S v McDonald and Another (551/87) [1988] ZASCA 129 (30 September 1988)

65 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Murder — Conviction and sentencing — Appellants found guilty of murder and illegal possession of a firearm and ammunition — Appellants' presence at the scene of the crime established through eyewitness testimony — No mitigating circumstances found for the murder conviction — Appellants' appeals against conviction and sentence dismissed.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1988
>>
[1988] ZASCA 129
|

|

S v McDonald and Another (551/87) [1988] ZASCA 129 (30 September 1988)

CG SAAKNOMMER: 551/87
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
MARLON MCDONALD
Appellant no 1
ISHMAEL DAJEE
Appellant no 2
en
DIE STAAT
Respondent
CORAM:
RABIE, WHR., STEYN, AR. et VILJOEN, WAR.
AANGEHOOR:
6 SEPTEMBER 1988
GELEWER:
30 SEPTEMBER 1988
UITSPRAAK
STEYN, AR.
2
STEYN, AR.
Op 3 April 1987 is appellante in
die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling skuldig bevind aan moord (klagte 1) en
aan oortredings van
artikels 2 en 36 van Wet No 75 van 1969 onwettige besit van
'n vuurwapen en van ammunisie (klagtes 2 en 3 onderskeidelik). Geen versagtende
omstandighede is bevind t.a.v. die moord nie en hulie is toe elk op daardie klag
ter dood veroordeel en op klagtes 2 en 3 gevonnis
tot 18 maande en 6 maande
gevangenisstraE onderskeidelik. Met verlof van hierdie Hof kom hulle in hoer
beroep teen vermelde skuldigbevindings
en vonnisse.
Die verhoorhof, wat
bestaan het uit Le Grange R. en twee assessore, het bevind dat hulle die
oorledene vermoor het op Sondagaand,
2 Maart 1986 te Westbury Uitbreiding 3, 'n
nuutopgerigte Kleurlingwoonbuurt in die distrik van Johannesburg, deur hom te
skiet met
'n handvuurwapen van onbekende tipe en kaliber wat, tesame met die
ammunisie daarvan, die onderwerpe van die 2de en 3de klagtes was.
3 Die
voorvai hier ter sprake het plaasgevind in die straat voor huis no 1027 van
voormelde uitbreiding, die woning van tweede appellant
se moeder waar hy ook
destyds gebly het. Die volgende is òf gemene saak òf onbetwis.
Oorledene is noodlottig verwond
om ongeveer 20h00 op daardie aand terwyl hy
gesit het op die voorste passasierssitplek in 'n wit motorvoertuig oorkant die
straat,
wat onder 'n straatlig gestaan het voor die woning van appellant se
moeder waar daar toe 'n "Sunday Blues" party reeds vir etlike
ure aan die gang
was. Die oorledene is twee keer in die kop geskiet. Een skoot het onder en net
agter die hoek van die ken in 'n
opwaartse rigting ingegaan, die regter
onderkaak gebreek en uitgekom deur die regter bolip net bokant die regter
mondhoek. Die ander
skoot het op die linkerslaap ingegaan, die brein deurboor in
'n effens opwaartse en voorwaartse rigting van links na regs en uitgekom
tussen
die regterslaap en die voorkop. Tydens die skietery het dit liggies gereen maar
heelwat van die partygangers het nogtans onmiddellik
na die eerste skoot
uitgegaan om vas te stel wat gebeur het. Die
4 meeste van die res het huile
kort daarna na buite gevolg. Die oorledene was duidelik sigbaar in die lig van
die straatlamp en is
herken deur sommige van die partygangers. Hy het met sy kop
by die deurvenster uitgeleun met bloeiende mond. Sy bloed het aan die
buitekant
van die voertuig se deur afgeloop. Terwyl die meeste van die partygangers reeds
buite was en nadat sommige van hulle reeds
na die oorledene gegaan het, hom
bekyk het en gevra het wat hy daar doen en toe weer padgegee het, is die tweede
skoot geskiet. Dit
was die skoot wat oorledene se brein deurboor het.
Niemand
het hom egter te hulp gegaan nie, daar is nie gesoek na sy aanrander nie en die
polisie is nie ontbied nie. Oorledene is kort
na die voorval egter deur die
bestuurder van die voertuig, ene Jakes (ook "Pule" genoem), na die hospitaal
vervoer. Tweede appellant
was daardie aand ook teenwoordig by die party. Dit was
'n sogenaamde "stokvel" - 'n geselligheid gereel deur die lede van die betrokke
"stokvelring". Die modus operandi is dat elke lid van die ring om die beurt
5
verantwoordelik is vir die geselligheid en dat die ander lede geld bydra vir die
aankoop van kos en drank deur die gasheerlid wat
dit dan op die geseiiigheid vir
eie voordeel aan die partygangers teen 'n wins verkoop. Só 'n gasheer
moet help om die drank
en kos te bedien en mag derhalwe nie self dan drink nie.
Tweede appellant was lid van die betrokke stokvelring en was die gasheer
op die
party wat hy daardie dag in sy moeder se huis gegee het. Die drank en kos was in
die huis gehou en daar verkoop. In die betrokke
gebied was verskeie bendes
destyds aktief, elk met sy eie naam en gebied, o.a. die Leogin Kids, Dirty Kids,
Convent Kids', Baradors,
Vikings, Spaldings en Fast Guns. Die meeste van hulle
was onderling vyandig. Albei appellante was ten minste in die verlede, d.w.s.
voor 2 Maart 1986, lede van die Fast Guns bende, en die woning van tweede
appellant se moeder was gelee binne die Fast Guns gebied.
Oorledene was lid van
'n bende wat die Fast Guns vyandig gesind was. (Volgens die staatsgetuie Erna
Forbay, was oorledene 'n lid
van die Spaldings, en volgens tweede appellant op
'n stadium van
6 die Vikings. Albei hierdie bendes was egter vyande van die
Fast Guns. Eerste appeliant het getuig dat hy nie weet , of die oorledene
inderdaad 'n lid van enige bende was nie.) Dit was 'n waagstuk vir 'n bendelid
om die gebied van 'n teenstander binne te gaan.
Appellante bet albei
onskuldig gepleit en het albei op die meriete getuig. Hulle was pro deo verdedig
deur Mnr Schutz. Eerste appellank
se verweer was 'n alibi. Hy het beweer dat hy
op 2 Maart 1986 by sy vriend Najen in Eldoradopark was. Tweede appellant het
getuig
dat alhoewel hy teenwoordig was op die stokvel, 'n skoot gehoor het,
uitgegaan het en die gewonde oorledene in die motor gesien het,
hy niks aan hom
gedoen het nie en nie weet wie hom geskiet het nie.
Erna Forbay was die Staat
se sleutelgetuie. Die skuldigbevinding van die appellante is hoofsaaklik op haar
weergawe gegrond. Dit is
kortliks soos volg.
Sy en haar destydse minnaar,
Pieter Myburgh, het van haar huis af na die stokvel gestap en omstreeks 14h25
daar
7 aangekom. Hulle is na die agterplaas van No 1027 waar 'sy tussen
Myburgh en 'n vreemdeling gesit het. Die vreemdeling was besig
om 'n koeldrauk
te drink. Na 'n rukkie het hy opgestaan, sy glas koeldrank op sy sitplek gelos
en geloop. Sy het gemeen hy is toilet
toe en het sy sitplek vir hom gehou. Hy
het egter nie na die agterplaas terug gekeer nie. Na sononder het dit saggies
begin reen
en sy, Myburgh en die ander in die agterplaas het toe in die huis
ingegaan en sy het in die voorhuis by die oop voordeur gaan sit.
Na 'n rukkie
het die vreemdeling wat vroeer langs haar gesit het by die voordeur ingekom en
deur die voorhuis binne toe gegaan. (Alhoewel
Erna hierdie vreemdeling nie geken
het nie en nie geweet het wie hy was nie, was hy in der waarheid Jakes.) Die
stokvel was toe nog
in volle gang. Volgens Erna was bier en ys in die bad gehou
in die huis se badkamer en is dit vandaar aan die partygangers verkoop.
Sy het
getuig dat tweede appellant die bestellings geneem het en dat dit sy
"vrymeisie", Sarah Ramjee, was wat die drank verkoop
het. (Tweede appellant het
egter getuig dat hy self die bier in die badkamer bedien
8
het.) Om van die voordeur na die badkamer te gaan moet mens deur die voorhuis
na binne beweeg. Kort nadat "die vreemdeling" na binne
beweeg het, het tweede
appellant van binne af verby haar deur die voorhuis by die voordeur uit na buite
gegaan. Nie lank daarna nie
het sy 'n skoot hoor klap buitekant die huis. Sy het
onmiddellik by die voordeur uitgegaan, gevolg deur ander partygangers. Sy was
eerste uit en sien toe tweede appellant met 'n "skietyster" in die hand aan die
wegbeweeg straat af ongeveer drie tree van 'n wit
motorvoertuig af wat voor no
1027 oorkant die straat onder 'n straatlig gestaan het. Dit was toe ongeveer
20h00 en reeds donker maar
die straat en motorvoertuig was helder belig deur die
straatlamp en sy kon tweede appellant duidelik sien. Hy was die enigste persoon
wat toe in die straat was. Daar het 'n motreen geval maar dit het nie haar
uitsig of die sigbaarheid van die omgewing belemmer nie.
Toe hy by die huis uit
is, het hy geen vuurwapen in sy hand gehad nie.
In die motorvoertuig het iemand aan die voorste passasierskant gesit,
leunende teen die voordeur met sy kop
9 hangende by die oop deurvenster uit.
Sy mond het gebloei en die bloed het teen die buitekant van die deur afgeloop.
Sy en twee van
die partygangers wat haar na buite gevolg het, te wete Brenda en
"Esther" (Brenda Buys en Hester Smouse) het terstond na die motor
beweeg om te
sien wie die beseerde was. Daar aangekom het sy hom herken; dit was Sandy Dennis
- die oorledene. Hy het nog gelewe
en was by sy bewussyn. "Esther" het hom gevra
"wat maak jy hierso?" Hy het geantwoord dat hy sy "girl" soek. Hulle het hom
egter
nie gevra wat gebeur het nie of waarom of deur wie hy geskiet is nie.
Pieter Myburgh het Erna toe van die motor kom weghaal en saam
met haar in die
straat gaan staan voor die erfmuurtjie van no 1027. Baie van die ander
partygangers het ook daar saamgedrom. Hulle
het almal staan en kyk na die
gewonde oorledene oorkant die straat. Hy het steeds soos reeds beskryf by die
motorvenster uitgeleun.
('n Album bevattende vier foto's en 'n plan van die
toneel is tydens die verhoor as Bewysstuk B deur Mev Kolbe, wat namens die Staat
opgetree het, ingehandig, klaarblyklik met die toestemming van die verdediging.
Volgens
10
die plan het die motor so gestaan dat die venster waardeur die oorledene
uitgeleun het, aan die kant van huis no 1027 was, en dus
ook aan dié van
die saamgedromde partygangers, wat oorledene ongetwyfeld goed kon
sien.)
Eerste appellant het toe by Erna en Myburgh kom aansluit. Hy het
vroeer ook uit die huis uitgekom. Hy het Myburgh 'n sigaret en 'n
"light" gevra.
Dié is aan hom gegee en eerste appellant het langs hulle bly staan en
gerook. Tweede appellant wat 'n ent in
die straat afgestap het, draai toe om,
keer terug met die vuurwapen in sy hand langs sy sy gehou, kom na eerste
appellant waar hy
steeds staan en rook het en oorhandig die vuurwapen aan hom
met die woorde "dê, skiet die vark die laaste een". Eerste appellant
het
sonder meer die wapen gevat, hom na die omstanders gewend en aan hulle
gesê "fok julle in, fok julle in", klaarblyklik
bedoelende dat hulle almal
terug moet gaan in die huis in. Erna, Myburgh en die ander het egter slegs
teruggestaan en buite gebly,
kykende na wat voor hulle aan die gebeur was.
Eerste appellant het met vuurwapen in die hand na
11
die voertuig gegaan. Die oorledene het steeds by die venster uitgeleun soos
reeds beskryf. Eerste appellant het tot by die oorledene
gegaan, hom een skoot
geskiet, weggedraai en straat op geloop. Net daarna het 'n swartman, die reeds
gemelde "vreemdeiing" (Jakes),
vanuit die saamgedromde omstanders na vore getree
en na die bestuurderskant van die voertuig gegaan; hy wou klaarblyklik inklim en
wegry. Net voordat hy ingeklim het, is hy deur vriende van tweede appellant
aangesê om die oorledene hospitaal toe te n e e
m , hom daar op 'n
"stretcher" te sit en daar te los. Hy het ingeklim, teruggestoot met die
voertuig, gedraai en met oorledene weggery.
Gedurende hierdie hele verdere
verloop het die partygangers, wat blykbaar al ander mense in die omgewing was,
steeds versuim om die
oorledene te help of hulp te ontbied, of om enigsins
tussenbeide te tree. Hulle het almal eenvoudig net na oorledene en die gebeure
staan en kyk. Erna Forbay se verduideliking van daardie eienaardige en skynbaar
onmenslike gedrag was dat almal bang was vir appellante
en die "Fast Guns"
bende. Erna het dikwels voor daardie dag vir tweede appellant
12 gesien in
die geselskap van lede van daardie bende en het gemeen dat hy 'n lid daarvan
was. Sy was veral bang dat sy deur tweede
appellant "en sy vriende" beseer sou
word as sy enigiets sou doen wat hulie met haar ontevrede sou kon maak. Na die
vertrek van Jakes
met die oorledene is sy en Myburgh huis toe. Die volgende
oggend het Erna met die Suid-Afrikaanse Polisie in verbinding getree en
'n
verklaring oor die voorval gemaak. Op dieselfde Maandag is Pieter Myburgh weer
na tweede appellant se huis, "soos gewoonlik" volgens
Erna, omdat hy gereeld
daar drink. Ek verwys later verder na Myburgh en daardie besoek. (Tweede
appellant het in die loop van sy
getuienis toegegee dat almal op die "Sunday
Blues" stokvel daardie Sondag òf lede van die Fast Guns bende was
óf ondersteuners
en vriende van hulle. Dit was ongetwyfeld in wese 'n
Fast Guns geleentheid.) Erna Forbay het voorts getuig dat sy na die Maandag
tot
só 'n mate gedreig is met liggaamlike leed deur "beskuldigde 2 - hulle en
sy vriende" dat sy vir twee maande van haar
huis weg is en by ander mense gaan
bly het. Sy het haar vrese o.a. só uitgedruk: "Ek was bang die mense sal
my
13
seermaak." "Ek myself was bang gewees om 'n getuie te word . . ."
Volgens
haar was Myburgh só gedreig en inderdaad beseer dat hy
die hasepad
gekies het en nog steeds afwesig was toe sy na
afsluiting van die
verdedigingssake deur die hof herroep is om
verder te getuig. Sy het toe o.a.
só daaroor en oor haar eie
volharding getuig (vraag en antwoord):
"Nou, waar is Pieter Myburgh? Toe hulle
hom gedreig het, het hy geloop en hy is nou nog weg. Hulle het vir my ook
gedreig, maar ek het gekom ...
Nee, die Hof wil Pieter roep. Ek weet nie
waar hy is nie."
Die minneband tussen Erna en Pieter is ook verbreek en met die
verhoor was
hy nie meer haar kêrel nie. Weens 'n klagte deur haar
in die hof
geopper tydens kruisverhoor het Le Grange R. dit nodig
geag om te maan teen
intimidasie van getuies en om dit meermale
te herhaal.
Sy is deurtastend kruisondervra. Dit is aan haar
gestel dat sy weens 'n wrok teen appellante valslik vir hulle by
die moord
op oorledene betrek het. Die wrok wat sy na bewering
teen eerste appellant gekoester het, sou ontstaan het weens 'n
14
twis tussen hom en haar broer Terence waarby sy teen eerste
appellant
tussenbeide getree het. Sy het die twis erken maar
gesê dat hy vir haar
en Terence om verskoning gevra het, dat
hulle dit aanvaar het, dat die vrede
tussen hulle daardeur
herstel was en dat sy geen wrok teen eerste appellant
gekoester
het nie. Sy het ook ontken dat sy valslik teen hom getuig het.
Ten aansien van tweede appellant kom die
volgende
passasie voor in haar
kruisondervraging:
"Beskuldigde 2 sal ook sê dat jy rede het om teen hom getuienis te gee
en die rede is dat hy n rusie met jou 'boyfriend' gehad
het ...
Bedoel hy nou soos die Maandagaand wat ek by Newlands gewees het en die
Maandagaand wat my 'boyfriend' van die werk af gekom het.
Toe baklei ek met hom,
want toe sê hulle vir hom ek is 'n staatsgetuie in die saak? Bedoel hy
daardie rusie?
Nee, dit was voor hierdie insident. ... Nee, ek weet van niks van hy en my
'boyfriend' af nie."
(Die "Newlands" waarna sy hier verwys is die polisiestasie waar
sy op Maandag, 3 Maart 1986, haar verklaring oor die moord op
oorledene
gaan aflê het.)
15 Dit is waarskynlik deels die gemoeds-onweer van
hierdie rusie wat haar romanse met Myburgh op die rotse laat loop het. In
antwoord
op vrae deur die verhoorregter het sy gesê dat sy van Myburgh
gehoor het van 'n insident na die dood van oorledene toe hy na
bewering deur
tweede appellant gedreig is maar dat sy nie teenwoordig was nie en niks van die
besonderhede van daardie insident weet
nie. Erna het ook volgehou dat sy geen
wrok teen tweede appellant koester nie en het ook ontken dat sy hom valslik by
die moord betrek
het.
Dit was voorts tydens kruisverhoor aan haar gestel dat
sy by die hospitaal was nadat oorledene geskiet is, dat tweede appellant haar
daar gesien het en dat sy daar aan ene Vivian gesê het dat sy nie weet hoe
die oorledene geskiet is nie. Sy het ontken dat
sy by die hospitaal was of dat
sy dit ooit aan Vivian gesê het. Dit is ook aan haar gestel dat tweede
appellant sou getuig
dat Jakes omstreeks 20h00 by die stokvel aangekom het op
soek na sy vriend "Takies". Sy het dit beaam dat hy ongeveer daardie tyd
weer
daar opgedaag het maar het gesê dat sy onbewus
16 is van enige soektog
na so 'n vriend . ( Dit is opmerklik dat toe tweede appellant getuig het, hy
geen melding gemaak het van die
beweerde soektog na Takies of van die beweerde
hospitaal-voorval nie en dat Vivian nie geroep is om laasgenoemde te bevestig
nie.)
Erna het ook getuig dat sy geen sterk drank op die stokvel gedrink het
nie en dat sy daardie tyd glad nie sterk drank gedrink het
nie omdat Myburgh nie
wou hê dat sy dit doen nie. Hy het egter volgens haar baie op die stokvel
gedrink maar was nietemin slegs
onder die invloed van die drank en nie dronk
nie. Sy het die twee appellante op die party gesien maar het hulle nie sien
drink nie
en volgens die reels van die stokvel sou dit verkeerd gewees het as
tweede appellant daar gedrink het.
Die Staat het die voormelde Brenda Buys en
Hester Smouse asook Brenda se suster, Helen Buys, die minnares van tweede
appellant se
broer, Edgar, as getuies geroep. Nadat Erna Forbay herroep is en
getuig het op 1 April 1987 het Le Grange R. te kenne gegee dat die
Hof vir Jakes
en Pieter Myburgh as getuies wou roep indien hulle te vinde was. Dit was deur
Mev Kolbe aan
17 die Hof meegedeel dat Jakes se korrekte naam Jacob Pule
Skosana is. Daar is gesoek na hulle, maar slegs Pieter Myburgh kon opgespoor
word. Hy is die volgende dag, 2 April, deur die Hof as getuie geroep.
Erna
Forbay is oor die aandadigheid'van die appellante weerspreek deur al vier
genoemde getuies. Die drie dames het ontken dat eerste
appellant vir oorledene
geskiet het. Hulle het al drie getuig dat hulle binne-in huis 1027 was toe hulle
'n skoot buitekant gehoor
het, dat hulle net daarna uitgehardloop het, die wit
motorvoertuig oorkant die straat sien staan het met oorledene daarin, gewond
en
sittende soos reeds beskryf, maar dat daar toe niemand anders in die straat was
nie. Hester Smouse het egter gesê dat die
oorledene aan die
bestuurderskant gesit het. Al drie het ontken dat tweede appellant toe daar
buite op die toneel was of dat hy straat
af aan die wegloop was. Brenda en
Hester het wel getuig dat daar 'n tweede skoot was terwyl hulle daar buite naby
oorledene was maar
het ontken dat dit eerste appellant was wat toe geskiet het.
Hulle het trouens beweer dat hulle nie
18 weet wie die tweede skoot geskiet
het of van waar af dit afgetrek was nie. Hester het egter beweer dat die
bestuurder van die voertuig
- Pule - reeds by die voertuig se deur aan die
bestuurderkant gestaan het en besig was om die deur oop te maak toe die tweede
skoot
knal. Helen, wat saam met Edgar as man en vrou ingewoon het by tweede
appellant en sy moeder, het ontken dat sy 'n tweede skoot gehoor
het, en het
beweer dat nadat sy die gewonde en bloeiende oorledene in die voertuig gewaar
het sy omgedraai het, weer die huis binne
gegaan het waar sy voor die steurnis
besig was in die kombuis om wyn te verkoop en dat sy geen verdere skoot gehoor
het nie. Sy het
eerste appellant glad nie daardie dag gesien nie en het tweede
appellant net binne die huis gesien, nie buitekant nie. Haar suster
Brenda het
egter tydens hoofondervraging getuig dat eerste appellant wel daar was en dat hy
na die eerste skoot buitekant "tussen
die skare" was, waar hy gestaan en kyk
het. Tydens kruisverhoor het sy egter gesê dat eerste appellant glad nie
daardie dag
daar was nie. Sy het beweer dat sy Erna Forbay daar sien bier drink
het maar het
19
bygevoeg dat sy self besope was. Ten aansien van tweede
appellant het sy
aanvanklik getuig dat hy in die huis was tydens
die eerste skoot maar het
daarna beweer dat sy hom nooit daardie
Sondag gesien het nie. Sy het erken
dat sy in haar
polisieverklaring (wat ek later behandel) die volgende
aangaande
tweede appellant en oorledene gesê het, en het bevestig dat
dit
die waarheid is:
"Ek is bewus van die feit dat Ishmael aan die Fast Guns en Sandy, die
oorledene, aan die Spaldings bendes behoort het en dat daar
gereeld gevegte
tussen die bendes was."
Hester Smouse het, toe sy deur Mev Kolbe ondervra
is
oor haar polisieverklaring (waarna ek later ook
terugkom), te
kenne gegee dat sy die appellante nie daardie dag in die
straat
gesien het nie. Kort daarna het sy egter getuig dat
eerste
appellant inderdaad in die straat was, ongeveer 5 tot 10 tree
van
die voertuig af, toe die tweede skoot klap, dat hy toe met sy rug
na
haar gestaan het, dat hy toe die naaste persoon aan die
voertuig was, dat sy
gekyk het, maarniks in sy hande gesien het
nie, en dat hy toe weggeloop het.
Later, tydens haar baie korte
20
kruisondervraging, wou dit eers voorkom asof sy moontlik van
daardie
tweede weergawe aan die afwyk was, maar dit was nie
werklik die geval nie,
soos blyk uit die volgende passasie:
"Ek stel dit aan jou dat beskuldigde 1 nie daardie aand daar
was nie, of daardie dag
nie? Die wat nou?
Beskuldigde 1, hy was nie daar nie ... Hy was nie daar nie. Daar ...
HOF
: Hoe meen jy? Hy was nie daar nie? ... By die huis? Hy was by die
huis.
Hy was daar in die huis? Ja, hy was by
die huis.
Ja, jy het gesê hy het met sy rug na jou toe
gestaan,
maar jy kon nie sien wat hy doen
nie? Ja.
Is dit reg? Ja.
Het hy nie gepraat met die beseerde man nie?
Nee, hy het nie gepraat nie.
Hoekom het hy daar naby die motor, die
voertuig, gestaan met sy rug na jou toe?
Ek kan dit nie sê nie."
Hester het ook getuig dat sy die betrokke motorvoertuig sien
arriveer en
stilhou het, dat die bestuurder uitgeklim het en by
die huis waar die party
aan die gang was ingekom het en dat sy
die eerste skoot ongeveer vyf minute
later gehoor het. Oor
tweede appellant het sy verder slegs gesê dat sy
nie opgelet het
of hy daardie dag gedrink het nie. Sy het egter getuig dat
sy
21 self baie gedrink het en beskonke was.
Brenda, Hester en Helen is deur
die Staat ooreenkomstig art 190(2) van die Strafproseswet gediskrediteer
betreffende hul ontkennings
dat die appellante by die skiet van die oorledene
betrokke was. Elkeen van hulle het aan die polisie beedigde verklarings gemaak
wat in dié opsig ooreenstem met die getuienis van Erna Forbay. Al drie
van hulle het erken dat hulle dié verklarings
gemaak het maar het beweer
dat hulle deur die polisie gedwing was om die appellante valslik te
impliseer.
Myburgh ken albei appellante. Vir tweede appellant ken hy baie
goed. Hulle het vir dieselfde sokkerklub gespeel en albei was lede
van dieselfde
stokvelring. Hy het die oorledene van sien geken en het vir Jakes ook geken maar
het destyds nie geweet wat sy naam
is nie. Hy het getuig dat hy en Erna Forbay
saam op die "Sunday Blues" stokvel by tweede appellant se woning was. Hy het
geweet van
die Fast Guns en Spaldings bendes. Volgens hom was die Fast Guns 'n
gevaarlike bende met wie mens moeilikheid sal kry as jy dit by
hulle soek. Hy
het beweer dat
22
hy nie geweet het of appellante daaraan behoort het nie, maar het
geweet
dat tweede appellant se woning in die Fast Guns gebied
geleë was. Wat
Myburgh se verbintenis, indien enige, met die
Fast Guns was, is nie ondersoek
nie. Maar die volgende
betekenisvolle passasie kom voor in sy getuienis
tydens
kruisondervraging deur die Staat:
"... jy weet hoe klink 'n vuurwapen as jy hom
hoor? Ja.
Goed. Waar het jy al vantevore vuurwapens
hoor afgaan? Daar binne in die plek van
ons.
Watter plek? Van Westbury.
Word daar baie geskiet? Ja.
Deur die Fast Guns? As ons so baklei, dan
skiet hulle na mekaar."
Die notule van die verrigtinge toon duidelik dat
Myburgh baie ongemaklik was terwyl hy getuig het en dat hy
dikwels geen
verduideliking kon gee van sy selfbeweerde optrede
nie. Hy het herhaaldelik
so gemompel dat hy skaars hoorbaar was
en òf ontwykende óf
huiwerende antwoorde op eenvoudige vrae
gegee. Dit het hom nie lank geneem om te beweer dat hy daardie
aand, en
spesifiek ten tyde van die skietvoorval, "papdronk" was
23
nie. Hy het nietemin te kenne gegee dat hy die gebeure van daardie aand kon
onthou. Hy he t getuig dat hy nooit wou hê dat Erna
moes drink nie en
dikwels met haar daaroor baklei het, maar dat sy nietemin op die stokvel bier en
brandewyn gedrink het en dat hy
haar maar laat begaan het omdat hy "klaar moeg"
was om "oor en oor, oor en oor ... oor dieselfde ding" met haar te baklei. Hy
het
erken dat sy nie meer sy "vrymeisie" is nie maar het ontken dat hy na die
skietvoorval ooit met haar daaroor gepraat het of dat hy
destyds daarvan bewus
was dat sy 'n verklaring daaroor aan die polisie gemaak het. Hy het eerste
appellant nooit daardie aand daar
gesien nie maar het toegegee dat hy op die
stokvel kon gewees het. Oor die skietvoorval het Myburgh getuig dat hy, Erna en
ander
die aand na donker in die voorhuis gesit het. Jakes het ingekom, regdeur
die voorhuis geloop sonder om iets te sê en verder
die huis ingegaan. 'n
Ruk daarna het hy 'n skoot buitekant gehoor. Almal het uitgegaan, hy ook. Hy het
'n motorvoertuig gesien wat
skuins voor tweede appellant se woning gestaan het
aan die oorkant van die straat.
24
Oorledene het op die passasierskant in die voertuig gesit. Sy kop het by die
oop venster uitgehang en bloed het langs die deur afgeloop.
Hy was nog aan die
lewe en het sy kop geduring heen en weer beweeg. Daar was niemand anders in die
straat nie. Toe die skoot afgegaan
het was tweede appellant in die huis; hy het
daarna ook na buite gegaan en tussen die partygangers na die gewonde oorledene
gestaan
en kyk. Niemand het egter na hom gegaan nie. Toe het Jakes uit die huis
uitgekom, na die voertuig gegaen, ingeklim en met oorledene
weggery terwyl almal
nog staan en kyk het. Nadat Jakes vertrek het, is hy en Erna ook weg, huis toe.
Myburgh het aanvanklik getuig
dat weens sy dronkenskap hy nie daaraan gedink het
om die oorledene te gaan help nie. Hy was nuuskierig om uit te vind waarom die
oorledene geskiet is, maar het geen navrae daaroor gedoen nie. In dieselfde asem
het hy egter gesê dat hy nie daarin belang
gestel het om uit te vind nie
en uiteindelik het hy beweer dat hy nie nuuskierig daaroor was nie en nooit
probeer uitvind het wat
gebeur het nie. Sy woorde was o.m. "oor snaaksigheid is
ek nie nuuskierig nie". Hy het dit
25
wel snaaks gevind dat niemand die gewonde oorledene te hulp gegaan het nie
maar kon aan geen rede dink vir daardie versuim nie. Die
volgende aand is hy
weer na tweede appellant se woning. Sy rede vir dié besoek was, soos hy
dit gestel het, "om 'n babalassie
te gaan haal" (d.w.s. 'n "regmaker" vir sy
hoofpyn). Van sy vriende was ook daar sowel as tweede appellant. Hulle was
altesame ongeveer
16 bymekaar - persone wat "altyd saam" was. Hulle het hieroor
en daaroor gesels, maar nie veel oor die vorige aand se gebeure nie.
Met tweede
appellant het hy glad nie daaroor gepraat nie. Tydens die voorval het Myburgh
gebly in Moletanestraat, Westbury. Hy het
na die voorval daar padgegee en as
rede aangevoer dat sy suster, Sonya, wat elders gewoon het (in uitbreiding 1,
Klipspruit-Wes),
gesê het dat hy by haar moet kom bly.
Die verdedigingsgetuienis was soos volg:
Eerste
appellant het volhard met sy bewering dat hy nie op die stokvel was nie, en nie
by die doodskiet van oorledene betrokke was
nie. Volgens hom het Erna Forbay 'n
wrok teen hom
26
gekoester oor sy uitval in Februarie 1986 met haar broer. Sy sou
haar
besope en vloekend kom inmeng het nadat hy en haar broer,
Terence, reeds
vrede gemaak het en hom toe die dreig-belofte
toegevoeg het van "dik boon
ruik nie daar waar hy loop nie"
(menende dat die twee van hulle op een of ander tyd weer 'n uitval
sou
hê). Hy het homself egter weerspreek deur later te beweer
dat sy haar
aldus kom inmeng het voordat hy en Terence vrede
gemaak het. (Haar beweerde
besopenheid, vloekery en dreigement
is nie aan Erna Forbay tydens
kruisondervraging gestel nie.)
Eerste appellant is op 27 Maart 1986
gearresteer. Hy het beweer
dat hy nie kon onthou waar hy op die betrokke
Sondag - die 2de
Maart - was nie. Toe hy egter ingevolge art 119 van
die
Strafproseswet op 20 Junie 1986 in die landdroshof verskyn het,
was
dieselfde klagte aan hom gestel as dié waarop hy uiteindelik
verhoor
is. Hy het toe onskuldig gepleit en die volgende
pleitverduideliking verstrek
ingevolge art 115 van die genoemde
Wet.
"Ek was die tyd soos in die klagte uitgelees, te Eldoradopark.
Ek het 'n tydjie gebly by 'n
27
vriend, Najen, se plek. Ek het nie by die huis gebly nie. Dit is waarom ek
onskuldig is. Dit is al." (Bewysstuk H.)
Daarvolgens het hy heel duidelik te kennê gegee dat hy op Sondag,
2
Maart 1986, by Najen in Eldoradopark was. Tydens
kruisondervraging het eerste
appellant op 'n stadium erken dat hy
dit inderdaad so bedoel het, maar het
later weer op sy vroeere
bewering teruggeval dat hy nie kan onthou waar hy
daardie dag was
nie. Hy het voorts getuig dat hy in werklikheid vir "amper
'n
jaar" by Najen gebly het, vanaf 10 April 1985 tot sy arrestasie
op 27
Maart 1986. Hy en Hester Smouse het saam in dieselfde
buurt groot geword; sy
het drie strate van hom af gewoon, hulle
was in dieselfde skool, het mekaar
geken en nooit moeilikheid met
mekaar gehad nie. Hy kon aan geen rede dink
waarom sy beweer het
dat hy daardie Sondagaand op die toneel van die skietery
was nie.
Hy het beweer dat hy daardie Sondag nugter was omdat hy nooit
op
Sondae drink nie.
Tweede appellant het ook net een skoot gehoor. Hy was
in die badkamer waar hy drank bedien het. Tussen 20h00 en 21h00
28
het hy gehoor "mense maak geraas"; hulle het geskree. Terselfdertyd is die
musiek afgesit. Daarna hoor hy die skoot, dit het "van
voor af gekom". Hy het
uitgegaan. Baie van die partygangers was reeds buite. Hy merk toe 'n vreemde wit
stasiewa op aan die oorkant
van die straat, skuins voor sy huis. Hy sien toe ook
vir Jakes staan by die oop bestuurdersdeur van die motor. Hy het hom nie vroeer
daardie dag gesien nie. Hy het gevra wat daar aangaan. Sy vriend Gavin Smith het
geantwoord dat Sandy geskiet is en het na die motor
gewys. Dit het by 'n
lamppaal gestaan en tweede appellant kon dit goed sien. Hy het gekyk en sien
oorledene in die passasierssitplek
van die stasiewa; hy het aan die linkerkant
van sy gesig gebloei. Tweede appellant het vorentoe beweeg en ongeveer 8 tree
van die
motor gaan staan. Dit was die naaste wat hy daaraan was. Hy was verbaas
om Sandy daar te sien want dit was "'n gevaarlike toertjie"
vir hom om in Fast
Guns gebied te wees. Hy het gevra wie het vir Sandy geskiet maar niemand het
geantwoord nie. Sy vriend, Tony Fransman,
het toe aan Jakes, wat steeds by die
motor gestaan het, gesê om die
29
oorledene hospitaal toe te vat. Dié het toe met Sandy vertrek
in
die stasiewa.
Tweede appellant het nie die polisie ontbied nie en het
nooit daarin geslaag om uit te vind waarom of deur wie die
oorledene
geskiet is nie. Daar is ten aansien van sy beweerde,
maar aldus verydelde,
gretigheid om te verneem deur wie en waarom
oorledene geskiet is, egter 'n
paar besonder betekenisvolle
passasies in sy getuienis wat daardie
"gretigheid" weerlê. Hulle
kom almal tydens kruisondervraging voor en
lui só (vraag en
antwoord):
Eerstens
:
"So, almal wat by jou party was, was òf Fast Guns òf
ondersteuners van die Fast Guns, òf
vriende van hulle? Ek sal dit so stel.
So, dan was dit seker nie vir jou snaaks toe jy uitkom en jy sien dat Sandy
Adams geskiet is daar voor jou deur nie, Sandy Dennis?
... Was dit nie snaaks
nie?
Ja, dit was nie vir jou snaaks nie? Ek
kan nie daarop antwoord nie.
HOF
: Hoekom nie? Ek weet nie,
Edelagbare."
Tweedens
: (Ten aansien van Jakes, wat, soos reeds vermeld, by
30
die motor se deur sou gestaan het toe tweede appellant by die
huis
uitgekom het - in antwoord op vrae deur Le Grange R.):
"Nou, hoekom sê jy nie vir Jakes wat daar staan by die kar: Wat het
gebeur hierso? Wat het gebeur met Sandy? --- Ek het nie
daaroor gedink nie,
Edelagbare.
Maar hoekom het jy nie daaraan gedink nie? — - Ek weet nie,
Edelagbare."
Derdens
: (Weer in antwoord op vrae deur Le Grange R. aangaande
'n
gesprek wat hy 'n paar weke na die voorval met Jakes sou gehad
het,
gedurende April, waartydens Jakes sou gesê het dat hy nie
weet wie die
oorledene geskiet het nie.):
"Het jy vir hom gevra: Maar waar, wat het jy
kom maak die dag? Nee.
Hoekom was jy daar in jou motorkar? Nee,
ek het hom nie dit gevra nie.
Maar hoekom nie? Ek het nie gedink
daaroor nie.
Is jy nie ook nuuskierig nie? Ek was
nuuskierig, maar ek het nie dit vir hom gevra nie."
Tweede appellant het beweer dat Erna Forbay rede gehad
het om valslik teen hom te getuig weens 'n uitval wat hy met
Myburgh sou
gehad het gedurende Januarie 1986. Hy het egter niks
gesê oor die rede
vir of aard daarvan nie en daardie beweerde
31 uitval is nooit aan Erna
gestel nie. Hy het ook erken dat dié uitval darem nie vir Myburgh en Erna
verhoed het om die stokvel
op 2 Maart in sy huis by te woon nie. Hy het ook
beweer dat hy die Sondagmiddag terwyl hy drank aan die partygangers bedien het
self
"'n goeie paar glase bier" gedrink het. Hy het dit skelmpies gedoen sodat
niemand moet sien dat hy drink nie omdat dit teen die voormelde
stokvelreels
was. Hy was egter "nie te dronk nie" en kon die mense nog help bedien met drank
en kos. (Indien hy wel gedrink het,
het hy egter klaarblyklik geen waarneembare
tekens van drankinname getoon nie want daar is geen suggestie dat enigiemand
iets oor
sy toestand te sê gehad het nie.)
Die vraag wat nou beantwoord
moet word is of die verhoorhof se skuldigbevinding van albei appellante korrek
was al dan nie. Die onderhawige
is ongetwyfeld 'n uitsonderlike geval want dit
kom gewis selde voor dat die getuie op wie se weergawe 'n skuldigbevinding
gegrond
is, op die kernaspek van die saak weerspreek is deur al die ander
getuies wat aan weerskante daaroor getuig het. Erna Forbay is deur
nie minder
nie as ses
32
getuies weerspreek en haar getuienis is op die oog af nie algeheel
onberispelik nie. Dit sou egter merkwaardig en selfs tot 'n ma
te
agterdogwekkend gewees het as dit só was onder die klaarblyklik
ontstellende omstandighede waaronder haar waarnemings geskied
het. Bloot weens
daardie omstandighede moet haar weergawe egter met groot omsigtigheid benader en
beoordeel word. Gemoedsontsteltenis
kan selfs die eerlikste mens se
waarnemingsvermoe só benewel dat hy of sy nie daarna in staat is om 'n
betroubare weergawe
van gebeure te gee nie. Des te meer is omsigtigheid
noodsaaklik waar só 'n getuie deur al die ander ooggetuies weerspreek
word.
Erna het ook haarself oenskynlik weerspreek t.a.v. haar gewaarwording
van die teenwoordigheid van eerste appellant op die stokvel.
Sy het op 'n
stadium tydens kruisverhoor bevestigend geantwoord op 'n vraag deur die hof of
sy hom die aand vir die eerste keer buitekant
gesien het, na die eerste skoot.
Die onmiddellik daaropvolgende vraag, nog steeds deur die hof, en haar antwoord
daarop, het só
gelui:
33
"Jy het hom nie binne in die huis gesien nie,
voor dit nie? Nee."
Op 'n later stadium is sy deur die kruisverhoorder soos volg
daaroor ondervra:
"Wanneer was die eerste keer toe jy
beskuldigde 1 gesien het? Meen u vir die
hele dag of vir daardie . ..?
Vir die hele dag, ja. Hy was die hele dag
daar gewees, in die huis in gewees en (onhoorbaar) buite en in die huis
in."
By nadere betragting is daar na my mening klaarblyklik geen
weerspreking
nie. Deur die Hof is sy oor die aand gevra en deur
Mnr Schutz oor die hele
dag. Dat sy eerste appellant
die aand
vir die eerste keer buite gesien
het, is geensins weersprekend
van haar latere bewering dat sy hom gedurende
die hele
dag
ook
daar gesien het nie. Die verhoorhof het dit ook so
ingesien,
tereg na my mening.
Mnr Dane, wat die appèl namens appellante beredeneer
het, het betoog dat Erna klaarblyklik die onwaarheid gepraat het
toe sy getuig het dat die oorledene ná die mondskoot wat hy
opgedoen het, nog instaat was om te praat en op Hester se vraag
34
geantwoord het dat hy sy "girl" soek. Hy het aangevoer dat
Hester Smouse
se getuienis dat oorledene toe net geroggel het en
niks gesê het nie,
ewe duidelik die waarheid is. Na my mening
gaan daardie betoog nie op n i e .
Die oorledene is net deur die
een hoek van sy mond geskiet. Daar is geen
mediese getuienis dat
dit met só 'n verwonding onmoontlik is om te
praat nie; en dit is
geensins duidelik dat die oorledene inderdaad nie sou
kon praat
nie.
Mnr Dane het o.a. ook fout gevind met die verhoorhof
se
benadering tot Erna Forbay se getuienis in
dié opsig dat dit na
bewering nie die gevare besef het wat verbonde is
aan die
getuienis van 'n enkelgetuie nie. In sy argumentshoofde is
dié
kritiek só ingeklee.
"Nowhere in the judgment is there any indication that the Court a quo warned
itself to approach the evidence of Forbay with caution
as she was a single
witness."
In sy uitspraak het Le Grange R. egter die volgende gesê:
"Ons is bewus van die feit dat as die getuienis van die drie vroue-getuies,
Brenda, Hester en Helen, buite rekening gelaat word,
35
Erna se getuienis alleen staan." Hierdie opmerking is na my mening 'n
genoegsame aanduiding dat die verhoorhof inderdaad bewus was
daarvan dat Erna
Forbay 'n enkelgetuie was m.b.t. die kernaspek van appellante se betrokkenheid
by die doodskiet van die oorledene
en dat sy as sulks benader moet word. Dat dit
vir 'n hof bevoeg is om 'n skuldigbevinding te baseer op die weergawe van 'n
enkele
getuie is oorbekende reg. Dit is trouens formeel erken in art 208 van die
Strafproseswet, no 51 van 1977. Die versigtigheidsreël
t.a.v. sulke
getuienis is ewe bekend. Dit is in die 56 jaar sedert
R V M0K0ENA
1932
0PA 79 herhaaldelik deur hierdie Hof verfyn en toegepas. Dit is nie nou meer
nodig vir 'n verhoorhof om die gesag daaromtrent
onnodig te herhaal elke keer
wanneer dit met 'n enkelgetuie te doen het nie. 'n Duidelike indikasie dat
só 'n hof daarvan
bewus is en dit toegepas het, is genoeg. Dit is die
geval hier. Die hof a quo het Erna Forbay se getuienis versigtig benader,
ontleed,
teen die waarskynlikhede opgeweeg en toe aanvaar ter verwerping van die
van die drie voormelde dames,
36
Myburgh en die twee appellante waar dit met haar weergawe gebots
het. Dit
blyk heel duidelik uit die hof se uitspraak as geheel.
Le Grange R. het al
die gelewerde getuienis versigtig benader en
deeglik ontleed. Wat die
verhoorhof se hantering van Erna Forbay
se getuienis betref, is dit
genoegsaam om slegs die volgende twee
passasies uit die geleerde Regter se
uitspraak aan te haal (met
onvermydelike herhaling van 'n reeds aangehaalde
sinsnede in die
tweede passasie):
"Uit die bondel getuies (die beskuldigdes se getuienis uitgesluit) kan slegs
die getuienis van Erna Forbay die vrae waarna ek verwys
het, beantwoord. Ons is
daarvan oortuig dat Erna Forbay se getuienis in bree trekke betroubaar is. Ons
glo haar getuienis dat sy
nie die dag gedrink het nie, maar selfs as dit die
geval is dat sy wel gedrink het, skyn dit vir ons uiters onwaarskynlik dat sy
so
'n lang en omslagtige relaas van gebeure sou aanmekaar flans slegs om weerwraak
teen die beskuldigdes te neem. Selfs indien sy
oor die kundigheid beskik het om
die valse storie op te dis, sou sy moes besef het dat daar tientalle getuies tot
die beskikking
van haar gasheer sou wees om haar tot leuenaar te maak. Ons slaan
nie ag op die moontlike risiko wat sy ten opsigte van optrede aan
die kant van
die Fast Guns kon verwag het nie. In elk geval het Erna, na ons mening, haar
37
nêrens weerspreek nie en geen onwaarskynlikhede kwytgeraak nie. ...
Ons is bewus van die feit dat as die getuienis van die drie vroue-getuies,
Brenda, Hester en Helen, buite rekening gelaat word, Erna
se getuienis alleen
staan. Haar getuienis word egter deur die inherente waarskynlikhede in die
omstandighede ondersteun, terwyl die
saak van beide beskuldigdes sterk tekens
van fabrisering toon. Gesien die inherente waarskynlikheid wat met Erna se
getuienis strook,
en die inherente ohwaarskynlikhede wat in dié van die
twee beskuldigdes luik, word ons genoop om die getuienis van Erna Forbay
as
betroubaar te aanvaar en die van die beskuldigdes as vals te verwerp."
Dit is onnodig om al die aangebode getuienis weer eens
te ontleed. Daar is geen fout te vind met die verhoorhof se
hantering
daarvan nie, Die samevatting vroeer hierin van daardie
getuienis is trouens
tot 'n groot mate vanselfsprekend. Dit is só
hoogs onwaarskynlik dat
die omstanders hulself só passief sou
gedra het en só skynbaar
onverskillig en gevoelloos sou opgetree
het soos deur Brenda, Hester, Helen,
Myburgh en tweede appellant
beweer, as hulle werklik nie geweet het wie
oorledene geskiet het
nie, dat daardie getuies se weergawes daaromtrent nie
redelik
38
moontlik waar kan wees nie. Hul weergawes is tereg deur die verhoorhof
verwerp en die van Erna Forbay ewe tereg aanvaar. Die drie
dames en Myburgh was
klaarblyklik onwillig om teen appellante te getuig, waarskynlik weehs vrees vir
vergelding deur die appellante
se genote in die Fast Guns bende. Daarvan getuig
hulle powere vertonings as getuies al te duidelik. Waar hulle egter inderdaad
gelykluidende
getuienis met dié van Erna Forbay gegee het kan dit tereg
as stawing van haar weergawe beskou word. Voorbeelde daarvan is
Hester Smouse se
getuienis dat eerste appellant op die toneel was tydens die skietery en haar
getuienis sowel as dié van Myburgh
oor die bewegings van Jakes kort
voordat die oorledene geskiet is.
Myburgh se samesyn met tweede appellant en
ongeveer 14 ander persone op Maandag, 3 Maart 1986, by die huis waar tweede
appellant gewoon
het, getuig van sy verbintenis met die Fast Guns-bende, want
daar kan min twyfel wees dat diegene wat toe daar vergader het òf
lede
òf ondersteuners van daardie bende was. Daardie byeenkoms toon trouens
die voorkoms van 'n soort
39
kajuitraad en Myburgh se bewering dat daar toe min oor die doodskiet van
oorledene gepraat is en dat hy glad nie toe met tweede appellant
daaroor gepraat
het nie is klaarblyklik onwaar.
Die stelling wat namens tweede appellant aan
Erna Forbay gemaak is dat Jakes sy vriend "Takies" by die stokvel kom soek het,
bots
ook met tweede appellant se bewering dat hy daardie dag vir Jakes die
eerste keer gewaar het toe hy na die skoot by die motor gestaan
het.
Daer kan
na my oordeel geen redelike twyfel wees dat die twee appellante vir oorledene
doodgeskiet het soos deur Erna Forbay getuig
nie. Daar kan ewe eens geen
redelike twyfel wees dat dit 'n bendemoord is wat op Sandy Dennis uitgevoer is
nie; ook nie dat hy vir
die doel om doodgeskiet te word, deur Jakes na die
woning van tweede appellant gebring is (moontlik soontoe gelok met die bewering
dat sy "girl" daar is), dat hy die voertuig met die oorledene daarin buite in
die straat parkeer het en ingegaan het en tweede appellant
daarvan verwittig
het, wat toe uitgegaan het en die oorledene in die mond geskiet het nie.
40
Dit is ewe duidelik dat eerste appellant daarna heel geredelik gehoor gegee
het aan tweede appellant se versoek om oorledene ook te
skiet en dat hy toe die
werklike brein-deurborende kopskoot gaan toedien het. Daar kan ook geen redelike
twyfel wees nie dat die
appellante albei die direkte opset gehad het om die
oorledene met die tweede skoot te dood. Die passiewe houding van die bystanders
is sekerlik ook daaraan te wyte dat hulle goed geweet het dat dit 'n bendemoord
is wat hulle aanskou het en dat hulle òf weens
vrees òf weens
goedkeuring van wat gedoen is, nie ingemeng het nie. Dit is ook ongetwyfeld
bende-optrede wat Jakes blywend
en Myburgh tydelik laat verdwyn het.
Laasgenoemde se bewering dat sy suster skielik wou hê dat hy by haar moes
gaan bly is
klaarblyklik 'n versinsel.
Mnr Dane het betoog dat die eerste
skoot - die mondskoot - volgens die mediese getuienis ook die dood van oorledene
kon veroorsaak
het, dat dit redelik moontlik is dat oorledene ïnderdaad
daaraan dood is, en dat wat eerste appellant betref, dit nie bewys
is dat daar
enige gemeenskaplike doel
41 tussen die appellante bestaan het om daardie
skoot toe te dien nie. Dr Rabie het weliswaar in haar lykskouingsverslag vermeld
dat
"the cause of death was consistent with bullet wounds of the head", waarby
die mondwond klaarblyklik ingesluit is. Sy het ook getuig
dat' daardie wond
moontlik op sigself die dood kon veroorsaak het weens inaseming van bloed. Sy
het egter geen makroskopiese tekens
daarvan bespeur nie. Volgens gewone menslike
kennis en ervaring was die kopwond wat die brein van kant tot kant deurboor het,
die
werklik dodelike wond en kan daar na my mening geen redelike twyfel wees nie
dat dit in werklikheid die dood van die oorledene veroorsaak
het. Weens die
gemeenskaplike opset wat klaarblyklik tussen die appellante bestaan het t.a.v.
daardie tweede skoot, was hulle albei
tereg daarop aan die moord op oorledene
skuldig bevind.
Na hul skuldigbevinding het albei appellante getuig t.a.v. versagtende
omstandighede. Albei het egter volhard met hul ontkennings
van enige
aandadigheid aan die doodskiet van die oorledene. Hulle het slegs oor hul
persoonlike omstandighede
42
getuig. Eerste appellant het beweer dat "'n plaat" in sy kop gesit is toe hy
nog 'n baba was en dat dit hom soms vergeetagtig maak,
hoofpyne veroorsaak en
hom somtyds laat val. Maar hy het ook getuig dat daardie plaat hom "nog nooit
beinvloed het om lelike goed
te doen nie".
Tweede appellant het beweer dat hy
van lOhOO daardie Sondag begin drink het en dat hy "so omtrent ses 750 ml
bottels bier" en "nou
en dan 'n bietjie brandewyn" gedrink het deur die loop van
die dag. Dit het hom dronk gemaak en siek laat voel. Weens sy toestand
moes sy
"vrymeisie" hom help met die gee van kleingeld aan die partygangers wat drank by
hom gekoop het. Toe dit tydens kruisondervraging
aan hom gestel is dat hy op die
meriete getuig het dat hy net in die middag gedrink het, was sy antwoord dat
10h00 ook in die middag
is. Hy het ten slotte getuig dat die drank hom nie
beinvloed het om Sandy Dennis dood te skiet nie. Ten tyde van die moord was
eerste
appellant 22 jaar oud en tweede appellant 23 jaar.
In h bondige uitspraak het Le Grange R. o.a. gesê
dat
43
die Hof bevind het dat die appellante "absoluut niks voor die Hof gelê
het wat beskou kan word as synde iets wat versagtend
inwerk teen die misdaad wat
hulle gepleeg het nie".
Daar is geen fout met daardie oordeel te vind nie.
Die Hof het tweede appellant se getuienis oor sy beweerde beskonkenheid
klaarblyklik
verwerp. Weens die swak gehalte van sy getuienis daaromtrent en die
wyse waarop dit met sy vroeer getuienis gebots het, was dit 'n
geregverdigde
verwerping. Eerste appellant se getuienis oor die effek van die plaat in sy kop
was inderwaarheid feitlik niksseggend.
Die omstandighede waaronder die moord
gepleeg is en die aard daarvan - 'n koelbloedige bendemoord - verswaar die
morele verwytbaarheid
van appellante. Hulle was ten tyde van die moord nie meer
jeugdiges nie. Daar is geen suggestie in die getuienis dat hulle weens
onvolwassenheid beweeg was om die misdaad te pleeg nie. Daar kan gevolglik hier
geen sprake van enige versagtende omstandighede wees
nie.
Beide appellante is gevolglik tereg ter dood
44 veroordeel.
Weens die feit dat dit bo redelike twyfel bewys is dat
appellante vir oorledene met 'n vuurwapen doodgeskiet het, is dit ewe eens
onvermydelik bo redelike twyfel bewys dat hulle onregmatiglik in besit was van
'n vuurwapen en van die ammunisie waarmee geskiet
is.
Geen betoog teen
appellante se skuldigbevindings aan die tweede en derde klagtes of teen hul
vonnisse daarop is aan ons voorgedra
nie. Na my mening was hulle tereg daaraan
skuldig bevind en gepas daarop gevonnis.
Die appèl van albei appellante word afgewys.
M T STEYN, AR.
RABIE, WHR.) VILJOEN, WAR.)