About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1988
>>
[1988] ZASCA 99
|
|
S v Pretorius (17/88) [1988] ZASCA 99 (20 September 1988)
1
Saaknr 17/88
/mb
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(APPèLAFDELING)
In die saak
tussen:
GERHARDUS FREDERICK DAWID PRETORIUS
APPELLANT
en
DIE
STAAT
RESPONDENT
CORAM
: RABIE WHR, BOTHA et KUMLEBEN ARR
VERHOORDATUM
: 26
AUGUSTUS 1988
LEWERINGSDATUM
: 20 SEPTEMBER 1988
UITSPRAAK
KUMLEBEN, AR
Die appellant het in die Noordelike Rondgang
Plaaslike
Afdeling van die Hooggeregshof op vyf
aanklagte tereggestaan,
2/...
2. naamlik, (1) moord; (2) poging tot moord; (3) diefstal;
(4) onwettige besit van 'n vuurwapen; en (5) onwettige besit van
ammunisíe.
Hy is op die derde aanklag onskuldig bevind. Origens, ondanks
sy pleit van onskuldig, het die Hof (Curlewis R en twee assessore)
hom skuldig
bevind soos aangekla. Op die moordaanklag het Mnr Moyses, wat namens appellant
by die verhoor (en ook voor ons) opgetree
het, aangevoer dat versagtende
omstandighede bewys is. Mnr Broodryk, namens die Staat, het daarmee akkoord
gegaan. Die meerderheid
van die Hof (die geleerde Regter en een assessor) het
egter bevind dat geen versagtende omstandighede aanwesig was nie. Die appellant
is bygevolg ter dood veroordeel. Vir die ander drie misdrywe is appellant tot
gevangenisstraf gevonnis. 'n Aansoek om verlof om te
appelleer teen die
skuldigbevindings en vonnisse op al vier aanklagte is van die hand gewys.
Sodanige verlof is egter deur hierdie
Hof toegestaan.
Al die aanklagte spruit uit wat gedurende die
nag
3/...
3. van 11/12 Junie 1985 in h sakesentrum te Pietersburg
plaasgevind het. Die betrokke aand was Samson Makana en John Kgatla, synde
nagwagte, op diens gewees. Eersgenoemde het 'n restaurant in Kerkstraat bewaak.
Hy en Kgatla het in of naby 'n deurgang tussen Kerkstraat
en Krugerstraat om 'n
vuur gesit. Ongeveer middernag het iemand op hulle geskiet. Die koeel is
rakelings by Kgatla verby en het teen
die muur agter hom vasgeslaan. Hy het
opgemerk dat die skoot vanaf 'n afstand van omtrent 20 treë deur 'n Blanke
manspersoon
geskiet is. Makana het opgespring en om 'n hoek weggehardloop. Kort
daarna het h tweede skoot geklap en Makana het om hulp geskree.
Hierdie skoot
het hom noodlottig verwond. h Ander sekuriteitswag, die staatsgetuie Joseph
Ramatshela, het op die hulpkreet reageer
en in die rigting daarvan gehardloop.
Op pad soontoe het hy h persoon met h geweer op die hoek van twee strate sien
staan. Makana
het van hierdie persoon weggehardloop terwyl laas-genoemde die
geweer op hom gerig het. Die getuie kon sien dat Makana reeds deur
h skoot
verwond was. Toe die aanvaller
4/...
4. die twee nagwagte gewaar het, het hy omgedraai en
weggehol. Hulle het hom agternagesit en hul polisiefluitjies geblaas. Dit het
die aandag getrek van twee polisiebeamptes, sers Botha en konst Maritz, wat te
voet in die omgewing op diens was. Hulle het op Makana
afgekom waar hy op sy rug
op 'n sypaadjie gelê het. Op dié stadium het hy nog geleef maar
kort daarna het hy, as gevolg
van die koeëlwond, beswyk. Een van die
nagwagte het 'n beskrywing van die verdagte aan die polisiemanne gegee. Hulle
het 'n
motor gaan haal en in die omgewing daarmee gepatrolleer. In Rissikstraat,
omtrent 250 tree vanaf die plek waar die oorledene geskiet
is, het hulle die
appellant teegekom. Toe hy hulle bespeur, het hy omgedraai en vinnig
weggehardloop. Hulle het hom egter ingehaal,
gearresteer en na die polisiestasie
geneem. Later die aand is hy deur konst Maritz en nog 'n polisiebeampte na die
plek geneem waar
hy vroeer die aand in hegtenis geneem was. Daar het hy 'n .22
geweer aan hulle uitgewys waar dit versteek was. (Dit was met 'n teleskopiese
visier en 'n klankdemper toegerus maar sy
5/...
5. magasyn het ontbreek. Dit is gemene saak dat die twee
skote deur hlerdie vuurwapen afgevuur is. Weens die afwesigheid van die
magasyn,kon
die geweer slegs gelaai word deur die patrone een vir een in die
ontbrandingskamer daarvan te plaas.) Daarna het die polisie appellant
na 'n huis
geneem waar appellant, sy suster, sy moeder en nog 'n dame by ene Van Sittert
ingewoon het. Die huis is geleë in
Bokstraat omtrent 300 tree vanaf die
plek waar appellant gearresteer is.
Bogemelde feite, wat kortliks die gebeure aangaande die skietery skets, is
nie deur die appellant betwis of weerspreek nie. Hulle
kan as bewese aanvaar
word.
Die sleutelvraag op die meriete, met betrekking tot al vier aanklagte, is of
die Staat bewys het dat appellant die skote afgevuur
het. Hy het dit betwis. Op
25 Junie 1985 het hy h verklaring voor 'n vredesbeampte afgelê. Dié
is by die verhoor erken
en ingehandig. Daarin
6/...
6. het hy sy deelname aan die gebeúre soos volg
verduidelik
(dit word onverbeterd aangehaal):
"Op Dinsdag 85/6/11 om 10h45 het ek in die teenwoordigheid van S S Grobler aan
my prokureur 'n verduideliking gegee van wat gebeur
het.
Ek wil nou dit herhaal, maar daarna die ware verhaal vertel.
Op die nag van die voorval het ek, Lammie van Sittert, my suster Jackie
Pretorius en my ma in die sitkamer drank gedrink.
Nadat my ma en Jackie om voor 24h00 die nag gaan slaap het, het ek en Lammie ook
gaan slaap. Dit was ongeveer 24h00 - 00h30 gewees.
Ek het wakker geword van iemand wat by die kamer venster gepeuter het. Ek het
die geweer geneem en na buite gegaan waar ek 'n Witman
sien weghardloop het. Ek
het 'n paar waarskuwings skote in die lug geskiet en die man agtervolg.
In Pres. Krugerstraat in 'n donker gang het ek 'n beweging gesien en daarna
geskiet. Ek het toe gesien dat ek 'n nagwag, die oorledene
in die saak geskiet
het. Ek het eers weggehardloop, die geweer in die gras versteek in Bokstraat
langs die pad.
Die Spoorwegpolisie het my gesien waarop ek weg probeer hardloop het, maar hulle
het my gevang.
Hulle het .22 patrone en doppies in die baadjiesak gevind wat ek aangehad het.
Ek het later die geweer aan A.O. De Beer van die S.A.
Polisie uitgewys waarop hy
beslag gelê het.
Ek het die aangeleentheid heroorweeg terwyl ek in aanhouding was. Ek het nou
besluit om die hele waarheid te vertel aangesien ek
nie die
daad
7/...
7.
gepleeg het nie.
Ek het die aand saam met Lammie, Jackie en my ma drank
gedrink in die sitkamer. Die drank wat ons gehad het was 'n bottel Klipdrift
Brandewyn wat ek en Lammie by die bottelstoor gekoop het.
Nadat die bottel
klaar was, het ons na Seshego gery en by 'n smokkelhuis nog drank gaan koop. Ons
het 'n bottel brandewyn en 4 (vier)
"Longtom" Black Label gekoop. Die bier het
ons op pad na die huis uitgedrink. Die motor waarmee ons gery het, het langs die
pad gebreek.
Die vrou, Jackie, my ma en die kinders het 'n geleentheid na die
huis gekry. Ek en Lammie het geloop.
By die huis het ons die ander drank
gedrink. Ons het nie die hele bottel uitgedrink nie. Terwyl ons in die sitkamer
gesit het, het
Lammie my gewys hoe sy .22 geweer werk. Daar het 4 skote afgegaan
waarvan Lammie drie (3) en ek een (1) deur die dak geskiet het.
Ons het almal later gaan slaap.
Ek het wakker geword
toe ek hoor dat Lammie opstaan. Ek het gemerk dat Lammie die geweer saamgeneem
het. Ek het aangetrek en na buite
gestap aangesien ek vermoed het dat Lammie
iemand buite gehoor het.
Ek het gesien dat hy die pad afstap met die geweer. Ek het gemerk dat hy met
Rissikstraat regs opdraai in 'n oostelike rigting. Hy
het in Kruger links
gedraai, 'n noordelike rigting en aangestap.
Toe ek by die Krugerstraat kom het ek hom nie gesien. Ek het in 'n noordelike
rigting gedraf en Lammie by 'n deurloop sien staan met
die geweer in sy skouer.
Ek het op geen stadium skote gehoor nie. Ek wou nog vir hom skree, maar
voordat
8/...
8.
ek dit kon doen het Lammie terugbeweeg in Krugerstraat.
Naby die huis het ek hom ingehaal waarop ek hom gesê het dat ek die
moeilikheid op my sal neem. Hy wou dit nie gehad het nie
en ek het die geweer en
sy baadjie by hom geneem. Ek het vir Lammie my trui gegee waarop ek sy baadjie
aangetrek het. Daarna het
die Spoorwegpolisie my gekry en ek probeer wegharloop
het. Ek het die misdaad ontken omdat ek tyd wou wen sodat Lammie by die
huís
kon kom.
Ek het dit gedoen omdat Lammie huisvesting vir my ma, Jackie en haar kinders
gegee het. Nadat ek gehoor het dat hy hulle die huis
belet, het, het ek besluit
om die waarheid te praat."
Sy verweer, soos in die
Hof aangevoer, het wesentlik ooreengekom met sy tweede verduideliking in die
verklaring.
Die Verhoorhof het hierdie verweer verwerp, hoofsaaklik op die volgende
gronde. Die twee nagwagte, wat as betroubare getuies beskou
is, het met
beslistheid die appellant uitgeken in omstandighede wat enige redelike
moontlikheid van foutiewe uitkenning uitsluit.
Die sakesentrum in die omgewing
van die voorval was goed belig. Kgatla het appellant op 'n geskatte afstand van
ongeveer twintig
treë waargeneem. Ramatshela bevestig
9/...
9. dat die omgewing goed belig was en dat hy "baie goed"
kon sien. Weliswaar het altwee die ooggetuies gesê dat die persoon
'n kort
kakiebroek aangehad het terwyl appellant die aand 'n blou kortbroek gedra het.
Hierdie foutiewe waarneming is deur die Hof
in aanmerking geneem. Die Hof het
nietemin bevind - myns insiens heeltemal tereg - dat die uitkenning, in ag
nemende al die getuienis
wat daarop betrekking het, betroubaar is. Heel duidelik
was óf appellant óf Van Sittert vir die aanval verantwoordelik.
Volgens die ooggetuies se beskrywing van die persoon se liggaamsbou kon dit
slegs appellant gewees het. Die verduideliking van die
appellant dat hy
aan-spreeklikheid vir Van Sittert se kriminele optrede aanvaar het, is deur die
Hof as vals verwerp. Dat hy so sou
optree omdat Van Sittert vir sy moeder en
suster versorg het, is vanselfsprekend so vergesog en onaanvaarbaar dat dit geen
verdere
kommentaar verdien nie. In die omstandighede moet afgelei word dat hy
die geweer versteek het omdat hy die persoon was wat dit gebruik
het. Mej
Pretorius, die suster van appellant,
10/...
10. het namens hom getuig en beweer dat toe die polisie
die aand by hul huis aangekom het, sy na Van Sittert se kamer gegaan het om
hom
te roep. Volgens haar het hy op die bed gelê onder die komberse maar nie
geslaap nie. Sy kon ook sien dat hy nie pas wakker
geword het nie. Toe hy die
komberse van hom afgooi, het sy opgemerk dat hy ten volle gekleed was en selfs
sandale aangehad het. Mnr
Moyses het op hierdie getuienis gesteun vir sy betoog
dat Van Sittert moontlik saam met appellant by die sakesentrum was en vir die
skote verantwoordelik is. Maar hierdie getuienis van mej Pretorius word deur
beide konst Maritz en sers Botha weerspreek. Volgens
hulle was dit duidelik dat
Van Sittert as gevolg van hulle aankoms wakker geword het. Toe hulle hom
aangetref het, was hy besig om
aan te trek.Volgens hulle het hy beslis nie
sandale aangehad nie. Maar selfs indien mej Pretorius se weergawe aanvaar word,
bewys
dit slegs dat Van Sittert moontlik, of waarskynlik, nie in die huis
agtergebly het nie. Dit doen geensins afbreuk aan die getuienis
van die
oogge-getuies nie. Volgens hulle was 'n tweede persoon nooit op die
11/...
11.
toneel nie. Mnr Moyses het ook verwys na getuienis dat die
oorledene op sterwe sou gesê het "
Hulle
het my geskiet." Maar
hierdie uitlating kan onder die omstandighede nouliks as positiewe bewys van
twee persone se betrokkenheid
dien.
Ek is dus van mening dat die Hof a
quo
om grondige redes appellant se
verweer verwerp het en hom tereg op al vier aanklagte skuldig bevind het.
Die vraag of versagting bewys is, moet voorts ondersoek word. Die bevindings
van die meerderheid en minderheid van die Hof in dié
verband word soos
volg deur die geleerde Regter opgesom:
"My een Assessor vind versagting in die volgende: sy relatiewe jeugdigheid, saam
met die drank wat ingeneem is, en dié volgens
hom afwesigheid van direkte
opset. Verder in hierdie verband sê hy moet 'n mens in gedagte hou dat
beskuldigde 'n swak opvoeding
gehad het en in die Weermag
opgelei
12/...
12.
is om geweld toe te pas. Verder sê hy moet die rasse-konflik situasie
in die land nie buite rekening gelaat word.
Al hierdie in ag genome vind die
Geleerde Assessor dat die beskuldigde se optrede minder laakbaar is.
Ek en my
ander Assessor stem nie saam nie. Daar is geen getuienis dat hy wesenlik
beinvloed is deur die inname van drank nie; hy was
wel aangetas. Maritz sê
hy kon sien dat hy gedrink was, maar hy was nie dronk nie. Botha sê hy het
normaal gehardloop,
vinnig ook, en was nugter. Alhoewel later het hy gesê
hy kon nie eintlik sien of hy dronk of nugter was nie. Die polisie het
gesê hy het heeltemal duidelik gepraat. Ons kan niks vind in sy optrede
wat die bevinding regverdig dat drank hier allenig
of met ander aspekte sy
laakbaarheid verminder nie. Hy was ten tye van die gebeure net net
een-en-twintig. Ons vind dat hy nie 'n
jeug is nie en dat sy ouderdom alleenlik
of met ander feite nie 'n rol gespeel het in hierdie affêre.
Daar is
geen getuienis dat sy opvoeding swak was, alhoewel 'n mens hierdie afleiding kan
maak. In elk geval dit is ook nie iets wat
sy handeling minder laakbaar maak
nie.
Ons vind dat daar nie sprake is van 'n wilde skietery nie. Soos ek reeds
gesê het het my een Assessor melding gemaak van die
feit dat daar nie
direkte opset was nie. Die beskuldigde, vind ons, het doelbewus uitgegaan in die
middel van die nag, 'n koue winternag,
met 'n geweer met 'n klankdemper en 'n
teleskoop, en die enigste afleiding is dat hy bedoel het om 'n Swartman of mense
dood te skiet.
Die feit dat hy onder die hart geskiet het en nie in die hart nie
is nie die minste 'n
13/...
13.
aanduiding van wilde skietery. Met ander woorde, die meerderheid bevinding is
dat al die feite saamgeneem nie versagtende omstandighede
uitmaak nie."
Dit is geykte reg dat drankinname deur 'n
beskuldigde
versagting daar kan stel. In
S v
Saaiman
1967(4) S.A. 440(A)
op 443E het Botha AR die volgende stelling in
die uitspraak
van die Hof a
quo
(per Beyers RP) met goedkeuring aangehaal:
"Alleen wat 'n versagting kan wees, is as 'n mens kan sê dat die resultaat
van die drank wat 'n persoon gedrink het sodanig
is dat dit sy gewone
moraliteitsgevoel verstomp het; dat dit die dissipline wat hy oor homself het
verbreek het; dat dit vir hom
moeiliker gemaak het om die drifte van 'n ondier
wat daar dan in hom moet wees te beheer; en dat 'n mens dan, omdat jy voel dat
hy
minder bevoeg was om homself te beheer as hy sou gewees het as hy nie die
drank gehad het nie, moreel sy handeling minder erg moet
skat as wat jy dit sou
gedoen het as hy nugter was."
Die vraag is dus of
drank in die huidige saak appellant se
geestesgesteldheid in so 'n mate
aangetas het dat sy inhibisies
en selfbeheer daardeur verstomp of verminder
was.
14/...
14. Soos reeds aangedui, was die appellant nie 'n
betroubare getuie nie en die getuienis van sy suster is nie in alle opsigte
bevredigend
nie. Tog kan hulle relaas van die gebeurtenisse voordat appellant
die huis daardie aand verlaat het geredelik aanvaar word. Hulle
getuienis in
dié verband is ooreenstemmend en was nie deur kruisverhoor, of enigsins,
aangeval of in twyfel getrek nie. Kortliks
kom dit hierop neer. By die huis die
aand het appellant en Van Sittert 'n bottel Klipdrift brandewyn uitgedrink.
Hulle is toe per
motor na 'n smokkelkroeg waar hulle nog 'n bottel brandewyn en
"Long Tom" kanne bier gekoop het. Op pad huis toe, en nadat appellant
een van
die biere gedrink het, het die motor gaan staan. Die vroumense is met 'n ander
motor huis toe geneem terwyl appellant en
Van Sittert na 'n garage gegaan het.
Daarvandaan het hulle huis toe geloop. Appellant skat dat hulle omtrent
half-twaalf by die huis
aangekom het. Op pad soontoe het hulle aan die tweede
bottel brandewyn begin drink. Met hul aankoms daar het hulle verder gedrink
totdat slegs omtrent 'n kwart van die brandewyn
15/...
15. in die tweede bottel oorgebly het. Daar is geen
aanduiding dat appellant en Van Sittert nie ewe veel brandewyn gedrink het nie.
Nadat hulle na die huis teruggekeer het, en terwyl hulle nog gedrink het, het
hulle vier skote met die geweer deur die plafon van
die kamer afgevuur. Soos mej
Pretorius in haar getuienis dit gestel het: "Nadat mnr van Sittert drie keer in
die dak afgevuur het,
het hy vir my broer 'n kans gegee om ook in die dak een
keer af te skiet." Volgens die getuienis moes hierdie skietery na skatting
tussen 11 nm en 1 vm plaasgevind het. Die getuienis dui dus aan dat appellant
die aand altesaam bykans 'n bottel brandewyn gedrink
het en minstens een kan
bier. Hoewel enige tydsberekening slegs op skattings gegrond kan word, blyk dit
dat hy 'n aansienlike hoeveelheid
brandewyn uit die tweede bottel gedrink het,
op die uiterste slegs twee uur voordat hy die oorledene geskiet het.
Toe die twee polisiemanne op appellant afgekom
het
16/...
16. was hy, volgens sers Botha, nugter. Konst Maritz
sê egter dat hy gedrink maar nie dronk was nie. Mej Pretorius is nie oor
appellant se toestand uitgevra nie. Met verwysing na Van Sittert het sy
gesê: "Hy was wel baie gedrink." Alles dui daarop dat
hy 'n geharde
drinker was. Dit is derhalwe onwaarskynlik dat die drank vir appellant, wat
destyds een-en-twintig jaar oud was, minder
sou aangetas het. Volledigheidshalwe
verwys ek ook na appellant se getuienis in dié verband. Volgens hom was
hy "nogal heelwat
aangeklam gewees." En
hypothesi
kan min waarde aan
hierdie vae stelling geheg word.
Wat appellant se optrede betref, is dit wel so dat hy oor die nodige
behendigheid beskik het om die geweer twee keer te laai; om een
van sy menslike
teikens raak te skiet; om die aankoms van die voertuig van Maritz en Botha waar
te neem; en om daarop te reageer
deur vinnig weg te hardloop. Hierteenoor moet
die volgende feite egter in ag geneem word.
17/...
17.
Terwyl hulle in die huis gedrink het, het hulle -
skynbaar uitsluitlik om aan hul uitbundigheid uiting te gee - die vier gemelde
skote
deur die plafon van die kamer geskiet. Appellant het op 'n koue wintersnag
kaalvoet die huis verlaat om na die sakesentrum toe te
gaan. Daar wou hy twee
persone wat hy glad nie geken het nie om die lewe bring. Toe hy na sy huis
teruggebring is, het hy huilend
agter 'n rusbank van die polisie probeer
wegskuil hoewel dit juis hulle was wat hom na die huis geneem het. Die enigste
redelike
verduideliking is dat oormatige drankgebruik tot hierdie irrasionele
gedrag gelei het. Die geheelbeeld is een van iemand wat deur
drank in so 'n mate
aangetas was dat, om die woorde van Beyers RP weer aan te haal, "dit sy gewone
moraliteitsgevoel verstomp het;
dat dit die dissipline wat hy oor homself het
verbreek het;" en "dit vir hom moeiliker gemaak het om die drifte van die ondier
wat
daar dan in hom moet wees te beheer." Hierdie gevolgtrekking doen nie
afbreuk aan die erns van die misdaad nie, maar is wel 'n oorweging
wat die
Verhoorhof as versagtend
18/...
18.
moes aanvaar het. Die meerderheidsbeslissing moet bygevolg
omvergewerp word en die vonnis op die moordaanklag vervang word. By die
bepaling
van 'n gepaste straf moet die erns van die misdaad en die feit dat die
appellant, 'n eerste oortreder, 'n jong man is, veral
in ag geneem word.
Die appél slaag gedeeltelik. Die skuldigbevindings
op al vier aanklagte word bevestig. Die vonnis op die eerste
aanklag word
deur een van twaalf jaar gevangenisstraf vervang.
Die vonnisse op die verdere
aanklagte word bekragtig met die
voorbehoud dat hulle met die tydperk van
gevangenis op die
eerste aanklag moet saamloop.
M É KUMLEBEN APPéLREGTER
RABIE
WHR)
- stem saam BOTHA AR)