About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria
>>
2001
>>
[2001] ZAGPPHC 1
|
|
Thirion v Die Meester en Andere (4462/00) [2001] ZAGPPHC 1; - (19 March 2001)
SAFLII
Note:
This
case was originally published by Juta and Company (Pty) Ltd. Juta
retains copyright as far as it subsists.
IN
DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(TRANSVAALSE
PROVINSIALE AFDELING)
In
die saak tussen:
THIRION
APPELLANT
V
DIE
MEESTER EN
ANDERE RESPONDENT
Parallel
citation:
2001 (4) SA 1078
(T)
Coram:
van der Westhuizen R
Heard:
March 19, 2001
Judgment:
March 19, 2001
UITSPRAAK
Case
Information
Aansoek
om dokument wat nie aan die vormvereistes soos in art 2(1) van die
Wet op Testamente 7 van 1953 uiteengesit voldoen nie,
as testament
van die oorledene te aanvaar. Die feite blyk uit die uitspraak.
M
A L Frantzen namens die applikant.
H
Gerber namens die derde respondent.
Judgment
Van
der Westhuizen R:
1.
Inleiding
Filosowe
sê vir ons dat die reg onder meer 'n produk is van die menslike
gees en van kultuur. Dit is verweef met 'n gemeenskap
se
2001
(4) SA p1083
VAN
DER WESTHUIZEN R
godsdienstige,
ideologiese en morele oortuigings en sosiale gebruike. Dit word
beïnvloed nie slegs deur ons siening van lewe
en dood nie, maar
ook deur ons materiële behoeftes. Die reg is veronderstel om ons
persepsie van geregtigheid en billikheid
te vergestalt.
Tog
kom innerlike spanning dikwels voor tussen sommige van die
oortuigings en behoeftes waardeur ons beheer word. Hierdie spanning
word soms vergestalt in 'n oordeel wat regtens korrek mag wees, maar
wat as onregverdig of onbillik ervaar word, of andersom.
'n
Gebied waar spanning so dikwels voorkom, dat dit die verhaalkuns
stimuleer en tot populêre spreekwoorde aanleiding gee
is die
erfreg. Aan die een kant het sekere reëls uitgekristaliseer oor
wat objektief moreel en logies korrek is. Derhalwe
bepaal die
intestate erfreg 'n sekere rangorde van persone aan wie 'n oorledene
se boedel nagelaat word, soos die oorlewende eggenoot,
kinders,
ouers, broers en susters en so meer. Tog respekteer ons die wense van
'n persoon wat nie meer met ons is nie soveel, dat
die reg 'n mens in
beginsel toelaat om al jou eiendom te bemaak aan jou spreekwoordelike
gunsteling kroegman, of die dierebeskermingsvereniging,
selfs ten
koste van jou eggenoot en kinders, mits ons maar seker is dat dit wel
die bedoeling van die erflater is. Die reg eer
die begeerte van 'n
dooie, selfs tot die punt waar dit haat en nyd onder oorlewende
naasbestaandes veroorsaak, of so onbillik voorkom
dat dit ten hemele
skree. Slegs waar bewys kan word dat 'n testatêre aanwysing
deur 'n gestorwe persoon die gevolg is van
dwang of onbehoorlike
beïnvloeding word dit nie deur die reg erken nie. Die
oënskynlike onbillikheid of immoraliteit
van 'n persoon wat sy
lewenslange getroue eggenoot behoeftig agterlaat ten einde sy
gunsteling prostituut luuks te laat lewe, weeg
nie op teen die reg se
respek vir die wens van die dooie nie. Die rede hiervoor mag
godsdienstig of andersins geestelik gegronde
agting wees vir die
dood, of dalk vir die hiernamaals, of dit mag 'n kapitalisties
gedrewe respek vir eiendomsreg wees: Wat aan
jou behoort, mag in
beginsel slegs jy oor beskik, volgens jou goeddunke, ongeag die wyse
waarop jy moontlik daaraan gekom het en
wie dit die meeste verdien.
Hierdie respek vir eiendomsreg, hoor ons dikwels, kom al van die
Romeine af.
Die
aansoek voor my behels 'n stryd rondom 'n oorledene se twee beweerde
testamente, tussen sy moeder, wat hom oor baie jare beskerm
en
gekoester het, en sy geliefde vriendin of meisie of 'mistress' van
die laaste paar jaar van sy lewe, welke vriendien deur sy
familie en
vriende as 'n immorele en skaamtelose uitbuiter beskou word.
Die
applikant versoek die Hof om 'n bevel te maak dat die Meester van die
Hooggeregshof 'n dokument gedateer 27 November 1996 (aanhangsel
C tot
die aansoek) vir die doeleindes van die Wet op Testamente 7 van 1953,
as die geldige testament van die oorledene moet aanvaar,
en om te
verklaar dat die gemelde dokument 'n testament wat deur die oorledene
onderteken is op 4 Februarie 1988, herroep het.
In 'n derde bede vra
die applikant 'n bevel dat 'die applikant die koste van die aansoek
self dra, meer geregtig sal wees op koste
wat deur ongeregverdigde
opposisie veroorsaak word'.
2001
(4) SA p1084
VAN
DER WESTHUIZEN R
Die
applikant is die oorledene se vriendin en die derde respondent wat
die aansoek teenstaan is sy moeder.
2.
Feite en geskille
Willem
Petrus Jacobs, wat in hierdie uitspraak die oorledene genoem word,
was glo sedert sy skooldae te Kathu naby Kuruman nooit
juis 'n
toonbeeld van fisiese perfeksie en 'n voorwerp van sosiale
bewondering nie. Hy was oorgewig, volgens sy moeder. Tot met
sy dood
het hy eintlik net twee goeie vriende gehad, naamlik die twee Van Wyk
broers - die een nou 'n polisiesersant en die ander
'n konstabel. Die
enigste meisie wat hy ooit gehad het, Amanda van Wyk, het hom na 'n
verhouding van twee jaar afgesê terwyl
hy met sy militêre
diensplig besig was.
Dit
was vir hom traumaties en hy het glo menigmaal gesê dat hy
klaar is met vrouens omdat hulle so onvoorspelbaar is en dat
hy nooit
sou trou nie. Op 4 Februarie 1988 het hy dan ook in 'n behoorlik
verlyde en ondertekende testament sy ouers as sy enigste
erfgename
benoem. Uit hierdie dokument (aanhangsel F tot die stukke) blyk dit
dat hy, ten spyte van sy ontnugtering oor vroue,
nie alle hoop op die
verskyning van 'n liefdevolle lewensmaat laat vaar het nie, want die
dokument bepaal ook dat indien hy by
sy afsterwe getroud is, die
bemaking aan sy ouers sou verval en sy eggenote dan sy enigste en
algehele erfgenaam sou wees.
Dit
wil voorkom asof die oorledene na sosiale aanvaarding gesmag het.
Volgens sy moeder was hy maklik manipuleerbaar, het hy al
sy geld op
ander mense bestee en het hy maklik skuld gemaak om ander rondom hom
gelukkig te hou. Ten spyte van die feit dat hy
by Yskor te Kathu 'n
salaris verdien het, het hy by sy moeder geld geleen en sakgeld
ontvang. Hy was veral gedurig gereed om ander
te onthaal en het
dikwels vleis en drank vir die hele partytjie voorsien. Sy suster,
wat agt jaar ouer as hy is, asook die Van
Wyk broers, bevestig dit.
Toe
ontmoet hy vir Sophia Magrietha Magdalena Thirion in 'n dansplek in
Kuruman in 1994 en raak reddeloos verlief op haar. 'n Vurige
romantiese verhouding het ontstaan. Die twee verliefdes het mekaar
veral gereeld geselskap gehou in die videowinkel te Kathu, wat
deur
haar bedryf is.
Maar
sy was getroud. Ook het sy twee skoolgaande kinders by haar eggenoot
gehad, asook nog 'n ouer dogter, Eileen, uit 'n vorige
huwelik, wat
'n keer of wat deur een van die twee Van Wyk broers uitgeneem is. Sy
was heelwat ouer as die oorledene en moontlik
meer ervare as hy in
die sake van beide die hart en die vlees. Volgens haar was haar
huwelik toe lank reeds ongelukkig en spoedig
het sy en die jong man
nie net gepraat oor skei en trou nie, maar het sy inderdaad 'n
prokureur opdrag gegee om die wiele van die
egskeidingsreg aan die
rol te sit.
Sy
was egter bekommerd. Op daardie stadium was sy, volgens haar, net
mooi finansieel onafhanklik, veral weens die inkomste uit die
videowinkel, en kon sy ook nog op haar man se finansiële steun
staatmaak. Die oorledene het niks gehad nie, nie eens 'n
motorvoertuig
nie. Sy was besorg oor haar en haar kinders se
finansiële toekoms. Volgens haar het die liefde egter geseëvier.
Hy was
baie lief vir haar en haar kinders en die kinders ook vir hom.
Ten spyte van die armoede wat haar in die gesig gestaar het, het
die
vooruitsig op 'n gelukkige en
2001
(4) SA p1085
VAN
DER WESTHUIZEN R
liefdevolle
toekoms haar oorreed om haar rug te keer op haar ongelukkige huwelik
en die finansiële sekuriteit wat daarmee gepaard
gegaan het.
Sy
het besluit om te skei, en selfs gevorder tot waar die boedel verdeel
en 'n skikking opgestel en onderteken is. Hy het 'n oorplasing
na
Pretoria gevra om meer geld te verdien en omdat die mense van Kathu
oor hulle sou skinder. Dít sou nie goed wees vir
die kinders
nie. In September 1996 het hy toe na Pretoria verhuis. Sy en Eileen
het hom in November gevolg en by hom ingetrek te
Kraaistraat 215,
Kwaggasrand.
Sy
is vandag egter steeds getroud.
Soos
te verwagte, is die oorledene se moeder se siening van die groot
liefde taamlik anders. Sy het teen die einde van 1994 van
die
verhouding uitgevind, omdat sy 'n rekening moes vereffen vir blomme
wat hy aan sy meisie gestuur het. Sy het haar seun gewaarsku
dat hy
met vuur speel. Tog het hy nog goed klaargekom met sy ouers; trouens,
so goed dat dit ondenkbaar is dat hy hulle ooit sou
onterf terwyl hy
by sy volle positiewe is. Die moeder se houding is dat haar onervare
seun oorweldig was deur die aandag wat die
gevaarlike ouer vrou aan
hom gegee het. Hy het haar op die hande gedra en sou enige iets vir
haar doen. Sy het hom na willekeur
gemanipuleer. Sy was 'n uitbuiter
wat hom soos 'n warm patat sou los, nadat sy al die geld wat sy uit
hom kon kry, gekry het.
Ten
spyte van sy armoede, het hy geld op haar uitgegee en groot skuld
gemaak. Hy het selfs vir haar 'n hangertjie by Foschini op
skuld
gekoop. Ma moes daarvoor betaal. Hy het begin om van die werk af weg
te bly en om baie te drink. Saans het hy in sy kamer
gesit en drink
en briewe aan sy meisie geskryf. Daar was 'n hele koekblik vol briewe
in sy kamer. Die applikant sê ook dat
hy baie briewe geskryf
het. Sy het heelwat daarvan gehou. In die briewe het hy haar 'my
toekomstige mev Jacobs', 'Rooikappie',
'Kwaaitjie' en 'Glory Moon'
genoem.
Ook
die een Van Wyk broer getuig dat dit vroeg reeds vir hom duidelik was
dat die applikant op sy arme vriend geteer het. Hy het
selfs vir haar
gordyne van R4 000 gekoop. Geld was duidelik vir haar belangrik. In
Kwaggasrand, Pretoria wou dinge nie reg loop
nie. Geld was maar die
probleem. Daar word mos gesê dat wanneer armoede by die
voordeur inkom, vlug liefde by die agterdeur
uit. Die weergawe van
die toenmalige toekomstige mev Jacobs verskil egter van die moeder en
die Van Wyk broers s'n. Sy het gou
agtergekom dat daar nie geld is
nie. Daar was ook nie meubels nie. Die hoëtroustel en klein
televisiestel het hy op skuld
gekoop. Hy het selfs sy visstok verkoop
om geld in die hande te kry, sou sy later uitvind. Volgens haar het
hy gereeld by haar
geld geleen. Hulle het begin rusie maak oor die
tekort aan geld. Hy het ook begin om vreemd op te tree. Hy was
emosioneel en terneergedruk,
blykbaar omdat hy bekommerd was dat hy
nie vir haar en die kinders sou kon sorg nie. Volgens sy moeder het
sy tydens 'n telefoniese
gesprek op 15 November 1996 agtergekom dat
alles nie pluis is nie. Hy het baie hartseer geklink, maar gesê
dit is sy sinusprobleem
wat pla. Die applikant sou glo vir hom kom
kuier en hy wou weer geld by ma leen. Ma het nie geld gehad nie weens
pa se siekte.
Pa is intussen oorlede.
Intussen
het hy nog R500 by die bank geleen. Die Van Wyk broers vertel ook dat
dinge tussen hul vriend en sy geliefde skeefgeloop
het en dat dit nie
goed gegaan het met hom nie, van vroeg in November af al.
2001
(4) SA p1086
VAN
DER WESTHUIZEN R
Hy
was bedruk en bang dat sy nie na hom toe sou kom in Pretoria nie. Hy
het glo gesê dat sy nie meer lief is vir hom nie en
dat sy vir
hom gesê het dat hy nie geld het om vir haar te sorg nie. Hulle
het baklei, ook wanneer hul saam met hul vriende
en Eileen uitgegaan
het.
Ook
het hy teen dié tyd vreeslik gedrink. Een aand, 22 November
1996, toe hulle by die nagklub Terrace in die Pretoria se
middestad
was, het hulle 'n lelike argument gehad. Hy het glo 26 Springbokkies
bestel, in 'n ry op die kroegtoonbank staan gemaak
en hulle toe die
een na die ander weggesluk. Springbokkies bestaan uit Cape Velvet
likeur en peperment likeur. Toe begin hy huil
en vertel vir sy vriend
dat Eileen en haar ma van plan was om 'n gesellinklub in sy huis oop
te maak. Op 28 November het hy die
een Van Wyk broer geskakel en gesê
dat hy die applikant gevra het om te trou, maar dat sy geweier het.
Dit het waarskynlik
op die 26ste gebeur volgens Van Wyk, want die
oorledene was juis die aand so netjies aangetrek en baie opgewonde.
Die paartjie
sou saam met hul vriende 'n drankie gaan drink, maar
hulle het rusie gekry en die geselskap het opgebreek.
Op
Woensdagaand, 27 November 1996, het die twee só rusie gemaak
dat die applikant en Eileen sy huis verlaat het. Vir die
een Van Wyk
broer het hy glo oor die telefoon gesê dat hulle weg is en dat
hy maar sou begin drink.
Ook
op 27 November skryf hy toe 'n nuwe testament in sy eie handskrif
waarin hy alle vorige testamente herroep en al sy eiendom
en
versekering aan sy minnares, Sophia Thirion, die applikant, bemaak.
Hieroor later meer.
Op
Donderdag, 28 November, skakel hy die Van Wyk broer om 17:00 en sê
dat hy nie van sy geliefde kan vergeet nie en besig
is om te drink.
Laat die aand skakel hy weer en klink hy baie dronk, huil hy en sê
hy dat hy nie meer wil lewe nie, volgens
Van Wyk.
Toe
die applikant op Vrydag, 29 November, weer by die huis in Kwaggasrand
opdaag, was hy reeds dood. Hy het selfmoord gepleeg -
hom vergas.
Nou
is die vraag of die dokument van 27 November 'n geldige testament is
waarin die oorledene sy vorige testament herroep, en sy
moeder
onterf, en die applikant sy enigste erfgenaam gemaak het. Soos reeds
gesê, het hy nie juis veel gehad nie. Blykbaar,
volgens
mededelings deur die een advokaat, gaan dit oor 'n lewenspolis van
ongeveer R130 000.
Die
applikant is oortuig dat hy haar as erfgenaam benoem het. Die
dokument spreek immers vanself. Hy het haar liefgehad en wou haar
finansieel onafhanklik maak. Hulle het in ieder geval trouplanne
gehad. Talle van sy briewe getuig van hulle liefde.
Sy
moeder, oftewel die derde respondent, se standpunt is dat hy nooit by
sy volle positiewe kon wees toe hy die dokument opgestel
het nie. Hy
was emosioneel onstabiel, depressief, waarskynlik onder die invloed
van alkohol en onbehoorlik mislei deur die applikant.
Sy het hom
skaamteloos gemanipuleer en uitgebuit om geld uit hom te maak. Die
rede vir sy depressie was juis dat hy gemeen het
dat hy haar nie
finansieel gelukkig kon hou nie. Die gewraakte testament was ''n
laaste poging van 'n desperate jong man . . .
om te probeer vasklou
aan 'n vrou wat hom
2001
(4) SA p1087
VAN
DER WESTHUIZEN R
verlaat
het'. Die vrou het hom ook nie liefgehad nie. Toe hulle haar na die
oorledene se dood gaan besoek het om te probeer vasstel
wat gebeur
het, op uitnodiging van haar eggenoot nogal, het sy selfs glo gesê:
'Mag hy vrot.'
Die
derde respondent beweer dat die handskrif op van sy briewe en die
beweerde testament van 28 November verskil. Derhalwe het sy
die
dokumente deur 'n handskrifdeskundige laat ondersoek. Volgens
laasgenoemde kon alkohol die oorsaak gewees het van sy swak motoriese
beheer, en blyk dit uit die testament van 27 November dat die
dokumente op verskillende stadia geskryf is. Die oorledene se suster
en die Van Wyk broers deel die derde respondent se siening. Trouens,
die konstabel verklaar dat hy die huis besoek het na die selfmoord
en
dat hy in die huis 'opgeskeurde papiere' gekry het 'waarop die
oorledene al sy besittings aan die applikant bemaak in die vorm
van
'n testament'. Hierdie papiere het hy aan die oorledene se vader
oorhandig. In die huis het hy ook 'n televisiekoord gevind
wat soos
'n galgtou opgerol was. Eileen het hom glo op 29 November meegedeel
dat die oorledene homself op 27 November probeer ophang
het.
Konstabel Van Wyk verklaar ook dat hy 'n halwe bottel rum in die huis
gevind het. Die konstabel 'het geen twyfel dat die oorledene
dit
gedrink het nie' en 'doen met eerbied aan die hand dat die oorledene
onder die invloed van alkohol was' en 'nie by sy volle
positiewe was'
toe hy die beweerde testament opgestel het nie. By hom is daar 'geen
twyfel dat die applikant die oorledene onbehoorlik
beïnvloed het
met haar optrede' om die dokument op te stel nie.
Die
betekenis van die opgeskeurde papiere wat opgetel sou wees, is nie
mooi duidelik binne die konteks van die feite nie. Die applikant
verklaar van haar kant dat sy deur die polisie verwittig is dat die
oorledene op 27 November 'n sogenaamde selfmoordnota geskryf
het, wat
in die huis gevind is, asook 'n laaste testament in sy eie handskrif.
Afskrifte van die testament en selfmoordnotas is
as aanhangsels C, D
en E by die hofdokumente aangeheg.
Die
beweerde testament lui soos volg:
'Ek, Willem Petrus
Jacobs, te woonagtig 215 Kraaistraat, ID nommer 690222 5043 083,
herroep hiermee alle vorige testamente soos
op 27 November 1996. Ek
bemaak al my eiendom en polisse en groepversekering aan Sophia
Thirion te woonagtig Tolbosstraat 3, Kathu,
telefoon 05376 (31097).
Hoop dit gee jou die finansiële afhanklikheid waarna jy so
verlang, Glory Moon, sodat jy van geen
man afhanklik hoef te wees
nie. Jy het my gewen, kwaaitjie wend die geld wys aan, my lief. Dit
is Kwaaitjie s'n. Horlosie armbandjie.
My laaste wens W P Jacobs, 27
November 1996.'
Die
selfmoordnotas D en E lees soos volg:
'Liewe Kwaaitjie,
Jammer, maar ek kan nie
meer nie. Ek het jou gesê jy gaan nog my dood beteken. Het
nooit bedoel om jou opsetlik seer te maak
nie. Baie, baie lief vir
jou, maar ek kan jou nie gelukkig maak nie. Jammer, Kwaaitjie.'
(Dan volg 'n aantal
telefoonnomers ensovoorts.)
'Ek het my redes hoekom
ek dit gedoen het wat ek nou gaan doen. Na dit sal jy die finansiële
vryheid hê om van geen man
afhanklik te wees nie. Dit is al wat
ek nog rêrig vir jou kan doen. Ek sal nooit met al die pyn en
hartseer kan saamleef
2001
(4) SA p1088
VAN
DER WESTHUIZEN R
nie, so ek is jammer maar
ek kan aan geen ander oplossing dink vir my hartseer nie.
Daar was eendag 'n baie
oulike meisie en haar naam was rooikappie wat alles beteken het vir
'n outjie genaamd wolfie maar eendag
het daar iets skeefgeloop, nou
is wolfie se rooikappie se hart stukkend en hartseer, wat nie meer
heelgemaak kan word nie.
Glo my, daar sal nooit
weer so iemand soos jy in my lewe wees nie.
Ek wens jou alle
voorspoed toe vorentoe my rooikappie.
Kyk mooi na jouself.'
Die
applikant reageer in 'n repliserende eedsverklaring op die moeder,
suster en Van Wyk broers se bewerings dat die oorledene oorgewig
en
ongewild was, dat sy hom nie liefgehad het nie en slegs uitgebuit het
en dat hy homself ter wille van haar in die skuld gedompel
het, asook
dat hy onder die invloed van alkohol was. Om redes wat volg, laat ek
dit egter buite rekening.
3.
Laat liassering van eedsverklaring
Die
applikant het op 28 Februarie 2001 'n repliserende eedsverklaring
geliasseer, ongeveer tien maande laat. Die derde respondent
se
beantwoordende eedsverklaring is reeds in April 2000 geliasseer. Geen
substantiewe aansoek om kondonasie is geloods nie. Sy
poog om in die
verklaring die redes vir die laat liassering uiteen te sit. Sy het
nie geld om te litigeer nie en word deur die
Regshulpraad bygestaan.
Prokureurs het geweier om vir haar op te tree teen die Regshulpraad
se lae tariewe. Haar huidige prokureur
het ingewillig om vir haar op
te tree op die basis dat hy slegs in verband met hierdie saak werk
sou verrig wanneer dit noodsaaklik
is en hy geen ander werk het nie.
Ook advokate wou nie teen die lae tarief optree nie. Haar huidige
advokaat is kort voordat die
aangeleentheid voorheen aangehoor is
aangestel en hy het haar geadviseer dat 'n repliserende
eedsverklaring wel opgestel moes word.
Onder meer om daardie rede is
die aansoek op 24 Oktober 2000 uitgestel. Ook het sy probleme gehad
om 'n afskrif van die nadoodse
ondersoek in die hande te kry en is
die dokument eers op 16 Februarie 2001 ontvang.
Onder
meer in die lig van die lang tydperk wat die repliserende
eedsverklaring laat was en die afwesigheid van 'n behoorlike aansoek
met stawende beëdigde verklarings van byvoorbeeld die applikant
se prokureur en waarop die derde respondent sou kon antwoord,
is die
applikant se redes vir die versuim nie oortuigend nie. Dit is
weliswaar so dat Reëls daar is om die Hof te dien en
nie
andersom nie, maar dit sou onbillik wees om sodanige ernstige
versuim, wat grotendeels die gevolg van nalatigheid en 'n gebrek
aan
ywer blyk te wees, oogluikend toe te laat.
Kondonasie
vir die laat liassering van die repliserende verklaring word derhalwe
geweier. Die verklaring word nie toegelaat nie
en die inhoud daarvan
word buite rekening gelaat. Mnr Frantzen het namens die applikant
aangedui dat hy opdrag het om in geval
dit my besluit sou wees in
ieder geval met die aansoek voort te gaan.
4.
Die twispunte
Die
inhoud van die beweerde testament van 27 November 1996 is duidelik en
daar word deur die partye aanvaar dat die oorledene dit
2001
(4) SA p1089
VAN
DER WESTHUIZEN R
opgestel
het, dat dit in sy handskrif gedoen is en dat hy waarskynlik alleen
was toe hy dit gedoen het. Die derde respondent se
aanval op die
dokument staan op twee bene. Die eerste is dat daar nie aan die
vereistes van art 2(1) van die Wet op Testamente
7 van 1953, soos
gewysig, voldoen is nie. Volgens die artikel moet die testament in
die teenwoordigheid van twee getuies deur die
erflater onderteken
word. Die tweede is die bewering, van die kant van die derde
respondent en diegene wat haar weergawe ondersteun,
dat nie bevind
kan word dat die oorledene die bedoeling gehad het dat die dokument
sy testament moet wees nie, aangesien hy nie
oor die nodige
bevoegdheid beskik het om 'n testament op te stel nie.
Die
oorledene is onbehoorlik beïnvloed deur die applikant. Sy
hopelose verliefdheid op haar, sy manipuleerbaarheid, die druk
wat sy
op hom geplaas het, veral finansieël, tesame met die
moontlikheid dat sy hom sou verlaat kom op onbehoorlike beïnvloeding
neer, veral gesien binne die konteks van sy desperaatheid en
depressie en die waarskynlikheid dat hy tydens die opstel van die
dokument onder die invloed van alkohol was. Die applikant steun op
art 1(3) van die gemelde Wet wat die eerste been betref en voer
ten
aansien van die tweede aan dat daar geen sprake van onbehoorlike
beïnvloeding is nie.
5.
Toepassing van die reg op die feite
5.1 Vormvereistes:
Ten aansien van die feit
dat die dokument nie in die teenwoordigheid van getuies opgestel en
onderteken is nie, is art 2(1) van
die Wet op Testamente van
toepassing. Dit skryf 'n aantal formaliteite voor, waaronder dat 'n
testament in die teenwoordigheid
van twee getuies onderteken moet
word. Die doel daarvan is om die moontlike euwel van bedrog te
voorkom. (Kyk byvoorbeeld na Ex
parte Naidu and Another
1958 (1) SA
719
(D).)
Normaalweg sal die
voorgeskrewe formaliteite inderdaad daartoe bydra om bedrog en
onsekerheid uit te skakel. Waar bedrog of onsekerheid
egter nie ter
sprake is nie, sou die rigied voorgeskrewe formaliteite egter kon
dien om die laaste wilsuiting van 'n testateur
te bemoeilik of in die
weg te staan (Ex parte Williams: In re Williams' Estate
2000 (4) SA
168
(T)). Derhalwe kom art 2(3) hier ter sprake. Die Afrikaanse teks
lui soos volg:
'Indien 'n hof oortuig is
dat 'n dokument of die wysiging van 'n dokument wat opgestel of verly
is deur 'n persoon wat sedert die
opstel of verlyding daarvan oorlede
is, bedoel was om sy testament of 'n wysiging van sy testament te
wees, gelas die hof die Meester
om daardie dokument, of die dokument
soos gewysig, vir doeleindes van die Boedelwet 66 van 1965, as
testament te aanvaar ofskoon
dit nie aan al die vormvereistes vir die
verlyding of wysiging van testamente bedoel in subart (1) voldoen
nie.'
Die Engelse teks lui soos
volg:
'If the court is
satisfied that a document or the amendment of a document drafted or
executed by a person who had died since the
drafting or execution
thereof, was intended to be his will or an
2001
(4) SA p1090
VAN
DER WESTHUIZEN R
amendment of his will,
the court shall order the Master to accept that document, or that
document as amended, for the purposes of
the Administration of
Estates Act 66 of 1965, as a will, although it does not comply with
all the formalities for the execution
or amendment of wills referred
to in ss (1).'
'n Opvallende verskil
tussen die twee bewoordings is dat die Engelse teks dit duidelik stel
dat die Hof die Meester moet ('shall')
beveel om die dokument as
testament te aanvaar indien aan die eerste gedeelte van art 2(3)
voldoen word, terwyl die Afrikaanse
bewoording meer in die
teenwoordige tyd of verteltrant sê dat die Hof die Meester
'gelas'.
Hoe dit ook al sy, het
die volbankuitspraak van Swart R in hierdie afdeling met wie Van Dyk
R en Van der Merwe R saamgestem het
in die reeds vermelde
Williams-saak 'n groot mate van duidelikheid gebring, nadat
uiteenlopende benaderings voorheen in verskeie
uitsprake gevolg is.
Op bladsy 172B - C sê Swart R:
'The inference is
inescapable that the Legislature by promulgating s 2(3) intended to
ameliorate very real cases of injustice due
to strict compliance with
formalities (as illustrated in the Naidu judgment) and to reaffirm
the sanctity of the testator's last
wishes. A Court will, of course,
bear in mind that the Legislature has stated requirements within the
framework of which this purpose
is to be served and has not stated a
general principle which the Courts can apply at will or on a
discretionary basis.'
Swart R analiseer dan die
tersaaklike vereistes. Daar moet naamlik 'n dokument wees en die
dokument moet opgestel wees deur 'n persoon
wat sedertdien oorlede
is. Op die moontlike interpretasie van woorde soos 'opgestel' en
'drafted' word nie hier ingegaan nie, omdat
dit nie ter sake is nie.
Die Hof moet op 'n oorwig van waarskynlikhede tevrede wees dat die
opsteller van die dokument bedoel het
dat dit sy testament moet wees.
Dit wil voorkom of hierdie vereiste steeds te make het met sekerheid
oor wie die opsteller van
die dokument werklik is, oftewel wie se wil
daarin vervat is, eerder as om op 'n persoon se vermoë om 'n
regsgeldige bedoeling
te vorm, oftewel sy testeerbevoegdheid te
slaan.
Op bladsy 179B van die
Williams-uitspraak vermeld Swart R as voorbeeld dat 'n voorlopige
skets of notas aan 'n prokureur of 'n skriftelike
opdrag aan 'n
prokureur nie voldoende sal wees nie. Indien die Hof aldus tevrede
is, moet die Hof die Meester gelas om die testament
te aanvaar. Ander
aspekte wat in die Williams-saak bespreek is, is beswaarlik ter sake
op die relatief eenvoudige feite van die
huidige geval (kyk
byvoorbeeld ook na Horn en Andere v Horn en 'n Ander
1995 (1) SA 48
(W) en Ex parte De Swardt and Another NNO
1998 (2) SA 204
(C)).
Hier is geen twyfel nie
dat die ongelukkige Willem Petrus Jacobs die skepper, opsteller of
skrywer van die betrokke testament van
27 November 1996 is en dat hy
bedoel het dat dit sy testament moet wees. Die nie-nakoming van die
vormvereistes
2001
(4) SA p1091
VAN
DER WESTHUIZEN R
wat deur art 2(1)
voorgeskryf word help nie die respondent nie, in die lig van art 2(3)
en die gesag in verband daarmee. Mnr Gerber
het in sy argument namens
die derde respondent ook feitlik glad nie op die aspek van die
afwesigheid van getuies gekonsentreer
nie.
Die vraag hier is of die
oorledene geweet het wat hy doen en dit inderdaad uit vrye wil gedoen
het en of hy onder die onbehoorlike
invloed van sy ouer getroude
vriendin opgetree het. Ek het die moontlikheid oorweeg dat die
tersaaklike dokument dalk as 'n voorlopige
nota of a blote
konsep-testament beskou sou kon word wat die oorledene moontlik nog
verder wou oorweeg het, soos die voorbeelde
in verband met
instruksies aan prokureurs waarna verwys is. In die lig van die feite
van hierdie geval is dit egter my oortuiging
dat hy bedoel het dat
dit sy testament moet wees. Hy het immers kort na die skryf daarvan
'n einde aan sy lewe gemaak.
5.2 Testeerbevoegdheid en
onbehoorlike beïnvloeding:
Die onus om te bewys dat
'n testament ongeldig is op grond van onbehoorlike beïnvloeding,
oftewel die afwesigheid van testeerbevoegdheid
is op die persoon wat
sodanige stand van sake beweer. (Kyk na Executors of Cerfonteyn v
O'Haire 1873 Buch 47 op 72, 79.)
Natuurlik is dit nie
altyd maklik om te bepaal wanneer 'n persoon sodanig gedwonge optree
of onbehoorlik beïnvloed is dat sy
of haar optrede nie voldoende
vrywillig is om deur die reg erken te word nie. Waar lê die
grens tussen emosioneel gedrewe
en selfs onlogiese of onredelike
optrede waaraan die reg gevolg gee, en ongeldige optrede? Soos ten
aanvang vermeld, sou daar geen
behoefte wees aan die erkenning van 'n
testament as laaste wilsuiting indien daar nie juis deur die reg
ruimte gelaat word vir
emosionele, onlogiese of onredelike
wilsuitings nie. Die intestate erfreg bepaal heel rasioneel en
objektief regverdig wie 'n persoon
se erfgename is. Tog erken die reg
die wil van iemand wat dit juis anders wil hê. Sodanige
behoefte mag juis beïnvloed
word deur emosionele voorkeure, soos
die feit dat 'n testateur een persoon bo 'n ander verkies, of selfs
omdat hy of sy diegene
naaste aan hom of haar te na wil kom deur
hulle te onterf. Dit is dus ook heel verstaanbaar dat 'n mens die
opregte bedoeling kan
hê om 'n persoon vir wie jy lief is, of
wat vir jou op die een of ander wyse geluk verskaf het, te
bevoordeel, bo dié
wat die bevoordeling dalk eerder verdien.
Soos vroeër vermeld,
aanvaar ons om welke godsdienstige, ideologiese of ander redes ook
al, dat 'n mens vry oor jou eiendom
mag beskik, selfs op 'n onbillike
wyse. Tog wil die reg nie gevolg gee aan die onbehoorlike pogings van
uitbuiters om 'n sterwende,
siek of andersins weerlose of maklik
beïnvloedbare persoon tot hul voordeel te manipuleer nie.
Duidelike dwang of bedrog is
nie die probleem nie en is ook nie wat
hier ter sprake is nie. Die vraag is waar om die streep te trek
tussen aanvaarbare nabyheid
en onbehoorlike beïnvloeding.
2001
(4) SA p1092
VAN
DER WESTHUIZEN R
Enkele riglyne kan uit
die regspraak afgelei word. Na Spies NO v Smith en Andere
1957 (1) SA
539
(A) is deur beide partye verwys. Spies was ''n persoon van
agterlike verstand' wat van kindsbeen af aan vallende siekte gely het
(op 543C - D). Sy testament is betwis op grond van sy verstandelike
onbekwaamheid. In die alternatief is aangevoer dat hy deur
onbekende
persone 'onregmatiglik en onbehoorlik beïnvloed is . . . onder
omstandighede toe . . . (hy) . . . geestelik en verstandelik
onbekwaam was om 'n vrye en onafhanklike wil en/of onregmatige en
onbehoorlike invloed . . . te weerstaan, met die gevolg dat die
testament . . . inderwaarheid ook nie uitdrukking gegee het of gee
aan . . . (sy) . . . werklike wil of wense nie'. (Op 543A -
C.)
Nadat die Hof beslis het
dat nie bevind kan word dat Spies verstandelik onbekwaam was om 'n
testament te maak nie, is die begrip
'onbehoorlike beïnvloeding'
in detail in die Romeinse en Romeins-Hollandse reg ontleed. Steyn AR
wys (op 545H) daarop dat
ons skrywers nadruk daarop lê dat 'n
uiterste wilsbeskikking 'n vrye behoort te wees, en dat Voet verklaar
het dat 'die pen
van 'n sterwende vry moet wees'.
Op 546A - B verklaar die
Regter soos volg:
'Hieruit moet egter nie
afgelei word dat iedere onbehoorlike bemoeiing met die uitoefening
van testamentêre bevoegdheid 'n
grond vir ongeldigheid oplewer
nie. Om 'n erflater bloot met vleitaal, na-die-mond-pratery,
betuigings van buitengewone liefde
of eerbied, lydsame verdraging van
aanhoudende vernederings, langdurige gedienstigheid gevolg deur
direkte versoek, of gegronde
beskuldigings teen voorgenome erfgename
om te haal om iemand te bevoordeel wat hy anders nie sou bevoordeel
het nie, is regtens
nie sonder meer ongeoorloof nie, al sou iemand
anders daardeur benadeel word. Hoe afkeurenswaardig ook 'n jagmakery
op 'n erfenis
mag wees, geld die opmerking multa licent quae non sunt
honesta.'
Op 546C - F verklaar die
Regter soos volg:
'Ons reg stel egter paal
en perk ook aan hierdie soort geslepenheid. Dit mag natuurlik nie
gepaardgaan met dwang of bedrog in die
gewone sin nie; en dit mag ook
nie die vorm van 'n wilsonderskuiwing aanneem nie, dws van 'n optrede
wat daarop uitloop dat die
werklike wil van die erflater deur die wil
van die jagmaker of heredipeta vervang word. Die optrede wat hier
bedoel word slaan
meestal op woorde of op die openbaring van 'n
gesindheid wat daarop bereken is om op die erflater druk uit te oefen
of hom aan
te spoor om teen sy wil 'n erflating te doen. Benewens
dolus, fraus vis en metus, verwys ons skrywers in hierdie verband ook
na
aanhoudende, lastige, onbeteuelde en snedige aandrag en
opvordering . . . onmatige oorredings . . . lastige, dringende,
onophoudelike,
dikwels herhaalde en ingehamerde bedes en aandrywings
. . . of harde woorde, onmatige bedes en lastige opvorderings . . .
waardeur
'n testateur daartoe gedryf word om toe te gee wat hy nie
wil nie, ten einde van sy kwelgees ontslae te raak. Die druk wat deur
sulke middele op 'n erflater uitgeoefen word, word met dwang en
afpersing gelykgestel.'
En op 547C - D verklaar
die Regter soos volg:
2001
(4) SA p1093
VAN
DER WESTHUIZEN R
'Soos reeds aangedui wil
dit dus blyk dat 'n uiterste wilsbeskikking wel ongeldig verklaar kan
word waar die testateur deur kunsgrepe
van so 'n aard dat hul, uit
hoofde van hul uitwerking, met die uitoefening van dwang of bedrog
gelykgestel dien te word, tot 'n
erflating beweeg is wat hy anders
nie sou gedoen het nie en wat dientengevolge eerder aan 'n ander se
wil as aan sy eie, uitdrukking
gee. In so 'n geval het ons te doen
nie met die egte wil van die erflater nie, maar met 'n
wilsonderskuiwing, en word die wilsbeskikking
nie instandgehou nie.'
Dit blyk dus dat die ou
skrywers waarop die Appèlhof gesteun het 'n aansienlike mate
van ruimte laat vir beïnvloeding,
en selfs vir 'n mate van
geslepenheid. Die paal en perk wat gestel word hou verband met dwang
of bedrog of optrede wat daaraan
gelykgestel kan word, en veral met
die vervanging van die wil van die testateur deur die wil van die
ander, met gevalle waar die
erflater beweeg is tot iets wat hy of sy
andersins nie sou doen nie.
Die mate van druk of
'aandrywing' wat tot ongeldigheid lei, kan van geval tot geval
verskil. Die faktore wat ter sprake kan wees
is die
geestesongesteldheid van die erflater, sy of haar vermoë om hom
of haar teen 'aansporing en inblasing' te verset en
die verhouding
tussen die betrokke persone (op 547E van die Spies-beslissing). In
die Spies-saak word dan 'n hele aantal feite
ontleed voordat die Hof
ten gunste van die geldigheid van die testament beslis. Dit is juis
die feit dat die een geval van 'n ander
mag verskil wat dit moeilik
maak om konkrete standaarde te stel en selfs om algemene riglyne op
spesifieke feite toe te pas.
Menslike verhoudings en
emosies is gevarieerd, kompleks en onvoorspelbaar. Dit is te meer die
geval waar die dood ter sprake kom.
Om te besluit oor jou eiendom en
ander se geluk en verdriet ná jou oorlye, kan verantwoordelike
administrasie wees, maar
is in sigself noodwendig ook 'n effens
makabere bedrywigheid. 'n Mens se geestestoestand mag ook beïnvloed
wees deur die vraag
of hy daarvan bewus is dat die einde nader kom,
en hoe naby of hoe ver jy meen dit is. Ook die vraag of die moontlike
beïnvloeder
dit meet, kan van belang wees, soos ook die haas of
rustigheid waarmee die besluit geneem word.
Steyn AR wys in die Spies
saak (op 547E) daarop uit dat die voorbeelde wat deur gemeenregtelike
skrywers bespreek word meestal betrekking
het op erflaters wat
ernstig siek of sterwend is, wie se weerstand swakker is as die van
'n 'standvastige persoon'. Die stereotipiese
handboek- of
storieboekvoorbeeld is dan seker juis dié van die oënskynlik
besorgde en liefdevolle maar geslepe verpleegster
wat die ou en siek
miljoenêr op sy sterfbed soveel geluk of plesier bied, dat hy
daar en dan besluit dat sy familie alreeds
ver te veel van hom
ontvang het en tot haar voordeel onterf moet word.
In die vroeër
vermelde Cerfonteyn v O'Haire-saak het 'n priester as geestelike
raadgewer 'n siek en lydende vrou wat opium
gebruik het in so 'n mate
pastoraal beïnvloed om kort
2001
(4) SA p1094
VAN
DER WESTHUIZEN R
voor haar dood 'n kodisil
te onderteken, dat die dokument ongeldig bevind is op grond van
'incapacity arising from bodily disease
and mental disability'.
Dit is juis wat Willem
Petrus Jacobs se geval des te meer uniek en makaber maak. Hy het
alleen die beweerde testament opgestel en
daarna selfmoord gepleeg.
Hy was nie siek of sterwend nie, of was hy? Hy was wel smoorverlief,
dit weet ons, maar hoe ernstig was
sy depressie? Het hy goed
bedoelend gepoog om die vrou vir wie hy lief was finansieel
onafhanklik te maak? Of was dit soos sy moeder
en vriende glo 'n
laaste desperate poging om vas te klou aan 'n vrou wat hy besig was
om te verloor omdat hy nie finansieel vir
haar kon sorg nie? Was daar
dalk selfs leedvermaak by betrokke, soos moontlik uit die testament
en selfmoordnota blyk en wat in
ieder geval seker nie vreemd is in
gevalle van selfmoord in 'n toestand va liefdesverdriet nie.
Oor die oorledene se
geestestoesand tydens die skryf van die dokument op 27 November 1996
moet ons bespiegel. Die derde respondent
en Van Wyk broers se
getuienis is opinies, gegrond op afleidings uit feite wat hulle
beweer oor 'n tydperk gegeld het, naamlik
dat hy vir minstens 'n
maand voor sy dood emosioneel onstabiel en depressief was as gevolg
van die applikant se optrede. Ook het
hy oor daardie tydperk straf
gedrink en vroeër die dag na bewering gesê dat hy sou
drink. Daar is weinig direkte getuienis
oor sy alkoholinname op 27
November.
Die inname van alkohol
kan in ieder geval nie as sodanig regshandelinge, soos die opstel van
testamente en die sluit van kontrakte,
ongeldig maak nie. Talle
ooreenkomste word bereik en besluite geneem as gevolg van die
toegeneentheid, moed, of wat ook al, wat
uit 'n paar glase wyn by 'n
ete voortspruit. Ook heftige en selfs irrasionele opwelling van
emosies op 'n hoogs persoonlike vlak
sou nie noodwendig tot
ongeldigheid lei nie. Die reg erken immers verlowingsooreenkomste
tussen smoorverliefdes en skikkings te
midde van tragiese
egskeidingsprosesse.
Die derde respondent se
advokaat het klem gelê op die lang aanloop tot die gebeure van
27 November. Die oorledene het 'n swak
selfbeeld gehad en was
manipuleerbaar. Hy was halsoorkop verlief op die applikant. Oor 'n
tydperk het sy druk op hom geplaas deur
te beklemtoon dat sy
finansieel onafhanklik wou wees. Hulle het rusie gemaak oor sy
onvermoë om aan haar finansiële behoeftes
te voorsien en
dit was die rede waarom sy hom verlaat het. Hierdie beïnvloeding,
wat gekulmineer het in sy depressie en moontlike
alkoholinname, stel
onbehoorlike beïnvloeding daar.
Betreffende die drie
faktore wat in die Spies-saak vermeld is, was die aard van die
verhouding duidelik van so 'n aard dat beïnvloeding
sou kon
plaasvind. Ten aansien van sy geestesongesteldheid en die vermoë
om teen beïnvloeding in die vorm van 'aansporing
en inblasing'
weerstand te bied, val hy nie in
2001
(4) SA p1095
VAN
DER WESTHUIZEN R
die kategorie van persone
wat ernstig siek of sterwend, of selfs verstandelik vertraag is, wat
die gemeenregtelike skrywers en Appèlhof
in gedagte gehad het
nie. Trouens, die eerste vraag is of daar hoegenaamd beïnvloeding
in die sin van 'aansporing en inblasing'
plaasgevind het.
Selfs indien aanvaar word
dat die applikant die oorledene oorheers en gemanipuleer het en hom
deeglik laat verstaan het dat sy finansieël
onafhanklik wou wees
en dat sy armoede vir haar 'n groot bron van kommer is, selfs tot so
'n mate dat sy hul trouplanne wou kanselleer
en na haar man wou
terugkeer, is daar geen getuienis dat sy hom probeer beïnvloed
het in die opstel of wysiging van 'n testament
nie. Hy het niks gehad
nie volgens haar, en volgens sy moeder. Of sy van sy polis bewus was,
weet ons nie. Daar is egter geen getuienis
dat sy geweet of vermoed
het dat hy sou sterf nie.
Hy was 'n gesonde jong
man, al was hy oorgewig. Indien hy wel op 27 November sou gesê
het hy wou nie verder lewe nie, en selfs
met 'n tuisgemaakte galgtou
doenig sou wees, is daar geen getuienis dat hy op daardie stadium
direk beïnvloed is om 'n testament
op te stel of selfs moontlik
aangemoedig is om selfmoord te pleeg nie. Die derde respondent se
saak gaan juis oor die manipulering
wat oor die langer voorafgaande
tydperk sou plaasvind. Uit die aangehaalde gesag is dit duidelik dat
die aansporing en aanblasing
waarvan Steyn AR gepraat het nie maar
algemene beïnvloeding oor 'n tydperk is nie, maar motivering of
oorreding om iets spesifiek
te doen, naamlik 'n erflating te maak
deur 'n testament op te stel of te wysig, ensovoorts.
Mense beïnvloed,
manipuleer en selfs oorheers mekaar dikwels, veral waar
liefdesverhoudings ter sprake is. 'n Swak selfbeeld
of persoonlikheid
sou nie 'n mens teen besluite ten gunste van sterker en selfs meer
geslepe persone beskerm nie. Indien die vraag
gevra word of hier 'n
'wilsonderskuiwing' plaasgevind het, of die oorledene eerder aan die
applikant se wil as sy eie wil uiting
gegee het, en of hy iets gedoen
het wat hy eintlik nie wou en sou doen nie, is die antwoord beslis
negatief.
Die een ding wat duidelik
blyk, is dat hy die applikant sy erfgenaam wou maak. Reeds in sy
vroeëre testament waarin hy sy ouers
bevoordeel het, het hy
voorsiening gemaak vir die moontlikheid dat hy sy droomvrou sou vind
en trou, selfs ten spyte van sy agterdog
oor vroue, en dat sy dan
voorrang bo sy ouers sou geniet. Sy ouers was tydelike
plaasvervangers vir die vrou van sy drome. Dat
sy droom tragies
geëindig het, is irrelevant. Ook het hy tyd gehad om te dink oor
wat hy op 27 November in sy nuwe testament
geskryf het, tot en met sy
dood op 29 November, twee dae later.
Dit is duidelik dat
Willem Petrus Jacobs gedoen het presies wat hy met groot drif wou
doen. Of sy redes daarvoor sin maak en vir
almal moreel aanvaarbaar
is, en of dit van onvolwassenheid getuig, is nie die hoofsaak nie.
Soos ter aanvang vermeld,
2001
(4) SA p1096
VAN
DER WESTHUIZEN R
erken die reg die
wilsbesluit van 'n oorledene oor sy eiendom, ten koste van wie ook
al, hetsy weens respek vir die dood of respek
vir die eiendomsbegrip.
(Terloops kan moontlik gevra word waarom dit in ieder geval rasioneel
of moreel verkieslik sou wees om
sy moeder te laat erf, eerder as 'n
vrou wat twee jaar van haar lewe vir hom gegee het en hom op 'n
stadium gelukkig gemaak het.)
Ek het aandag gegee aan
die moontlike betekenis van die feit dat die oorledene selfmoord
gepleeg het slegs twee dae nadat hy die
testament opgestel het. Is
selfmoord nie as sodanig so 'n irrasionele en abnormale daad dat dit
noodwendig getuig van 'n patologiese
geestestoestand wat 'n persoon
byna per definisie onbevoeg maak om wilsbesluite te neem wat deur die
reg erken word nie? Geen deskundige
opinie oor die oorledene se
geestestoestand gedurende sy laaste 48 uur of in verband met die
sielkunde van selfmoord in die algemeen,
en geen argumente gebaseer
op juridiese of sielkundige gesag is egter aan my voorgelê nie.
Ek sou dus op algemene
indrukke en veronderstellings aangewese moes wees. Die reg het oor
die algemeen nie veel te sê oor
selfmoord nie. Die strafreg se
hantering daarvan, byvoorbeeld in die geval waar 'n persoon 'n ander
aanmoedig om selfmoord te pleeg,
of hulp verleen, het meer te make
met die gemeenskap se beoordeling van die aanmoediger of helper se
optrede as met die psige van
die persoon wat selfmoord pleeg. Die
dieptes en werkinge van die menslike gees is nie maklik om te
verstaan nie.
Ek weet nie wat met die
oorledene aan die gang was gedurende die worstelstryd van sy laaste
dae en ure nie. Om in die afwesigheid
van getuienis oor hom, of selfs
inligting oor selfmoord in die algemeen, daaroor te bespiegel sou
onbehoorlik wees. Wat duidelik
is, is dat hy die applikant sy
erfgenaam wou maak, al sou dit die laaste ding wees wat hy doen.
6.
Bevel
Gevolglik
maak ek die volgende bevel:
1. Daar word verklaar dat
die dokument gedateer 27 November 1996, wat by die kennisgewing van
mosie as aanhangsel C aangeheg is,
vir die doeleindes van die Wet op
Testamente 7 van 1953, die testament van Willem Petrus Jacobs is, en
die Meester van die Hooggeregshof
word gelas om die gemelde dokument
as sodanig te aanvaar.
2. Die applikant word
gelas om die koste verbonde aan die applikant se repliserende
eedsverklaring te betaal.
3. Die derde respondent
word gelas om die koste van die aansoek te betaal.
Applikant
se Prokureurs: Ehlers & Cremer, Pretoria. Derde Respondent se
Prokureurs: Clarinda Kügel, Pretoria.
SAFLII
Note:
This
case was originally published by Juta and Company (Pty) Ltd. Juta
retains copyright as far as it subsists.