About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
>>
1996
>>
[1996] ZAWCHC 1
|
|
Bokomo v Standard Bank van SA Bpk [1996] ZAWCHC 1 (26 May 1996)
SAFLII
Note:
This
case was originally published by Juta and Company (Pty) Ltd. Juta
retains copyright as far as it subsists. An English
translation of
this case is available at:
http://saflii.org/za/other/ZAENGTR/1996/1.html
IN
DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(KAAPSE
PROVINSIALE AFDELING)
In
die saak tussen:
BOKOMO
APPELLANT
V
STANDARD
BANK VAN SA
BPK RESPONDENT
Parallel
citation:
1996 (4) SA 450
(C)
Coram:
van Zyl R, Blignaut Wn R
Heard:
May 17, 1996
Judgment:
May 26, 1996
UITSPRAAK
Case
Information
Appèl
teen 'n beslissing in tussenpleitverrigtinge in 'n landdroshof. Die
feite blyk uit die uitspraak.
W
P Coetzee namens die appellant.
P
F Cloete namens die respondent.
Cur
adv vult.
Postea
(Mei 22).
Judgment
Blignault
Wn R: Respondent het op 20 September 1994 'n aksie ingestel in die
Kaapse landdroshof teen Minas Minassian handeldrywend
as 'Rolo
Bakery' (hierna Minassian genoem) vir betaling van die bedrag van
R198 590,84 wat na bewering aan respondent verskuldig
was ingevolge
'n huurooreenkoms waarkragtens Minassian sekere toerusting van
respondent gehuur het. Op 5 Oktober 1994 het respondent
vonnis geneem
teen Minassian vir betaling van die bedrag van R115 359,80.
Respondent het dieselfde dag 'n lasbrief vir eksekusie
laat uitreik.
Ter uitvoering van die lasbrief het die balju op 11 Oktober 1994
beslag gelê op sekere toerusting van Minassian.
As
gevolg van 'n aanspraak wat appellant op die toerusting gemaak het,
is 'n tussenpleitgeding in die landdroshof aanhangig gemaak.
In terme
van die tussenpleitdagvaarding wat op 22 Februarie 1995 uitgereik is,
is respondent as eksekusieskuldeiser en appellant
as aanspraakmaker
opgeroep om appellant se aanspraak ten opsigte van die toerusting
waarop beslag gelê is en wat in bylae
'A' tot die dagvaarding
beskryf is, te laat beslis.
1996
(4) SA p453
BLIGNUAT
WN R
Appellant
het 'n beëdigde verklaring in terme van Reël 44(2)(c)
ingedien waarin Wesley Horstmann, appellant se verkoopbestuurder,
appellant se aanspraak as eienaar van die toerusting gemotiveer het.
Die aanspraak berus daarop dat appellant die goedere by Minassian
gekoop het en as gevolg daarvan eiendomsreg daarin verkry het.
Horstmann beweer verder dat hy en appellant onbewus was daarvan
dat
daar 'n spesiale notariële verband ten gunste van respondent oor
die toerusting geregistreer was.
Dit
blyk uit appellant se beëdigde verklaring dat appellant aanvaar
het dat respondent se aanspraak op die toerusting nie net
op sy regte
as eksekusieskuldeiser berus het nie, maar ook op sy regte uit hoofde
van die spesiale notariële verband. Die
verdere verrigtinge is
dan ook op daardie basis gevoer.
Die
spesiale notariële verband is op 26 Mei 1993 in die Aktekantoor
geregistreer. In terme daarvan gee Minassian voor om bepaalde
toerusting wat daarin omskryf word, ten gunste van respondent te
verbind. Dit sluit al die toerusting in waarop die balju beslag
gelê
het en wat in bylae 'A' tot die dagvaarding beskryf is.
Die
tussenpleitgeding is na verhoor verwys. Appellant het 'n aantal
getuies geroep om sy aanspraak op eiendomsreg te bewys. Respondent
het geen getuies geroep nie.
Die
landdros het appellant se aanspraak van die hand gewys op grond
daarvan dat dit nie behoorlik bewys gelewer het van die feit
dat dit
die eienaar van die betrokke toerusting was nie.
Appellant
kom nou in hoër beroep teen die landdros se uitspraak.
Dit
is appellant se saak, in kort:
(a) dat die betrokke
toerusting, tesame met sekere ander items, aanvanklik die eiendom van
United Bank Bpk was wat dit aan Minassian
verkoop het kragtens 'n
afbetalingsverkoopooreenkoms;
(b) dat United Bank Bpk
op 29 September 1993 ten volle betaal is vir die verkoopte goed as
gevolg waarvan die eiendomsreg daarin
op Minassian oorgegaan het;
(c) dat appellant die
toerusting (tesame met die ander items) op 28 September 1993 van
Minassian gekoop het en dat die koopprys
op 30 September 1993 aan
Minassian betaal is;
(d) die appellant daarna
'n huurooreenkoms aangegaan het waarvolgens die toerusting aan
Minassian verhuur is. Die toerusting het
te alle saaklike tye in
Minassian se besit gebly;
(e) dat appellant op 30
September 1993 eiendomsreg in die betrokke toerusting verkry het by
wyse van constitutum possessorium;
(f) dat appellant onbewus
was van die bestaan van die spesiale notariële verband ten
gunste van respondent wat op 26 Mei 1993
geregistreer is.
Dit
is vir doeleindes van hierdie uitspraak nie nodig om te beslis of die
grondslag van die landdros se beslissing korrek is nie.
Na my mening
kan daar aanvaar word dat appellant eienaar van die toerusting geword
het op die wyse soos deur appellant aangevoer
word. Respondent bestry
die appèl egter ook op grond daarvan dat sy regte op die
toerusting uit
1996
(4) SA p454
BLIGNUAT
Wn R
hoofde
van die spesiale notariële verband voorrang geniet bo appellant
se beweerde regte as eienaar daarvan. Die geldigheid
van daardie
aanspraak moet dus oorweeg word.
Die
Wet op Sekerheidstelling deur Middel van Roerende Goed 57 van 1993
(hierna 'die Wet' genoem), het op 7 Mei 1993 in werking getree.
Artikel 1(1) van die Wet lees soos volg:
'Indien 'n notariële
verband waarby liggaamlike roerende goed wat in die verbandakte
gespesifiseer en beskryf word op 'n wyse
wat dit redelik kenbaar
maak, verhipotekeer word, na die inwerkingtreding van hierdie Wet
ooreenkom-stig die Registrasie van Aktes
Wet 47 van 1937,
geregistreer word, word sodanige goed -
(a) onderworpe aan enige
beswaring wat op die datum van registrasie van die verband daarop
gerus het; en
(b)
nieteenstaande die feit dat dit nie aan die verbandhouer gelewer is
nie,
geag
net so daadwerklik aan die verbandhouer verpand te wees asof dit
uitdruklik aan die verbandhouer verpand en gelewer was.'
Voordat
die Wet in werking getree het, het soortgelyke wetgewing in Natal
gegeld, naamlik die Wet op Notariële Verbande (Natal)
18 van
1932. In die regspraak ten opsigte van die Natalse Wet is onder meer
beslis dat die notariële verbandhouer die beswaarde
sake in die
hande van derdes kan opvolg. Sien Van der Merwe Sakereg 2de uitg te
673; Sacks 'Notarial Bonds in South African Law'
(1982) 99 SALJ 605
te 623-4.
Die
effek van die Wet is derhalwe dat die posisie wat ten opsigte van
notariële verbande in Natal gegeld het voor die
inwerkingstelling
van die Wet, nou uitgebrei is na die hele
Republiek, sodat 'n notariële verbandhouer 'n saaklike reg
verkry oor die betrokke
goedere asof dit aan hom verpand is. Die Wet
is van toepassing op enige notariële verband wat geregistreer is
na 7 Mei 1993,
en derhalwe is dit ook op die notariële verband
in die onderhawige geval van toepassing.
Dit
blyk uit die getuienis wat deur appellant aangebied is (wat ons vir
doeleindes van die uitspraak aanvaar), dat Minassian op
29 September
1993 die eienaar van die toerusting geword het. Die notariële
verband is egter reeds op 26 Mei 1993 geregistreer.
Namens
respondent is voor ons betoog dat al het Minassian eers eienaar van
die toerusting geword nadat die notariële verband
geregistreer
is, sodanige verkryging van eiendomsreg deur Minassian aan die
pandgewing kragtens die notariële verband regswerking
gegee het
voordat appellant enige regte daarop gekry het. As ondersteuning vir
die betoog is verwys na die volgende stelling in
Wille's Mortgage and
Pledge in South Africa 3de uitg (deur Scott en Scott) te 35:
'If a person mortgages
the property of another without the latter's consent or authority,
and the mortgagor subsequently acquires
the dominium of the property,
the acquisition of the dominium has the effect of making the mortgage
valid.'
Die
gesag waarna die skrywers verwys ter stawing van die stelling, te
wete Codex 8.16.5, Digesta 13.7.41, Van Leeuwen Censura Forensis
1.4.7.18, Voet Commentarius ad Pandectas 20.3.4, Pothier ad Pandectas
20.1 n 18 en Burge Colonial Laws band 3 te 172, handel natuurlik
met
gemeenregtelike pandgewing. Na my mening behoort dieselfde reël
egter ook ten opsigte van die statutêre pandgewing
kragtens art
1 van die Wet te geld.
Appellant
se advokaat het in sy argument voor ons staatgemaak op
1996
(4) SA p455
BLIGNUAT
Wn R
sekere
passasies in die uitspraak van die Appèlhof in Krapohl v
Oranje Koöperasie Bpk
[1990] ZASCA 53
;
1990 (3) SA 848
(A) as gesag vir die
stelling dat respondent se regte as verbandhouer kragtens die
spesiale notariële verband nie die oordrag
van eiendomsreg in
die toerusting aan appellant belet het nie. Op grond daarvan is aan
die hand gedoen dat die verbandhouer se
regte as gevolg van sodanige
eiendomsoordrag verval het.
In
die Krapohl-saak het die Appèlhof die effek van die bepalings
van art 173(1)(c) van die Koöperasiewet 91 van 1981
oorweeg.
Daardie bepaling skep 'n statutêre pandreg in terme wat
wesenlik dieselfde is as dié van art 1(1) van die
Wet. Die
feite in daardie saak was egter anders as in hierdie geval. Die
pandgewer het inderdaad die verpande goed (koring) aan
'n derde party
verkoop en gelewer wat dit op sy beurt aan die pandhouer (die eieser
in die saak) verkoop en gelewer het. Die Hof
het beslis dat die
bestaan van die statutêre pandreg nie die oordrag van
eiendomsreg in die koring belet het nie. Daaruit
kan egter nie
afgelei word, soos deur appellant aan die hand gedoen, dat sodanige
oordrag op sigself die statutêre pandreg
beëindig het nie.
Die volgende stelling (per Nienaber Wn AR te 865B) skyn inderdaad
direkte steun te verskaf vir respondent
se standpunt in hierdie saak:
'As die eiser, na
sluiting van die koopkontrak maar voor lewering, besef het dat die
aangebode koring aan sy pandreg onderhewig
was, sou hy op die koring
beslag kon lê op grond daarvan dat sy pandreg aan hom 'n eerste
en 'n sterker aanspraak op die
pandsaak gee. (Vgl State Advances
Recoveries Office v Theron (supra te 911); Edwards v Van Zyl (supra
te 99); Van Zyl v Burger
en Andere (supra te 226, 228).)'
Toegepas
op die feite van die onderhawige geval is die effek van hierdie
stelling dat respondent uit hoofde van sy regte kragtens
die spesiale
notariële verband 'n 'eerste en sterker aanspraak' op die
betrokke toerusting verkry het as appellant.
Appellant
se laaste verweer teen respondent se aanspraak is dat respondent
afstand gedoen het van sy regte kragtens die spesiale
notariële
verband. Ter stawing van die verweer is verwys na sekere getuienis
waaruit dit blyk dat ene Forgan, wat na bewering
'n bankrekening van
Minassian by appellant hanteer het, kennis gedra het van die feite
dat daar 'n ooreenkoms tussen appellant
en Minassian aangegaan word,
dat die toerusting ter sprake was en dat daar nog 'n bedrag
uitstaande was by United Bank ten opsigte
van die betrokke
toerusting.
'n
Afstanddoening van regte moet behoorlik bewys word. Sien Borstlap v
Spangenberg en Andere
1974 (3) SA 695
(A) te 704F-G:
'Dit is herhaaldelik deur
ons Howe beklemtoon dat duidelike bewys van 'n beweerde
afstanddoening van regte geverg word, veral waar
op 'n stilswyende
afstanddoening staat gemaak word. Dit moet duidelik blyk dat die
betrokke persoon opgetree het met behoorlike
kennis van sy regte en
dat sy optrede teenstrydig is met die voortbestaan van sodanige regte
of met die bedoeling om hulle af te
dwing.'
In
die onderhawige geval is daar geen bewys gelewer dat Forgan kennis
gedra het van die spesiale notariële verband nie. Na
my oordeel
het appellant dus nie daarin geslaag om die beweerde afstanddoening
van regte te bewys nie.
1996
(4) SA p456
BLIGNUAT
Wn R
Ek
is derhalwe van oordeel dat respondent uit hoofde van die spesiale
notariële verband 'n sterker aanspraak op die betrokke
goed het
as appellant.
Die
hof a quo het gelas dat appellant se aanspraak van die hand gewys
word met koste. Na my mening sou die volgende bevel egter
meer gepas
wees ten einde dit duidelik te maak op welke grondslag respondent se
aanspraak op die toerusting slaag:
'(a) Dit word verklaar
dat die Standard Bank van Suid-Afrika Bpk se aanspraak op die
toerusting genoem in bylae "A" tot
die
tussenpleitdagvaarding, uit hoofde van die notariële verband BN
36876/93 wat op 26 Mei 1993 in sy guns geregistreer is,
voorrang
geniet bo die aanspraak van Bokomo.
(b) Bokomo word gelas om
die Standard Bank van Suid-Afrika Bpk se koste te betaal.'
Die
hof a quo se bevel word gevolglik deur die voorgaande bevel vervang.
Behoudens sodanige wysiging van die hof a quo se bevel
word die appèl
van die hand gewys met koste.
Van
Zyl R het saamgestem.
Appellant
se Prokureurs: Ernst Strauss & Haasbroek. Respondent se
Prokureurs: Jan S de Villiers & Seun.
SAFLII
Note:
This
case was originally published by Juta and Company (Pty) Ltd. Juta
retains copyright as far as it subsists. An English
translation of
this case is available at:
http://saflii.org/za/other/ZAENGTR/1996/1.html