Van Der Ross v S (A1044/01) [2002] ZAWCHC 30 (31 May 2002)

70 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Rape — Appeal against conviction and sentence — Appellant convicted of rape based on complainant's testimony — Appellant denied the allegations, claiming no sexual intercourse occurred — Complainant's evidence as a single witness subjected to cautionary approach due to the nature of the allegations and domestic context — Court found that the magistrate failed to adequately apply caution given the circumstances, including the absence of medical evidence and the complainant's delayed reporting — Appeal upheld, conviction and sentence set aside.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
>>
2002
>>
[2002] ZAWCHC 30
|

|

Van Der Ross v S (A1044/01) [2002] ZAWCHC 30; 2002 (2) SACR 362 (C) (31 May 2002)

IN DIE HOOGGEREGSHOF
VAN SUID-AFRIKA
(KAAP DIE
GOEIE HOOP PROVINSIALE AFDELING)
RAPPORTEERBAAR
SAAK
NR.: A1044/01
In die saak
tussen:
FRANS VAN
DER ROSS
Appellant
en
DIE
STAAT Respondent
UITSPRAAK GELEWER OP 31 MEI 2002
THRING,
R.:
Die appellant is in die streekhof van
verkragting aangekla. Dit is hom ten laste gelê dat hy op 19
Januarie 2001 (‘n Vrydag)
en te of naby Dysselsdorp die klaagster
verkrag het. Op hierdie aanklag het hy onskuldig gepleit. Hy is deur
‘n prokureur by sy
verhoor verteenwoordig. Aan die einde van sy
verhoor is hy skuldig bevind soos aangekla en tot twaalf jaar
gevangenisstraf gevonnis.
Hy appelleer na hierdie Hof teen beide sy
skuldigbevinding en vonnis.
Heelwat van
die feite van die saak is gemene saak, of onbetwis. Die klaagster is
‘n dertig-jarige vrou. Alhoewel sy en die appellant
nie met mekaar
getroud is nie, het hulle vir ongeveer drie jaar ononderbroke as man
en vrou saamgewoon totdat hy op hierdie aanklag
gearresteer is. Hulle
het ‘n twee-jarige kind. Hulle het in ‘n huis te Dysselsdorp
saamgewoon. In ‘n nabygeleë huis het die
ouers van die appellant
gewoon. Op die betrokke Vrydagaand het die appellant onder die
invloed van drank by sy huis gekom. Daar het
hy kos geëet en gaan
lê. Gedurende die volgende middag, Saterdag 20 Januarie 2001, is hy
deur die klaagster daarvan beskuldig dat
hy haar sou verkrag het, en
is hy gearresteer.
Die
klaagster se getuienis was kortliks dat die appellant, nadat hy op
die betrokke aand sy kos geëet het en gaan lê het, op seks
aangedring het. Sy sê sy het geweier omdat hy gedrink was. Sy sê
dat hulle ‘n ooreenkoms met mekaar gehad het dat wanneer hy
gedrink
was, hulle nie met mekaar seks sou geniet nie. Sy het getuig dat die
appellant haar toe uitgetrek het en haar gedwing het
om sonder haar
toestemming nie minder as ses maal geslagtelike gemeenskap in drie
verskillende posisies gehou, en elke keer het hy
sy saad binne haar
gestort.
Die
appellant het ook getuig. Hy het ontken dat hy hoegenaamd gemeenskap
op die betrokke aand met die klaagster gehad het. Hy sê
dat hy dronk
by die huis aangekom het, iets geëet het en toe gaan slaap het.
Volgens hom het hy eers laat die volgende dag weer
wakker geword.
Oor die
twee kern-geskilpunte, naamlik of daar gemeenskap tussen die
klaagster en die appellant plaasgevind het, en, indien wel,
of dit
sonder haar toestemming geskied het, is die klaagster ‘n enkel
getuie. Die landdros het homself wel gewaarsku teen die gevare
van ‘n
enkel getuie. Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat die klaagster
bo redelike twyfel die waarheid gepraat het, en dat
die appellant se
getuienis leuenagtig was. Hy het gemeen dat haar getuienis duidelik
en bevredigend was, en hy kon geen weersprekings
in haar getuienis
vind nie. Sy het sekere toegewings ten gunste van die appellant
gemaak, wat die landdros gunstig beïndruk het.
Die landdros kon geen
aanduiding van enige beweegrede vind wat die klaagster kon
gemotifeer het om die appellant valslik te impliseer
nie, sê hy.
Desnieteenstaande, is ek van mening dat die landdros versuim het om
homself voldoende teen die gevare van die klaagster
se getuienis in
hierdie geval te waarsku.
Die
klaagster is nie alleenlik ‘n enkel getuie wat betref die
kern-geskilpunte nie: haar klagte is van ‘n seksuele aard, en
het
in ‘n huishoudelike situasie ontstaan. Sedert die
dictum
van
Olivier, A.R.
in
S. v. J
, 1998(2) SA 984 (HHA) op 1009
F-G kry ‘n mens soms byna die indruk dat dit deur party landdroste
aanvaar word dat versigtigheid
in sulke gevalle iets van die verlede
is. So sê die landdros ook in die onderhawige saak in sy uitspraak
die volgende:
“Die hof gaan hom nie uitlaat oor ‘n dubbele versigtigheidsreël
omdat die klaagster ‘n geslagsmisdryf getuig nie (
sic
). Die
situasie is ook reeds bevredigend opgelos in
S. v. G.
,
2000
(1) SACR 453
(A) waar die geleerde regter hom soos volg uitlaat:
‘The cautionary rule applicable to complainants in sexual assault
cases is no longer part of our law. However evidence in particular
cases potentiary still requiring cautionary approach despite the
abolition of general cautionary rule. That means evidence of young
children to be treated still with caution.’(
sic
)
So wat die hof vandag kyk as die hof na die getuienis van ‘n enkel
getuie kyk, gaan die hof alleenlik dit slaan op versigtigheidsreël
wat van toepassing is maar nie op ‘n klaagster in ‘n
geslagsmisdaadsaak nie. (
sic
)
................................
Die hof se
taak is dus om vas te stel of die klaagster ‘n geloofwaardige
getuie is. Die hof verlang dus ‘n waarborg van betroubaarheid
van
die getuienis van ‘n enkel getuie en nie van ‘n klaagster in ‘n
geslagsmisdaad nie.”
(Terloops, die passasie wat die landdros hier
aanhaal kom nie uit die gesag wat hy noem nie: ek weet nie waar hy
dit gekry het nie.)
Dit is duidelik uit wat hy sê dat, alhoewel die
landdros die getuienis van die klaagster met versigtigheid benader
het bloot omdat
haar getuienis op die twee kern-geskilpunte alleen
gestaan het, hy dit nie nodig geag het om nog meer versigtig te wees
omdat haar
klagte een van ‘n seksuele aard was nie. In die
omstandighede van hierdie saak dink ek dat die landdros in hierdie
opsig misgetas
het.
In
S. v.
J.
,
supra
,
loc. cit
. het
Olivier, A.R
. gesê:
“In my view, the
cautionary rule in sexual assault cases is based on an irrational and
out-dated perception. It unjustly stereotypes
complainants in sexual
assault cases (overwhelmingly women) as particularly unreliable. In
our system of law, the burden is on the
State to prove the guilt of
an accused beyond reasonable doubt – no more and no less.
The
evidence in a particular case may call for a cautionary approach,
but that is a far cry from the application of a general cautionary
rule.”
(My
kursivering.)
Soos ek die
gewysde verstaan, beteken dit definitief nie dat dit verhoorhowe van
nou af vrystaan om op ‘n onverskillige of roekelose
wyse
skuldigbevindings in sake in te bring waar die aanklag van ‘n
seksuele aard is nie; dit beteken ook nie dat Howe in sulke
sake nou
nie meer versigtig hoef te wees nie; inteendeel, ek sou dink dat
strafhowe liewers aangemoedig behoort te word om die uiterste
versigtigheid aan die dag te lê voordat hulle mense aan ‘n
ernstige aanklag soos verkragting skuldig bevind, veral na die invoer
van die baie swaar verpligte vonnisse wat die Wetgewer nou met die
Strafregwysigingswet, No. 105 van 1997 vir o.a. sekere seksuele
oortredings voorgeskryf het. Myns insiens is al wat die uitspraak in
S. v. J
. beteken dat daar nie noodwendig in elke sodanige saak
‘n algemene, onwrikbare versigtigheidsreël op die getuienis van ‘n
klaagster
toegepas hoef te word nie. Soos die geleerde Appelregter
sê:
“The evidence in a particular case may call for a cautionary (
sic
:
cautious?) approach ......”
Dit hang af van die feite en die omstandighede van
elke afsonderlike saak of so ‘n benadering nodig is, aldan nie.
Na my oordeel, roep hierdie saak luidkeels vir
‘n benadering van die klaagster se getuienis wat dubbel versigtig
is, eerstens
omdat sy ‘n enkel-getuie is, en ook weens die aard van
haar klagte. Ek sê dit om die volgende redes:
1. Op die getuienis is daar ‘n lang geskiedenis van huishoudelike
twis en wrywing tussen die klaagster en die appellant: oor etlike
jare het hulle mekaar herhaaldelik uitgeskel en mekaar oor en weer
van ontrouheid beskuldig: dat die klaagster met ander mans en
selfs
met ‘n ander vrou geslagtelik verkeer het; dat die appellant
dikwels rondloop en bevrediging by ander vrouens soek. Volgens
die
appellant het die klaagster hom ook herhaaldelik gedreig dat hy “sal
sien wat hom sal oorkom”; veral het dit gebeur wanneer
hy dronk
was. Die ervaring leer dat so ‘n atmosfeer van aanhoudende
familie-twis vrugbare grond vir vals beskuldigings van allerhande
soorte kan wees. Ongelukkig is dikwels lang-uitgerekte, bitter
betwiste en grootliks irrelevante getuienis in die fynste detail van
allerlei klein huishoudelike gebeurtenisse tussen man en vrou, of
houman en houvrou, nou aan die orde van die dag in sake soos hierdie.
Daar word nou in die fynste besonderhede die mees persoonlike en
intieme aspekte van ‘n egpaar of ‘n saamleefpaar se private
lewens ondersoek, insluitende hulle geslagsgewoontes, wat gewoonweg,
sou ‘n mens verwag, tussen hulle as hul eie private sake
gerespekteer
behoort te word. Dit is egter die prys wat die Wetgewer
blykbaar tevrede is betaal moet word vir wetgewing soos artikel 5 van
die
Wet op die Voorkoming van Gesinsgeweld, No. 133 van 1993, wat
bepaal dat ‘n man weens verkragting van sy eie vrou skuldig bevind
kan word. Dit egter daar gelaat.
Die klaagster is
ongeveer 7 n.m. op die dag na die beweerde verkragting, d.w.s. op
Saterdag 20 Januarie 2001, deur ‘n distriksgeneesheer
ondersoek.
Hy het geen beserings by die klaagster waargeneem nie. Hy kon ook
geen tekens vind dat sy seksuele omgang gehad het
nie. Sy getuienis
is weliswaar tot ‘n mate neutraal, want hy sê dat sy haar
maandstonde gehad het toe hy haar ondersoek het.
Die punt is egter
dat daar geen mediese stawing vir die klaagster se getuienis bestaan
nie. Sy self sê ook nie dat sy enige uitwendige
beserings gedurende
die beweerde herhaalde verkragting opgedoen het nie.
Die klaagster se
getuienis dat die besope appellant daarin geslaag het om nie minder
as ses maal binne ‘n tydsbestek van minder
as een uur met haar
voltooide geslagsgemeenskap te hê, klink, met alle verskuldigde
respek aan die manhaftigheid van die appellant,
vergesog. Die
opmerking van die hekwag in Macbeth is te goed bekend om dit nodig
te maak om dit hier te herhaal.
Op al die getuienis
was die appellant tot ‘n taamlike groot mate onder die invloed van
drank op die betrokke aand. Die klaagster
sê dat, nadat hy met haar
klaar was, hy gaan slaap het. Hy sê dat hy geslaap het tot die
middag van die volgende dag. Tog doen
die klaagster niks om
gedurende die nag van die appellant af weg te kom nie. Sy kla ook by
niemand tot omtrent 11 v.m. die volgende
dag toe sy aan die
appellant se moeder, wat langsaan gewoon het, ‘n verslag gemaak
het. En die klagte wat sy dan maak is blykbaar
nie dat sy verkrag
was nie; die appellant se moeder se getuienis is:
“En
toe het sy nou gesê dat my seun het nou gedrink gewees en hy het toe
by haar gegaan maar sy was nou nie tevrede dat hy nou
met, haar moet
gemeenskap maak nie want hy is gedrink.
....................
Nee ek sien en het sy nog iets verder vir u gesê
oor wat presies Frans gedoen het daardie aand? --- Ja sy het net gesê
dat hy gesê
het dat sy moet op haar rug lê en dan op haar sy, dit
is al wat hy vir haar gesê het. Verder het sy niks vir my verder
gesê nie.
Het sy vir u niks verder gesê nie? --- Nee.
Sê vir ons hoe het sy nou gelyk daardie oggend
toe sy daar by u kom en dit nou vir u kom vertel het? --- Nee sy het
niks makeer nie
sy was soos gewoonlik as sy daar by my kom. Sy was
gesond en sy was nie stukkend nie of daar was nie skrape aan haar of
niks nie
sy was normaal gewees.
Normaal gewees? --- Ja.”
Die
kumulatiewe effek van hierdie onaktiwiteit en stilswye van die
klaagster, gekoppel met haar normale voorkoms, die inhoud van haar
uiteindelike verslag aan die appellant se moeder, en die gebrek aan
enige mediese bevestiging van haar storie is myns insiens om
agterdog
oor haar verhaal te skep.
Weliswaar het die landdros die appellant as ‘n
swak getuie beskou, en as ‘n mens sy getuienis lees is hierdie
bevinding seker
geregverdig. Hierdie feit kan egter na my mening nie
die ernstige swakhede in die klaagster se getuienis verwyder of
voldoende aansuiwer
nie.
Om bogemelde redes het ek geen twyfel dat die
landdros die getuienis van die klaagster met dubbele versigtigheid
behoort te bejeën
het, en nie net met die versigtigheid waarmee die
getuienis van ‘n enkel getuie benader moet word nie. Dit het hy
ongelukkig klaarblyklik
nie gedoen nie. Daar is myns insiens
verontrustende swakhede in die klaagster se getuienis, waarna ek
reeds verwys het. Het die landdros
haar getuienis met die dubbele
versigtigheid wat na my oordeel nodig was bejeën, is dit myns
insiens heel moontlik dat hy tot ‘n
ander gevolgtrekking sou gekom
het.
Die skuldigbevinding van die appellant is na my
oordeel onveilig, en kan nie ondersteun word nie.
Gevolglik slaag die appèl, en word die
skuldigbevinding en vonnis van die appellant ter syde gestel.
________________________
THRING, R.
Ek stem saam.
________________________
N.C. ERASMUS, R.