Pioneer Voedsel (edms) bpk v Murray (1253/2000) [2003] ZAWCHC 34 (11 August 2003)

63 Reportability
Contract Law

Brief Summary

Contract — Tender — Acceptance of tender — Dispute regarding existence of contract — Plaintiff alleging acceptance of defendant's tender for sale of wheat, while defendant denying receipt of acceptance notice — Defendant claiming non-delivery of notice to chosen domicilium — Court finding that acceptance was validly communicated despite use of postal address rather than physical address — Defendant's failure to deliver contracted quantity of wheat resulting in breach of contract — Plaintiff entitled to damages for breach.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
>>
2003
>>
[2003] ZAWCHC 34
|

|

Pioneer Voedsel (edms) bpk v Murray (1253/2000) [2003] ZAWCHC 34 (11 August 2003)

IN DIE
HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(KAAP
DIE GOEIE HOOP PROVINSIALE AFDELING)
Saaknommer 1253/2000
In die
saak tussen:
PIONEER VOEDSEL
(EDMS) BPK
Eiser
en
NEVILLE MURRAY
Verweerder
UITSPRAAK:
11 AUGUSTUS 2003
VAN
ZYL R:
INLEIDING
[1] Die eiser, voorheen bekend as Sasko (Edms) Bpk, is
'n maatskappy met aandelekapitaal wat handel dryf as Sasko Maal en
Bak. Die
verweerder is 'n sakeman en boer van die plaas "Rondekuil",
Durbanville, wat handel dryf onder die naam Murray Voere.
[2] Volgens
die eiser het die partye op 30 April 1999 'n skriftelike ooreenkoms
gesluit ingevolge waarvan die verweerder onderneem
het om 20 000
metrieke ton koring aan die eiser te verkoop en lewer teen 'n
basisprys van R918,00 per ton. Die ooreenkoms het na
bewering tot
stand gekom deurdat die verweerder se tender gedateer 26 April 1999
deur die eiser op 30 April aanvaar is, waarna die
eiser, in 'n brief
gedateer 30 April 1999 en gerig aan die posadres van die verweerder
te Posbus 1819, Durbanville, kennis van die
aanvaarding van sy tender
gegee het. Daarvolgens moes die verweerder 9 000 ton koring by die
Moorreesburg silo aflewer, 5 000 ton
by die Koringberg silo en 6 000
ton by die Klipheuwel silo. Die verweerder het beweerdelik versuim om
hierdie onderneming voor die
sperdatum van 15 Desember 1999 (klousule
1.11 van die tenderdokument) gestand te doen deurdat hy slegs 144,3
ton koring aan die eiser
gelewer het. Die eiser vorder nou van die
verweerder die bedrag van R5 863 000, 00, tesame met moratore rente
en koste, as skadevergoeding
voortspruitend uit sodanige
kontrakbreuk.
[3] Die verweerder ontken dat enige ooreenkoms tussen die partye tot
stand gekom het en ontken eweneens dat hy ooit die kennisgewing
van
aanvaarding van sy tender ontvang het. In die alternatief pleit hy
dat die gemelde kennisgewing nie by sy fisiese adres, die
plaas
"Rondekuil", synde sy gekose
domicilium citandi et
executandi
ingevolge klousule 1.16 van die algemene
tendervoorwaardes, afgelewer is nie. Sodanige klousule lui, onder die
opskrif "domicilium",
aldus:
Vir alle doeleindes van hierdie ooreenkoms, hetsy ten opsigte van
prosesstukke, hetsy kennisgewings of ander dokumente of mededelings
van watter aard ookal, kies die tenderaar sy
domicilium citandi et
executandi
by sy fisiese adres hierinlater vermeld.
[4] In
hierdie verband pleit die verweerder dan dat hy geen kennisgewing,
soos bedoel in klousule 1.5.6 ten opsigte van die bekendmaking
van
aanvaarding van tenders, van die eiser ontvang het nie. Hierdie
klousule moet in die konteks van die bepalings betreffende die
aanvaarding van tenders, soos vervat in paragraaf 1.5 van die
tenderdokument, gelees word. Dit lui:
SASKO
sal elke tender oorweeg, aanvaar of verwerp nie later nie as
Maandag 3 Mei 1999.
SASKO
sal nie verplig wees om die laagste of enige ander tender te
aanvaar nie, maar behou homself die reg voor om geen tenders
nie
of 'n aantal tenders van eie keuse te aanvaar.
SASKO
sal geregtig wees om na eie keuse die totale aantal tonne koring
deur die tenderaar getender of slegs 'n gedeelte daarvan
te
aanvaar.
Sodra
die tenderaar se tender deur SASKO aanvaar word deur die aanbring
van die handtekening van sy gevolmagtigde op die laaste
bladsy
hiervan op die plek daarvoor aangedui, kom daar 'n regsgeldige
kontrak tussen die tenderaar en SASKO tot stand op die
voorwaardes
hierin uiteengesit.
Indien
die tenderaar se tender deur SASKO aanvaar word, sal die tenderaar
die aantal tonne koring hierin getender of sodanige
mindere aantal
tonne as wat SASKO aanvaar, in ooreenstemming met die
tendervoorwaardes teen die prys hierin vervat, aan SASKO
lewer.
Tenders
sal nie in die openbaar oopgemaak word nie en tenderpryse sal nie
bekend gemaak word nie. Suksesvolle tenderaars sal
skriftelik deur
mnre Pierre du Plessis & Mostert voormeld in 1.2 daarvan in
kennis gestel word en alle navrae moet aan
hulle gerig word vanaf
4 Mei 1999.
[5] Ten tye van die verhoor van die aangeleentheid het
Mnr Treurnicht namens die eiser opgetree, terwyl Mnr Van Schalkwyk,
bygestaan
deur Mnr Vivier, die verweerder verteenwoordig het. By
ooreenkoms tussen die partye moet slegs die meriete in hierdie
stadium besleg
word: die bedrag van die vordering staan vir latere
beregting oor.
DIE EISER SE GETUIENIS
[6] Namens die eiser het sy prokureur, Mnr E W Mostert
("Mostert"), getuig dat sy firma, Pierre du Plessis en
Mostert ("Du
Plessis en Mostert"), die eiser se
tenderproses behartig. Hulle plaas 'n advertensie waarin tenders
aangevra word en voornemende
tenderaars ingelig word dat die
tenderdokumente by hulle kantore beskikbaar is. Tenders wat ingedien
word, word na die eiser verwys.
Nadat dit oorweeg is, word 'n
geskrewe lys van die suksesvolle tenderaars aan Du Plessis en Mostert
beskikbaar gestel. Hulle gee
dan aan sodanige tenderaars skriftelike
kennis dat hulle tenders aanvaar is.
[7] In die
onderhawige geval het Mostert, in 'n brief gedateer 30 April 1999,
die verweerder in kennis gestel dat sy tender vir die
lewering van
maalkoring aanvaar is. Die brief is gerig aan die bestuurder, Murray
Voere, Posbus 1819, Durbanville, synde die verweerder
se posadres.
Die rede waarom dit nie aan die fisiese adres gestuur is nie, is
omdat sodanige adres onvolledig in die tenderdokument
aangegee is as
bloot die plaas "Rondevlei". In ieder geval is sulke briewe
normaalweg na die posadres eerder as die fisies
adres gestuur,
[8] In
kruisondervraging het Mostert aangedui dat die betrokke brief nie per
geregistreerde pos gestuur is nie, terwyl daar ook geen
rekord
daarvan was dat dit inderdaad gepos is of deur die verweerder in
ontvangs geneem is nie. Oor die feit dat die brief gestuur
is na die
verweerder se posadres, het hy herhaal dat dit die gebruik was.
Indien persoonlike betekening egter nodig was, sou hy gesorg
het dat
dit by die gekose domisilie op die verweerder beteken word. In ieder
geval, indien die verweerder geen antwoord op sy tender
ontvang het
nie, sou hy verwag het dat die verweerder met hom sou skakel om vas
te stel of sy tender aanvaar is of nie. Hy het nie
gedoen nie.
Volgens Mostert se ervaring het dit nooit gebeur dat 'n kennisgewing
van aanvaarding van 'n tender nie afgelewer is nie.
Daar was ook nog
nooit enige beswaar dat 'n posadres eerder as die fisiese adres
gebruik is nie.
[9] Mnr W
P Dreyer ("Dreyer"), die eiser se bestuurder: grondstowwe,
het getuig dat die verweerder een van die tenderaars
in die 1999
seisoen was. Toe hy sy tender ontvang het hy opgelet dat dit nie
behoorlik onderteken was nie vir sover die verweerder
dit geteken het
in die spasie wat vir sy identiteitsnommer bedoel was in plaas van in
die spasie waar die tenderaar moes teken. Die
tender het ook nie die
verdeling van die koring in tonnemaat tussen die gemelde drie silos,
waar aflewering moes geskied, aangedui
nie. As gevolg hiervan het hy
gereël om die verweerder persoonlik te sien.
[10] Ten
tye van Dreyer se ontmoeting met die verweerder, op 26 April 1999 in
die kantoor van ene Mnr Jannie Hanekom ("Hanekom"),
die
eiser se logistieke bestuurder: grondstowwe, het die verweerder die
tonnemaatverdeling onder die drie silo's bevestig en het
hy sy
handtekening, in Dreyer se teenwoordigheid, behoorlik op die
tenderdokument aangebring. Volgens Dreyer se herinnering het Hanekom
die datum "26/4/99" op die dokument aangebring. Aan die
einde van die vergadering het Dreyer die verweerder meegedeel dat
hy
sy tender sou aanvaar en dat Du Plessis en Mostert 'n brief ten dien
effekte aan hom sou stuur. Soos hy kon onthou, was die verweerder
bly
daaroor aangesien dit die eerste keer was dat die eiser 'n tender van
hom sou aanvaar. Daarna, op 30 April 1999, het Dreyer inderdaad
die
tender aanvaar, soos blyk uit die aanbring van sy handtekening onder
dié van die verweerder.
[11] Dreyer
het voorts getuig dat, hoewel die verweerder ooreenkomstig die tender
voorwaardes die koring teen 15 Desember 1999 moes
lewer, hy slegs
144,3 ton teen sodanige datum gelewer het, en wel aan die Klipheuwel
silo. In 'n brief gedateer 17 Desember 1999
van Du Plessis en Mostert
aan die verweerder, is hy aangemaan om teen 10 Januarie 2000 sy
verpligtinge na te kom, by gebreke waaraan
die eiser verdere stappe
teen hom sou neem. Die verweerder het nie slegs in gebreke gebly om
die oorblywende koring te lewer nie,
maar het gepoog om die 114,3 ton
reeds deur hom gelewer terug te kry. Hy het egter nie met hierdie
poging voortgegaan nie en die
gemelde koring word steeds, op die
eiser se koste, in die betrokke silo opgeberg.
[12] Dreyer
het nie kennis gedra van 'n brief, gedateer 7 Februarie 2000, van die
verweerder aan Du Plessis en Mostert nie. Daarin
het die verweerder
verwys na Du Plessis en Mostert se voormelde aanmaningsbrief en
voorts gesê:
Early in last year (April) we tendered to supply wheat
to Sasko and were called in to their offices in Paarl to discuss the
issue.
On leaving we were told we would be communicated with shortly.
As no
further communication or contract to supply was entered into with
them since then, we assumed correctly that we were unsuccessful
in
our bid.
Your
letter indicates that there is indeed a supply contract, which
surprises us since at no time during harvest or delivery period
did
anybody from either your office or Sasko communicate with us (to find
out how it's going) as all our other customers did.
If such a
supply contract exists, please furnish us with proof and copies of
our acceptance thereof. As you also intone that you may
have some
claim, we welcome a visit or a meeting to discuss supply of wheat as
we have some options and may be able to assist.
[13] Mnr T de V du
Plessis ("Du Plessis"), die hoofbestuurder: graan en saad
van WPK Landbou Bpk, Malmesbury ("WPK"),
het getuig dat WPK
die eienaar van verskeie silo's is, insluitende dié te Klipheuwel.
Volgens 'n brief gedateer 26 Mei 1999 aan
hom van Hanekom, welke
brief deur Dreyer mede-onderteken is, sou die verweerder, as een van
die tenderaars wie se tenders deur die
eiser aanvaar is, 6 000 ton
koring by die Klliheuwel silo lewer. Blykens vyf graan ontvangsbewyse
het die verweerder egter tussen
19 November en 10 Desember 1999 'n
totaal van slegs 144 ton koring aldaar gelewer. Daarna, in 'n brief
aan WPK gedateer 18 Januarie
2000, het die verweerder versoek dat die
koring weer aan hom terugbesorg word, aangesien dit sy koring was.
Dreyer het op sy beurt,
in 'n brief gedateer 24 Januarie 2000 aan
WPK, versoek dat die koring nie aan die verweerder vrygestel word
nie.
[14] Mnr L
J Botha ("Botha"), senior bestuurder: graan en saad van
WPK, het bevestig dat WPK die eienaar van verskeie silo's
was,
insluitende die Klipheuwel silo. WPK het op 26 April 1999 met die
eiser 'n sogenaamde "opbergingsooreenkoms", bekend
as
"SA1", gesluit. Ingevolge daarvan sou WPK gedurende die
1999-2000 seisoen teen 'n vasgestelde vergoeding koring opberg
wat
deur die eiser van produsente en handelaars aangekoop is. Hy sou ook
WPK voorsien van 'n lys bevattende die name van verkopers
wat koring
by die onderskeie silo's sou lewer, tesame met besonderhede van die
benaderde massa wat elk sou lewer. Die eiser het dit
gedoen, en het
voorts aangedui dat sy kontrak met die verweerder as "Z1012"
aangedui word.
[15] Botha
het daarop gewys dat, volgens WPK se rekords, die verweerder vyf
vragte koring by die Klipheuwel silo tussen 22 November
en 10 Desmber
1999 afgelewer het, almal waarvan op naam van die eiser se "SA1"
kontrak. Dit blyk uit sowel die leweringsopdragstrokies
as die
graanontvangsbewyse, 'n afskrif waarvan telkens aan die bestuurder
van die afleweringsvoertuig gegee is. Dit word bevestig
deur die
belastingfakture wat aan die eiser besorg is. Volgen Botha is dit op
die gemelde kontrak gelewer nadat hy die verweerder
se kantoor gebel
het en 'n onbekende manspersoon hom opdrag gegee het om dit te doen.
Botha het voorts getuig dat die betrokke koring
nog steeds in die
Klipheuwel silo gestoor word en dat die stoorkoste nog steeds deur
die eiser betaal word.
[16] Mnr J
B Kitshoff ("Kitshoff"), wat in die relevante stadium in
diens was van Kaap Graan te Malmesbury, het getuig dat
hy met die
verweerder, as koper en verkoper van graan, besigheid gedoen het. By
geleentheid het die verweerder hom meegedeel, in
die teenwoordigheid
van sy kollega, ene Kobus van der Merwe, dat hy 'n tender van 20 000
ton koring by die eiser gewen het. Hy het
toe 'n algemeen verkennende
navraag gedoen of Kaap Graan aan hom koring sou kon verkoop. Volgens
Kitshoff het Kaap Graan self 'n
tender van 53 000 ton by die eiser
gewen en wel teen pryse wat tussen R915,00 en R925,00, BTW
uitgesluit, gewissel het. Later het
die koringprys egter gestyg en
hulle moes meer as R1 000,00 per ton aan boere betaal vir die aankoop
van koring.
[17] In
kruisondervraging het Kitshoff getuig dat Kaap Graan se
handelsbestuurder, ene Neel Rust, by wyse van 'n brief gedateer 13
Januarie 2002 gerig aan die verweerder, te kenne gegee het dat Kaap
Graan koring by die verweerder wou aankoop teen 'n prys van R980,00
per ton. Toe dit aan hom gestel is dat die verweerder nooit aan hom
sou gesê het dat hy 'n tender van 20 000 ton koring by die eiser
gewen het nie, het Kitshoff getuig dat daar by hom geen twyfel was
dat hy sodanige tender gehad het en dat hy koring gesoek het om
sy
verpligtinge teenoor die eiser na te kom.
[18] Mnr J
A (Kobus) van der Merwe ("Van der Merwe") het bevestig dat
hy in die relevante stadium 'n kollega van Kitshoff
by Kaap Graan was
en dat hy ten tye van die voormelde gesprek met die verweerder
teenwoordig was. Hy het die verweerder, wat in die
canola bedryf
bekend was, as aankoper van canola geken. Tydens die gesprek het die
verweerder inderdaad te kenne gegee dat hy 'n
groot tender by die
eiser verwerf het en wou weet of Kaap Graan aan hom koring sou kon
verskaf.
VERWEERDER SE GETUIENIS
[19] Die verweerder het getuig dat hy, in reaksie op die
eiser se advertensie in “Die Burger” koerant, ‘n tender vir die
verkoop
en lewering van koring aan die eiser voltooi het. Op 26 April
1999 is hy deur Hanekom uitgenooi om met hom en Dreyer te ontmoet met
die oog op bespreking van sy tender. Tydens die ontmoeting het hy en
Hanekom sekere leemtes in die tenderdokument aangevul en foute
reggestel. Dreyer het hom toe meegedeel dat die eiser se prokureurs
hom in kennis sou stel wanneer, en indien, die tender aanvaar
sou
word. Sy indruk was dat hulle met sy tender gelukkig was en hom nie
sou ingeroep het indien hulle nie was nie. Hy self het daaroor
goed
gevoel aangesien die Koringraad en sy interim opvolger, Kaap Graan,
voorheen bykans volkome beheer oor die koringnywerheid gehad
het. Hy
het later aan sy vrou gesê dat dit goed lyk en dat hulle binnekort
sou hoor wat die uitslag van sy tender is.
[20] Volgens
die verweerder het hy nooit die brief gedateer 30 April 1999 (par 7
hierbo), waarin hy meegedeel is dat sy tender aanvaar
is, ontvang
nie. Hy het dit vir die eerste keer by sy prokureur gesien, en wel
nadat die onderhawige litigasie reeds ‘n aanvang
geneem het. Die
eerste brief wat hy wel ontvang het was dié gedateer 17 Desember
1999 (par 11 hierbo) wat per geregistreerde pos
versend was. Hy het
daarop gereageer in sy brief aan Du Plessis en Mostert gedateer 7
Februarie 2000 (par 12 hierbo).
[21] Toe
hy niks van die eiser se prokureurs gehoor het na die ontmoeting
voormeld nie, het die verweerder aanvaar dat sy tenderprys
van
R918,00 te hoog was of dat die eiser geoordeel het dat hy nog nie
heeltemal voorbereid was om so ‘n groot volume koring te
lewer nie.
Dit was na aanleiding van gerugte wat in die koringmark die rondte
gedoen het, naamlik dat tenders gedurende middel tot
einde Mei 1999
toegeken is aan tenderaars wat tussen R840,00 en R890,00 getender
het. Hy het dus met sy gewone handelsbedrywighede
voortgegaan.
[22] Wat
betref die 144 ton koring wat hy aan die Klipheuwel silo gelewer het,
het die verweerder getuig dat hy dit teen R875,00 per
ton van ‘n
koringboer gekoop het. Daarby sou hy kostes van R50,00 per ton
betaal, om die totaal op R925,00 per ton te staan te
bring. Aangesien
hy ‘n lid van WPK was, wou hy dit by een van hulle silo’s laat
stoor. Daar het egter probleme ontstaan en, aangesien
hy in Lesotho
was, is hy deur sy "bestuurder" oftewel "agent",
ene Louwtjie Swartz ("Swartz") in kennis
gestel dat die
silo die koring nie wou aanvaar aangesien hy nie 'n
opbergingsooreenkoms met WPK gehad het nie. Hy het vir Swartz
opdrag
gegee om 'n plan te maak en die koring is toe deur die Klipheuwel
silo aanvaar. Dit blyk egter dat Botha die verweerder se
kantoor
geskakel het om te vra wat hy daarmee moet doen; 'n onbekende persoon
het hom toe opdrag gegee om die koring op die eiser
se kontrak te
aanvaar. Toe hy dit later probeer onttrek, het hy vasgestel dat dit
aan die eiser toegedig is. Dit het hom genoop om
‘n brief gedateer
18 Januarie aan WPK te rig en te eis dat die gemelde koring aan hom
vrygelaat word aangesien hy die eienaar daarvan
was. Volgens hom was
dit nooit bedoel as gedeeltelike prestasie ingevolge enige ooreenkoms
met die eiser nie.
[23] Die
verweerder het aangevoer dat hy geen herinnering daaraan het dat
Kitshoff teenwoordig was tydens sy besoek aan Kaap Graan
gedurende
Oktober 1999 nie (par 16-18 hierbo). Hy sou dit egter nie kon ontken
nie. Hy kon wel onthou dat Van der Merwe daar was
en dat hy aan hom
gesê het dat hy koringtenders gemaak het. Hy het egter ontken dat hy
in enige stadium aan hom sou gesê het dat
die eiser sy tender
aanvaar het. Hy het aan die hand gedoen dat Van der Merwe moontlik
aanvaar of veronderstel het dat 'n tender
deur die eiser aan hom
toegestaan is. In ieder geval sou hy (die verweerder) nie die name
van kopers of verkopers genoem het nie,
aangesien die verweerder en
Kaap Graan mededingers was. Indien hy wel die brief van 30 April 1999
sou ontvang het, sou hy bepaald
gesorg het dat hy sy verpligtinge sou
kon nakom.
[24] In
kruisondervraging het die verweerder getuig dat hy rede gehad het om
te glo dat die koringprys benede sy tenderprys sou daal
nie, in welke
geval hy teen 'n wins koring sou kon aankoop en dan weer teen die
hoër - ooreengekome - prys aan die eiser sou kon
lewer. In hierdie
verband het hy syfers voorgelê waaruit dit blyk dat hy tot en met
Junie 1999 teen laer pryse as sy tenderprys
aan die eiser koring sou
kon aankoop.
[25] Met
betrekking tot sy ondertekening van die tenderdokument, het die
verweerder te kenne gegee dat hy dit as 'n administratiewe
handeling
beskou het. Hy het egter erken dat hy daarvan bewus was dat die
aanbring van die handtekeninge namens die partye 'n bindende
kontrak
tot stand sou bring. Indien hy dus 'n brief van die eiser sou ontvang
het waarin te kenne gegee is dat die tender aanvaar
word, sou hy dit
beskou het as 'n bindende kontrak. Dit sou egter eers gebeur wanneer
die aanvaarding van die tender onder sy aandag
gebring sou word. In
hierdie verband het hy toegegee dat betekening van 'n kennisgewing
ingevolge klousule 1.5.6 van die tenderdokument
by 'n ander adres kon
geskied as sy gekose domisilie.
[26] Toe
hy daaroor gepols is waarom hy nie met die eiser geskakel het nie na
aanleiding van sy positiewe gevoel oor die tender, was
sy reaksie dat
hy wel kon gebel het, maar aanvaar het dat hy nie na die partytjie
genooi is nie omdat sy tenderprys te hoog was.
Dit het hy inderdaad
gedurende die laaste week van Mei 1999 aanvaar.
[27] Die
verweerder het voorts getuig dat, toe hy die brief van 17 Desember
1999 ontvang het (para 11 hierbo), hy Mostert gebel het
en hom gevra
het wat aangaan, aangesien hy nie met die eiser 'n ooreenkoms gehad
het nie. Volgens hom was die brief 'n grap en belaglik.
Dit was dan
ook waarom hy aan sy prokureurs instruksies gegee het om te pleit dat
daar geen kontrak tussen hom en die eiser tot stand
gekom het nie.
[28] Toe
die verweerder daarop gewys is dat hy in 'n vroeëre gewysigde pleit,
gedateer 14 September 2000, op estoppel as alternatiewe
verweer
staatgemaak het, was sy reaksie dat sy regsverteenwoordigers hom
waarskynlik nie verstaan het nie vanweë die vreemde terminologie
wat
hy gebruik het. Dit was nie so dat die eiser deur sy gedrag aan die
verweerder die voorstelling gemaak het dat sy tender nie
aanvaar is
nie (par 2.5.6). Dit was eweneens verkeerd dat hy tot sy nadeel sy
koringoes aan 'n ander koper verkoop het teen 'n laer
prys as sy
tenderprys en derhalwe nie aan die eiser koring kon lewer nie (par
2.5.7). Die alternatiewe verweer van estoppel was dus
foutief.
[29] Met
verwysing na die vergadering met Van der Merwe gedurende Oktober
1999, het hy toegegee dat hy wel 'n tender aan die eiser
gemaak het.
Dit is aan hom gestel dat hierdie toegewing nie strook met sy
getuienis vroeër dat hy reeds teen einde Mei 1999 aanvaar
het dat
die tender nie aan hom toegeken is nie. Hy was nie daartoe in staat
om sinvol hierop te reageer nie. Nogtans het hy voet
by stuk gehou
dat hy nie daarvan bewus was dat die tender aan hom toegestaan is nie
en het ontken dat sy lewering van 144 ton koring
aan die Klipheuwel
silo 'n poging tot gedeeltelike prestasie van sy kant was.
BETOOG NAMENS DIE EISER
[30] Mnr Treurnicht het namens die eiser betoog dat die
eiser se aanvaarding van die verweerder se tender op 26 April 1999
sonder
meer, ingevolge paragraaf 1.5.4 van die tenderdokument (par 4
hierbo), 'n geldige en bindende kontrak daargestel het. Dreyer se
onbetwiste
getuienis was dat hy namens die eiser die tender aanvaar
en onderteken het op 30 April 1999. Die kontrak het dus op daardie
dag tot
stand gekom. Vir sover dit egter nodig mag gewees het om die
aanvaarding van die tender onder die aandag van die verweerder te
bring,
het Mnr Treurnicht betoog, was die getuienis oorweldigend in
die guns van die eiser dat die verweerder inderdaad die brief
gedateer
30 April 1999 by sy posadres ontvang het. In hierdie verband
was die eiser se getuienis verreweg te verkies bo dié van die
verweerder.
Inteenstelling met die eiser se getuies, wat volgens Mnr
Treurnicht almal 'n goeie indruk gemaak het, was die verweerder as
getuie
onindrukwekkend vir sover hy aggressief, argumentatief,
ontwykend en weersprekend was. Voorts was sy getuienis deurspek van
onwaarskynlikhede
en ander onbevredigende aspekte.
[31] Mnr
Treurnicht het verder aan die hand gedoen dat, vir sover die
verweerder baie positief oor sy tendervooruitsigte gevoel het
na sy
ontmoeting met Dreyer en Hanekom, dit onwaarskynlik is dat hy dit nie
sou opgevolg het indien hy niks van hulle sou hoor nie.
Sy mededeling
aan Van der Merwe, gedurende die Oktober 1999 ontmoeting, dat hy aan
die eiser 'n tender gelewer het, strook slegs
met die feit dat hy
bewus was van die aanvaarding van sy tender. Dieselfde geld vir sy
lewering van die 144 ton koring aan die Klipheuwel
silo. Dit is meer
waarskynlik dat dit 'n poging was om teenoor die eiser te presteer as
dat dit 'n foutiewe lewering op die eiser
se naam was. In ieder geval
het hy eers op 7 Februarie 2000 gereageer op Du Plessis en Mostert se
brief gedateer 17 Desember 1999
(par 11-12 hierbo).
BETOOG
NAMENS DIE VERWEERDER
[32] Namens die verweerder het Mnr van Schalkwyk betoog
dat sowel die gemenereg as klousule 1.5.6, saamgelees met klousules
1.5.3
en 1.5.5 (par 4 hierbo) van die tenderdokument die eiser
verplig het om aan die verweerder kennis te gee van die aanvaarding
van
sy tender. Ingevolge klousule 1.5.6, saamgelees met klousule 1.16
(par 3 hierbo), moes die eiser skriftelike kennis aan die verweerder
gee by sy gekose domisilie. Dit het hy nie gedoen nie.
[33] Met
verwysing na die eiser se getuienis het Mnr van Schalkwyk aan die
hand gedoen dat Mostert nie kon getuig dat die verweerder
die brief
van 30 April 1999 ontvang het nie. Dreyer se getuienis dat hy op 26
April 1999 die verweerder meegedeel het dat sy tender
aanvaar sou
word en dat hy weldra van die eiser se prokureurs sou hoor, was,
volgens Mnr Van Schalkwyk, onwaarskynlik. As hy sodanige
mededeling
gemaak het, sou die verweerder beslis reeds gedurende Mei 1999
navraag gedoen het indien hy niks van die prokureurs verneem
het nie.
Vir sover hy tot middel Junie 1999 teen 'n laer prys as sy tenderprys
koring sou kon aangekoop het, was daar geen rede waarom
hy nie sy
prestasieverpligting sou kon nakom nie.
[34] Wat
betref die verweerder se lewering van 144 ton koring aan die WPK silo
te Klipheuwel, het Mnr van Schalkwyk betoog dat dit
onwaarskynlik is
dat die verweerder 'n bykans onbeduidende hoeveelheid koring, wat hy
teen R925,00 gekoop het, as gedeeltelike prestasie
sou lewer ten
opsigte van 'n tender van 20 000 ton teen R918,00 per ton. Die
toeskrywing van die 144 ton aan die eiser moes dus die
gevolg van 'n
administratiewe fout gewees het, aangesien die verweerder as
produsent en as tenderaar vir die eiser in WPK se rekenaarstelsel
opgeneem was. Indien iemand in die verweerder se kantoor opdrag gegee
het dat die koring op die eiser se kontrak gelewer moet word,
was
daar geen aanduiding, volgens Mnr van Schalkwyk, dat die opdrag van
die verweerder self afkomstig was nie.
[35] Mnr
Van Schalkwyk het ten slotte betoog dat die ontmoeting, in Oktober
1999, tussen die verweerder en Kaap Graan se Van der Merwe
en
Kitshoff slegs verkennend ten opsigte van koring verkope en aankope
was. Hoewel hulle moontlik onder die indruk kon verkeer het,
as
gevolg van iets wat die verweerder aan hulle gesê het, dat sy tender
deur die eiser aanvaar is, het die verweerder daarby volstaan
dat hy
nooit gesê het dat hy wel 'n tender by die eiser gewen het nie. Daar
was, volgens Mnr van Schalkwyk, ruimte vir misverstand
aangesien
hierdie getuienis op afleidings gebaseer was. As die tender
inderdaad aanvaar was, sou verwag word dat die verweerder
meer
besonderhede daaroor sou gee.
DIE GESKILPUNTE
[36] Twee wesenlik samehangende geskilpunte blyk uit die
pleitstukke en getuienis:
Het daar 'n geldige en bindende kontrak tussen die
partye tot stand gekom?
Indien wel, het die eiser behoorlik kennis daarvan aan
die verweerder gegee?
Die tweede geskilpunt hang weer daarmee saam of daar 'n
verpligting op die eiser gerus het om ingevolge die kontrak kennis
aan die
verweerder te gee en, indien wel, of dit by sy gekose
domisilie moes geskied. Met die oog op oplossing van hierdie
geskilpunte sal
daar ten eerste na die toepaslik regsbeginsels gekyk
word, waarna die getuienis in oënskou geneem sal word. In hierdie
verband sal
die relevante bepalings van die tenderdokument en ander
bewysstukke wat voor die hof gedien het, van nader bekyk moet word.
DIE TOEPASLIKE REGSBEGINSELS
[37] Soos Wessels
The Law of Contract in South Africa
(ed AA
Roberts 1937) dit stel (in vol I par 81):
Almost all, if not all, contracts can be resolved into
an offer on the one part and an acceptance of that offer on the
other.
Die kern van die aanvaarding van 'n aanbod wat tot die daarstelling
van 'n kontrak aanleiding gee is, natuurlik, ongekwalifiseerde
ooreenstemming (
consensus
) tussen die partye. Solank dit
duidelik die gesamentlike of wederkerige wil en bedoeling (
concursus
animorum
) van die partye weergee, maak dit nie saak of dit
skriftelik, mondeling of by wyse van gedrag tot stand kom nie.
Hierdie is waarskynlik
bekende reg in alle regstelsels en verg geen
verdere bespreking nie.
[38] Enigsins minder bekend is of die aanvaarding van 'n aanbod aan
die aanbieder bekend gemaak moet word en, indien wel, of dit
op enige
bepaalde wyse moet geskied. In ons gemeenregtelike bronne is daar
verskil van mening oor hierdie aangeleentheid (Wessels
op cit
112-116). Dit word in ons reg egter algemeen aanvaar dat die
aanvaarding van 'n aanbod tot die kennis van die aanbieder moet kom
alvorens
die kontrak afdwingbaar word (
Dietrichsen v Dietrichsen
TPD 486;
Smeiman v Volkersz
(4) SA 170 (C);
Amcoal
Collieries Ltd v Truter
1990 (1) SA 1
(A) op 4D-E; Christie
The
Law of Contract in South Africa
(4e uitgawe) 76-78; De Wet en Van
Wyk
Die Suid-Afrikaanse Kontraktereg en Handelsreg
(5e
uitgawe) 37). Tensy daar op 'n bepaalde vorm van kennisgewing
ooreengekom is, maak dit nie saak of die kennisgewing skriftelik,
mondeling of selfs deur gedrag is nie. Dit beteken dat dit uitdruklik
of stilswyend kan wees.
[39] Die aanbieder mag
die wyse van aanvaarding van sy aanbod voorskryf. Dit staan hom egter
vry om uitdruklik of stilswyend afstand
te doen van sy reg op
kennisgewing ten opsigte daarvan (
McKenzie v Farmers' Co-op Meat
Industries Ltd
AD 16;
R v Nel
921 AD 339).
Indien daar
twyfel bestaan of daar sodanige afstanddoening plaasgevind het, word
vereis dat kennis gegee word van die aanvaarding
van die aanbod
(
Driftwood Properties (Pty) Ltd v McLean
(3) SA 591 (A) op
597E-G).
[40] Die keuse van 'n
domicilium citandi et executandi
(letterlik:
"woning van sitering en uitvoering")
gewoonlik op 'n
adres waar dagvaardings en ander prosesstukke beteken kan word, of
waar tenuitvoerlegging van 'n hof bevel mag geskied.
Dit hoef egter
nie daartoe beperk te wees nie. Die partye kan inderdaad ooreenkom
dat alle kennisgewings wat met die kontrak verband
hou daar beteken
moet word (
Amcoal Collieries
(par 38 hierbo) op 5J-6D; kyk ook
Sfetsios and Others v Theophilopoulos and Another
7 (4) SA 645
(W) op 648-649). Hoewel die persoon wat 'n kennisgewing by die gekose
domisilie aflewer sodanige aflewering moet bewys, is dit nie
nodig om
te bewys dat die persoon aan wie die kennisgewing gerig is, dit
ontvang het nie (kyk die
Sfetsios
(
supra
) op 649F;
Loryan (Pty) Ltd v Solarsh Tea and Coffee (Pty) Ltd
(3) SA 834
(W) op 847D-F). Indien hy egter sou verkies om dit by 'n ander adres
as die gekose domisilie af te lewer, dan sal hy moet
bewys dat dit
inderdaad afgelewer is (
United Bioscope Cafes Ltd v Moseley
Buildings Ltd
AD 60 op 668-69;
Swart v Vosloo
(1) SA 100
(A) op op 112H-113A;
Judson Timber Co (Pty) Ltd v Ronnie Bass &
Co (Pty) Ltd and Another
(4) SA 531 (W) op 538A-C).
TOEPASSING VAN DIE REG OP DIE FEITE
[41] Wanneer die tenderdokument van nader beskou word,
is dit duidelik dat klousule 1.16 daarvan uitdruklik voorsiening maak
vir 'n
gekose domisilie waar alle "prosesstukke, hetsy
kennisgewings of ander dokumente of mededelings van watter aard
ookal"
afgelewer moet word. Die brief van 30 April 1999 was
weliswaar nie 'n prosesstuk nie, maar dit het klaarblyklik
gekwalifiseer as
'n kennisgewing of "mededeling" wat by
sodanige adres afgelewer moes word. Vir sover die brief egter aan die
posadres van
die verweerder versend is, moet die eiser bewys dat dit
inderdaad tot die verweerder se kennis gekom het. Mostert was nie
daartoe
in staat om te kon bevestig dat die brief versend en
afgelewer is nie. Hy kon bloot die versekering gee dat daar nog nooit
enige
probleme was met die versending en aflewering van pos gerig aan
die posadres nie, dit synde die gebruiklike adres vir die versending
van alle posstukke van sy firma.
[42] Dit
is natuurlik so dat klousule 1.5.4 van die tenderdokument bepaal dat
die aanvaarding van die tender deur die aanbring van
die handtekening
van 'n gevolmagtigde van die eiser daarop 'n "regsgeldige
kontrak" tussen die partye tot stand sou bring.
Op grond daarvan
alleen moet die eerste geskilpunt in die guns van die eiser bevind
word. Klousule 1.5.6 verg egter dat die eiser
se prokureurs, Du
Plessis en Mostert, suksesvolle tenderaars skriftelik daarvan in
kennis moes stel. In die lig van die regsbeginsels
hierbo uiteengesit
is ek dit met Mnr Van Schalkwyk eens dat die aanvaarding van die
tender aan die verweerder oorgedra moes word
alvorens die kontrak
afdwingbaar sou word. Dit is egter nie die einde van die saak nie.
Klousule 1.5.1 bepaal dat die eiser elke
tender sal oorweeg, aanvaar
of verwerp "nie later nie as 3 Mei 1999" en klousule 1.5.6
nooi suksesvolle tenderaars om vanaf
4 Mei 1999 navrae aan die eiser
te rig.
[43] Met
hierdie agtergrond kan ons nou die getuienis van nader beskou. Die
groot vraag is of die verweerder nie, op die waarskynlikhede,
inderdaad die brief van 30 April 1999 ontvang het en kennis geneem
het van sy inhoud nie, selfs al sou Mostert nie oor die daadwerklike
aflewering daarvan kon getuig nie. Indien wel, sou dan bevind moet
word dat die eiser sy bewyslas gekwyt het om aan te toon dat die
verweerder kennis gekry het van die aanvaarding van sy tender. In
hierdie verband moet die getuienis as geheel, teen die agtergrond
van
die relevante feite en omstandighede, in oorweging geneem word.
[44] Ten
aanvang is dit belangrik om daarop te wys dat die eiser se getuies
sonder uitsondering besonder indrukwekkend in die getuiebank
vertoon
het en in geen stadium die indruk geskep het dat hulle negatief
gesind teenoor die verweerder is nie, of vals getuienis teen
hom sou
wou fabriseer nie. Hulle het deurgaans, ook tydens kruisondervraging,
direk en sonder omhaal van woorde, spontaan en eerlik,
op alle vrae
geantwoord.
[45] Inteenstelling
hiermee was die verweerder, wat alleen namens homself getuig het,
buitengewoon onbevredigend. Soos Mnr Treurnicht
dit heeltemal tereg
gestel het, was hy telkens aggressief, argumentatief en ontwykend in
sy reaksie op vrae tydens kruisondervraging
aan hom gestel. Hy het
homself van tyd tot tyd in 'n hoekie vasgeverf en het dan by wyse van
weersprekings en hoogs onwaarskynlike
verduidelikings gepoog om hom
uit sy penarie te onttrek.
[46] Hoewel
Mostert nie bewyse kon voorlê oor die versending en aflewering van
die brief van 30 April 1999 aan die verweerder nie,
het hy dit
duidelik gestel dat dit gedoen is ooreenkomstig die gewone, en
kennelik beproefde, prosedure. Nog nooit het daar probleme
ontstaan
oor die kommunikasie van kennisgewings betreffende die aanvaarding
van tenders nie, en daar was geen rede om te glo dat
dit in die
onderhawige geval enigsins anders sou gewees het. Wat wel gebeur het
was dat tenderaars dikwels met navrae geskakel het
na sy kantoor. Hy
sou heeltemal geregverdig verwag het dat, indien die verweerder niks
sou verneem het van sy tender nie, hy met
Mostert daaroor sou
geskakel het. In ieder geval het die verweerder in sy getuienis nooit
te kenne gegee dat hy voorheen probleme
gehad het met pos wat nie by
sy posadres afgelewer is nie. Hy het dan ook toegegee dat die
betrokke brief nie noodwendig by sy gekose
domisilie afgelewer moes
word nie, maar wel behoorlik by 'n ander adres, soos sy posadres,
afgelewer kon gewees het.
[47] Dreyer
se getuienis oor die vergadering van 26 April 1999 met die oog op
bespreking van die verweerder se tender staan myns insiens
onaangetas. Dit was duidelik dat die eiser in sy tender belang gestel
het. Anders sou hulle seer sekerlik nie die moeite gedoen het
om hom
na 'n vergadering te ontbied nie. Dit is onbetwis dat Dreyer,
bygestaan deur Hanekom, leemtes in die verweerder se tender
reggestel
het, insluitende die aanbring van sy handtekening in die korrekte
spasie daaarvoor aangewys. Daar is geen rede om Dreyer
se getuienis,
dat hy die verweerder meegedeel het dat sy tender aanvaar sou word,
te betwyfel nie. Die vergadering het klaarblyklik
in 'n positiewe en
vriendelike gesindheid plaasgevind. Die verweerder het self getuig
dat hy daaroor goed gevoel het en nie gehuiwer
het om dit aldus aan
sy vrou oor te dra nie.
[48] Die
verweerder het ook goed geweet dat tenders teen 3 Mei 1999 oorweeg
sou word en dan òf aanvaar òf afgewys sou word. Hy het
eweneens
geweet dat hy vanaf 4 Mei 1999 navrae sou kon rig aan die eiser se
prokureurs in verband daarmee. Dit blyk duidelik uit
klousules 1.5.1
en 1.5.6 onderskeidelik van die tenderdokument, wat hy moes gelees en
bestudeer het voordat hy dit voltooi en onderteken
het. Tog het hy
niks gedoen toe hy, volgens hom, geensins van hulle verneem het nie.
Na die vergadering van 26 April moes hy desnoods
van mening gewees
het dat die stuur van die brief ter bevestiging van die aanvaarding
van sy tender bloot 'n formaliteit behoort
te wees. Daar was dus des
te meer rede vir hom gewees om so spoedig moontlik na 3 Mei te
reageer op hulle versuim om aan hom die
nodige kennis te gee.
[49] Die
verweerder se verduideliking waarom hy nie met die eiser se
prokureurs geskakel het nie was uiters gekunsteld en naief. Sy
suggestie dat hy nie na die "partytjie" genooi is omdat sy
pryse te hoog sou gewees het en omdat die eiser van mening sou
wees
dat hy nie daartoe in staat sou wees om so 'n groot volume koring te
hanteer nie, het nooit by die vergadering van 26 April
ter sprake
gekom nie. Dit is kennelik 'n lam verskoning wat hy later uitgedink
het. Dit strook in ieder geval glad nie met die feit
dat hy niks
daarvan aan Van der Merwe en Kitshoff gesê het tydens sy besoek aan
hulle te Kaap Graan gedurende Oktober 1999 nie.
Daar is geen rede om
hulle getuienis te betwyfel dat hy hulle ongekwalifiseerd meegedeel
het dat hy 'n groot tender by die eiser
gewen het. Dit is
trouens duidelik dat die hele doel van die verweerder se besoek aan
Kaap Graan was om vas te stel of hy
teen 'n billike prys koring by
hulle sou kon bekom met die oog op die nakoming van sy prestasie
verpligting teenoor die eiser.
[50] Die
waarskynlikhede is oorweldigend dat die verweerder teen Oktober 1999
besef het dat hy te lank gewag het om sy verpligting
teenoor die
eiser na te kom en met ontsteltenis besef het dat die stygende
koringprys sy verwagte wins in 'n verlies sou kon omskep.
Dit word
juis geïllustreer deur die feit dat die 144 ton koring wat hy
gedurende die tydperk 22 Oktober tot 10 Desember 1999 by
die
Klipheuwel silo gelewer het, hom R925,00 per ton gekos het - alreeds
meer as sy R918,00 per ton tenderprys.
[51] Wat
betref die 144 ton voormeld is daar ook geen rede om die getuienis
van Du Plessis of Botha in twyfel te trek nie. Du Plessis
het
eenvoudig aangedui dat WPK geen koring sou berg tensy dit ingevolge
'n opbergingsooreenkoms gelewer sou word nie. Hoewel die
verweerder
moontlik 'n lid van WPK in die relevante stadium kon gewees het, het
hy klaarblyklik nie in daardie stadium oor 'n opbergingsooreenkoms
beskik nie. Daar bestaan weinig twyfel dat die onbekende persoon wat
deur Botha by die verweerder se kantoor gebel is om instruksies
te
bekom oor die lotgeval van die vrag koring wat by die Klipheuwel silo
aangekom het, Swartz was. Of Swartz nou die verweerder se
bestuurder
of agent was, het hy volgens die verweerder se eie weergawe
instruksies gekry om te doen wat hy kon. Die suggestie dat
hy (of wie
ook al anders die onbekende persoon mag gewees het) nie die
bevoegdheid gehad het om die koring op die eiser se kontrak
te lewer
nie, kan nie met enige erns bejeën word nie. Merkwaardig genoeg is
Swartz nooit as getuie geroep nie.
[52] 'n
Verdere uiters onbevredigende aspek van die verweerder se getuienis
was sy verwerplike verduideliking oor waarom hy tot 7
Februarie 2000
gewag het om op die eiser se prokureurs se brief van 17 Desember 1999
te reageer. Sy bewering dat hy Mostert geskakel
het om te vra wat
aangaan is nooit, so ver ek kan onthou, aan Mostert gestel nie. Dit
kan eenvoudig nie aanvaar word dat hy dit as
'n grap beskou het nie,
veral aangesien hy van ernstige kontrakbreuk aangespreek is, iets wat
hom aan 'n groot skadevergoedingseis
kon blootstel. Daar bestaan
weinig twyfel dat hy besef het dat hy versuim het om sy prestasie
verpligting teenoor die eiser na te
kom en geweet het dat hy geen
antwoord op die gemelde brief gehad het nie.
[53] In 'n
ooglopende poging om 'n antwoord op die brief te skep, het hy op
naïewe wyse probeer om sy gepoogde deelprestasie van
144 ton koring,
wat op die eiser se kontrak te Klipheuwel silo gelewer is, tot niet
te maak. Dit het hy gedoen deur dit gedurende
Januarie 2000 terug te
vorder van WPK op grond daarvan dat dit foutief op die eiser se
kontrak gelewer is in plaas van in sy naam.
Op hierdie wyse het hy
waarskynlik gehoop dat hy daarvan weg sou kom dat daar 'n geldige en
afdwingbare kontrak tussen hom en die
eiser tot stand gekom het. Sy
skikkingsvoorstelle in die brief van 7 Februarie 2000 strook in ieder
geval nie met sy sterk standpunt
dat daar nooit enige kontrak tussen
hulle was nie.
[54] Dit
volg hieruit dat die waarskynlikhede oorweldigend is dat die
verweerder inderdaad kennis gekry het van die aanvaarding van
sy
tender aan die eiser, en dat die kontrak tussen hulle te alle
relevante tye geldig en afdwingbaar was. Dit beteken dat die tweede
geskilpunt ook in die guns van die eiser beslis moet word.
[55] Bygevolg
moet hierdie hof soos volg beveel:
Die eiser slaag op die meriete met sy vordering teen
die verweerder.
Die verweerder word gelas om die koste te betaal.
Die quantum van die vordering staan oor vir latere
beregting.
D H VAN ZYL
Regter van die Hooggeregshof