About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1988
>>
[1988] ZASCA 130
|
|
S v Vermaak and Another (386/87) [1988] ZASCA 130 (30 September 1988)
6 I SAAKNOMMER: 386/87
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
JAN VERMAAK
Eerste Appellant
DEON VENTER
Tweede Appellant
en
DIE STAAT
Respondent
CORAM:
JOUBERT, STEYN, et EKSTEEN, ARR.
AANGEHOOR:
15 SEPTEMBER
1988
GELEWER:
30 SEPTEMBER 1988
UITSPRAAK STEYN. AR.
2
STEYN. AR.
Hierdie is 'n appèl teen vonnis.
Die
appellante is op 3 April 1984 in die Johannesburgse Streekhof weens verkragting
elk gevonnis tot 6 jaar gevangenisstraf en daarbenewens
tot lyfstraf van 5 houe.
Hulle het tesame met drie mede-beskuldigdes in daardie hof tereggestaan op twee
aanklagte van verkragting
(aanklagte 1 en 2), 'n aanklag van oortreding van art
25(1 )(a) van die Polisiewet, no 7 van 1958, (aanklag 3) en van roof (aanklag
4). Dis die vyf beskuldigdes ten laste gelê dat hulle op 5 Februarie 1983
vir Clarissa Dickens (Clarissa) - die klaagster op
aanklag 1, en Karen Baillie
(Karen) - die klaagster op aanklag 2, verkrag het, valslik voorgegee het dat
hulle lede was van die Suid-Afrikaanse
Polisiemag en vir Craig Vlok van 'n
beursie en R75,00 beroof het. Eerste appellant was beskuldigde 1, Jan Frederick
Botha was beskuldigde
2, tweede appellant was beskuldigde 3 en Marthinus
Christoffel Stander Havenga en Allan James Nell was onderskeidelik beskuldigdes
4 en 5. Al vyf beskuldigdes was verdedig deur Mnr Bornman en almal van hulle het
op al die
3 aanklagte onskuldig gepleit. Die basis van hul gesamentlike
verweer op die aanklagte van verkragting was toestemming deur
die
klaagsters tot gemeenskap met almal van hulle en op die ander
twee
aanklagte 'n ontkenning van al die wesenlike bewerings. Op
die aanklagte van
verkragting is hulle nietemin almal skuldig
bevind en op elk daarvan gevonnis
tot 3 jaar gevangenisstraf wat
nie saamlopend is nie. Dié twee
aanklagte is as een geneem vir
doeleindes van die lyfstraf. Twee jaar van
beskuldigde 5 se
tronkstraf is voorwaardelik vir 5 jaar opgeskort. Al die
beskuldigdes is
onskuldig bevind op die derde aanklag. Op die
vierde aanklag is beskuldigde
5, Nell, vrygespreek en die ander 4
aan aanranding skuldig bevind en daarop
gewaarsku en ontslaan.
Al 5 beskuldigdes het geappelleer na die Transvaalse
Provinsiale
Afdeling van die Hooggeregshof van Suid-Afrika teen
hul
skuldigbevindings en vonnisse. Op 22 Maart 1985 is hul
appèlle
deur daardie Hof aangehoor en afgewys maar is verlof aan
hulle
verleen om teen hul vonnisse t.a.v. die verkragtings na hierdie
Hof
te appelleer. Slegs die twee appellante het met die appèl
voortgegaan.
Die ander drie beskuldigdes het hul vonnisse gaan
4 uitdien. Mnr Pelser het hierdie appel namens die Staat
beredeneer. Hy het ons meegedeel dat hul lyfstraf reeds aan
daardie
beskuldigdes toegedien is. Ten tyde van die pleging van
die misdade was die
ouderdomme van die beskuldigdes soos volg:
no 1 = 21; no 2 = 19; no 3 = 17;
no's 4 en 5 = 19. Tweede
appellant was gebore op 9 Maart 1965. (Sy vader het
o.a. so
getuig ter versagting van vonnis.) Hy was dus vir alle
praktiese
doeleindes 17 jaar en 11 maande oud toe hy gemelde
misdade
gepleeg het. Eerste appellant is volgens sy vader, wat
insgelyks
getuig het, gebore op 10 Augustus 1961. Hy was derhalwe vir
alle
praktiese doeleindes 21 jaar en 7 maande op 5 Februarie 1983.
Beskuldigde
no 2 se ouderdom destyds is nie nader bepaal as 19
jaar nie. Beskuldigde no 4
is volgens Mev Diane Raible, die
maatskaplike werkster wat namens hom ter
versagting getuig het,
gebore op 22 Maart 1963. Hy was gevolglik 19 jaar en
10 maande
oud ten tyde van die misdade. Beskuldigde no 5, Nell, was
volgens sy eie getuienis gebore op 10 November 1963. Hy was op 5
Februarie
1983 19 jaar en 3 maande oud. Tweede appellant is
derhalwe meer as "n jaar jonger as die jongste van sy mede-
5 beskuldigdes. In latere leeftyd is so 'n verskil nie van groot
belang nie, maar by tienderjariges kan dit in sekere gevalle
betekenisvol
wees. Ek kom later daarop terug.
Omdat hierdie appel beperk is tot die vraag
of die appellante na behore bestraf is al dan nie, behandel ek al die getuienis
wat op
die voorval betrekking het, ook deels diá ter strafversagting,
gesamentlik.
Die agtergrondsgebeure is nie wesenlik in geskil nie. Hulle is
soos volg.
Die twee klaagsters en hul vriendin, Gillian-Anne Campbell
(Gillian) het tussen 8 en 9 nm op Vrydagaand, 4 Februarie 1983, na die
"Boobs"
diskoteek in Hillbrow gegaan. Die geleentheid was Gillian se verjaarsdag. Hulle
het dit daar gaan vier. Clarissa was toe
pas 16 jaar oud en 'n maagd. Sy het op
8 Januarie 1983 16 geword. Karen was 15 jaar en 4 maande, nie meer maagdelik
nie, en het gemenstrueer.
Sy het 'n Tampax tampon inwendig daarvoor gedra. In
die diskoteek het twee jong mansvriende by hulle aangesluit. Hulle was Craig
Vlok (Craig) en ene Edward, wie se van nie genoem was nie; hy het 'n
misvormde
6 hand. Die reeling was dat Edward hulle huis toe sou neem.
Gillian se ouderdom is nie genoem nie, maar sy was klaarblyklik 'n
jong
meisie van dieselfde jare as die klaagsters. Ter viering
van die verjaarsdag
het die drie meisies sterk drank in die
diskoteek gebruik. Clarissa en
Gillian was nie daardeur
geaffekteer nie, maar Karen wel, tot 'n mate. Sy was
egter nie
beskonke nie. Ongeveer 02h00-02h30 op Saterdag, 5 Maart, het
Karen sleg
begin voel in die diskoteek. Gillian en Craig het
haar uitgeneem na die
stegie voor die diskoteek. Clarissa het in
die stegie by hulle aangesluit.
Gillian is weer die diskoteek in
om hul handsakke en Edward te gaan haal. Die klaagsters en Craig
het aan
die oorkant van die stegie gaan sit en wag vir Gillian en
Edward.
Die Saterdagaand het nie goed begin vir tweede
appellant nie. Hy het by sy ouers ingewoon en was streng
grootgemaak deur sy vader. Daardie aand het sy grootouers van
moederskant by hulle gekuier. Daar was 'n geselligheid in
die
Johannesburgse voorstad Crosby waarheen tweede appellant daardie
aand wou gaan. Sy vader wou hom nie toelaat om te gaan nie.
7 Tweede
appellant was groot gebou vir sy jare en het hom teen die
vaderlike verbod verset, tot só 'n mate dat sy vader genoop was
om
'n rottang te gaan haal en hom te waarsku dat hy 'n loesing gaan
kry
soos hy in sy lewe nog nie gehad het nie. Dit was
klaarblyklik 'n ernstige
konfrontasie tussen vader en seun.
Tweede appellant se moeder, wat 'n
hartlyer is, het tussenbeide
getree met dié woorde aan haar seun "nou
moet jy padgee, nou gaan
jy kry wat jy na gesoek het". Haar ouers het op
vertrek gestaan
en sy het dit bewerkstellig dat tweede appellant saam met
hulle
gaan om die nag by hulle deur te bring. Hy is weg met hulle, en
van
ouma en oupa af is hy, tot sy uiteindelike verdriet, na die
Crosby party. Die
ander beskuldigdes was ook by daardie
geselligheid. 'n Getroude man, Fanie
Nepgen, was by eerste
appellant en beskuldigdes 2 en 4. Nell het pas sy
militêre
diensplig voltooi. Hy het vir Nepgen geken maar het
homself
eenkant gehou. Tweede appellant het by Nepgen-hulle
aangesluit.
Alhoewel daar sterk drank op die party beskikbaar was, is
daar
geen suggestie dat appellante, die ander beskuldigdes of Nepgen,
daar beskonke geraak het of enigsins onder die invloed van drank
8
was nie. Dit is trouens net eerste appellant wat beweer het dat
hy daar
gedrink het, t.w. drie biere om en by nege uur daardie aand.
Later die aand
het die vyf beskuldigdes en Nepgen die geselligheid verlaat en snoeker gaan
speel in Hillbrow. Nell is op sy eie soontoe
in sy motor en alhoewel hy na
dieselfde snoekerlokaal gegaan het as die ander, was hy steeds apart van hulle
en het nie saam met
hulle gespeel nie. In die vroee oggendure van Saterdag, 5
Februarie, het hulle almal honger geword. Om ongeveer 02h00-02h30 het hulle
te
voet vertrek na 'n restaurant op 'n perseel genaamd "High Point" om daar kos te
gaan koop. Dié keer was Nell saam met hulle,
maar hy het effe agter hulle
geloop. Toe hulle die stegie by die "Boobs" diskoteek verbyloop, het eerste
appellant opgemerk dat hy
dagga ruik. Nepgen het getuig dat hy dit ook geruik
het. Die ander beskuldigdes het gehoor wat eerste appellant sê maar het
nie self 'n daggareuk bespeur nie. Eerste appellant is 'n besonder groot,
frisgeboude jong man. Sy gewig is 122 kg en hy is 6'6"
lank. Hy het ook sy
militêre diens voltóoi en was daartydens 'n lid van die
9
militêre polisie. Hy het die stegie toe ingegaan gevolg deur
Nepgen en die ander vier beskuldigdes. Daar kom hulle af op die
twee
klaagsters en Craig; hy het langs Karen gesit, wat in 'n
rooi minirok geklee
was, en het haar blykbaar ondersteun. Wat
toe gebeur het, vorm deel van die
tweede, hoofsaaklik betwiste,
fase van die gebeure. Ten aansien daarvan is
die weergawe van
die staatsgetuies op die wesenlike aspekte deur
die
streeklanddros aanvaar en dié van die verdediging verwerp
waar
dit daarmee gebots het. Die enigste uitsondering is die
getuienis van
Craig aangaande die berowing van sy beursie en
geld. Daaromtrent het die
landdros die volgende gesê:
"Craig Vlok se getuienis hoef nie volledig opgesom te word nie. Hy was saam
met Karen en Clarissa in die steeg toe die beskuldigdes
daar opdaag. Hy het
tewens by Karen gesit en het ontken dat sy hande onder haar rok in was. Hy het
nr. 1, 2, 3 en 4 uitgeken, en
nr. 5 was volgens hom nie daar nie. Hy verklaar
dat almal hom aangerand het. Hy verleen steun aan die algemene beeld dat die
meisies
met geweld geneem is nadat die beskuldigdes hulle as polisiemanne
voorgedoen het. Sy getuienis in verband met die wegneem van sy
geld staan
alleen. Dit is ongelukkig so dat hy 'n baie swak indruk gemaak het. Hy was
duidelik oorbluf en het in die getuiebank
10
die indruk gelaat dat hy onseker is oor die gebeure toe sy beursie geneem is.
Die indruk word onuitwisbaar gelaat dat hy uit die feit
dat sy beursie die
volgende dag teruggevind is, die afleiding maak dat dit van hom geneem is. Want
hy getuig as volg, ek haal aan:
'When I received it back, I knew it
was missing.' Alhoewel dit natuurlik is dat getuies afleidings maak is
hierdie na die hof se oordeel 'n ietwat wilde gissing."
Die verdere gebeure soos deur hom bevind, is kortliks die
volgende.
Toe die groep jongmans by die klaagsters en Craig kom,
het eerste appellant te kenne gegee dat hy en sy makkers polisie
is en die
drie van hulle arresteer omdat hulle dagga rook. Toe
Craig opspring en die
beskuldiging ontken, is hy terstond deur
beskuldigdes 1-4 aangerand maar nie
deur beskuldigde 5 nie. Vir
hom het hy nie toe gewaar nie. Eerste appellant
het Karen aan
die arm gegryp. Hy het vir beskuldigde 5, wat eenkant
gestaan
het, aangesê om sy, appellant, se Chevrolet motorkar te gaan
haal.
Nell het dit gedoen. Gillian het uit die diskoteek gekom
en gesien hoe een
van die vir haar vreemde groep jongmans wat sy
toe vir die keerste keer gewaar het, vir die huilende Karen teen
11
'n motor slinger omdat sy nie daarin wou inklim nie. Sekeres
van
dié groep, maar nie beskuldigde 5 nie, het aan Gillian gesê
dat
hulle van die polisie is en vir die klaagsters en Craig arresteer
omdat
hulle dagga rook. Sy het toe vir Edward in die diskoteek
gaan roep om haar by
te staan. Toe sy met hom uit kom, is Edward
ook deur lede van dié
groep te lyf gegaan. Die klaagsters en
Edward is in eerste appellant se motor
ingedwing en beskuldigdes
1-4 en Nepgen het ook daar ingeklim. Edward was saamgeneem in
die waan dat
hy die broer van een van die klaagsters was.
Gillian is agtergelaat omdat sy
as te klein en te jonk beskou is.
Craig is eers ook aangesê om saam te
gaan maar toe weer weggepluk
en ook agtergelaat. Alhoéwel die landdros
Craig se getuienis
aangaande die roof nie aanvaar het nie, het hy hom geglo
oor die
aanrandings en ontvoering. Craig het dit só beskryf:
"Yes, and then? Well then I was struck on
the face.
Who struck you in the face? Number three.
After which I was struck many times.
Fist or flat-hand? With the fist.
Who? One, two, three and four.
Did they all hit you with fists? Ja. And
then after that we were told to get in the car. The girls got
in the car, well, the
12
girls were put in the car and as I was climbing in I was again pulled out.
After the beating I had received, I was still under the
impression that they
were police, so after I was pulled out of the car, even though I was innocent of
even having dagga or anything
like that, I thought, well, they told me to get
away, I'm lucky, it's my last chance and before I went, they hit me again.
Who? Number three.
Yes? And then I was a bit dazed, I was
bleeding under my eye and I didn't know what to do, because I still thought
they were police."
Tydens kruisondervraging het hy soos volg daarop uitgebrei:
"Did accused number three hit you again?
Yes and he was provoked by accused number one.
Provoked by accused number one ... Well,
accused number one ...
Can you explain that? Accused number one
said to accused number three, I bet you you can't stuff that guy up and
accused number three took him up on it.
So was there a sort of a challenge from accused number one, that accused
number three
should beat you up? Yes.
And, did he then proceed to do so? Yes.
That's what caused the cut below my left eye.
I must put to you that you
are the first
person that mentioned this challenge, from
all the people
that were supposed to have
been there and the witnesses, I mean,
the
witnesses that gave evidence? Did anybody
else assault you? Yes.
13
Who? All of them, four of them. The four
that I recognise.
In what way did they assault you? Fists
to the face.
Fists in the face? Yes.
Hard blows? Yes.
Anything else? Well once when I was hit,
I fell down and I was kicked as well.
By whom? I don't know who it was, I had
my face to the ground."
Op Nepgen se voorstel het hulle met die klaagsters
en
Edward vertrek na die "Bloudam" in Langlaagte.
Dit was
klaarblyklik 'n gewilde oord vir nagtelike samesyn. Beskuldigde
5
het hulle in sy motor gevolg. Hy het geweet dat Nepgen die
reputasie
gehad het dat hy 'n "Casanova" was. Daarom het hy
vermoed dat hulle die klaagsters geneem het om met hulle
gemeenskap te
gaan hê. Hy het saamgery in die hoop dat hy dit
ook sou kon doen. Op
pad na die Bloudam is besef dat Edward nie
'n broer van enige van die
klaagsters is nié. Hy is toe geklap en
naby die Helpmekaar skool afgelaai. By die Bloudam is elk van
die klaagsters uit die motorkar geneem en deur tweede appellant
en die ander van die groep, insluitende Nepgen, agtereenvolgend
verkrag terwyl van hul makkers laggend toegekyk het. Eerste
14 appellant
het gepoog om met albei klaagsters gemeenskap te hê,
maar kon dit nie met enigeen van hulle regkry nie omdat hy " te
groot" was
vir ingang by hulle. Beskuldigde 5 het gepoog om met
Karen gemeenskap te
hê, maar kon nie 'n ereksie kry nie. Daarna
het hy vir Karen na sy
motorkar geneem, vergesel van beskuldigde
4. Hulle het in die motor gaan sit,
Karen agter en die twee
beskuldigdes voor. Beskuldigde 5 het hom tot 'n mate oor haar
ontferm. Hy
het bv. R2,00 aan haar gegee om haar instaat te stel
om later per trein huis
toe te kon gaan. Terwyl hulle in die
motor gesit het, het konstabel Maree van
die Suid-Afrikaanse
Polisie in 'n polisie-vangwa daar opgedaag. Hy was op
patrollie
en het in die loop daarvan by die Bloudam aangedoen. Karen
het
uitgeklim en hom gaan sê dat sy verkrag is en aan hom beduie na
'n
mynhoop waar Clarissa was. Hy is soontoe en het beskuldigde 2
Nepgen het
gemaak dat hy wegkom. daar betrap, besig om met Clarissa gemeenskap te hê.
/Maree het
appellante en hul mede-beskuldigdes arresteer en saam met die
klaagsters
na die Langlaagte polisiestasie geneem.
Later dieselfde oggend is die klaagsters medies
ondersoek deur Dr Wilfred Rosenberg, 'n distriksgeneesheer van
15
Johannesburg. Hulle het nie uitwendige beserings gehad nie.
Clarissa was egter ontmaagd. Haar maagdevlies was vars geskeur.
Die
omgewing van haar skaamdele was met as bedek, waarskynlik
afkomstig van die
grond waarop sy gelê het, en haar bene en voete
was baie vuil. Die
Tampax tampon is só vêr in Karen se vagina
opgedruk dat dit
slegs met groot moeite deur Dr Rosenberg
verwyder kon word. Sy was nog besig
om te menstrueer. Die
klaagsters het ook geen waarneembare tekens van enige
ernstige
geestelike letsels getoon nie.
Die streeklanddros het appellante en hul genote
se
vergryp teen die klaagsters tereg in 'n baie
ernstige lig beskou
in weerwil van die omstandighede waaronder die
beskuldigdes en
Nepgen in Hillbrow op hulle afgekom het. By vonnisoplegging
het
hy homself soos volg uitgelaat:
(i) oor laasgenoemde aspek:
"Hierdie was nie 'n geval waar 'n manspersoon aanvanklike toenadering soek
tot 'n dame, dit kry en sy dan op 'n laat stadium nie bereid
is om verder voort
te gaan nie. Waar 'n mens kan sê daar 'n mate van uitlokking was nie.
Hierdie is 'n totaal ander geval,
die klaagsters was totale vreemdelinge.
Die
16
beskuldigdes het hulle gevind buite, in 'n steeg buite 'n diskoteek. Mnr.
Borman het die hof versoek om dit in aanmerking te neem
by
straftoemeting.
"Dat dit by 'n diskoteek was, dat die klaagsters drank gebruik het, Dat daar
dwelms gebruik was in die steeg, want dit is geruik,
daar is getuienis daaroor.
Dan is die hof gevra om in aanmerking te neem dat die klaagsters se ouers het
hulle baie permissief groot
gemaak. Sodanig dat hierdie jong dogters toegelaat
word om sonder ouerlike toesig te gaan na 'n diskoteek waar drank gebruik word
en dat hulle feitlik enige tyd van die nag kan tuiskom.
"Mnr . Borman maak dan nou die stelling dat die gemeenskap nie vereis dat
tronkstraf in so 'n geval opgelê word nie, omdat dit
mense is wat neig na
permissiwiteit se kant toe. Die hof verskil daarvan. Die taak van hierdie hof is
nie om 'n morele kode vir mense
voor te skryf nie. As die ouers verkies om hulle
kinders op daardie wyse groot te maak, dan is dit hulle saak.
"As meisies toegelaat word om laat snags 'n diskoteek te besoek om te rook en
op vroee ouderdom drank te gebruik dan is dit geen aanduiding
dat hulle meisies
is van losse sedes nie. In hierdie geval kom die getuienis voor dat Clarissa ten
spyte van hierdie sogenaamde permissiwiteit
waarop die beskuldigdes ook sterk
gesteun het nog 'n maagd was.
17
"Karen was wel nie meer 'n maagd nie, maar sy is 'n fyn opgevoede meisie. Sy
het die hof gunstig beindruk toe sy getuig het. Klein
van persoon, fyn opgevoed.
Die hof vind dat daar geen redes vir die beskuldigdes was om te glo dat hulle
meisies van losse sedes
is wat bereid sal wees om saam met enige man te gaan
nie."
en
(ii) oor die misdaad self en die wyse en omstandighede van
die
pleging daarvan:
"Verkragting is seker iets wat baie vroue vrees. Verkragtings word dikwels,
word ruim in die pers gepubliseer. Dit is sekerlik die
diepste vernedering wat
'n vrou kan ondergaan om verkrag te word. Hierdie hof sal nooit kan sê wat
die geestelike letsel is
wat gelaat is op hierdie meisies nie. Op die oog af nie
veel nie, maar veral Karen het in die getuiebank 'n baie moeilike tyd beleef.
Dit is vir die hof baie duidelik dat dit vir haar pynlik was om hierdie
onaangename ondervinding weer in herinnering te roep. Dit
is iets wat 'n vrou of
meisie seker so gou as moontlik wou vergeet. Maar niemand kan sê of hulle
dit ooit sal kan vergeet nie.
"Die hof se ondervinding is dat verkragting sy letsels laat ... daarom word
die misdaad deurgaans in 'n uiters ernstige lig beskou.
"Want soveel ernstig is dit in die geval net terwyl hierdie meisies die
oomblik van hulle diepste vernedering moes deurgaan het sommige
van die
beskuldigdes gestaan en toekyk en
18
gelag. Hierdie verkragting van hierdie meisies was niks anders as 'n bende
verkragting nie.
"Hulle is aangeval, weggeneem deur mense wat die hof net kan beskryf as ses
jong boewe. Ek wil hier dadelik meld dat beskuldigde 5
hier in ietwat ander
kategorie val. Die aanklaer het gewys op sy rol. Ek stem daarmee saam. Hy was
meerendeels op die agtergrond.
Hy is die persoon wat daardie bietjie menslikheid
in hom oorgehad het om hom te bekommer oor hoe hierdie meisies by die huis gaan
kom. ...
"Omdat verkragting 'n ernstige misdaad is wat vroue vrees tree die
gemeenskapbelang natuurlik sterk op die voorgrond wanneer die hof
straf moet
toemeet. Die vergeldingsaspek by straftoemeting kan natuurlik nooit uit die oog
verloor word nie. Dit is juis by 'n misdaad
soos hierdie waar die
vergeldingselement ook sterk na vore kom."
Sekere persone het, soos reeds genoem, ten behoewe
van
die aangeklaagdes getuig ter versagting van
vonnis. Albei
appellante se vaders het getuig en hul persoonlike
omstandighede
breedvoeriglik behandel. Dieselfde is gedoen t.a.v. die
ander
aangeklaagdes deur die volgende persone - beskuldigde 2 se
oudste
broer, Mev Raible t.a.v. beskuldigde 4 en beskuldigde no 5
wat,
soos ook reeds gemeld is, self getuig het. In die loop van sy
19
betoog ter versagting het Mnr Bornman die landdros versoek om ook
proefbeampte verslae t.a.v. beskuldigdes 2, 3, 4 en 5 aan te vra.
Hy het
daarbenewens die landdros gevra om oorweging te skenk aan
die oplegging van
lyfstraf eerder as gevangenisstraf weens die
jeugdigheid van die
beskuldigdes. Die landdros het sy uitspraak
op vonnis en die gemelde versoeke
tot die volgende dag voorbehou
om dié aangeleenthede "in 'n kalme
atmosfeer" te oorweeg. In sy
uitspraak op vonnis het hy met verwysing na
hierdie Hof se
uitsprake in
S v JANSEN
1975 (1) SA 425
(A) en
S v
HLONGWANA
1975
(4) SA 567
(A) tot die gevolgtrekking gekom dat "die
getuienis
voor hom volledig is en die hof 'n volledige beeld van
die
beskuldigdes gee en dat dit nie nodig is om proefbeampte verslae
te
verkry nie".
Oor die wenslikheid van lyfstraf wat met tronkstraf
gepaard gaan, het die landdros die volgende gesê:
"Dit is 'n swaar straf en dit is veral nie gewens om in vele gevalle daardie
strafvorm op te lê saam met langtermyn gevangenisstraf
nie. Maar lyfstraf
is 'n straf wat opgelê kan word benewens of ter vervanging van ander
straf. Dit is 'n strafvorm wat bekend
is, wat baie sterk afskrikwaarde
inhou.
20
"Dit is 'n strafvorm wat veral geskik is in die ouderdomsgroep van die
beskuldigdes. Die vraag is natuurlik of dit in hierdie geval
'n gepaste straf
sal wees, dit hou sterk afskrikwaarde in vir die oortreder en ook vir ander.
...
"Uit is 'n strafvorm wat deesdae heel dikwels toegepas word om persone nie in
die gevangenis te dompel nie. Dit is ook 'n strafvorm
wat gepas aangewend kan
word om waar die hof voel 'n persoon moet gevangenisstraf ondergaan daardie
gevangenisstraf afwaarts aan
te pas om te verhoed dat die persoon lang tye in
die gevangenis deurbring."
Oor tweede appellant het hy o.m. die volgende te
sê
gehad:
"As ek let op sy vader wat hier getuig het, 'n man wat deurgaans 'n gunstige
indruk gemaak het, dan staan dit in skrille kontras met
die indruk wat
beskuldigde 3 gelaat het toe hy getuienis afgelê het. Hy is wel die
jongste van die beskuldigdes, maar hy is
'n jong bullebak wat sonder rede die
metgesel van hierdie meisies gaan aanrand het.
"Toe kom voorgee het dat hy in selfverdediging opgetree het. Dit was totaal
ongevraag, daar was geen rede daarvoor. Dit is brute geweld
wat totaal onnodig
was. Hy het geen veel aansporing nodig gehad om oor te gaan tot geweldpleging
nie. Hy het 'n jong
21
man aangerand wat glad nie in 'n posisie was om homself teen hulle te
verdedig nie.
"Die hof het hierdie jongman gesien. Hy is nie groot gebou nie. Hy is maar
die tipe persoon wat 'n mens sal verwag om te sien by die
glinsterende ligte van
'n diskoteek. Nie juis 'n persoon met indrukwekkende voorkoms nie. Maar in die
geselskap van sy metgeselle
was hy dapper genoeg om hierdie persoon te gaan
aanval.
"Dan het die hof ook opgelet die aggressie wat hy aan die dag gelê het
toe die aanklaer hom onder kruisondervraging geneem het.
Hy het die aanklaer
voortdurend uitdagend aangegluur. Sy optrede daardie aand, sy gedrag hier in die
getuiebank, is beslis nie te
versoen met die optrede van 'n seun van 17 jaar
nie."
Die landdros se opmerkings oor tweede appellant
se
aanranding op Craig is nie heeltemal geregverdig
nie. Dit was
tot 'n mate die gevolg van beinvloeding deur eerste appellant
soos
blyk uit die hierbo aangehaalde passasie uit Craig se getuienis.
Die
landdros se opmerkings oor tweede appellant se houding
tydens
kruisondervraging is na my oordeel vatbaar vir kritiek. Hy was
aan
strawwe kruisverhoor onderwerp. Hy was weliswaar toe nie
meer 17 nie, soos
die landdros verkeerdelik te kenne gegee het,
22 maar was nogtans pas 19 jaar
oud, en só 'n ervaring sou hom gewis
onder spanning geplaas het. Maar hy was nogtans aggressief en
selfs
bullebakkerig in sy gedrag teenoor sy vader en Craig. Dit
tel weliswaar teen
hom wat sy strafwaardigheid betref maar daar
moet daarteen gewaak word om te
veel gewig daaraan te heg in die
geval van 'n persoon so jeugdig soos hy
toé was. Sy vader se
getuienis, wat nie deur die landdros verwerp is
nie, was immers
dat hy "eintlik 'n baie segte geaardheid het" en tot daardie
aand
nog altyd gehoorsaam was. In sy geval is daar gevolglik geen
sprake
van 'n inherent aggressiewe of wrede geaardheid nie. Sy
ongehoorsaamheid en
vir hom rampspoedig onbesonne optrede is
waarskynlik te wyte aan die
onvolwassenheid wat gewis toe nog met
sy jare gepaard gegaan het. Daar is geen getuienis, of selfs
enige
suggestie, dat tweede appellant meer volwasse was as wat
mens van 'n seun van
sy jare sou verwag nie. Toe hy gevonnis is,
was tweede appellant pas 19 jaar
oud. Hy was derhalwe nog 'n
jeugdige en die landdros het 'n diskresie gehad
om hom as sulks te
bestraf ooreenkomstig die bepalings van art 294(1) van die
Strafproseswet, no 51 van 1977. Daarvolgens sou hy destyds, voor
23 die
invoeging gedurende 1986 van die huidige art 294(1)(b), slegs
lyfstraf in die vorm van 'n matige tugtiging aan tweede appellant
kon
opgelê het en geen ander bestraffing nie. Die landdros het
egter in die
uitoefening van 'sy diskresie besluit om tweede
appellanb nie as 'n jeugdige
te behandel nie, maar om lyfstraf
ingevolge art 292(1) en gevangenisstraf aan
hom op te lê. Die
huidige voorbehoudsbepaling wat verg dat só 'n
bykomstige
gevangenisstraf in die geheel of gedeeltelik opgeskort word,
is
eers in 1986 bygevoeg. Deur daardie vonnis te vel, het die
landdros vir
tweede appellant as 'n volwassene bestraf. Daarvan
getuig ook die feit dat hy
dieselfde vonnis aan hom opgelê het as
aan eerste appellant, wat nie
meer 'n jeugdige soos by die
Strafproseswet bedoel, was nie. Die vraag is nie
slegs of dit 'n
geoorloofde bestraffing is wat aan die áppellante
opgelê is nie,
maar ook of dit 'n gepaste bestraffing was.
Dr Yutar, wat die appél namens die appellante
beredeneer het, het betoog dat dit o.a. nie onder die
omstandighede as 'n
gepaste bestraffing beskou kan word nie omdat
die streeklanddros verkeerdelik
versuim het om 'n verslag deur 'n
24 proefbeampte te verkry aangaande tweede appellant en dat hy
derhalwe nie genoegsaam ingelig was oor sy persoonlike
omstandighede om 'n
gepaste bestraffing te kon bepaal nie.
Hierdie betoog gaan nie op nie. Dit is
weliswaar die hoofdoel
van so n verslag om daardie soort inligting aangaande
'n jeugdige
aan 'n verhoorhof beskikbaar te stel. Maar dit is geensins 'n
wet
van die Mede en Perse dat dit in elke en iedere geval waarby
'n
jeugdige beskuldigde betrokke is, gedoen moet word nie. Of
dit
inderdaad benodig is, sal afhang van die feite wat reeds deur
die
getuienis openbaar is. Vide
S v HLONGWANA
, supra, op 571
A-B.
In die onderhawige geval is sulke getuienis inderdaad
ter
strafbepaling aangehoor en is die beslissing deur die landdros
dat hy
genoegsaam daardeur ingelig is na my mening onaanvegbaar.
Daar is egter
sekere ander belangrike aspekte aangaande die bepaling van 'n gepaste straf vir
albei appellante wat die landdros òf
misgekyk het òf nie na behore
ontleed en oorweeg het nie. Hulle is die volgende.
Hy het nie genoegsame
oorweging geskenk aan die feit dat tweede appellant soveel jonger was as sy
mede-beskuldigdes
25 nie. Dat sy gedrag daerdie aand en nag waarskynlik hoofsaaklik
aan onvolwassenheid te wyte was, het die landdros misgekyk want
hy het
pertinent gesê dat sy optrede daardie aand beslis nie te
versoen is met
die optrede van 'n seun van 17 jaar nie. Een van
die bekende kwesbaarhede van
jeugdige onvolwassenheid is die
vatbaarheid vir beinvloeding ten kwade deur
oueres. Dit is
duidelik dat eerste appellant en Fanie Nepgen die voorbokke
was
in die toeslaan op en verkragting van die klaagsters. Dit is
nie
alleen hoogs waarskynlik dat tweede appellant ten kwade deur
hulle
beinvloed was nie, dit is inderdaad duidelik dat minstens
wat beinvloeding
deur eerste appellant betref, dit inderdaad die
geval was. Daarvan getuig die
omstandighede van tweede appellant
se aanslag op Craig al te duidelik uit laasgenoemde se
getuienis.
Onvolwassenheid en beinvloeding deur heelwat ouer makkers
is
welbekende strafversagtende omstandighede wat by bepaling van
vonnis
deeglik in ag geneem moet word. Dit is veral so in die
geval van bende-optredes waar daar 'n merkbare verskil in jare
tussen die bendelede is en waar die voorbokke heelwat ouer is as
dié van sekere van hul mede-beskuldigdes wat ook bestraf staan
te
26 word. Die landdros het versuim om dit t.a.v. tweede appellant te
doen. Die feit dat die klaagsters nie beseer is nie, is 'n faktor
waaraan
die landdros skynbaar nie genoegsame gewig geheg het nie.
Dit is wel so dat
die klaagsters wyslik hulle nie teen hul
ontvoerders en verkragters fisies
tot enige wesenlike mate verset
het nie. Maar dit is egter 'n betekenisvolle
feit dat die
elemente van onnodige en wrede geweld wat so dikwels
met
verkragting gepaard gaan, afwesig is in die onderhawige geval.
Die
landdros het in die voormelde opsigte homself wanvoorgelig. Hierdie Hof kan
gevolglik die gepastheid van die vonnis aan tweede
appellant opgelê,
heroorweeg.
Die vergryp wat tweede appellant en sy genote teen die klaagsters
begaan het, is ongetwyfeld baie ernstig en weersinwekkend. Dit was,
soos die
landdros tereg opgemerk het, 'n bende verkragting wat met laggende minagting
teenoor en vernedering van die klaagsters gepaard
gegaan het. Dit was ooglopend
jonge dogters waarop die beskuldigdes en Nepgen toegeslaan het soos uile op
muise in die nag. Die feit
dat hulle in Hillbrow was buitekant 'n diskoteek in
die vroee oggendure het
27 hulle nie ontneem van hul regte op persoonlike
ongeskondenheid en
privaatheid nie. Dít het die landdros tereg ingesien.
Die
klaagsters het die beskuldigdes en Nepgen geen aanleiding gegee
om op
hulle toe te slaan nie. Meisies wat laatnag onskuldiglik
in Hillbrow op
straat is, is nie te beskou as gepaste prooi vir
die wellus van elke Jan Rap
en sy maat nie. Hulle is geregtig om
daar te wees en om beskerm te word al is
hul laat opbly nie altyd
goed te keur nie. Die ernstigheid van die vergryp
teen die
klaagsters is verskerp deur die feit dat daar ook 'n element
van
ontvoering daarin aanwesig was. Sulke optrede verdien
gedugte
bestraffing selfs in die geval van jong oortreders.
Tweede appellant was nie alleen 'n jeugdige nie, maar
ook 'n eerste oortreder. Derhalwe moet daarmee rekening gehou
word by die
bepaling van 'n gepaste vonnis. Daarmee gepaardgaande
is o.a. die verdere vrae of lyfstraf in die onderhawige geval
op sigself
'n gepaste bestraffing sou wees in die plek van
gevangenisstraf en indien nie, of dit in hierdie geval gepas was
om dit te
koppel aan die gevangenisstraf wat aan die appellant
opgelê is.
28
Lyfstraf is uiteraard 'n erg vernederende en fisies
baie
pynlike vorm van bestraffing. Dit behoort met
groot omsigtigheid opgelê te word, en dan slegs wanneer òf die
persoonlike
omstandighede van 'n beskuldigde òf die aard en omstandighede
van die misdaad dit duidelik regverdig. So word dit dikwels
aan jeugdiges
opgelê om hulle daardeur uit die tronke uit te hou. Dit word ook aan
volwassenes opgelê waar daar 'n besondere
mate van wrede geweld by die
pleging van die misdaad teenwoordig was. Daar is vir 'n geruime tyd egter reeds
'n al groter wordende
mate van tempering te bespeur in die beskouing aangaande
lyfstraf. Daarvan getuig uitsprake soos dié in
S v MAISA
1968 (1)
SA 271
(T);
S v ZIMO en ANDERE
1971 (3) SA 337
(T); en
S v MACHWILI
1986 (1) SA 156
(N), die vermindering van die maksimum ouderdom vir
oplegging daarvan na 30 jaar en die invoeging gedurende 1986 van die
voorbehoudsbepaling
tot art 292(1) van die Strafproseswet. Daardie steeds meer
temperende ontwikkeling het ook die siening al meer te vore laat kom dat
dit
ongewens en selfs ongeoorloofd is om lyfstraf te koppel aan 'n lang termyn van
gevangenisstraf. Daardie siening en die daarmee
gepaardgaande
29 ontwikkeling
is heel onlangs soos volg deur hierdie Hof bevestig
en saamgevat by monde van Botha AR. in
S v P en 'n ANDER
1986 (2)
SA 822 (A):
"... dit is hedendaags ongehoord dat die oplegging van lyfstraf gekoppel word
aan 'n tydperk van gevangenisstraf wat so lank is as
15 of 12 jaar. Die rede
daarvoor lê voor die hand: die toediening van lyfstraf gepaard met so 'n
lang-termyn gevangenisstraf
dien geen aanvaarbare doel nie. In soverre dit beoog
kon gewees het as blote vergelding, is dit nie 'n vorm van vergelding wat
goedgekeur
kan word nie." (825 H-I)
Botha AR. het voortgegaan om daarop te wys dat 'n lang termyn van
gevangenisstraf nie noodwendig beperk is tot 12 tot 15 jaar nie.
Of 'n besondere
vonnis van tronkstraf as "'n lang termyn van gevangenisstraf" beskou moet word
vir bepaling van die vraag of dit
geoorloof en gepas is om 'n bykomende vonnis
van lyfstraf daaraan te koppel, sal na my oordeel van die tydperk van die
gevangenisstraf
afhang. Ek is van mening dat 'n effektiewe vonnis van 6 jaar
tronkstraf in daardie verband gewis 'n lang termyn van gevangenisstraf"
is. Daar
bestaan geen regverdiging in die omstandighede van die onderhawige geval vir die
oplegging van
30
lyfskraf gekoppe.l aan 'n lang termyn van gevangenisstraf nie. Die
een of
die ander van hierdie vorms van bestraffing sal gevolglik die wyk moet
neem.
Die landdros het weliswaar, soos hierbo uiteengesit, die oorwegings
aangaande die koppeling van lyfstraf aan tronkstraf in ag geneem.
Hy het so 'n
koppeling in die onderhawige geval as gepas beskou omdat hy daardeur die termyn
van die daarmee gepaardgaande gevangenisstraf
"sterk afwaarts aangepas het". Wat
hy egter klaarblyklik uit die oog verloor het was die feit dat die "sterk
afwaarts aangepaste"
tronkstraf nietemin nog steeds 'n lang termyn van
gevangenisstraf was. Daardeur het hy 'n wesenlike mistasting begaan, waarskynlik
omdat hy die vergeldingselement en die afskrikwaarde van lyfstraf so sterk
beklemtoon het. Die vraag is derhalwe watter van dié
twee forms van
bestraffing hier die wyk moet neem.
Dr Yutar en Mnr Pelser, het albei betoog
dat weens die lang tydsverloop sedert die oplegging daarvan, die lyfstraf wat
aan eerste
appellant opgelê is, ter syde gestel behoort te word. In
R v
H0BS0N
1953 (4) SA 464
(A) is 'n dergelike versoek egter
31 geweier. Op
465-466 het Centlivres HR. die redes daarvoor só
toegelig:
"Counsel for the appellant contended that this Court should come to the
assistance of the appellant by deleting that part of the sentence
which imposed
cuts on the ground that it is contrary to the principles laid down in a number
of decided cases to inflict corporal
punishment long after the date of the
conviction. If the Court were to do so, it would be taking into consideration
circumstances
which came into existence after the sentence was imposed. This it
cannot do, for a judgment is right or wrong according to the facts
in existence
at the time it is given. See
R v VERSTER
,
1952 (2) SA 231
(AD)."
(465H-466A)
en :
"The learned Judge, however, in granting leave to appeal seems to have been
under the impression that this Court has the power, which
he did not possess, to
alter a sentence of corporal punishment which at the time it was imposed was a
perfectly competent and proper
sentence on the ground that owing to
circumstances which arose subsequently corporal punishment would, contrary to
the policy of
the law, be inflicted long after such punishment was imposed. In
my view this Court in an appeal against a sentence in a Superior
Court has no
greater power than the Judge who imposes that sentence. There is nothing in Act
31 of 1917 to suggest that
32
such a greater power is conferred on this Court." (466 B-D)
Daar is insgelyks geen sodanige groter bevoegdheid aan hierdie
Hof verleen
by die Strafproseswet no 51 van 1977 of by die Wet op
die Hooggeregshof, no
59 van 1959 nie. Dié beslissing in
HOBSON
se saak is sedertdien
konstant met goedkeuring deur hierdie Hof
aangehaal en toegepas. Vide:
GOODRICH v BOTHA AND OTHERS
1954
(2) SA 540 (A) 546 A;
S v HELLER
1970 (4) SA 679
A 683 E-F; en
S
v IMMELMAN
1978 (3) SA 726
(A) waar Corbett AR. op 730 H die
volgende
daaromtrent gesê het:
"The general rule is that this Court must decide the question of sentence
according to the facts in existence at the time when the
sentence was imposed
and not according to new circumstances which came into existence afterwards
(
R v H0BS0N
1953 (4) SA 464
A at 466 A) and, even if there are exceptions
to this rule (see
G00DRICH v BOTHA AND OTHERS
1954 (2) SA 540
(A) at 546
A-C), this case does not appear to constitute such an exception. Counsel's
information was not very positive and the State
was not in a position to agree
to its use."
(In daardie geval het die appellant se advokaat getrag om van die
Balie af inligting voor hierdie Hof te plaas tot die effek dat
33 weens
gebeure na die oplegging van vonnis die appellant nie meer
oor die middele beskik het om meer as slegs 'n klein gedeelte van
die
opgelegde boete te betaal nie.) Die passasie in die
GOODRICH
-saak
waarna Corbett AR. verwys het betreffende
uitsonderings op die algemene reel,
lui o.a. só:
"It is, however, unnecessary to exclude the possibility that in an
exceptional case this Court might be able to take cognisance of
such subsequent
events, where, for example, their existence was unquestionable or the parties
consented to the evidence being so
used."
(1954 (2) SA 546
B-C)
Ten aansien van lyfstraf is dit denkbaar
dat
tydsverloop wel die opheffing daarvan sou kon
regverdig; bv.
waar die gesondheid van die betrokke beskuldigde intussen
ernstig
verswak het, of waar so 'n straf aan 'n persoon van, sê, 24
jaar,
opgelê is, maar dit weens daaropvolgende gebeure nie toegedien
is
nie en daar later gepoog word om dit toe te dien nadat hy reeds
die
ouderdom van 30 jaar bereik het. In die geval hier ter
sprake is albei appellante nog onder die ouderdom van 30 jaar.
Eerste appellant is tans 27 jaar en 1 ½ maande en tweede
appellant 23 jaar en 6 ½ maande. Daar is geen suggestie dat die
34 toediening van die lyfstraf bloot weens sy ouderdom nou 'n
wesenlik meer nadeiige effek op eerste appellant sal hê as ten
tyde
van die oplegging daarvan op 3 April 1984 toe hy 23 jaar en
8 maande oud was
nie. Tweede appellant se huidige ouderdom is
tot groter mate as in eerste appellant se geval geen struikelblok
in
hierdie verband nie, en daar is insgelyks geen suggestie van
enige wesenlike
verandering in sy gesondheidstoestand sedert 3
April 1984 wat die toediening
van lyfstraf op hierdie stadium sou
kon verhoed nie. Blote tydsverloop is
gevolglik geen grond vir
die opheffing van die lyfstraf aan die appellante
opgelê nie.
Dr Yutar het voorts betoog dat weens die tydsverloop sedert
oplegging daarvan die gevangenisstraf aan appellante opgelê in die
geheel
opgeskort behoort te word. Mnr Pelser het hom weereens daarmee vereenselwig.
Hier ook is geen ander redes aangevoer waarom
appellante se gevangenisstraf
opgeskort behoort te word nie. Weens die beslissing in
R v HOBSON
, supra,
en in die ander sake hierbo in verband daarmee aangehaal, kan daar ook nie aan
hierdie versoek voldoen word nie.
Wat oorbly vir beslissing is die vraag of 'n lang termyn
35 van gevangenisstraf 'n gepaste vonnis vir appellante is. Uit
hoofde van die bogaande meen ek dat dit inderdaad 'n gepaste
vonnis is. Van der Walt R. het in die Hof a quo opgemerk dat dit
tragies is dat so 'n vonnis die appellante en hul mede-
beskuldigdes moes oorval, maar dit is myns insiens ewe tragies
dat die lot
van só 'n verkragting die jong klaagsters moes oorval.
In weerwil van die feit dat die landdros duidelik te kenne gegee
het dat
as hy die lyfstraf nie sou opgelê het nie hy appellante
en hul
mede-beskuldigdes tot 'n aansienlik langer termyn van
tronkstraf sou gevonnis het, meen ek dat 6 jaar gevangenisstraf
sonder
bykomende lyfstraf in hierdie geval wel 'n gepaste
bestraffing is. Ses jaar
is 'n baie lang tydperk in die lewe van
'n jongmens. Eerste appellant is met
só 'n vonnis na verdienste
bestraf. Hy en Nepgen was klaarblyklik die
voorbokke in hierdie
tragiese voorval. Hy het gevolglik wesenlik daartoe bygedra dat
rampspoed
sy jonger mede-beskuldigdes en die klaagsters daardie
nag oorval het. Ook in
tweede appellant se geval meen ek uit
hoofde van die bogaande dat 6 jaar
gevangenisstraf 'n geoorloofde
en gepaste vonnis is. Maar weens die
oorwegings vroeer in
36
hierdie uitspraak uiteengesit, is ek van oordeel dat 2 jaar van
daardie
vonnis voorwaardelik vir 5 jaer opgeskort behoort te word. Dit volg dat 'n
effektiewe tydperk van 4 jaar gevangenisstraf aan
hom opgelê word. Dit is
uit hoofde van die bogaande oorwegings na my mening ook 'n lang termyn van
gevangenisstraf.
Die omstandighede van hierdie saak regverdig na my mening
nie die koppeling van lyfstraf aan die gevangenisstraf wat aan die appellante
opgelê was nie. Dit was gevolglik verkeerdelik opgelê. Die
vermindering van die tydperk van effektiewe gevangenisstraf
wat tweede appellant
nou sal moet ondergaan regverdig ook nie die behoud van lyfstraf nie. Die
lyfstraf aan die appellante opgelê
moet gevolglik ter syde gestel word. In
die lig hiervan is dit onnodig om te beslis of die landdros ook fouteer het toe
hy die twee
aanklagtes van verkragting saamgeneem het as een vir oplegging van
die lyfstraf. (Sien:
HIEMSTRA : SUID-AFRIKAANSE STRAFPROSES
. 4de uitgawe
635;
R v MKABELS
1959 (3) SA 954
(N);
R v MOLOSI
1955 (4) SA 289
(0);
DU TOIT : STRAF IN SUID-AFRIKA
321.)
37
Dit is ontstellend dat lyfstraf reeds toegedien is
aan
die appeliante se mede-beskuldigdes wat nie na hierdie Hof appelleer het nie,
want in hulle gevalle was dit uit hoofde van wat hierho
gese is ook verkeerdelik
opgelê. Wat hulle betref, is die koeel egter nou ongelukkig reeds deur die
kerk en kan hierdie Hof
niks daaraan doen nie. Wat hierdie Hof o.a. op geroepe
was om te beslls was of die lyfstraf 'n gepaste straf was om aan die twee
appellante op te iê.
Die volgende beveie word gemaak:
1. (a) Die
appél van eerste appellant slaag gedeeltelik.
(b) Die vonnis van lyfstraf aan hom opgelê word ter syde
gestel.
(c)
Origens word sy appél
afgewys.
2. (a) Die appél van tweede
appellant slaag ook gedeeltelik.
(b) Die vonnis van lyfstraf aan hom
opgelê word ook ter
syde gestel. (c) Die vonnisse van 3 jaar gevangenisstraf aan hom opgelê
op elk van die aanklagte van verkragting, d.w.s. aanklagte
1 en 2, word ten
aansien van elk van daardie
38 klagtes gewysig om soos volg te
lees:
"Drie jaar gevangenisstraf
waarvan een jaar
opgeskork word vir vyf jaar op voorwaarde dat
die
beskuldigde nie skuldig bevind word aan
verkragting of onsedelike aanranding
wat
gepleeg is gedurende die tydperk van
opskorking nie."
M T STEYN AR.
JOUBERT, AR.) EKSTEEN, AR.)