About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1989
>>
[1989] ZASCA 19
|
|
S v Tsibeb (337/88) [1989] ZASCA 19 (23 March 1989)
337/88
/mb
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
WILLEM TSIBEB
........ APPELLANT
en
DIE STAAT
RESPONDENT
CORAM:
JOUBERT, STEYN et KUMLEBEN ARR
VERHOORDATUM
:
3 MAART 1989
LEWERINGSDATUM
: 23 MAART 1989
UITSPRAAK
KUMLEBEN AR/
1.
KUMLEBEN AR
Die appellant het in die Hooggeregshof van Suidwes-Afrika op o.m. 'n
moordklag tereg gestaan. Op hierdie klagte het hy skuldig gepleit
en hy is, na
aanhoor van getuienis, aldus skuldig bevind. Die hof (Hendler R en twee
assessore) het bevind dat geen versagtende omstandighede
aanwesig was nie. Die
doodvonnis is gevolglik opgelê. Verlof is egter deur die verhoorhof
verleen om teen die bevinding en
vonnis na hierdie hof te appelleer.
Geen ooggetuie het die pleging van die moord
waargeneem nie. In sy ondervraging ingevolge art
112(l)(b) van diê Strafproseswet,51 van 1977, het appellant
sy weergawe daarvan geboekstaaf. Hy het erken dat hy
op Woensdag 25
Februarie 1987 vir die oorledene, Isak
Stefanus Gous, vermoor het. As pleitverduideliking het
2/...
2.
hy die verklaring wat hy voor die landdros tydens die
verrigtinge ingevolge art 119 van die genoemde Wet afgelê het, herhaal
en
bevestig. Daarin het hy sy optrede soos volg beskryf:
"Klaer, die oorledene, het my van die plaas af weggejaag en 'n geweer by hom
gehad. Ek het toe van die plaas af weggeloop en op 'n
buurplaas gaan bly. Ek is
op 'n Saterdag weggejaag. Die volgende Woensdag het ek weer teruggegaan na klaer
se plaas toe. Ek het toe
na die oorledene se huis toe gegaan. Die venster was
oop en ek het deur die venster geklim en die huis ingegaan. In die huis het
ek
die oorledene se .308-geweer gevat en weer deur die venster geklim. Ek het toe
die oorledene se hond doodgeskiet. Ek het toe die
oorledene ingewag. Hy was nie
daar gewees nie. Ongeveer twee-uur die namiddag het oorledene by die huis
opgedaag. Ek het agter die
gereedskapkamer weggekruip. Die oorledene het by 'n
eerste hek stilgehou en afgeklim en die hek oopgemaak en toe stap hy na die
tweede
hek toe. Terwyl hy na die tweede hek toe stap, het ek hom geskiet met 'n
308. Die oorledene het geval en weer opgestaan en toe stap
hy kar toe. Toe skiet
ek hom die tweede keer van agter af in die nek. Toe val hy. Nadat hy geval het,
het ek na die voertuig toe
gegaan en 'n .22-geweer in die voertuig gaan vat en
toe skiet ek hom weer met 'n .22-geweer een skoot in die kop. Op die kar se bak
was varkkos. Ek het dit afgelaai. Ek het die oorledene op die bak
3/...
3.
gelaai. Ek het in die kar geklim en gery en by 'n sekere kamp het ek die
oorledene afgelaai en met 'n mat toegemaak. Ek het toe in
diê voertuig
geklim en gery na Omatjene toe. Ek het die kar omgegooi. Ek het van die kar
afgeklim en wéggehardloop.
Ek het op die teerpad geloop en daar het
sersant Marais en 'n swart konstabel my gekry. Ek het gesê ek gaan Outjo
toe. Hulle
het my eers gelos. Die volgende dag het my oom my polisiestasie toe
gebring en ek is toe gearresteer."
Ondervraging ter
verduideliking van hierdie verklaring
het aangetoon dat hy die oorledene eers
in die rug en
nek met 'n .308 geweer, en daarna in die kop met 'n
.22
geweer, geskiet het. Hy het ook die volgende antwoorde
op vrae
verstrek:
"V. Het u die oorledene ingewag met die bedoeling om hom dood te maak, dood te
skiet?
A. Ja, ek wou hom doodskiet.
V. Was jy nugter gewees?
A. Ek was gedrink. Ek was nie so sterk onder die invloed van drank
nie.
V. Sal u sê u weet presies wat u gedoen het?
A. Ja, ek weet.
4/...
4.
V. Wat se drank gedrink?
A. 'n Nippie - Clubman. Ek het dit die oggend elfuur op die pad gedrink.
V. Was jy heeltyd wakker terwyl jy vir klaer gewag
het?
A. Ek was heeltyd wakker.
V. Hoekom die hond geskiet?
A. Hy is stout. Hy byt.
V. Het jy die betrokke dag enige rede gehad behalwe dat hy jou weggejaag het van
die plaas om die oorledene te skiet?
A. Ek het geen rede gehad nie."
Na sy skuldigbevinding het
appellant vir die eerste keer die getuiebank betree. Hy het sy lewensverhaal van
kindsbeen af geskets,
asook sekere gebeure wat die skietaanval op die oorledene
voorafgegaan het. Twee deskundiges het ook omtrent versagting getuig: dr
Raath,
'n kliniese sielkundige, namens die appellant; en prof Janse van Rensburg,
'n
5/...
5. psigiater, verbdnde aan die mediese fakulteit van die
Universiteit van die Oranje Vrystaat, namens die Staat.
Die hof het in sy uitspraak alle faktore wat moontlik as versagting kon dien,
oorweeg.
Daar is tereg bevind dat drank geen noemenswaardige rol gespeel het nie. In
sy getuienis het appellant bevestig wat hy reeds voor
die landdros verklaar het:
dat hy die Saterdag wel geweet het wat hy aanvang. Hy het getuig dat hy daardie
oggend slegs 'n kwart
bottel ligte wyn uitgedrink het. Sy optrede dui ook heel
duidelik aan dat drank nie sy geestesgesteldheid kon aangetas het nie.
Die hof het probeer vasstel waarom
appellant die moord gepleeg het. Hy het getuig dat die
oorledene hom van
sy plaas sonder om sy loon aan hom te
6/...
6.
betaal, weggejaag het. Hieroor het hy hom vererg en, soos afgelei word,
uit weerwraak die oorledene om die lewe gebring. In sy uitspraak
het die hof
appellant se getuienis nie geheel en al verwerp nie en ook nie bevind dat wraak
inderdaad sy beweegrede was nie. In dié
verband is in die uitspraak
gesê dat "die beskuldigde het ons op die geheel nie beïndruk as 'n
persoon wat die hof in
sy volle vertroue wil neem nie". Maar die hof het as 'n
bewese f eit ten gunste van appellant aanvaar dat hy wel ontslaan is sonder
om
sy salaris te ontvang. Appellant se relaas oor hoe en waarom hy die plaas
ontruim het, is teenstrydig. Op die Saterdag, aldus
sy hoofgetuienis,
terwyl
hy aan die oprigting van 'n wingerd gewerk het, het
oorledene, wat onder die invloed van drank was, hom
sonder enige rede gelas om sy goed te vat en te trap.
Hy het aan die bevel
gehoor gegee en na sy hut op die
plaas gegaan om sy besittings te gaan haal.
Toe hy uit
7/...
7. sy huis kom, het die oorledene vier keer op hom met
'n
geweer geskiet. Tydens kruisondervraging het hy 'n ander verhaal vertel. Hy
het gesê dat 'n derde persoon, Oscar Uirab, die
Saterdagoggend ook
teenwoordig was.
Hulle twee het gestry en baklei oor 'n fiets.
Appellant het vir Oscar geslaan. Die oorledene het
tussenby getree. Hy het 'n seekoeisambok gehad en wou
hulle slaan. Dit is
aan appellant gestel dat hy toe sy
werkgewer met klippe wou bestook. (Hy het
dit deels
erken deur te beweer dat dit miskoeke was waarmee hy
die
oorledene gedreig het.) Dit het daartoe gelei dat
die oorledene sy geweer
gaan haal het. Toe hy op hulle
skiet, het hy en Oscar saam weggehardloop. Tydens
kruisondervraging oor wat later op die Woensdag gebeur
het, is appellant
gevra waarom hy nie die oorledene met
sy aankoms op die plaas versoek het om
sy lone aan hom
te betaal alvorens hy hom geskiet het nie. Sy antwoord
was dat hy geweet
het dat die oorledene 'n pistool
8/...
8.
besit. Ter antwoord van verdere vrae oor die pistool
wat
oorledene na bewering besit het, het hy valslik
verklaar dat hy dit gesien het toe oorledene die vorige
Saterdag dit gebruik het om op hulle te skiet.
Aangesien appellant
onbetroubare getuienis oor wat die
Saterdag gebeur het, afgelê het, kon sy beweegrede vir
die moord nie
met sekerheid bepaal word nie: dit was
skynbaar vergelding of roof of moontlik albei. Veral
inagnemende dat appellant die bewyslas dra om feite ter
versagting te
bewys, was die hof se benadering in dié
verband korrek en billik: soos
reeds genoem, het die
hof ten gunste van appellant aanvaar dat hy (vir
watter
rede ook al) van die plaas af weggejaag is sonder dat
hy sy salaris
ontvang het.
Die appellant was 22 jaar oud tydens die
pleging van die misdryf. Mnr Williams, wat namens die
appellant opgetree
het, het nie betoog dat appellant se
ouderdom
per se
as 'n versagtende
faktor behoort te
9/...
9.
geld nie. Hy het egter aangevoer dat appellant, weens sekere
persoonlikheidsgebreke, as onvolwasse beskou moet word en dat dié
feit as
'n versagtende faktor dien. Na oorweging van die getuienis van beide deskundiges
in die verband, het die hof die getuienis
van prof van Rensburg aanvaar. Sy
gevolgtrekkings word soos volg in die uitspraak opgesom:
"Professor van Rensburg bevind op al die getuienis en die inligting wat tot
sy beskikking was, dat die beskuldigde wel ten volle toerekeningsvatbaar
is, en
was tydens pleging van die misdaad. Maar hy gee toe dat daar is sekere
anti-sosiale neigings wat voorkom in die beskuldigde
se gedrag en dat sy
agtergrond hom tot 'n mate affekteer, maar waar dit kom by
toerekeningsvatbaarheid, het hy geen toegewings gemaak
nie."
10/...
10. Dat appellant toerekeningsvatbaar was, en bygevolg vir
die pleging van die misdaad aanspreeklik was, word geensins bevraagteken
nie.
Dit is egter geykte reg dat
verminderde
toerekeningsvatbaarheid,
afhangende van die aard en graad daarvan, wel 'n versagtende faktor mag wees. In
dié verband het
hierdie hof in
S v Sibiya
1984(1) S A (AD) 91 op
95 in fine - 96A daarop gewys dat:
"It need hardly be said the mere fact of the existence of some degree of mental
defect resulting in diminished responsibllity will
not in every case support a
conclusion that there are extenuating circumstances. A trial Court is likely to
find extenuating circumstances
only where the accused's mental defect appears to
be substantial and related to the commission of the murder in
question."
(Kyk ook
S v Pieterse
1982(3) S A 678 (AA)
688.)
Prof van Rensburg het toegegee dat appellant "sekere
anti-sosiale
tendense" openbaar het. Hy is nie gevra
om hierdie "tendense" noukeurig te
beskryf nie. Hoe
dit ook al sy, hy was bêslis van mening dat appellant
11/...
11.
ten tyde van die pleging van die moord volkome
toerekeningsvatbaar was. Die betoog voor ons namens appellant het hierdie
bevinding
aangeval. Mnr Williams het aan die hand gedoen dat die hof eerder die
getuienis van dr Raath oor toerekeningsvatbaarheid moes aanvaar
het.
Op 10 Maart het dr Raath 'n psigodiagnostiese onderhoud met appellant gehad
en het samesprekings met drie familielede gevoer. Hy het
ook sommige van
appellant se vorige werknemers per telefoon gespreek. Aan die einde van sy
skriftelike sielkundige verslag het hy
appellant se "emosionele onrypheid" en sy
toerekeningsvatbaarheid soos volg beskryf:
"Die somtotaal van gegewens dui op die definitiewe aanwesigheid van 'n
persoonlikheidsteurnis by die betrokkene. Persoonlikheidsteurnisse
in die
algemeen verwys na gedragsafwykendes wat 'n onvermoë toon om aan . te pas
binne die gemeenskapsverband. Meer spesifiek
kan die
12/...
12.
beskuldigde getipeer word as 'n mengbeeld van 'n antisosialel en eksplosiewe
persoonlikheid van wat deur Winokur en Crowe (1975) as
volg beskryf word.
'This term is reserved for individuals who are basically unsocialized and
whose behavior pattern brings them repeatedly in conflict
with society. They are
incapable of significant loyalty to individuals, groups or social values. They
are grossly selfish, callous,
irresponsible, impulsive and unable to feel guilt
or to learn from experience and punishment. Frustration tolerance is low. They
tend to blame others or of f er plausible rationalizations for their behavior' p
1287.
Die eksplosiewe persoonlikheid verwys veral ná 'n persoonlikheid met
tendense van irrasionele impulsiewe aggressiewe optredes.
Hulle wys verder
daarop dat:
'A large number of these patients had positive family histories for violence
and alcoholism, hyperactivity as children, poor impulse
control as adults,
leading to multiple social problems, and finally a high frequence of
electroencephalographic abnormalities.' p
(1287).
Dit is wanneer die beskuldigde se kliniese indrukke, geskiedenis ensomeer in
gedagte gehou word, duidelik dat alhoewel EEG afwykings
nie gereflekteer is nie,
hy inpas by 'n persoonlikheidsafwyking. Hierdie persoonlikheids-afwyking (veral
gesien in die sinnéloosheid
van die daad wat hy gepleeg het) het myns
insiens h
13/...
13.
primêre rol gespeel in die pleeg van die misdaad. Gevolglik word daar
gevoel dat hy as verminderd toerekeningsvatbaar beskou
moet word in sy
dade."
In sy getuienis het hy in alle wesentlike opsigte by
hierdie gevolgtrekkinge bly staan. Hy het veral klem gelê op appellant
se
gebrek aan oordeelsvermoë, sy impulsiewe gedrag en, soos hy dit gestel het,
sy "anti-sosiale eksplosiewe persoonlikheid".
Hierdie persoonlikheidsgebreke -
soos hy hulle beskou het - was na sy mening te wyte aan twee faktore: eerstens,
die feit dat appellant
vanuit sy tradisionele Damara kultuur na 'n Westerse
kultuur moes beweeg as gevolg waarvan hy nie die nodige aanpassings kon maak
nie; en tweedens, dat hy nie die voordeel van 'n bestendige familielewe gehad
het nie.
Na my mening was die hof ten volle geregtig
om die aanvaarbaarheid van dr Raath se getuienis te
14/...
14.
bevraagteken. Tydens die konsultasie het
appellant
voorvalle van irrasionele optrede deur hom beskryf. Dr
Raath het
die korrektheid van appellant se verklaring
oor hierdie gebeure aanvaar. Soos hy dit in sy verslag
gestel het: "Hy was
oënskynlik eerlik in sy
verbalisasies". Dr Raath se aanvanklike
diagnose, wat
in sy verslag verskyn en waarna ek reeds verwys het,
was grotendeels op
hierdie "verbalisasies" gegrond. So
bv. het hy sy irrasionele optrede aan 'n
persoonlikheidsgebrek toegeskryf. By die verhoor was
appellant se verhaal
aan dr Raath aan kruisondervraging
onderwerp. Dr Raath het die verhoor
bygewoon en na die
getuienis van appellant geluister. Daaruit het
dit
duidelik geblyk dat appellant 'n ongeloofwaardige
persoon is; dat hy
tydens sy konsultasie met Dr Raath
hom nie al die tersaaklike feite oor die
gebeure vertel
het nie; en dat sy getuienis onder kruisondervraging
sommige van die gebeure, waarop dr Raath vir sy
15/...
15. diagnose gesteun het, in 'n heel ander lig gestel het.
Appellant het erken dat sy emosionele en irrasionele optrede plaasgevind
het
terwyl hy erg besope was: dronkenskap, en nie 'n persoonlikheidsgebrek, was dus
die eenvoudige verduideliking vir sy bizarre
gedrag. Voorts het hy in sy
verklaring aan dr Raath beweer dat hy sonder enige rede of voorafgaande stryery
uit sy diens ontslaan
is. Wat hy gesê het, is soos volg in die verslag
genotuleer:
"Die beskuldigde was besig om pale te plant vir 'n druiwe prieël toe
oorledene by hom kom, en hom versoek om die 'plaas binne'
3 minute te verlaat.
Hy het na sy pondok gestap om sy klere te gaan haal. Terwyl hy ingepak
het„ het die oorledene aangestap
gekom met 'n vuurwapen. Hy het
weggehardloop en volgens hom is daar skote op hom gevuur. Hy het na 'n naburige
plaas gevlug."
Maar, soos reeds aangedui, het kruisondervraging
aan die lig gebring dat hierdie relaas onwaar was.
16/...
16. Toe dr Raath na appellant sy getuienis afgelê
het, het hy met sy vorige diagnose en menings volhard. Eers onder kruisverhoor
het hy toegegee dat hulle feilbaar mag wees. Sy getuienis in die verband lees
soos volg:
"Dokter, soos ek u verslag lees, u het grootliks staatgemaak op wat die
beskuldigde vir u vertel het. -- Née U Edele, ek het
ook in my verslag
verwys na verskillende mense wat ek gekonsulteer het in die verband. So ek het
nie grootliks staatgemaak op wat
hy vir my gesê het nie. Veral ten opsigte
van sy agtergrond. Natuurlikergewys ten opsigte van die gebeure daar het ek geen
ander mense gehad met wie ek kon praat oor wat daar gebeur het.
Maar ten opsigte van die gebeure moes u staatmaak op wat die beskuldigde vir u
vertel het. -- Dit is korrek.
S.A.:
Nou glo u die beskuldigde? U het nou met hom gesels, u het vandag
geluister hier in die Hof. Glo u hom? -- Daar is teenstrydighede
in wat hy vir
my gesê het en wat hy vir die Hof hier gesê het, so die
geloofwaardigheid van wat hy vir my gesê
het op daardie moment moet ek op
hierdie stadium in twyfel trek."
17/...
17. Appellant het onomwonde getuig dat hy erg onder die
invloed van drank was toe die gebeure plaasgevind het waarop dr Raath gesteun
het. Sy getuienis is tot dien effek:
"Kyk, jy het hier vir die Hof ook vanmore vertel dat jy het jouself probeer
ophang en met 'n mes gesteek en sulke goed. Is dit korrek
dat jy op al hierdie
gevalle toe jy jou nou self so wou beseer het, was jy dronk gewees? -- Ek was
dronk daardie tye.
Was dit die tye wat jy so twee of drie bottels Clubman uitgedrink het? -- Ek kan
nie sê toe ek daardie dinge aangevang het
hoeveel van die Clubman ek
gedrink het nie.
Maar was jy baie dronk gewees ? -- Ek was dronk.
Maar was jy baie dronk gewees of was jy so dronk dat jy nie weet hoe dronk jy
was nie? -- Ek was baie dronk; ek het ook nie geweet
wat ek doen nie.
Dit is nou in al die gevalle. Laat ons dit duidelik kry, al hierdie gevalle waar
jy jouself probeer beseer het, was jy so dronk dat
jy nie geweet het wat jy doen
nie, is dit jou antwoord? -- Dit is korrek."
In die lig van
hierdie getuienis sou verwag word dat dr
18/...
18.
Raath die gevolgtrekkinge in sy verslag sou heroorweeg. Aan
hierdie verwagting is nie voldoen nie. In plaas daarvan het hy vrae in
dié verband op 'n onbevredigende en ietwat ontwykende wyse beantwoord
soos blyk uit die volgende uittreksel uit sy getuienis:
"Het hy vir u gesê dat hy baie dronk was toe hy dit gedoen het? -- Nee U
Edele, hy het nie vir my gesê dat hy baie dronk
was nie; dat daar wel
gedrink was, dit kan ek aanvaar.
HOF:
Het hy drank geopper met u of nie, op daardie geleentheid dokter? --
U Edele, wat hy wel vir my gesê het, is dat hy by baie
geleenthede gedrink
het. Ek kan nie nou my her inner of hy spesifiek op daardie (tussenkoms)
U het nie melding daarvan gemaak nie? -- Ek het nie melding daarvan gemaak nie
want ek het dit nie as belangrik geag nie.
En hier in die hof was dit sterk gekoppel deur hom. -- Ja, maar dit was nie
tydens my (tussenkoms)
Dit was nie vir u .. (tussenkoms) -- Vir my was dat hier 'n uitermate hoe
drankmisbruik was nie.
S.A.
: Kyk, hier het hy vir u - hier het hy uitdruklik gesê in al
daardie gevalle was hy baie
19/...
19.
dronk gewees. Dit het hy nie vir u gesê nie. Is dit reg? -- Nee, hy het
dit nie vir my gesê nie."
En later, oor appellant se graad
van dronkenskap, het hy in antwoord op vrae deur een van die assessore soos volg
getuig:
"Dokter, net twee vrae. U maak melding daarvan dat die beskuldigde wel probeer
het om sy kind dood te maak, deur sy kop teen die
muur te stamp. -- dit is
korrek.
En dat hy homself gesteek het met 'n mes. -- Dit is korrek.
En ook met 'n draad - hy het gepoog om met 'n draad homself op te hang. -- Dit
is korrek.
Was dit iets baie belangrik in u bevinding die feit dat hy nou die dinge gedoen
het? -- Ja, ek dink dit het 'n groot rol gespeel
daar.
Sou u mening verander het as u geweet het toe, toe u die verslag opstel, dat hy
baie dronk was toe hy dit gedoen het? -- As hy geweldig
dronk was ten tye van
daardie gebeure sou my opinie moontlik anders gewees het, maar dit was nie die
indruk wat ek van enige van
die mense gekry het dat hy so dronk was of dat hy
papdronk was nie."
20/...
20.
Ten slotte, met verwysing na die getuienis van dr Raath, moet
daarop gewys word dat die pleging van die misdaad self nouliks as 'n
impulsiewe
daad beskou kan word. Dit was 'n beplande moord wat appellant koelbloediglik
uitgevoer het.
Daar bestaan dus m.i. grondige redes vir die aanvaarding van
die getuienis van prof van Rensburg bo dié van dr Raath oor appellant
se
toerekeningsvatbaarheid.
In
S v Ngoma,
1984(3) S A 666 (AD) 673 het Corbett A.R. daarop gewys
dat:
"The determination of the presence or absence of extenuating circumstances
involves a three-fold enquiry: (1) whether there were
at the time of the
commission of the crime facts or circumstances which could have influenced the
accused's state of mind or mental
faculties and could serve to constitute
extenuation; (2) whether such facts or circumstances, in their cumulative
effect, probably
did influence the accused's state of mind in doing what he did;
and (3) whether this inf luence was of such a nature as to reduce
the moral
blameworthiness of the accused in doing what
21/....
21.
he did. In deciding (3) the trial Court passes a moral
judgment."
In
S v McBride
, 1988(4) S A 10 (AD) het Corbett
A.R. die tersaaklikheid van die omstandighede van die moord self, veral met
verwysing na (3) hierbo,
bespreek en op bl. 24 die regsposisie soos volg
opgesom:
"I shall now endeavour to sum up the present state of the law on this aspect of
extenuating circumstances. The nature of the murder
(and here I would include
the identity of the deceased and the relationship, if any, between the accused
and the deceased) and the
manner of its commission are factors which, while they
cannot be regarded as
per se
excluding extenuation, are nevertheless
relevant to the general enquiry as to extenuation. They may be relevant to the
factual enquiry
as to whether an alleged extenuating circumstance in truth
existed or as to whether it actually influenced the accused; or they may
be
relevant as part of the web of circumstances associated with the crime which
must be considered by the Court when it passes its
moral judgment and decides
whether there exist circumstances which in the minds of reasonable men diminish
the accused's moral blameworthiness."
22/...
22.
Uit die uitspraak van die verhoorhof kan
nie
met duidelikheid vasgestel word of die hof pertinent
bogenoemde drieledige
ondersoek onderneem het nie en,
indien wel, op watter grondslag die hof besluit het dat
daar geen
versagtende omstandighede was nie. Wat
betref appellant se "anti-sosiale
neigings" het die
hof, op grond van prof vah Rensburg se getuienis,
bevind
dat hulle nie sy geestesgesteldheid kon
beinvloed het nie. Daarmee, soos
reeds gesê, vind ek
geen fout nie. Dit is egter onduidelik of die
ander
twee moontlike versagtende faktore - sy ouderdom en die
feit dat
appellant sonder betaling van salaris
weggejaag is - in aanmerking geneem is
al dan nie,
m.a.w. of bevind is dat hulle, of een van hulle,
waarskynlik
'n versagtende rol in sy besluit om die
misdaad te pleeg, gespeel het. Daar
is geen positiewe
bevinding in die verband nie. Wat wel gesê is, is
dat
"al die faktore wat kon dien as versagting" in ag ge-
23/...
23.
neem is en dat hierdie faktore teenoor die aard en erns van
die misdaad "opgeweeg" is. Daarvan lei ek af dat
hulle wel as versagtende
omstandighede beskou is tensy
"opweeg" ontoepaslik gebruik is. Hoe dit ook al
sy, ek is van mening dat hierdie twee faktore in die omstandighede van hierdie
geval
nie versagtend is nie, en dat die hof se bevinding korrek is.
Die appèl teen die doodvonnis word van die hand gewys.
M E KUMLEBEN APPèLREGTER
JOUBERT AR)
STEYN AR) - Stem saam