S v Visagie (CA & R 142/01) [2002] ZANCHC 12 (3 May 2002)

55 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Sentencing — Appeal against sentence — Appellant convicted of theft and forgery while employed as a bank teller — Sentenced to 6 years for theft and 1 year for forgery, to run concurrently — Appellant argued sentence was shockingly inappropriate given personal circumstances and first-time offender status — Court held that trial court properly considered both mitigating and aggravating factors, including the premeditated nature of the theft and the significant amount stolen — Appeal dismissed, sentence upheld as not shockingly inappropriate.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2002
>>
[2002] ZANCHC 12
|

|

S v Visagie (CA & R 142/01) [2002] ZANCHC 12 (3 May 2002)

Verslagwaardig: Ja / Nee
Sirkuleer aan Regters:
Ja / Nee
Sirkuleer
aan Landdroste: Ja / Nee
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN
SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Afdeling)
Saakno:
CA
& R 142/01
Datum
verhoor:
2002-04-29
Datum
gelewer:
2002-05-03
In
die appél van
:
MARIA HELENA VISAGIE APPELLANT
versus
DIE STAAT RESPONDENT
Coram:
MAJIEDT R
et
LACOCK R
UITSPRAAK OP APPéL
MAJIEDT R:
Die Appellant kom in hoër beroep teen die vonnis wat haar opgelê
is in die Streekhof nadat sy skuldig bevind is aan diefstal
en
vervalsing, welke skuldigbevinding gevolg het op ‘n pleit van
skuldig op dié betrokke aanklagte.
Die Appellant is ten aansien van die diefstal
gevonnis tot 6 jaar gevangenisstraf en ten aansien van die
vervalsing tot 1 jaar gevangenisstraf.
Daar is ingevolge die
bepalings vervat in art 280 van die Strafproseswet (Wet 51 van
1977,
“die Wet
”)
gelas dat die vonnisse samelopend uitgedien moet word.
Die feite van hierdie aangeleentheid soos dit
blyk
ex facie
die Appellant se skriftelike pleitverduideliking ingevolge
art 112(2) van die Wet, welke feitebasis aanvaar is deur die
Staat
is as volg:
Die Appellant was ‘n werknemer van Absa Bank te Upington waar sy
in beheer was van ‘n subtak as ‘n tellerkontroleur. Sy
was
sedert 1984 in diens van die bank.
In haar posisie as tellerkontroleur by die
subtak soos voormeld, was sy ook in beheer van die gelde wat in die
kluis by die subtak
gehou is. Sy het gedurende Maart 1996 begin om
geld uit die kluis te steel en het daarmee volgehou tot ongeveer
Februarie 2001.
Haar
modus operandi
was kortliks as volg:- Sy was bewus daarvan dat die hooftak se
personeellede die geldnote in die kluis nagegaan het, maar nie
die
muntstukke nie. Die rede vir dié nalate was dat dit baie tyd in
beslag sou neem en verder ook dat die personeellede wat
daarmee
getaak was by die hooftak, haar vertrou het. Sy het dan die syfers
ten aansien van die geldmunte vermeerder, die syfers
ten aansien
van die geldnote dienooreenkomstig verminder en die oorskot in
geldnote aan haarself toegeëien. Sy het in totaal
minstens
R400 000.00 op hierdie wyse van haar werkgewer gesteel (die
werklike bedrag kon nie bepaal word nie).
Gedurende Februarie 2001 toe dit begin duidelik
word dat haar werkgewer onraad vermoed en dat haar jarelange
dieftige optrede
aan die kaak gestel sou word, het sy die misdryf
in aanklag 2, te wete vervalsing, gepleeg deurdat sy ‘n
sogenaamde “
general ledger deposit
slip
” ten bedrae van R700 000.00
uitgemaak het, terwyl dit inderdaad in die bedrag van R300 000.00
moes wees. Hierdie
“
general ledger
deposit slip
” is uitgemaak op grond
van ‘n aanvraag deur Eerste Nasionale Bank, Upington vanaf Absa
Bank Upington vir die bedrag van R300 000.00.
Die Appellant het in haar pleitverduideliking aangevoer dat sy die
diefstal gepleeg het aangesien haar eggenoot vanweë wisselvallige
werksomstandighede ernstige finansiële probleme ondervind het. Ten
einde dié probleme te ondervang het sy die gelde wat so gesteel
was
vanaf haar werkgewer aangewend om tekorte op haar en haar man se
maandelikse begroting wat sy behartig het, aan te vul.
Namens die Appellant is daar ter strafversagting
die getuienis aangebied van Dr Irma Labuschagne, ‘n
forensiese kriminoloog
en Me GM Eksteen, ‘n senior maatskaplike
werkster verbonde aan die Departement Korrektiewe Dienste. Beide
hierdie getuies het
aan die
hof a quo
voorgehou dat die Appellant ‘n geskikte kandidaat vir ‘n vonnis
van korrektiewe toesig is. Ek sal aanstons in meer besonderhede
handel met hulle getuienis en aanbevelings.
Namens die Appellant het Mnr Olivier voor ons aangevoer dat die
vonnis skokkend onvanpas is. Hy steun nie op enige mistasting
wat
die landdros sou begaan het tydens vonnisoplegging nie. In wese kom
sy betoog namens die Appellant daarop neer dat die landdros
die
strafverswarende omstandighede oorbeklemtoon en die Appellant se
persoonlike omstandighede onderbeklemtoon het met die gevolg
dat die
effektiewe vonnis van ses jaar gevangenisstraf, wat na sy submissie
skokkend onvanpas is, opgelê is. Hy het aan ons voorgehou
dat ‘n
vonnis ingevolge art 276(1)(i) van die Wet alternatiewelik ‘n
vonnis van gevangenisstraf met ‘n heelwat korter
termyn meer
vanpas sou wees in die omstandighede.
Mnr Roach wat namens die Staat optree, het versoek dat ons die
opgelegde vonnis bekragtig.
Die landdros het ‘n baie volledige en
weldeurdagte uitspraak op vonnis gelewer. Hy het die tersaaklike
faktore by vonnisoplegging
deeglik voor oë gehou en het breedvoerig
gehandel met die getuienis wat ter strafversagting aangebied is.
Wat laasgenoemde aanbetref,
het die landdros na my mening, heeltemal
tereg tot die slotsom gekom dat die getuienis en aanbevelings van Dr
Labuschagne en veral
van Me Eksteen, heeltemal eensydiglik ten
gunste van die Appellant aangebied is en dat onvoldoende (en in die
geval van Me Eksteen,
geen) oorweging geskenk is aan die erns van
die misdrywe en die wyse waarop dit gepleeg is nie. Veral Dr
Labuschagne se aanvanklike
mening in haar verslag, naamlik dat die
Appellant nie uit blote hebsug gesteel het nie, maar eerder uit
“nood”, is in ‘n
ander perspektief geplaas nadat sy daaroor
deeglik deur die Aanklaer gekruisondervra is. Me Eksteen se
getuienis en aanbeveling
het tot ‘n groot mate hul trefkrag
verloor toe dit aan haar uitgewys is tydens kruisondervraging dat sy
hoegenaamd geen inligting
ingewin het oor die aard en die erns van
die misdrywe asook die Appellant se
modus
operandi
daaraangaande nie. Ek meen
verder dat die landdros heeltemal tereg die houding ingeneem het dat
die Appellant se versuim om self
te getuig ter strafversagting vir
die landdros in ‘n moeilike posisie geplaas het wanneer dit kom by
die oorweging van haar eintlike
beweegrede vir die pleging van die
misdrywe, veral die diefstal. Alhoewel Meneer Olivier aanvanklik
die landdros daaroor gekritiseer
het in sy betoogshoofde, het hy
voor ons heeltemal geredelik toegegee dat die
hof
a quo
in ‘n gunstiger posisie sou
gewees het by vonnisoplegging indien die Appellant die hof in haar
vertroue geneem het deur self
te getuig oor waarom sy die misdrywe
gepleeg het. Sy het weliswaar aan Dr Labuschagne redes daarvoor
verstrek, welke redes ooreenstem
met dié voorgehou in haar
pleitverduideliking waarna ek alreeds verwys het, maar is dit te
betwyfel of daar inderdaad ook nie
‘n mate van hebsug betrokke was
by die pleging van die misdrywe nie.
Die volgende strafversagtende faktore is aan te merk ten gunste van
die Appellant en het die landdros dit ook aldus deeglik inaggeneem:
Sy is ‘n eerste oortreder;
Sy het skuldig gepleit, met klaarblyklik opregte berou oor die
voorval en het vanuit die staanspoor haar volle samewerking aan
haar werkgewer gegee, deur skriftelik te verduidelik hoe sy te werk
gegaan het om die diefstal te pleeg;
Sy het haar werk verloor a.g.v. die voorval en het ‘n bedrag van
R97 268.66 terug betaal aan die bank, synde haar pensioengeld;
Sy het ‘n baie bestendige werksrekord gehad en was volgens alle
aanduidings ‘n voortreflike werknemer wat ondermeer buitegewone
merietetoekennings vir haar werk ontvang het.
Daar was ‘n aanbod gemaak ter terugbetaling van die verlies wat
die bank gely het, welke aanbod nie aanvaar is nie omdat dit
nie
prakties haalbaar is nie.
Die strafverswarende faktore wat die landdros inaggeneem het is die
volgende:
Die Appellant het op sluwe en fyn beplande wyse van haar werkgewer
gesteel terwyl sy in ‘n besondere vertrouensposisie was;
Sy het die diefstal oor ‘n lang tydperk, tewete bykans vyf jaar
gepleeg;
Die Appellant het haar optredes probeer verbloem deur die volgende:
Sy
het dokumentasie vernietig wat verband hou met die bedrae geld wat
gesteel was, met die gevolg dat nòg die bank nòg die
hof
a quo
uiteindelik in staat was om die
volle bedrag wat gesteel was te kwantifiseer en is dit aan die
hof
a quo
voorgehou dat die minimum bedrag
wat sò gesteel is, R400 000.00 beloop;
Sy het, wanneer sy op verlof gegaan het vir ‘n aantal dae, die
spesiale sleutel van die kluis saamgeneem ten einde andere toegang
tot die kluis te weerhou ingeval haar diefstalle ontdek sou word;
Op ‘n stadium toe dit vir haar duidelik geword het dat haar
jarelange diefstal ontbloot sou word, het sy, in ‘n poging om die
diefstal te verdoesel, die misdryf in aanklag 2 (vervalsing)
gepleeg.
Die Appellant het die misdrywe gepleeg om haar lewensstandaard te
handhaaf ten alle koste en was daar ‘n aansienlike mate van
gierigheid betrokke.
Die Appellant het nooit ‘n poging aangewend om haar werkgewer,
die bank, te nader en in haar vertroue te neem en te poog om
met
die bank se hulp haar gesin se ernstige finansiële probleme te
probeer ondervang nie.
‘n Verdere faktor wat ter sake is by die oorweging op appél van
die gepastheid van die opgelegde vonnis is die feit dat die
Appellant nie in staat is om die balans van die bedrag wat die bank
skade gely het, ongeveer R303 000.00, terug te kan betaal
nie.
Die beperkte bevoegdhede van ‘n Hof van Appél by vonnis is nou
reeds geyk. Verder is die toets nie of die Hof van Appél ‘n
ligter of ‘n swaarder vonnis as die opgelegde vonnis sou oplê
nie, maar of die vonnis skokkend onvanpas is al dan nie;
Sien:
S v Shapiro
1994(1) SASV 112(A)
per Nicolas WN.AR
te 119 j:
“
It
may well be that this Court would have imposed on the accused a
heavier sentence than that imposed by the trial Judge. But even
if
that be assumed to be the fact, that would not in itself justify
interference with the sentence.”
Die vraag of ‘n vonnis wat opgelê is skokkend
onvanpas is, is nie so maklik om te antwoord in die praktyk nie.
Sien in hierdie
verband die opmerkings van Marais AR in
S
v Sadler 2000(1) SASV 331 (HHA)
te 334
h:
‘
The traditional formulation of the approach
to appeals against sentence on the ground of extensive severity or
excessive lenience
where there has been no misdirection on the part
of the court which imposed the sentence is easy enough to state. It
is less easy
to apply”.
Dit is onteenseglik so dat elke saak op sy eie
meriete en besondere feite beoordeel moet word wanneer dit kom by
die oplegging van
vonnis. Dit is egter opmerklik dat ons howe,
afhangende van die omstandighede van ‘n bepaalde saak, in die
algemeen die pleging
van sogenaamde “
witboordjiemisdade
”
in ‘n baie ernstige lig beskou. Hierdie benadering word
vergestalt in die uitspraak van Marais AR in
S
v Sadler
,
supra
,
te 335 g – 336 c.
Beide Mnre Olivier en Roach het verskeie ander gewysdes voorgehou
ten aansien van vonnis. Ek ag dit nie nodig om volledig daarna
te
verwys en daarmee te handel nie. Ek volstaan daarmee dat ook in
hierdie Afdeling, die neiging is om sogenaamde “witboordjiemisdade”
in ‘n ernstige lig te beskou en om direkte gevangenisstraf aan
skuldiges op te lê. Ek verwys vervolgens kortliks na enkele van
hierdie aangeleenthede:
a) In
S v Lötter
,
‘n ongerapporteerde uitspraak (Noord-Kaap, saaknommer KS
64/90) van Basson R gelewer op 14/11/1990 welke uitspraak
gehandhaaf
is deur die Volbank van hierdie Afdeling, is ‘n
44-jarige werknemer van ‘n bouvereniging wat ‘n bedrag van
ongeveer R467 000.00
oor ‘n tydperk van 8 dae van haar
werkgewer gesteel het, gevonnis tot ses jaar gevangenisstraf. In
daardie saak het die beskuldigde
‘n bedrag van R184 00.00
terugbetaal aan haar werkgewer en ‘n balans van ongeveer
R283 000.00 was toe steeds uitstaande.
Alhoewel ‘n aanbod
gemaak is om R5 000.00 per maand terug te betaal, kon die
beskuldigde geen verdere betalings maak nie.
In
S v Muller
1991(2) SASV 417(NK)
het ‘n Volbank
van hierdie afdeling ‘n vonnis van vyf jaar gevangenisstraf of
appél bekragtig nadat ‘n prokureur homself
skuldig gemaak het aan
diefstal van trustgelde in ‘n bedrag van R301 000.00 oor ‘n
tydperk van twee jaar.
In die saak van
S
van Rooyen ‘
n ongerapporteerde
uitspraak (Noord-Kaap, saaknommer KS 57/94) het Malherbe R
die beskuldigde, ‘n eerste oortreder,
‘n vonnis van twaalf jaar
gevangenisstraf opgelê vir bedrog. Die bedrog is gepleeg deur ‘n
skema aan te wend om insetbelasting
bedrieglik van die Ontvanger van
Inkomste te eis. ‘n Bedrag van R25.2 miljoen was betrokke met ‘n
uiteindelike verlies aan
die Staat van meer as R2.2 miljoen. Die
beskuldigde se deel van die buit was R3.3 miljoen, waarvan die
grootste gedeelte teruggevorder
is deur die Staat. ‘n Volbank van
hierdie Afdeling het ‘n appél teen vonnis van die hand gewys.
Voortspruitend uit dieselfde voorval as die
voorafgaande saak is dié van
S v
Coetzee en andere
. In ‘n
ongerapporteerde uitspraak (Noord-Kaap, saaknommer KS 33/94)
het Van der Walt R beskuldigde 5 in daardie
saak gevonnis tot 8
jaar gevangenisstraf. Die betrokke beskuldigde,
De
Hart
, was ook ‘n eerste oortreder en
was, soos Van Rooyen, ‘n werknemer in die kantoor van die
Ontvanger van Inkomste en het hulle
twee, veral Van Rooyen, sentraal
gefigureer in die BTW-bedrog.
In
S v Van Niekerk
1993(1) SASV 482 (NK)
het die betrokke
beskuldigde bedrog van ongeveer R3 miljoen gepleeg deur
fiktiewe transaksies aan te gaan met ‘n koöperasie.
Die bedrog
is oor ‘n periode van meer as twee jaar gepleeg en net die
beskuldigde is deur die betrokke bedrog bevoordeel. Die
beskuldigde, ‘n eerste oortreder, is gevonnis tot agt jaar
gevangenisstraf.
Dit is van groot belang dat geregshowe konsekwent moet optree met
die oplegging van vonnis vir soortgelyke misdrywe. Konsekwentheid
van strawwe kan uiteraard nie verhef word tot ‘n absolute
beginsel nie; Sien:
Krugel &
Terblanche: Praktiese Vonnisoplegging, bl 106 par. (d);
S
v Giannoulus 1975(4) SA 867 A
.
Gedagtig aan die voormelde
caveat
,
is ek die mening toegedaan dat die landdros se benadering korrek was
dat die misdrywe waaraan die Appellant skuldig bevind is, direkte
gevangenisstraf verg. Dit is weliswaar so, soos Mnr Olivier
betoog het dat, wanneer die vonnis in die onderhawige geval vergelyk
word met dié opgelê op appél in
S v
Sadler
,
supra
,
die Appellant se vonnis op die oog af voorkom as té swaar. Ek is
egter nie daarvan oortuig dat die vonnis skokkend onvanpas is
nie.
Die appél word derhalwe van die hand gewys en die Appellant se
skuldigbevinding en vonnis word bekragtig.
___________
SA MAJIEDT
REGTER
Ek stem
saam:
__________
HJ LACOCK
REGTER
NAMENS APPELLANT: ADV CJ OLIVIER
NAMENS
RESPONDENT: MNR LJ ROACH
DATUM
VAN VERHOOR: 29 APRIL 2002
DATUM
VAN UITSPRAAK: 3 MEI 2002