S v Mahlangu en Andere (200/89) [1990] ZASCA 3 (27 February 1990)

82 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Murder — Conviction based on direct and circumstantial evidence — Three appellants convicted of murder following the death of Dorah Habanantho, who was abducted and burned — The appellants claimed they were not involved in the crime, asserting they left the scene before the incident occurred — The trial court found the direct testimony of a witness credible, alongside circumstantial evidence linking the appellants to the crime — Appeal against conviction dismissed, with the court upholding the trial court's findings and the death sentences imposed.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1990
>>
[1990] ZASCA 3
|

|

S v Mahlangu en Andere (200/89) [1990] ZASCA 3 (27 February 1990)

CG SAAKNOMMER: 200/89
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèl
AFDELING)
In die saak van:
BOOKIE MAHLANGU
Appellant no 1
JOHANNES MOLEFE
Appellant no 2
THOMAS MALAHLELA
Appellant no 3
en
DIE STAAT
Respondent
CORAM
: BOTHA, MILNE ARR. et NIENABER WAR.
AANGEHOOR
: 15
FEBRUARIE 1990
GELEWER
: 27 FEBRUARIE 1990
UITSPRAAK NIENABER WAR.
2
Die grusame gebeure wat hier ter sprake is, het hul gedurende Junie 1986 in
die swart woongebied, Tembisa, naby Kemtonpark, afgespeel.
Dorah Habanantho, 'n
25-jarige vrou, is lewendig verbrand. Indertyd het sy by haar swaer, David
Seleka, in die Kopanongwyk van Tembisa ingewoon. Sy was
die minnares van ene
Frans Seshebedi. Seshebedi het terselfdertyd ook 'n verhouding gehad met ene
Verina Mabusela. Verina Mabusela
is kort vantevore oorlede - skynbaar aan
natuurlike oorsake. Gerugte was egter in die buurt in omloop dat Dorah
Habanantho haar vergiftig
het. 'n Sogenaamde nagwaak is vir Vrydagaand die 27ste
Junie 1986 ter ere van Verina Mabusela gereël. Verina Mabusela was blykbaar
'n simpatiseerder met 'n plaaslike groep wat alom as die "Comrades" bekend
gestaan het, 'n benaming wat dikwels gedurende die verhoor
gebesig maar nooit
presies omskryf is nie. Tydens die nagwaak het 'n groepie jong mans wat algemeen
as Comrades beskou is, die seremonie
onderbreek en oorgeneem. Stemme het
3
opgegaan dat Dorah Habanantho gehaal moes word sodat sy oor Verina Mabusela
se dood ondervra kon word. 'n Groep, ses of sewe van die
jong mans, is toe daar
weg. Sy is inderdaad by haar woonplek gaan haal. Dit was perseel 55, Kopanong.
Sy is egter nooit, volgens
die getuienis, na die tent waar die nagwaak
plaasgevind het, gebring nie. Haar naakte verkoolde lyk is vroeg die volgende
oggend
gevind, sowat 117 meter van perseel 55 af, oorkant die St Johns-kerk.
Onder haar kop was 'n deels uitgebrande motor-buiteband en
langs haar lyk 'n 2
liter verskroeide blik.
Vier beskuldigdes is in die Witwatersrande Plaaslike Afdeling van haar moord
aangekla. Hul verhoor het oor langer as 'n jaar gestrek.
Een van hulle,
beskuldigde no 2, is onskuldig bevind en ontslaan. Die ander drie, die huidige
appellante, is daarenteen almal skuldig
bevind en ter dood veroordeel. 'n
Aansoek om verlof om teen die skuldigbevindings en vonnisse te
4
appelleer, is geweier maar verlof is wel deur die Hoofregter verleen om teen
die skuldigbevindings te appelleer. Vandaar die huidige
appèl.
Die
bevindings van die verhoorhof berus enersyds op die direkte getuienis van 'n
beweerde ooggetuie en andersyds op sekere omstandigheidsgetuienis.
Die direkte
getuienis is dié van Philemon Skosana wat ten tyde van die voorval 14 en
ten tyde van sy getuienis bykans 15 j
aar oud was. Hy het vertel hoe die drie
appellante die oorledene kort voor 6 uur die Saterdagoggend eers verkrag en toe
verbrand
het. Om sy getuienis, en tewens die omstandigheidsgetuienis, beter in
oënskou te neem, is dit doenlik om eers, min of meer kronologies,
oor die
gebeure wat die moord voorafgegaan het, kommentaar te lewer.
David Seleka, swaer van die oorledene, Dorah Habanantho, is saam met Frans
Seshebedi na die nagwaak by perseel 16 Kopanong, waar 'n
tent vir die
geleentheid
5
opgeslaan is. Tradisioneel duur so 'n nagwaak die hele nag wat die begrafnis
voorafgaan. Verina Mabusela se begrafnis sou die Saterdag
die 28ste Junie 1986
plaasvind. Seleka en Seshebedi is vroeg die Vrydagaand soontoe. Daar tref Seleka
vir appellant no 1 aan. Saam
is die twee van hulle daar weg om 'n predikant te
gaan soek om die diens te lei. Na verskeie vrugtelose pogings kom hulle
uiteindelik
by Ezekiel Mtabi uit. Hy stem in om te gaan help en vergesel hulle
na die nagwaak waar die diens, in die teenwoordigheid van 'n groot
aantal mense,
'n aanvang neem. Appellant no 3 het as tolk vir die predikant opgetree.
Daar is, soos mens kan verwag, verskille tussen die weergawes van die
onderskeie staatsgetuies, asook die appellante, oor die presiese
wat, waar en
wanneer van alles wat gebeur het, maar hierdie verskille is nie noodwendig
deurslaggewend nie en die tye wat deur die
verskillende getuies en appellante
verstrek is, moet
6
klaarblyklik as benaderde tye beskou word.
Wat wel van belang is, is dat
die diens op 'n stadium deur 'n rumoer onderbreek is. Omtrent almal wat oor die
insident getuig het,
was dit eens dat 'n groepie jong mans die tent binnegekom
het. Meeste van die getuies plaas die groepie in die omgewing van ses tot
sewe
jong mans ofskoon die predikant, Mtabi, van ongeveer sestig jong mans praat.
Volgens hom het hulle nie uniforms aangehad nie,
terwyl van die ander weer meld
dat die jong mans opsigtelik in bruin klere met lap hoede geklee was, 'n formele
styl wat skynbaar
by die Comrades van die omtrek gewild was. Seleka vertel dat
hy en Seshebedi die nagwaak 'n rukkie vroeër verlaat het om by
Vincent se
nabygeleë shebeen te gaan bier drink toe 'n klompie jong mans wat met
stokke en sambokke gewapen was, hulle daar
uitgeboender en beveel het om na die
nagwaak terug te keer. Daar aangekom, was die skare besig om sogenaamde
vryheidsliedere te sing.
Volgens die
7
predikant was hy nog besig om te preek toe die groep jong mans die tent
binnekom en sê "Maruti, predikant, hou nou op met jou
dienste. Dit is nou
ons
kans dat ons moet werk". Dit is toe dat hy sy boeke vat en loop. Van
wat daarna in die tent gebeur het, weet hy dus niks nie. Hy
plaas diê
insident teen omstreeks 3 uur die oggend. Volgens Seleka en ene Edward Phoka wat
ook daar teenwoordig was, het dit
egter ietwat vroeër die aand gebeur.
Daarmee stem die appellante saam. Waaroor die staatsgetuies en die appellante
egter wel
verskil, is of die daaropvolgende reeks gebeure plaasgevind het nadat
die predikant reeds weg is (soos die staatsgetuies beweer),
of terwyl die
predikant nog teenwoordig was (soos die appellante getuig). Diê reeks
gebeure was die volgende:
Volgens David Seleka het 'n jong man, nadat hy en Seshebedi van Vincent se
shebeen na die nagwaak teruggekeer het, vir hom en ander
opgeroep 'om die
8
teenwoordiges oor die omstandighede rondom die dood van Verina Mabusela toe
te spreek. David het aan die skare verduidelik dat hy
saam met familielede van
Verina na die lykshuis gegaan het waar hy meegedeel is dat dit, na 'n
lykskouing, geblyk het dat sy aan
natuurlike oorsake oorlede is. Dié
inligting het egter nie allesins by die skare byval gevind nie. Dorah se naam is
genoem.
Iemand in die skare het gesuggereer dat sy vir Verina se dood
verantwoordelik was. Daarop het daar stemme van oral opgegaan dat Dorah
óntbied moes word sodat sy oor Verina se dood ondervra kon word. Ses of
sewe van die j ong mans, almal in 'n soort bruin uniform
geklee, met lap hoede
op, het volgens David Seleka uitgeroep: "Seconded, seconded". Volgens Seleka was
die tweede appellant 'n voorbok
onder dié groep jong mans wat die
oorledene moes gaan haal. Buitekant die tent het die tweede appellant hom aan
die lapel
van sy jas gegryp, hom rondgepluk, en beveel om die groep na sy huis
te neem.
9
Hy is egter nie saam toe die groep, tweede appellant inkluis, daar weg is
nie.
Die drie appellante ontken nie dat hulle die nagwaak bygewoon het nie.
Volgens aldrie van hulle het hulle saam daar opgedaag. Hulle
woon trouens in
aangrensende huise in 'n naburige wyk bekend as Mashemong. Elkeen van hulle was
in die buurt onder 'n bynaam bekend:
die eerste appellant as "Star", die tweede
appellant as "Teko" en die derde appellant as "Seven".
Die eerste appellant bevestig dat hy saam met David Seleka vir 'n predikant
gaan soek het; hy was by toe die derde appellant getolk
het; hy bevestig dat
daar, teen ongeveer 2 uur die nag, 'n groep jong mans by die tent opgedaag het,
ses tot sewe van hulle, in uniform
geklee; een van hulle het na David Seleka
gegaan; die predikant het ophou preek; David Seleka is saam met hulle die tent
uit. Daarna
het die predikant met sy preek voortgegaan en die derde appellant
het steeds
10
getolk. (In dié opsig weerspreek die predikant, soos reeds gesê,
die getuienis van aldrie die appellante. Die verhoorhof
glo die predikant en lei
daarvan af dat die drie appellante in hul getuienis 'n vals storie aan die
verhoorhof probeer opdis het.
Hierop kom ek aanstons terug.)
Die eerste
appellant het aan die polisie 'n verklaring gemaak, bewysstuk N. Wat homself
betref is dit 'n volkome verontskuldigende
verklaring. Albei van sy
mede-appellante word egter indirek daarin by die geweldpleging ingesleep vir
sover hy aan elkeen 'n prominente
rol tydens die gebeure toedig en impliseer dat
hulle hul met die doelwitte van die groep jong mans vereenselwig het. In sy
latere
getuienis het die eerste appellant egter voet by stuk gehou dat hy nooit
so iets gesê het nie. Al glo 'n mens die eerste appellant
nie dat hy
voorgesê is om sy mede-appellante in sy verklaring by die moord te betrek
nie, geld dit nie as getuienis wat
11
teen hulle tel nie. Die eerste appellant het die verklaring probeer
repudieër kwansuis op grond daarvan dat hy deur die polisie
aangerand en
voorgesê is wat om in die verklaring te vermeld - maar hierdie poging was,
soos die verhoorhof tereg bevind het,
'n volslae mislukking. Die besonderhede
wat in die verklaring vervat is kon kwalik van die polisie afkomstig wees.
Indien die polisie
hom voorgesê het en deur geweld kon manipuleer wat om
te sê, is dit moeilik in te sien waarom die verklaring nou juis
dié
vorm en inhoud sou aanneem; dan sou mens verwag het dat daar heelwat meer
inkriminerende inligting in die verklaring oor
homself en sy mede-beskuldigdes
vervat sou gewees het. Maar na dit alles gesê is, bewys die dokument
eintlik niks meer as dat
die eerste appellant 'n leuenaar is nie.
Die tweede appellant erken dat hy buite die tent, toe die groep jong mans op
die punt gestaan het om te vertrek, aan Seleka se jas
gevat het, maar hy gee
'n
12
totaal ander vertolking aan die insident as Seleka.
Volgens hom het hy
Seleka uit besorgdheid gevra waarheen hy saam met die vreemdelinge op pad is, en
Seleka antwoord toe: "Teko, kom
saam, want ek weet nie waarheen neem hierdie
mense vir my; kom dat jy kan sien wat gebeur." Seleka is toe saam met die groep
daar
weg en hyself is agterna, ofskoon bloot as toeskouer en nie as 'n deelnemer
nie. Seleka bevestig dat die tweede appellant die groep
vergesel het maar ontken
weer dat hy dit self gedoen het. Hy sê dat hy op dié stadium, nadat
die groep vertrek het,
vir die derde appellant by die nagwaak teëgekom het
en dat laasgenoemde vir hom gesê het: "Broer, dinge is nou sleg".
(Die
derde appellant, op sy beurt, ontken weer die besondere gesprek.)
Oor die
ontvoering self getuig Regina Seleka, vrou van David Seleka. Volgens haar het
dit teen ongeveer 2.30 die oggend gebeur - wat
min of meer by die getuienis van
David en die appellante inpas oor wahneer
13
die groep uit die tent weg is. Sy was nog vas aan die
slaap toe die deur van haar huis oopgestoot is. Sy het
gedink dit is
"tsotsi's". Die persone was almal vermom.
Hulle het wel bruin uniforms aangehad. Hulle het die
oorledene gedwing om saam met hulle te vertrek. Sy het 'n
"skipper" aangehad en het haarself in 'n kombers
toegewikkel.
Oor wat direk daarna gebeur het, verstrek die
tweede appellant twee verskillende weergawes, die een in
sy verklaring, bewysstuk L, wat voor 'n landdros afgeiê
is, en die ander in sy daadwerklike getuienis. In albei
gevalle openbaar hy 'n diepgaande kennis omtrent die
omstandighede waaronder die oorledene volgens hom vermoor
is. Die verklaring, bewysstuk L, lui soos volg:
"Ons was by 'n 'Night vigil' . Daar was kerk gehou daar. Tussen die mense
daar het hulle gesê die oorledene was gif gegee deur
'n ander swart vrou
David, Doureen se swaer, het voorgestel dat Doureen gehaal moet word. Hulle moet
haar verbrand. Hulle het beweer
sy het 'n polisiebeampte aan die brand gesteek".
David
14
het vir my en Petrus en ander swart seuns wie weermagbroeke aan het versoek om
saam te gaan. By 'n hoek van 'n straat het ek gestaan.
Dit was drie strate van
die straat waar Doureen bly. David het die ander het met die swart vrou Doureen
gekom. Daarna het hulle 'n
buiteband en petrol gaan soek. David het toe 'n
buiteband om Doureen se nek geplaas en Petrus het toe petrol op haar kop gegooi.
Een van daardie seuns het haar toe aan die brand gesteek. Ek het toe teruggegaan
na die 'night vigil'. David en die ander het toe
daar gekom en gesê hulle
het haar aan die brand gesteek. Die mense het toe weggehardloop. Die volgende
oggend het ek haar gesien
lê toe sy verbrand was. Ek het die polisie gewys
waar sy gelê het. Op daardie dag het ek seilskoene aangehad. My moeder
het
my versoek om 'n hoender te slag. Ek het toe die hoender met my skoene
vasgetrap. Ek het sy nek afgesny en bloed het op my skoene
gespat. Thomas het
die polisie vertel dat ek daar aangekom het met bebloede skoene. Dit was die
hoender se bloed. Dit is al."
Daarvolgens pak die
tweede appellant die skuld vierkant op David Seleka en Petrus. (Petrus was
beskuldigde no 2 wat vrygespreek is;
die "Thomas" na wie in die verklaring
verwys word, is klaarblyklik die derde appellant.)
In sy getuienis beweer die tweede appellant
15
egter dat hierdie verklaring vol onwaarhede is wat deur die poiisie met
geweld en dreigemente op hom afgedwing is. Soos met die eerste
appellant se
verklaring (bewysstuk N) die geval was , verwerp die verhoorhof, om goeie en
oortuigende redes, ook hierdie verduideliking.
Sy pogings om homself van die
verklaring te distansieër maak van die tweede appellant 'n blatante
leuenaar.
In sy getuienis verstrek hy weer 'n totaal ander weergawe.
Daarvolgens agtervolg hy die groep, op Seleka se versoek, tot by laasgenoemde
se
huis, perseel 55, versteek hy homself in 'n toilet daarbuite, alles uit blote
nuuskierigheid; en volg hy hulle toe hulle saam
met die oorledene die huis
uitkom. Strydig met sy verklaring was Seleka diê keer nie by nie; hy sou
dan in die huis agtergebly
het. (Hierin word hy, soos reeds gesê,
teegespreek deur Regina en natuurlik deur David Seleka self. Volgens beide van
hulle
het Seleka eers die volgende oggend daar opgedaag op soek na die
oorledene.)
16
Appellant no 2 beweer dat hy deurentyd bloot 'n toeskouer en as sodanig
geheel en al onskuldig was. Hy het waargeneem hoe die oorledene,
by die plek
waar hy verduidelik het(h hele end van waar die lyk uiteindelik ontdek is) aan
die brand gesteek is. Nie een van die
persone wat haar weggevoer en uiteindelik
verbrand het, kon hy in sy getuienis identifiseer nie. Die oorledene het daarna
weggehardloop.
Hy meld egter nie of sy weggehardloop het met die brandende band
om haar lyf nie. Hoe die band op die plek sou gekom het waar haar
lyk
uiteindelik gevind is, en waar die blik wat langs haar lyk ontdek is, vandaan
kom, is volgens hierdie weergawe moeilik verklaarbaar.
Volgens hom is hy,
ná die grusame gebeure, onmiddellik na die nagwaak terug waar hy die
derde appellant, wat steeds besig
was om die predikant se preek te tolk,
stilgemaak en aangesê het om die toehoorders mee te deel dat die groep
Iemand verbrand
het. Dit is weer strydig met die getuienis van die
17
predikant self wat op daardie stadium, volgens sy weergawe, nie meer in die
tent teenwoordig was nie. Ondanks die tweede appellant
se oproep het niemand die
oorledene te hulp gesnel nie. Hy ook nie. Almal het weggehardloop. Hy ook. Hy is
na 'n shebeen waar hy
tot die volgende oggend omstreeks 5 uur vertoef het. Op
pad huis toe kom hy op die oorledene se lyk af by die plek waar dit uiteindelik
gevind is. Sy verduideliking van hoe hy geweet het dat dit juis die oorledene se
lyk was, was onoortuigend terwyl sy poging om dle
bloed op sy skoene wat vir
ander sigbaar was, te verduidelik, tereg deur die verhoorhof verwerp en as
"amper amusant" beskryf is.
Volgens hierdie weergawe het hy, soos reeds
gesê, 'n besondere kennis gehad van hoe die oorledene aan haar pynlike
einde gekom
het; daarbenewens het hy klaarblyklik nie in alle opsigte vir die
hof die waarheid vertel nie. Op die volle implikasies hiervan kom
ek te
18
gelegener tyd terug.
Die derde appellant het eweneens nie as getuie oortuig nie en sy advokaat het
dit, tydens betoog voor ons, as uitgangspunt aanvaar
dat die verhoorhof die
derde appellant tereg as 'n leuenaar bestempel het. Niks in die getuienis het
egter daarop gedui dat hy die
groep wat die oorledene sou gaan haal vergesel het
nie. Volgens Phoka was hy ook nie in die uniform van die Comrades geklee nie.
Seleka self het gesê dat kort nadat die groep weg is hy die derde
appellant in die tent teëgekom het toe die derde appellant
vir hom
gesê het "Broer, dinge is sleg". Kortom, niks in die getuienis self,
behalwe vir die getuienis van Philemon Skosana
waarby ek binnekort kom, dui
enigsins daarop dat die derde appellant by die dood van die oorledene betrokke
was nie. Dit is wel so
dat hy die getuienis van die ander appellante probeer
onderskraag as sou die predikant nog besig gewees het met sy preek toe die
tweede appellant opnuut sy opwagting by
19
die nagwaak gemaak het. As mens die predikant se getuienis aanvaar, soos die
verhoorhof dit na my mening tereg gedoen het, toon dit
dat die derde appellant
bereid was om sy getuienis in die hof by dié van sy mede-appellante aan
te pas. Daaruit kan mens egter
nie die afleiding maak dat hy 'n party tot 'n
sameswering was om die oorledene te vermoor nie. Dit is ook so dat sy eie
getuienis
oor wat hy na die tyd gedoen het nie konsekwent en oortuigend was nie.
Maar ook dit regverdig geen ander afleiding as dat sy getuienis
nie betroubaar
is nie; op sigself beteken dit nie dat hy met die moord op die oorledene gemoeid
was nie.
Die getuienis wat tot dusver bespreek is, toon dat die gewraakte
gebeure alles in die vroeë oggendure, omstreeks 3 uur, plaasgevind
het.
Dit strook geensins met die getuienis van die enigste ooggetuie wat deur
die Staat geroep is nie, nl. Philemon Skosana. Volgens hom
het die moord om 5.45
die
20
oggend plaasgevind terwyl hy onderweg was om 'n huurmotor om sewe uur by 'n
nabygeleë huurmotorstandplaas te gaan haal, op pad
na die Kempton Parkse
gholfbaan waar hy die dag as gholf-joggie sou werk. Hy het 'n uitvoerige relaas
verstrek van hoe hy die oorledene
op 'n afstand van 117 meter (volgens die
uitwysing wat hy op die toneel gemaak het - sy eerste skatting was 9 treê)
net binne
perseel 55 op haar eentjie sien staan het, in 'n kombers gewikkel; hoe
hy gesien het dat die drie appellante, in bruin klere met
pette op, haar van die
oorkant nader (op daardie stadium was hulle, volgens sy uitwysing 'n afstand van
148 meter van hom wat aansienlik
van sy eerste skatting verskil het); hoe die
appellante die oorledene gryp, deur die hek en straat-af sleep, met sambokke
toetakel,
haar voete met 'n tou vasbind, waarna sy verkrag is terwyl sy deur
sommige van hulle en 'n nuweling op die toneel, ene Mantantase,
vasgehou is.
Nadat sy verkrag is, is sy, volgens hom, na 'n ander plek getrek (waar haar
lyk
21
uiteindelik gevind is). Terwyl die derde appellant haar op die grond vasgepen
het, het die tweede appellant 'n buiteband om of onder
haar kop geplaas, petrol
uit 'n blik (maar nie die blik wat op die toneel gevind is nie) op haar gegiet
en dit met 'n vuurhoutjie
aan die brand gesteek. Sy was nog besig om te brand,
so vertel hy, toe hy daar weg is om sy huurmotor te gaan haal, waarna hy die
dag
as joggie gewerk het. Drie maande later, toe hy vir iets anders deur die polisie
aangekeer is, het hy die noemname van die drie
appellante, "Star", "Teko" en
"Seven" aan dié polisie verstrek.
Die verhoorhof het, volgens wat in
die uitspraak self gesê word, Skosana se getuienis met omsigtigheid
benader: enersyds omdat
hy 'n jeugdige, andersyds omdat hy 'n enkel getuie was.
Die verhoorhof bevind dat daar aspekte van sy getuienis is wat onwaarskynlik
is
en selfs weersprekings inhou. Desondanks meen die verhoorhof dat daar origens
genoeg
22
waarborge in sy eie asook die oorblywende getuienis gevind kan word om sy
getuienis betroubaar te maak.
Daarmee kan ek, met eerbied, nie akkoord gaan
nie. Skosana se getuienis wemel van teenstrydighede, onwaarskynlikhede, botsings
met
ander staatsgetuies, en selfs blatante leuens. Neem nou maar die geval van
die uitkenningsparade. By diê geleentheid het hy
die tweede en derde
appellante uitgeken maar nie die eerste appellant nie. Volgens hom het hy die
eerste appellant voor die tyd goed
geken. Hy was aan hom bekend onder sy bynaam
"Star". Tog ken hy hom op die parade nie uit nie. Toe hy daarmee gekonfronteer
word,
beweer hy eers dat hy die eerste appellant wel op die parade gesien en as
een van die persone wat by die voorval betrokke was, herken
het, maar dat hy hom
nie geïdentifiseer het nie aangesien hy aangesê is om slegs diegene
uit te ken "wat die meisie aan
die brand gesteek het" en die eerste appellant
nie een van hulle was nie. Blykens die tersaaklike vorm,
23
bewysstuk G, het die opdrag egter gelui "om die verdagtes indien op parade,
uit te wys deur hul skouers aan te raak wie hy gesien
het terwyl hulle die
oorledene verbrand het". Toe dit nou aan hom gestel word, verander hy sy
deuntjie en beweer hy dat hy die eerste
appellant glad nie op die parade
opgemerk het nie, Dit deug net nie. Nie alleen tas dit sy eie geloofwaardigheid
aan nie maar dit
maak ook sy uitkenning van die tweede en derde appellante by
die uitkenningsparade en van aldrie die appellante tydens die insident
onbetroubaar, want as hy met die een appellant so 'n fout kon maak, waarom nie
ook met die ander twee nie? Ofskoon die verhoorhof
in sy uitspraak meld "dat
Philemon se uitkenningsgetuienis wat betref no 1 glad nie bevredigend was nie",
word dié kwessie
nêrens in die uitspraak pertinent in verband met
die versigtigheidsbenadering bespreek wat by identifikasie, jeugdigheid en
'n
enkel getuie geverg word nie. Al wat ter verontskuldiging van Skosana gesê
word,
24
is dat hy die naam "Star" vooraf aan die polisie genoem het ("want ek het net
gehoor dat hy was nog nie in hegtenis geneem nie"),
maar dit beteken eintlik
weinig as hy "Star" daarna nie op 'n uitkenningsparade kon uitken nie.
'n
Ander ewe belangrike aspek wat die verhoorhof nie in verband met die gemelde
versigtigheidsbenadering opper nie, is of Skosana
volgens sy eie weergawe
werklik voldoende geleentheid gehad het om die booswigte te kon herken.
Die
verhoorhof bevind dat dit nog betreklik donker was toe Skosana die appellante op
'n afstand van 148 meter waargeneem het. Volgens
Skosana het hy aldrie van hulle
onmiddellik herken, ten spyte daarvan dat hulle almal bruin klere aangehad het,
asook pette wat die
kante van hul gesigte bedek het, sodat hy slegs hul oë,
neuse en kenne kon sien. Volgens Skosana het hy die eerste appellant
op daardie
afstand in die besonder aan sy neus
25
herken, asook aan sy manier van loop en omdat hy korterig van postuur
was.
Getuienis van hierdie gehalte is onoortuigend. Dit strook ook nie met
die getuienis van ander staatsgetuies dat die appellante, minstens
tydens die
nagwaak, nie in bruin "uniforms" geklee was nie. Daar eindig die kritiek op
Skosana se getuienis ook nie. In die loop
daarvan het die advokaat vir die Staat
by verskillende geleenthede afwykings van wat Skosana aan die staatsadvokate
tydens konsultasie
sou gesê het aan die verdediging openbaar, oor aspekte
soos wie die oorledene sou verkrag het, wie die motorband om haar lyf
geplaas
het, wie die houer met brandstof hanteer het, en dies meer.
Ek vind dit
onnodig om al die punte van self-weersprekings in sy getuienis, weerspreking met
ander staatsgetuies, en onwaarskynlikhede
in sy getuienis, te tabuleer. Dit het
die verdedigingsadvokate trouens
26
gedoen en selfs hul omvangryke hoofde van betoog het nie alle punte van
kritiek gedek nie. Volgens Skosana is die oorledene om 5.45
die oggend vermoor.
Waarom die oorledene op daardie tydstip alleen voor haar huis sou staan, as sy,
volgens Regina, reeds om 2.30
met geweld daar verwyder is, is onverklaarbaar.
Later as 5.45 kon dit nie wees nie, want die oorledene se lyk is laatstens teen
6
uur ontdek. Maar waarom sou Skosana om 5.45 in die omgewing opdaag, as hy eers
'n uur later, om 7 uur, 'n huurmotor minder as 200
meter daarvandaan moes haal?
En dan sou mens ook verwag het dat die oorledene se lyk en die as waarna in die
getuienis verwys word,
nog warm sou wees en dat die motorband nog sou smeul toe
die oorledene se lyk kort daarna ontdek is. Tog was dit, volgens die getuienis,
nie die geval nie. Selfs die advokaat vir die Staat het, sowel in sy hoofde van
betoog as in sy betoog voor ons, toegegee dat die
gebeure nie so laat die oggend
kon plaasgevind het as wat Skosana beweer het nie. En as
27
dit so is, kan Skosana net nie geglo word nie want daar was net geen rede vir
hom om selfs nog vroeër op die plek aan te kom
waar hy die moord na
bewering gade geslaan het nie.
Kortom, die pogings van die verhoorhof om
Skosana se getuienis aanneemlik te maak, slaag, met eerbied, nie. Op elkeen van
die vermeende
waarborge van geloofwaardigheid waarop die verhoorhof steun, is
daar 'n volkome en vanselfsprekende antwoord: Skosana se beskrywing
van die
toneel was, toegegee, redelik akkuraat - maar aan die ander kant was dit vir hom
nie onbekende terrein nie; hy beskryf hoe
die oorledene in 'n kombers omhul was
- maar later weerspreek hy hom oor wat sy sou aangehad het; volgens die Hof is
daar geen rede
waarom hy die verkragtingsinsident sou versin het nie -maar
geeneen van die appellante is ooit van verkragting aangekla nie (dit
word
trouens nie eens in die Opsomming van Wesenlike Feite vermeld nie) en bowendien
klink dele
28
van sy beskrywing van die verkragting selfs vir die verhoorhof nie waar nie;
hy gee wel 'n realistiese beskrywing van hoe die oorledene
verbrand is, hoe sy
gespartel en geskree het - maar die beskrywing bevat in werklikheid niks wat
buitengewoons of onverwags of anders
is as wat enigeen hom so 'n insident sou
voorstel nie. Die "waarborge" waarna die hof verwys, slaag myns insiens nie
naastenby daarin
om die talryke negatiewe aspekte in Skosana se getuienis te
neutraliseer nie. Die onvermydelike slotsom is dat die verhoorhof sy
getuienis
nie versigtig genoeg benader het nie.
Uit die bogaande volg dit dat daar na
my mening, en anders as wat die verhoorhof beslis het, hoegenaamd geen peil op
Skosana getrek
kan word nie. Waar hy geswyg het totdat hy self etlike maande
later in hegtenis geneem is, kan mens die moontlikheid nie uitskakel
dat sy
weergawe op gerugte gegrond was wat hy in die omgewing gehoor en wat hy as
getuienis aangebied
29
het ten einde die gunste en gawes van die polisie te
verwerf nie. Die hele
saak moet na my mening dus
beoordeel word op die grondslag dat Skosana se
getuienis
geïgnoreer word.
En daarmee verkrummel wat die Hof a quo as die
hoeksteen van die Staat se saak teen die appellante
beskryf het. Dit
beteken dat mens nie met vrymoedigheid
kan aanvaar dat die oorledene wel op
die tydstip verbrand
is wat wat Skosana beweer nie, nl. , kort voor 6
die
oggend toe hy op pad was om 'n huurmotor te gaan haal nie.
Daaroor sê die Hof a quo, in sy uitspraak:
"Die hof moet besluit of die verbranding van Dorah, wat die onmiddellike oorsaak
van haar dood was, nie moontlik die oggend om ongeveer
03h00 plaasgevind het
nie. As dit na oorweging van al die getuienis (wat dié van Philemon sowel
as die alibigetuienis van
die beskuldigdes natuurlik ook insluit) blyk dat daar
'n redelike moontlikheid bestaan dat Dorah reeds om ongeveer 03h00 gedood is
moet die beskuldigdes vrygespreek
word."
In weerwil van hierdie
benadering bly dit
30
steeds nodig, soos die advokaat vir dle Staat in die alternatief ook betoog
het, om te bepaal of die oorblywende omstandigheidsgetuienis
nie tog 'n saak
teen die appellante bewys nie.
Wat die eerste appellant betref, erken hy dat
hy saam met sy mede-appellante by die nagwaak opgedaag het; hy maak hom skuldig
aan
leuens wanneer hy sê dat die predikant nog teenwoordig was nadat die
groep uit die tent weg is; so ook wanneer hy sy verklaring
probeer weerspreek;
sy eie weergawe gaan mank aan 'n aanvaarbare verduideliking van wat tussen 3 uur
en 5 uur die oggend gebeur het;
sy relaas van die roete wat hy agterna gevolg
het, is onoortuigend - soos dle verhoorhof ook tereg bevind: klaarblyklik
probeer hy
verdoesel wat hy in sy verklaring gesê het, nl. dat hy op die
verkoolde lyk van die oorledene afgekom het. In werklikheld is
dit die enigste
punt wat regtig teen hom tel. Wat dit alles bewys, as mens Skosana se getuienis
buito rekoning laat,
31
is slegs dat die eerste appellant 'n leuenaar was. Dit maak van hom nog geen
moordenaar nie. Na my mening is die getuienis teen die
eerste appellant
onvoldoende om 'n skuldigbevinding op die aanklag te regverdig en behoort sy
appèl dus te slaag.
Wat die tweede appellant aanbetref, is die
situasie effe anders. Hy word in die eerste plaas deur David Seleka
geïmpliseer want
volgens Seleka was hy die voorbok onder die groep wat die
oorledene sou gaan haal het. As dit so is, dui die waarskynlikhede daarop
dat hy
nie bloot 'n waarnemer was nie maar 'n mededader of medepligtige.
Seleka se eie getuienis, alles in ag genome, is egter nie van die
betroubaarste nie. Oor die belangrike kwessie of hy self die groep
vergesel het
om die oorledene te gaan haal (soos die tweede appellant beweer) verspreek en
weerspreek hy homself op 'n wyse wat 'n
vraagteken oor al sy getuienis werp.
Weliswaar steun sy
32
vrou, Regina Seleka, hom daarin dat hy nie saam met die groep by hul huis
aangekom en nie agtergebly het toe die oorledene deur die
groep weggevoer is
nie. In die opsig weerspreek sy dus die tweede appellant. Haar getuienis is weer
gekritiseer op grond daarvan
dat sy sou getuig het dat sy vooraf deur die
"Makomo" (wat blykbaar na die Comrades verwys) aangesê is om nie die deure
van
haar huis te sluit nie. Na my mening is hierdie getuienis nie so
onwaarskynlik as om van haar 'n leuenaar te maak nie, maar aan die
ander kant is
dit seker so dat sy 'n motief gehad het om haar man te probeer beskerm. Haar
getuienis is dus neutraal op die punt
onder bespreking.
Edward Phoka het
beslis onder die indruk verkeer dat Seleka saam met die groep daar weg is
ofskoon hy byvoeg: "ek het nie gesien of
hulle by die hek uit was, want ek het
bly sit in die tent". Onder kruisverhoor het Phoka bevestig dat hy nie geslen
het of Seleka
"die militêre mense" vergesel het nie. Hy het wel
33
aangeneem dat dit gebeur het aangesien cne lucky, die persoon wat die groep
opdrag gegee het om die oorledene te gaan haal, ook vir
David beveel het om aan
huile sy huis te gaan wys. Alles in ag genome is Phoka se getuienis dus nie
deurslaggewend dat Seleka wel
die groep na sy huis vergesel het nie, maar dit
sluit die moontlikheid nie uit en maak dit nie eens onwaarskynlik nie. In sy
getuienis
maak Phoka geen melding daarvan dat hy Seleka na die tent sien
terugkeer het voordat hy hom, heelwat later, by Vincent se shebeen
raakgeloop
het nie. By dié geleentheid het Seleka vir hom hartseer voorgekom. Hy het
vir Seleka gevra "David wat het van Dorah
geword?" en Seleka wou nie daarop
antwoord nie. Op sy minste skep dit die indruk dat Seleka geweet het dat Dorah
ontvoer is.
Seleka se eie getuienis oor sy latere optrede wek ook nie
vertroue dat hy die Hof die volle waarheid vertel het nie. Sy versuim om,
nadat
die groep die
34
oorledene nie teruggebring het nie, na sy woonhuis te gaan, is vreemd. As sy
bekommernis oor Dorah dan so eg was, hoekom is hy na
die shebeen, hoekom het hy
haar nie by sy huis gaan soek nie? Sy antwoord op dié kritiek was nie
besonder oortuigend nie.
By die shebeen het hy, so getuig hy, aan die slaap
geraak. Ook di6 getuienis val vreemd op. Kortom, David Seleka se getuienia was
nie van so 'n aard dat mens met vertroue kan aanvaar dat sy getuienis oor die
tweede appellant se aandeel bo redelike twyfel waar
moet wees nie.
Feit bly
dat die tweede appellant se eie weergawe van hoe hy die groep gevolg het, van
wat hy alles waargeneem het, en dat hy bloot
toeskouer was, uiters verdag
voorkom. Daar was geen oortuigende rede waarom hy homself juis in die latrine
moes gaan versteek het
om op die groep te spioeneer nie. Op daardie stadium kon
hy, as sy relaas waar was per slot van rekening nie voorsien het dat die
oorledene verbrand sou word nie.
35
Toe was die verklaarde oogmerk bloot net om die oorledene te gaan haal en na
die nagwaak terug te brihg waar sy ondervra sou word
(alhoewel die tweede
appellnnt maak of hy niks hiervan geweet het nie). Sy onbeholpe poging, in sy
verklaring, om die bloed aan sy
skoene te probeer verduidelik, en sy
leuenagtigheid toe hy hieroor onder kruisverhoor geneem is, is insgelyks 'n
aanduiding dat alles
met sy getuienis nie pluis was nie. Hy kon geen behoorlike
verduideliking verstrek van hoe hy geweet het dat die lyk waarop hy later
afgekom het, juis die oorledene s'n was nie aangesien dit op daardie stadium,
volgens hom, met 'n kombers bedek was. Sy opmerking
dat hy daardeur geskok was,
is onaanvaarbaar as mens in ag neem dat hy vantevore juis gesien het hoe sy
verbrand word. Sy poginge
om sy eie verklaring, bewysstuk L, te weerspreek, was
om die minste te sê naïef. Neem mens dit alles in ag was daar ruim
rede vir agterdog teen die tweede appellant. Maar agterdog is nog geen bewys
nie.
36
Dit kan die begin van bewys wees, dit is nog lank nie die einde daarvan nie.
Sonder Skosana se getuienis is die aanwysers net nie
sterk genoeg om as bewys bo
redelike twyfel te geld nie. Ook sy appèl behoort te slaag.
Wat die
derde appellant betref staan hy, na my mening, op min of meer dieselfde
grondslag as die eerste appellant. Hy het homself
as 'n leuenaar maar nie
noodwendig as 'n moordenaar bewys nie. Mens kan aanvaar, gesien sy leuens, dat
hy nie heeltemal so onkundig
en onskuldig was as wat hy probeer voorgee het nie
maar feit is dat direkte getuienis van enige aard (Skosana s'n uitgesluit) dat
hy die dood van die oorledene aanskou het, of daarby betrokke was, geheel en al
ontbreek. Trouens, daar was getuienis van Phoka dat
hy nie in 'n uniform geklee
was nie, terwyl Regina Seleka se getuienis juis was dat almal so aangetrek was.
Daar is ook die getuienis
van David Seleka dat die derde appellant, nadat die
groep daar weg is, steeds in die tent aanwesig was.
37
Sy skuldigbevinding berus uitsluitlik op die getuienis van Skosana. Vir sover
daardie getuienis geïgnoreer moet word, volg dit
dat die derde appellant,
soos die ander twee, ook op sy ontslag geregtig is.
Na my mening behoort die
appel van elk van die drie appellante dus te slaag. Die bevel van die Hof is dat
die skuldigbevinding en
vonnis van elk van die appellante tersyde gestel
word.
P M NIENABER, WAR.
BOTHA, AR.) MILNE, AR.)