Land- en Landboubank van Suid-Afrika v Groenewaldt and Others (1184/02) [2003] ZANCHC 29 (7 March 2003)

50 Reportability
Insolvency Law

Brief Summary

Insolvency — Preferential claims — Special notarial bond — Eiser (Land- en Landboubank van Suid-Afrika) vorder 'n verklarende bevel dat hy 'n preferente eis het ingevolge 'n spesiale notariële verband en artikel 34 van die Landbankwet — Verweerders (kurators) teken eksepsie aan dat die dagvaarding geen eisoorsaak openbaar nie — Eiser het 'n voorskot aan die insolvent (Victor Halman Kock) verskaf en 'n spesiale notariële verband oor roerende bates geregistreer — Slegs 'n gedeelte van die bates opgespoor en verkoop, met opbrengs aan die eiser oorbetaal — Hof bevind dat die eiser nie verdere vorderings kan maak uit hoofde van die spesiale notariële verband nie, maar dat die eksepsie dat die dagvaarding nie 'n eisoorsaak openbaar nie, afgewyk word — Eiser word toegelaat om sy dagvaarding te wysig om die eise behoorlik te formuleer.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2003
>>
[2003] ZANCHC 29
|

|

Land- en Landboubank van Suid-Afrika v Groenewaldt and Others (1184/02) [2003] ZANCHC 29 (7 March 2003)

Verslagwaardig:
Ja / Nee
Sirkuleer
aan Regters: Ja / Nee
Sirkuleer
aan Landdroste: Ja / Nee
IN
DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse
Afdeling)
Saakno: 1184/02
Datum
Verhoor: 2003-02-28
Datum
Gelewer: 2003-03-07
In
die saak van
:
Land-
en Landboubank van Suid-Afrika Eiser
versus
Stephen
James Groenewaldt N.O. 1
ste
Verweerder
Marthinus
Christoffel Botha N.O. 2
de
Verweerder
Meester
van die Hooggeregshof 3
de
Verweerder
Coram:
MAJIEDT
R
UITSPRAAK
MAJIEDT
R:
Die
verweerders teken eksepsie aan teen die eiser se dagvaarding dat dit
geen eisoorsaak openbaar nie.
Die
eiser nader in sy dagvaarding hierdie Hof vir ‘n verklarende bevel
:-
dat
dit uit hoofde van ‘n spesiale notariële verband saamgelees met
artikel 34 van die nou herroepe Landbankwet (Wet 13 van
1944,
hierna verwys as die “
Landbankwet”
),
‘n preferente eis het en geregtig is op die totale oorskot van
die boedel van die insolvent tot die geheel van die omvang
van die
eiser se eis teen die insolvent ten tyde van insolvensie;
dat
die kurators gelas word om die likwidasie en distribusierekening in
die boedel van die insolvent reg te stel sodat die regsposisie
hierinvantevore uiteengesit in paragraaf (a) weergegee word.
Die
agtergrondfeite wat die eiser se voormelde eis onderlê kan as volg
opgesom word:
3.1 Die
eiser het aan die insolvent, ene
Victor
Halman Kock
(hierna
verwys as “
die
insolvent”
),
‘n voorskot verskaf ingevolge die bepalings vervat in art. 34
van die Landbankwet ten bedrae van R52787.70.
3.2 Op
16 Maart 1996 is ‘n spesiale notariële verband kragtens die Wet op
Sekerheidstelling deur middel van Roerende Goed van 1993
deur die
Landbank geregistreer oor sekere roerende bates van die insolvent, te
wete 400 merino hamels. Die voormelde spesiale
notariële
verband is geregistreer ter versekering van die voorskot vermeld in
3.1 hierbo.
3.3 Op
8 Desember 1999 is die insolvent gesekwestreer deur hierdie hof en is
die eerste en tweede verweerders as gesamentlike kuratore
aangestel
om die insolvent se boedel te beredder.
3.4 Ten
tyde van die voormelde insolvensie van die insolvent was hy aan die
eiser die bedrag van R81 513.21 tesame met rente
daarop teen 17%
per jaar maandeliks gekapitaliseer vanaf 31 Desember 2000 verskuldig.
3.5 Op
17 Januarie 2001 het die eiser die tweede verweerder skriftelik in
kennis gestel van die voormelde eis teen die insolvente
boedel sowel
as van die bestaan van die spesiale notariële verband oor die 400
hamels.
3.6 Die
eerste en tweede verweerders het ‘n likwidasie en
distribusierekening opgestel in die insolvente boedel, maar het nie
daarin
voorsiening gemaak daarvoor dat die eiser ‘n preferente eis
het oor die totale vrye oorskot van die boedel vir die totaal van
eiser
se eis teen die insolvent nie.
3.7 Dit
is die eiser se saak dat hy uit hoofde van die spesiale notariële
verband voormeld saamgelees met art. 34 van die Landbankwet
‘n
preferente eis het ten opsigte van die totale vrye oorskot van die
boedel van die insolvent tot die volle bedrag deur die insolvent
aan
die eiser verskuldig ten tyde van die insolvensie.
3.8 Dit
is gemeensaak hierin dat die kurators (eerste en tweede verweerders)
slegs 178 van die merino hamels kon opspoor en dat die
opbrengs
daarvan, nadat ‘n verkoping gehou is, aan die eiser oorbetaal is.
Dit is nie duidelik op die stukke wat die balans van
die verskuldigde
bedrag beloop nadat die voormelde oorbetaling aan die eiser gemaak is
nie.
Wat
dus primêr beregting hierin verg is die volgende aspekte:
4.1 Of
die eiser enigsins geregtig is op verdere betalings van die eerste en
tweede verweerders uit hoofde van die spesiale notariële
verband,
gegewe die feit dat slegs 178 merino hamels opgespoor is, die
opbrengs waarvan alreeds oorbetaal is aan die eiser; en
4.2 Of
die eiser uit hoofde van die bepalings van art 34 van die
Landbankwet ‘n preferente eis geniet in die insolvente boedel.
Dit
is gerieflik om eers te handel met die eerste aspek ten aansien van
die spesiale notariële verband. Meneer Botha, wat namens
die eiser
verskyn, het in sy betoog uiteindelik toegegee dat aangesien die
spesiale notariële verband pertinent van toepassing
gemaak is op
400 merino hamels en daar slegs 178 daarvan opgespoor kon word deur
die eerste en tweede verweerders, die opbrengs
waarvan alreeds
oorbetaal is aan die eiser, laasgenoemde geen verdere eis kan hê
uit hoofde van die spesiale notariële verband
nie. Ek meen dat
hierdie ‘n juiste toegewing is en is dit gevolglik nie nodig om
enigsins verder daarmee te handel nie, behalwe
om te bevind dat die
verweerders se eksepsie tot dié beperkte mate meriete het.
Al
wat oorbly vir beregting hierin is die kwessie van art. 34 van
die Landbankwet. Dit is gemeensaak tussen die partye dat,
op die
stadium toe die tweede verweerder in kennis gestel is van die eiser
se eis teen die boedel, d.w.s. op 17 Januarie 2001,
en ook op die
stadium toe die likwidasie en distribusierekening opgestel is vir
die insolvente boedel, die bepalings van onder
andere art. 34
van die Landbankwet ongrondwetlik verklaar is deur die Grondwetlike
Hof, maar die inwerkingtreding daarvan
is opgeskort vir ‘n tydperk
van twee jaar vanaf 9 Junie 2000 tot 8 Junie 2002.
In
First
National Bank of South Africa Ltd v Land and Agricultural Bank of
South Africa and others; Sheard v Land and Agricultural
Bank of
South Africa and another 2000(3) SA 626 (CC)
het hierdie ongrondwetlikverklaring en opskorting plaasgevind. In
die voormelde gewysde het Mokgoro R in navolging van haar
beslissing in die aangeleentheid van
Chief
Lesapo v North West Agricultural Bank and another 2000(1) SA 409
(CC)
bevind dat art. 34 van die Landbankwet ongrondwetlik is,
aangesien dit inbreuk maak op die grondwetlike reg van toegang tot
‘n geregshof om ‘n geskil te besleg (art. 34 van die
Grondwet). Van belang in die
First
National Bank
-uitspraak
is die bevinding dat dit nie onredelik sal wees in die lig van die
openbare belang nie dat die Landbank se bestaande
statutêre
sekuriteit uit hoofde van die bepalings van art. 34(5)
saamgelees met art. 34(3)(b) behoue bly deur die bevel
van
ongeldigverklaring op te skort vir twee jaar â€“ sien paragraaf
11, bladsy 631 F – 632 B van die uitspraak.
Die
effek van die voormelde uitspraak is derhalwe dat vir die twee jaar
van opskorting die Landbank se statutêre sekuriteit steeds
van krag
bly. Die rede daarvoor is, soos voorgehou deur Mokgoro R, om
die Bank se belange te beskerm aangesien art. 34
primêr
aangewend is om onkredietwaardige of minder kredietwaardige boere
van ongesekureerde lenings te voorsien. Deur nie dié
statutêre
sekuriteit te behou nie, sou die Bank noodwendig sy rentekoerse
drasties moes verhoog of toekomstige aansoeke vir art. 34
voorskotte net eenvoudig voor die voet van die hand moes wys.
Sien
verder in hierdie verband:
Jazbhay
“Sales in Execution Sans Recourse to Court”, De Rebus September
2000
te 43.;
C.G.
van der Merwe & J.M. Pienaar “
Security
in terms of Land Bank Provisions
”,
Annual Survey of South African Law, 2000, te 392.
Janse
van Rensburg N.O. v Land & Landboubank
[2003] 1 All SA 223
(T)
te
232 a-d.
Meneer
Titus, wat namens die verweerders verskyn, het aangevoer dat die
eiser hom nie op dié bepalings kan herroep nie omdat die
betrokke
art. 34 juis ongrondwetlik verklaar is deur die Grondwetlike
Hof. Hierdie argument verloor natuurlik buite die oog
dat die
ongeldigverklaring juis opgeskort is vir twee jaar ten einde die
Landbank se statutêre sekuriteit in plek te hou. ‘n
Verdere
aspek wat in ag geneem moet word, is dat art. 52 van die nuwe
wet wat die Landbankwet herroep het, naamlik die Wet
op die Land- en
Landbou-ontwikkelingsbank, No. 15 van 2002, pertinent in art. 52(1)
bepaal as volg:
“
Enigiets wat
wettiglik gedoen is ingevolge die Landbankwet, 1944 (Wet 13 van
1944), hou aan om geldig te wees en om volledig van krag
te wees ten
spyte van die herroeping van daardie Wet deur artikel 50 en enige
regulasies uitgevaardig ingevolge daardie Wet bly van
krag totdat dit
ingevolge artikel 46 van hierdie Wet herroep word.”
(Ek
moet hier uitwys dat die verwysing na artikel 50 verkeerd is –
dit moet artikel 53 wees. Die Engelse teks is deur die
Staatspresident onderteken en bevat die korrekte bepaling).
Uit
hoofde van die voorafgaande is ek dus tevrede dat daar geen meriete
is in die eksepsie dat die eiser se dagvaarding nie ‘n
eisoorsaak
openbaar nie. Wat egter wel vasstaan en wat uiteindelik tot ‘n
mate aldus toegegee is deur mnr. Botha, is dat die
dagvaarding se
besonderhede van vordering beswaarlik ‘n model van elegansie en
van duidelikheid is. Ek meen dat die besonderhede
van eiser se eis
so onduidelik gepleit is dat dit tot ‘n groot mate vaag en
verwarrend voorkom. Soos blyk uit die voormelde
bespreking is die
eiser se eis eintlik op twee aparte en onafhanklike eisoorsake
gebaseer (die vraag of daar meriete in albei steek
word vir die
oomblik buite rekening gelaat), naamlik eerstens ‘n vordering
ingevolge ‘n spesiale notariële verband en tweedens
‘n
vordering uit hoofde van die statutêre sekuriteit geskep in art. 34
van die nou herroepe Landbankwet. Beide van hierdie
eise, indien
dit regtens gefundeerd is, kom natuurlik daarop neer dat die eiser
‘n preferente eis sou hê teen die insolvent
en sy boedel. Soos
dit op die pleitstukke staan egter, pleit die eiser dit asof die
twee met mekaar saamhang (vergelyk paragraaf 12
van die
dagvaarding sowel as smeekbede 1 daarvan). Verder meen ek dat
die eiser duidelik moes pleit dat hy steun op art. 34
se
bepalings wat van krag gebly het ten spyte van die
ongeldigverklaring daarvan deur die Grondwetlike Hof.
Hierdie
voormelde is aspekte wat ek meen reggestel behoort te word en is die
eiser se dagvaarding na my mening vaag en verwarrend.
Ek is van
voorneme om die eiser geleentheid te bied om die pleitstuk se
tekortkominge reg te stel. Ek meen dat dit behoort te
geskied
aangesien die verweerders potensieel benadeel kan word indien dit
nie reggestel word nie.
Sien
in hierdie verband:
Levitan
v New Haven Holiday Enterprises CC 1991(2) SA 297 (C)
te 298 A.
Wat
koste aanbetref is dit duidelik dat die verweerders onsuksesvol was
in hul eksepsie. Daarmee saam egter moet in ag geneem word
dat die
eiser se dagvaarding vaag en verwarrend gepleit is en meen ek dat om
dié redes daar geen kostebevel uitgereik behoort
te word nie.
Gevolglik
reik ek die volgende bevel uit:
Die
verweerders se eksepsie dat die eiser se dagvaarding nie ‘n
eisoorsaak openbaar nie, word afgewys.
Die
eiser word verlof verleen om binne 15 (vyftien) dae vanaf datum van
hierdie bevel sy besonderhede van vordering te wysig deur
die
eisoorsake behoorlik te formuleer.
___________
SA
MAJIEDT
REGTER
ADVOKAAT NAMENS EISER : ADV CH
BOTHA
ADVOKAAT
NAMENS VERWEERDER : MNR B TITUS
PROKUREUR
NAMENS EISER : ENGELSMAN, BENADE & VD WALT
PROKUREUR
NAMENS VERWEERDER : VAN WYK PROKUREURS
DATUM
VAN VERHOOR : 28 Februarie 2003
DATUM
VAN UITSPRAAK : 7 Maart 2003