S v Jacobs (391/1987) [1988] ZASCA 127; [1989] 2 All SA 1 (A) (30 September 1988)

70 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Possession of drugs — Appellant convicted of possession of dagga found on his property — Appellant claimed he was unaware of the nature of the substance — Legal issue of burden of proof regarding knowledge of possession — Court held that the appellant failed to discharge the burden of proving he did not know the substance was dagga, affirming the conviction.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1988
>>
[1988] ZASCA 127
|

|

S v Jacobs (391/1987) [1988] ZASCA 127; [1989] 2 All SA 1 (A) (30 September 1988)

LL
Saak No 391/1987
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPèLAFDELING
Insake die appèl van:
B J JACOBS
Appellant
teen
DIE STAAT
Respondent
CORAM
: VAN HEERDEN, SMALBERGER, MILNE,
STEYN et, KUMLEBEN ARR
VERHOORDATUM
: 23 SEPTEMBER 1988
LEWERINGSDATUM
: 30 SEPTEMBER 1988
UITSPRAAK
VAN HEERDEN AR:
2 Die appellant (beskuldigde 1) en vier
mede-beskuldigdes is in 'n landdroshof aangekla van 'n oortreding van art 2
(a),alternatiewelik
art 2 (b), van Wet 41 van 1971 ("die Wet"). Die appellant is
skuldig bevind op die hoofklag en gevonnis tot vyf jaar gevangenisstraf
waarvan
twee jaar voorwaardelik opgeskort is. Die ander vier beskuldigdes is op beide
aanklagte vrygespreek. Die appellant se appèl
na die Kaapse Provinsiale
Afdeling was nie suksesvol nie, en met die nodige verlof is sy onderhawige
appèl teen beide sy skuldigbevinding
en vonnis gerig.
Dit was gemene
saak dat ses sakke dagga op 8 Desember 1985 in 'n motorhuis op die appellant se
perseel in die distrik van Wynberg
gevind is. By daardie geleentheid was die
appellant en twee polisiebeamptes, Pijl en Dell, teenwoordig. Die dagga was met
'n seil
bedek en het regs voor in die motorhuis gelê. Dit was in
toegerygde streepsakke wat op hul
3 beurt elk in 'n swart plastieksak
toegemaak was. Die totale gewig van die dagga was ongeveer 71 kilogram.
Pijl
getuig dat beskuldigdes 2 tot 5 teenoor hom laat blyk het dat hulle belang sou
hê by h vrag dagga wat na Kaapstad vervoer
sou word, en dat hulle hom
gevra het om daarmee behulpsaam te wees. Op 'n later geleentheid het beskuldigde
5 in die teenwoordigheid
van die ander drie gesê dat hulle net vyf sakke
dagga ontvang het. Hierna het 'n beriggewer die appellant se huis aan Pijl
uitgewys en sekere inligting aan hom gegee. Dit het gebeur nadat beskuldigdes 2
- 5 se name ter sprake gekom het. As gevolg hiervan
het Pijl en Dell na die
appellant se huis gegaan waar hulle hom aangetref het. Dell het met die
appellant gepraat maar Pij1 was vaag
oor die inhoud van die gesprek. Hy kon wel
onthou dat dagga ter sprake was. Die appellant het hulle toe na die motorhuis
geneem.
Daarin het hulle die ses sakke
4 dagga gevind. Die appellant het
gesê dat hy die sakke vir beskuldigde 2 geberg het aangesien laasgenoemde
sy huurhuis moes
ontruim en nie stoorplek vir sy goed gehad het nie.
In
antwoord op leidende vrae van die aanklaer sê Pij1 dat daar na dagga gevra
was - blykbaar deur Dell - en dat die appellant
toe vir hulle direk na die
motorhuis geneem het.
Onder kruisverhoor deur die appellant - wat nie
regsverteenwoordiging gehad het nie - ontken Pijl dat die appellant "ingestem
het"
om na die motorhuis te loop omdat die getuie gesê het dat hy "daar
vir Derick [beskuldigde 2] se goed" was.
Dell getuig dat hy die appellant
meegedeel het dat volgens inligting wat hy ontvang het daar dagga op die
appellant se perseel was,
en dat hy dit wou visenteer. Hy het vir die appellant
gevra of hy enigiets in die jongste tyd ontvang het. Sy antwoord
5 was dat
beskuldigde 2 ses sakke "goed" by hom afgelaai het. Volgens die appellant het hy
nie geweet wat dit was nie, maar hy het
aangebied om dit vir Dell te gaan wys.
Die appellant het toe vir Dell geneem na die motorhuis, waarvan die deur
oopgestaan het, en
spesifiek na 'n hoop goed wat met h seil bedek was. Dit het
geblyk ses sakke vol dagga te wees.
Die appellant se getuienis strook in
hoofsaak met die verduideliking wat hy volgens Dell se weergawe aan laasgenoemde
verstrek het.
Hy sê dat beskuldigde 2 hom genader het met die versoek om
sy klerasie by hom (die appellant) te berg aangesien beskuldigde
2 "uit sy
woonstel ... gesit is". Hy het vir beskuldigde 2 gesê dat daar nie eintlik
plek in die huis was nie en dat hy van
die motorhuis gebruik sou moes maak.
Later het die appellant se vrou hom verwittig dat beskuldigde 2 die vorige aand
opgedaag het
en dat sy vir hom gesê het dat indien die appellant
toestemming
6 verleen het (soos beskuldigde 2 blykbaar beweer het)
laasgenoemde sy goed in die motorhuis kon berg. Die appellant was afwesig toe
beskuldigde 2 met sy vrou gepraat het en niks verder het gebeur nie alvorens die
polisie ongeveer h week later by sy perseel opgedaag
het.
Die appellant se
getuienis aangaande sy gesprek met Dell en Pijl verskil ietwat van hul
weergawes. Volgens die appellant het Dell
gesê dat hy na "onwettige goed"
soek, terwyl Pijl gemeld het dat hy daar was "vir 2 se goed". Die appellant het
toe afgelei
dat die polisie se besoek verband hou met die klerasie wat
beskuldigde 2 in die motorhuis geberg het. Hierop het die polisie na die
motorhuis geloop en het die appellant saamgestap, blykbaar op hul
versoek.
Die appellant se vrou het ook getuig en bevestig dat beskuldigde 2
op h geleentheid by haar huis opgedaag het. Hy het gevra of hy
"iets" daar
kon
7 berg omdat "hulle" uit hul huis gesit was. Hy het ook gesê dat hy
vantevore met die appellant daaroor gepraat het en dat laasgenoemde
sy
toestemming verleen het. Daarop het sy gesê: "dis goed dan". Sy was in die
huis met die kinders besig en het nie gesien
dat beskuldigde 2 wel goed in die
motorhuis ingeneem het nie.
Die appellant se vrou het haar weerspreek
aangaande die vraag of beskuldigde 2 kort voor bogenoemde geleentheid in haar
huis was.
Aangesien . die appellant egter nie beweer het dat sy vrou teenwoordig
was toe beskuldigde 2 hom aanvanklik genader het nie, werp
daardie gebrek in sy
vrou se weergawe nie 'n refleksie op sy getuienis nie.
Die landdros het
bevind dat die getuienis van die twee polisiebeamptes wesentlik ooreengestem het
en dat hulle as getuies 'n goeie
indruk gemaak het. Hierteenoor is bevind dat
die appellant se weergawe in
8
'n aantal opsigte onwaarskynlik was en dat hy hom weerspreek het. Gevolglik
is gekonkludeer dat die appellant hom nie gekwyt het nie
van die bewyslas wat,
volgens die landdros se sienswyse, ingevolge art 10 (1) (a) van die Wet op hom
gerus het.
Die Kaapse Provinsiale Afdeling het op appèl nie die
getuienis opnuut ontleed nie, maar het beslis dat op 'n breë oorsig
van die
getuienis, en in die lig van die landdros se geloofwaardigheidsbevindinge, geen
fout te vind was met sy konklusie dat die
appellant hom nie van bogenoemde
bewyslas gekwyt het nie. In hierdie verband is, met verwysing na die beslissing
in
S v Qunta
1984 (3) SA 334
(K), aanvaar dat die las op die appellant
gerus het om aan te toon dat hy nie geweet het dat die sakke dagga bevat het
nie.
In hierdie hof het die appellant se advokaat aangevoer dat
Qunta
verkeerd beslis is, en dat die vermoede vervat in art 10 (1 ) (a) van die Wet
in
9 werking tree slegs indien die Staat o a bewys dat 'n beskuldigde wetens
'n verbode stof besit het. (Om herhaling te vermy, verwys
ek voortaan slegs na
dagga en nie ook na die ander stowwe vermeld in artikels 2 en 10 nie.)
Dit is
welbekend dat indien gebruik van dagga, wat nie tans ter sake is nie, links
gelaat word, art 2 (a) en (b) twee aparte misdade
skep, nl handeldryf in en
besit van dagga. Die eerste misdaad is klaarblyklik 'n veel ernstiger een as die
tweede. Art 10 (1) (a)
bepaal dan dat indien by 'n vervolging weens 'n misdryf
ingevolge art 2 bewys word dat die beskuldigde in besit gevind is van meer
as
115 gram dagga volgens massa, dit geag word dat die beskuldigde in sodanige
dagga handel gedryf het tensy hy die teendeel bewys.
Dit is dienstig om op
hierdie stadium ook te verwys na art 10 (1) (d) en (e). Albei paragrawe
10
skep dieselfde vermoede as art 10 (1) (a), maar elk met 'n verskillende
feitelike substraat. Art 10 (1) (d) verg bewys dat die beskuldigde
dagga vervoer
het alvorens die vermoede toepassing vind. Daarenteen is die voorvereiste vir
die inwerkingtreding van die vermoede
vervat in art 10 (1) (e) bewys dat die
beskuldigde op of in beheer was van o a 'n voertuig waarin dagga gevind is, of
dat hy so 'n
voertuig vergesel het. (Ek noem voortaan die vermoedens geskep deur
art 10 (1) (a), (d) en (e) onderskeidelik die eerste, tweede
en derde
vermoede.)
Dit is tans gevestigde reg dat art 2 (a) en (b) nie skuldloos
oortree kan word nie. Indien die vermoedens geskep deur art 10 vir die
oomblik
buite rekening gelaat word, is dit eweneens gevestigde reg dat die Staat opset
moet bewys (
S v Nqwenya
1979 (2) SA 9
6 (A) 100). In die veronderstelling
dat h persoon dagga kan "besit" al weet hy nie dat die betrokke
11
voorwerp dagga is nie, kan die Staat dus nie opset bewys nie tensy o a
aangetoon word dat die beskuldigde geweet het dat dit wat in
sy fisiese besit
was, dagga was. En wat art 2 (a) betref, moet die Staat bewys dat die
beskuldigde geweet het dat dit waarin hy handel
gedryf het wel dagga was.
In
die verbygaan moet ek daarop wys dat ek die woord "weet" as
gerieflikheidsuitdrukking gebruik aangesien opset in die verband onder
bespreking nie noodwendig daadwerklike kennis vereis nie. Dit kan naamlik ook
bestaan uit 'n voorsien van die moontlikheid dat 'n
stof wel dagga is,
gepaardgaande met h versoeningselement. Ook mag dit genoegsaam wees indien 'n
beskuldigde bloot bewus was dat
dit wat hy besit het, of waarin hy handel gedryf
het, een of ander verbode stof was (vgl
S v Hlomza
1987 (1) SA 25
(A)).
Art 1 van die Wet omskryf "besit" as "ook hou, opberg of in bewaring of
onder beheer of toesig
12
hê". Weer eens ten einde herhaling te vermy, en ook om h duidelike
onderskeid te trek tussen die twee elemente van besit (
corpus
en
animus
) gebruik ek voortaan die woord "beheer" ter aanduiding van fisiese
besit (
corpus
) in al sy verskyningsvorms.
In 'n aantal gewysdes is
reeds oorweeg of indien h beskuldigde in beheer gevind is van meer as 115 gram
dagga, en hy hom daarop beroep
dat hy nie geweet het dat dit wat hy beheer het
dagga was nie, die las om onkunde te bewys op die beskuldigde rus. In
S v
Mofokeng
1973 (2) SA 89
(0), het De Villiers RP bevind dat die eerste
vermoede in werking tree ook in die afwesigheid van bewys deur die Staat dat die
beskuldigde
geweet het dat dit dagga was wat hy beheer het (hierna soms "kennis
van die beskuldigde" genoem). Maar, is geleer, die beskuldigde
kan nie aan h
oortreding van art 2 (a) skuldig bevind word nie "tensy hy bewus was van die
feit dat dit waarmee hy handel
13
gedryf het, inderdaad dagga was" (p 91). Met 'n beroep op o a
S v
Hansen
1972 (1) SA 453
(N) is gesê dat art 10 (1) (a) die Staat nie in
hierdie opsig kan help nie. De Villiers RP het egter uiteindelik bevind dat
'n
beskuldigde moet bewys dat hy nie die nodige bewussyn gehad het nie. Die
grondslag van die
beslissing was die sogenaamde
Wallendorf
-reël (R
v
Wallendorf and Others
1920 AD 383).
Soos reeds aangedui, het hierdie
hof egter in
Nqwenya
beslis dat, indien die vermoedehs daargelaat word,
die Staat opset, met die komponent van wederregtelikheidsbewussyn, moet bewys
ten aansien van 'n beweerde oortreding van art 2. Dit kom dus voor dat indien De
Villiers RP 'n juiste beskouing van die ligging
van die bewyslas gehad het, hy
'n ander slotsom sou bereik het, nl dat nieteenstaande die inwerkingtreding van
die eerste vermoede
die appellant in
Mofokeng
nie aan 'n oortreding van
art 2 (a) skuldig bevind kon gewees het nie tensy
14 die Staat bewys het dat
sy wetens in dagga handel gedryf het.
S v Mdeleleni
1975 (2) SA 682
(K), was blykbaar ook 'n geval waarin die appellant in beheer van meer as 115
gram dagga gevind is. Die appellant se verweer was
dat hy nie geweet het dat die
tasse onder sy beheer dagga bevat het nie. Die hof, by monde van Watermeyer R,
het bevind dat die las
op die appellant gerus het om te bewys dat hy nie wetens
in dagga handel gedryf het nie. Die grondslag van die bevinding was egter
weer
eens die
Wallendorf
-reël, en daar is dan ook met goedkeuring verwys
na die benadering van De Villiers RP in
Mofokeng
. Soos dit my voorkom,
het Watermeyer R dit daarom nie nodig geag om in te gaan bp die voorvereistes
vir die inwerkingtreding van
die eerste vermoede nie.
In
S v Tities
1974 (2) SA 600
(SWA), is pertinent beslis dat die Staat kennis van 'n
beskuldigde moet bewys alvorens die eerste vermoede toepassing
15
vind. Dit was egter 'n uitspraak op hersiening en
omdat die
Prokureur-Generaal hierdie opvatting gedeel
het, is nie volledig op die
aangeleentheid ingegaan
nie.
Die voorvereistes vir die inwerkingtreding
van die
tweede en derde vermoedens was ter sprake in S
v Radloff
1978 (4) SA
66
(A) 71-2. Wat die tweede
vermoede betref, is beslis dat
"die Staat bo redelike twyfel die voorgeskrewe feitegrondslag [moet] bewys, nl
dat die appellant die papiersak [wat geblyk het dagga
te bevat] vervoer het
wetende dat
dit dagga bevat het Slaag die Staat
daarin om dit te bewys dan is die bewyslas op die appellant om op h oorwig van
waarskynlikhede te bewys dat hy nie in die betrokke
dagga handel gedryf het
nie."
Daarenteen is beslis dat die derde vermoede
in
werking tree selfs by ontstentenis van bewys dat 'n
beskuldigde bewus was van
die aanwesigheid van dagga in
of op die betrokke voertuig, vaartuig of dier
(hierna
bloot 'n voertuig genoem).
16 Die enigste ander beslissing van
hierdie hof waarin pertinent ingegaan is op die voorvereistes vir die
inwerkingtreding van een
van die drie vermoedens, en wat vir huidige doeleindes
van belang is, is
Nqwenya
. Soos meermale genoem, is daarin bevind dat die
las op die Staat rus om aan te toon dat 'n beskuldigde opsetlik art 2 oortree
het.
Dit is egter ook bevind dat vanwee die derde vermoede (vervat in art 10 (1)
(e)) 'n beskuldigde moet bewys dat hy nie bewus was nie
van die teenwoordigheid
van dagga gevind in 'n voertuig waarop hy was, of waaroor hy beheer gehad het,
of wat hy vergesel het. Voorts
het Jansen AR gesê (op p 102 C) dat dit
moeilik is om in te sien dat die woorde "geag handel gedryf het" in die orige
subparagrawe
van art 10 (1) "'n enger betekenis moet dra" as in art 10 (1) (e).
Hy het egter, met verwysing na
Radloff
, nie die moontlikheid van 'n
wisselwerking tussen die inhoud van h vermoede en die feite-basis wat dit in
werking stel, uitgesluit
nie.
17
In twee sake is egter pertinent beslis dat
die eerste vermoede in werking kan tree selfs by
ontstentenis van bewys
van kennis van die beskuldigde.
In
S v Qunta
1984 (3) SA 334
(K), wat reeds in 1979
beslis is, was
die eerste vermoede ter sprake.
Tebbutt Wnd R, met wie Berman Wnd R
saamgestem het, het
bevind dat 'n beskuldigde vir die doeleindes van art
10
(1) (a) in "besit" van dagga gevind kan word al weet hy
nie dat dit wat
gevind word dagga is nie. Wat betref
die hierbo aangehaalde
dictum
van
Joubert AR in
Radloff
, is gekonkludeer dat die gewysdes
waarop
Joubert AR hom beroep het, nie die
dictum
ondersteun
nie.
Tebbutt Wnd R het toe vervolg (op p 339):
"I accordingly do not think that the passage cited from
S v Radloff
is
support for the contention that the State must prove that the appellant knew
that what she had in her possession was
dagga."
Nou is dit waar dat die
dictum
nie direkte
steun bied nie vir die standpunt dat 'n soortgelyke
18
bewyslas (t a v h beskuldigde se kennis) op die Staat rus wanneer art 10 (1 )
(a) ter sprake kom. Aan die ander kant was Tebbutt Wnd
R blykbaar van mening dat
die tersaaklike stelling van Joubert AR h
obiter dictum
was, en na my
mening was dit nie die geval nie. Dit is duidelik dat die Staat in
Radloff
gesteun het op al drie vermoedens en as deel van die
ratio
decidendi
is bevind dat die eerste twee vermoedens nie van toepassing was
nie. Wat die tweede vermoede betref, is spesifiek bevind dat die
Staat bo
redelike twyfel moes bewys het dat die appellant bewus was dat die betrokke sak
in die voertuig dagga bevat het; m a w dat
die vermoede in werking tree slegs as
bewys word dat h beskuldigde wetens dagga vervoer het. Aan hierdie bevinding was
die hof in
Qunta
gebonde selfs al het dit gemeen dat die gesag waarop
Joubert AR gesteun het nie sy bevinding onderskraag het nie. Die hof moes dus
nagegaan het of die grondslag van die
19
bevinding ook by toepassing van die eerste vermoede h
rol speel maar het
versuim om sulks te doen. Op dié
grondslag kom ek hieronder terug.
In
S v Sikwane
1980 (4) SA 257
(BSC), was
Hiemstra HR, met wie Steenkamp R saamgestem het,
blykbaar ook van mening
dat die tersaaklike stelling
van Joubert AR in
Radloff
'n
obiter
dictum
was, en het
hy daarvan verskil. Hy het dan ook bevind dat
dit
nie 'n voorvereiste vir die toepaslikheid van die eerste
of tweede
vermoede is dat die beskuldigde moes geweet
het dat hy onderskeidelik dagga
beheer of vervoer het
nie. Betreffende art 10 (1) (d), wat die
tweede
vermoede skep, het Hiemstra HR gesê (op p 260):
"One fails to find, either directly or by implication, any factual requirement
like 'wetende dat dit dagga bevat'. The answer really
lies in the wording
itself. The accused shall be presumed to have dealt in dagga. One cannot deal in
anything without knowing what
it is. The accused shall therefore be presumed to
have known."
In
Qunta
het
Tebbutt Wnd R ook gesteun op die
20
premisse dat dit nie vermoed kan word nie dat 'n beskuldigde in dagga handel
gedryf het tensy hy geweet het dat dit wat hy beheer
het inderdaad dagga was.
Voorts het hy in navolging van die uitspraak van Corbett R in
S v Smith
1965 (4) SA 166
(K), 'n onderskeid getrek tussen, aan die een kant,
mens
rea en, aan die ander kant, die
animus
-element van besit. Laasgenoemde
wils-element is volgens Tebbutt Wnd R "an intention to exercise control over the
thing in question"
(p 338). Die nodige
animus
wat naas fisiese beheer
teenwoordig moet wees om besit daar te stel, vereis dus slegs 'n wil om 'n
voorwerp te beheer.
Ergo
, as die voorwerp dagga is of dagga bevat, het
die beheerder die
animus
om dagga te besit ongeag of hy weet dat dit wat
hy feitelik beheer dagga is. Dit beteken egter nie dat hy opsetlik dagga besit
nie,
en indien hy inderdaad nie voornoemde kennis het nie, oortree hy nie art 2
(b) van die Wet nie. Word hy
21
egter in beheer van meer as 115 gram dagga gevind, en het hy
animus
in
bogenoemde sin, word hy in besit van dagga gevind en tree die eerste vermoede in
werking. Ter weerlegging van die vermoede dat
hy in die gevonde dagga handel
gedryf het, moet hy dan bewys, as dit sy verweer is, dat hy nie geweet het dat
dit wat gevind is dagga
was nie.
Wat die toepaslikheid van hierdie vermoede
betref, is die kardinale vraag, meen ek, welke betekenis geheg moet word aan die
frase
"in besit
gevind is van dagga" (art 10 (1) (a)). Soos
aangetoon in
S v Wilson
1962 (2) SA 619
(A) 624, vereis die frase i) die vind van
dagga en ii) die gelyktydige besit daarvan deur die beskuldigde. Hierdie twee
vereistes
moet deur die Staat bewys word alvorens die vermoede in werking kan
tree. Die eerste lewer in
casu
geen probleme op nie; die tweede wel.
Dat die appellant in beheer van die
22
ses sakke was, sy dit dan ook ten behoewe van iemand anders, ly geen twyfel
nie. Die fiesiese element van besit (
corpus
) was dus wel teenwoordig. Het
die appellant egter die nodige
animus
gehad?
Dit kom my voor dat die
tweede vereiste, wat
animus
betref, redelikerwyse vatbaar is vir twee
vertolkings. Die eerste bring mee dat die wils-element gerig moet wees op beheer
van dagga
as sodanig; die tweede dat die
animus
moet slaan bloot op
beheer van 'n voorwerp wat blyk dagga te wees. Volgens die eerste vertolking
besit h persoon dus nie dagga indien
hy nie weet dat hy dagga onder sy beheer
het nie. Volgens die tweede vertolking, wat in o a
Qunta
aanvaar is, is
dit genoegsaam as 'n persoon die
animus
het om iets te beheer en daardie
iets dagga is, al het die persoon geen benul van die aard van die "iets" nie, of
al meen hy dat
dit iets heel anders as dagga is. (
Animus
sou dus ontbreek
slegs indien die
23
persoon nie weet dat hy in fisiese beheer van 'n voorwerp is nie, soos
wanneer hy onbewus is dat 'n ander 'n pakkie bevattende dagga
in sy baadjiesak
gesteek het.)
Na my mening is die eerste vertolking die aanvaarbaarste.
Volgens gangbare taalgebruik vereis 'n frase soos "besit van 'n voorwerp"
'n
animus
om juis daardie voorwerp te beheer. Veronderstel 'n persoon is in
beheer van 'n pakkie wat na sy kennis gewone tabak bevat maar waarvan
die inhoud
inderdaad dagga is. Indien so 'n persoon gevra sou word of hy dagga besit, sou
sy antwoord tog duidelik ontkennend wees.
Sy wil is immers gerig op die beheer
van tabak, en nie dagga nie.
Wat die eerste vermoede betref, is daar
bowendien aanduidings dat die wetgewer beoog het dat 'n wils-element gerig op
beheer van
dagga
'n voorvereiste vir die inwerkingtreding van die
vermoede is. Indien
24
'n persoon in besit is van 'n groter hoeveelheid dagga as wat normaalweg vir
eie gebruik bestem is, is dit 'n logiese afleiding dat
hy daarin handel dryf of
wil dryf.
Corpus
alleen regverdig egter nie die afleiding nie en so
ook nie
animus
wat nie op die beheer van dagga as sodanig gerig is nie.
Immers, indien 'n persoon nie weet dat dit wat hy beheer dagga is nie, kan
die
af leiding net nie gemaak word nie. Die wetgewer het nou 'n vermoede vasgeknoop
aan die vind van meer as 115 gram dagga en die
gelyktydige besit daarvan deur 'n
beskuldigde. Die motivering was klaarblyklik dat indien so 'n hoeveelheid in die
bewuste beheer
van 'n beskuldigde gevind word - d w s, met kennis aan sy kant
dat dagga onder sy beheer is - met reg van hom geverg kan word om
bogenoemde af
leiding deur bewys te ontsenu.
Die stelling dat dit nie vermoed kan word nie dat 'n persoon in dagga handel
dryf tensy hy weet dat
25
dit wat hy beheer dagga is - wat terug te voer is na die uitspraak in
S v
Pillay
1974 (2) SA 470
(N) 473 -is juis, maar bied na my mening nie steun
vir die gevolgtrekking wat in
Qunta
en
Sikwane
bereik is nie.
Inteendeel onderskraag dit die teenoorgestelde standpunt. Omdat die wetgewer
bewus moes gewees het dat beheer van
meer as 115 gram dagga nie 'n afleiding van
handeldryf daarin regverdig nie tensy die betrokke persoon se wil op die beheer
van dagga
- in teenstelling tot 'n blote voorwerp - gerig is, kan juis aanvaar
word dat beoog is dat daardie wils-element teenwoordig moet
wees alvorens die
eerste vermoede in werking kan tree. Anders gestel, 'n vermoede dat 'n persoon
handel dryf in dagga ook as hy nie
weet dat hy in beheer van dagga is nie, is
nie logies verdedigbaar nie.
'n Verdere oorweging kom ter sprake.
Veronderstel dat, sê, 1 20 gram dagga onder beheer van h
26
persoon gevind word en dat hy aangekla word van 'n oortreding van art 2 (a),
alternatiewelik 2 (b), van die Wet. Sy verweer is dat
h pakkie, waarin die dagga
toegemaak was, deur 'n vriend by hom gelaat is met die versoek om dit vir 'n dag
of twee by hom te hou,
en dat hy geen benul gehad het wat in die pakkie was nie.
As sy weergawe juis is, sal die vriend ongetwyfeld voor die versoeking
gestel
word om dit te ontken. Indien hy nou nie die vriend as getuie sou roep nie, of
die hof dit sou doen en die vriend dan voor
die versoeking sou swig, mag dit lig
gebeur dat die hof nie kan bevind of die beskuldigde al of nie geglo moet word.
Volgens die
Qunta
- en
Sikwane
-opvattinq moet hy dan op die
hoofklag (handeldryf) skuldig bevind word omdat hy nie bewys het dat hy onbewus
van die inhoud van die
pakkie was nie, en hom nie origens van die bewyslas
meegebring deur art 10 (1) (a) gekwyt het nie. Behalwe, moontlik, indien art
10
(3) van toepassing is.
27
kan hy egter nie op die alternatiewe klag (besit) skuldig bevind word
nie omdat die Staat nie opset aan sy kant bewys het nie. Dit
kan dus nie bevind
word dat hy dagga, wat onder sy beheer gevind is, opsetlik besit het nie, maar
wel, in effek, dat hy opsetlik
daarin handel gedryf het.
Ek vind dit moeilik
om te aanvaar dat die wetgewer kon beoog het dat 'n beskuldigde in so 'n geval
nie aan die minder ernstige nie,
maar wel aan die meer ernstige, misdaad skuldig
bevind kan word. Dit is vir my veel aanneemliker dat beoog is dat die vermoede
in
werking moet tree slegs indien, onder andere, die beskuldigde hom eerstens
aan besit van dagga (art 2 (b)) skuldig gemaak het.
Ek keer nou terug na
Radloff
. Vir my is dit duidelik dat die grondslag van die
dictum
van Joubert AR eenvoudig dit is: 'n Persoon vervoer nie dagga nie tensy hy weet
dat wat hy vervoer wel dagga
27
kan hy egter nie op die alternatiewe klag (besit) skuldig bevind word nie
omdat die Staat nie opset aan sy kant bewys het nie. Dit
kan dus nie bevind word
dat hy dagga, wat onder sy beheer gevind is, opsetlik besit het nie, maar wel,
in effek, dat hy opsetlik
daarin handel gedryf het.
Ek vind dit moeilik om te
aanvaar dat die wetgewer kon beoog het dat h beskuldigde in so h geval nie aan
die minder ernstige nie,
maar wel aan die meer ernstige, misdaad skuldig bevind
kan word. Dit is vir my veel aanneemliker dat beoog is dat die vermoede in
werking moet tree slegs indien, onder andere, die beskuldigde hom eerstens aan
besit van dagga (art 2 (b)) skuldig gemaak het.
Ek keer nou terug na
Radloff
. Vir my is dit duidelik dat die grondslag van die
dictum
van Joubert AR eenvoudig dit is: 'n Persoon vervoer nie dagga nie tensy hy weet
dat wat hy vervoer wel dagga
28
is. h Voorvereiste vir die inwerkingtreding van die tweede vermoede (art 10
(1) (d)) is gevolglik kennis aan die kant van 'n beskuldigde
dat hy
dagga
vervoer. Daarenteen kan die derde vermoede geld selfs al word nie bewys dat die
beskuldigde van die betrokke dagga bewus was nie.
Die rede is dat art 10 (1) (e)
nie vereis dat die beskuldigde die dagga moes besit of vervoer het nie, of dat
daar enige ander vorm
van verband tussen hom en die dagga moes bestaan het nie.
Al wat geverg word, is 'n verband tussen die beskuldigde en die voertuig
waarin
die dagga gevind is. Hy moes naamlik op of in beheer van die voertuig gewees het
of dit vergesel het.
Dit volg dat
Radloff
sterk steun bied vir die
vertolking van art 10 (1) (a) wat ek voorstaan. Immers, as 'n persoon nie dagga
vervoer indien hy nie weet
dat dit wat hy vervoer dagga is nie, kan hy nouliks
dagga besit as hy nie weet dat hy juis dagga
29
onder sy beheer het nie. (Sien ook
S v Blauw
1972 (3)
SA 83
(K) 84 D.)
Bedoelde vertolking bring nie mee dat
animus
(as
element van besit) en
mens rea
gelykgestel word nie. Dit is goed denkbaar
dat 'n persoon in besit van h verbode stof gevind kan word - d w s wetende dat
dit so
'n stof is - en tog nie wederregtelikheidsbewussyn ten aansien van sy
besit het nie. Dit sou byvoorbeeld die geval wees indien die
persoon meen dat sy
besit van 'n gevaarlike afhanklikheidsvormende medisyne regmatig is, maar die
voorskrif waaroor art 5 dit het,
uitgereik -is deur 'n persoon wat voorgee h
geneesheer te wees maar dit inderdaad nie is nie.
Die vertolking onder
bespreking bring ook nie mee dat die frase "geag ... handel gedryf het" in art
10 (1) (a) 'n enger betekenis
het nie as die gelykluidende frases wat in art 10
(1) (d) en (e) vervat is (vgl
Ngwenya
, p 102). Alvorens daardie
30
frases toepassing kan vind, moet die Staat sekere voorvereistes bewys, en
dié verskil van paragraaf tot paragraaf.
Ek meen dus dat die
aanvaarbaarste vertolking van art 10 (1) (a) meebring dat die eerste vermoede
nie geld nie tensy die Staat bewys,
onder meer, dat die beskuldigde wetens in
beheer van
dagga
was. Maar al sou die ander vertolking - nl dat slegs
bewys hoef te word dat die beskuldigde wetens beheer gehad het oor 'n stof wat
geblyk het dagga te wees - ewe aanvaarbaar wees, moet voorkeur aan eersgenoemde
vertolking gegee word. Dit druis immers minder as
laasgenoemde in teen die
grondliggende vermoede van onskuld in ons strafreg, en art 10 (1) (a) moet
derhalwe beperkend uitgelê
word:
S v Majola
1975 (2) SA 727
(A)
735. Ander regstelsels kom ook blykbaar goed klaar sonder vermoedens wat h
bewyslas op h beskuldigde plaas:
S v Marwane
1982 (3) SA 717
(A)
755-6,
31
Dit is ten slotte nodig om te verwys na 'n
stelling van hierdie hof in
Hlomza
. Die appellant in
daardie saak
was in beheer gevind van tablette en het
die
animus
gehad om hul te
beheer. Dit het later
geblyk dat die tablette 'n verbode
afhanklikheidsvorm-
ende stof bevat het. Die appellant se verweer was
dat
hy nie geweet het wat die aard van die tablette
(Mandrax) of hul inhoud was nie. Die vraag of kennis
van h beskuldigde 'n voorvereiste is vir die inwerking-
treding van die eerste vermoede, is nie op appèl deur
die appellant
se advokaat geopper nie. (In sy
gerapporteerde betoogshoofde is daar trouens
nie 'n
enkele verwysing na art 10 (1) (a) nie.) Die vraag is
derhalwe ook
nie pertinent in die uitspraak oorweeg
nie. Hierdie hof het egter gesê (op p 31):
"Unquestionably the appellant was in this case 'found in possession' of the
Mandrax tablets, which were shown to have been a prohibited
dependence-producing
drug (see S v
Wilson
1962 (2) SA 619
(A) at 624D-F;
S v Majola
1975 (2) SA 727
(A) at 734H-735D). The presumption contained in s 10 (1 )
(a)
32
therefore applies in this case. The effect thereof is that the appellant is
presumed to have dealt in the tablets, knowing that they
were prohibited
dependence-producing drugs
In
Wilson
en
Majola
was bogenoemde vraag ook nie ter sprake nie, en dit is dus
oorvloediglik duidelik dat in
Hlomza
nie bewustelik aandag daaraan gegee
is nie. Nietemin berus die aangehaalde
dictum
op h aanname dat die eerste
vermoede kan geld selfs indien 'n beskuldigde nie weet, of vermoed, dat hy 'n
verbode stof onder sy beheer
het nie.
In
Hlomza
is glad nie na
Radloff
verwys nie. Soos uit die voorgaande blyk, lei die grondslag van
die
dictum
van Joubert AR in
Radloff
egter bykans
ónafwend-baar tot die konklusie dat art 10 (1) (a) bewys van kennis van
die beskuldigde verg. Hoewel die twee
dicta
op verskillende paragrawe van
art 10 (1) betrekking het, is hulle na my mening dus fundamenteel strydig; die
grondslag van die een
kan net nie met dié van die ander versoen word nie.
Hierdie hof is dus
33
nie tans aan een van die twee
dicta
gebonde nie. En op grond van die
oorwegings wat reeds geopper is, gee ek voorkeur aan die
Radloff
-qrondslag. Ek bevind dus dat die eerste vermoede nie in werking
kan tree nie tensy die Staat o a bewys dat die beskuldigde se
animus
op
die beheer van dagga as sulks gerig was.
Alhoewel die landdros dus
verkeerdelik op grond van art 10 (1) (a) bewys van die appellant geverg het van
sy beweerde onkunde aangaande
die inhoud van die sakke, moet nog steeds op sy
geloofwaardigheids-bevindinge gelet word ten einde te bepaal of die respondent
die
teendeel bewys het. Die appellant se advokaat het egter betoog dat die
landdros in wesentlike opsigte misgetas het, en ek meen dat
hy gelyk gegee moet
word.
In eerste instansie is dit nie so dat die getuienis van die twee
polisiebeamptes wesentlik ooreenstem nie. Pijl sê naamlik dat
daar gevra
is na
34 dagga en dat die appellant hulle toe na die motorhuis geneem het.
Dit skep die indruk dat die appellant geweet het dat daar dagga
in die motorhuis
was. Hierteenoor sê Dell dat in antwoord op sy vraag of die appellant
enigiets in die jongste tyd ontvang
het, laasgenoemde geantwoord het dat
beskuldigde 2 ses sakke goed by hom afgelaai het. Hy het toe ook gesê dat
hy nie geweet
het wat in die sakke was nie.
Pij1 ontken dat hy vir die
appellant gesê het dat hy in verband met beskuldigde 2 se goed by die
appellant se perseel was. Alles
dui egter daarop dat sy beriggewer hom meegedeel
het dat die dagga wat beskuldigdes 2 - 5 ontvang het, op die appellant se
perseel
was en die waarskynlikhede begunstig dus die appellant se weergawe.
(Hierdie beskuldigdes het nie getuig nie.)
Op die keper beskou, en hoewel Dell en die appellant se weergawes in sekere
opsigte nie strook
35 nie, is daar nie ten tyde van Pijl en Dell se besoek
enigiets gesê nie wat in stryd is met die appellant se getuienis dat
beskuldigde 2 hom versoek het om klerasie op sy perseel te berg. Hy het dan ook
reeds tydens hierdie besoek die houding ingeneem
dat die sakke wat in die
motorhuis gevind is aan beskuldigde 2 behoort het en deur hom aldaar afgelaai
is.
Ek kom dan by die aspekte van die appellant se getuienis wat deur die
landdros as onwaarskynlik aangemerk is. Eerstens was hy van
mening dat indien
beskuldigde 2 werklik vir die appellant onder 'n wanindruk wou bring aangaande
die inhoud van die sakke, hy sou
gereël het om die sakke na die appellant
se perseel te neem op h stadium waarop die appellant nie tuis sou wees nie. Maar
so
'n reeling sou juis die argwaan van die appellant gewek het want die vraag
wat onmiddellik by hom sou opgekom het, sou wees: "Waarom
wil hy seker maak dat
ek nie tuis sal wees nie?"
36
Bowendien is dit heel moontlik dat beskuldigde 2 geweet het dat die appellant
normaalweg nie gedurende werksure tuis is nie, of dat
hy besef het dat hy bloot
kon gaan kyk of die appellant se motorvoertuig - wat volgens sy getuienis nooit
in die motorhuis ingetrek
is nie - op die perseel was.
Tweedens sou
beskuldigde 2 volgens die landdros bewus gewees het van die moontlikheid dat die
appellant tuis kon wees wanneer hy die
sakke sou kom afhaal, of dat die
appellant na die sakke in die motorhuis sou kon kyk, en dan sou opgemerk het dat
die inhoud daarvan
"nie klerasie was nie maar inderdaad dagga". Dit is egter nie
vir my duidelik nie hoe die appellant bloot deur na die sakke te kyk
sou kon
gesien het dat hulle dagga, of in elk geval nie klerasie nie, bevat het. Die
dagga was immers in streepsakke wat op hul beurt
in plastieksakke toegemaak
was.
Die landdros het op slegs een weerspreking
37
van die appellant gewys. Ondervra deur die landdros het die appellant die
volgende gesê:
"Het julle reëlings getref waar die
beskuldigde se klere gehou sal word? Nee,
ek het net vir hom gesê as hy, daar is nie eintlik plek in die huis nie,
maar as hy sy klere bring moet hy maar in die motorhuis
sit.
Maar dan het julle mos reëlings
getref?
Nee dis al wat gesê gewees het, die
reëlings wat getref is hy kan dit in die motorhuis
sit.
So jul het reëlings getref? Ja.
Het jy dan voorheen verkeerd gesê?
Ja voorheen het ek verkeerd gesê, as ek dit moet so
stel."
Met verwysing na hierdie
uittreksel het die
landdros gesê:
"Beskuldigde 1 [die appellant] het homself ook weerspreek deurdat hy tydens vrae
van die Hof gesê het dat hy wel vir beskuldigde
2 gesê het dat hy
die klere in die motorhuis kan sit, waar hy voorheen gesê het dat daar
geen reëlings getref is
nie. Hy het vir die Hof gesê dat hy voorheen
dan verkeerd getuig het."
Dit blyk
egter dat toe die appellant voorheen
uitgevra is aangaande die gesprek tussen hom en
38
beskuldigde 2, hy bloot gesê het dat hulle nie reëlings getref het
aangaande die tydstip waarop beskuldigde 2 sy klerasie
sou bring nie, en dat hy
van meet af gesê het dat h reëling aangaande die motorhuis as
bergplek wel getref was. Dit volg
dus dat die landdros verkeerdelik gesuggereer
het - en die appellant net so verkeerdelik toegegee het - dat hy hom weerspreek
het.
Die landdros het geen verdere kritiek op die appellant se getuienis
gehad nie, en dit blyk dat hy by beoordeling daarvan wesentlike
wanvoorligtings
begaan het. Derhalwe staan dit hierdie hof vry om opnuut oor die al of nie
aanvaarbaarheid daarvan te besin. Nou
moet dadelik toegegee word dat dit
onwaarskynlik is dat 'n persoon sonder die wete van h ander 'n redelike groot
hoeveelheid dagga
op laasgenoemde se perseel sal berg beseffende dat indien die
sakke oopgemaak word, dit sal blyk dat hulle dagga bevat, en sonder
om die
versekering te hê dat behoorlike beheer oor die sakke
39
uitgeoefen word. Aan die ander kant is dit ook
onwaarskynlik dat indien
die appellant geweet het dat
die sakke dagga bevat, en dus waarskynlik 'n belang
daarby gehad het, hy nie sou sorg gedra het dat die
motorhuis konstant
toegesluit was nie. Die appellant
se getuienis dat die motorhuis nie gesluit kon word
nie, is egter nooit
bevraagteken nie. Bowendien blyk
dit uit die getuienis van Pijl en Dell dat
die
motorhuis se deur oop was toe hulle by die perseel
opgedaag het.
'n Deurlees van die appellant se getuienis
toon nie vir my dat hy enigsins 'n swak getuie was nie.
Ek is derhalwe van
oordeel dat nie buite redelike
twyfel bewys is dat die appellant bewus was
van die
werklike inhoud van die sakke nie. Dit het die
respondent se advokaat dan ook toegegee. Ook is nie
betoog nie dat bewys
is dat art 10 (3) toepassing
gevind het.
40
Gevolglik slaag die appèl en word die appellant se skuldigbevinding en
vonnis tersyde gestel.
H.J.O. VAN HEERDEN AR
SMALBERGER AR
MILNE Stem SAAM
STEYN AR KUMLEBEN AR