S v Goosen (94/1989) [1989] ZASCA 95 (5 September 1989)

82 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Murder — Dolus eventualis — Appellant convicted of murder and sentenced to death after pleading guilty — Appellant's claim of not foreseeing death of victim contradicted by prior statements — New evidence presented post-conviction suggesting potential misrepresentation by legal counsel — Court held that the appellant's initial plea and statements were binding, and the new evidence did not sufficiently alter the original findings regarding intent and foreseeability of death — Appeal dismissed.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1989
>>
[1989] ZASCA 95
|

|

S v Goosen (94/1989) [1989] ZASCA 95 (5 September 1989)

LL
Saak No 94/1989
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPèLAFDELING
Insake die appèl van:
MACHIEL ADRIAAN GOOSEN
Appellant
teen
DIE
STAAT
Respondent
CORAM
: VAN HEERDEN, NESTADT et KUMLEBEN ARR
VERHOORDATUM
: 17 AUGUSTUS 1989
LEWERINGSDATUM
: 5 SEPTEMBER
1989
UITSPRAAK
VAN HEERDEN AR
:
2.
Op 'n vorige geleentheid het 'n appèl van die appellant teen die
doodvonnis wat hom opgelê is na sy skuldigbevinding
aan moord, voor
hierdie hof gedien. Destyds is geen bevel ten aansien van die appèl as
sodanig gemaak nie. Wel is die aangeleentheid
terugverwys na die hof a
quo
om opnuut 'n aansoek van die appellant ingevolge art 316 (3) van die
Strafproseswet (51 van 1977) te oorweeg. Die uitspraak is gerapporteer:
S v
Goosen
1988 (4) SA 5.
Dit is gevolglik onnodig om weer eens die feitlike
agtergrond van die vorige appèl in besonderhede uiteen te sit. Ek vermeld
dus slegs die volgende hooftrekke.
Die appellant en vier mede-beskuldigdes is
in die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling aangekla van o a moord en roof. Die
appellant
het op al die aanklagte skuldig gepleit en ook deur sy advokaat 'n
verklaring ingedien. Daarin het hy onder meer erken dat die oorledene
gedurende
'n rooftog verwond is deur 'n koeël afgevuur uit 'n vuurwapen ('n
handkarabyn) wat deur een
3. van sy mede-beskuldigdes hanteer was. Hy het ook
erken dat hy die dood van die oorledene as 'n moontlikheid voorsien het en dat
hy
dolus eventualis
ten aansien van daardie gevolg gehad het. Die ander
beskuldigdes het op al die aanklagte onskuldig gepleit en 'n bevel is toe
verleen
waarvolgens 'n skeiding van verhore gelas is. By die voortsetting van
die appellant se verhoor het die Staat twee getuies geroep
waarna die saak van
beide die Staat en die appellant gesluit is. Nadat hy op o a die moord- en
roofklag skuldig bevind is, het die
appellant wel ter versagting getuig. Die
verhoorhof (VERMOOTEN WR en assessore) het egter die appellant se weergawe,
insoverre dit
verontskuldigend van aard was, verwerp en bevind dat geen
versagtende omstandighede ten opsigte van die moordklag aanwesig was nie.
Gevolglik is die appellant op daardie aanklag ter dood veroordeel.
Die appellant se mede-beskuldigdes is deur McCREATH R en assessore verhoor.
Al vier is op die
4. moordklag skuldig bevind maar, anders as in die
appellant se geval, is gekonkludeer dat daar wel versagtende omstandighede was.
Een van die vier, Mazibuko, was die persoon wat die karabyn hanteer het toe die
oorledene noodlottiglik deur skote daaruit verwond
is. (Die omstandighede wat
tot die mede-beskuldigdes se skuldigbevindings en vonnisse op die moordklag
gelei het, word uiteengesit
in die uitspraak van hierdie hof in
S v Mazibuko
and Others
1988 (3) SA 190.)
Nadat uitspraak in die appellant se vorige
appèl gegee is, het sy aansoek ingevolge art 316 (3) van die
Strafproseswet weer
eens voor VERMOOTEN WR gedien. Die appellant het toe egter
ook aansoek gedoen om verlof om teen sy skuldigbevinding op die moordklag
te
appelleer en om kondonasie van sy versuim om betyds die aansoek om sodanige
verlof aanhangig te maak. Die aansoek om kondonasie
is toegestaan en,
ooreenkomstig bede 3 (1) van die appellant se
5. oorspronklike aansoek om
nuwe getuienis aan te bied, is verlof aan die appellant verleen om die getuienis
van ene Lowe en van twee
van sy voormalige mede-beskuldigdes, Mazibuko en
Tlapane, te lei en om self opnuut te getuig.
Ingevolge hierdie bevel het die
appellant, Lowe, Mazibuko en Tlapane toe voor VERMOOTEN WR getuienis
afgelê. Hulle is kruisondervra
deur die Staat wat ook enkele formele
getuies geroep het en kragtens die Strafproseswet sekere dokumente ingehandig
het. Na aanhoor
van al die getuienis het VERMOOTEN WR aan die appellant verlof
verleen om teen sy skuldigbevinding sowel as sy vonnis op die moordklag
te
appelleer. Vandaar die onderhawige appèl.
Volledigheidshalwe dien
gemeld te word dat nadat hierdie hof in
S v Mazibuko and Others
,
supra
, uitspraak gegee het, die saak teen die vier mede-beskuldigdes voor
McCREATH R en assessore heropen is. Mazibuko het toe getuig dat
die karabyn as't
ware per
6.
ongeluk afgevuur is. Die resultaat was dat in 'n ongerapporteerde uitspraak,
gedateer 10 Augustus 1988, al vier onskuldig aan moord
bevind is. Omdat Mazibuko
egter na die hof se mening nalatiglik die oorledene se dood veroorsaak het, is
hy op die moordklag aan
strafbare manslag skuldig bevind en gevonnis tot 6 jaar
gevangenisstraf.
Die bra eienaardige resultaat is dus dat waar vyf persone
gesamentlik 'n gewapende roof beplan en uitgevoer het, in die loop waarvan
die
oorledene doodgeskiet is, drie (een waarvan net soos die appellant op die toneel
was) geen aanspreeklikheid op die moordklag
opgeloop het nie; 'n vierde,
Mazibuko, wat die karabyn hanteer het toe die oorledene geskiet is, aan
strafbare manslag skuldig bevind
is, terwyl die appellant, wat fisies minder as
Mazibuko tot die sterfte bygedra het, nie net aan moord skuldig bevind is nie
maar
ook ter dood veroordeel is. Vanself-sprekend moet die huidige appèl
egter besleg word slegs
7.
met verwysing na die oorkonde wat voor ons dien; d w s
die oorspronklike
oorkonde aangevul deur die nuwe
getuienis wat ingevolge art 316 (3) van
die
Strafproseswet deur VERMOOTEN WR ontvang is.
Die appellant se advokaat het in eerste
instansie betoog dat dit nou blyk dat die appellant
inderdaad nie die moontlikheid van die dood van die
oorledene voorsien het
nie. Hierdie betoog is
natuurlik nie te rym nie met die verklaring
wat
ingevolge art 112 (2) van die Strafproseswet by die
aanvang van die
verhoor namens die appellant ingedien
is, en die inhoud waarvan deur hom bevestig is. In
daardie verklaring het
hy o a gesê:
"Alhoewel ons ooreengekom het dat niemand sou skiet nie, het ek tog voorsien dat
geweld toegepas kon word indien die oorledene hom
sou teensit tydens die rooftog
... Deur my volharding met die rooftog na voorsiening dat geweld toegepas kon
word en dat oorledene
ernstig beseer kon word of selfs gedood kon wordf het ek
opgetree met
dolus
eventualis
."
Toe die appellant
ingevolge art 316 (3) van
8. die Strafproseswet opnuut getuig het, het hy aangevoer dat bostaande
gedeelte van sy verklaring onjuis is. Die rede waarom hy op
die moordklag
skuldig gepleit en die verklaring onderteken het, is soos volg deur hom
verduidelik.
Die advokaat wat destyds namens die appellant opgetree het, ene
Van Jaarsveld, het nooit met hom gekonsulteer nie voor die oggend
waarop die
verhoor 'n aanvang geneem het. Hy het vir Van Jaarsveld, wat later van die rol
geskrap is, vertel presies wat gebeur het.
Van Jaarsveld het hom blykbaar
geadviseer om op die moordklag skuldig te pleit, maar die appellant was nie
bereid om sulks te doen
nie. Van Jaarsveld se reaksie was dat indien die
appellant nie sou skuldig pleit nie, sy saak deur 'n
pro deo
advokaat
behartig sou moes word. Hy het verduidelik dat dit 'n advokaat is wat nog jonk
is en die reg nie "so goed" ken nie; daarenteen
was hy, Van Jaarsveld, 'n
"senior advokaat" met 'n grondige regskennis en wat geweet het wat hy
9.
doen. Hy het ook gesê dat indien die appellant nie sou skuldig pleit en
'n verklaring opgestel deur hom (Van Jaarsveld) sou
teken nie, hy die doodstraf
sou kry. Die appellant was toe verskrik en het besluit om hom deur Van Jaarsveld
te laat lei. So het
dit gebeur dat hy skuldig gepleit en die art 112 (2 )
verklaring geteken het.
Alvorens verdere aandag aan hierdie verduide-liking
gegee word, is dit dienstig om te let op getuienis van die appellant wat, indien
redelik moontlik waar, daarop kan dui dat hy ten tyde van die verwonding van die
oorledene nie die moontlikheid van sy dood voorsien
het nie. Toe hy opnuut
getuig het, het die appellant onder kruisverhoor weer eens getuie-nis gegee oor
die gebeure wat die skietvoorval
vooraf-gegaan het. Sy vorige getuienis
dienaangaande is by sy verhoor gegee ter bewys van versagtende omstan-dighede
nadat hy reeds
skuldig bevind was. (Wanneer ek voortaan na die appellant se
getuienis verwys, slaan
10. dit, tensy anders aangedui, op sy gekombineerde
weer-gawe.) Dié gedeelte van die appellant se getuienis wat tans ter sake
is, kan soos volg saamgevat word: Terwyl hy as bestuurder van die Cortina die
oorledene se voertuig (die Mercedes) agtervolg het,
het Mazibuko, wat voor langs
hom gesit het, die karabyn uit 'n rugsak gehaal. Hy het toe vir die eerste keer
opgemerk dat die magasyn
in die vuurwapen was. Hy het vir Mazibuko aangesê
om die stuurwiel vas te hou, wat laasgenoemde gedoen het, en terwyl die Cortina
voortgery het, het hy die karabyn "beveilig". Dit het hy gedoen deur die magasyn
uit te haal en die karabyn drie of vier keer "skoon"
te maak - blykbaar deur die
karabyn oor te haal om te verseker dat daar nie patrone in die kamer daar-van
was nie. Dit het die appellant
gedoen om 'n "skietongeluk" te voorkom. Op
daardie stadium was die Cortina ongeveer 500 meter vanaf die plek waar die
oor-ledene
later die skietwonde opgedoen het. Die appellant het toe die
ongelaaide karabyn en die magasyn
11.
aan Mazibuko teruggegee.
Die appellant het ook getuig dat een van sy
voormalige mede-beskuldigdes, Haynes, die ander vier samesweerders vooraf die
versekering
gegee het dat die oorledene nie tydens die voorgenome rooftog
aggressief sou optree nie. Haynes het verduidelik dat die oorledene
'n ou man
was en nie gewapen sou wees nie. Die doel van die saamneem van die karabyn, so
getuig die appellant, was dus slegs om die
oorledene die skrik op die lyf te
jaag sodat hy hom nie sou teensit of probeer wegjaag nie. Bowendien is beplan
dat Tlapane die oorledene
met 'n vuishou onskadelik sou stel.
Die eerste
vraag wat ontstaan, is of die appellant se weergawe dat hy die karabyn beveilig
het redelik moontlik waar is. Indien wel,
sou aangevoer kon word dat hy nie
daarna die moontlikheid voorsien het dat die oorledene deur skote uit die
karabyn getref sou kon
word nie.
Ongelukkig het VERMOOTEN WR nie kommentaar
12. gelewer op die geloofwaardigheid van die getuies, in-sluitende die
appellant, wat ingevolge art 316 (3) van die Strafproseswet
voor hom getuienis
gegee het nie (vgl
S v Tsawane and Another
1989 (1) SA 268
, 273 G-I). By
die verhoor het hy en sy assessore weliswaar die weergawe van die appellant
onder bespreking verwerp, en dit trouens
as 'n verdigsel bestempel, maar die hof
se siening was tot 'n groot mate gekleur deur die teenstry- digheid tussen
bedoelde weergawe
en die appellant se meermaal genoemde verklaring. Soos blyk
uit wat voor-heen gesê is, het die appellant toe hy opnuut getuig
het
egter 'n verduideliking aangebied waarom sy verklar-ing en sy getuienis nie met
mekaar gestrook het nie.
Dat die appellant wel terwyl hy die Cortina bestuur
het die karabyn van Mazibuko verkry het en iets daarmee gedoen het, word
bevestig
deur Tlapane (wat agter in die Cortina gesit het) en Mazibuko. Nie een
van die twee meld egter dat die appellant die magasyn uitgehaal
het nie.
Trouens, Mazibuko ontken dit.
13. Voordat die drietal in die Cortina die
Mercedes begin volg het, het hulle vir ongeveer vyf uur in die Cortina naby die
oorledene
se werksplek gesit. Die appellant was klaarblyklik bewus dat Mazibuko
in besit van die karabyn was en, indien hy dit wou beveilig,
sou 'n mens verwag
dat hy dit reeds op daardie stadium sou gedoen het. Volgens die appellant het hy
egter nie die karabyn hanteer
nie tot kort voordat die oorledene gekonfronteer
is en dit terwyl hy besig was om die Cortina te bestuur. Waarom hy tot op so 'n
laat stadium gewag het, verduidelik die appellant nie. Dit is gevolglik veel
aanneemliker dat op laasgenoemde tyd-stip hy die karabyn
wou oorhaal ten einde
te verseker dat, indien nodig, 'n skoot gevuur sou word by die trek van die
sneller daarvan. As dit sy oogmerk
was, kan 'n mens begryp waarom hy, met die
oog op die gevaar wat 'n gelaaide karabyn vir die insittendes van die Cortina
kon inhou,
as't ware tot op die laaste oomblik gewag het voordat hy die wapen
vuurgereed gemaak het.
14.
Indien die appellant se weergawe waar is, moes Mazibuko weer die magasyn
teruggeplaas en die karabyn oorgehaal het. Die appellant,
wat konstant vir
Mazibuko binne sy waarnemingsveld moes gehad het, getuig egter nie dat hy
Mazibuko so-iets sien doen het nie. (Laasgenoemde
ontken natuurlik dat die
magasyn ooit verwyder is.) Al wat die appellant aan die hand kon doen, is dat
Mazibuko "seker" die magasyn
terugge-plaas het toe hy - neffens die appellant -
uit die Cor-tina geklim het.
Die appellant het enkele dae na die roof 'n
verklaring aangaande die gebeurde aan 'n landdros ge-maak. Hy het op daardie
stadium geweet
dat 'n koeël uit die karabyn die oorledene se dood
veroorsaak het, en het in redelike detail vertel hoe die Cortina die Mercedes
gevolg het en uiteindelik skuins voor laasge-noemde voertuig gestop het, asook
wat op die toneel ge-beur het. As die appellant wel
die karabyn beveilig het,
sou 'n mens verwag dat hy dit as 'n duidelik
15.
verontskuldigende feit sou beskou het en derhalwe meld-
ing daarvan sou gemaak het. Tog rep hy nie in sy ver-
klaring 'n woord
daaroor nie.
Ek keer nou terug na die appellant se ver-
duideliking waarom hy skuldig gepleit en die art 112
(2) verklaring onderteken het. Indien ten gunste van
die appellant
veronderstel word dat die verduideliking
in sigself aanneemlik is, stuit hy voor 'n verdere pro-
bleem. Terwyl die
appellant ter versagting getuig
het, het VERMOOTEN WR 'n aantal vrae
aangaande die
inhoud van sy verklaring aan hom gestel. Hy het toe
die inhoud van o a
para 4 van sy verklaring beaam.
Dit lui soos volg:
"Alhoewel ek nie die vuurwapen self gevuur het nie, was ek bewus daarvan dat
beskuldigde nr 2 [Mazibuko] in besit van die vuurwapen
was en dat die vuurwapen
gelaai was."
Die appellant het ook
beaam dat hy volhard
het met die rooftog terwyl hy voorsien het dat die
oorledene ernstig
beseer of selfs gedood kon word.
16. Indien sy weergawe onder bespreking waar
is, sou die appellant na my mening op daardie stadium van sy verhoor gesê
het dat
sy verklaring nie in alle opsigte juis was nie, en in besonder getuig
het dat na die beweerde beveiliging van die karabyn hy inderdaad
tevrede was dat
dit
nie
gelaai was nie.
In die lig van die kumulatiewe effek van al
bostaande oorwegings is ek van mening dat die appellant se weergawe aangaande
beveiliging
van die karabyn so onwaarskynlik is dat dit nie redelik moontlik
waar is nie. Hy was derhalwe bewus dat Mazibuko die oorledene met
'n gelaaide
karabyn sou konfronteer.
Die appeliant se advokaat het op 'n verdere grond
betoog dat die appellant nie die dood van die oorledene as 'n moontlikheid
voorsien
het nie. Met 'n beroep op die voorheen genoemde versekering wat Haynes
aan sy mede-samesweerders gegee het, is naamlik aange-voer
dat die appellant nie
enige vorm van verset verwag het nie, en dat die moontlikheid dat Mazibuko na
die
17. oorledene sou skiet dus nie by die appellant opgekom het nie. Ek kan
nie akkoord gaan nie. Weliswaar staaf Tlapane en Mazibuko
(en indirek ook Lowe)
die ap-pellant aangaande bedoelde versekering, maar ten spyte daarvan het hy
sorg gedra dat Mazibuko op die
kritieke stadium in besit van 'n gelaaide
vuurwapen was. Die ap-pellant getuig dat die karabyn saamgeneem is om die
oorledene die
skrik op die lyf te jaag, en veral ten einde te verhinder dat hy
hom teensit of probeer weg-jaag. Hy verduidelik nie welke vorm van
verset hy in
gedagte gehad het nie, maar dit is slegs nodig om die tweede oogmerk te
benadruk. Wat duidelik is, is dat die appellant
voorsien het dat die oorledene
kon pro-beer wegjaag nadat die Cortina voor die Mercedes inge-sny het. Indien hy
gemeen het dat die
blote rig van die karabyn genoegsaam sou gewees het om
hierdie moont-likheid uit te skakel, sou hy nie sorg gedra het dat die karabyn
gelaai was nie. Hy moes dus voorsien het dat indien die oorledene sou probeer
wegkom, Mazibuko
18.
gebruik van die gelaaide karabyn kon maak. Bes moontlik het hy gehoop dat
Mazibuko in so 'n geval slegs 'n onskadelike waarskuwingskoot
sou skiet, maar na
my mening het hy inderdaad die redelike moontlikheid voorsien dat Mazibuko na of
in die rigting van die oorledene
kon skiet en hom dodelik kon tref.
Ten
slotte is betoog dat Mazibuko nie bewustelik die sneller van die karabyn getrek
het nie; dat die skote dus onopsetlik afgevuur
is, en dat die appellant nie
skuldig kan wees aan moord van die oorledene indien Mazibuko hoogstens
nalatiglik sy dood veroorsaak
het.
Toe Mazibuko ingevolge art 316 (3) van die
Strafproseswet getuienis gegee het, het hy ontken dat hy bewustelik geskiet het.
Sy weergawe
was soos volg. Toe die Mercedes by die stopteken stilhou, het die
Cortina skuins voor eersgenoemde voertuig ingesny en tot stilstand
gekom.
Mazibuko het die linker voor-deur van die Cortina oopgemaak, uitgeklim en
die
19. karabyn op die oorledene gerig. Hy (Mazibuko) was toe ongeveer 'n
meter vanaf die Mercedes. Tlapane het ook uitgeklim, na die
oorledene beweeg en
hom op sy kakebeen geslaan. Die oorledene se kop het na links beweeg en
onmiddellik daarna het die Mercedes vorentoe
begin beweeg. Die koers van die
Mercedes was reguit na Mazibuko wat nog steeds by die voordeur van die Cortina
gestaan het. Indien
hy op dieselfde plek bly staan het, sou die voorkant van die
Mercedes hom dus teen die Cortina vasgedruk het. Hy het gevolglik na
die
agterkant van die Cortina weggespring en op daardie oomblik het die karabyn
gevuur. Net daarna het die Mercedes met die Cortina
gebots.
'n Mate van
stawing vir Mazibuko se weergawe is te vind in getuienis wat by die appellant se
verhoor gegee is. Eerstens was daar getuienis
van 'n polisiebeampte aangaande
die posisie waarin hy die Mercedes na die voorval aangetref het. Daarvolgens is
dit duidelik dat
die Mercedes vorentoe beweeg het nadat
20. dit by die
stopteken tot stilstand gebring is. Tweedens het die appellant getuig dat hy 'n
skoot gehoor het waarna die Mercedes
met die Cortina se linker voordeur gebots
het. Hierdie getuienis het hy gegee voordat hy geweet het wat Mazibuko se latere
weergawe
sou wees.
Toe die appellant weer eens getuig het, het hy onder
kruisverhoor bevestig dat Mazibuko weggespring het toe die Mercedes vorentoe
beweeg het. Op daardie oomblik, sê hy, het 'n skoot afgegaan.
Gelykluidende getuienis is deur Tlapane gegee.
Laasgenoemde skep die indruk
dat hy die oor-ledene bewusteloos geslaan het. Die oorledene het egter nie
platgeval nie omdat die veiligheidsgordel
hom teengehou het. Die vraag ontstaan
dan hoe die bewus-telose oorledene die Mercedes vorentoe kon laat beweeg het.
Die respondent
se advokaat het egter tereg nie betwis dat die Mercedes wel
vorentoe beweeg het nie, en indien dit 'n outomatiese ratkas gehad het,
kon
die
21. volgende gebeur het. By die stopteken is die Mercedes in rat maar
druk die oorledene se voet op die rem-pedaal. Toe hy geslaan
word, val sy voet
weg van die pedaal en omdat die Mercedes in rat is, beweeg die voertuig
vorentoe.
Mazibuko se getuienis is in 'n aantal opsigte deur die respondent
se advokaat gekritiseer. Van sy veronstskuldigende bewerings is
dan ook, om die
minste te sê, onoortuigend; soos bv dat hy nie geweet het dat 'n mens die
karabyn se sneller moes trek ten
einde dit te laat vuur nie, en dat hy nooit
voorheen 'n vuurwapen gehanteer het nie. Sy getuienis oor waarheen die loop van
die karabyn
gewys het toe hy weggespring het, is ook sekerlik vir kritiek
vatbaar. My geheelindruk is egter dat Mazibuko, volgens sy weergawe,
geen benul
gehad het nie van die rigting van die loop van die karabyn op die oomblik toe
die noodlottige skote afgevuur is. Meer
bepaald is ek van mening dat getuienis
wat hy by sy eie verhoor gegee het en
22.
waarvolgens die oorledene nie getref kon gewees het indien sy beskrywing van
sy wegspring en die rigting van die loop van die karabyn
op daardie stadium juis
is nie, toegeskryf
kan
word aan verkeerde rekonstruksie. (h Afskrif van
die getuienis wat Mazibuko voor McCreath R en ássessore gegee het, is by
die art 316 (3) verrigtinge deur die Staat ingehandig.)
Wat wel aanvaar kan
word, is dat die Mercedes vorentoe beweeg het en Mazibuko sou getref het indien
hy nie weggespring het nie; dat
hy inderdaad weggespring het en dat die karabyn
so te sê op daardie oomblik gevuur het. Dit is natuurlik moontlik dat
Mazibuko
op daardie stadium opsetlik op die oorledene geskiet het omdat,
byvoorbeeld, hy gemeen het dat die oorledene wou wegjaag. Dit is
egter ook
moontlik dat, soos hy aanvoer, hy in die proses van wegspring onbewustelik die
sneller van die karabyn getrek het en dat
die skote die oorledene getref het
omdat die loop nog steeds na laasgenoemde gewys het. (Die karabyn
23.
is 'n outomatiese vuurwapen.) Soos reeds genoem, het VERMOOTEN WR nie
kommentaar op die "nuwe" getuienis ge-lewer nie, en by gebrek
aan ongunstige
geloofwaardig-heidsindrukke ten aansien van Mazibuko as getuie, kan ek nie sy
verontskuldigende weergawe as vals buite
re-delike twyfel verwerp nie. Dit volg
dus dat die al of nie aanspreeklikheid van die appellant op die moordklag besleg
moet word
op die aanvaarding dat Mazibuko die noodlottige skote onwillekeurig
afgevuur het.
Om redes wat sal blyk, moet nou nagegaan word of die appellant
voorsien het dat die oorledene as ge-volg van onwillekeurige optrede
van
Mazibuko kon sterf en, indien nie, of dit redelikerwyse voorsienbaar was dat die
oorledene se dood aldus veroorsaak kon word.
Soos stellig te verwagte was, is
daar geen direkte ge-tuienis oor wat die appellant inderdaad ten opsigte van so
'n moontlikheid
voorsien het nie. 'n Mens is dus daarop aangewese om deur middel
van afleiding te bepaal of die wyse van veroorsaking van die oorledene
se
dood
24. binne of buite sy voorstelling gelê het. Dit dien egter
beklemtoon te word dat die vraag wat ek tans on-dersoek nie is of
die appellant
die presiese omstandig-hede waaronder die karabyn gevuur het, voorsien het nie,
maar wel of hy hom 'n voorstelling
gemaak het dat een of ander onwillekeurige
handeling van Mazibuko tot die dood van die oorledene kon lei.
Wanneer 'n
booswig beplan om met behulp van 'n vuurwapen 'n slagoffer te konfronteer en hom
te beroof, voorsien hy in die reel die
moontlikheid van weerstand en daarom ook
van 'n worsteling. Enige "normale persoon" (per Rumpff AR in
S v Nkombani and
Another
1963 (4) SA 877
(A) 891) sou ook voorsien dat gedurende die loop van
so 'n worsteling daar 'n struweling om besit van die vuurwapen kon ontstaan.
Gebeur dit wel ten tyde van die rooftog en word die slagoffer noodlottig getref
as gevolg van bv die onwillekeurige afvuur van die
vuurwapen, sou dus
gekonkludeer
kon
word dat die booswig inderdaad die kousale verloop
voorsien het.
25.
In die huidige geval kan egter nie afgelei word dat die appellant 'n
struweling voorsien het nie. Hy het inderdaad geen fisiese teenstand
van die
oorledene verwag nie. Bowendien was dit nie te verwagte dat die oorledene ooit
in 'n posisie sou wees om die karabyn of Mazibuko
beet te kry nie. Die
moontlikheid dat as gevolg van 'n ander sameloop van omstandighede die karabyn
as't ware per ongeluk kon vuur
en die oorledene noodlottiglik kon verwond, het
natuurlik bestaan maar ek kan nie bevind dat die appellant, wat std 6 op skool
gedruip
het en wie se intelligensie klaarblyklik aan die lae kant is, inderdaad
so 'n moontlikheid voorsien het.
Terselfdertyd meen ek dat die moontlikheid
wel redelikerwyse voorsienbaar was. Om'n gelaaide automatiese wapen soos 'n
karabyn op
'n persoon te rig, is inherent gevaarlik en die ondervinding leer 'n
mens dat die toevallige dodelike verwonding van 'n persoon met
'n vuurwapen nie
iets heel seldsaams is nie. Dit
26. was nou juis beplan dat Mazibuko die
karabyn op die oorledene sou rig en 'n redelike persoon in die plek van die
appellant sou
dus rekening gehou het met die moontlikheid dat die oorledene
dodelik getref kon word deur 'n onwillekeurige afvuur van die karabyn
deur
Mazibuko.
Om nou my bevindinge tot op hierdie stadium op te som: Die
appellant het as redelike moontlikheid voorsien dat die oorledene tydens
die
rooftog noodlottig deur Mazibuko verwond kon word. Onverskillig teenoor die
intrede van dié gevolg het hy soos beplan
die Cortina voor die Mercedes
laat insny en aldus vir Mazibuko die geleentheid gebied om die karabyn op die
oorledene te rig. Wat
hy egter gekontempleer het, was die moontlikheid dat die
oorledene kon sterf vanweê die opsetlike afvuur van die karabyn deur
Mazibuko. Inderdaad het laasgenoemde deur onwillekeurige optrede die oorledene
gedood en was die kousale verloop, hoewel redelikerwyse
voorsienbaar.
27.
nie deur die appellant voorsien nie.
Vanwee hierdie bevindinge ontstaan
die volgende vraag in 'n geval waarin 'n dader se handeling 'n verbode gevolg
veroorsaak: Kan opset
aan die dader toegereken word indien hy die intrede van
die gevolg begeer of as 'n sekerheid of moontlikheid voorsien het (en, waar
nodig, aan addisionele opsetsvereistes voldoen het),
maar
hy nie die wyse
waarop die gevolg ingetree het begeer of voorsien het nie? Wat
dolus
eventualis
betref, is die kernvraag kortom die volgende: staan die
onvoorsiene wyse waarop 'n voorsiene gevolg gebeur het in die weg van 'n
konklusie dat die dader opsetlik die gevolg veroorsaak het?
Hierdie hof het al by geleentheid bevestig dat 'n dader opsetlik die dood van
'n slagoffer kan ver-oorsaak al het die presiese wyse
van doodsveroorsaking nie
binne sy voorstelling gelê nie. Sien bv
R v Lewis
1958 (3) SA 107
(A) 109; en
S v Msiza
1984 (2) PH H116
28.
(A). Sover ek kon nagaan, is dit egter nog nooit hier te lande bevind nie dat
opset teenwoordig is selfs in-dien die wyse waarop die
voorsiene gevolg ingetree
het radikaal van die voorsiene kousale verloop verskil.
Wat
dolus directus
betref, het die vraag of 'n sogenaamde dwaling
aangaande die kousale verloop regtens relevant is, in nog slegs een soort geval
ter
sprake gekom; nl 'n geval waarin A 'n handeling verrig met die opset om B te
dood; denkende dat hy sy doel bereik het 'n tweede handeling
verrig, en dit dan
blyk dat die dood van B ingetree het as gevolg van die tweede handeling. In
S
v Masilela and Another
1968 (2) SA 558
(A), is aangevoer dat A in so 'n
geval nie opsetlik die dood van B veroorsaak het nie omdat hy die
doodsveroorsakende handeling verrig
het toe hy verkeerdelik gemeen het dat B
reeds dood was en dus nie op daardie stadium beoog het om B om die lewe te bring
nie. Dié
betoog is deur hierdie hof verwerp.
29.
Ogilvie Thompson HR, met wie Potgieter AR, saamgestem
het, het nie
pertinent ingegaan op die vraag of 'n
onjuiste voorstelling van die kousale
ketting wat tot 'n
gevolg lei, opset al of nie kan uitsluit nie. Hy
was
naamlik van mening dat omdat die eerste handeling "a
directly
contributory cause" van die dood van B was en
gepaard gegaan het met 'n
oogmerk om B te dood, daar
wesentlik slegs een globale handeling was wat
die
begeerde gevolg meegebring het.
In 'n aparte uitspraak het Rumpff AR egter op
pp 573-4 die volgende gesê (die eerste handeling was 'n
aanranding
met die oogmerk om te dood; die tweede die
verbranding van die vermeende lyk):
"Na my mening is in die soort sake soos die onderhawige waar die dader en
niemand anders nie die dood veroorsaak, die dwaling van
die dader omtrent
presies hoe en wanneer die dood ingetree het nie 'n faktor waarop hy hom kan
verlaat nie. Indien die dader dink
dat sy slagof f er dood is, is daar m. i. wat
betref die oorspronklike opset van die dader en die uiteindelike gevolg van sy
handelinge
teenoor die slagoffer, geen wesenlike verskil nie tussen die
begrawing van die gedenkte lyk
30.
en die laat lê van die liggaam wat sterf sonder 'n
actus novus
interveniens
, behalwe dat dit a
fortiori
klaarblyklik meer funes is
om wat vermoedelik, en nie met sekerheid nie, 'n lyk is te begrawe as om dit te
laat lê. In beide
gevalle het die dader die dood gewil en veroorsaak. In
beide gevalle het hy in sy gedagte gedwaal oor die presiese wyse en tyd van
sterwe. Sy dwaling in elkeen van die genoemde gevalle oor presies wanneer en op
watter wyse, patologies beoordeel, die dood intree
is m.i. volkome irrelevant.
Om in die onderhawige saak die opset om die gedenkte lyk te verbrand te
introduseer is om
'n tussenbedryf te skep wat met die begin en die einde van die drama tussen die
daders en hulle slagoffer m.i. regtens niks te doen
het nie. En dit is m.i. van
toepassing of daar
'n sgn. voorbedagte rade was om te dood en te verbrand of dat daar alleen 'n
voorbedagte rade was om te dood en daarna 'n opset om
te verbrand. Volgens my
mening is daar geen verskil tussen die twee gevalle nie en kan daar nie 'n
verskil wees nie. In beide gevalle
sou daar 'n opset wees om 'n gedenkte lyk te
verbrand en is daar 'n
dwaling."
Opgelet sal word dat Rumpff
AR dit gehad het
oor 'n dwaling ten aansien van die
presiese
kousale
verloop en dan
ook slegs in bepaalde soort gevalle;
d w s gevalle waarin die dader die dood
van sy
slagoffer begeer en sy dwaling slegs betrekking het op
31. welke van
meerdere handelinge van hom doodsveroorsakend is. Die uitspraak van Rumpff AR
onderskraag dus nie
'n standpunt dat in alle gevalle 'n onjuiste
voorstelling van die kousale ketting irrelevant is nie.
In
S v
Daniëls en 'n Ander
1983 (3) SA 275
(A), het Jansen AR hom ook
uitgelaat oor die effek van
'n dwaling ten aansien van die kousale verloop.
In daardie saak het A die oorledene twee rugskote toegedien. Hy is egter ook
deur
'n derde skoot in die kop getref en dit was die onmiddellike oorsaak van sy
dood. Maar by ontstentenis van die derde skoot sou die
oorledene in elk geval
binne 'n half uur gesterf het indien hy nie mediese behandeling ontvang het
nie.
Die lede van hierdie hof het verskil oor die vraag of bewys is dat die
kopskoot toegedien was deur A (dan wel deur sy mede-beskuldigde,
B). Jansen AR
het bevind dat nie bewys is dat B die betrokke skoot afgevuur het nie. In die
veronderstelling dat B dit wel gedoen
het, was hy van mening dat A nog
steeds
32.
skuldig aan moord was, ongeag of A en B enige
gemeenskaplike oogmerk gehad
het. Wat die
skuldvereiste betref, het Jansen AR die volgende gesê
(op p 332G):
"Toe hy skiet [die rugskote], het die eerste appellant [A] die opset gehad om te
dood en die dood het ingetree: 'n dwaling omtrent
die kousale verloop kan hom
nie baat nie."
Met verwysing na
Masilela
het
Jansen AR ook gesê (op p 332 E) dat die grondslag van die aanspreeklikheid
van die daders in daardie saak die volgende
was: die aanranding was 'n
causa
sine qua non
van die dood van die oorledene; dit het met opset om te dood
geskied, en 'n dwaling aangaande die verdere kousale verloop wat tot
die dood
gelei het kon nie die daders van aanspreeklikheid onthef nie.
Hierdie
dicta
is vatbaar vir die vertolking dat na die oordeel van Jansen AR dit
altyd ontersaaklik is of die kousale verloop begeer of voorsien
is. Ek meen
egter nie dat dit inderdaad sy beskouing was nie.
33.
Al wat hy myns insiens te kenne wou gee, was dat in die lig van die
feitekomplekse in
Daniels
en
Masilela
'n dwaling van die daders
aangaande die kousale ketting hulle nie kon baat nie; anders gestel, dat die
betrokke dwalings nie opset
uitgesluit het nie.
In beide sake was daar
natuurlik 'n oogmerk om te dood. In 'n geval van
dolus directus
mag daar
in die reël "geen beleidsoorwegings bestaan" (per Jansen AR in
Daniëls
op p 333) om die dader nie aanspreeklik te hou vir
veroorsaking van die begeerde gevolg nie. Afhangende van die aard of omvang van
die verskil tussen die werklike en die gekontempleerde kousale verloop, mag daar
egter wel uitsonderings bestaan. Stof tot nadenke
word byvoorbeeld verskaf deur
die volgende voorbeeld gebruik deur Glanville Williams,
Criminal Law
, 2de
uitg, p 125. Met die opset om P te vermoor gee D aan hom 'n vergiftigde pil. Die
niksvermoedende P sluk die pil maar dit steek
vas in sy gorrelpyp. Hy sterf
gevolglik weens verstikking
34. voordat die gif enige uitwerking op sy gestel
het. Volgens die skrywer is D slegs skuldig aan poging tot moord.
Spesifiek
wat opset by moontlikheidsbewussyn betref, is dit nog nodig om te verwys na die
uitsprake in
S v Nkombani and Another
1963 (4) SA 877
(A). Vir sover die
feite van daardie saak tans van belang is, kan hulle in die volgende
vereenvoudigde vorm weergegee word. Hung
verskaf aan Stephen en Daniel gelaaide
pistole vir gebruik by die beroof van vulstasies. By so 'n stasie ontstaan 'n
stoeiery tussen
Stephen en Daniel, aan die een kant, en 'n petroljoggie, Alfred,
aan die ander kant. Gedurende die worsteling poog Stephen om Alfred
te skiet.
Met noodlottige gevolge tref die skoot egter vir Daniel.
In aparte uitsprake
beslis Rumpff AR en Holmes AR dat alhoewel dit Stephen se oogmerk was om Alfred
dood te maak hy die moontlikheid
voorsien het dat die skoot Daniel noodlottiglik
kon tref. Wat Hung
35.
betref, bevind Rumpff AR dat hy ook skuldig aan mdord is omdat hy bewus was
van die moontlikheid dat 'n slagoffer hom sou kon verset,
dat 'n worsteling kon
volg, en dat in die loop daarvan Daniel of Stephen skote kon vuur wat enigeen
betrokke by die worsteling kon
tref. Holmes AR bevind ook dat Hung bewus was van
die moontlikheid dat een van die twee gewapende rowers die ander kon doodskiet,
en wel omdat hy voorsien het dat 'n woeste skietgeveg kon plaasvind "in which
anybody present could be hit by either of the robbers"
(p 896).
In die lig
van bogenoemde bevindinge was daar natuurlik nie sprake van 'n beduidende
afwyking tussen Hung se voorstelling van die
kousale ketting en die daadwerklike
kousale verloop nie. Hoogstens kan gesê word dat Hung nie die presiese
omstandighede waaronder
Stephen die noodlottige skoot afgevuur het, voorsien het
nie. Wat hy egter wel gekontempleeir het, was die moontlikheid dat in die
loop
van die rooftog Stephen
36.
opsetlik 'n skoot kon vuur wat Daniel kon dood, en dit is presies wat gebeur
het. Dit is dan ook insiggewend dat Holmes AR op p 894
hom daarvan weerhou het
om 'n mening uit te spreek oor "what the legal consequences might have been if
the shot had been fired accidentally".
In 'n afwykende uitspraak het Steyn AR
bevind dat nie een van die appellante (Stephen en Hung) skuldig aan moord was
nie. Wat Hung
betref, was die Hoofregter van mening dat hy nie die moontlikheid
dat een van die rowers die ander kon doodskiet, voorsien het nie.
Wat wel deur
Steyn HR aanvaar is, is dat Hung bewus was van die moontlikheid dat ten tyde van
die rooftog of 'n daaropvolgende ontvlugting
die rowers kon skiet en dat 'n
werknemer by die vulstasie of 'n ander persoon binne die trefgebied noodlottig
verwond kon word. Indien
so 'n voorsiene moontlikheid werklikheid geword het,
sou dit Hung nie gebaat het hie, aldus die Hoofregter, dat hy nie kon voorsien
wie getref sou word
37.
nie. Maar, word op pp 883-4 gesê:
"Indien egter 'n noodlottige gevolg op 'n ander wyse sou ingetree het, dan sou
die vraag opnuut ontstaan of hy ook 'n gevolg van
daardie aard voorsien het.
Indien sy handlangers bv. na die roof, terwyl hulle besig is om te ontsnap, deur
'n ander se nalatigheid
in 'n botsing betrokke raak, met noodlottige gevolge vir
een van hulself of vir 'n verbygaande voetganger, sou dit nie volg dat ook
daardie ongeval hom as 'n
voorsiene moontlikheid toegereken moet word, slegs omdat hy moontlike doodslag
met 'n
vuurwapen by die vulstasie of die ontvlugting voorsien het nie. Sy opset sou dan
met inagneming van ander omstandighede beoordeel
moet
word."
Toegegee dat in hierdie
passasie nie
spesifiek ingegaan word op die vraag of opset ook op
die kousále
verloop gerig moet wees nie, bied dit na my
mening wel steun vir die
standpunt dat 'n verkeerde
voorstelling van die daadwerklike verloop nie
altyd
regtens irrelevant is nie. Volgens Steyn AR het Hung
immers die moontlikheid voorsien dat iemand, dus ook h
verbygaande voetganger, gedood kon word indien die
rowers, terwyl hulle agtervolging ontwyk, aan die skiet
38.
sou gaan. Indien die voetganger egter ten tyde van die ontvlugting op 'n
ander wyse gedood was, bv as gevolg van 'n botsing, sou vclgens
die Hoofregter
opnuut bepaal moes word of Hung ook hierdie wyse van doodsveroorsaking voorsien
het. En niks wat in die aangehaalde
passasie gesê is, is in stryd met
enige van die bevindings van Rumpff AR en Holmes AR nie.
Suid-Afrikaanse
skrywers oor die strafreg verskil van mekaar betreffende die vraag of opset
slegs op die ingetrede gevolg dan wel
ook op die wyse van veroorsaking daarvan
gerig moet wees. Aan die een kant leer skrywers soos Snyman,
Strafreq
,
2de uitg, pp 225-6, en De Wet en Swanepoel,
Strafreq
, 4de uitg, p 141,
dat indien 'n gevolg beoog of voorsien is 'n
afwyking van die voorsiene
kousale verloop nie ter sake is nie. Ander skrywers, soos Van Oosten, 1976 De
Jure 65 ev, en blykbaar ook
Du Plessis,
1989 TSAR 268
ev, huldig 'n ander
standpunt. Hulle meen naamlik dat 'n
onjuiste voorstelling van die kousale
verloop tot h
39. voorsiene gevolg opset
kan
uitsluit.
Snyman se
opvatting is dat 'n dader hom ter weerlegging van opset op 'n dwaling kan beroep
slegs as dit op 'n misdaadsvereiste betrekking
het. Omdat, aldus die skrywer,
die verbodsomskrywing van 'n materieel omskrewe misdaad soos moord nie vereis
dat die dood op 'n bepaalde
wyse veroorsaak moet word nie, het 'n dwaling ten
aansien van die kousale verloop nie betrekking op 'n misdaadsvereiste nie. Dit
is daarom genoegsaam indien die dader "voorsien dat sy handeling op 'n bepaalde
gevolg sal uitloop".
Na my mening is hierdie opvatting te beperk. Een van die
vereistes van 'n materieel omskrewe misdaad is
die veroorsaking
van 'n
verbode gevolg; in die geval van moord die veroorsaking van die dood van 'n
ander. 'n Verdere vereiste is dat die dader die
dood opsetlik moet veroorsaak.
'n Gevolg word egter nie op 'n abstrakte wyse veroorsaak nie en sy opset moet
dus gerig wees nie net
op die intrede van die gevolg nie
40.
maar ook op 'n konkrete kousale verband tussen sy handeling en die begeerde
of voorsiene gevolg. Die opsetsvereiste is gevolglik nie
bevredig nie indien die
gevolg intree op 'n wyse wat kardinaal verskil van die dader se voorstelling van
die kousale verloop. (Vgl
Jescheck,
Lehrbuch des Strafrechts
,
Allgemeiner Teil
, 3de uitg, p 250; Preisendanz,
Strafqesetzbuch
,
30ste uitg, p 94; Schonke-Schroder,
Strafgesetzsbuch
, p 340. Aan die
ander kant sou die opsetsvereiste 'n klug word indien 'n regstelsel 'n presiese
ooreenkoms tussen die gekontempleerde
en die daadwerklike kousale verloop
vereis. Ek sê so omdat dit dikwels gebeur dat die daadwerklike kousale
ketting afwyk van
die dader se voorstelling daarvan. Dit is veral die geval
indien die dader slegs die moontlikheid van die intrede van 'n gevolg voorsien.
In die reel is sy voorstelling van die kousale ketting wat tot die voorsiene
gevolg kan lei nie op besonderhede toegespits nie. Inderdaad
maak hy hom meestal
slegs 'n onvolkome voorstelling van
41. die kousale verloop. Daarom kan die
blote feit dat die daadwerklike kousale verloop nie presies met die dader se
voorstelling
daarvan ooreenkom nie, nie opset uitsluit nie.
Die vraag
ontstaan dan hoe die grens te trek is tussen afwykings wat opset uitsluit en
diê wat dit nie doen nie. In Duitsland
is die gangbare mening van die howe
en skrywers dat slegs 'n wesentlike afwyking opset weerlê. (Sien
bogenoemde bronne en ook
Van Oosten
,
1982 TSAR 81
e v.) Met so 'n
afwyking het 'n
mens te doen wanneer die daadwerklike kousale verloop tot so
'n mate van die gekontempleerde een verskil dat eersgenoemde nie redelikerwyse
onder die dader se voorstelling tuisgebring kan word nie.
Dit kom my voor dat
hierdie benadering met vrug in ons reg toegepas kan word. Dit is nie moeilik om
te dink aan gevalle waarin die
kousale verloop tot 'n
voorsiene gevolg tot so 'n mate van die gekontempleerde verloop verskil dat
'n mens se regsgevoel nie bevredig
42.
word nie deur 'n konklusie dat die dader opsetlik die gevolg veroorsaak het.
Veronderstel byvoorbeeld dat 'n
rower beplan om 'n kafeebaas te beroof. Hy
neem 'n
vuurwapen saam en, hoewel hy vuriglik hoop dat daar geen weerstand
sal wees nie, voorsien hy tog as redelike moontlikheid dat hy op
sy slagoffer
sal moet skiet en aldus laasgenoemde se dood kan veroorsaak. In die hoop dat die
kafeebaas goedskiks sy geld sal oorhandig,
hou hy die wapen in sy baadjiesak toe
hy eersgenoemde konfronteer en geld van hom eis. Op daardie oomblik gly sy voete
onder hom
uit en val hy op die vloer. Die gelaaide wapen vuur. Wonder bo wonder
word die kafeebaas noodlottig getref.
In die veronderstelling dat die rower nooit gedink het aan die moontlikheid
dat die kafeebaas per ongeluk gedood kon word nie, is
daar in die gepostuleerde
geval klaarblyklik 'n aanmerklike verskil tussen die daadwerklike kousale
verloop en die rower se voorstelling
van die wyse waarop die kafeebaas
gedood
43. kon word. Indien die rower nogtans skuldig aan moord is, sou hy
aanspreeklik gehou word op grond van 'n verwyt wat hom tref dat
hy in
abstracto
die dood van die kafeebaas gedurende die rooftog voorsien het,
al het die wyse van intrede van hierdie gevolg geheel en al buite
sy
voorstelling gelê. Dit sou daarop neerkom dat sy aanspreeklikheid geknoop
word aan 'n verwytbare gesindheid wat glad nie
met die daadwerklike gebeurde
verband gehou het nie.
De Wet en Swanepoel
,
op
.
cit
., p
141, se . beswaar teen die onderskeid wat o a deur Duitse skrywers getrek word,
is dat hulle geen duidelike antwoord gee op die
vraag "wat nou juis 'n wesenlike
afwyking is en wat nie". Dit kan toegegee word, en so ook dat regsekerheid sover
moontlik die formulering
van maklik hanteerbare kriteria vereis. In 'n
geesteswetenskap soos die regte is dit egter nie altyd moontlik nie, en 'n
begrip soos wesentlikheid is nie juis moeiliker hanteerbaar
as een soos
redelikheid nie.
44. Trouens, in die kontraktereg moet dikwels besleg word of
'n kontrakbreuk wesentlik is. Nietemin is dit te verwagte dat by die
toepassing
van die "wesenlike-afwyking"-kriterium mettertyd meer konkrete riglyne sal
uitkristalliseer, maar dit kan aan toekomstige
regsontwikkeling oorgelaat
word.
My slotsom is dus dat opset ontbreek indien die dader se voorstelling
van die kousale verloop wesentlik van die daadwerklike verloop
afwyk. Anders
gestel, moet opset by 'n gevolgsmisdaad daarop gerig wees om die gevolg teweeg
te bring op wesentlik dieselfde wyse
as waarop dit inderdaad veroorsaak is.
Omdat in gevalle van oogmerkopset die dader juis 'n
gevolg begeer en dit hom nie kan skeel hoe die gevolg intree nie, is dit te
verwagte dat 'n afwyking nie geredelik as wesentlik aangemerk
sal word nie.
Ek kom ten slotte by die vraag of die appellant se voorstelling van die
kousale verloop wat tot die oorledene se dood kon lei, wesentlik
afgewyk
45.
het van die konkrete kousale gebeure. Ek meen van ja. Die appellant het die
moontlikheid voorsien dat Mazibuko opsetlik op die
oorledene kon skiet en hom
aldus noodlottiglik kon verwond. Inderdaad het Mazibuko, soos hierbo aanvaar is,
onwillekeurig die sneller
van die karabyn getrek. Doodsveroorsaking deur
opsetlike optrede verskil klaarblyklik aanmerklik van sodanige veroorsaking as
gevolg
van onwillekeurige optrede, en indien op die totaliteit van die gebeurde
gelet word, was daar na my mening 'n wesentlike verskil
tussen die wyse van
veroorsaking van die oorledene se dood en die kousale verloop wat die appellant
as moontlikheid gekontempleer
het.
Die skuldigbevinding en vonnis van die
appellant op die moordklag moet dus ter syde gestel word. In die lig van die
beslissings van
hierdie hof in
S v Andrews en Andere
1980 (1) PH H25 (A),
en
S v Nkwenja en 'n Ander
1985 (2) SA 560
(A) 572-3, en my bevinding dat
die dood van die oorledene as gevolg van
46. die onwillekeurige afvuur van
die karabyn redelikerwyse voorsienbaar was, moes die appellant egter wel aan
strafbare manslag skuldig
bevind gewees het. Na my oordeel is 'n gepaste straf
een van 6 jaar gevangenisstraf. Beide advokate was dit tereg eens dat weens
oorwegings wat nie uitgestippel hoef te word nie, bedoelde straf moet saamloop
met die gevangenisstraf van 12 jaar wat die appellant
op die roofklag
opgelê is.
Gevolglik word die volgende bevele
gemaak:
1)
Die appèl slaag en die appellant se skuldigbevinding en vonnis
op die eerste aanklag (die moordklag) word tersyde
gestel.
2)
Ter vervanging van daardie
skuldig-bevinding en vonnis word 'n bevinding van skuldig aan strafbare manslag
en 'n vonnis van 6 jaar
gevangenis-straf
gesubstitueer.
3)
Dit word beveel dat die
vonnis op aanklag 1 saam moet loop met die termyn
van
47.
gevangenisstraf wat die appellant op aanklag 2 (die roofklag) opgelê
is.
H.J.O. VAN HEERDEN AR
NESTADT AR
STEM SAAM
KUMLEBEN AR