Neels and Others v Burgemeester (Opvolger in Titel van die Mier Plaaslike Oorgangsraad) and Others (518/2001, 580/2001) [2002] ZANCHC 33 (11 November 2002)

82 Reportability
Administrative Law

Brief Summary

Administrative Law — Review of administrative decision — Applicants sought review of decision by local council to allocate grazing land — Council's decision based on alleged political affiliations rather than established criteria — Applicants contended that the council failed to properly consider applications as per its own laid-down criteria — Court found that the council's decision was not made in accordance with the prescribed criteria and was therefore reviewable — Decision set aside.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2002
>>
[2002] ZANCHC 33
|

|

Neels and Others v Burgemeester (Opvolger in Titel van die Mier Plaaslike Oorgangsraad) and Others (518/2001, 580/2001) [2002] ZANCHC 33 (11 November 2002)

Verslagwaardig:
Ja / Nee
Sirkuleer aan
Regters: Ja / Nee
Sirkuleer
aan Landdroste: Ja / Nee
IN DIE
HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse
Afdeling)
Saakno: 518/2001 &
580/2001
Datum
Verhoor: 2002-11-01
Datum Gelewer: 2002-11-11
In
die saak van
:
WILLEM
NEELS & 12 ANDER APPLIKANTE
versus
DIE
BURGEMEESTER (OPVOLGER IN TITEL VAN RESPONDENTE
DIE
MIER PLAASLIKE OORGANGSRAAD) &
85
ANDER
Coram:
MAJIEDT R
et
LACOCK
R
UITSPRAAK
MAJIEDT
R:
Hierdie
is ‘n hersieningsaansoek ingevolge Eenvormige Hofreël 53 vir die
hersiening van ‘n besluit van die Eerste Respondent
geneem op 15
November 2000. Ingevolge daardie besluit is grond toegeken aan die
Vierde tot Vyftiende Respondente om te huur, welke
grond aangewend
sal word vir die weiding van vee.
Die
stukke hierin is geweldig omvangryk en gaan die hersieningsaansoek
ook saam met ‘n interdik aansoek (saaknommer 580/2001)
wat nou
verweef is met die hersieningsaansoek. Ek sal van tyd tot tyd verwys
na die hersieningsaansoek hierin as die “
hoofaansoek
”.
Gegewe die feit dat Mnr Jacobs, wat namens die Respondente hierin
verskyn, uiteindelik heeltemal handdoek ingegooi het en
toegegee het
dat in die hoofaansoek die Eerste Respondent se besluit van 15
November 2000, hersien en tersyde gestel behoort te
word, is dit nie
nodig om in groot besonderhede te handel met die feitegeskille
hierin nie.
Ek
handel kortliks met die agtergrond tot hierdie hersieningsaansoek.
Hierdie betrokke besluit van die Eerste Respondent hou direk
verband
met saaknommers 314/97 en 315/97 in hierdie Hof waarin 53 eisers
aksie ingestel het teen die derde respondent (die Nasionale
Minister
van Landbou- en Grondsake), Eerste Respondent se voorganger, sowel
as ‘n verskeidenheid ander verweerders. In daardie
aksies het
inwoners van die Mier-gebied aksie ingestel om registrasie van
transport te bekom van vaste eiendom. Die aangeleentheid
is
uiteindelik geskik en deel van die skikking het bepaal dat die
eisers in daardie aangeleenthede geregtig sou wees op slegs een
plaas (van die eisers het in daardie aangeleentheid aanspraak gemaak
op die oordrag van meer as een plaaseiendom). Daar was ook
ooreengekom dat in daardie gevalle waar ‘n eiser aanspraak gemaak
het op meer as een plaaseiendom en ter skikking aanvaar het
dat
slegs een plaaseiendom se oordrag bewerkstellig sou word aan
hom/haar, dan sou sodanige eiser se seun(s) goedgunstiglik oorweeg
word wanneer die verhuring van grond vir weidingsdoeleindes ter
sprake kom. Alhoewel hierdie laaste aspek aanvanklik hewig in
geskil geplaas is deur die respondente, is dit uiteindelik een van
die vele toegewings wat Mnr Jacobs namens die Respondente gemaak
het
en staan dit dus as bewese.
Die
skikkingsakte ten aansien van die voormelde voorafgaande aksies is
op 26 Augustus 2000 onderteken. Op 10 Augustus 2000 het
die Mier
Plaaslike Oorgangsraad (hierna verder verwys as “
die
Raad
”)
op ‘n raadsvergadering besluit dat daardie plase wat ingevolge die
skikkingsooreenkoms afgestaan is deur die Eisers en wat
beskikbaar
was om te huur vir weidingsdoeleindes, adverteer sou word vanaf 14
Augustus 2000 tot 15 September 2000. Die advertensies
is inderdaad
aangebring op openbare plekke en daarvolgens is ‘n uitnodiging
gerig aan die publiek om aansoek te doen vir die
huur van die plase
vir ‘n termyn van drie jaar. Die Applikante, sowel as ‘n hele
aantal van die Respondente, het almal gereageer
op hierdie
uitnodiging en het aansoeke ingedien by die Raad. Op ‘n
vergadering van die Raad van 15 November 2000 is al die aansoeke
oorweeg en is ‘n besluit daaraangaande geneem. Dit is hierdie
besluit van 15 November 2000 wat die onderwerp vorm van hierdie
hersieningsaansoek.
Dit
is nodig om eers te verwys na die spesiale Raadsvergadering van 19
Oktober 2000, alvorens die gebeure van 15 November 2000 en
Applikante se redes vir hul onvergenoegdheid met die besluit van
laasvermelde vergadering behandel word. Op 19 Oktober 2000 se
vergadering het die Raad kriteria uiteengesit na aanleiding waarvan
alle aansoekdoeners se aansoeke vir die huur van die weidingstroke
beoordeel sou word. Daar is ook tydens daardie vergadering op ‘n
tydsraamwerk besluit ingevolge waarvan:
besware
ingedien kon word tot en met 8 November 2000;
keuring
sou geskied op 15 November 2000;
huurkontrakte
gesluit sou word met die suksesvolle applikante gedurende die
periode 20-24 November 2000.
Ingevolge
die Raad se besluit van 15 November 2000 was die suksesvolle
aansoekdoeners die volgende: die Vierde tot en met die Veertiende
Respondente tot die aansoek. Die Applikante het verskeie
hersieningsgronde aangevoer op grond waarvan hierdie voormelde
besluit
hersien en tersyde gestel behoort te word. In hoofsaak voer
die Applikante aan dat:
die
besluit geneem is om weidings toe te ken op grond van
partypolitieke affiliasies en nie op grond van enige meriete nie
(daar
word beweer dat die Eerste Respondent se lede in blok gestem
het ooreenkomstig partypolitieke lidmaatskap);
Eerste
Respondent het nie die kriteria toegepas wat hyself neergelê het
vir die beoordeling van die aansoeke nie;
Raadslede
van die Eerste Respondent het hulleself sowel as hul familielede
begunstig ten koste van die Applikante sonder dat daar
enige
regverdiging daarvoor bestaan;
Daar
is versuim om die publiek uit te nooi om besware aan te teken soos
wat die Raad self besluit het moes gebeur het.
Te
alle tersaaklike tye hierin was die Raad as volg gekonstitueer: ses
lede van die Raad was lede van die ANC en het daardie party
verteenwoordig op die Raad, terwyl die orige vier lede van die Raad
lede van die NNP was en daardie party op die Raad verteenwoordig
het. Dit is opmerklik dat, op die vergadering van 15 November 2000,
by elke geleentheid waar die Raadslede tot stemming moes oorgaan,
het die ANC-lede as ‘n blok gestem terwyl die NNP-lede dieselfde
gedoen het. Dit het beteken dat wanneer die voorsitter buite
stemming gebly het, het die oorblywende vyf lede van die ANC almal
as ‘n blok gestem en het hulle die vier NNP lede wat ook as
‘n
blok gestem het, uitgestem. By sommige geleenthede, so blyk dit uit
die notules wat by die stukke aangeheg is, moes ‘n
ANC Raadslid
buite stemming bly en in so ‘n geval het die voorsitter sy stem
uitgebring ten gunste van die ANC-blok (die voorsitter
was ook ‘n
ANC-lid) en het hulle weer eens die NNP-blok uitgestem. Die
Applikante beweer dat die suksesvolle aansoekdoeners
vir die huur
van die weidingstroke (d.w.s. die Respondente waarna ek vroeër
verwys het), almal ANC-lede was. Die Applikante voer
verder aan dat
alle onsuksesvolle aansoekdoeners tot die grond nie ANC-lede is nie.
Daar
is aansienlike meriete in hierdie beweringe, soos nader toegelig
deur Mnr Danzfuss in sy betoog namens die Applikante.
Dit is
egter na my mening nie nodig om hieraangaande te beslis nie,
aangesien ek die mening toegedaan is dat daar oorvloediglik
op die
stukke aangetoon is deur die Applikante dat die Eerste Respondent
versuim het om die aansoeke behoorlik te oorweeg aan die
hand van
kriteria wat die Eerste Respondent self neergelê het op die
vergadering van 19 Oktober 2000. Daarmee gepaardgaande is
ek die
mening toegedaan dat die Eerste Respondent se besluit gevolglik
hersienbaar is op die voormelde grond, sowel as op die basis
dat
tersaaklike oorweginge glad nie in aanmerking geneem is nie, terwyl
ontersaaklike beweegredes wel in aanmerking geneem is.
Alvorens
ek in meer besonderhede handel met die redes waarom ek tot die
voormelde gevolgtrekking kom, is dit nodig om kommentaar
te lewer
oor die Respondente se opponerende stukke hierin. Al die
Respondente het kennis gegee van hulle opponering van die aansoek.

Die hoof opponerende eedsverklaring namens die Respondente is dié
van die Vier-en-tagtigste Respondent, die voorsitter van die
Raad.
Verskeie van die ander Respondente het ondersteunende
eedsverklarings ter ondersteuning van dié hoof opponerende
eedsverklaring
afgelê. Enkele van die suksesvolle aansoekers vir
die weidingstroke het versuim om enige eedsverklarings voor die Hof
te plaas.
Ek is egter bereid om in hulle guns te aanvaar dat hulle
gemeensaak maak met die opponering van die aansoek binne die
raamwerk
wat in die Vier-en-tagtigste Respondent se eedsverklaring
voorgehou word.
Dit
is nou reeds geykte reg wat ‘n geregshof se benadering behoort te
wees by die beregting van ‘n bestrede mosie soos die onderhawige.

Daarvolgens word ‘n finale bevel slegs verleen waar daar
feitegeskille op die stukke bestaan in mosieprosedure as die feite
soos aangevoer deur die Respondente tesame met die ooreengekome
feite in die Applikante se stukke sò ‘n finale bevel onderlê.

Feitegeskille moet egter benader word op die basis dat slegs
bona
fide
feitegeskille
sodanige oorweging verg. Waar ‘n Respondent slegs naakte
ontkennings maak en nie
bona
fide
dispute skep nie, kan dit nie in aanmerking geneem word nie. Dit
mag verder gebeur dat ontkennings komende van ‘n Respondent
so
verregaande of duidelik onhoudbaar is dat ‘n geregshof heeltemal
geregverdig is om dit sondermeer te verwerp op die stukke.
Sien
in hierdie verband die benadering gevolg in
Stellenbosch
Farmers’ Winery (Pty) Ltd v Stellenvale Winery (Pty) Ltd 1957(4) SA
234 (K)
te 235 E-G;
Plascon-Evans
Paints v Van Riebeeck Paints 1984(3) SA 623 (A)
te 634 E- 635 C.
In
hierdie aangeleentheid wemel die Respondente se opponerende stukke
van naakte ontkennings, verregaande en onhoudbare beweringe
en kom
dit heel dikwels voor dat die hoof deponent namens die Respondente
versuim om met belangrike en pertinente aspekte te handel.
Dit het
gevolglik glad nie verbaas nie dat Mnr Jacobs noodgedwonge
uiteindelik die meriete hierin moes toegee.
Dit
is gemene saak in die stukke dat die Raad tydens sy raadsvergadering
van 19 Oktober 2000 die volgende kriteria neergelê het
waaraan alle
aansoeke vir die verhuring van die grond vir weidingstroke gemeet
sou word:
‘
n
Applikant sal net toegelaat word om een plaas/weidingseenheid te
huur;
Applikante
moet Mier-inwoners wees;
Applikante
moet ten doel hê om self te boer en nie onderverhuur nie;
Applikant
moet hom/haar self as boer bewys het;
Voormalige
huurders se slegte grondgebruikpraktyke sal teen hom/haar tel;
Voormalige
huurders se aantal jare van boerdery en se boerderyrekord sal in
aanmerking geneem word;
Huurders
wat huurgeld aan die Raad verskuldig is en wat agterstallig is met
hulle huurgeld tot en met 31 Oktober 1996 moet eers
hulle skulde
vereffen voordat hulle in aanmerking sal kom vir ‘n
huurooreenkoms;
Inwoners
wat alreeds eiendomsreg op ‘n plaas binne Mier verkry het, sal
nie toegelaat word om ‘n plaas te huur nie;
‘
n
Applikant se dienstegelde by die Raad moet op datum wees voor 15
November 2000.
Uit
die voorafgaande is dit baie duidelik dat ‘n behoorlike oorweging
van elke aansoek aan die hand van die vermelde neergelegde
kriteria
‘n aansienlike hoeveelheid tyd in beslag sou neem. Sò ‘n
proses sou egter ongetwyfeld ‘n weloorwoë evaluering
van die
meriete van elke aansoek daarstel.
Die
Applikante het na my mening heeltemal oortuigend aangetoon op die
stukke dat sò ‘n oorweging glad nie plaasgevind het nie.
Ek sê
dit vir die volgende redes:
13.1 Uit
die notule van die vergadering van 15 November 2000 blyk dit dat daar
bloot besluite geneem is aangaande welke grond aan
watter
aansoekdoener toegestaan word. Hierdie werkswyse staan in skrille
kontras teenoor ander agendapunte op dieselfde vergadering.
Op
sommige agendapunte reflekteer die notule ‘n volledige bespreking
alvorens ‘n besluit geneem word. Op ander punte weer blyk
dit uit
die notule dat ‘n besluit geneem word “
na
bespreking
”.
Dieselfde tendens doen hom voor by notules van ander vergaderings
wat deel van die stukke vorm (ondermeer die vergadering van
19
Oktober 2000 waarna ek alreeds hierin verwys het). Gevolglik kan
aanvaar word dat daar gewoonlik in notules van Raadsvergaderings
duidelik en pertinent aangeteken word wanneer daar wel besprekings op
bepaalde agendapunte gehou word voorafgaande die neem van besluite.

Derhalwe is die afleiding myns insiens onafwendbaar dat hierdie
besluite ten aansien van die allokering van die grond geneem is
sonder enige vooraf bespreking hoegenaamd. Die Applikante maak
inderdaad die bewering dat die Voorsitter (Vier-en-tagtigste
Respondent)
uitdruklik geweier het om enige bespreking toe te laat
alvorens besluite geneem word. Die Respondente ontken dit, maar is
sò ‘n
ontkenning onhoudbaar, gegewe die inhoud van die notules
soos hierbo uiteengesit.
13.2 Die
Applikante se bewering dat die Raadslede glad nie insae gehad het in
die aansoekvorms nie vind aanklank in die Respondente
se antwoordende
stukke. Die Respondente verklaar via die deponent in die hoof
opponerende eedsverklaring dat
opsommings
van alle aansoekvorms aan Raadslede voorsien was en dat die
aansoekvorms “
beskikbaar
was tydens die raadsitting
”.
Soos Applikant tereg aantoon is die sogenaamde “
opsommings
”
waarna die Respondente verwys, bloot maar aanhangsel “J” tot die
funderende stukke, te wete ‘n lys bevattende die name van
alle
aansoekerdoeners, hul aantal afhanklikes en veegetalle. Nêrens op
hierdie aanhangsel “J” verskyn enige verdere besonderhede
waarvolgens die bepaalde aansoekdoener aan die neergelegde kriteria
gemeet kan word nie. Inteendeel, daardie gedeelte van aanhangsel
“J”
wat voorsiening maak vir die motivering van elke aansoek is glad nie
ingevul nie. Daar kan kwalik beter bewys wees van die
gebrek aan
behoorlike oorweging van die meriete van die betrokke aansoeke as
aanhangsel “J” se inhoud en die feit dat dit gemeensaaklik
die
enigste rekord is wat die Raadslede ter insae gehad het.
13.3 Uit
die tydsduur van die vergadering self is dit duidelik dat ‘n
deeglike bespreking en oorweging van 115 aansoeke (soos wat
blyk uit
aanhangsel “J”) aan die hand van die tien kriteria neergelê
tydens die Raadsvergadering van 19 Oktober 2000 net eenvoudig
nie kon
afgehandel gewees het nie. Sò ‘n proses sou baie meer tyd in
beslag geneem het as die vyf ure wat die Raadsvergadering
van 15
November 2000 geduur het, veral as in ag geneem word dat daar
verskeie ander belangrike sake tydens daardie vergadering bespreek
is.
13.4 Seker
die verdoemendste faktor teen die Respondente is die wyse waarop
hulle geantwoord het op die Applikante se beweringe.
In die
funderende stukke het die Applikante volledig aan die hand van die
neergelegde kriteria beweer waarom hulle aansoeke suksesvol
behoort
te gewees het. Die Respondente, daarenteen, steun grootliks op blote
ontkennings hierop.In die enkele gevalle waar gepoog
is om verder te
gaan as naakte ontkennings, skiet die Respondente se beweringe ver te
kort en word dit in elk geval nie ondersteun
deur die stukke nie. ‘n
Vergelyking van die Applikante se besonderhede
ex
facie
hul aansoekvorms met dié van die Respondente aan wie grond
geallokeer is toon oortuigend aan dat die Applikante by uitstek meer
geskik is wanneer hulle gemeet word aan die kriteria. Enkele
voorbeelde van hierdie geskiktheid is die volgende:
al
die Applikante bewoon die bepaalde plase – sommige alreeds
lewenslank en andere vir baie jare en daarenteen het geeneen
van
die suksesvolle Respondente nog ooit die plase bewoon nie;
hulle
het almal verbeterings aangebring op die plase;
almal
van hulle het goeie boerdery-ervaring.
Ter
opsomming dus – daar is na my mening oorweldigende bewys op die
stukke dat die Raad gruwelik versuim het om behoorlike oorweging
aan
die meriete van elke aansoek te skenk, alvorens ‘n besluit geneem
is. Die regsposisie aangaande hierdie bepaalde aspek is
gesaghebbend neergelê as volg deur Corbett AR (soos hy toe was) in
Johannesburg
Stock Exchange & another v Witwatersrand Nigel Ltd & another
1988(3) SA 132(A)
te 152 A-E:
“
Broadly, in
order to establish review grounds it must be shown that the president
failed to apply his mind to the relevant issues
in accordance with
the 'behests of the statute and the tenets of natural justice' (see
National Transport Commission and Another
v Chetty's Motor Transport
(Pty) Ltd
1972 (3) SA 726
(A) at 735F - G; Johannesburg Local Road
Transportation Board and Others v David Morton Transport (Pty) Ltd
1976 (1) SA 887
(A) at 895B - C; Theron en Andere v Ring van
Wellington van die NG Sendingkerk in Suid-Afrika en Andere
1976 (2)
SA 1
(A) at 14F - G). Such failure may be shown by proof, inter
alia, that the decision was arrived at arbitrarily or capriciously or
mala fide or as a result of unwarranted adherence to a fixed
principle or in order to further an ulterior or improper purpose; or
that the president misconceived the nature of the discretion
conferred upon him and took into account irrelevant considerations or
ignored relevant ones; or that the decision of the president was so
grossly unreasonable as to warrant the inference that he had
failed
to apply his mind to the matter in the manner aforestated. (See cases
cited above; and Northwest Townships (Pty) Ltd v Administrator,
Transvaal, and Another
1975 (4) SA 1
(T) at 8D - G; Goldberg and
Others v Minister of Prisons and Others (supra at 48D - H); Suliman
and Others v Minister of Community
Development
1981 (1) SA 1108
(A)
at 1123A.) Some of these grounds tend to overlap.”
Hierdie
benadering is nagevolg in:
During
N.O. v Boesak & another 1990(3) SA 661 (A)
te
671 I – 672 D;
Jacobs
& ‘n ander v Waks & andere 1992(1) SA 521 (A)
te 550 H – 551 C;
Hira
& another v Booysen & another 1992(4) SA 69 (A)
te 84 F – J.
Vergelyk
verder ook:
Commissioner
of Customs & Excise v Container Logistics 1999(3) SA 777 (HHA)
te 785 F;
Tecmed
(Pty) Ltd v Eastern Cape Provincial Tender Board 2001(3) SA 735 (HHA)
te
741 B – C.
Bygevolg
staan die Raad se besluit van 15 November 2000 hersien en
tersydegestel te word.
Alvorens
ek bespreek wat die gepaste regshulp is wat toegestaan behoort te
word voortspruitend uit die hersiening en tersydestelling
van die
voormelde besluit, is dit nodig om baie kortliks te handel met ‘n
ander aspek. Mnr. Danzfuss het te berde gebring
die toepassing
van die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid, Wet
3 van 2000 (“
die
Wet
”)
. Dié Wet het op 30 November 2000 in werking getree en die
Raadsvergadering wie se besluit hersien staan te word het
plaasgevind
op 15 November 2000. Die Wet het nie terugwerkende krag
nie en is gevolglik nie van toepassing hier nie. In elk geval
kodifiseer
die Wet bloot die gemeenregtelike hersieningsgronde en
bly ‘n beswaarde steeds aangewese op sodanige gemeenregtelike
hersieningsgronde
ten aansien van administratiewe handelinge wat die
Wet se inwerkingstredingsdatum voorafgegaan het. Sò ‘n beswaarde
se reg
tot billike administratiewe handelinge is in elk geval
verskans in artikel 33(1) van die Grondwet, Wet 108 van 1996.
17.1 Mnr
Danzfuss het ons versoek om nie die aangeleentheid terug te verwys na
die Eerste Respondent nie, maar om te gelas dat huurkontrakte
toegeken word aan die Applikante hierin.
17.2 ‘n
Geregshof sal slegs by hoë uitsondering ‘n funksionaris se besluit
met sy eie vervang. Die regsposisie is as volg uiteengesit
deur
Hlope RP in
University
of the Western Cape & others v Member of Executive Committee for
Health and Social Services & others 1998(3) SA
124(K)
te
131 D-H:
“
Over the years
South African Courts have recognised that in exceptional
circumstances the Court will substitute its own decision for
that of
a functionary who has a discretion under the Act. Where the end
result is in any event a foregone conclusion and it would
merely be a
waste of time to order the tribunal or functionary to reconsider the
matter, the Courts have not hesitated to substitute
their own
decision for that of the functionary. (See Johannesburg City Council
v Administrator, Transvaal, and Another (supra at
76).) The Courts
have also not hesitated to substitute their own decision for that of
a functionary where further delay would cause
unjustifiable prejudice
to the applicant. (See Local Road Transportation Board and Another v
Durban City Council and Another
1965 (1) SA 586
(A) at 598--9.) Our
Courts have further recognised that they will substitute a decision
of a functionary where the functionary or
tribunal has exhibited bias
or incompetence to such a degree that it would be unfair to require
the applicant to submit to the same
jurisdiction again. (See
Johannesburg City Council v Administrator, Transvaal and Another
(supra at 76G)); Traube v Administrator,
Transvaal and Others, above
at 408.) It would also seem that our Courts are willing to interfere,
thereby substituting their own
decision for that of a functionary,
where the Court is in as good a position to make the decision itself.
Of course the mere fact
that a Court considers itself as qualified to
take the decision as the administrator does not per se justify
usurping the administrator's
powers or functions. In some cases,
however, fairness to the applicant may demand that the Court should
take such a view. (See Theron
en Andere v Ring van Wellington van die
NG Sendingkerk in Suid-Afrika en Andere
1976 (2) SA 1
(A) , where
Jansen JA held that the Court could substitute its own decision
because it was dealing with a type of decision with which
it was
fully familiar and referring the matter back would serve no purpose
(at 31D--E).)”
Vergelyk
ook:
Douglas
Hoërskool en andere v Premier Noord-Kaap 1999(4) SA 1131 (NK)
te 1148 D – 1149 D.
Ek
ag dit dienstig om op hierdie stadium eers te handel met die posisie
aangaande plase 23 en 81 alvorens ek besin oor Mnr Danzfuss
se
submissies rakende terugverwysing al dan nie.
18.1 Plaas
23 wat toegeken is aan die Vyftiende Respondent (‘n lid van die
Raad) was nooit geadverteer vir verhuring nie. Om daardie
rede was
die Raad nie regtens bevoegd om ‘n besluit aangaande die allokering
daarvan te maak nie. Bowendien en in elk geval beweer
die
onsuksesvolle aansoekdoener, die Twaalfde Applikant hierin, dat hy:
reeds
vyftien jaar op plaas 23 boer; en
verskeie
verbeteringe daarop aangebring het; en
‘
n
geldige huurkontrak aan hom toegestaan is ten aansien van die
betrokke plaas alreeds gedurende 1999.
Meneer
Jacobs het heeltemal tereg toegegee dat die Raad homself gruwelik
wanvoorgelig het ten aansien van hierdie plaas en dat daar
nie met
die
status
quo
gepeuter moes word nie. Geen terugverwysing is hier nodig nie – sò
het hy toegegee. Ek meen dat hierdie heeltemal die korrekte
toegewing is en dat hierdie Hof bloot die toekenning van hierdie
plaas tersyde behoort te stel.
18.2 Wat
plaas 81 aanbetref, is dit aan die Agste Respondent toegeken.
Hierdie Respondent het egter slegs vir plaas 95 aansoek gedoen.
Waar
hy op die aansoekvorm ‘n keuse moes aandui of hy vir ander plase in
aanmerking geneem wou word ingeval sy aansoek ten aansien
van plaas
95 onsuksesvol sou wees, het die Agste Respondent pertinent “
NEE
”
geantwoord. Meneer Jacobs se toegewing hier is eweneens korrek dat
die Raad ook hier gruwelik misgetas het en dat terugverwysing
derhalwe nie nodig of billik sou wees nie.
Wanneer
die tersaaklike regsbeginsels ten aansien van die vervanging van ‘n
funksionaris se besluit met dié van ‘n geregshof
s’n nou
toegepas word op die onderhawige aangeleentheid dan val die volgende
op:
19.1 Die
Raad het gruwelik versuim om sy selfneergelegde kriteria in
aanmerking te neem tydens die besluitnemingsproses.
19.2 Geen
bespreking hoegenaamd het die gewraakte besluite voorafgegaan nie.
19.3 Daar
is baie sterk aanduidings van vooroordeel teen die Applikante in die
besluitnemingsproses.
19.4 Op
die stukke is daar oorredende bewyse van verskuilde agendas en
bymotiewe aan die kant van daardie Raadslede wat ten gunste
van die
gewraakte besluite gestem het.
19.5 Inaggenome
my vroeëre opmerkings hierin aangaande die geskiktheid van die
Applikante teenoor dié van die suksesvolle Respondente
(sien par.
13.4
supra
),
is die uitslag na my mening in elk geval ‘n uitgemaakte saak.
Vergelyk
Johannesburg
City Council v Administrator, Transvaal & another 1969(2) SA 72
(T)
te
76.
19.6 Al
die aansoeke wat voor die Raad gedien het is voor die Hof –
gevolglik is hierdie Hof in net so ‘n goeie posisie as die
Raad om
‘n besluit te kan neem.
19.7 Oorwegings
van billikheid en regverdigheid jeens die Applikante vereis dat
hierdie Hof self die besluite moet neem.
Vergelyk
Theron
& andere v Ring van Wellington van die NG Sendingkerk in
Suid-Afrika & andere
1976 (2) SA 1
(A)
te
31 D – E.
19.8 Alles
inaggenome is die Raad se vooroordeel teen die Applikante, sowel as
sy onbekwaamheid en bymotiewe van sodanige aard dat
dit onbillik sou
wees om van die Applikante te verwag om hulle weer aan die Raad se
oorwegings- en besluitnemingsproses te onderwerp.
Vergelyk
Traube
v Administrator, Transvaal & others 1989(2) SA 396 (T)
te 408.
20.1 Meneer
Jacobs het ons
ex
parte
vanaf die Balie meegedeel dat die Raad wat die gewraakte besluit
geneem het op 15 November 2000 nie dieselfde Raad is wat huidiglik
in
plek is nie. Die verandering in plaaslike owerheidstrukture het ook
sy beslag in die verafgeleë Mier gevind, vandaar die verandering
in
struktuur en in konstituering. Op sterkte hiervan het Mnr Jacobs
betoog dat dit billik en regverdig sou wees dat die aangeleentheid
terugverwys word na hierdie nuwe, anders gekonstitueerde liggaam.
20.2 Ek
was aanvanklik beïndruk met hierdie submissie en was ek die
prima
facie
mening toegedaan dat dit sinvol sou wees om die aangeleentheid terug
te verwys. Meneer Danzfuss het egter in repliek hierdie ballon
geprik met sy mededelings aan ons dat:
die
“
nuwe
”
Raad in plek gekom het gedurende vroeg Desember 2000, d.w.s. lank
voor die uitreiking van hierdie aansoek; en
dit
hierdie “
nuwe
”
Raad is wat hierdie aansoek en die interdik aansoek met hand en tand
bestry het totdat Mnr Jacobs die handdoek ingegooi het
voor ons; en
die
vernaamste
dramatis
personae
wat die dryfvere agter die Respondente se opponering van hierdie
aansoek sowel as die interdik aansoek is, te wete Vier-en-tagtigste
Respondent en Drie-en-tagtigste Respondent, steeds op die huidige
Raad dien.
20.3 Uiteindelik
sal dit dus maar ‘n geval wees van ses van die een en ‘n halwe
dosyn van die ander – die oorvloedige redes
wat bestaan om nie die
aangeleentheid terug te verwys na die oorspronklike besluitnemer nie
geld
mutatis
mutandis
vir die huidige Raad.
20.4 Na
my mening dus behoort ‘n bevel soos aangevra in paragrawe 1 en 2
van die Applikante se Reël 53-Kennisgewing toegestaan
te word,
behalwe dat plaas 23 op ‘n ander basis benader moet word, vir die
redes alreeds hierin vermeld.
Ek
handel vervolgens met die interdikaansoek in saaknommer 580/2001.
Ek het in paragraaf 2 hierbo sydelings melding gemaak daarvan.

Daardie aansoek was gebaseer op die mandament van spolie. Ek skets
kortliks die verloop van die gebeure in daardie saak:
21.1 Die
aansoek is geliasseer as ‘n saak van dringendheid op 13 Junie 2001
– daarin is hierdie Hof versoek om
pendente
lite
(saaknommer 518/2001) die Applikante se ongestoorde besit en
okkupasie van die bepaalde plase te herstel en/of te beskerm.
21.2 Op
15 Junie 2001, toe die aansoek aangehoor moes word, het die
Respondente ‘n skriftelike onderneming verskaf, welke onderneming
grootliks ooreengestem het met die smeekbedes in Applikante se
Kennisgewing van Mosie. Hierdie onderneming is deur die Hof
genotuleer
en is die aansoek
sine
die
uitgestel. Daar was namens die Respondente deur hul
regsverteenwoordiger onderneem dat die voormelde skriftelike
onderneming omskep
kon word in ‘n Hofbevel sou die skriftelike
onderneming nie nagekom word nie.
21.3 Aangesien
die Respondente die skriftelike onderneming verbreek het, is die
aansoek ter rolle geplaas op 6 Julie 2001 en is ‘n
bevel
nisi
verleen met tussentydse regskrag in ooreenstemming met die mondelinge
onderneming deur die Respondente se regsverteenwoordiger.
Dié bevel
nisi
het eintlik maar neergekom op ‘n omskepping van die voormelde
skriftelike onderneming in ‘n hofbevel.
21.4 Daarna
is die keerdag van die bevel
nisi
by verskeie geleenthede by ooreenkoms tussen die partye verleng.
Meneer
Jacobs het, ten spyte van die feit dat die Respondente die
bekragtiging van die tussentydse interdik bestry, nòg in sy

betoogshoofde nòg in sy mondelinge betoë voor ons, hoegenaamd
gehandel met die interdikaansoek. Inteendeel, hy het, wat koste
aanbetref, toegegee dat ‘n spesiale kostebevel in daardie aansoek
geregverdig sal wees. Meneer Jacobs se onvermoë om enige
submissies aangaande die interdikaansoek te maak is heeltemal te
verstane. Dit gaan my verstand te bowe dat die Respondente hulle
weg kon oopsien om daardie aansoek te bestry. Nie net het die
Respondente daar glad nie gehandel met die bewerings dat hulle nie
hul skriftelike onderneming gestand gedoen het nie, maar het hulle
bowendien jammerlik gefaal om enige verweer of verwere in hul
opponerende stukke te opper.
Dit
ly gevolglik geen twyfel nie dat die bevel
nisi
in saaknommer 580/2001 bekragtig behoort te word.
Die
laaste aspek wat oorweging verg is die koste van die aansoeke. Ek
ag dit dienstig om eers te handel met die spesiale kostebevel
in die
interdikaansoek. Die Applikante het in hul Kennisgewing van Mosie
gevra dat die koste van daardie interdikaansoek oorstaan
vir
beregting tesame met die beregting van die hoofaansoek. Soos
hieruit blyk, is die advokate dit eens dat ‘n spesiale kostebevel
geregverdig is. Meneer Danzfuss vra egter vir ‘n bevel van koste
op die skaal soos tussen prokureur en eie kliënt. Hierdie
versoek
is reeds voorafgeskadu in sy betoogshoofde in daardie
aangeleentheid, gedateer 15 Oktober 2001.
Die
Hoogste Hof van Appél het in beginsel aanvaar dat ‘n bevel vir
prokureur en eie kliënt koste regtens bestaanbaar is in gepaste
gevalle, alhoewel daardie Hof nog nie pertinent daaraan oorweging
geskenk het nie.
Sien:
Thoroughbred
Breeders’ Association v Price Waterhouse 2001(4) SA 551 (HHA)
te
596 F – I.
Die
oogmerk met die toestaan van so ‘n bevel is: “
om
toe te sien dat die onsuksesvolle party van alle redelike koste van
die litigasie gevrywaar word
”,
per Eksteen AR in
Sentrachem
Ltd v Prinsloo
1997 (2) SA 1
(A)
te
22 B – C. Sò ‘n bevel is uitsonderlik en kan slegs op gegronde
redes gemaak word.
Sentrachem
Ltd v Prinsloo
,
supra
,
te 22D. Een sò ‘n gegronde rede sal wees die manier waarop ‘n
party litigasie gevoer het;
Vergelyk:
Minister
van die SA Polisie v Kraatz 1973(3) SA 490 (A)
te
513 H – 514 A.
26.1 In
die interdikaansoek het die Applikante alreeds so vroeg as 24 Mei
2001 per skrywe van hul prokureur ‘n versoek gerig aan
die Raad dat
die
status
quo
ten aansien van die besit en okkupasie van die plase gehandhaaf word
totdat die hersieningsaansoek afgehandel is. Die Raad het hierop
geantwoord met ‘n skrywe tot dien effekte dat die Raad die versoek
by ‘n spesiale vergadering op 28 Mei 2001 sou oorweeg.

Daardie vergadering is egter uitgestel en daar is nooit gereageer op
hierdie versoek nie. Die Applikante was dus verplig om die
aansoek
vir ‘n interdik te bring.
26.2 Ek
het alreeds hierin verwys na die skriftelike onderneming wat deur die
Respondente verskaf is en wat toe flagrant deur hulle
verbreek is.
Die feite daaraangaande is gemeensaak op die stukke en die verbreking
van die onderneming is heeltemal tereg toegegee
deur Mnr Jacobs.
26.3 Nieteenstaande
die voorafgaande gebeure, het die Respondente volhard met hul
opponering van die aansoek in saak 580/2001 –
sodanige opponering
was op ondeurdagte en ontersaaklike gronde gevoer.
26.4 Alles
inaggenome meen ek dat hierdie by uitstek ‘n geval is waar hierdie
Hof sy afkeur aangaande die Respondente se optrede
op besliste wyse
behoort te betoon deur ‘n kostebevel op ‘n skaal tussen prokureur
en eie kliënt.
27.1 Wat
die koste van die hoofaansoek aanbetref het Mnr Danzfuss gevra vir
prokureur- en kliënt koste. Dit is nie ongewoon dat
Howe sò ‘n
bevel uitreik waar ‘n Respondent/Verweerder versuim om enige
verweer/e te opper en tog op halsstarrige wyse volhard
met die
bestryding van ‘n aansoek/aksie nie.
Sien:
SA
Droëvrugtekoöperasie Bpk v SA Raisins (Edms) Bpk
[1999] 3 All SA
245
(NK)
te
255 h – 256 j, en gewysdes daar aangehaal.
Aan
die ander kant van die skaal egter moet ‘n Hof daarteen waak om nie
met die voordeel van terugblik te oorreageer op ‘n litigant
se
laksheid of onbekwaamheid nie.
Sien:
AA
Alloy Foundry (Pty) Ltd v Titaco Projects (Pty) Ltd 2000(1)
SA 639 (HHA)
te
648 E.
Alhoewel
daar aansienlike meriete in Mnr Danzfuss se betoë aangaande ‘n
prokureur-kliënt kostebevel is, het ek in die uitoefening
van my
diskresie en nà oorweging van al die tersaaklike feite hierin,
besluit op ‘n gewone party-party kostebevel in die hoofaansoek.
27.2 Alhoewel
die Applikante in hul Reël 53-kennisgewing gevra het vir ‘n
kostebevel
de
bonis propriis
teen daardie Respondente wat lede van die Raad was toe die gewraakte
besluit geneem is, het hy nie daarmee gehandel in sy mondelinge
betoë
nie. Ek meen in elk geval dat sò ‘n bevel nie
in
casu
geregverdig is nie.
27.3 Die
kostebevel in die hoofaansoek moet na my mening ook die koste van die
aansoek vir uitstel sowel as die koste meegebring deur
die
daaropvolgende uitstel van 12 Augustus 2002 insluit. Die Applikante
kan tog nie gepenaliseer word vir die Respondente se nalate
om ‘n
afskrif van hul opponerende eedsverklarings in die hoofaansoek aan
die Applikante behoorlik af te lewer soos bedoel in Reël 6(5)(d)(ii)
saamgelees met Reël 1 nie.
27.4 Die
koste van die verskeie uitstelle van die aansoek in saaknommer
580/2001 behoort myns insiens ingesluit te word by die kostebevel
ten
aansien van saaknommer 580/2001 (sien paragraaf 26.4 hierbo), tensy
anders gelas deur die Hof wat die uitstel verleen het.
28. Ek
ag dit nodig om ‘n opmerking ter afsluiting te maak. Grond en die
besit daarvan is ‘n uiters emosionele kwessie. Ongekontroleerde
en
onwettige okkupering van grond kan lei tot katastrofiese gevolge –
ons hoef nie te ver te gaan kyk nie om te besef wat die uiteinde
daarvan kan wees. Ek wil die partye hierin dit op die hart druk dat
hulle ernstig daarna moet streef om:
hierdie
Hofbevel te eerbiedig; en
tot
‘n billike vergelyk te kom wanneer die Applikante se huidige
huurkontrakte verstryk, ten einde te verseker dat alle
bona
fide
voornemende grondeienaars of –besitters toegang tot grond bekom.
‘n Ernstige kwelling in my gemoed is die feit dat diegene
wat nie
voorheen toegang tot grond gehad het nie, soos die meeste van die
Respondente hierin, op die een of ander wyse tegemoet
gekom sal moet
word, maar nie noodwendig ten koste van verdienstelike kandidate
soos die Applikante nie.
29. Ek
reik die volgende bevel uit:
Die
besluit van die Eerste Respondent se voorganger in titel geneem op
15 November 2000 waarvolgens huurkontrakte ten aansien van
die
hiernavermelde plase, elkeen synde ‘n gedeelte van die plaas Mier
nr. 585, geleë in die landelike gebied Mier, distrik
Gordonia,
aan die hiernavermelde persone onderskeidelik toegeken word, word
hiermee hersien en tersyde gestel:
Plaasnommer
1 : Tiende Respondent
Plaasnommer
23 : Vyftiende Respondent
Plaasnommer
36 : Twaalfde Respondent
Plaasnommer
62 : Vyfde Respondent
Plaasnommer
65 : Elfde Respondent
Plaasnommer
68 : Dertiende Respondent
Plaasnommer
74 : Vierde Respondent
Plaasnommer
81 : Agste Respondent
Plaasnommer
92 : Veertiende Respondent
Plaasnommer
95 : Sewende Respondent
Plaasnommer
106 : Sesde Respondent
Plaasnommer
115 : Negende Respondent
Dit
word gelas dat Eerste Respondent binne 14 dae vanaf die datum van
hierdie bevel ‘n standaardhuurkontrak sal sluit met elkeen
van die
Applikante hierin, uitgesonderd die Twaalfde Applikant, vir die huur
van die plase waarvoor die betrokke Applikante aansoek
gedoen het
teen die standaard huurgeld en op die standaardvoorwaardes wat tans
geld ten aansien van die bepaalde eiendomme.
Dit
word genotuleer dat die huurtermyn ten aansien van die plase bedoel
in (C) hierbo, ‘n tydperk van drie (3) jaar sal wees,
welke termyn
‘n aanvang geneem het op 24 November 2000.
Die
Eerste, Vierde tot en met Vyftiende en die Drie-en-tagtigste tot en
met die Ses-en-tagtigste Respondente word gelas om gesamentlik
en
afsonderlik die koste van die aansoek in saaknommer 518/2001 te
betaal – sodanige koste sal insluit die koste van die aansoek
vir
uitstel en die koste teweeggebring deur die uitstel op 12 Augustus
2002.
Die
Respondente vermeld in (D) hierbo word gelas om gesamentlik en
afsonderlik die koste van die aansoek in saaknommer 580/2001
te
betaal op ‘n skaal soos tussen prokureur en eie kliënt –
sodanige koste sal insluit die koste van alle uitstelle, behalwe
waar die Hof wat die uitstel gelas het anders beveel het.
___________
SA
MAJIEDT
REGTER
Ek
stem saam:
___________
HJ
LACOCK
REGTER
ADVOKAAT
NAMENS APPLIKANTE : FWA DANZFUSS
ADVOKAAT
NAMENS RESPONDENTE : SB JACOBS
PROKUREUR
NAMENS APPLIKANTE : DUNCAN & ROTHMAN
PROKUREUR
NAMENS RESPONDENTE : MNRE TOWELL & GROENEWALDT
DATUM
VAN VERHOOR : 2002-11-01
DATUM VAN
UITSPRAAK : 2002-11-11