestaan van die aangevoerde gebruik, slegs met 'n
mate van
twyfel bejeën. Sy . siening hieroor het heel duidelik nie enigsins 'n
belangrike rol by die bepaling van die betroubaarheid
van die appellant se
getuienis gespeel nie.
Tweedens is aan die hand gedoen dat die hof foutiewelik onder die indruk
verkeer het" dat die gesprek tussen die oorledene ("Who is
there?") en Thembi
("I am here with my brother-in-law") in die
verklaring
voorkom. Die
opmerking "he obviously had difficulty in explaining how this came to be
recorded" verwys, aldus die betoog, na hierdie
gesprek. Hierdie gedeelte van die
uitspraak is seer sekerlik onduidelik en miskien dra die indeling daarvan in
twee paragrawe daartoe
by. Die woorde "on occasion he said that this
37/...
37.
was not part of the story that he was instructed to tell"
verwys klaarblyklik na die tweede paragraaf van die verklaring, wat by die
begin
van die aangehaalde passasie uit die uitspraak voorkom. Dit is onseker of die
woord "this" in die vorige sinsnede ("how this
came to be recorded") ook daarna
verwys of, soos betoog word, na die gesprek tussen Thembi en die oorledene. Hoe
dit ook al sy, in
die veronderstelling dat die hof verkeerdelik die gesprek as
deel van die verklaring beskou het, in ag genome die ander gronde vir
die
verwerping van die appellant se getuienis (waarna reeds verwys is), is hierdie
mistasting nie noemenswaardig nie. (Vgl
S v Tuge
1966 (4) S.A. 565
(A).)
Hierdie gevolgtrekking geld ook vir die derde aangevoerde mistasting van die
verhoorhof. In die verklaring het die appellant gesê:
"Thembi het my
38/...
38.
gevolg en ook in die voertuig geklim en saam met my
weggejaag." Tydens die tussentydse verhoor het die appellant onder
kruisondervraging
beweer dat hy nie 'n
voertuig
besit
het nie. In die
uitspraak, met betrekking tot die toelaatbaarheid van die bekentenis, is
gesê "what is, however, common cause
is that he is employed as a driver
and that he can drive a car." Hierdie feite was "gemene saak" op grond van die
feit
dat die appellant tydens sy kruisondervraging later op
die meriete van die saak gesê het dat hy 'n
motorbestuurder was en
dat hy. 'n bestuurslisensie besit het. Maar hierdie feite wat gemene saak is
weerspreek nie die bewering in
die verklaring dat hy nie 'n motor
besit
het nie en ook nie sy bewering dat hy met 'n
motorvoertuig weggejaag het
nie. Ek is onseker of hierdie opmerking van die geleerde regter as kitiek op die
appellant se geloofwaardigheid
bedoel was maar daar
39/...
39. kan in elk geval met vertroue aanvaar word dat dit nie
enige wesentlike invloed op die beslissing gehad het nie.
Ek meen dus dat die verhoorhof, op 'n behoorlike beoordeling van al die
getuienis, tereg die bekentenis aanvaar het.
Die appèl word van die hand gewys.
M E KUMLEBEN APPèLREGTER
CORBETT HR)
E M
GROSSKOPF AR)
NESTADT AR) stem saam
VIVIER AR)