About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1989
>>
[1989] ZASCA 103
|
|
S v Ngubo (580/1988) [1989] ZASCA 103 (12 September 1989)
LL
Saak No
580/1988
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
APPèLAFDELING
In die saak tussen:
ANDREW NGUBO
Appellant
en
DIE STAAT
Respondent
CORAM
: BOTHA, EKSTEEN ARR et NICHOLAS
Wn AR
VERHOORDATUM
: 18 AUGUSTUS 1989
LEWERINGSDATUM
: 12
SEPTEMBER 1989
UITSPRAAK
BOTHA AR
:-
2.
Die appellant is deur VAN ZYL R en assessore in die Rondgaande Hof op
Potchefstroom skuldig bevind aan. moord. Die Verhoorhof het
bevind dat daar geen
versagtende omstandighede aanwesig was nie. Gevolglik is die appellant ter dood
veroordeel. Teen die doodvonnis
wat hom opgelê is, kom die appellant nou
in hoër beroep, met verlof wat verleen is uit hoofde van 'n versoekskrif
gerig
aan die HOOFREGTER.
Die appellant het die oorledene in die saak
doodgeskiet met 'n haelgeweer. Dit het gebeur gedurende die aand van 17 Julie
1987, in
'n woongebied in die omgewing van Vanderbijlpark. Die appellant was
destyds 'n 25-jarige spesiale konstabel in diens van die S-A
Polisie, maar ten
tyde van die gebeure was hy nie aan diens nie.
Volgens 'n ooggetuie van die
skietery wat namens die Staat getuig het, Shadrack Masike, het die oorledene en
sy meisie op 'n straathoek
staan en gesels toe die appellant op die toneel kom.
Die appellant
3. het 'n geweer in sy hande gehou, wat gerig was op die
oorledene, en nader aan die oorledene gestap. Die oorledene het bekendgestaan
onder die bynaam "Killer". Terwyl die appellant na hom gestap het, het hy aan
die oorledene gesê: "Killer, kom hierso". Die
oorledene se meisie het
weggehardloop. Die oorledene het.geen wapen by hom gehad nie en het met sy arms
langs sy sye gestaan. Terwyl
die appellant nog aangestap kom na die oorledene,
met sy arms en die geweer voor hom uitgestrek, het die oorledene geskreeu: "Keer
daardie man dat hy my nie skiet nie". Óp 'n afstand van 5 tot 7 meter van
die oorledene het die appellant die geweer afgevuur.
Die oorledene is getref en
het geval. Die appellant het by hom gaan staan, met die geweer se loop na onder
toe. Masike het op die
appellant gevloek, en die appellant het op hom
teruggevloek. Masike het die toneel verlaat om die gebeure te gaan rapporteer.
Die
skoot wat die appellant op die oorledene afgevuur het, het laasgenoemde se
dood veroorsaak.
4.
Die appellant het in sy getuienis 'n ander weergawe van die skietvoorval
gegee. Volgens sy weergawe het die oorledene 'n wapen by
hom gehad, wat die
appellant op verskillende, botsende maniere beskryf het, en het die oorledene
gedreig om hóm daarmee aan
te val. Die appellant se verweer was dus dat
hy in noodweer opgetree het toe hy die oorledene geskiet het. Die appellant se
relaas
van die gebeure, wat hy in sy getuienis verskaf het, was in verskeie
fundamentele opsigte in stryd met 'n verklaring wat hy kort
na die voorval aan
die polisie afgelê het, en het ook inherente ernstige weersprekings bevat.
Dit is onnodig om op enige besonderhede
in te gaan. Die Ver-hoorregter het in sy
uitspraak op die skuldigbevinding die appellant as 'n "deurtrapte leuenaar"
bestempel, en
'n bestudering van die oorkonde toon aan dat hierdie beskrywing
van die appellant as 'n getuie ten volle geregverdig was. Die Verhoorhof
het
Masike se getuienis aanvaar, en daarmee kan geen fout gevind word
5. nie.
Die ondersoek na die bestaan al dan nie van versagtende
omstandighede is gevolglik beperk tot gebeurtenisse wat plaasgevind het
vóór
die skietery van die oorledene. Dit blyk uit die
gétuienis dat die oorledene en die appellant vroeër in die aand
albei
aanwesig was by 'n partytjie (in die getuienis genoem 'n
"stokvel") by
die huis van ene Elmon Sibisi. Daar het
'n bakleiery tussen die oorledene en
die appellant plaasgevind. Sibisi, 'n Staatsgetuie, het getuig dat hy in die
kombuis was toe
hy 'n lawaai in die eetkamer gehoor het. Hy het gaan ondersoek
instel en gevind dat die oorledene en die appellant met mekaar handgemeen
geraak
het; hulle het mekaar in 'n greep gehad en was besig om te baklei. Sibisi het
hulle uitmekaar gemaak, uit sy huis uit gesit
en die deur toegesluit.
Volgens die appellant was dit die oorledene en sy makkers wat die bakleiery
in Sibisi se huis aan
6. die gang gesit het deur hom aan te rand met 'n
bottel, vuishoue en skoppe. Die appellant sê voorts dat hy van. Sibisi se
huis na sy eie huis teruggegaan het. Daar aangekom, het hy aan sy ma vertel wat
gebeur het. Terwyl hy met haar gepraat het, het hy
die oorledene en sy makkers
buite sy huis hoor praat. Die oorledene het onder meer gedreig om die appellant
se huis met klippe te
bestook en dit aan die brand te steek, en te kenne gegee
dat hy nie bang is vir die appellant se "voëltjie-geweer" nie. Daarop
het
die appellant sy haelgeweer geneem en na buite gegaan met die doel, sê hy,
om die oorledene en sy metgeselle te arresteer.
Die oorledene se makkers het
gevlug, maar die oorledene het bly staan. Toe hy nader beweeg aan die oorledene,
het laasgenoemde agteruit
gehardloop en die appellant het hom agternagesit. Wat
daarna gebeur het, volgens die appellant se relaas, was dit wat sy verweer
van
noodweer uitgemaak het. Soos reeds aangedui, is daardie deel van die appellant
se getuienis tereg deur
7. die Verhoorhof as vals verwerp en dus moet dit
buite beskouing gelaat word.
Met betrekking tot versagtende omstandighede is daar namens die appellant in
hierdie Hof betoog dat die appellant as gevolg van provokasie
die oorledene
geskiet het. Dieselfde betoog is in die Hof
a quo
geopper, waar dit
verwerp is. Die Verhoorregter het in sy uitspraak op hierdie aspek van die saak
gesê dat die appellant voldoende
geleentheid gehad het om af te koel na
die bakleiery by Sibisi se huis, en die Verhoorhof se bevinding was dat die
appellant se optrede
deur die oorledene te agtervolg en dood te skiet nie 'n
spontane of impulsiewe handeling was wat in provokasie uitgevoer was nie;
dit
was klaarblyklik berekend, soos blyk uit die feit dat hy deurgaans in gedagte
gehad het dat hy die oorledene wou arresteer.
Voor hierdie Hof was die betoog
dat die Verhoorhof gefouteer het in sy bevinding aangaande die afwesigheid van
versagtende omstandighede.
Die betoog
8. was hoofsaaklik gebaseer op die
getuienis wat die appellant afgelê het nadat hy skuldig bevind was aan
moord en die Verhoorhof
besig was met die ondersoek na die bestaan al dan nie
van versagtende omstandighede. In daardie getuienis het die appellant gesê
dat, toe hy aangerand was in Sibisi se huis, hy kwaad geword het en hartseer
was; en verder dat, toe die oorledene en sy makkers
hom buitekant sy eie huis
gedreig het, hy gevoel het dat die mense hom minag en uittart, en dat hy toe
kwaad was. Hy het bygevoeg
dat, as hy nie kwaad was nie, hy nie so sou opgetree
het soos hy wel opgetree het nie.
Uit die Verhoorregter se uitspraak blyk dit
dat die Verhoorhof wel die appellant se getuienis dat hy kwaad was in aanmerking
geneem
het, alhoewel daar geen kommentaar spesifiek daaroor gelewer is in die
uitspraak nie. Na my oordeel is die appellant se getuienis
dat hy kwaad was in
ooreenstemming met die inherente waarskynlikhede wat voortspruit uit die
9.
gebeure by die stokvel en by die appellant se huis (in die veronderstelling dat
die appellant se getuienis in dié opsig
aanvaar word). Terselfdertyd is
ek van oordeel dat die feit dat die appellant kwaad was nie die bevinding van
die Verhoorhof, soos
hierbo vermeld, aanvegbaar maak nie. Die woede van die
appellant, op sigself staande, maak nog nie sy optrede moreel minder verwytbaar
in die samehang van versagtende omstandighde nie. Die kardinale vraag wat gestel
moet word, is die volgende: watter uitwerking het
sy woede op die appellant se
gemoedstoestand gehad? As dit veroorsaak het dat die appellant se selfbeheer
daardeur afgetakel of verminder
was, sou daar iets gesteek het in die betoog
namens die appellant. Daarteenoor, as die appellant se woede daartoe gelei het
dat hy
'n koel en oorwoë besluit geneem het om die oorledene te gaan
doodskiet net om die oorhand oor hom te kry, of hom op sy plek
te.sit, sou daar
nie, in die omstandighede van hierdie saak, ruimte wees vir 'n bevinding van
10. verminderde morele verwytbaarheid aan sy kant nie.
Die appellant se
eie getuienis openbaar nie watter uitwerking sy woede op sy gemoedstoestand
gehad het nie. Van die antwoorde wat
hy op vrae tydens kruisverhoor gegee het,
blyk dit dat hy self nie beweer dat sy selfbeheersing aangetas was nie. Op vrae
aangaande
wat in sy gedagte omgegaan het toe hy die geweer geneem het en die
oorledene agternagesit het, het hy herhaaldelik en uitdruklik
verklaar dat sy
enigste gedagte was om "die mense" te arresteer. Hy het ook onomwonde
bevestigend geantwoord op die volgende vraag:
"U het baie berekend op die
oorledene af gestap en hom gaan arresteer, dit was u enigste oorweging?". In
herverhoor het hy bevestig
dat hy in staat was om 'n berekende besluit te neem.
Hierdie getuienis van die appellant kan geen grondslag vorm vir 'n bevinding
van
verminderde morele verwytbaarheid aan sy kant nie. Die wyse waarop hy die
oorledene geskiet het, soos getuig deur Masike en soos
aanvaar deur die
11.
Verhoorhof, is geheel onversoenbaar met die gedagte dat die appellant die
oorledene wou arresteer. Sy stelling dat hy nie sou opgetree
het soos hy het nie
as hy nie kwaad was nie, kan dus ook nie sy saak bevorder nie. Dit negeer
geensins die moontlikheid dat hy die
oorledene berekend en koelbloedig wou
vergeld vir sy optrede teenoor hom nie.
Buitekant die appellant se eie
getuienis is daar geen feite in die oorkonde wat 'n bevinding van versagtende
omstandighede kan regverdig
nie. Dit is wel moontlik, selfs waarskynlik, dat die
appellant, vanwee die leuenagtigheid van sy getuienis oor hoe die skietery self
plaasgevind het, selfs na sy skuldig-bevinding steeds nie die Verhoorhof in sy
vertroue geneem het aangaande sy gemoedstoestand ten
tyde van die moord nie.
Daaraan kan die Hof egter niks doen nie; dit is 'n aangeleentheid wat slegs die
uitvoerende gesag verder
kan ondersoek en oorweeg.
Die resultaat is dat daar geen gronde is
12.
waarop hierdie Hof kan ingryp in die bevinding van die Verhoorhof aangaande
die afwesigheid van versagtende omstandighede nie.
Die appèl word van die hand gewys.
A.S. BOTHA AR
EKSTEEN AR
STEM SAAM
NICHOLAS Wn AR