Pinro Building & Steel Merchants (edms) bpk v Yawa (459/1998) [2002] ZAWCHC 68; [2003] 1 All SA 318 (C) (29 November 2002)

55 Reportability
Civil Procedure

Brief Summary

Civil Procedure — Pleadings — Irregularities in pleadings — Applicant sought to set aside respondent's "Second Plea" while respondent sought to declare "First Plea" a nullity — Dispute arose from the issuance of summons for payment of R111 298.31 for goods and services rendered — Respondent's "First Plea" was delivered without a required declaration, leading to claims of irregularity — Court found both pleadings to be irregular but determined that the "First Plea" should be set aside as it did not comply with the rules — Applicant's request to set aside the "Second Plea" was dismissed, with costs awarded to the respondent.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
>>
2002
>>
[2002] ZAWCHC 68
|

|

Pinro Building & Steel Merchants (edms) bpk v Yawa (459/1998) [2002] ZAWCHC 68; [2003] 1 All SA 318 (C) (29 November 2002)

RAPPORTEERBAAR
IN
DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID AFRIKA
(KAAPSE
PROVINSIALE AFDELING)
SAAK NO:
459/1998
In
die saak tussen:
PINRO
BUILDING & STEEL MERCHANTS (EDMS) BPK
EISER
en
CINGENI
PETER YAWA VERWEERDER
UITSPRAAK GELEWER OP 29 NOVEMBER 2002
_____________________________________________________________
HJ
ERASMUS, R
Die applikant (eiser) doen aansoek vir die
tersydestelling van wat genoem word die verweerder se "Tweede
Pleit". Die respondent
(verweerder) doen op sy beurt aansoek
vir ‘n bevel wat die "Eerste Pleit" ‘n nulliteit
verklaar of, in die alternatief,
vir verlof om sy pleitstukke te
wysig deur deur die vervanging van die "Eerste Pleit" deur
die "Tweede Pleit".
Ek verwys
voortaan na die partye as "eiser" en "verweerder".
Op 16
Januarie 1998 het die eiser dagvaarding uitgereik teen die verweerder
vir die betaling van die bedrag van R111 298.31 ten opsigte
van
goedere en dienste gelewer deur die eiser aan die verweerder
gedurende die tydperk 31 Oktober 1996 tot en met 26 November 1997.
Die eis is vir 'n gelikwideerde bedrag en die partye was
dit deurgaans eens dat die dagvaarding wat uitgereik was, 'n
eenvoudige dagvaarding
was. Die dagvaarding wat die eiser uitgereik
het, was egter in der waarheid 'n eienaardige, hibriede dokument. Die
dagvaarding is
primêr ooreenkomstig Vorm 10 van die
Hooggeregshofreëls, die voorgeskrewe vorm vir die Gekombineerde
Dagvaarding. Vorm 10 vereis
dat die besonderhede van die eiser se eis
uiteengesit word in 'n bylae by die dagvaarding. In die onderhawige
geval is die eiser
se eis, ooreenkomstig die voorskrifte van Vorm 9
wat betrekking het op die eenvoudige dagvaarding, bondig uiteengesit
binne die liggaam
van die dagvaarding self.
Die
verweerder het op 26 Januarie 1998 kennis gegee dat hy van voorneme
is om die saak te verdedig. Die eiser het daarop aansoek gedoen
vir
summiere vonnis. Die aansoek is teengestaan. Op 9 Junie 1998 is die
aansoek teruggetrek en is verlof aan die verweerder gegee
om die
aksie te verdedig. Ingevolge die voorskrifte van Hooggeregshofreëls
20(1) en 32(8A) moes die eiser 'n deklarasie afgelewer
het binne 20
dae ná die datum waarop verlof om te verdedig gegee is. Dit is nie
gedoen nie. Op 17 Julie 1998 versoek die eiser,
onder dreigement van
belet, die aflewering van 'n verweerskrif binne vyf dae. Op 19 Maart
1999 word vonnis by verstek teen die verweerder
toegestaan. Op
aansoek van die verweerder word die verstekvonnis op 9 Junie 1999
tersyde gestel.
Die
verweerder lewer op 28 Julie 1999 'n pleit af (die sogenaamde "Eerste
Pleit"). Wat inhoud betref is hierdie pleit 'n
reaksie op die
bondige uiteensetting van die eiser se eis soos vervat in die
dagvaarding.
Intussen
verander die verweerder van prokureur. Die nuwe prokureur merk dat
daar geen deklarasie op die lêer is nie. Hy skryf op
10 Januarie
2001 ‘n brief waarin hy aflewering, of 'n afskrif, van 'n
deklarasie aanvra.
Die eiser
lewer op 6 Maart 2002 'n deklarasie af. Die aflewering van die
deklarasie word kort daarna, op 3 April 2002, opgevolg deur
'n
aanmaning aan die verweerder, onder dreigement van belet, om 'n pleit
af te lewer. In reaksie op hierdie versoek en dreigement,
lewer die
verweerder die "Tweede Pleit" op 10 April 2002 af.
Die eiser
vra dus tersydestelling van 'n pleit (die “Tweede Pleit”),
aflewering waarvan ontlok is deur die eiser se eie (tweede)
aanmaning
onder dreigement van belet. Die verweerder vra tersydestelling van
'n pleit (die “Eerste Pleit”) waarvan aflewering
ontlok is deur
die eiser se (eerste) aanmaning en dreigement van belet wat afgelewer
is op ‘n tydstip toe die eiser nog nie, soos
vereis deur die
Hooggeregshofreëls, 'n deklarasie afgelewer het nie.
Die woorde van Holmes R (soos hy indertyd was) in
Dreyer
v Naidoo
1958 (2) SA 628
(N), waarin ‘n
adjunk-balju ‘n dagvaarding op homself beteken het en daarna
aansoek gedoen het vir tersydestelling van die betekening
as synde
onreëlmatig, is gepas in die omstandighede van hierdie geval. Op
629A sê Homes R:
“
Well now, what is the court to do about this
drollery?”
Ingevolge
Hooggeregshofreël 22(1) moet ‘n verweerder ‘n pleit aflewer
“binne 20 dae na betekening aan hom van ‘n deklarasie”.
Subreël
(2) van Hooggeregshofreël 22 omskryf die vereistes waaraan ‘n
pleit moet voldoen soos volg:
“
Die verweerder moet in sy pleit al die wesenlike
feite wat in die gekombineerde dagvaarding of in die deklarasie
beweer word, erken
of ontken of met teenwerping erken, of meld welke
van die genoemde feite nie erken word nie en in watter mate, en
duidelik en bondig
alle wesenlike feite aangee waarop hy steun.”
Subreël
(3) bepaal dat versuim om aan die bepalings van, onder andere,
subreël (2) te voldoen ‘n onreëlmatigheid daarstel en
is die
ander party geregtig om kragtens Hooggeregshofreël 30 op te tree.
Die eerste
pleit voldoen nie aan die voorskrifte van subreël (2) nie want dit
bevat nie ‘n erkenning of ontkenning of erkenning
met teenwerping
van wesenlike feite wat in ‘n deklarasie beweer word nie.
Die
verweerder voer aan (i) dat die eiser se eerste opeising van ‘n
pleit, vóór aflewering van ‘n deklarasie, ‘n onreëlmatigheid
daarstel en inderdaad ‘n nulliteit is; en (ii) dat die verweerder
se eerste pleit ewe-eens ‘n onreëlmatige stap en ‘n nulliteit
is want die reëls maak nie voorsiening vir ‘n pleit op ‘n
eenvoudige dagvaarding nie.
Is die eerste pleit ‘n nulliteit? In
Northern
Assurance Co Ltd v Somdaka
1960 (1) SA 588
(A) word die volgende gesê in verband met vraag wanneer ‘n
onreëlmatigheid in verrigtinge neerkom op ‘n nulliteit:
“
Once it is seen that the Court has a discretion [in
the matter of an irregular or improper proceeding in an action], it
seems to me
to follow inescapably that it was not intended that a
breach of the Rules relating to actions should necessarily be visited
with
nullity.”
(Sien ook
Republikeinse
Publikasies (Edms) Bpk v Afrikaanse Pers Publikasies (Edms) Bpk
1972 (1) SA 773
(A) op 780G—H;
Minister of
Prisons and Another v Jongilanga
1985 (3) SA
117
(A) op 123A—H).
Die lyn tussen onreëlmatigheid en nullititeit is
moeilik te trek en in
Sasol Industries (Pty)
Ltd t/a Sasol 1 v Electrical Repair Engineering (Pty) Ltd t/a LH
Marthinusen
1992 (4) SA 466
(W) op 473D word
gesê --
“
The
difference between a nullity and an irregularity is probably one of
degree”.
(Sien ook
Krugel v Minister of
Police
1981 (1) SA 765
(T) op 768D—E).
Hierdie
Hof het ingevolge Hooggeregshofreëls 27(3) en 30 wye bevoegdhede om
onreëlmatige verrigtinge óf te kondoneer óf tersyde
te stel.
Normaalweg sal ‘n party ingevolge reël 27(3) aansoek doen vir
kondonasie van sy eie onreëlmatige stap. ‘n Party sal
ingevolge
reël 30 aansoek doen vir die tersydestelling van onreëlmatige
stappe gedoen deur sy of haar opponent. In hierdie geval
doen die
partye aansoek vir die tersydestelling of skrapping van onreëlmatige
stappe in die proses wat hulle óf self ontlok het
óf self gedoen
het.
Die eerste
opeising van pleit en die eerste pleit is onreëlmatighede in die
verrigtinge wat vatbaar is vir tersydestelling maar wat
denkbaar
gekondoneer sou kon word. Kondonasie sou, byvoorbeeld, moontlik wees
waar dit duidelik is dat die pleit ‘n korrekte weergawe
van die
verweerder se verweer bevat, en waar aandrang op formele regstelling
van die verrigtinge tot tydverspilling en onnodige koste
sal lei.
Die
verweerder voer aan dat onreëlmatighede in die verrigtinge rondom
die eerste pleit reggestel is deur (i) die eiser se aflewering
van ‘n
deklarasie; (ii) die eiser se opeising van ‘n (tweede) pleit en,
(iii) die verweerder se aflewering van ‘n pleit op
die deklarasie.
Ek is dit eens met die verweerder dat die enigste redelike afleiding
wat gemaak kan word uit die eiser se opeising
van ‘n pleit op die
deklarasie, is dat die eiser bewus was daarvan dat die eerste pleit
‘n onreëlmatige stap (of ‘n nulliteit)
daarstel.
Die eiser
voer aan dat die verweerder se aansoek vir skrapping van die eerste
pleit neerkom op ‘n poging om ‘n erkenning terug
te trek. As die
pleit ‘n nulliteit sou wees, sou dit nie ‘n erkenning kan wees
van die inhoud van die eiser se eenvoudige dagvaarding
nie. Die pleit
is in ieder geval ‘n onreëlmatige stap en alvorens die Hof
kondonasie verleen, is dit nie ‘n stap wat ‘n erkenning
bevat
waaraan die verweerder vir doeleindes van die verhoor in die aksie
gebonde is nie.
In die lig
van voorgaande is dit nie nodig om ‘n bevel te maak ingevolge
waarvan verklaar word dat die eerste pleit ‘n nulliteit
is en die
tweede pleit geldig is. Die orde in die verrigtinge kan herstel word
deur bloot die eerste pleit as ‘n onreëlmatige
verrigting tersyde
te stel. Die eiser word nie deur so ‘n bevel benadeel nie. Die
eiser het deel gehad aan die onreëlmatigheid
deur sy onreëlmatige
opeising van die eerste pleit.
Ek
is derhalwe van oordeel dat die applikant se eis van die hand gewys
moet word, en dat die verweerder se teenaansoek moet slaag
en die
eerste pleit tersyde gestel moet word.
Die saak
was ter rolle geplaas vir verhoor op 22 Augustus 2002. Op 15 Augustus
2002 het die eiser ‘n aansoek geloods vir die tersydestelling
van
die verweerder se tweede pleit. Die aansoek is vir verhoor op 22
Augustus 2002 in die Derde Afdeling op die rol geplaas, dws
dieselfde
dag waarop die verhoor ‘n aanvang sou neem. Op daardie dag is die
verweerder se aansoek om uitstel van die verhoor toegestaan
en is
daar beveel dat die kwessie van verspilde koste oorstaan vir latere
beregting deur die verhoorregter. In hierdie verrigtinge
is ek dus
nie gemoeid met die verspilde koste van 22 Augustus 2002 nie.
Ek maak die volgende bevel:
Die applikant se aansoek word van die hand gewys.
Die eerste verweerskrif wat op 28 Julie 1999 afgelewer
is, word tersyde gestel.
Die applikant moet die koste van die verweerder ten
opsigte van die aansoek en die teenaansoek betaal.
HJ ERASMUS, R