About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2002
>>
[2002] ZAFSHC 10
|
|
Oosthuizen v Landdros, Senekal and Others (876/2002) [2002] ZAFSHC 10; 2003 (4) SA 450 (O) (29 August 2002)
IN DIE
HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE-VRYSTAATSE
PROVINSIALE AFDELING)
Saaknommer:
876/2002
In die
saak tussen:
PETRUS MARTHINUS OOSTHUIZEN
Applikant
en
DIE LANDDROS, SENEKAL
Eerste
Respondent
WYNAND DU PLESSIS
Tweede
Respondent
THABANG ZACHARIA RADEBE
Derde
Respondent
HOME CHOICE
Vierde
Respondent
OLIVIER & ASSOCIATES
Vyfde
Respondent
SENEKAL USIZO
Sesde
Respondent
CORAM:
VAN
COLLER
et
CILLIé, RR
AANGEHOOR OP:
19
AUGUSTUS 2002
UITSPRAAK DEUR:
VAN
COLLER, R
GELEWER OP:
29
AUGUSTUS 2002
Op 27 September 2001
het die derde respondent in die Landdroshof te Senekal aansoek gedoen
om ân administrasiebevel. Die aansoek
was gebring ingevolge die
bepalings van artikel 74 van die Wet op Landdroshowe (die Wet). Met
die aanvang van die verrigtinge het
die derde respondent se
prokureur, mnr. Coetzer, en mnr. Crowther, ân prokureur wat
verskeie skuldeisers verteenwoordig het, wat
genoem kan word ân
punt
in limine,
voor
die landdros geargumenteer. Dit was van die landdros verlang om
reeds op daardie stadium te beslis of ân skuldeiser ân
ander
administrateur mag voorstel as wat die applikant (skuldenaar)
voorgestel het. Na die argumente aangehoor is, is die aansoek
uitgestel en op 25 Oktober 2001 het die landdros sy uitspraak gegee.
Hy sê in die uitspraak dat soos hy sodanige aansoeke in die
verlede
ondervind het, maak die applikant ân voorstel betreffende ân
administrateur en die hof volg die voorstel. Hy sê ook
dat hy glo
dat
â
die hof net uit eie beweging ân administrateur sal
benoem indien die applikant geen voorstel maak nie.â
Die
landdros sê verder dat die applikant ân administrateur benoem het
en dat die applikant se keuse wie met sy boedel moet handel
eerbiedig
en gerespekteer behoort te word. Hy wys daarop dat indien die
administrateur nie sy pligte na wense verrig nie, daar gegewe
prosedures is wat gevolg kan word en die gevolg dus is dat ân
skuldeiser nie by magte is om ân administrateur te benoem nie.
Daarna is die aansoek op 29 November 2001 voortgesit. Die
aansoekdoener het getuienis afgelê en hy is oor sekere aspekte
ondervra.
Die aansoek is toegestaan en ân prokureur, mnr. W. du
Plessis, wat deur die derde respondent voorgestel is, is as
administrateur
aangestel.
Die
applikant in die onderhawige hersieningsaansoek is een van die
skuldenaar se krediteure en die aansoek is daarop gerig om dié
gedeelte van die bevel van die landdros wat betrekking het op die
aanstelling van die administrateur tersyde te stel. Die landdros
is
die eerste respondent, die aangestelde administrateur die tweede
respondent en die skuldenaar die derde respondent. Die vierde
en
sesde respondente is ook skuldeisers. Dit is nie duidelik waarom
die vyfde respondent gevoeg is nie. Slegs die tweede respondent
opponeer die aansoek. Dit dien vermeld te word dat die applikant een
van ân aantal skuldeisers is wat deur die prokureur, mnr.
Crowther,
by die aansoek om ân administrasiebevel verteenwoordig was.
Die
grondslag van hierdie hersieningsaansoek is dat die beslissing van
die landdros ân ernstige onreëlmatigheid is wat hierdie
Hof
geregtig maak om die landdros se bevinding te hersien, tersyde te
stel of te vervang. Dit is die applikant se saak dat die landdros
se
bevinding aangaande die aanstelling van die administrateur grof
onreëlmatig is en dat dit ân onbehoorlike uitoefening van ân
diskresie daarstel. In die stawende beëdigde verklaring meld die
applikant dat die rigiede en onbuigbare standpunt dat slegs die
skuldenaar se voorstel oorweeg kan word aanduidend is daarvan dat die
diskresie nie behoorlik uitgeoefen is nie. Uit die stawende
beëdigde
verklaring blyk ook die volgende: die sesde respondent in die
onderhawige aansoek is ân sogenaamde âcash loanâ besigheid
te
Senekal; die skuldenaar het hierdie instansie gevra om die
administrasie-aansoek te doen en ân fooi is daarvoor beding; die
sesde respondent het Coetzer opdrag gegee om die aanstelling van die
tweede respondent as administrateur te verkry. Die applikant
beweer
dat die administrateur ân gesiglose persoon is wat ân totale
vreemdeling in Senekal is en dat die skuldeisers verdien
om ân
persoon in Senekal self aan te stel wat verkieslik ân plaaslike
prokureur moet hê om na die skuldeisers wat hoofsaaklik
in Senekal
woonagtig is, om te sien.
Dit blyk
uit die getuienis wat die derde respondent tydens die aansoek afgelê
het dat die bedrag wat hy aan die sesde respondent
skuld die fooi is
wat geverg is om die administrasie-aansoek te bring. Hy het getuig
dat hy R2 412,00 aan die sesde respondent moet
betaal om aansoek te
doen en dat hy alreeds R400,00 in kontant betaal het. Daar word
verder deur die applikant beweer, met verwysing
ook na advertensies,
dat mikro-gelduitleners, soos die sesde respondent, mense uitnooi om
onder administrasie te gaan en effektiewelik
word hulle dan ân
skuldeiser vir die behartiging van die administrasie. Ek ag dit nie
nodig om verder met die applikant se bewerings
waarom hierdie optrede
as ân hoogs onbevredigende toedrag van sake bestempel kan word nie,
te handel.
Die
tweede respondent sê in sy opponerende verklaring dat hy ân
prokureur is wat praktiseer te Roodepoort. Hy het ân geweldige
groot invorderingspraktyk en hy behartig meer as 1200 boedels as
administrateur. Hy beweer dat hy ân geruime tyd reeds konstant
adverteer in die âJunk Mailâ, ân advertensie koerant, asook in
die
Landbouweekblad
wat weekliks landwyd verskyn. Aangaande die onderhawige
administrasiebevel verduidelik hy dat hy deur die sesde respondent
gevra
is of hy bereid sou wees om die aanstelling as administrateur
van persone wat kragtens die bepalings van die Wet onder
administrasie
geplaas sou word, te aanvaar, wat hy bereid was om te
doen. Hy beweer dat mense met finansiële probleme nader
klaarblyklik die
sesde respondent en, indien dit ân gepaste geval
is om aansoek te doen vir ân administrasiebevel hanteer die sesde
respondent
en ân plaaslike prokureur op Senekal, mnr. Coetzer, die
aangeleentheid namens die applikant en word hy slegs as
administrateur
van die betrokke persoon se boedel aangestel. Voordat
ân administrasiebevel deur die landdros op Senekal uitgereik word,
het hy
geen aandeel in die voorbereiding of opstel van die stukke
nie. Hy raak die eerste keer betrokke wanneer die administrasiebevel
en sy aanstelling deur Coetzer aan hom versend word en hy handel
daarna ooreenkomstig die bepalings van artikel 74 van die Wet teen
die voorgeskrewe vergoeding. Die tweede respondent beweer voorts dat
die praktyk ten aansien van administrasiebevele is dat die applikant
die voorgenome administrateur nomineer en dat sodanige persoon na sy
ervaring sonder uitsondering deur die hof aangestel word veral
as dit
ân praktisyn is soos deur die Wet omskryf. Die Wet maak ook
voorsiening vir die ontslag van ân administrateur indien hy
hom nie
by die voorskrifte van die Wet hou nie. Tweede respondent beweer ten
slotte dat die applikant nie sy saak binne die kader
van enige van
die hersieningsgronde bring nie en nie ân behoorlike saak uitgemaak
het vir die regshulp wat gevra word nie.
Die
bepalings vir die maak van administrasiebevele en die aanstelling van
administrateurs wat al vir baie jare deel van die Wet is,
is
huidiglik vervat in artikel 74. Aangaande administrasiebevele sê
Cameron, AR in die ongerapporteerde saak van
MELVIN
WEINER NO v JIM GERARD PAUL BROEKHUIZEN
,
No.173/2001
van
31 Mei 2002 die volgende:
â
[3] Administration orders were first introduced when
the Act came into force in 1944. Its predecessor, the Magistratesâ
Court Act
32 of 1917, had no such mechanism. The new provisions
created a procedure that was at the time rightly dubbed a âmodified
form
of insolvencyâ, since it is particularly suited to dealing
with small estates where sequestration proceedings would swallow the
debtorâs assets. As Caney AJ explained more than fifty years ago:
â
This
is designed, it seems to me, as a means of obtaining a
concursus
creditorum
easily, quickly and inexpensively, and is particularly
appropriate for dealing with the affairs of debtorâs who have
little assets
and income and genuinely wish to cope with financial
misfortune which has overtaken them. Creditors have certain
advantages under
such an order, including the appointment of an
independent administrator and the opportunity of examining the
debtor. They are not
debarred from sequestrating the debtor if the
occasion to do so arises.â
[4] The provisions which have frequently been amended,
are now spelt out in prolific detail in s 74 and its associated
provisions,
s 74A to 74W.â
Die
voordele wat die skuldeisers het blyk duidelik uit onderafdelings van
artikel 74 soos byvoorbeeld onder andere artikel 74B en
artikel 74J.
Artikel
74(1) van die Wet magtig die Landdroshof om administrasiebevele te
maak en artikel 74E(1) bepaal dat wanneer ân administrasiebevel
gemaak is die hof ân administrateur moet aanstel. Die artikel
bevat geen voorskrifte aangaande wie en wie nie aangestel mag word
nie. Dit is na my mening heel duidelik dat die landdros ân
diskresie het by die aanstelling van ân administrateur. Indien
daar
gekyk word na die voordele wat die proses vir skuldeisers inhou,
onder andere ook die aanstelling van ân onafhanklike
administrateur,
kan daar geen twyfel wees nie dat dit nie slegs
iemand deur die skuldenaar genomineer, is wat aangestel kan word nie.
Die landdros
het dus na my mening by die vertolking van artikel 74
fouteer deur te bevind dat sy diskresie tot die mate aan bande gelê
is dat
hy slegs iemand wat deur die skuldenaar genomineer word, kan
aanstel. Dit is deur mnr. De Koning, namens die tweede respondent,
met verwysing na sekere beslissings aangevoer dat die feit dat die
landdros ân regsdwaling begaan het slegs ân grond vir hersiening
is indien dit tot gevolg gehad het dat hier nie ân billike verhoor
was nie wat nie in die onderhawige saak gesê kan word nie.
Sy
betoog is dat die landdros volledige argumente aangaande die
vertolking van die artikel aangehoor het en daarna tot ân bevinding
geraak het. Hier kan, aldus die argument, geen sprake van enige
onreëlmatigheid wees of dat daar nie ân billike verhoor was nie.
Ek kan nie met die betoog saamstem nie. Die Hooggeregshof het ân
hersieningsbevoegdheid uit hoofde van die bepalings van artikel
24(1)
van die Hooggeregshofwet No.59 van 1959. Ingevolge artikel 24(1)(c)
is een van die gronde âgrowwe onreëlmatigheid in verband
met die
verrigtings.â Die hersieningsbevoegdheid bestaan egter ook uit
hoofde van die gemenereg. Na my mening kan die regsdwaling
deur die
landdros begaan as ân hersieningsgrond dien beide ingevolge artikel
24(1)(c) van Wet 59 van 1959 en ingevolge die gemenereg.
Met
verwysing na ân growwe onreëlmatigheid in die verrigtinge soos
beoog in artikel 24(1)(c) van Wet 59 van 1959 sê Botha, AR
die
volgende in
PAPER, PRINTING WOOD &
ALLIED WORKERSâ UNION v PIENAAR NO
[1993] ZASCA 98
;
1993 (4) SA 621
(A) op 638H-I
die volgende:
â
That
expression is not confined to defects in the procedure as such. It
covers the case where the decision-maker through an error
of law
misconceives the nature of his functions and thus fails to apply his
mind to the true issues in the manner required by the
Statute, with
the result that the aggrieved party is in that respect denied a fair
hearing (see, for example,
Goldfields
Investment Ltd and Another v City Council of Johannesburg and Another
1938 TPD 551
;
Visser v Estate Collins
1952 (2) SA 546
(C)).â
In
die onderhawige saak het die landdros as gevolg van ân regsdwaling
tot die gevolgtrekking gekom dat hy slegs die persoon wat
deur die
skuldenaar voorgestel word as administrateur mag benoem. Hy het dus
die omvang van sy bevoegdhede deur ân wanbegrip beperk
en nie sy
aandag wat die aanstelling van ân administrateur betref, gegee op
dié wyse deur die Wet vereis nie. Die skuldeisers
wat na my mening
wel benadeelde of veronregte partye is, is dus wat die aanstelling
van ân administrateur betref nie ân billike
verhoor gegun nie.
Die
optrede van die landdros sou na my mening egter ook ooreenkomstig die
gemenereg hersienbaar gewees het. Sien in hierdie verband
die
opsomming deur Corbett, HR aangaande gemeenregtelike hersienings in
ons reg in
HIRA AND ANOTHER v BOOYSEN AND
ANOTHER
1992 (4) SA 69
(A) op 93A-I
.
Dit kan gesê word dat die landdros ân statutêre plig
verkeerdelik uitgeoefen het en die skuldeisers, as benadeelde of
veronregte
persone, was geregtig om die Hof te nader by wyse van ân
gemeenregtelike hersiening. Word die Landdroshof se optrede oor die
kam
geskeer van ân verkeerde vertolking van die statutêre bepaling
kom dit daarop neer dat die hof âfailed to apply its mind to
the
relevant issues in accordance with the behests of the Statuteâ en
dat sy aanstelling dus tersyde gestel moet word.
Die
aansoek moet gevolglik slaag en die landdros se aanstelling van die
tweede respondent as administrateur tersyde gestel word.
Aanvanklik
het die applikant slegs ân kostebevel teen die derde respondent
gevra. In sy opponering van die aansoek het die tweede
respondent
gevra dat die aansoek met koste van die hand gewys word. In die
repliserende verklaring vra die applikant dat die tweede
respondent
gelas moet word om die koste te betaal, alternatiewelik dat die
tweede en die derde respondente gesamentlik en afsonderlik
gelas
moet word om die koste te betaal. Mnr. De Koning het aangevoer dat
daar aanvanklik nie koste teen die tweede respondent gevra
is nie,
dat die tweede respondent in die opponerende verklaring slegs sy
posisie in die korrekte perspektief probeer stel het en
dat hy nie
tot die betaling van enige koste veroordeel behoort te word nie. Dit
sou meer korrek gewees het indien die applikant
aanvanklik in die
aansoek gemeld het dat daar, afgesien van die derde respondent, slegs
koste teen enigeen van die ander respondente
gevra sou word indien
enige van hulle die aansoek opponeer. Die probleem is egter dat die
tweede respondent nie slegs sy posisie
wou verduidelik nie, maar hy
het verder gegaan en gevra dat die aansoek afgewys word met koste.
Hy het die aansoek onsuksesvol geopponeer.
In die lig van al die
omstandighede en in die lig daarvan dat die opposisie onsuksesvol is
behoort hy die koste veroorsaak deur
die opposisie van die aansoek te
betaal. Dit was egter die derde respondent se optrede wat die
aansoek genoodsaak het. Hy moet
dus die koste van die aansoek op ân
ongeopponeerde basis betaal.
Die
volgende bevele word gemaak:
1. Die aanstelling van die tweede respondent, Wynand du
Plessis, as administrateur in die boedel van T.Z. Radebe word
tersyde gestel.
2. Die derde respondent word gelas om die koste van die
hersieningsaansoek op ân onbestrede basis te betaal.
3. Die tweede respondent word gelas om die koste van die
opposisie tot die aansoek te betaal.
A.P.
VAN COLLER, R
EK
STEM SAAM
C.B.
CILLIé, R
Namens Applikant:
Adv.
J.Y. Claasen
i.o.v.
Naudes
Namens Tweede Respondent:
Adv.
L.W. de Koning
i.o.v.
E.G. Cooper & Seuns Ing.
/scd