Ex Parte Janse Van Rensburg N.O (9371/2003) [2004] ZAWCHC 30 (29 October 2004)

70 Reportability
Trusts and Estates

Brief Summary

Trusts — Charitable trusts — Application of cy près doctrine — Testator's intention to benefit a specific charitable purpose — Court's authority to modify trust provisions under section 13 of the Trust Property Control Act 57 of 1988 — Testator bequeathed funds to a home for elderly people, with conditions based on the establishment of the home — Court held that the cy près doctrine applies to ensure the funds are used in accordance with the testator's general charitable intent, despite the specific conditions not being fulfilled.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town
>>
2004
>>
[2004] ZAWCHC 30
|

|

Ex Parte Janse Van Rensburg N.O (9371/2003) [2004] ZAWCHC 30 (29 October 2004)

RAPPORTEERBAAR
VAN
BELANG VIR ANDER REGTERS
IN DIE
HOOGGEREGSHOF VAN SUID AFRIKA
(KAAP DIE GOEIE HOOP PROVINSIELE AFDELING)
Saak
Nr: 9371/2003
In die ex
parte aansoek van
JACOBUS
ALBERTUS JANSE VAN RENSBURG N. O.
In sy hoedanigheid as
Trustee indertyd van die
A.J.
LIEBENBERG TRUST
_____________________________________________________________
UITSPRAAK
29 Oktober 2004
Aanwending
van liefdadigheidstrust cy près; toepassing van artikel 13 van die
Wet op die Beheer van Trustgoedere, 51 van 1988; effek
van artikel 9
van Grondwet op bemaking aan “bejaarde kleurlinge
”
.
GAUNTLETT Wrn R:
[1] Wyle Abraham Johannes Liebenberg (‘die
testateur’) was in lewe ‘n vooraanstaande en welgestelde inwoner
van Piketberg.
In sy testament (wat op 9 September 1974 verly is)
het hy ’n finansiële instelling (die opvolger waarvan tans deur
applikant
verteenwoordig word) asook ’n familielid as
administrateurs aangestel van die trusts in sy testament geskep. ’n
Aansoek is namens
die trust (deur applikant met die ondersteuning van
sy mede-trustee, Carel Anton van der Merwe Liebenberg) gebring,
gemik hoofsaaklik
op die moontlike aanwending van die cy près
leerstuk ten aansien van die volgende bemaking in trust:
“
Aan
die Tehuis vir Bejaarde Kleurlinge te Piketberg ’n kontant bedrag
van R30 000,00 (Dertigduisend Rand) onderhewig aan die voorwaarde
dat
indien sodanige Tehuis nog nie opgerig is tydens my afsterwe nie dan
moet hierdie legaat deur my Administrateure in trust gehou
en belê
word op dieselfde wyse soos hierintevore bepaal onder paragraaf (b)
van klousule (7) en die rente kapitaliseer en hierdie
legaat met
rente aan voormelde Tehuis uit
betaal
wanneer dit opgerig word.”
[2] Kragtens ’n bevel nisi wat vroeër deur
hierdie hof uitgereik is, is belanghebbendes opgeroep om redes aan te
voer waarom ’n
bevel nie in die volgende terme bekragtig moet word
nie:
“
Dat
die trustees indertyd van die
A.J.
Liebenberg Trust (Meesterverwysingsnommer T5191/83) gemagtig en
gelas word om die netto balans van die fondse wat kragtens
Klousule
9(f) van die testament van wyle Abraham Johannes Liebenberg
(oorlede op 15 Julie 1983) wat deur gemelde A.J. Liebenberg
Trust
gehou en administreer word, aan die A.J. Liebenberg Tehuis vir
Bejaardes te Piketberg oor te betaal;
Dat die bestuur van die A.J. Liebenberg Tehuis vir Bejaardes
gemagtig en gelas word om alvorens hulle enige van die gelde,
oorbetaal
kragtens paragraaf 1.1 hierbo vir enige doel in die
normale loop van sake aanwend, eers oorweging daaraan te gee of dit
spesifiek
gebruik kan word om akkommodasie en verblyf te voorsien
aan sogenaamde Kleurlinge van die Piketberg gemeenskap, in
ooreenstemming
met die wense van wyle Abraham Johannes Liebenberg,
soos beliggaam in klousule 9(f) van sy testament ...... ”
Die hof het gelas dat die bevel op die A.J. Liebenberg Tehuis vir
Bejaardes te Piketberg (“die A.J. Liebenberg Tehuis”) en die
Piketberg Dienssentrum vir Bejaardes en Gestremdes (“die
Dienssentrum”) beteken word. Voorts is daar bepaal dat publikasie
van
die bevel in ’n Kaaplandse dagblad geskied asook dat afskrifte
van die bevel aan sowat 20 ander instellings (waarna daar aanstonds
verwys sal word) per gesertifiseerde pos gestuur word.
[3] Voor die hof op die keerdag is beide die
Tehuis en die Dienssentrum verteenwoordig. Die Meester was ook die
hof met altesaam
drie verslae behulpsaam. Namens die A.J. Liebenberg
Tehuis is daar aangevoer dat òf die bepalings van artikel 13 van die
Wet op
die Beheer van Trustgoedere, 57 van 1998, òf die cy près
leerstuk aanwending vind, en dat die bemaking deur klousule 9(f) van
die
testament beoog nou die A.J. Liebenberg Tehuis behoort toe te
kom. Namens die Dienssentrum is daar betoog dat die aansoek
voorbarig
is maar dat indien die cy près leerstuk of die
wetsbepaling na die hof se oordeel aanwending vind, die Dienssentrum
die trustbegunstigde
behoort te word.
[4] Cy près is ’n uitdrukking van duistere herkoms.
1
Die aanvaarde uitleg in beide die moderne Engelse
en Suid-Afrikaanse trustreg is: “so na as moontlik”. Daar is
lankal deur ons
howe bevind dat die leerstuk ook in Suid-Afrika
geld
2
;
daar is ’n Romeins- en Romeins-Hollandse grondslag daarvoor
3
en dit mag selfs wees dat sivielregtelike en sogenaamde “common
law” regssisteme die ontstaan daarvan in gemeen het
4
.
Die wese van die leerstuk is gesaghebbend soos volg weergegee:
“
The
substance of the doctrine, as applied to testamentary dispositions
(including trusts), may be stated as follows: where (a) a testator
has made a disposition of property for a charitable purpose, and (b)
the purpose has been accomplished or the disposition fails because
the purpose designated by the testator is not capable of
accomplishment or because the particular mode of application of the
property
designated for the accomplishment of the purpose cannot be
achieved, and (c) it appears that the testator had a general
charitable
intention overriding or transcending the designated
purpose of the designated mode of application, then the court may
authorize the
application of the property cy
près
to a purpose as near as possible to that prescribed by the testator,
or the substitution of a mode of application which conforms
as
closely as possible to the testator’s general charitable intent.”
5
[5] Art. 13 van Wet 57 van 1988 op sy beurt bepaal soos volg:
“
Bevoegdheid van hof om trustbepalings te wysig
. –
Indien ’n trustdokument ’n bepaling bevat wat gevolge teweegbring
wat die oprigter van ’n trust na die hof se oordeel
nie beoog of
voorsien het nie en wat –
die
bereiking van die oprigter se oogmerke belemmer, of
die
belange van bevoordeeldes benadeel; of
in
stryd met die openbare belang is,
kan die hof op aansoek van die trustee of enige persoon wat na die
hof se oordeel voldoende belang by die trustgoed het, enige sodanige
bepalings skrap of wysig of ten opsigte daarvan enige bevel gee wat
daardie hof billik ag, met inbegrip van ’n bevel waarby bepaalde
trustgoed deur bepaalde ander goed vervang word, of ’n bevel wat
die trust beëindig.”
[6] Die tersaaklike feite – beide wat die
wetsbepaling en die vraag of die cy près leerstuk toepassing vind –
wat uit die stukke
blyk is na my oordeel soos volg:
Die bemaking in klousule 9(f) van die testament vorm deel van ’n
hele reeks bemakings, wat in hulle geheel soos volg lees.
“
Ek bemaak die volgende legate: -
Aan Huis A.J. Liebenberg Tehuis vir Bejaardes te Piketberg ’n
kontant bedrag van R40 000,00 (Veertigduisend Rand);
Aan die Instituut vir Blindes (Blanke Afdeling) te Worcester ’n
kontant bedrag van R25 000,00 (Vyf-en-Twintigduisend Rand);
Aan die Instituut vir Dowes (Blanke Afdeling) te Worcester ’n
kontant bedrag van R25 000,00 (Vyf-en-Twintigduisend Rand);
Aan die Instituut vir Blindes (Nie-Blanke Afdeling) te Worcester
’n kontant bedrag van R15 000,00 (Vyftienduisend Rand);
Aan die Instituut vir Dowes (Nie-Blanke Afdeling) te Worcester ’n
kontant bedrag van R15 000,00 (Vyftienduisend Rand);
[hierbo reeds aangehaal]
Aan die Vereniging vir Serebraal Verlamdes
van die Wes-Kaap ’n kontant bedrag van R20 000,00 (Twintigduisend
Rand);
Aan die Nasionale Kankervereniging van Suid-Afrika ’n kontant
bedrag van R20 000,00 (Twintigduisend Rand);
Aan die Sinodale Kommissie van die Nederduitse
Gereformeerde Kerk in Suid-
A
frika
’n kontant bedrag van R15 000,00 (Vyftienduisend Rand) vir
binnelandse sending;
Aan die Sinodale Kommissie van die Nederduitse Gereformeerde Kerk
in Suid-Afrika ’n kontant bedrag van R15 000,00 (Vyftienduisend
Rand) vir buitelandse sending;
Aan die Jan Kriel Tehuis vir Epileptici te Kuilsrivier ’n
bedrag van R15 000,00 (Vyftienduisend Rand);
Aan die Nederduitse Gereformeerde Kerk te
Piketberg ’n kontant bedrag van R20 000,00 (Twintigduisend Rand)
welke legaat moet afgesit
word teen die bedrag wat ek aan gemelde
Kerk geleen het;
Aan die Hospitaal te Piketberg ’n kontant
bedrag van R40 000,00 (Veertigduisend Rand) onderhewig aan die
voorwaarde dat indien
sodanige hospitaal nog nie opgerig is tydens
my afsterwe nie moet hierdie legaat deur my Administrateure in trust
gehou en belê
word op dieselfde wyse soos hierintevore bepaal onder
paragraaf (f) en die rente daarop kapitaliseer en hierdie legaat met
rente
aan voormelde hospitaal uitbetaal wanneer dit opgerig word;
Aan die Nederduitse Gereformeerde
Sendingklerk te Piketberg ’n kontant bedrag van R20 000,00
(Twintigduisend Rand);
Aan die Bybelgenootskap van Suid-Afrika ’n
kontant bedrag van R20 000,00 (Twintigduisend Rand);
Aan die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid Afrika ’n
kontant bedrag van R15 000,00 (Vyftienduisend Rand) welke legaat
moet
aangewend word ten behowe van die Ramot Inrigting vir
Dranksugtiges;
Aan die Alexandra Inrigting te Maitland ’n
kontant bedrag van R15 000,00 (Vyftienduisend Rand);
Aan die Magdalena-Huis te Claremont ’n
kontant bedrag van R15 000,00 (Vyftienduisend Rand);
Aan die Heilsleer van Suid-Afrika ’n
kontant bedrag van R15 000,00 (Vyftienduisend Rand);
Aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Tuberkulose Vereniging (SANTA)
’n bedrag van R15 000,00 (Vyftienduisend Rand);
Aan die Sending Aan Die Melaatses ’n
kontant bedrag van R15 000,00 (Vyftienduisend Rand);
Aan die Suid-Afrikaanse Rooikruisvereniging
’n kontant bedrag van R15 000,00 (Vyftienduisend Rand);
Aan die Diens van Barmhartigheid van die
Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika ’n kontant bedrag
van R15 000,00 (Vyftienduisend
Rand);
Aan die Kaapse Vereniging vir Kreupelsorg ’n
kontant bedrag van R15 000,00 (Vyftienduisend Rand);
Aan die Vereniging vir die Versorging van
Verstandelike Vertraagdes ’n kontant bedrag van R15 000,00
(Vyftienduisend Rand);
Aan die Christelike Studente Vereniging van
Suid-Afrika (C.S.V.) ’n kontant bedrag van R15 000,00
(Vyftienduisend Rand)
”.
Hieruit blyk dit - en daar bestaan geen geskil
hieromtrent nie - dat die testateur ’n barmhartige persoon was wat
die welsyn van
die breë gemeenskap op die hart gedra het.
Daar is altesaam 26 vergelykbare bemakings
ingevolge klousule 9. Vyf daarvan verwys na onderskeidings op grond
van ras – nie
(dit wil voorkom) by wyse van ’n oogmerk van die
testateur om self ’n rasseonderskeid toe te pas nie, maar uit
hoofde van ’n
destyds geldende onderskeid op grond van ras wat
deur die instellings self toegepas is.
Die rede vir die verwysing na ras in klousule 9
(f) blyk uit die testament as geheel en die sosiale verband van die
tyd voor-die-hand-liggend
te wees. Toe die testament verly is sou
diegene in die Piketbergse gemeenskap wat as “kleurlinge”
ingevolge die destydse wette
op rasseklassifikasie geklassifiseer
is, geen vooruitsig geniet het om toegang tot die A.J. Liebenberg
Tehuis vir Bejaardes te
verkry nie.
6
As die testateur slegs die bevordering van die belange van blanke
bejaardes op Piketbeg beoog het, sou hy ’n enkele bemaking
aan die
bestaande (en beperk tot blankes) A.J. Liebenberg Tehuis gemaak het,
in stede van die afsonderlike bepalings in klousule
9 (a) en (f).
Daar is aanduidings (sonder teenspraak) op die
stukke dat kort voor die verlyding van die testament die vooruitsig
van ’n “kleurling”
tehuis te Piketberg ter sprake was.
Die moontlikheid van ’n tehuis vir bejaarde
lede van die Kleurling-gemeenskap te Piketberg is laas in 1997 deur
die munisipale
raad geopper. Grond is ook vir hierdie doel
uitgewys. Maar op 11 Desember 1997 het die hoof van die Departement
van Maatskaplike
Dienste van die Provinsiale Regering van Wes
Kaapland bevestig dat
“
vanweë
’n fokus-verskuiwing van residensiële versorging van bejaardes na
gemeenskaps-gebaseerde dienste, die oprigting van ’n
tehuis vir
bejaardes op Pike
tberg
nie oorweeg kan word nie. ”
Die oprigting van ’n tweede inrigting vir
bejaardes te Piketberg, maar beperk tot persone wat hulleself as
kleurlinge sou beskryf
is, in die lig van hierdie beleidsoorwegings
en breëre beskouings wat met artikel 9 van die Grondwet verband
hou, nie meer ’n
haalbare doelstelling nie. Alhoewel die bemaking
verlede jaar tot R318 557,80 aangegroei het, is dit sodanig dat dit
opsigself
en sonder aansienlike Staatssubsidiering die bepalings van
klousule 9(f) nie sal verwesenlik nie.
In die lig van hierdie oorwegings ontstaan die
gevolgtrekking dat die oogmerk van die testateur ingevolge die
gewraakte klousule
gefaal het.
[7] In hierdie omstandighede word daar na my
mening aan die eerste twee vereistes van die cy près leerstuk (soos
in paragraaf [4]
hierbo saamgevat) voldoen.
Wat egter nog
bepaal moet word is of die testament oor ’n algemene
liefdadigheidsoogmerk beskik ”overriding or transcending the
designated purpose of the designated mode of application”
7
en indien wel, of daar ’n geskikte “substitute mode” so na
moontlik aan die testateur se bedoeling bestaan.
[8] Die testateur het kinderloos gesterf. Die
struktuur van sy testament behels ’n bemaking en vruggebruik aan sy
vrou, prelegate
aan sy huishoudelike werknemers, ’n bemaking van sy
huis en meubels (vir doeleindes van ’n plaaslike museum) - en dan
die 26
bemakings in klousule 9. Dit ly geen twyfel dat die testateur
met klousule 9(f) ’n transenderende liefdadigheidsoogmerk gehad
het
nie. Die parallele bemaking ingevolge klousule 9(a) aan die A.J.
Liebenberg Tehuis in die besonder onderskraag hierdie
gevolgtrekking.
8
[9] Die vraag onstaan dan of die bevel wat
aangevra word, of die aanspraak namens die Dienssentrum wat tot die
geding toegetreë het,
voldoen aan die verdere vereiste vir die
aanwending van trusteiendom cy près: dat die hof tevrede moet wees
dat die voorgestelde
skema geskik is, en in die besonder dat dit
beskik oor
“the closest possible
connection with the original purpose or mode of applicaton prescribed
by the testator...
”
9
.
[10] In dié verband doen vier moontlikhede hulle
voor. Die eerste is dat daar geen “substitute mode” bestaan wat
beide haalbaar
en so na moontlik aan die oorspronklike is nie. Die
tweede moontlikheid is dat die A.J. Liebenberg Tehuis die naaste
alternatief
bied – bloot in terme van paragraaf 1.1 van die
regshulp wat aangevra is.
10
(Dit is die standpunt van die applikant se mede-trustee, en word ook
deur die Meester aanbeveel). Die derde moontlikheid word deur
paragrawe 1.1 èn 1.2 van die kennisgewing van mosie gesamentlik
verteenwoordig
11
;
die standpunt van applikant. Die vierde moontlikheid is dat die
bemaking cy près aan die Dienssentrum aangewend word.
[11] Applikant se advokaat het aangedui dat die
meningsverskil tussen applikant en sy mede-trustee sy posisie
bemoeilik het. Hy
het altwee standpunte op ’n deeglike en
ewewigtige manier oorgedra. Die vertrekpunt in sy betoog in dié
verband was ’n beklemtoning
van die gewone betekenis van “tehuis”.
12
Hy het betoog dat die testateur klaarblyklik iets mèèr as die
Dienssentrum beoog het –
“alhoewel
dit ’n verdienstelike instansie is wat ’n geweldige belangrike
taak in die gemeenskap verrig....
”
13
.
Daar is voorts gewys op die feit dat die oogmerke van die
Dienssentrum wyer strek as sorg vir bejaardes, en dat dit geen
residensiële
komponent bevat nie.
[12] Namens die Dienssentrum is daar aangevoer dat
rassebewustheid op Piketberg ongelukkig nog ’n erge werklikheid is.
Die vooroordele
en klowe van apartheid het nog lank nie verdwyn nie.
Die A.J. Liebenberg Tehuis is nog oorwegend blank: luidens die
jongste syfers
wat namens die applikante self aangebied is, is slegs
een-vyfde van die inwoners aan die A.J. Liebenberg Tehuis persone wat
as kleurling
(of swart) beskryf kan word.
14
Tot en met Desember 2003 het die bestuursraad van 12 lede slegs een
kleurlinglid gehad.
[13] Juis ten einde ’n ernstige leemte in die
versorging van bejaardes en verswaktes aan te vul is die voorganger
van die Dienssentrum
– destyds bekend as die Vinknessieklub - in
1986 gestig. Soos daar sonder teenspraak in die stukke namens die
Dienssentrum aangevoer
is,
“
Whilst
the said club did not ever exclude the white aged of Piketberg, the
far superior facilities at the white old age home, coupled with
racial prejudice, ensured that since inception not a single white
aged person utilised the services provided by the club. This
resulted
in the recognition of the club as being a
de facto
coloured institution.
The affairs of the aforementioned club were conducted by a
committee comprising coloured persons barring one white one. The
club
obtained permission from the then Regional Council to operate
from its local premises in Piketberg and performed the following
functions:
provided food parcels for the aged and handicapped;
arranged
for the nursing sister from the Department of Health to tend to its
members’ basic medical care;
arranged social activities for its members
The club depended upon private functions, donations and a nominal
fee from its members to sustain itself.
Due to
the growing demand for services provided by the aforesaid club
occasioned by a major increase in its membership, the club took
a
decision to apply to the then Department of Welfare for registration
to function as a service centre for the aged and the handicapped.
In or about 1992 the aforementioned club was formally registered
as the Piketberg Dienssentrum vir die Bejaardes en Gestremdes, the
name currently in use up until today.
Initially,
the Dienssentrum operated 3 days per week and was consequently graded
as a category 2 service centre by the Department.
At the stage the
Dienssentrum serviced between 20 and 25 persons from the coloured
population.
The Dienssentrum continued to grow so much so that by 1997 the
Dienssentrum had extended its services to 5 days per week and then
boasted approximately 70 coloured participants.
This
led to the Dienssentrum’s status being upgraded to a category 3
service centre, which resulted in an increased State subsidy
as of
1998.
The
State subsidy increased to R939,00 per person per annum which
translated into a monthly subsidy of R78,25 per person. From this
amount each person was provided with breakfast and lunch five days
per week per month.
The Dienssentrum did not at any stage provide sleeping
accommodation for people simply because it had neither the finances
nor the
premises to erect such a structure.
Presently the Dienssentrum services approximately 70 coloured
persons, all of whom pay a monthly fee of R50,00 in addition to
receiving
an annual state subsidy in the amount of R5 100,00 per
month and provides the same services (albeit in respect of far more
people)
[than] when it initially started.
It has been brought to my attention by the Department of Social
Services and Poverty Alleviation that it is now official government
policy that the government will no longer be erecting old age homes
and that its focus is now to establish and subsidise service
centres
(such as the Dienssentrum) to heed the need of the aged and infirm.”
[14] Ná oorweging wil dit my voorkom dat die
Dienssentrum die naaste plaasvervangende middel vir die
verwesenliking van die oorspronklike
liefdadigheidsstelling
verteenwoordig. Ek is oortuig daarvan dat vir die testateur
barmhartigdheid aan sy mededorpsinwoners van
kleur die oorheersende
oogmerk was. Dit word beaam deur sy bemaking aan die plaaslike
Sendingkerk – destyds slegs ’n kerk vir
anderskleuriges.
Weliswaar het hy gehoop dat die middel vir hierdie oogmerk ’n
tehuis, oftewel onderdak, sou wees. Maar dit is
beduidend dat terwyl
sodanige instelling nog nie opgerig is nie, die bemaking nie vir die
oprigting maar die bedryf daarvan was –
bewoording wat ook tred
gehou het met die werklikheid van die beperkte omvang van die
kapitale bedrag van die bemaking.
[15] Beskou uit ’n ander oogpunt sou ’n
eindresultaat ingevolge waarvan die A.J. Liebenberg Tehuis as ’t
ware tweekeer bevoordeel
word, indruis teen sy oorheersende oogmerk.
Klaarblyklik was die testateur bewus van die destydse werklikheid dat
mense van kleur
in alle waarskynlikheid nie sou baat by sy bemaking
aan die A.J. Liebenberg Tehuis nie. ’n Bevel slegs in terme van
paragraaf
1.1 van die aangevraagde regshulp sou allermins ’n
plaasvervangende objek so na moontlik aan die testateur se algehele
bedoeling
daarstel. Selfs ’n verdere bevel ingevolge klousule 1.2
– in die latere aangepaste vorm wat voorgestel is
15
- sou na my oordeel moeilik uitvoerbaar en afdwingbaar wees op ’n
wyse wat sou sorg dat slegs mense van kleur daarby sou baat.
Ek stem
in daardie verband met die Meester saam.
[16] Soos reeds aangedui het mnr Van der Mewe
Liebenberg (die applikant se mede-trustee) sy eie bedenkinge
uitgespreek teenoor ’n
aanwending van die trust op ’n basis wat
’n voorgesette rasseonderskeid sou behels. Hy (soos die Meester)
doen aan die hand
dat slegs paragraaf 1.1 van die hofbevel
16
bekragtig word.
[17] Weliswaar is die A.J. Liebenberg Tehuis
vandag ’n inrigting waar daar nie op rassegrondslag gediskrimineer
mag word nie. Maar
die werklikheid is juis dat terwyl dit dienste
sonder enige oorweging ten aansien van ras bied, slegs ’n klein
breukdeel van sy
inwoners van dié deel van die plaaslike bevolking
getrek word wie se belange as groep die testateur wou bevorder.
[18] Tereg is daar nie aangevoer dat dit teen
artikel 9 van die Grondwet sou indruis om so ’n oogmerk vandag te
bevorder nie.
17
Ek sê dit om die volgende redes. Toe die Grondwet (en sy tydelike
voorganger) in werking getree het, soos die posisie al beskryf
is,
“
our
society was deeply divided, vastly unequal and uncaring of human
worth. Many of these stark social and economic disparities will
persist for long to come.”
18
Ons Grondwet het hom nie bepaal tot formele
gelykheid nie. Artikel 9(2) sê dit uitdruklik. Soos daar dan ook
onlangs verduidelik
is,
“
In
this fundamental way
, our
Constitution differs from other constitutions which assume that all
are equal and in so doing simply entrench existing inequalities.
Our
Constitution recognises that decades of systematic racial
discrimination entrenched by the apartheid legal order cannot be
eliminated
without positive action being taken to achieve that
result. We are required to do more than that. The effects of
discrimination
may continue indefinitely unless there is a commitment
to end it.
19
”.
[19] Om in die omstandighede van hierdie
aangeleentheid die trustgelde in geskil ten bate van die Dienssentrum
aan te wend, inagnemend
veral die feit dat hierdie instelling nog
steeds uitsluitlik gebruik word deur diegene wat hulle as lede van
die kleurlinggemeenskap
van Piketberg ag, sou nie met die bepalings
van artikel 9 van die Grondwet in stryd wees nie.
[20] Ingevolge die cy près leerstuk is ek
derhalwe van mening dat die bemaking uit hoofde van klousule 9(f)
die Dienssentrum te
Piketberg moet toekom. Daar dien vermeld te word
dat na my mening die toepassing van artikel 13 van Wet 57 van 1998
tot dieselfde
slotsom lei.
[21] Bygevolg
word daar soos volg gelas:
“
Die
trustees indertyd van die
A.J.
Liebenberg Trust (Meesterverwysingsnommer T5191/83) word gemagtig en
gelas om die netto balans van die fondse wat kragtens
klousule 9(f)
van die testament van wyle Abraham Johannes Liebenberg (oorlede op
15 Julie 1983) wat deur A.J. Liebenberg Trust
gehou en administreer
word, aan die Piketberg Dienssentrum vir Bejaardes en Gestremdes oor
te betaal.
Die
regskoste van die applikant sal betaalbaar wees uit die fondse van
die A.J. Liebenberg Trust, op die skaal soos tussen prokureur
en
kliënt, soos deur die Takseermeester getakseer. ”
__________________
GAUNTLETT
WR
Advokaat vir die applikant
:
A de V la Grange (Borman & Hayward)
Advokaat
vir die toetredende party
: J J van der
Schyff (Visagie Vos en Vennote)
1
Die
Shorter Oxford English Dictionary
(2de Uitgawe 1994) s.v.
‘cy près’; Walker
Oxford Companion to Law
(1980) 328 sê:
“
Cy près
(approximation). From
ici-près
or
aussi-près
, a doctrine evolved in English equity in relation
to charitable trusts…”
2
Kyk veral
Marks
v Est Gluckman
1946 AD 289
te 304-5.
Ex
parte Blum: in Re Estate Kalson
1964(2)
SA 643(C) te 648 A-B.
Sien
verder in die algemeen Corbett et al
Law
of Succession in South Africa
(2de
uitgawe 2002) 434 ff; Cameron et al
Honoré’s
South African Law of Trusts
(5de
uitgawe 2002) 530 ff
3
Marks
v Est Gluckman loc cit;
Cameron
et
al op cit
531
vn 305; Corbett
et al op cit
431
vn 340
4
Standard
Bank of SA Ltd v Betts Brown
1958(3) SA 713 (N) te 722 A-B
5
Corbett
et el
op
cit
431
6
Hierdie
wette het in die besonder die Wet op Bevolkingsregistrasie, 30 van
1950, ingesluit. Ingevolge hiervan is ’n “kleurling”
(in die
Engelse teks, wat tans aan my beskikbaar is) gedefinieer as ’n
persoon “who is not a white person or a native”. Laasgenoemde
is
op sy beurt gedefinieer as ’n persoon “who in fact is generally
accepted as a member of any aboriginal race or tribe of
Africa”.
’n Blanke is gedefinieer as iemand wie “in appearance obviously
is, or who is generally accepted as, a white person,
but does not
include a person who, although in appearance obviously a white
person, is generally accepted as a coloured person”.
Die
gepaardgaande rasseklassifikasie prosedures deur wet voorgeskryf is
gedetaileerd en vernederend.
Ander
tersaaklike wette is die Wet op Groepsgebiede 36 van 1966 (“a
colossal social experiment and a long term policy ... inevitably
[causing] disruption and, within the foreseeable future, substantial
inequalities”:
Minister
of the Interior v Lockhart
1961(2) SA 587 (A) te 602); en die Wet op Aanwysing van Aparte
Geriewe, 49 van 1953
7
Kyk
voetnoot 5 hierbo
8
Daar
word in dié verband van ’n hof verlang om te kyk na die bepalings
van die testament as geheel, asook sodanige omringende
omstandighede
as wat regtens in oorweging geneem behoort te word:
Ex
parte Marriott
1969(1) SA 814(D) te 817 B – D;
Ex
parte Blum: In re Est.
Kalson
1964(2) SA 643 (C) te 649 D-E;
Ex
parte Methodist Church of SA: in re Est.
Corderoy
1965(4) SA 789(C) te 791 B-H;
Ex
parte Truter v Die Administrateur Kaapprovinsie
1978(3)
SA 489(C) te 493 B - E
9
Corbett et al
op
cit
435; sien ook Cameron et al
op
cit
535 – 8
10
Soos
in paragraaf [1] hierbo aangehaal.
11
Ibid
.
Na afloop van die argument is daar namens die applikante (by wyse
van ’n konsepbevel wat opgehandig is) voorgestel dat paragraaf
1.2
effens aangepas word deur invoeging van die woorde (na “eers
oorweging daaraan te gee”), “om dit spesifiek te gebruik
vir die
delging van koste verbonde aan die verskaffing van akkommodasie van
sogenaamde Kleurlinge van die Piketberg gemeenskap....
”.
12
Synde
”inrigting om
onderdak
te verskaf aan oues van dae, dranksugtiges, ens: ouetehuis
”
(Verklarende Handboek van die Afrikaanse Taal (HAT) s.v. “tehuis”,
sy beklemtoning). “Onderdak“ word op sy beurt gedefinieer
as
„huisvesting, verblyf
”
.
13
Soos
die funderende eedsverklaring namens die applikante dit reeds
beskryf het.
14
Die
deponent namens die Dienssentrum het ’n nog wyer wanbelans beweer.
Dit is egter onnodig om hierdie geskil te bereg: feit
bly staan
dat in 2004 die inwoners oorweldig nog sogenaamde blankes is.
15
Sien
voetnoot 11 hierbo
16
In
paragraaf [2] hierbo aangehaal
17
Sien
nou veral die analise deur die Konstitusionele Hof in
Minister
of Finance v Van Heerden
2004(ll) BCLR 1125 (CC)
18
Minister
of Finance and another v Van Heerden
2004 (ll) BCLR 1125 (CC) te para [22]
19
Bato
Star Fishing (Pty) Ltd v Minister of Environmental Affairs and
Tourism
2004(7) BCLR 67 (CC) te para [74]