About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
>>
2002
>>
[2002] ZAWCHC 24
|
|
Bredasdorp Munisipaliteit v Bontebok Kalkwerke (edms) bpk (13356/97) [2002] ZAWCHC 24 (3 May 2002)
IN
DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(KAAP
DIE GOEIE HOOP PROVINSIALE AFDELING)
Saaknommer:
13356/97
In die saak
tussen:
BREDASDORP
MUNISIPALITEIT
Eiser
en
BONTEBOK KALKWERKE (EDMS) BPK
Verweerder
UITSPRAAK: 3 MEI 2002
VAN
ZYL R:
INLEIDING
[1] Hierdie saak spruit voort uit die voorsiening
van elektrisiteit deur die eiser aan die verweerder ingevolge die
bepalings van
die
Standaardverordening insake
Elektrisiteitsvoorsiening
, wat op 18 September 1987 deur
Provinsiale Kennisgewing
535 van 1987 afgekondig is. Sodanige
verordening is op 2 September 1988, by wyse van
Provinsiale
Kennisgewing
750 van 1988, op die Munisipale Raad van Bredasdorp
van toepassing gemaak. Daarna is dit ingevolge
Provinsiale
Kennisgewing
832 van 1990 (gedateer 20 Desember 1990) en
Provinsiale Kennisgewing
356 van 1995 (gedateer 11 Augustus
1995) gewysig.
[2] Dit is
gemenesaak dat die verweerder sedert 1924 op dieselfde perseel handel
dryf en dat die eiser se regsvoorganger, en later
die eiser self,
sedertdien elektrisiteit teen betaling aan hom gelewer het. Dit is
eweneens gemenesaak dat die eiser sedert die inwerkingtreding
van die
verordening gedurende 1988, ingevolge daarvan aan die verweerder
elektrisiteit voorsien het. Aan die begin van 1994 het die
eiser ân
nuwe elektrisiteitsmeter by die verweerder se perseel te Bredasdorp
geïnstalleer vir die meet van die hoeveelheid elektrisiteit
wat die
eiser aan die verweerder sou lewer. Sedert sodanige installering het
die eiser aan die verweerder maandelikse rekenings ten
opsigte van sy
elektrisiteitsverbruik gelewer, welke rekenings deur die verweerder
betaal is.
[3] Op 21 Mei
1997 het die eiser ontdek dat die faktor van die nuwe rekening nie
ten tye van die installering van die meter gewysig
is om vir die dan
geldende tarief voorsiening te maak nie. Die gevolg was dat die
verweerder se verbruik gedurende die tydperk Februarie
1994 tot April
1997 foutiewelik ooreenkomstig die ou faktor bereken is.
Voortspruitend hieruit het die eiser die bedrag van R518
835,48 van
die verweerder onderverhaal. Vir sover artikel 52(4) van die
verordening egter die regstelling van sodanige fout alleenlik
van
toepassing maak op ân tydperk van drie jaar wat die datum waarop
die fout ontdek is, voorafgaan, mag die eiser slegs die bedrag
van
R463 078,98 verhaal, synde vir die tydperk Junie 1994 tot Junie 1997.
Hierdie bedrag is bereken ooreenkomstig ân aangehegte
staat.
[4] In sy
verweerskrif het die verweerder ân spesiale pleit van verjaring ten
opsigte van ân gedeelte van die eis geopper. Op
die meriete het hy
aanspreeklikheid ontken op sterkte van die bepalings van artikel 4
van die verordening, ingevolge waarvan geen
persoon elektrisiteit mag
gebruik sonder ân skriftelike ooreenkoms met die
voorsieningsowerheid nie. Vir sover daar geen sodanige
ooreenkoms
tussen die partye was nie, was die eiser se voorsiening van
elektrisiteit aan die verweerder in stryd met ân statutêre
verbod
en dus ongeoorloof. Die eis was dus ongegrond en onafdwingbaar.
[5] In die
alternatief maak die verweerder staat op estoppel voortspruitende uit
die skyn deur die eiser verwek dat slegs die bedrae
in die gelewerde
rekenings aangedui, betaalbaar was. Hy het op sodanige skyn
staatgemaak en tot sy nadeel gehandel deur nie vir verhoogde
tariewe
in die pryse van sy produkte voorsiening te maak nie. Derhalwe word
die eiser verbied (âestopâ) om die onderverhaalde
bedrag te
vorder.
[6] Die
verweerder het ook ân voorwaardelike teeneis ingestel op die
grondslag dat, indien sy verwere verwerp sou word, hy dan skade
sou
ly in die bedrag van die eiser se vordering. Die skade sou
voortspruit uit die eiser se onregmatige en nalatige versuim âom
behoorlike en akkurate metinge en/of lesings te neem en om behoorlike
en/of akkurate berekenings te doen en/of om toe te sien dat
die
faktor van die metingsmeter akkuraat isâ.
[7] In sy
repliek op die verweerder se pleit het die eiser ontken dat sy eis
uit kontrak ontstaan het. Hy het aangevoer dat dit gegrond
is op die
relevante bepalings van die gemelde verordening, soos gewysig. Wat
betref die verbodsbepaling vervat in artikel 4 van die
verordening,
doen die eiser aan die hand dat dit slegs op die gebruik van
elektrisiteit, en nie op die voorsiening daarvan nie, gerig
word. Die
bepaling is trouens suiwer ten voordele van die voorsiener. Derhalwe
is die bestaan van ân skriftelike ooreenkoms nie
ân voorvereiste
vir die verhaal van die koste van elektrisiteit wat ooreenkomstig die
voorgeskrewe tariewe voorsien word nie. Voorts
ontken die eiser dat
daar enige meriete bestaan in die spesiale pleit van verjaring of in
die alternatiewe pleit van estoppel.
[8] Met
verwysing na artikels 4, 16 en 52 van die verordening het die
verweerder sekere eksepsies teen die eiser se vordering opgewerp.
Daar is nie voortgegaan daarmee nie, maar die verweerder het, kort
voor die aanvang van die verhoor, kennis gegee van ân aansoek,
ingevolge reël 33(4) van die Reëls van hierdie Hof, dat die
geskilpunt oor die eiser se skuldoorsaak
in limine
betoog en
bereg moet word. Meer spesifiek gaan dit om die vraag of die eiser se
vordering ân skuldoorsaak openbaar vir sover daar
geen skriftelike
ooreenkoms deur die partye aangegaan is nie, alternatiewelik vir
sover die eiser trag om ân ongeoorloofde eis
af te dwing.
RELEVANTE BEPALINGS VAN DIE
VERORDENING
[9] Hoofstuk
1 van die verordening bevat algemene woordbepalings. Die omskrywing
van ân âverbruikerâ, soos gewysig deur
Provinsiale
Kennisgewing
356 van 1995, is:
die okkupeerder van ân
perseel waaraan die voorsieningsowerheid gekontrakteer het om
elektrisiteit te lewer of dit werklik lewer,
of, as daar nie ân
okkupeerder is nie, enige persoon wat ân lopende kontrak met die
voorsieningsowerheid gesluit het vir die
lewering van elektrisiteit
aan sodanige perseel, of, as daar nie so ân persoon is nie, die
eienaar van die perseel en vir die toepassing
van die regulasies
beteken dit die gebruiker of verhuurder van die elektriese
installasie.
[10] Hoofstuk
2 bevat weer âalgemene voorsieningsvoorwaardesâ. Die inleidende
artikel daarvan, naamlik artikel 4, word ingevoer
onder die opskrif
Toevoer volgens kontrak
en lui aldus:
Geen persoon mag ân
elektrisiteitstoevoer van die voorsieningsowerheid gebruik of is
daarop geregtig om dit te gebruik nie tensy
of totdat sodanige
persoon ân skriftelike ooreenkoms met die voorsieningsowerheid
aangegaan het vir sodanige toevoer, en sodanige
ooreenkoms tesame met
die bepalings van hierdie verordening reël sodanige toevoer in alle
opsigte.
Hierdie verbodsbepaling is ân gewysigde weergawe
van ân bepaling wat skynbaar vir die eerste keer ooreenkomstig
regulasie 21 van
die
Standaardregulasies insake
Elektrisiteitsvoorsiening
ingevoer is, en wel onder die vaandel
van
Provinsiale Kennisgewing
480 van 1953, gedateer 5 Junie
1953. Sodanige kennisgewing is later herroep deur
Provinsiale
Kennisgewing
1 van 1978, gedateer 13 Januarie 1978, wat ân nuwe
Standaardverordening insake Elektrisiteitsvoorsiening
in die
lewe geroep het. Artikel 4 daarvan het die verbodsbepaling van
regulasie 21 in gewysigde vorm voortgesit. Dit is uiteindelik
gedurende 1987 vervang, weer eens met sekere wysigings, deur die nog
geldende artikel 4 hierbo aangehaal.
[11] Die oortreding van hierdie bepalings word met
die sanksie, oftewel
strafbepaling
, van artikel 54 getref.
Sub-artikels (1) en (2) daarvan lui soos volg:
(1) Enige persoon wat
enige van die bepalings van artikels 4, 6, 12, 13, 18, 23, 24, 26 en
27 van hierdie verordening oortree, is
skuldig aan ân misdryf en by
skuldigbevinding strafbaar met die strawwe wat voorgeskryf word in
die Munisipale Ordonnansie, 1974
(Ordonnansie 20 van 1974), of die
Ordonnansie op Afdelingsrade, 1976 (Ordonnansie 18 van 1976).
(2) Elke persoon wat ân oortreding van die
bepalings van hierdie verordening begaan, moet die
voorsieningsowerheid vergoed vir enige
verlies of skade deur die
voorsieningsowerheid gely as gevolg van sodanige oortreding.
Dit wil voorkom dat hierdie strafbepaling vir die
eerste keer deur die 1978 verordening ingevoer is, en wel as artikel
76 daarvan.
Artikel 54 van die huidige (1987) verordening is ân
enigsins gewysigde weergawe van die 1978 bepaling.
[12] Artikel 16, wat nie deur die strafbepalings
van artikel 54 getref word nie, is gewysig, vir sover dit op die
Munisipaliteit van
Bredasdorp van toepassing is, deur
Provinsiale
Kennisgewing
832 van 1990. Onder die opskrif
Gelde
bepaal
artikel 16(1) soos volg:
(1) Die raad kan,
onderworpe aan die bepalings van artikel 187(2) van die Munisipale
Ordonnansie, 1974, die gelde aan hom betaalbaar
vir die instelling,
voorsiening en instandhouding van ân elektrisiteitstoevoer by
spesiale besluit vasstel.
Die oorblywende subartikels van artikel 16 gaan
oor die
Betaling van rekenings
en lui aldus:
(2) Alle gelde loop van
dag tot dag op na gelang die elektriese energie verbruik word en is
te alle tye op aanvraag betaalbaar, maar
word beheer ooreenkomstig
meteraflesings deur ân beampte van die raad uitgevoer. Rekenings
vir die verbruik van elektriese energie
word so gou doenlik na die
aflesing van meters aan verbruikers gelewer en die bedrae wat daarop
voorkom, is by die raad se kantoor
betaalbaar voor of op die datums
deur die raad by spesiale besluit vasgestel. Waar ân rekening
onbetaal bly na die datum hierbo
genoem, is dit onderworpe aan die
toeslag deur die raad by spesiale besluit vasgestel.
(3) Indien die verskuldigde bedrae (toeslag
inbegrepe, waar van toepassing) nie betaal is soos in subartikel (2)
hierbo bepaal nie,
tree die raad op ingevolge artikel 19 [die reg om
toevoer af te sluit] van hierdie verordening.
(4) Die elektriese toevoer na sodanige eiendom
word nie weer aangesluit nie tensy alle agterstallige gelde en ân
heraansluitingsgeld
soos deur die raad by spesiale besluit vasgestel
is, betaal is.
[13] Artikel 52(4) van die verordening, soos
gewysig deur artikel 12 van
Provinsiale Kennisgewing
356 van
1995, bepaal, onder die opskrif
Meteraflesings
, soos volg:
Indien enige
berekenings-, aflees of meetfout ontdek word ten opsigte van ân
rekening wat aan 'n verbruiker gelewer is, moet die
voorsieningsowerheid die fout in daaropvolgende rekenings regstel.
Enige sodanige regstelling geld slegs ten opsigte van rekeninge
vir
ân tydperk van drie jaar wat die datum waarop die fout in die
rekeninge ontdek is, voorafgaan, is rentevry tot op die datum
waarop
die regstelling nodig blyk te wees, en word gebaseer op die werklike
tariewe wat gedurende die tydperk gegeld het.
VERWEERDER SE BETOOG
IN LIMINE
[14] Mnr Louw het namens die verweerder aan die
hand gedoen, met verwysing na die bepalings van artikel 4 van die
verordening, dat
elektrisiteit
ingevolge
die verordening
voorsien kan word slegs indien daar ân skriftelike ooreenkoms
tussen die partye tot stand gekom het. Vir sover
die eiser nie op
sodanige ooreenkoms staatmaak nie, was die elektrisiteitsvoorsiening
deur hom aan die verweerder nie
ingevolge
die verordening nie,
maar inderdaad ongeoorloof en ân strafbare oortreding.
[15] Mnr Louw het voorts aan die hand gedoen dat
die lewering van rekenings deur die voorsieningsowerheid en die
betaling daarvan
deur die verbruiker, ingevolge artikel 16 van die
verordening, voorveronderstel dat die elektrisiteit in terme van ân
skriftelike
ooreenkoms voorsien word. Dieselfde veronderstelling geld
vir die bepalings van artikel 52(4) voormeld. Dit beteken dat ân
verbruiker
alleenlik as sodanig omskryf kan word indien hy of sy ân
skriftelike ooreenkoms met die voorsieningsowerheid het. So nie is sy
of haar verbruik onwettig en ongeoorloof.
[16] In die lig hiervan, het Mnr Louw aan die hand
gedoen, openbaar die eiser se stukke geen eisoorsaak nie en moet die
aksie met
koste van die hand gewys word.
EISER SE BETOOG
IN LIMINE
[17] Mnr Smit het namens die eiser betoog dat dit
nooit die bedoeling van die wetgewer kon gewees het om die
voorsiening van elektrisiteit
aan ân verbruiker, met wie daar nie
ân skriftelike ooreenkoms gesluit is nie, tot ân strafbare
misdryf te verhef nie. Nog minder
kon dit die bedoeling gewees het om
die verbruiker se verpligting om vir elektrisiteitsvoorsiening te
betaal, ongedaan te maak. In
hierdie verband het hy dit beklemtoon
dat, hoewel die eiser se regsvoorganger, en later die eiser self,
sedert 1924 aan die verweerder
elektrisiteit verskaf het, daar geen
skriftelike ooreenkoms, soos in artikel 4 van die verordening bedoel,
tussen hulle bestaan het
nie. Desnieteenstaande het die eiser (en sy
voorganger) voortgegaan om elektrisiteit aan die verweerder te
voorsien en die verweerder
het deurentyd daarvoor betaal.
[18] Mnr Smit het voorts betoog dat die
verbodsbepaling van artikel 4 (saamgelees met die strafbepaling van
artikel 54) van die verordening
nie gerig word op die nietigheid van
die elektrisiteitsvoorsiening indien geen kontrak gesluit word nie.
Dit word inderdaad teen
die onregmatige gebruik van elektrisiteit
deur ân verbruiker, en nie teen die verskaffing daarvan deur die
voorsiener nie, gerig.
Indien dit die bedoeling van die wetgewer was,
het die betrokke artikel bepaal dat ân voorsieningsowerheid geen
elektrisiteit mag
voorsien tensy ân skriftelike ooreenkoms met die
verbruiker gesluit is nie.
[19] Mnr Smit het verder in sy betoog staatgemaak
op die vermoede dat wetgewing slegs op toekomstige aangeleenthede
gerig word. Waar
daar oor 'n lang termyn, soos in die onderhawige
geval, elektrisiteit voorsien is en betaling daarvoor gemaak is
sonder enige skriftelike
ooreenkoms daartoe, is dit onwaarskynlik dat
'n verbodsbepaling, soos in artkel 4 vervat, daarop van toepassing
sou wees. Dit is
onwaarskynlik dat die wetgewer kon bedoel het om van
verbruikers soos die verweerder, by inwerkingtreding van die verbod,
misdadigers
te maak. Die verbod sou slegs op nuwe verbruikers gerig
kon wees. Dit word bevestig deur die bepalings van artikel 7(1) van
die verordening,
wat verg dat 'n "voornemende verbruiker"
op die standaard (gedrukte) vorm skriftelik aansoek om
elektrisiteitslewering
moet doen. Niks word gesê oor bestaande
verbruikers nie.
RELEVANTE REGSBEGINSELS
[20] Dit is duidelik dat, hoewel daar in die
onderhawige geval geen skriftelike ooreenkoms tussen die partye tot
stand gekom het nie,
daar inderdaad 'n stilswyende ooreenkoms tussen
hulle was vir die volle duur van die termyn waartydens die eiser se
voorganger, en
daarna die eiser, aan die verweerder elektrisiteit
verskaf het. Die ooreenkoms was aanvanklik tussen die eiser se
regsvoorganger
en die verweerder, en later tussen die eiser self en
die verweerder. Waar die eiser dus in sy repliek op die verweerder se
pleit
te kenne gee dat sy vordering nie uit kontrak ontstaan het nie,
maar wel uit hoofde van die verordening, laat hy buite rekening die
klaarblyklike bestaan van 'n stilswyende ooreenkoms.
[21] Op die minste het die relevante partye in die
onderhawige geval ân stilswyende ooreenkoms bereik by wyse van die
stilswyende
aanvaarding, deur die verweerder as verbruiker, van ân
stilswyende aanbod deur die eiser (of sy regsvoorganger) as
verskaffer.
Deur hulle gedrag het hulle aldus te kenne gegee dat
hulle oor alle essensiële aspekte van die ooreenkoms
consensus
,
oftewel eensgesindheid, bereik het. Dit is na my mening in
ooreenstemming met die tradisionele benadering soos deur Corbett AR
uiteengesit
in
Standard Bank of South Africa Ltd and Another v
Ocean Commodities Inc and Others
1983 (1) SA 276
(A) op 292B:
In order to establish a
tacit contract it is necessary to show, by a preponderance of
probabilities, unequivocal conduct which is
capable of no other
reasonable interpretation than that the parties intended to, and did
in fact, contract on the terms alleged.
It must be proved that there
was in fact
consensus ad idem
.
[22] Dit is eweneens in ooreenstemming met die
effe afgewaterde toets wat deur Corbett AR voorgehou is in
Joel
Melamed and Hurwitz v Cleveland Estates (Pty) Ltd; Joel Melamed and
Hurwitz v Vorner Investments (Pty) Ltd
[1984] ZASCA 4
;
1984 (3) SA 155
(A) op
165B-C. Daar het die geleerde regter aan die hand doen dat die
tradisionele benadering enigsins herformuleer moet word:
In this connection it is
stated that a court may hold that a tacit contract has been
established where, by a process of inference,
it concludes that the
most plausible probable conclusion from all the relevant proved facts
and circumstances is that a contract
came into existence â¦
Kyk verder die volledige bespreking in R H
Christie
The Law of Contract in South Africa
(4e uitgawe 2001)
92-101.
[23] Die kernvraag is natuurlik of die
inwerkingtreding, op 2 September 1988, van die verbodsbepaling vervat
in artikel 4 van die
verordening die stilswyende ooreenkoms tussen
die eiser en verweerder ongeoorloof gemaak het of met nietigheid
besoek het. Dit is
normaalweg 'n kwessie van wetsuitleg, en hang saam
met verskeie oorwegings en omstandighede. Indien 'n verbod negatief
uitgedruk
word, byvoorbeeld "niks mag gedoen word nie tensy â¦",
is dit redelik sterk aanduidend van die nietigheid van enige
handeling
wat in stryd daarmee uitgevoer sou word. Dit kan egter
geensins as algemene reël beskou word nie, soos Miller AR dit
duidelik stel
in die beslissing van
Palm Fifteen (Pty) Ltd v
Cotton Tail Homes (Pty) Ltd
1978 (2) SA 872
(A) op 885E-G:
This, however, is no
rule of thumb; the subject-matter of the prohibition, its purpose in
the context of the legislation (or any provisions
having the force of
law), the remedies provided in the event of any breach of the
prohibition, the nature of the mischief which it
was designed to
remedy or avoid and any cognizable impropriety or inconvenience which
may flow from invalidity, are all factors which
must be considered
when the question is whether it was truly intended that anything done
contrary to the provision in question was
necessarily to be visited
with nullity.
[24] 'n Kardinale faktor wat in hierdie verband
oorweeg moet word, is die doel van die verbodsbepaling. Dit hang weer
saam met vrae
soos: teen wie word dit gerig of ten gunste van wie
moet dit uitgelê word; watter soort van handeling of gedrag word
verbied; is
dit in wese eerder beperkend as verbiedend; hang dit saam
met ân verbodsbepaling? Onderliggend aan die oorweging van al
hierdie
faktore, bly die kernvereiste van wetsuitleg nog steeds om
vas te stel wat die bedoeling van die wetgewer was. Kyk in hierdie
verband
die uitspraak van Solomon AR in
Standard Bank v Estate Van
Rhyn
1925 AD 266
op 274:
The contention on behalf
of the respondent is that when the Legislature penalises an act it
impliedly prohibits it, and that the effect
of the prohibition is to
render the Act null and void, even if no declaration of nullity is
attached to the law. That, as a general
proposition, may be accepted,
but it is not a hard and fast rule universally applicable. After all,
what we have to get at is the
intention of the Legislature, and if we
are satisfied in any case that the Legislature did not intend to
render the Act invalid,
we should not be justified in holding that it
was.
Daar kan verder in hierdie verband verwys word na
Pottie v Kotze
1954 (3) SA 719
(A) op 724H-726A;
Swart v
Smuts
1971 (1) SA 819
(A) op 829C-830C;
Dhlamini en ân Ander
v Protea Assurance Co Ltd
1974 (4) SA 906
(A) op 913H-914C;
Metro
Western Cape (Pty) Ltd v Ross
1986 (3) SA 181
(A) op 188F-189C;
Absa Insurance Brokers (Pty) Ltd v Luttig and Another NNO
[1997] ZASCA 61
;
1997
(4) SA 229
(SCA) op 238F- 239A; L C Steyn
Die Uitleg van Wette
(5e uitgawe 1981) 192-202 (waarin die Romeinsregtelike en
gemeenregtelike bronne, waarop die algemene beginsels gegrond is, van
nader
beskou word).
TOEPASSING VAN DIE RELEVANTE REG IN DIE
ONDERHAWIGE SAAK
[25] Ten aanvang vind ek dit vreemd dat die
onderhawige saak by wyse van ân punt
in limine
geopper word,
veral waar dit gaan om die vraag of die eiser se besonderhede van
vordering ân skuldoorsaak openbaar. Dit is klaarblyklik
ân
aangeleentheid wat by wyse van eksepsie afgehandel kon, en moes,
gewees het. Dit is vir my dus onverklaarbaar dat die eksepsie,
wat
aanvanklik deur die verweerder geopper was (par 8 hierbo), nooit
voortgesit is nie. Indien die verweerder die mening toegedaan
was dat
die eksepsie nie ân goeie kans op sukses gehad het nie, begryp ek
nie waarom hy dit deur ân punt
in limine
wou laat herleef
nie. Vir sover ek egter die bevoegdheid het om ingevolge die
bepalings van reël 33(4) te gelas dat ân regsvraag
soos die
onderhawige afsonderlik beslis word, en die partye dit eens was dat
dit gedoen behoort te word, was ek bereid om die verdere
verrigtinge
op te skort hangende die afhandeling van van hierdie punt. Die
alternatief, om die saak uit te stel en te gelas dat daar
met die
eksepsie voortgegaan word, sou onnodige tydsverspilling en koste
meebring.
[26] Ek het reeds bevind dat, hoewel die eiser hom
nie op ân stilswyende ooreenkoms beroep het nie, maar sy eis
gegrond het op die
regte en verpligtinge wat uit die verordening
voortspruit, daar tog wel ân stilswyende ooreenkoms tussen die
partye tot stand gekom
het (par 20-22 hierbo). Daardie ooreenkoms het
reeds lank voor die inwerkingtreding van die verordening in
Bredasdorp (par 1 hierbo)
op 2 September 1988 tot stand gekom en was
te alle relevante tye geldig en afdwingbaar. Dit is duidelik dat
beide partye hulle daaraan
gebonde geag het, te oordeel aan die feit
dat die eiser (en sy regsvoorganger), sedert die aanvang van die
verweerder se handelsbedrywighede
op die betrokke perseel gedurende
1924, elektrisiteit aan die verweerder voorsien het, en die
verweerder op sy beurt die eiser vir
sodanige voorsiening betaal het.
[27] Wanneer die huidige verordening van nader
beskou word, is dit duidelik dat dit gerig word op die ordelike
beheer van elektrisiteitsvoorsiening
deur plaaslike owerhede en die
gemagtigde gebruik daarvan deur regmatige verbruikers. Dit sluit in
(par 9 hierbo) okkupeerders of
ander persone wat met die
voorsieningsowerheid gekontrakteer het vir die lewering van
elektrisiteit. Dit maak egter ook voorsiening
vir persone wat nie
aldus gekontrakteer het nie, maar vir elektrisiteitsverbruik op die
betrokke perseel aanspreeklik is, soos die
gebruiker of verhuurder
van die elektriese installasie, of die eienaar van die perseel.
[28] Die verbodsbepaling van artikel 4 (par 10
hierbo) word klaarblyklik gerig op die bekamping en uitskakeling van
die onregmatige
gebruik van elektrisiteit. Die sluit van ân
skriftelike ooreenkoms met die voorsieningsowerheid is ân
verpligting wat op die
voornemende verbruiker rus alvorens hy of sy
op elektrisiteitsvoorsiening aanspraak kan maak. Dit is juis sy of
haar versuim om sodanig
te kontrakteer wat met die strafbepaling van
artikel 54 (par 11 hierbo) besoek word, en wel indien hy of sy, ten
spyte van sodanige
versuim, elektrisiteit verbruik. Die
verbodsbepaling is dus kennelik ter beskerming, en ten voordele, van
die voorsieningsowerheid
ingestel. Hy het dus die bevoegdheid om
daarvan afstand te doen indien hy dit, in die lig van die relevante
feite en omstandighede,
redelikerwys sou goed dink.
[29] Daar is nie die geringste aanduiding, soos
deur Mnr Louw namens die verweerder betoog (par 14 hierbo), dat die
voorsieningsowerheid
nie elektrisiteit mag voorsien tensy hy sodanige
ooreenkoms met die verbruiker gesluit het nie. Dit sou tot ân
louter absurditeit
aanleiding gee indien die owerheid, wat sonder
kontrak elektrisiteit voorsien, beskou sou word ân straftregtelike
oortreding te
begaan het. Die absurditeit sou vererger indien dit
beskou sou word dat sy voortgesette voorsiening van elektrisiteit aan
ân kliënt,
met wie hy ân jarelange stilswyende ooreenkoms ten
opsigte van elektrisiteitsvoorsiening het, as onwettig, ongeoorloof
en strafbaar
beskou sou word. Dit kon nooit die bedoeling van die
wetgewer gewees het nie. Indien ân skriftelike kontrak in sulke
gevalle ook
benodig sou wees, sou die verordening seer sekerlik ân
bepaling ten dien effekte bevat het. Dit is myns insiens nie nodig om
hierdie
standpunt aan die hand van die vermoede teen
retrospektiwiteit, soos deur Mnr Smit namens die eiser geopper (par
19 hierbo), te regverdig
nie.
[30] Hierdie uitleg betreffende die bedoeling van
die wetgewer word na my mening gestaaf deur die bepalings van
artikels 16 en 52(4)
van die verordening. Artkel 16 (par 12 hierbo)
maak voorsiening vir sekere regte en bevoegdhede wat aan die owerheid
toekom ten opsigte
van die vasstelling van tariewe vir
elektrisiteitsverbruik, die lewering van rekenings in verband daarmee
en die afsluit van toevoer
by wanbetaling deur die verbruiker.
Artikel 52(4) (par 13 hierbo) gee weer aan die owerheid die
bevoegdheid om, binne sekere perke,
foute in rekenings reg te stel.
Daar is nie sprake daarvan dat hierdie regte en bevoegdhede nie
uitgeoefen mag word tensy die owerheid
met die betrokke verbruiker
skriftelik gekontrakteer het nie.
[31] Dat die verbodsbepaling juis teen die
ongemagtigde verbruik van elektrisiteit deur voornemende verbruikers
gerig word, blyk ten
duidelikste uit die strafbepaling vervat in
artikel 54 (par 11 hierbo). Slegs ân verbruiker kan ân oortreding
begaan soos in
hierdie bepaling bedoel. Indien die wetgewer bedoel
het dat die owerheid eweneens sodanig sou kon oortree, sou hy dit
onomwonde gestel
het.
[32] Met verwysing na die regsbeginsels hierbo
uiteengesit ten opsigte van die uitwerking van handelinge in stryd
met verbodsbepalings
(par 23 en 24 hierbo), is ek dus tevrede dat die
wetgewer in die onderhawige geval geensins die bedoeling gehad het om
elektrisiteitsvoorsiening
sonder ân voorafgaande skriftelike
kontrak as ongeoorloof, onwettig en strafbaar te beskou nie. Nog
minder was dit die bedoeling
van die wetgewer om bestaande
stilswyende ooreenkomste, soos dié tussen die eiser en verweerder,
as nietig en onafdwingbaar te beskou
indien dit nie deur ân
skriftelike ooreenkoms vervang is nie.
GEVOLGTREKKING
[33] Dit
volg uit bogemelde oorwegings dat die verweerder nie daarin geslaag
het om my te oortuig dat die eiser se vordering geen
skuldoorsaak
openbaar nie. Die punt
in limine
moet dus afgewys word.
[34] Wat die
koste van die aangeleentheid betref, is ek van mening dat die
gebruikmaking van twee advokate nie geregverdig was nie,
hoe nuttig
dit ook al vir Mnr Smit was om bekwaam deur Me Fichardt bygestaan te
word.
[35] Bygevolg
word die punt
in limine
met koste van die hand gewys.
D H VAN ZYL
Regter van
die Hooggeregshof