Sinclair v Roos (270/00) [2002] ZANCHC 9 (22 March 2002)

70 Reportability

Brief Summary

Medical negligence — Duty of care — Pediatrician's failure to adequately inform parent regarding medication administration — Minor child sustained severe brain damage due to incorrect intravenous administration of medication prescribed for oral use — Parent claims damages for negligence — Pediatrician denies negligence and asserts contributory negligence on part of parent — Court finds pediatrician breached duty of care by not providing clear instructions or warnings regarding medication, resulting in harm to child — Pediatrician held liable for damages.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2002
>>
[2002] ZANCHC 9
|

|

Sinclair v Roos (270/00) [2002] ZANCHC 9 (22 March 2002)

VERSLAGWAARDIG JA/NEE
SIRKULEER
ONDER REGTERS JA/NEE
SIRKULEER
ONDER LANDDROSTE JA/NEE
IN
DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(NOORD-KAAPSE
AFDELING)
KIMBERLEY
SAAK
NO.: 270/00
DATUM:
22-03-2002
In
die saak tussen:
KENNETT
SINCLAIR EISER
teen
DR. JAPIE ROOS VERWEERDER
CORAM:
C.C WILLIAMS Wn.R:
U
I T S P R A A K
WILLIAMS
Wn.R:
Die eiser in hierdie saak is die vader en
natuurlike voog van die minderjarige dogter Kyla Sinclair.
Die
verweerder is ‘n gekwalifiseerde pediater en te alle tersaaklike
tye was Kyla ‘n pasiënt van verweerder in sy praktyk te
Kimberley.
Op
7 Junie 1998 het die eiser 2,5 ml. van die medisyne bekend as
Kantrexil wat slegs per mond toegedien moes word en wat voorgeskryf
was vir Kyla deur die verweerder, by wyse van ‘n kort infuus
binneaars aan Kyla toegedien.
As
gevolg van die foutiewe toediening van die middel het Kyla breinskade
opgedoen.
Eiser
dagvaar nou die verweerder in sy persoonlike hoedanigheid sowel as in
sy hoedanigheid as vader en natuurlike voog van Kyla vir
die skade
wat hulle gelei het as gevolg van verweerder se beweerde nalatigheid
soos in par. 7 van eiser se Besonderhede van vordering
uiteengesit
wat as volg lees:
“
7.1 Verweerder het
versuim om enigsins of duidelik aan te dui of te waarsku dat die
middel slegs per mond toegedien mag word.
Verweerder
het versuim om toe te sien daartoe dat op die houer van die middel
of andersins aangedui word dat die middel slegs
per mond toegedien
moet word.
Verweerder
het versuim om die intraveneuse infuus wat hy op
6
Junie 1998
in
KYLA
se arm ingeplaas het en waardeur hy op
6
Junie 1998
in eiser se teenwoordigheid medikasie aan
KYLA
toegedien het, te verwyder en het
KYLA
huistoe gestuur terwyl die intraveneuse infuus steeds ingeplaas
was.
Verweerder
het versuim om te verduidelik waarom die intraveneuse infuus nie
verwyder is nie, maar in posisie gelaat is.
Verweerder
het versuim om aan te dui dat die middel geensins deur middel van
die intraveneuse infuus toegedien moes word nie.
Verweerder
het versuim om minstens te voorsien dat die gevaar bestaan dat die
intraveneuse infuus vir toediening van die middel
gebruik sou kon
word en/of het versuim om enige of voldoende stappe te neem om teen
daardie gevaar te waak.
Verweerder
het versuim om enigsins of voldoende te wys op of te waarsku teen
die gevaar van binne-aarse toediening van die middel.
Verweerder
het versuim om die ondergemelde gevolge te verhoed, terwyl hy dit
deur die uitoefening van redelike sorg sonder enige
moeite of
noemenswaardige koste kon doen.”
Die
verweerder in sy Pleit ontken enige nalatigheid aan sy kant en pleit
in die alternatief dat sou die hof bevind dat daar wel nalatigheid
aan die kant van verweerder bestaan, dat die eiser in die geval dan
bydraend nalatig was deurdat:
“(a) Aangesien:
die
verweerder nie die eiser meegedeel het dat die middel binneaars
toegedien moes word nie,
die
verweerder nie aan die eiser verduidelik het hoe om die medikasie
binneaars toe te dien nie,
die
verweerder die eiser meegedeel het dat die kort infuus oornag
ingeplaas gehou sou word sodat dit die volgende oggend weer gebruik
kon word, indien nodig, om ‘n verdere dosis Rocephin aan Kyla toe
te dien,
daar
geen aanduiding voorgekom het op die houer van die middel dat die
middel binneaars toegedien moes word nie,
het die eiser geen
rede gehad om te veronderstel dat die middel binneaars toegedien moes
word nie.
(b) Die eiser het
versuim om mediese advies in te win met betrekking tot die metode
van toediening van die middel in omstandighede
waar:
(i) daar geen
sekerheid in sy gemoed was dat die middel binneaars toegedien moet
word nie;
(ii) niks
hom verhoed het om wel mediese advies in te win nie.
c) Die eiser versuim
het om minstens te voorsien dat die gevaar bestaan dat die binneaarse
toediening van die middel nadelige gevolge
kan veroorsaak.
(d) Die eiser versuim
het om die nadelige gevolge wat deur die binneaarse toediening van
die middel kan hê te verhoed terwyl hy dit
deur die uitoefening van
redelike sorg sonder enige moeite of noemenswaardige koste kon doen.”
Met
die aanvang van die verhoor is die Hof gevra om slegs die meriete van
die saak te beslis (die aanspreeklikheidsaspek) en die kwantum
oor te
laat vir latere beregting.
Die
eiser en sy vrou, mev. Sinclair, het vyf kinders wat wissel in
ouderdomme vanaf 6 tot 16 jaar. Die jongste twee kinders is ‘n
tweeling gebore op 22 Januarie 1996. Kyla is een van die tweeling.
Ten tye van die voorval was Kyla en haar tweeling broer John-David
2½
jaar oud. Op 6 Junie 1998 was John-David in die Medi-Clinic te
Kimberley opgeneem met oorontsteking. John-David het ongeveer
6
maande van tevore amper verdrink en het as gevolg hiervan probleme
ondervind met oorontsteking. Mev. Sinclair het op hierdie betrokke
dag by John-David se hospitaalbed gewaak.
Op
dieselfde dag het Kyla ook siek geword met braking en diarree. Die
verweerder, wie die kinderarts is vir beide John-David en Kyla,
is in
kennis gestel deur mev. Sinclair van Kyla se olikheid.
Die
betrokke aand bel die verweerder die eiser en vra hom om Kyla na die
ongevalle afdeling van die hospitaal te bring vir ‘n ondersoek.
Om
ongeveer 21h00 daag die eiser met Kyla by die ongevalle afdeling van
die hospitaal op waar die verweerder haar ondersoek en diagnoseer
met
onder andere tonsillitis en middeloorontsteking. Verweerder plaas
toe ‘n kort infuus in Kyla waardeur sy binneaars die middel
Rocephin, ‘n antibiotika, kry en skryf toe ook die medisyne
Motilium vir braking en Kantrexil vir diarree voor.
Kyla
word nadat die antibiotika toegedien is en die medisyne en ‘n spuit
oorhandig is aan eiser deur die verpleegsuster aan diens,
huis toe
gestuur met instruksies om weer die volgende oggend terug te keer vir
‘n opvolgbesoek. Die kort infuus word intussen
aangelos op Kyla.
Om
ongeveer 07h00 die volgende oggend dien die eiser die Kantrexil toe,
deur 2,5 ml op te trek in die spuit en dit binne die kortdrup
te
spuit.
Kantrexil
is medikasie vir diarree en moet slegs mondeling ingeneem word.
Binneaarse toediening van Kantrexil lei tot orgaanskade,
in hierdie
geval hartarres met konsekwente breinskade.
Die
eiser se weergawe is dat die verweerder in sy teenwoordigheid, die
kortinfuus op Kyla geplaas het, die prop van die drup afgedraai
het
en die antibiotika daardeur gespuit het. Die verweerder het toe aan
hom gesê dat hy twee bottels medisyne gaan voorskryf en
daarmee saam
sal hy ‘n spuit gee om die medisyne mee in te spuit. Dit moet hier
gemeld word dat die verweerder ontken dat hy enigsins
sou gesê het
die medikasie moes ingespuit word.
Verweerder
het hom ook meegedeel om die volgende oggend met Kyla terug te keer
vir ‘n opvolgbesoek.
Die
verweerder het toe die voorskrif aan die verpleegster aan diens gegee
wat die medisyne gaan haal het. Daarna het verweerder die
ongevalle
eenheid verlaat en eiser het tesame met Kyla in die ontvangsarea gaan
wag vir die medisyne.
Die
verpleegsuster het die twee bottels medisyne tesame met ‘n plastiek
spuit, soortgelyk aan die een wat verweerder gebruik het
om die
binne-aarse medikasie toe te dien, oorhandig sonder enige
verduideliking oor die dosisse of toedieningsmetode daarvan.
Ongeveer
07h00 die volgende oggend, nadat Kyla wakker geword het, het die
eiser 2,5 ml. van die Kantrexil medisyne in die spuit opgetrek,
die
blou proppie van die kortdrup afgedraai en toe stadig die medisyne
deur die kortdrup ingespuit.
Kyla
het ‘n bietjie gehuil, maar volgens eiser op dieselfde wyse soos sy
ook gehuil het die vorige aand toe verweerder die antibiotika
binneaars toegedien het. Sy het toe skielik begin roggel, agteroor
geval en skuim het by haar mond uitgekom. Kyla is inderhaas
na die
hospitaal geneem waar sy gestabiliseer is en sy toe vir drie weke in
die intensiewe sorg eenheid opgeneem is en daarna vir
3 weke in die
kindersaal voor sy ontslaan is. Sy het ernstige breinskade opgedoen
tot so ‘n mate dat sy nou op sesjarige ouderdom
gevoer moet word en
niks vir haarself kan doen nie. Sy is heeltemal afhanklik van ander
en omdat sy net lê is haar liggaam besig
om te misvorm.
Volgens
die eiser het die verweerder in ‘n gesprek na die voorval aan hom
gemeld dat dit die grootste katastrofe is wat hom ooit
getref het en
dat hy wat verweerder is verantwoordelikheid daarvoor aanvaar.
In
‘n verdere gesprek het verweerder ook gesê dat hy nie kan dink hoe
die eiser anders moes gedink het oor die toediening van die
medisyne
nie.
Volgens
die eiser was hierdie ‘n openlike erkenning van verweerder se
betrokkenheid en dat hy die skuld hiervoor aanvaar.
Ds.
Du Toit wat beide die partye ken het kom getuig dat die verweerder na
die insident vir hom ook meegedeel het dat hy verantwoordelikheid
aanvaar vir die voorval. Die verweerder ontken dat hy so sou gesê
het, en beweer dat hy bloot gesê het hy
“voel”
verantwoordelik. Hierdie spel op woorde neem die eiser se saak nie
verder nie en ek beoog nie om verder hiermee te handel nie.
Die
verweerder, ‘n pediater in privaatpraktyk, het getuig dat hy vir
Kyla die aand van 6 Junie 1998 ondersoek het. Sy het gebraak
en het
diarree gehad en hy het gevind dat sy middeloorontsteking en
mangelontsteking het.
Verweerder
het besluit om vir Kyla binneaars te medikeer om seker te maak dat
die antibiotika in bly aangesien sy gebraak het. Hy
het ook besluit
om die kort infuus waardeur die binneaarse medikasie toegedien word
oornag in te laat, en die volgende oggend te
bepaal of Kyla verder
binneaarse medikasie nodig het.
Verweerder
het self die kort infuus opgesit met die hulp van suster Snyman en in
die teenwoordigheid van eiser. Hy het ook nadat
die kort infuus
opgesit is, ‘n steriele soutoplossing in die kanule in die kort
infuus gespuit om dit op te vul en sodoende te
verhoed dat lugborrels
in die liggaam ingaan. Hierdie soutoplossing wat in die kortinfuus
ingespuit word, is gedoen ter voorbereiding
vir die toediening van
die antibiotika.
Volgens
verweerder het hy toe aan eiser verduidelik dat hy die middel
Motilium gaan voorskryf vir braking en Kantrexil vir diarree.
Hy
het, nadat hy die voorskrif vir Suster Snyman oorhandig het, die
ongevalle afdeling verlaat. Suster Snyman het toe die antibiotika
(Rocephin) binneaars toegedien en ook die voorgeskrewe medisyne aan
eiser uitgereik.
Volgens
verweerder is dit aanvaarbare en algemene praktyk vir geneeshere in
die ongevalle afdeling om medikasie voor te skryf en dit
oor te laat
aan die verpleegster aan diens om dit aan die pasiënt uit te reik en
die hantering en dosering daarvan te verduidelik.
Net so is dit
gewoonlik die verpleegster wat die antibiotika binneaars toedien.
Dit
is ook aanvaarbare praktyk sê die verweerder dat pasiënte, veral
kinders, met kort infuuse huis toe gestuur word. Dit vergemaklik
die
prosedure, veral wanneer daar met ‘n opvolg besoek gevind word dat
verdere binneaarse medikasie nodig is. By die bepaling
of dit
wenslik is in ‘n gepaste geval om ‘n kind huis toe te stuur met
‘n kort infuus, kyk verweerder na die persoonlike omstandighede
en
die sosio-ekonomiese agtergrond van die ouers. In gevalle van
swakker opgevoede persone, sonder vervoer of kontakmiddel en wat
nie
maklik sal agterkom of ‘n kind sieker word nie, word die pasiënt
in die hospitaal opgeneem.
In
die geval van Kyla, waar die eiser en sy vrou albei intelligente,
goed opgevoede persone is (die eiser het ‘n BSC graad en is
‘n
parlementslid) en ook omdat hulle ervare ouers is wat die verweerder
goed geken het, het hy gevoel dat dit wel veilig was om
vir Kyla met
die kort infuus huis toe te stuur.
Die
verweerder het wel nie vir die eiser verduidelik dat die medikasie
wat voorgeskryf is per mond geneem moet word nie. Die verduideliking
daarvan het hy aan suster Snyman oorgelaat wie in sy opinie ‘n
bekwame persoon is met lang ondervinding en wie se plig dit in elk
geval is om seker te maak dat ‘n pasiënt weet hoe medikasie
toegedien moet word.
Volgens
verweerder was daar geen manier hoe hy kon voorsien dat ‘n
intelligente persoon soos die eiser die Kantrexil binneaars aan
Kyla
sou toedien nie.
Die
verpleegsuster aan diens by die ongevalle afdeling die betrokke aand,
suster Riana Snyman, het ook getuig. Sy het al 9 jaar ondervinding
in die ongevalle afdelings van hospitale.
Die
betrokke aand het eiser vir Kyla na die ongevalle afdeling gebring.
Die verweerder het haar ondersoek en het aangedui dat hy
‘n kort
infuus aan Kyla wil plaas. Suster Snyman het toe al die benodighede
gereed gekry. Die verweerder het toe die kanule binneaars
ingeplaas,
dit ingespuit met ‘n soutoplossing en die kortdrup opgesit.
Verweerder
het toe die medikasie voorgeskryf: Rocephin om onmiddellik toegedien
te word en Kantrexil en Motilium om saam te neem.
Verweerder is toe
daar weg.
Alvorens
sy die medikasie kon uitreik moes eiser ‘n pasiënt leêr by die
hospitaal ontvangs open en het sy toe die eiser gevra
om die leêr te
open. Die hospitaal ontvangs lokaal is geleë in die hoofhospitaal
en dit en die ongevalle afdeling is naasmekaar
maar word deur
verskillende buitedeure bereik.
Terwyl
die eiser die pasient leêr vir Kyla by die hoofhospitaal gaan open
het, het suster Snyman die Rocephin aan Kyla toegedien.
Op daardie
stadium was Kyla se ouer suster teenwoordig maar nie die eiser nie.
Toe
die eiser terugkeer met die leêr het sy die Kantrexil en Motilium
aan hom oorhandig en verduidelik dat hierdie medikasie vir
braking en
diarree was. Sy het ook ‘n plastiese spuitjie saamgegee omdat dit
moeilik is om 3 ml. af te meet, (die Motilium moes
in 3 ml. dossisse
geneem word).
Sy
sê voorts het sy aan eiser verduidelik dat hy eers die Motilium moes
gee aangesien dit vir braking voorgeskryf is, ‘n rukkie
moes wag en
dan die Kantrexil moet gee. Die volgorde van toediening sou verhoed
dat die Kantrexil uitgebraak word.
Suster
Snyman getuig ook dat sy aan die eiser gesê het die medikasie moet
per os geneem word d.w.s. per mond. Sy sê later onder
kruisondervraging deur die advokaat vir eiser, Mnr. Van der Merwe SC,
dat sy nie aan die eiser gesê het die medisyne moes per os
of per
mond geneem word nie maar dat sy gesê het Kyla moet die medisyne
drink.
“Per
os”
sê sy is ‘n term wat hulle in die hospitaal gebruik.
Volgens
die getuie het die eiser haastig voorgekom maar voordat hy die
ongevalle afdeling met Kyla verlaat het, het sy hom by die
deur
teruggeroep en gesê dat hy nie die pleister of die spalkie van Kyla
moes verwyder nie en dit net so moes los todat hy die volgende
oggend
vir Kyla terugbring vir ‘n opvolgbesoek.
Suster
Snyman getuig dat na hierdie insident waar die eiser die Kantrexil
tuis binne-aars aan Kyla toegedien het, gee die hospitaal
nou ‘n
ontslagnota en kennisgewing aan pasiënte wat met kortdruppe huis toe
gestuur word. ‘n Afskrif van ‘n ontslagnota en
kennisgewing wat
onlangs aan ‘n pasiënt gegee is, is ingedien as ‘n bewysstuk.
Die instruksies op die ontslagnota lees onder
andere:
“
niks mag tuis
daardeur gespuit word nie! Hou toegeplak en blou proppie
vasgedraai.”
Die kennisgewing lees as volg:
“Dear
parent
- please note the
following rules about the management of your child’s intravenous
line at home.
no
medication is ever given via the line at home.
In
the event of the line being pulled out by accident stop the bleeding
by gentle pressure on the bleeding point with a piece of
cotton wool
or a clean handkerchief.
Occasionally
a small amount of blood may be visible in the plastic tubing. This
is nothing to worry about.
If
you have any questions about the line at home, please contact your
doctor for advise (sic).”
Volgens
die getuie word deesdae slegs op skrif aan die pasiënte verduidelik
wat voorheen verbaal verduidelik is.
Na
my mening is dit ooglopend dat daar veel meer inligting en
instruksies gegee word oor die hantering van ‘n kort infuus in
hierdie
kennisgewing as wat die getuie self beweerdelik aan eiser
verskaf het.
Albei
partye het deskundige getuienis aangebied. Professor Beyers Hoek, ‘n
kinderarts en akademikus, is geroep deur die eiser.
Hy het kom
getuig dat dit wel aanvaarbare praktyk is om ‘n kind met ‘n kort
infuus huis toe te stuur, mits die gevare daaraan
verbonde aan die
ouer verduidelik word – dat daar slegs binneaarse medikasie deur
die kort infuus toegedien moet word en byvoorbeeld
wat die ouer moet
doen sou die infuus per ongeluk uitgetrek word en die kind dan bloei.
In die huidige geval waar Kyla met ‘n
kort infuus huis toe gestuur
is en boonop orale medikasie ook voorgeskryf is, is prof. Hoek van
mening dat die redelike pediater
aan die ouer moet verduidelik dat
die orale medikasie slegs vir mondelinge gebruik is en nie binneaars
toegedien moet word nie.
Volgens
prof. Hoek het die geneesheer die primêre verantwoordelikheid om aan
die ouer die medikasie toediening te verduidelik en
al is dit
algemene praktyk dat hierdie plig aan verpleegpersoneel oorgelaat
word, is dit nie korrek nie.
Dr.
André Botha, ‘n praktiserende pediater, het namens die verweerder
getuig. Hy het ook bevestig dat dit algemene praktyk is
dat ‘n
verpleegsuster Rocephin binneaars toedien en ook medikasie aan
pasiënte uitreik en die toediening daarvan verduidelik.
Alhoewel hy
toegee dat dit die geneesheer se verantwoordelikheid is om medisyne
voor te skryf en toe te sien dat die toediening
daarvan korrek
verduidelik is aan ‘n pasiënt, is delegasie van hierdie
verantwoordelikheid aanvaarbaar en word dit wyd beoefen
wanneer die
verpleegster ‘n bekwame en betroubare persoon is soos in die geval
van suster Snyman en wanneer die geneesheer tevrede
is dat die
korrekte prosedure deur die verpleegster gevolg sal word.
Dr.
Botha gee wel toe dat die geneesheer wat ‘n kort infuus in ‘n
kind laat, ‘n risiko skep en dat die geneesheer dus verantwoordelik
is vir die hantering van die risiko. Dr. Botha getuig dat hy
persoonlik in ‘n soortgelyke situasie aan die ouer sal verduidelik
dat die voorgeskrewe medikasie mondeling geneem moet word alhoewel
iemand anders, bv. die verpleegster, die medikasie uitreik. Hy
voeg
wel toe dat in sy opinie, in die omstandighede, dit nie voorsienbaar
kon wees dat die eiser die orale medikasie binneaars sou
toedien nie.
Dit
is gemeensaak tussen die partye dat die verweerder nie aan eiser
verduidelik het dat die middel Kantrexil slegs per mond toegedien
moet word nie en dat hy die verduideliking vir die toediening hiervan
aan suster Snyman oorgelaat het.
Die
vraag om nou te beslis is of die verweerder in die omstandighede
nalatig opgetree het en dus aanspreeklik is vir die skade deur
eiser
gely en as dit dan so is of die eiser dan nie ook self bydraend
nalatig was ten opsigte van sy skade nie.
Die
toets vir nalatigheid word omskryf deur Holmes AR in
Kruger
v Coetzee
1966(2)
SA 428(A) te 430E-G:-
“For
the purposes of liability, culpa arises if –
a
diligens paterfamilias in the position of the defendant-
would
foresee the reasonable possibility of his conduct injuring another
in his person or property and causing him patrimonial
loss; and
would
take reasonable steps to guard against such occurrence; and
b) the defendant
failed to take such steps.”
Die
vraag is dus of in die besondere omstandighede die verweerder se
optrede te kort skiet van die van dié redelike man of vrou in
‘n
soortgelyke situasie.
Daar moet dus bepaal word of die redelike persoon
in die posisie van die verweerder sou kon voorsien, as ‘n redelike
moontlikheid,
dat die eiser orale medikasie binneaars aan Kyla sou
toedien.
In
hierdie geval is dit belangrik om te kyk na die samestelling van die
toestelletjie waarmee Kyla huis toe gestuur is. Die kort
infuus
bestaan uit ‘n kanule, dit is die naaldgedeelte wat binne die aar
van die pasiënt geplaas word, en ‘n kortdrup, die plastiese
pypie
wat aan die kanule geheg word en waardeur medikasie toegedien word.
Die kortdrup word toegemaak deur ‘n afdraaibare prop.
Om dit
eenvoudig te stel - dit is baie maklik vir selfs ‘n leek om ‘n
middel hierdeur aan ‘n pasiënt toe te dien. Dit word
ook nie
betwis dat die eiser teenwoordig was toe die toestel gekoppel was aan
Kyla nie en ook gesien het hoe ‘n middel daardeur
gespuit is. Of
die eiser gesien het hoe die Rocephin ingespuit word of hoe die
soutoplossing ingespuit word maak tog seker nie saak
nie.
Hiermee
saam was daar ook twee bottels orale medikasie saam huis toe gestuur
tesame met ‘n spuitjie vir die toediening van die orale
medikasie.
Ek
aanvaar, na aanhoor van die getuienis en veral die deskundige
getuienis, dat dit algemene praktyk en soms selfs wenslik is dat
‘n
kinderpasiënt met ‘n kort infuus huis toe gestuur word. Ek
aanvaar ook dat ‘n spuitjie saam uitgereik word met orale medikasie
veral in die geval van jong kinders wat nie medikasie graag uit ‘n
lepel drink nie.
Apart
en onafhanklik gesien is daar seker nie fout te vind met enige van
hierdie praktyke nie. Maar wanneer daar in die geheel gekyk
word na
die omstandighede waarin die kort infuus op Kyla gelaat is, is dit my
mening dat dit wel as ‘n redelike moontlikheid voorsienbaar
moes
wees dat die orale medikasie binneaars aan Kyla toegedien kon word.
In
Barnard
v Santam Bpk
1999(1)
SA 202 (HHA) op 214 A sê Van Heerden AHR:
“
Die blote feit dat
so ‘n gevolg slegs selde intree bring egter nie mee dat dit nie as
‘n redelike moontlikheid voorsienbaar is
nie.”
Soos
gestel in
The
Council of the Shire of Wyong v Shirt and others
[1980] HCA 12
;
146 CLR 40
(HC of A) per Mason R: -
“
A risk of injury
which is quite unlikely to occur . . . may nevertheless be plainly
foreseeable. Consequently, when we speak of a
risk of injury as
being “foreseeable” we are not making any statement as to the
probability or improbability of its occurrence,
save that we are
implicitly asserting that the risk is not one that is far-fetched or
fanciful. Although it is true to say that
in many cases the greater
the degree of probability of the occurrence of the risk the more
readily it will be perceived to be a risk,
it certainly does not
follow that a risk which is unlikely to occur is not foreseeable.”
Die
gevolgtrekking dat dit wel redelik voorsienbaar was dat die orale
medikasie wel binneaars aan Kyla toegedien kan word handel nie
die
aspek oor nalatigheid af nie. Die volgende vraag wat gevra moet word
is of die verweerder redelike stappe geneem het om te keer
teen die
gewraakte resultaat.
Die
verweerder getuig dat dit normale praktyk is in die ongevalle
afdelings van hospitale dat die verpleegsuster aan diens medisyne
uitreik en ook die toediening daarvan aan die pasiënte verduidelik.
Hierdie praktyk word bevestig deur die deskundige Dr. Botha.
Dit
is dan ook die verweerder se getuienis dat hy tevrede was dat suster
Snyman die nodige inligting aangaande die orale medikasie
aan die
eiser sou weergee.
Suster
Snyman se getuienis oor haar hantering van Kyla en die eiser laat
veel te wense oor. Behalwe vir die feit dat sy telkemale
gevraagd of
ongevraagd gedurende haar getuienis deur haar hele aandeel in die
hantering van Kyla gaan, wat die indruk laat skep dat
dit ‘n
geoefende weergawe is, is daar die hele kwessie of sy wel vir die
eiser gesê het die middel Kantrexil moet mondeling geneem
word. In
haar getuienis in hoof sê sy dat sy aan eiser gesê het dit moet
“per
os”
geneem word. Na ‘n rukkie sê sy, half huiwerig,
“per
mond”
.
Toe sy deur mnr. Van der Merwe gevra word of sy gesê het per os of
per mond is haar antwoord dat die twee tog dieselfde is. Later
gedurende kruisondervraging ontken sy heftig dat sy gesê het per os
of per mond en beweer dat sy gesê het die medisyne moet gedrink
word.
As
sy wel die verduideliking rondom die medikasie aan eiser gegee het
soos sy getuig het ontstaan daar talle kwelvrae. Hoekom sou
die
eiser skaars 10 ure na sy aan hom gesê het om nie die kort infuus te
versteur nie die kortdrup oopdraai en Kantrexil daardeur
spuit?
Hoekom
sou eiser in elk geval die Kantrexil binneaars toedien as sy gesê
het dit moet gedrink word?
Hoekom
as sy wel aan eiser gesê het dat die Motilium eers geneem moet word
en na ‘n rukkie die Kantrexil, gee die eiser eers die
Kantrexil?
Ek
kan my nie indink dat ‘n intelligente persoon soos die eiser,
presies die teendeel sou doen van wat suster Snyman hom verduidelik
het nie. Die enigste slotsom waartoe ek kan kom is dat sy glad nie
aan hom verduidelik het hoe die medikasie geneem moet word nie.
Dit
kan ook nie net aanvaar word dat aangesien die aanwysings op die
Kantrexil bottel lees
‘ “neem”
of
“take”
2,5ml.
6-uurliks,
’
dit ‘n aanduiding moes wees vir eiser dat die medikasie mondelings
geneem moes word nie.
Die
vraag is dan of die praktyk wat ontwikkel het by die ongevalle
afdelings van hospitale (dat die verduideliking ten opsigte van
toediening van medikasie aan die verpleegpersoneel oorgelaat word) ‘n
redelike praktyk is wat logies geregverdig kan word.
Claasen
–
Medical
Negligence in South Africa
27 verwys na ‘n uitreksel uit Martin se
Law
Relating to Medical Practice:-
“
Accepted
practice or custom is relevant in ascertaining the standard of care
as it reflects the existing state of knowledge as well
as what is
regarded as proper, but there are limitations to the court’s
acceptance thereof. The court may judge certain practices
as
unreasonable and may find that precautions exist which are so
essential that even their universal disregard would not excuse their
omission.”
Hierdie
praktyk word ook gevolg in ons howe. Sien
Michael
and another v Linksfield Park Clinic (Pty) Ltd and another
2001(3)
SA 1188 (HHA) op 1201B.
Hierdie
geval, en so word dit toegegee deur mnr. Ploos van Amstel SC wat
namens die verweerder opgetree het, is onderskeibaar van
die ou saak
Van
Wyk v Lewis
1924
AA 438 waar die appèlhof bevind het dat die algemene praktyk dat dit
die teatersuster se plig is om telling te hou van die deppers
wat
gebruik word om bloedvloei in ‘n oop operasiewond te stop, redelik
en logies is in die geval waar ‘n geneeskundige onder
druk gewerk
het en in moeilike omstandighede op ‘n pasiënt moes opereer.
In
die huidige geval is daar getuienis dat Kyla die enigste pasiënt was
in die ongevalle afdeling van die hospitaal. Die verweerder
het ook
geen noodgeval gehad waarna hy moes haas na die behandeling van Kyla
nie.
Al
wat nodig was van die verweerder om die gevolge te verhoed was om aan
eiser te sê dat die medikasie wat tuis toegedien moet word
mondelings gegee moet word en/of dat geen middel tuis binneaars
toegedien moet word nie.
Die
praktyk wat hier ontwikkel het maak redelikerwys en logies geen sin
wanneer daar gekyk word na die werklike miniskule moeite wat
geverg
word om ‘n gevolg soos die huidige te vermy.
Ek
bevind dus dat die verweerder wel nalatig was in sy behandeling van
Kyla.
Mnr.
Ploos Van Amstel het aangevoer dat sou ek bevind dat die verweerder
nalatig opgetree het, dan was die eiser ook nalatig en het
sy
nalatigheid dié van die verweerder oorskry. Hy betoog dat die eiser
nalatig was deurdat hy sonder enige instruksie en sonder
om seker te
maak van die toediening van die medikasie, in omstandighede waar dit
wel moontlik was vir hom om dit te doen, die Kantrexil
binneaars aan
Kyla toegedien het.
Die
eiser soos reeds genoem is ‘n intelligente persoon en ervare ouer.
Hy het getuig dat hy bewus was daarvan dat enige middel
wat binneaars
toegedien word steriel moet wees. Hy het ook getuig dat hy weet die
Kantrexil medikasie is nie steriel nie, of selfs
die spuit waarmee
die medikasie binneaars toegedien was. Tog was hy op sy eie
getuienis ook van plan om die Motilium medisyne, wat
ook nie steriel
was nie, met dieselfde spuit ook binneaars toe te dien. Sonder dat
hy enige spesifieke instruksies gehad het om
die medikasie so toe te
dien, en sonder dat hy verseker het dat dit die korrekte manier van
toediening is, wat tog maklik behoort
te wees vir ‘n persoon in sy
situasie, gaan hy voort en dien die Kantrexil binneaars aan Kyla toe.
Die
eiser se weergawe dat die verweerder aan hom gesê het hy sit ‘n
spuit met die medisyne by om dit mee in te spuit kan nie staan
nie.
Waarom sou die verweerder spesifiek verduidelik waarvoor ‘n spuit
gegee word, wat in elk geval nie op sy voorskrif verskyn
nie, en hy
gee geen verduideliking oor hoe die medikasie self gebruik moet word
nie? Dié weergawe van die eiser kom nie voor in
sy Besonderhede van
Vordering nie en was vir die eerste keer geopper toe hy sy getuienis
lewer. Dit word verwerp.
In
die omstandighede bevind ek dat die eiser self ook nie voldoen het
aan die vereistes van die redelike man nie en dat sy nalatigheid
bydraend was tot die skade wat gely was.
Dit
bring my dan tot die bepaling van die grade van nalatigheid van die
partye.
In
South
British Insurance Co. Ltd v Smit
1962(3)
SA 826 (A) op 837F sê Ogilvie Thompson AR:
“
From the very
nature of the enquiry, apportionment of damages imports a
considerable measure of individual judgment: the assessment
of “the
degree in which the claimant was at fault in relation to the damage”
is necessarily a matter upon which opinions may
vary.”
Na my mening moes die eiser besef het dat daar
gevare verbonde is aan die toediening van ‘n onsteriele middel,
binneaars aan Kyla,
in onsteriele omstandighede.
Daar kan nietemin nie redelikerwys verwag word dat
die eiser moes voorsien het dat die toediening van die Kantrexil
binneaars die
gevolg sou hê wat dit wel gehad het nie.
In
die omstandighede en by die oorweging van al die bewese feite in
hierdie saak bepaal ek die grade van nalatigheid van die eiser
en die
verweerder as een derde en twee derdes respektiewelik.
My
bevel is dus as volg:
Die
verweerder word aanspreeklik gehou vir die skade gely deur eiser in
sy persoonlike hoedanigheid, indien enige, met die grade
van
nalatigheid in verhouding daartoe bepaal op twee derdes ten opsigte
van die verweerder en een derde ten opsigte van die eiser.
Die
verweerder word gelas om die eiser se kostes te betaal insluitende
die kwalifiserende kostes van die deskundige Prof. Beyers
Hoek.
_________________________
C.C
WILLIAMS
WAARNEMENDE
REGTER
Nms.
Eiser
: Adv. C.H.G VAN DER MERWE SC
i.o.v.
Van de Wall en Vennote
Nms.
Verweerder
: Adv. P. VAN
AMSTEL SC
i.o.v.
Duncan & Rothman
Datum
van verhoor
: 18-19/02/2002
Datum
van uitspraak:
22-03-2002